Die vloek van die vaal vingers

“Onthou, julle mag nie die botaniese tuin verlaat nie … Geniet dit!”

Juffrou De Wee staan soos ’n protea voor die botaniese tuin se hek. Pienk top, groen romp en arms versprei. Sy probeer regtig opgewonde klink, maar sy hoef nie so hard te probeer nie. Almal is te dankbaar om uit die klaskamer en weg van die skool te wees.

Cataleya se selfoon vibreer in haar hand.

Ma [10:04]: Onthou, moenie aan plante raak nie.

Sy keer net betyds ’n oogrol, trek haar rugsak se bande stywer en begin met die armband aan haar arm speel. Die koper armband lyk soos vervlegde takke. Vandag moet dit haar help onthou om haar hande weg van blomme te hou.

Sy val agter haar klasmaats in wat soos ’n trop skape deur die hek beweeg. As die nuweling – twee maande vars, yay! – probeer sy maar die mini-massa verdwyn. Soos ’n doringboom in die Noord-Kaap se vlaktes.

Die soet ruik vang haar weer en sy verlang huis toe. Die dorp waar die daisies blom in die somer en winter. Die vlaktes waar jy ver kan sien, waar jy die sterre kan sien sonder om op te kyk.

In die stad moet sy haar kop agteroor gooi om die sterre te sien. Die geboue en ligte, wanneer Eskom nie snaaks wil wees nie, kompeteer met die sterre. En sy is nog nie sterk genoeg om verby hulle te vlieg nie.

Haar vlerke wil sprei toe sy dink aan vlieg. Sy sal vir Ma vra of hulle weer kan gaan bungeespring die naweek.

Sy stop by die eerste blomme. Dit is so mooi, die pers staan soos ’n kroon teen die groen uit. Brassica oleracea (sierkoolkoolplante).

Haar hand steek vanself uit en onmiddellik toe haar vingerpunte aan dit raak, droog die kleur uit die blom.

Oe! Cataleya trek verskrik terug, maar dis te laat.

Vaal en dood.

Sy kyk oor haar skouer maar dis die lekker van nuweling wees, mense los haar uit. Sy hou haar hand uit en probeer konsentreer. Sy ruik die soet van bloeisels, hoor ’n voël roep na ’n maat en probeer alles inneem.

Komaan. Komaaan!

Nee, die blom bly steeds vaal.

’n Woudfeetjie wat blomme vermoor – wat ’n grap! Sy moet nog net die moenie-laat-mense-uitvind- van feetjies nie – verbreek dan kan sy suksesvol druip as ’n feë. Wie het die respek en liefde van jou mense nodig?

Dit het begin ’n week nadat hulle stad toe getrek het. Sy het een middag na skool uitgegaan om die peperment water te gee. Toe Cataleya aan Minty geraak het, het elke blaar begin verlep.

Sy het onmiddellik vir mamma Kora gebel.

“Ek sal hoor wat sê die ou vertellers,” het haar ouma belowe. Maar om na honderde stories te luister vat tyd en intussen word die vloek net erger.

Cataleya kyk rond en sien ’n labirint van veldplante. Veldplante is sterk. Hulle oorleef amper alles. Hulle kan tog seker vir Cataleya oorleef?

Dit gebeur nog deur keer op pad na die labrint, sy nies per ongeluk op ’n klein Bonsai-boompie, raak aan ’n aster en stamp teen ’n lang tak.

Nee, nee, nee, kyk sy hoe die tak vaal word. Genoeg besluit sy en breek die vaal tak af voor dit verder kan versprei.

“Jy is Cataleya, né?” vra iemand skielik langs haar.

Sy kyk om in die gesig van die enigste ander eenkantmens… Madeleine? “Hallo?”

Die ander meisie kyk rond, voor sy terugdraai en reguit na Cataleya kyk. “Wil jy saam loop? Ons twee is die enigste twee vriendeloses hier.”

Hoe tragies is dit? Twee is seker beter as een in hierdie geval. “Uh, oukei. Ek was op pad na die labirint.”  

Madeleine val woordeloos langs Cataleya in.

Links of regs.

Moenie aan die plante raak nie.

Links, links, regs.

Waai vir ’n oukeirige klasmaat.

Moenie aan die plante raak nie.

So, speel hulle die labirint tot hulle hulself vasloop in ’n doodlooppad. Onthou, moenie aan plante raak nie.

“Hou jy nie van plante nie?” probeer die ander meisie gesels terwyl hulle omdraai en ’n ander rigting kies.

Mal oor hulle, hulle voel net nie dieselfde nie. Cataleya draai regs. “Hoekom?”

“Jy bly so ver as moontlik van hulle weg,” antwoord sy en kies regs.

Dis vir hulle eie beswil. “Nee, net bietjie hooikoors vandag.”

“Ai, en die bloeisels sal jou laat ly,” simpatiseer Madeleine.

Nie net die bloeisels nie, wil sy sê, maar kyk eerder na die bokkie gemaak uit takke.

“Hoe het jy in jou tuisdorp gemaak? Jy is van die Namakwaland af, né?”

Cataleya voel hoe haar oë warm word en knyp die binnekant van haar palm. Moenie huil nie. Haar tweede moenie vir die dag en dis skaars elfuur. Sy sluk. “Ja, van die Namakwalandse wêreld. Maar …” onthou sy die tweede vraag. “Die daisies het my nie gepla nie. Seker omdat ek daar groot geword het.” Dis haar geboorteblom.

“Ek is vernoem na ’n madeliefie,” gesels haar nuwe vriend verder.

“Ek dog jou naam is Madeleine.” Cataleya stap by die labirint se mond uit. Dit was vinnig. Hoe lank gaan hulle by die botaniese tuin wees? Seker lank genoeg vir haar om ’n spesie uit te wis.

Madeleine kyk op en glimlag. “Dit is. My pa het op die laaste oomblik besluit Madeliefie klink te outyds. My ma was só kwaad. Sy’t die naam gekies omdat ek die eerste keer geskop het terwyl hulle na die Namakwalandse madeliefies gekyk het.”

Dis ’n … “Mooi storie.”

“Ja, ek is nogal trots daarop. Ek wou eintlik kyk of ek die madeliefies kan kry. Kom jy saam?”

“Nee!” Sy praat so hard, twee van hul klasmaats kyk haar verbaas aan.

“O.” Madeleine lyk verbaas.

“Jammer. Ek moet badkamer toe.” Cataleya draai om en begin stap.

“Ek kan saam met jou kom?” bied die meisie aan.

“Nee.” Die keer praat sy sagter. “Stap solank verder.”

Die badkamer is gelukkig leeg, en sy saak agter die toe badkamer deur neer. Sy kan nie naby Namakwalandse blomme gaan nie. Hulle sal haar vlerke terugvat! Die vertellers sal haar lewe as ’n waarskuwing gebruik:

“Eendag nie te lank gelede was daar ’n vervloekte feetjie. Haar vaal vingers kon in ’n oomblik dood vir plante beteken …”

Sy sit haar rugsak voor haar neer en haal haar foon uit. Sy wil graag vir Ma vra of sy kan terug gaan huis toe. Sy kan by ouma Kora bly en net elke vakansie by Ma kom kuier.

Sy kan dit nie doen nie. Ma het hierdie werk geneem om vir hulle ’n beter lewe te gee. Om vir ouma, almal, te help.

Cataleya vee oor haar foon se skerm. Twee oproepe van ouma Kora af. Sy ignoreer Ma se “Hoe gaan die uitstappie?” en soek haar ouma se naam. 

Ouma Kora [10:42]: My blommekind, bel my. Ouma kan help.

Ouma kan help. Drie woorde wat maak dat haar vingers vinniger beweeg as ooit te vore. “Ouma?”

“Hallo Leya. Ek het iets gekry. Die ou verteller weet van een so ’n storie.” Haar ouma haal asem en begin met haar storie-vertel-stem. “Dit gebeur nie baie nie. Gewoonlik gebeur dit wanneer ’n jonk feë, wie se geskenk nog nie volwassenheid bereik het nie, verhuis  van haar voedingsbron. Jou voedingsbron is jou geboorteblom en die afstand daarvan maak dat die geskenk in jou bloed draai teen dit wat dit veronderstel is om te beskerm.”

“Beteken dit ek moet huis toe kom?” Sy wil nie bly word nie.

