Deel 2
Ewe skielik kom die bus tot stilstand. Willemien laat val skoon haar boek van skrik. Sy het heeltemal tred met die tyd verloor, dit is donker buite en al die kinders op die bus slaap. Willemien sien hoe juffrou Nadia half aan die slaap regop kom om te sien wat aangaan. Willemien sit ook nuuskierig regopper.

Dit wat sy sien laat haar oë groot rek van verwondering. Sy het nog nooit so iets gesien nie. Voor in die pad is die vreemdste, wollerigste, groenste gedierte wat sy al ooit gesien het… Die gedierte beweeg al hoe nader aan die bus en Willemien wil net lag toe die busbestuurder wraggies net daar agter die stuurwiel flou word.
Willemien hoor hoe Bennie verbouereerd agter haar giggel, sy kan eintlik nie glo dat hy wakker is nie, die ander kinders slaap dan steeds. Juffrou Nadia se gespanne laggie laat Willemien weer kyk na wat die gedierte doen.
Die gedierte is besig om teen die kant van die bus af te beweeg, maar stop by die deel van die bus waar die koorklere en instrumente ingepak is en begin daar karring om dit oop te kry. Willemien is effens bang, maar haar nuuskierigheid wen en sy wip van haar sitplek af en hardloop na die voorkant van die bus. Sy stop vlugtig by die bus se deur maar besluit sy wil beter sien en maak die deur saggies oop. Juffrou Nadia wil net keer, maar Willemien is te vinnig en loer reeds by die deur uit na waar die gedierte staan.
Willemien val amper by die deur uit van skrik toe sy voel iets trek aan haar poniestert. Dit is Bennie wat agter haar staan. Sy wys vir hom hy moet stilbly, dit is nie nou die plek vir sy streke nie!
Willemien loer weer by die deur uit en sien hoe die gedierte dit regkry om die kompartement onder die bus oop te kry… Sy luister fyn… Dit klink of die gedierte die heeltyd mompel…
“Hê, hê, hê… YUM” Hy vroetel en krap en toe sien Willemien die koor se klere in sy wollerige groen hande en een… twee… drie… verslind die gedierte dit! Willemien kan haar oë nie glo nie! Die gedierte is sowaar besig om hulle koorklere te eet! Waarmee gaan hulle deelneem as hy alles opgevreet het?
“Klienk, tiengelieng, klienk” en weg is Bennie se rooi tamboeryn! Bennie stamp Willemien tot binne in die teerpad soos hy verby haar vlieg.
“Jy kan nie my instrument sommer net eet nie!” baklei Bennie ontsteld. Die gedierte draai om en kyk na Bennie met honger oë…

“He, hê, hê… YUM, YUM, eet…” mompel die gedierte terwyl hy dreigend na Bennie beweeg. Bennie bewe van kop tot tone “MMMmoenie my eee eet nieee…” Willemien kan aan Bennie se stem hoor dat hy baie bang is, sy wil begin lekker kry vir Bennie se penarie, maar die gedierte is steeds op pad na Bennie en dit lyk of hy hom sowaar ook gaan verslind.