“Dis nie nodig nie,” keer ouma Kora. “Ek het vir jou ’n paar daisies gekoerier. Dit behoort môre daar te wees.”

“Môre …” sug sy. “Wag! Ek kort daisies?”

“Ja, ware Namakwalandse daisies. Dit is jou geboorteblom.”

“Ouma? Ouma is ’n badass!”

“Hei, hier’s jy! Kyk wat het ek gekry.” Madeleine streel oor verskillende blomme in ʼn bedding, ’n groot glimlag op haar mond.

Dimorphotheca sinuate (Namakwalandse madeliefies).

Toe Cataleya voor die blomme stop, voel dit asof sy in die veld by die huis staan. Elke ding in haar lyf word stil en haar vlerke kry hul lêplek.

Sy steek haar vingers uit en trek dit terug.

“Wat’s fout?’ vra haar nuwe vriend.

Sy’s doodbang! Hierdie blomme kan sy nie doodmaak nie. Sy steek haar vingers uit en toe sy aan die blomme raak, voel dit asof hulle haar hand vat. Sy voel die temperatuur van die grond. Sien hoe blare hulself regskud van lekker kry en voel huis in haar are. Hallo.

“Die madeliefies hou van jou!” sê Madeleine langs haar.

En sy van hulle.

Toe hulle by die botaniese tuin uitstap, vee sy oor die armband en die daisy wat daarom gegroei het. ’n Stukkie huis saam met haar.  

Die vloek van Grootdoring

“Die vloek kan my nie kry nie… die vloek gáán jou nie kry nie!”

My oë lyk leeg. Miskien is my spieël net vuil. Ek is vandag 17. Dis al drie jaar sedert ek die laaste keer my voete uit die huis gesit het. Die vloek kan my mos kom haal as ek buite gaan, só sê my ma.

“Anja!!” My ma se stem is skril.

“Ek kom, Ma!” Ek vee my trane af met die tissues wat op my bedkassie staan. Ek huil baie, maar ek haat dit om te huil.

Ek haat die gang. Die foto’s wat bruin soos ou blomme teen die muur hang laat my dink aan die dood. Die mure is volgekrap met ma se rooi lipstiffie…

‘Ons bestraf die vloek, die vloek sal ons nie kry nie!’

Asof wegkruip in die huis die vloek sal weghou!

Ek stap die eetkamer binne. Daar is ses ballonne aan die stoel vasgemaak. Almal swart.

“Geluk met jou verjaarsdag, skapie!” sê my pa emosieloos soos hy oor sy koerant loer.

“Ek sien daar is vyf kinders laasweek deur die vloek kom haal,” sê ek soos ek ’n stukkie toast in my mond prop.

“Anja, my magtig! Ons praat nie oor die vloek in die huis nie,” sê my ma bedroef.

Al wat ek soek is vryheid. As dit my kom haal moet almal dit aanvaar. Daar is net so baie wat ek nog wil doen. Ek wil met klere en al in die see in hardloop, ek wil my eerste soen hê, ek wil leer om ‘n kar te bestuur. Heng! Ek wil in die klas sit en my vrot Wiskundepunte terug kry.

“Ek’t Marie-Anne gevra om eers môre te kom, om vir jou klas aan te bied, ek’t gedink ek en jy kan later vir jou ’n koek bak.”

“Jis ma, dit sal lekker wees!” Ek hoop my opwinding het realisties gelyk.

Ek haat koekbak.

“Ek gaan na my kamer toe om bietjie te lees.” Ek sit my bord in die wasbak en gee my ma ’n soen op haar wang. “Dankie vir my toast en my ballonne”.

Sy gee my ʼn stywe drukkie, asof dit die laaste keer is wat sy my gaan druk. Ek haat drukkies.  

“Onthou om sout voor jou deur te gooi voor jy in jou kamer ingaan.” My ma se stem klink angstig.

Sy glo in ouvrou-stories. Moenie onderdeur ’n leer loop nie, trap op jou vurk voor jy hom optel, moenie te lank in die spieël kyk nie. As jy ’n swart kat sien, bestraf hom! Dis pure bog!

Ek hou altyd my botteltjie sout in my sak, ek maak dit oop en strooi dit voor my deur. My ma gaan later kyk of ek dit gedoen het en bewaar my siel as daar nie sout voor daai deur lê nie. Ek val agteroor op my bed en kyk vir my plafon.

‘Ons bestraf die vloek, die vloek sal ons nie kry nie’  

Kon my plafon nie liewer vol sterretjies wees nie? Ek dink terug aan my 14de verjaarsdag in 2010. Dis die laaste dag wat ek my vriendinne gesien het. Die vloek het vir Jenny kom haal op 15, vir Liza op 17 en Louise op 16. Ek is sover gelukkig. Net nog een jaar, dan sou die vloek my verbysteek. Ek weet nie eers of ek die vloek wil oorleef nie? Al my vriende is dood. Ek’t niemand oor nie. Ek haat dit om alleen te wees.

Ek sit regop en kyk by my venster uit. Ek het genoeg gehad om op huisarres te wees as gevolg van ‘n blêrrie vloek! Ek gaan uit! Ek trek my wit tekkies aan en my hoodie en klim deur die venster. Die vars lug voel vreemd. Nou dat ek buite is, weet ek nie wat ek gaan doen nie.

Ek begin by die straat af hardloop en voordat my ma my sien staan in haar blombedding. Vrek, voor sy my buite die huis sien staan! ‘n Entjie verder sien ek Jenny se huis. Jenny was my beste vriendin. Op die stoep staan ‘n groot wit kruis met haar naam daarop uitgekerf. Dit is tradisie hier op Grootdoring om ‘n kruis op jou stoep te sit vir die kinders wat die vloek kom haal het. Al die huise om ons is versier met wit kruise. Ek rus vir ‘n oomblik lank. Ek voel ‘n yskoue lug in my nek blaas. Ek wip om. Dis Jenny!

“Jenny?”

“Moenie bang wees nie, ek’t net vir jou kom kuier.”

“Jenny ek dog die vloek…”

“Shhhh! Die vloek het my kom haal, dit was wonderlik. Ek het gevlieg, Anja, hoog in die lug.”

Die wêreld om my draai. Als word dowwer en net so, val ek neer in die middel van die pad.

Die reuk van gebrande kruie maak my wakker. Ek haat die reuk van kruie. Ek maak my oë stadig oop en sien dadelik:

‘Ons bestraf die vloek, die vloek sal ons nie kry nie’

Agge nee! Ek’s weer terug in dié hel. Ek probeer my hand oplig, maar dit is aan die bed vasgemaak. My voete ook! Ek wens op die oomblik dat die bed nie ‘n koppenent of voetenent gehad het nie, nes die beddens in die tydskrifte. Modern en raamloos. Waaraan sou die mal vrou my dan vasmaak?

“Maak my los!!!” Ek sukkel om my kop regop te hou.

“Die vloek sal jou nie vat nie! Die vloek sal jou nie vat nie!” My ma gooi haar kruie-en soutmengsel om my bed, “Anja sal lewe, die vloek sal haar nie kry nie!”

Sy maak my nou bang. Ek sien my pa by die deur staan. Hy dink seker my ma is mal.

“Liewe magtig, Hester! Kan jy net ophou met die nonsens?” sê my pa ewe skielik.

My ma kyk hom stip aan.

“Ek is nie bereid om my kind te verloor as gevolg van jou roekeloosheid nie.”

My ma draai na my en smeer my voorkop met vaseline. Ek sien nie hoe vaseline enigsins ‘n verskil sal maak nie.

Wat bedoel sy met roekeloos?

“Tóé Gerard, vertel haar wat jy aangevang het!”

My ma storm by my kamer uit en stamp amper my blompatroonpotjie van my kassie af.

Ek staar ‘n oomblik lank na my pa. Daar is ‘n ongemaklike stilte. Ek haat ongemaklike stiltes.

“Kan pa my asseblief losmaak?” vra ek ongeduldig.

Hy stap nader aan die bed en begin die toue losmaak. My arms is rooi van die toue wat styf vasgemaak is. Ek sit regop en vryf my enkels en my polse. My ma het regtig haar varkies verloor. My pa sit op my wiegstoel wat in die hoek langs my bedkassie staan. Dit was my ouma se wiegstoel, sy het altyd daarop gesit en brei, só sê my ma. My pa gee een groot sug.

 “Ons het destyds hierheen getrek net na my ma, jou ouma, oorlede is. Sy was ‘n vreemde vrou wat dag in en dag uit in die einste wiegstoel gesit het.”

“Pa! Ek weet klaar hoekom ons hierheen getrek het. Hoekom vertel Pa my die storie?”

“Dis sodat jy kan verstaan wat aangaan my kind! Daar is dele van die storie waarvan jy nie weet nie.”

Ek vryf my hande angstig deur my hare. My pa maak sy keel skoon en vertel verder.

 “Jou ouma het boeke vir my gelos, dit het op haar wiegstoel gestaan. Sy wou hê   ek moet die boeke lees. Die boeke was vol resepte en tussenin was daar towerspreuke versteek. Ek het eers gedink jou ouma los vir my haar koeksister- en biltongpotjieresepte, maar ek was verkeerd.”

“Was ouma dan ‘n heks?”

 “Ja, sy was. Jou ouma het vir my een bladsy gemerk met rooi pen. Bo-aan die bladsy het sy vir my geskryf dat hierdie towerspreuk vir ons ‘n beter lewe gaan gee.”

“Ek is so deurmekaar, Pa! Wat het hierdie te doen met enige iets?”

“My kind, as ek nie daardie towerspel uitgespreek het nie, sou die Vloek van Grootdoring nooit bestaan het nie.”

“Bedoel Pa?” Ek sukkel om te begryp wat my pa vir my vertel. Ek spring op en loop venster toe. “Het Pa die vloek na ons dorp gebring?”

“Ek wou nie! Ek het jare lank gesoek na ‘n oplossing, maar daar is nie een nie.”

“Kan Pa nie harder soek nie?” 

“Ek het jou ouma se boeke fyn deurgekam, bladsy vir bladsy het ek gesoek na ‘n oplossing. Daar is niks!”

Ek kan nie glo wat ek hoor nie. My hande sweet, ek voel angstig.

“Dit is Pa se skuld! Hoekom sou ouma wou hê dat Pa ‘n vloek op die dorp sit?”

Hy staan op. “Jou ouma was bitter omdat my broer oorlede is, sy het altyd geglo ek het die motorongeluk veroorsaak. Sy wou wraak neem.”

Soos hy uitloop, slaan hy die deur hard agter hom toe. Ek dink hy voel skuldig, dit maak sin. Hy kyk niemand ooit in die oë nie, veral nie die kinders se ouers wat al kom haal is nie.

Ek lê in my bed en luister na die reën wat saggies op die dak begin val. Die maanlig skyn helder deur my venster. Ek maak nooit my gordyne toe nie, ek hou van die lig. Ek kan nie ophou dink aan wat my pa gesê het nie. Ek staan op en loop na my venster toe. Ek wil die maan sien. Ek wil die reën wat teen die ruit afloop, volg. Ek sit vir ‘n rukkie, ek voel koud. Dis tyd om te gaan slaap, as ek vanaand oorleef is ek op die regte koers. Dan het my ma verniet tekere gegaan, my pa kan ophou skuldig voel en ek kan uiteindelik uit die huis uit kom. Ek haat die huis.

Ek draai om net om myself op die bed te sien lê. Hoe is dit moontlik? Ek staan dan hier? Ek loop nader aan die bed. Ek staar ‘n oomblik lank na myself. My eens bruin hare is nou kleurloos. My blou oë lyk leeg. My liggaam lyk koud en uitgeteer. My wange duik in. My asem is stil. Ek haat dooie mense. Ek loop rustig na my spieël, dit voel of ek vlieg. Dit voel wonderlik!

Ek kyk na myself in die spieël, maar niemand kyk terug nie. Die vloek is seker net erg vir almal wat agterbly. Ek hou van die vryheid.

 “Die Vloek van Grootdoring het my uiteindelik kom haal.”

Kerkstraat 15

My naam is Jannes Marais. Ek bly in Kerkstraat.  In my straat is daar ‘n huis wat jou rillings gee al dink jy net aan die plek. Die tuinhekkie staan oop maar die gras is so lank dat jy nie eens kan sien watter kant die ingang is nie. Daar is nie ‘n enkele lewendige plant nie – nie ‘n kolletjie groen nie. Die huis se bakstene val uit die mure en maak sulke groot gate.  Dit lyk soos oë wat na my kyk. Die vensters op die tweede verdieping is alles stukkend. Wanneer die wind waai, dan is die gordyne buite die huis. Wanneer ek verby die huis moet loop, loop ek baie vinnig aan die oorkant van die pad en kyk oor my skouer of daar nie iemand is wat my dophou nie.

Elke jaar naby Kersfees bak my ma koekies. Hierdie jaar was nie anders nie en sy het besluit dit is ‘n slim plan om vir al die bure daarvan te gee. Nou verwag sy van MY om by ‘daardie’ huis koekies te gaan aflewer. Sy luister nie eers na my nie. Sy gee nie om wat ek sê nie! 

“Daar bly niemand nie. Carla se niggie sê haar oom sê dat die tannie van die winkel gesê het, dat iemand in die huis dood is. Spoke hou wag sodat niemand kan binne kom nie. Daar bly lelike monsters met oë wat vuur spoeg! Dit is gevaarlik!”

Niks kan my ma van haar besluit laat verander nie. ALMAL sal koekies kry en ek moet dit gaan aflewer.

Dit het my nog nooit so lank gevat om 300m te loop nie. Dit was ‘n aaklige 300m, dit kan ek jou vertel.

Stadig loop ek die erf binne.  Ek hoop regtig dat daar niemand bly nie. (Ek sal vinnig terughardloop huis toe en skelm die koekies in my kamer opeet.) Die stukkende houttrappe op die stoep kraak onder my voete en ek hoor ‘n geskarrel in die dooie gras. Ek kan amper nie asem kry nie. Ek dink ek gaan naar word. Ek kom al hoe nader aan die voordeur en sien dat daar nie ‘n klokkie is nie. Ek lig my hand op om te klop… ek hoor hoe my hart klop…….haaaaaaaaaaigh! Die deur swaai. ‘n Ou tannie met rooi oë, wit krullerige hare en geel tande staar my aan. 

“Hoe kan ek so ‘n mooi jong kêrel op ‘n Saterdagoggend help?” vra sy met ‘n skril stemmetjie en ek kan die knoffel ruik tot waar ek staan.

My stem bewe. Dit klink nie eens soos ek nie, maar ek hoor myself sê: “Ek bring vir Tannie kerskoekies wat my ma gebak het.”

“Hoe wonderlik. Jy moet saam my kom koffie drink dan eet ons saam daarvan.”

“Dit is nie nodig nie, Tannie. Ek het ander planne gemaak vir die dag.” Ek weet ek jok, maar as ek nou in die huis ingaan, kan ek maar my eie graf begin grou.

‘’Ek het gesê kom drink koffie, NOU.’’ Haar oë trek op skrefies en dit lyk of daar stoom by haar ore gaan uitkom.

Ek het twee keuses.  Ek kan weghardloop en sy sien waarheen ek gaan en kom maak my dood in my slaap. Of ek kan in haar huis ingaan vir koffie en maak asof ek een of ander engeltjie is sodat sy my lewe kan spaar. Keuse twee sal dit wees, besluit ek soos wat sy my by die deur inforseer met haar knopkierie.

Daar hang fotorame teen die mure met swart-en wit foto’s van mense wat nie glimlag nie. Die meubels lyk stokoud en ‘n dik laag stof lê op die televisie. Daar is nie plek om te trap nie, orals lê koerante en briewe wat nooit oopgemaak is nie. Asof dit nie erg genoeg is nie, kom daar ‘n swart kat by die trappe afgeloop. Die kat het net een oog. Die reuk in die lug maak my naar en laat my dink aan die tyd toe ons paddas opgesny het in die biologieklas.

Haar kombuis is so deurmekaar dat ek nie eers die ketel kan sien nie. Ek kyk vas teen die groot swart pot op die stoof wat besig was om te prut. Sy gooi van die groen vloeistof in twee borde wat sy sommer uit die wasbak haal. Sy wys my hoe om die ‘koffie’ op te slurp en beduie na die koekies is my hande. Ek is te bang en sluk daaraan. Ek het nog nooit iets so aakligs geproe nie.  Ek dink sy kon dit aan my gesigsuitdrukking sien, want sy stap nader en mors aspris daarvan op my broek. Dadelik brand daar ‘n gat in my broek. As sy my nie gaan doodmaak nie, dan gaan my ma, in woede, oor my broek.

“Ek dink my krokodille sal die koekies vreeslik baie geniet, wil jy hulle sien?” vra die tannie en glimlag vir my.

Te bang om nee te se, knik ek my kop op en af. Ek stap agter haar aan tot by die agterdeur wat met verskillende slotte gesluit is. Met ‘n vinnige beweging maak sy al die slotte oop en die deur swaai vanself oop. Die knop in my keel keer die suurstof om my longe te bereik en ek begin sterretjies sien. 

Ek staar na die vuil modderige, grillerige water.  My oë vasgenael op wat voor my gebeur.

Sy gooi die koekies in die lug en dan spring daar iets uit die water wat dit uit die lug uit gryp. Kan dit regtig krokodille wees? Dit lyk soos groen gediertes maar ek het nog nooit so iets gesien nie. Hulle is lank, amper soos ‘n slang, slymerig, het skubbe en die verskriklikste tande wat ek nog ooit gesien het.

Sy sê dit is my beurt en druk die bak met koekies in my hande. Ek loop treetjie vir treetjie nader. Ek kyk om en die volgende oomblik stamp sy my in die water in en ek verdyn onder die groen slik. Al wat deur my kop gaan is die feit dat ek nie kan swem nie! Met ‘n geskop en ‘n gewroetel kry ek my kop bo die water. Iets het my voet beet en trek my weer af onder die water in. Die kloue om my voet se greep word sterker, dis nou wat ek moet skop vir my lewe! Gelukkig kom my voet los en ek klou aan die slymerige grasse vas. Ek snak na my asem toe my kop bo die water uitsteek en ek dit regkry om halfpad uit die water se kruip. 

Die tannie kom nader gestap met ‘n mes in haar een hand en ‘n swart sak in die ander.

“Los my net uit! Los my net uit!” skree ek so hard as wat ek kan.

Sy ruk aan my skouer en ek hoor: “Jannes, hou op skree, hou net op skree!”

Ek ruk my los, kyk op en sien hoe my ma haar kop skud. Die vloer is nat, die mure is nat, die gordyn hang by die venster uit. In die hoek lê ‘n groen handdoek bo oor ‘n bord met Kerskoekies.

My ma sit die swart sak neer: “Het jy aan die slaap geraak in die bad? Kyk net hoe nat is die vloer. Waarom het jy nog nie die koekies gaan aflewer nie?”

En al waaraan ek kan dink is: Hoekom is haar oë rooi?

Die kettiekoningin en die groen slymmonster


‘n Reuse, groen, slymerige monster, met bruin vlekke op sy haai-agtige tande, spring agter ‘n muur uit! Hy gee ‘n brul, wat enige leeu sal laat piep soos ‘ n muis. Slymdruppels vlieg deur die lug en sproei die meisie met die gitswart hare vol in die gesig.

Rika ruk so van die skrik, dat van haar springmielies uit die bakkie, in haar hand, uitspring. Dit maak dowwe plofgeluide op die pizzaboks wat voor haar op die vloer lê. Dit laat haar weer skrik.

Ricardo lag. “Ag siestog! Sussie, is die fliek te kwaai vir jou?”

“Nee!”

Sy skop in sy rigting. Hy koes. Dis nagdonker in die TV kamer. Selfs in die donker kan mens die gemors sien. Buitelyne van leë pizza bokse, gefrommelde sjokolade papiertjies en geknakte koeldrankblikkies vorm spookagtig in die TV se flitse.

 “Jy gaan my môre help opruim, Boeta! Ma gaan ons hok vir altyd!”

Ricardo kry so ‘n stoute glimlag op sy gesig. “Ek het die pizza gekoop,” sê hy vermakerig, “jý ruim op.”

Sy skop hom op sy skouer. Hy trek sy gesig asof dit baie seer was, maar sy spiere is so groot en hard, sy het dalk seerder gekry as hy.

Rika loer onderlangs vir haar boetie. Ricardo is al op universiteit en sy is nou maar eers in die laerskool. Sy is ‘n laatlammetjie, sê haar ma altyd.

Sy is mal daaroor as hy haar met sy rooi Golfie by die skool kom haal. Sy gee nie eers om dat die ou Lady Bird, soos haar ouboet dit noem, sulke dik rookwolke uitspoeg as hulle wegtrek nie. Al haar maats is tog al te jaloers op haar, dat sy so ‘n groot, sterk en oulike boetie het.

Dit is die heel eerste keer wat Ma en Pa haar heeltemal alleen by haar boetie los vir ‘n hele naweek. Pa moes weggaan vir werk. Ma is saam. Hulle kom eers Sondag terug.  Dan moet hierdie plek silwerskoon en skitterblink  wees, maar dis môre se probleem. Vanaand eet hulle al die gemorskos wat hulle kan inkry en hulle kyk die grillerigste 10+ flieks wat hulle in die hande kon kry.

Rika sal nou nie wil erken dat sy bang is nie, maar sy is baie, baie bly dat haar groot, sterk, skopboks-kampioen-boetie daar is om haar te beskerm. 

Hulle slaap net daar in die TV-kamer. Op Ma se strooikussings, met komberse wat hulle in die spaarkamer gaan haal het. Ma sal histeries raak, as sy sien wat vanaand hier aangaan.

Rika ruk wakker. Nagmerrie. Sy het gedroom van daardie groen monster. Sy moes nie so baie blikkies koeldrank gedrink het nie. Sy gaan nie nou toilet toe nie. Dis te donker en sy’s nou nie bang nie, net versigtig. Sy draai om en om, maar die slaap wil net nie kom nie.

Gedwee staan sy op.

Sy sluip met haar selfoonliggie badkamer toe. Ricardo slaap soos ‘n klip maar sy wil nie hê enige monsters moet haar hoor nie. Sy kry eintlik lag vir haarself as sy terug loop TV kamer toe. Monsters? Verbeel jou!

Sy hoor voetstappe en staan stil. As Ricardo haar vanaand skrikmaak, slaan sy wraggies sy wind uit. Ricardo snork rustig op die bank. Daar hoor sy dit weer. Sy trippel in Ricardo se rigting. Hy kan maar weet sy’s bang sy gaan hom nóú wakker maak.

TRRRRRRRRRRRRR!

Skielik bulder ‘n oorverdowende, skril, trillende piepgeluid onder haar voet uit en skeur deur die stilte. Sy spring tot amper bo-op Ricardo en hy spring meteens op. Hulle stamp koppe.

 “Wat… wat… wat… was dit?” Ricardo klink nog deur die slaap. Hy vryf sy kop.

Rika sukkel om haar asem terug te kry.

“Dit klink soos… uhm… een van Rixie se speelgoed? Ek’t daarop getrap,” fluister Rika.

“Ek’t voetstappe gehoor.”

Daar is ‘n geluid by die venster. Hulle val plat.

Rixie is hulle baba niggie wat in Australia bly. Sy hou van speelgoed wat ‘n geweldige geraas maak. Net een klein probleempie. Sy was nog nooit in hulle huis nie.

“Hoe kom die Rixie speelding hier?” Ricardo klink ook nou bang.

“Ek het nie gesê dit ís haar speelding nie! Ek het gesê dit klínk soos haar speelding!” Rika se oë rek en sy beduie oor Ricardo se skouer.

Daar is ‘n groot groen bondel van ‘n ding by die venster. Hulle verstar. Hulle haal skaars asem.

“Kruip na my kamer toe.” Ricardo fluister teen Rika se oor.

Sy maak soos hy sê. Sy kruip nie regtig nie, sy seil eerder op haar maag. Sy kan voel Ricardo is reg agter haar. Hy stamp elke nou en dan met sy arm teen haar been. Hy seil ook op sy maag.

In sy kamer sit Rika haar liggie aan. Ricardo grou in sy kas. Sy weet nie wat hy doen nie, maar sy vertrou hom. Hy kom weer terug na haar toe waar sy steeds op haar maag lê.

Hy sit haar ou kettie in haar hand. Oupa Hans het jare gelede vir hulle elkeen ‘n kettie gemaak. Sy kan nie glo dat hy dit al die jare gehou het nie. Sy kettie is in sy hand. Daar is ‘n geluid by sy kamervenster. Hulle sien hoe die groen bondel slymmonster sy klou deur die oop venster steek.

“Op drie,” fluister Ricardo.

Rika knik. Hulle kry hul ketties gereed, gelaai met groot, vet albasters.

“Een… Twee… Drie!” Die blinder beweeg. Hulle skiet. Die venster kraak. Hulle skiet die een albaster na die ander. Hulle tref die muur, die blinder, die gordyn, die venster.

Die monster skree.

Sy stem klink baie bekend?

Sy stem klink soos Frikkie s’n!

Frikkie is hul boelie van ‘n buurseun, wat altyd met Rika moeilikheid soek, by die skool. Hy wou hulle kom bangmaak! Hulle hoor hoe Frikkie weghardloop. Rika hardloop venster toe. Sy skiet weer. Frikkie gryp sy boud vas en skree.

“EINAAAAAAAAAAAA!”

“Gee my vyf, sussie! Jy is en bly maar die kettiekoningin!”

“Dankie, Ric! Ai, die venster! Môre moet ons opruim én ‘n nuwe venster laat insit,” sê Rika moedeloos.

“Geen probleem nie. Ma sal van niks weet nie en Frikkie gaan jou nooit weer pla nie. Maar ek wonder nog oor daardie speelding wat daardie aaklige geluid gemaak het!”

“Aah! Ek weet!” Rika se gesiggie helder op. “Frikkie se kleinsussie het ook so een!”

Ricardo tel vir Rika op in sy sterk arms en swaai haar soos ‘n lappop deur die lug. Sy skater van plesier. Plesier en verligting.

Rooi oë in die nag

Daar is ʼn ondier wat rondloop. Dit soek vir iemand of iets. Dit het lang, skerp kloue en gloeiende, rooi oë. Hy roggel diep in sy keel, en is weg.

“SAM! MAAK JOU DEUR TOE!” Dis die laaste woorde wat Sam daardie aand hoor. Dis sy verpes

like sussie, Lolla, wat so skree. Sy is die irriterendste, simpelste, lelikste lewende ding wat hy ken. Sam gaan maak maar sy kamerdeur toe, want hy wil nie ʼn grompot-sussie agter hom aan hê nie.

Nou kan hy in rus en vrede Lego bou.

Nou kan hy in rus en vrede Lego bou. Sam is mal oor Lego. Sy hele kamer is van hoek tot hoek ruig gepak met dié boublokkies. Hy spandeer al sy sakgeld op Lego en hy vra elke Kersfees daarvoor.

Sam mag nog wakkerbly, want hy is ouer as Lolla en sy word kwaai as sy nie slaap nie. Hy bou nog ʼn bietjie, dan gaan trek hy sy pyjamas aan en klim in die bed.

Girts, girts! Skuifel, skuifel, DOEF!

Sam skrik wakker. Wat het hom nou wakker gemaak?

Dit was seker net die boom, mompel Sam vir homself, en slaap verder.

As hy net kon weet watter gedaante nóú in sy kamer rondsluip …

Dit gee ʼn gruwelike grynslag

Die horribale gedrog kruip rond, op soek na iets. Dit gee ʼn gruwelike grynslag toe dit vind wat dit soek …

Die volgende oggend word Sam wakker met vrolike sonstrale wat goudgeel strepies op sy kamermuur gooi. Hy strek ʼn bietjie, voor hy gaan sit om te dink wat hy vir ontbyt gaan eet. 

Toe sien hy die woorde. Dis in Lego, maar nie mooi gebou nie. Dis in grys, swart en rooi. Daar is orals skerp hoeke en dit lyk baie onnatuurlik. Die woorde wat daar staan is: 

Ek sal jou kry

Sam dink daardie hele dag lank aan die woorde. Wat beteken hulle? Is hy in gevaar? Wie gaan hom kry? Al hierdie vrae maal deur sy kop, maar hy kan hulle nie antwoord nie. Hy weet net dat iets of iemand in sy kamer was, en hom soek.

Sam kan die aand glad nie slaap nie. Elke keer as sy ooglede begin toeval, onthou hy weer van die woorde en is hy wawyd wakker. Uiteindelik raak … hy … aan …die … DOEF! NIE aan die slaap nie.

Wat was dit? Sam lê so stil as moontlik, sy oë op skrefies. Toe hy die gloeiende, bloedbelope rooi oë sien wat nader sweef, word hy so bang dat hy homself flou skrik en aan die slaap raak.

Die gloeiende, bloedbelope rooi oë

Die ondier grynslag weer sy gemene grynslag en sit ʼn onaangename verrassing op Sam se kussing …

“AAAAARRRGGH!” En toe: “BLEUURGH!” Dit was Sam. Hy skree so, want iets vreesliks het om een of ander rede op sy kussing beland. Dis ʼn houertjie vol van stink goeters wat ek nie nou hier gaan skryf nie. Sam spring uit die bed uit, knyp die houer met twee vingers vas en hardloop buitentoe, waar hy dit in hulle buurman se swembad gooi.

Plons!

Toe Sam by sy kamer kom is daar ʼn baie, BAIE kwaai Lolla wat vir hom wag. Sy begin skree en tekere gaan oor hom wat haar wakkergemaak het, en Sam moes belowe om vir haar sjokolade te koop voordat sy weggegaan het.

“Die klein monster!” sê Sam vir homself. Net toe kry hy ʼn blink gedagte …

Sam maak al die veiligheidstoerusting waarop hy sy hande kan lê bymekaar: van stokke en grawe, tot messe, vurke en panne. Hy is reg vir die gedaante! Nou moet hy net wag …

Eers diep in die aand, naby die middernagure, kom die monster uit sy skuiling. Dit weet dat Sam daarvoor wag, so dit lyk weer net soos twee gloeiende rooi oë …

Sam sit in sy bed en wag. Dit is al twaalfuur, maar hy is wawyd wakker. Skielik hoor hy die bekende DOEF, en ʼn snork. Hy sien die rooi oë wat nader kom en KLANNGG, foeter hy die gedrog met die pan. Dadelik word die monster sigbaar en kan Sam dit sien. Dis so aaklig dat mens dit nie kan beskryf nie. Dit het vlymskerp tande en ʼn vieslike stink asem. ʼn Lang, rooi tong steek by sy bek uit en sy rooi oë is steeds daar.

ʼn Lang, rooi tong steek by sy bekuit

Sam moker die ongedierte weer en weer oor die kop met sy pan en haal sy tuinvurk ook uit, wat hy gebruik as spies.

Uiteindelik spring die ding weg, gee ʼn lang wolwehuil en word weer onsigbaar. Sam hoor die doef, en raak weer aan die slaap.

“Ek het nou die monster weggejaag, maar wat as dit terugkom?” dink Sam die volgende oggend. Hy is uitgeput na die aand se monster-foetery en kan nie behoorlik dink nie. Sam maak ʼn lys om alles agter mekaar te kry.

Die dier kom uit in die nag. Dis redelik groot, so dit kan nie deur die venster klim nie. Die voordeur is te ver weg en dit sal die traphekkie vir Lolla, moet oopmaak. So dit kan net … van … bo … kom!

Sam besluit om sommer in die dag te gaan ondersoek instel. Hy kry sy flits, pan, tuinvurk en ʼn paar Lego geweertjies (vir ingeval). Hy vat ʼn leer boontoe en sit dit onder hulle dak se valdeur. Versigtig maak hy dit oop en … niks kom uit nie. Nie ʼn enkele lewende ding nie, nie eers ʼn insek nie. “Dis vreemd,” sê hy vir die muur. Sam skakel sy flits aan en klim in die dak in. Nog steeds niks! Net ʼn klomp ou bokse vol stof, en ʼn hoop hare. Hy het g’n idee wat aangaan nie! Sam is so kwaad dat hy sommer ʼn paar bokse omskop, maar wat val uit? Hare! “Wat is dit met al hierdie dekselse hare! Mens sal dink die dak is ʼn haarkapper!” skree hy. Hy dink wel dat hy iemand met hierdie tipe hare gesien het …

“Vanaand kry ek dit reg!” dink Sam. Hy maak al klaar plannetjies om lokvalle te bou wat hy orals gaan sit. Hy is vasberade om die monster te vang, want hy het genoeg gehad van die gedrog se rondsluipery. Sam werk die hele dag lank aan sy lokvalle. Werk ʼn bietjie, eet, werk weer, eet, rus, werk.

Teen die aand is alles reg en het hy ʼn hele klomp lokvalle gebou. Daar is muisvalletjies oral oor die vloer en ʼn net onder die dak se valdeur. As dit nie genoeg is nie, is daar ʼn emmer water op sy deur gebalanseer, en Sam het ʼn gelaaide watergeweer.

Lolla is in die bed en Sam se ouers is uit vir aandete. Al wat hy nou kan doen, is wag.

“DOEF!” hoor Sam. Toe: YAAOOUUWW! “Dis die net!” dink Sam opgewonde. Hy kom uit sy wegkruipplek en, net om seker te maak, spuit hy die monster nat. hy tree versigtig nader … en sien sy sussie, deurdrenk met water, wat in die net lê! Sy lyk woedend, dis asof stoom by haar ore uitkom!

Dis nie nodig om te vertel wat sy gedoen het nie, maar Sam het bly gesê: “Ek het GEWEET jy’s ʼn monster!”

Rooi oë in die nag – Simon van Dyk
Derde prys (Laerskool) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021

Die waterwese

“Wat op aarde was daardie geluid?” vra Ilea skrikkerig.

“Ek weet glad nie …,” antwoord Ilea, “… ons moet gaan kyk,” sê sy vasbeslote en skakel die bedliggie aan.

“Is jy van jou sinne beroof?” vra Ilea geïrriteerd. “Partykeer wonder ek wat in daardie kop van jou aangaan. En wat as Ma ons betrap? Ons sal vir weke, nee, dalk maande gehok word! Jy weet hoe erg is sy oor veiligheid!”

Die twee susters fluister saggies, terwyl hulle nog in hulle beddens in hulle strandhuis, wat op die hawe geleë is, lê. Toe hoor hulle weer dieselfde geluid. Dit is ʼn skril geluid, soos wat vingernaels op ʼn swartbord maak, klink.

“Help! Help my!” skreeu ʼn stem op ʼn verskriklike hoë toonhoogte. Die twee meisies spring dadelik uit hul beddens en hardloop na die venster. Toe hulle versigtig na buite loer, sien hulle net water spat. Alena sien net-net hoe ʼn vrou in die water verdwyn. Druppels spat op die venster en hulle sien net ʼn swart silhoeët. Borrels kom boontoe en toe is daar geen teken meer van die vrou nie…

Sekerlik sou die vrou nie aspris in die water gespring het nie? Alena hoop van harte dat die vrou darem kan swem. Nog ʼn paar minute later was daar steeds geen teken van die vrou nie. Geen mens kan sy asem so lank ophou nie!

“Ons moenie so laat in die aand hier buite wees nie, Alena!” fluister Ilea toe hulle na buite sluip. “As ons nóú betrap word …!”

“Wees rustig, Ilea. Ons sal nie betrap word nie. Jy kan mos sien dat daar niemand hier buite is nie,” sê Alena en haal ʼn flitsliggie uit en skakel dit aan. Die sterre skyn helder en die maan is vol. Die twee susters gaan staan op die kaai en luister of hulle enigiets kan hoor. Dit is doodstil.

Skielik sien hulle ʼn figuur wat soos ʼn dolfyn uit die water spring. Die figuur se kop draai in die rigting van die twee meisies en sis hard. Die figuur land op ʼn rots en sit roerloos daar. Twee geel oë is op die meisies gerig.

“Wat is dit?” vra Ilea skrikkerig. Die figuur spring van die rotse af terug in die water. Alena het een ding opgemerk en dit is dat die figuur ʼn visstert in plaas van twee bene het. Wat ʼn snaakse ervaring!

“Meisies!” hoor die twee susters iemand fluister. Dadelik draai hulle om en kyk in die kwaai gesig van hul ma vas. “Wat maak julle hierdie tyd van die aand buite?” vra Ma kwaai en gryp altwee meisies aan die arm.

“Ma, ons het ʼn snaakse geluid gehoor en toe wou ons kyk wat dit was…” begin Alena verduidelik. “Hoe het Ma geweet ons is buite?”

“Ek het voetstappe in die gang en ʼn deur wat toemaak gehoor. Julle sal beter te werk moet gaan om ʼn oudpolisievrou te wil flous!” antwoord hul ma terwyl hulle deur die tuintjie stap. “Wat het julle toe daar buite gesien?”

“Ag, dit was sommer ʼn siek seemeeu wat geskree het,” antwoord Alena en probeer ʼn giggel wegsteek.

“Ja, ek kan dit glo,” sê hul ma en maak die susters se slaapkamerdeur oop. “Kom, nou moet julle slaap kry. Môre kan ons op die strand langs gaan stap en sommer roomys kry na die tyd. Ag tog, nou is ek sommer lus vir roomys!” Ma maak vir Ilea toe onder die donskombers.

“Lekker slaap, Ma!” groet Alena toe hul Ma die deur oopmaak om uit te gaan.

“Julle ook!” antwoord sy.

ʼn Ligte gesnork word feitlik dadelik van Ilea se kant gehoor en Alena glimlag. Wat ʼn aand…

“Word wakker, slaapkouse!” roep die twee susters se ma van die kombuis af. Alena laat ʼn lang sug hoor en kyk na die muurhorlosie. Vyfuur! Fantasties! So dit is die straf vir gisteraand, dink Alena en staan op.

“Kom aan, Ilea!” sê sy moeg. Ilea draai om op haar sy en kreun.

“Nog net tien minute…”

“Ek het pannekoek gebak!” roep hul ma en Ilea spring dadelik op en draf kombuis toe. Alena skud net haar kop en glimlag. Sy kyk by die venster uit waar sy die vrou in die water gesien val het. Wat het met haar gebeur? En om nie eers te praat van die vreemde wese op die rotse nie!

Toe Alena die kombuis binnekom, betrap sy vir Ilea met ʼn mondvol pannekoek en stroop. Sy het amper die hele buisie stroop op haar pannekoek uitgedruk.

“Skaam jou!” fluister Alena. “Jy weet stroop is skaars!”

“Ek kan nie help nie! Dit is die goue soort en jy weet ek is verslaaf daaraan!” fluister Ilea terug. Hul ma kom toe net deur die agterdeur binne.

“Môre, Alena! Daar is ʼn paar pannekoeke in die bak as jy wil hê!” sê sy en sit ʼn hopie klere in die mandjie. “”Ek is nou net klaar wasgoed afgehaal. Sjoe, wat ʼn werk vir die tyd van die oggend! O ja, onthou julle twee, ons gaan oor ʼn rukkie strand toe.”

“Ja, Ma!” antwoord die twee asof uit een mond. Ilea het nou die res van haar pannekoek is stroop gedoop en in haar mond gedruk.

“Mmmmm!” Sy sit haar mes, vurk en bord in die wasbak en gaan kamer toe.

“Ma?” vra Alena terwyl sy ʼn pannekoek uit die bak haal.

“Ja, Alena?”

“Toe Ma nog vir die polisie gewerk het, het julle gevalle gehad van mense wat net verdwyn?”

“O ja, baie, eintlik. Mense het baie klagtes gebring oor familie of vriende wat net skielik een aand verdwyn het. Daar word al jare daaroor gepraat. Blykbaar sê hulle daar is ʼn waterwese wat elke aand prooi soek en dit in die water in trek vir aandete. Gruwelike goed wat hulle dink, as jy my vra! Een keer het ʼn man na ons toe gekom en vertel hoe hy gesien het dat die waterwese sy vriend in die water trek. Maar waar was die bewyse? Ja, daar was baie nuusberigte oor mense wat op so ʼn manier verdwyn het, maar wie kan seker wees?” sê Ma en vou haar arms. “Hoekom wil jy weet?”

“Ag, ek het dit op die nuus een keer gesien en wou net meer daaroor weet,” jok Alena en staan op om kamer toe te gaan. “Dankie dat Ma my vertel het!”

“Hei, Alena!” sê Ilea waar sy op die bed lê en boek lees.

“Hallo, watter boek lees jy?” vra Alena en gaan langs haar op die bed sit.

“Ag, sommer ʼn Enid Blyton-boek. Daar is ʼn nuwe boek van haar en ek kan nie wag om dit te lees nie.”

“Sal jy daardie boek vir my leen as jy klaar is, asseblief?” vra Alena en maak ʼn nota van haar versoek en plak dit teen die muur aan Ilea se kant. “Jy weet self hoe maklik jy vergeet!”

Ilea lag. “Oukei, maar net as jy vir my ʼn paar van daardie sjokoladekoekies van jou gee!”

“Ek sal daaroor dink …,” sê Alena kamma ernstig.

“Meisies! Ons gaan oor twee minute strand toe! Maak reg!” roep hul ma vanuit die kombuis.

“Oe, hier is nog een!” roep Ilea uit en tel ʼn pragtige pers skulp op en swaai dit in die lug. “Hierdie een is pragtig!”

Alena kom staan langs Ilea om die skulp te bekyk. “Ek hou van die ringetjies rondom die skulp. Ja, dié een verdien om in die emmer te gaan.” Ilea plaas die skulp versigtig in die emmer en hulle soek nog skulpe.

“Alena! Ilea!” roep hul ma van ver af en die twee meisies hardloop na hulle toe. “Daar ander kant is ʼn roomyskarretjie. As ons vinnig maak, kan ons dit inhaal!”

Die twee meisie hardloop resies na die roomyskarretjie toe en Alena is eerste daar.

“Hallo, kan ek asseblief ʼn sjokoladeroomys in ʼn horinkie kry?” Na ʼn paar sekondes is Ilea ook daar.

“En vir my vanielje, asseblief!”

“Wie betaal?” vra die roomysverkoper.

“Ons ma! Daar kom sy aan!” sê Alena en wys na hul ma wat aangestap kom. Die roomysverkoper knik en plaas twee roomyse in die gretige hande.

“Dankie!”

Die twee meisies gaan sit op die naaste rotse en eet hul roomyse. Toe hulle klaar geëet het, besluit die twee om ʼn bietjie in die water te speel. Hulle stamp mekaar in die water en plas mekaar nat. Hulle gaan ʼn bietjie dieper in en raak sommer lekker laf. Hul ma het op ʼn rots gaan sit om toesig te hou.

Skielik voel Alena ʼn stywe greep om haar enkel. Sy kyk onder toe en sien ʼn liggroen hand. En toe is sy onder die water. Sy sien vir Ilea ook langs haar in die water en die lyk net so bang soos sy. Alena hoor haar ma se stem wat vir hulle skree. Haar asem is egter besig om op te raak. Sy voel hoe hulle dieper en dieper in die water ingetrek te word. Paniek is skielik die enigste emosie wat sy ken. Dit gaan dalk die laaste ding wees wat sy gaan voel…

Sy voel ʼn hand in hare en sy maak haar oë oop. Ilea hou haar hand styf vas. Net toe Alena voel dat haar asem opraak, vat iemand aan haar arm. Dit is ʼn man wat hulle albei optrek. Sy voel hoe die greep om haar enkel verswak en dan heeltemal laat los. Alena kyk vir oulaas ondertoe en sien twee geel oë in die dieptes. Die waterwese bestaan regtig… 

“My dogters!” roep hul ma uit en sy druk Alena en Ilea styf vas. “Moet dit nooit, nooit weer doen nie!” Alena is nog steeds vreesbevange. Om te dink dat hulle amper verdrink het! Ek is so dankbaar dat daar lewensredders op die strand was.” Sy glimlag vir die ma langs haar. “Wat het gebeur?”

Alena bewe. “D … die waterwese,” hakkel sy, “het ons onder die water ingetrek. So al daardie stories was al die tyd die waarheid!”

Hul ma het verlig gesug en hulle lank styf gedruk. “Julle kort ʼn groot troos! Ek sal vanaand julle gunstelingdis maak!”

“Ma, wat gaan ons omtrent die waterwese doen? Ons kan dit sekerlik nie los nie?” vra Ilea.

“Ek sal dit aan die polisie rapporteer. Hulle sal definitief iets daaromtrent doen,” antwoord hul ma.

Na hierdie gebeure het Alena haar eie boek, Naby die doodservaring, geskryf oor hoe sy en haar eie suster uitgevind het van die wese en hoe alles geëindig het. Die wese is toe gevang en in ʼn akwarium in beskerming geplaas.

Die waterwese het geskiedenis gemaak om te onthou.

Die waterwese – Elmé Steyl
Tweede prys (laerskoolafdeling) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021.

Geheim in die bos

“Peep peep, peep peep!” weergalm Domenique se wekker deur die stilte van die nag.

Die volgende oomblik word die duvet afgegooi van die bed, en ‘n meisie van omgeveer veertien jaar oud, met blonde hare en bruin oë, vlieg uit die bed uit. Met ‘n kragtige pluk na haar bedkassie, kry sy die skreeuende wekker in die hande. Sy skakel dit af, net betyds om te hoor hoe dat voetstappe in die gang al hoe nader beweeg. Sy gluur ‘n laaste keer na haar wekker, 12:00 uur, middernag.  Met ‘n spoed stop sy ‘n paar kussings in haar bed, gooi die duvet weer oor, en gryp haar sak. 

Sy is net betyds deur die venster om te hoor hoe haar moeder haar kamer deur oopstoot.

Gerusgesteld dat haar dogter nog rustig slaap, maak sy die deur weer saggies toe en loop weer af in die gang.

Domenique blaas ‘n lang sug van verligting uit, en trek haar jas stywer om haar. Sy het al reeds haar dagklere die vorige aand aangetrek, sodat sy maklik en vinnig spoorloos kon verdwyn.

Die nag is koud en spokerig, en die droë blare kraak onder haar stewels. Die geheimsinnige bos lê soos ‘n donker nagmerrie voor haar. Net hier en daar beweeg ‘n tak in die wind, wat spookagtige prente vorm in die lig van die vol maan. 

Sy skakel die flitslig aan.

Vir ‘n paar oomblikke maak sy haar oë styf toe om haar plan weer te oordink. Dan maak sy haar sak oop, soek haastig daarin, en trek dan ‘n lang flitslig uit die sak. Sy stop ‘n oomblik om moed by mekaar te skraap en skakel dan die helder lig aan.

Treetjie vir treetjie stap sy die woud binne. Sy kan haar tande hoor kners op mekaar en haar bene voel soos jellie. Sy skyn haar flitslig heen en weer, om seker te maak dis veilig en stap dan verder en dieper in die hart van die woud in. Alles wat sy die vorige middag in die koerant ontdek het, spoel deur haar kop. Die geheimsinnige titel op die voorblad van die klein dorpie se koerant, wat in goot gedrukte letters sê: “DRIE ONBEKENDE FIGURE TEEN MIDDERNAG IN EIKEHOUTWOUD.” 

Die hele geheimsinnige storie van die jong seuntjie, wat net twee huise van Domenique se huis af woon, wat sy verlore kat gaan soek het in die middel van die nag. Die seuntjie, genaamd Johannes, het onverwags drie figure raakgeloop in die bos. Dit was donker en die verskrikte Johannes kon net die buitelyne van drie figure uitmaak. Die outjie was so in skok en het sonder meer inligting huis toe gehardloop. Die volgende oggend het hy wel die opmerking gemaak dat dit gelyk het asof hulle gegrawe het en op soek was na iets. Die polisie het die volgende oggend ondersoek gaan instel, maar kon niks buitegewoons opmerk nie. Daarmee was die saak vir hulle opgelos, maar nie vir Domenique Kruger nie.

Skielik steek sy vas. Blitsig skakel sy haar flitslig af en spits haar ore. Afgesien van die dreuning van die wind deur die blare, hoor sy ook fluisterende stemme. Haar hart begin so hard klop dat sy sukkel om uit te maak wat die stemme sê. Omvou deur die duisternis van die nag, stap sy so geluidloos soos ‘n muis verder.

Die stemme word al hoe harder en nou en dan skrik sy vir ‘n takkie wat kraak onder haar skoene.

Sy gee amper ‘n gil toe sy beweging agter ‘n groot bos sien. Sy byt op haar lip en staan vir ‘n oomblk sonder om ‘n lit te verroer. Onder die indruk dat niemand haar raakgesien het nie, sak sy af tot op haar knieë.

Drie figure besig om iets te soek.

Versigtig om nie opgemerk te word nie, trek sy ‘n paar blare uit die pad en loer aandagtig deur ‘n opening tussen die takke. Nes Johannes opgemerk het, sien sy drie figure besig om na iets te soek. Orals word diep gate gegrawe en deur na die stemtoon te luister kon sy duidelik hoor dat dit drie mans is. Die koue en spookagtigheid van die woud merk sy nie eers op nie.

Skielik wip sy soos sy skrik toe een van die figuure opkyk en ‘n sagte maar duidelike opmerking maak: “Ons gaan dit nooit vind nie. Die Van Deventers was slim mense, ons mors net ons tyd.”

“Haai nee, ons kan nie so vinnig opgee nie, dit is hier iewers, en my maat as ons dit vind, dan is ons skatryk,” val die ander een hom in die rede.

Domenique se oë is nou so rond soos pierings. Net toe sy wil omdraai, sien sy iets uit die hoek van haar oog. Daar in die verte agter ‘n bos staan ‘n jeep. Die voertuig lyk gehawend, asof dit gewoond is aan die slegte woudpaadjies. Skielik kry Domenique ‘n blink idee. Sy draai vinnig om en maak ‘n wye draai. Sy buk af op haar hurke, en van ‘n afstand maak sy seker daar is niemand in die jeep wat vir haar lê en wag nie. Sy druk haar hand in haar sak en haal haar selfoon uit. Sy neem ‘n foto van die voertuig, en sit haar foon terug in die sak.

Sy kruip versigtig om die voertuig sodat sy onsigbaar is vir die figure. Agter-op die voertuig lê daar ‘n  stowwerige leersak, by die een punt steek daar ‘n geheimsinnige papier uit.

Sy het dit skaars in haar sak gedruk, toe sy voetstappe hoor aankom. Verskrik kyk sy op, en haar oë val op drie donker skaduwees. Vinnig maak sy haar self onsigbaar agter ‘n groot boom. Net betyds voor die drie figure te voorskyn kom. 

Die stof trek soos die jeep wegtrek.

Domenique staar vir ‘n oomblik  die voertuig agterna, en onthou dan van die papier. Half skrikkerig trek sy dit met die punt van haar vingers uit. Versigtig, maar angstig vou sy dit oop. Op die papier sien sy nou ‘n paar dowwe lyne en merke. Aan die einde van ‘n lang draaierige lyn is daar ‘n klein kruisie waarby ‘n paar letters iets uitspel:

Diep in die aarde, is daar baie waarde, by verrimpelde ou tone, is daar baie meer as krone.

Nou is Domenique behoorlik omgekrap. Sy is nou seker dat daar wel iets hier in die woud wegesteek is, maar wat kan die raaisel nou eintlik beteken? Sy loer eers om haar rond, en skakel dan versigtig die flitslig aan. Orals kyk sy rond, maar sien niks met ou verrimpelde tone nie. Sy is verstandig genoeg om nie te vêr rond te dwaal nie, want so in die nag kan mens maar maklik verdwaal in die woud. En die kaart wys wel dat die kruisie hier iewers is. Domenique se kop draai al van al die gedinkery, maar sy kan geen oplossing vind vir die situasie nie. 

Na ‘n halfuur se soek het sy omtrent al onder elke bossie en blaar gekyk, maar ‘n leidraad kan sy nie vind nie. Sy kyk eers op haar horlosie, toe sy ‘n lang gaap gee. Dit is tien minute voor twee, en dit lyk vir haar of die lang nag als verniet is.

Op ‘n drafstappie swaai sy haar flitslig heen en weer, maar van ou verrimpelde tone is daar niks te sien nie. Sy was net op pad om op te gee, toe iets hards haar voet vang. Sy slaan neer soos ‘n sak patats. Dit is ‘n ou boom se harde wortels wat haar laat struikel het. Met gesig in die grond probeer sy inneem wat alles nou net gebeur het. Soos sy haar gesig lig van die grond eggo die woorde skielik in haar kop: “by verrimpelde ou tone, is daar baie meer as krone.” 

Sonder om twee keer te dink, spring sy op, bekyk die wortels waaroor sy geval het, en klap haar self op die kop.

“Natuurlik, hoe kon ek nie daaraan gedink het nie,” sê sy terwyl sy haar hand oor die krakerige ou bas van die boom streel. “Die verrimpelde tone moet duidelik die lang wortels van die boom wees.”

Sy skyn die flitslig op die wortels, en kyk dan op in die boom se blare. Die dik takke van die akkerboom strek tot in die hemel, waar die maan en sterre hom vriendelik groet. Sy kyk vinnig heen en weer, om seker te maak daar is niemand wat haar stilletjies dophou nie, en begin dan tussen die wortels te karring. 

Een vir een trek sy aan die wortels, en tot haar verbasing lig ‘n groot stuk van die grond op. Sy stik amper in die stof, maar is angstig om te sien wat gaaan gebeur. Sy trek haar asem in toe die flitslig  in ‘n donker gat skyn wat omtrent so groot is soos ‘n wasgoedmandjie. Die gat is wel nie so diep nie, maar was goed weggesteek onder die ou boom se wortels.

Stadig maar seker sak sy af tot op haar knieë, steek haar hand in die gat en voel rond. Uiteindelik tref haar hand iets hard, en saam met haar arm kom daar ‘n ou bruin koffer uit. Sy blaas haastig die stof af, en kyk dan om haar rond. Die helder maan is die enigste lig in die donker nag, maar al Domenique se vrees het skielik verdwyn. 

Die koffer.

Haar oë skyn helder van opwinding, soos sy die koffer se deksel oopmaak. Die ou skarnere kraak, en sy gee amper ‘n gil toe sy sien wat daarin is. In die helder lig van die flits, sien sy nou die koffer is tot bo volgestop met hopies geldnote. Haar mond val oop soos sy die rykom voor haar aanskou. Sy gaan lê terug teen die boom en gee ‘n lang sug van verligting.

“Ek het dit gevind,” fluister  sy, en met daai woorde val haar oë toe.

Die volgende oggend maak die son wat liefkosend deur die blare skyn haar wakker. Vir ’n oomblik kyk sy verward rond, en skrik toe sy die oop koffer met die geld in sien. Haar flits wat se liggie teen die tyd al flou geskyn is, lê net langs die koffer. ‘n Glimlaggie verskyn op haar mond soos sy haar selfoon uit haar sak trek.

En so is Sarah Van Deventer se lewe gered, deur ‘n  avontuurlustige jong meisie genaamd Domenique Kruger. Die 82-jarige tannie, die enigste oorlewende Van Deventer. Haar voorvaders het die versteekte skat jare terug weg gebêre, met die hoop dat dit eendag vir ‘n goeie doel gebruik sal word. Die tannie wat in Pretoria tuisgaan, kon nie meer die huurgeld betaal nie, en was in groot gevaar om die huis te verloor. Sonder familie of iets om van te lewe, was haar lewe besig om afdraande te gaan. Maar te danke aan ons nuwe held, Domenique Kruger is Sahra Van Deventer se lewe gered.

Mevrou Kruger sit die koerant neer en glimlag breed vir haar dogter. Dit is Sondagmiddig, ‘n week na Domenique se avontuur, en almal sit lekker op die bank en tee drink.

“Domenique,” klink haar pa se diep stem deur die vertrek. 

“Ja, Pappa,” antwoord sy nuuskierig. 

“Ek het vanogend in die nuus gelees, dat die drie figure opgespoor is. Hulle is gisteraand gearresteer vir 5 miljoen rand se diefstal. So daai mannetjies gaan lank in die tronk sit.”

“Wow, Pappa, dis nogal skokkend, maar ek is wel bly hulle is gevang.”

“My kind jy was baie braaf om so in die nag te gaan skatte soek. Ek is baie trots op jou.”

“Ons almal is baie trots op jou,” stem haar mammie saam en gee haar ‘n stywe drukkie.

wenner Storiewerf 2021 skryfkompetisie

Geheim in die bos – Marisa Loubser.
Eerste prys (laerskoolafdeling) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021.


Die doolhof

Die son bloei stadig agter die bome weg. Alles is stil … te stil. Die pretpark se geroeste hekke gaap oop soos die bek van ʼn monster.

“Ek kan nie glo jy het ons in hierdie nonsens ingepraat nie!” sis Lana vies vir James.

Ek kan dit ook omtrent nie glo nie. Die lang, spookagtige torings, die vervalle tente en die donker silhoeëtte van al die stokou ritte is genoeg om enige nuuskierige avonturier weg te hou. En tog, hier staan ons: voor die pretpark, op pad na die doolhof toe. Die doolhof – die rede hoekom die pretpark gesluit het. Die rede hoekom Jan Verster vyftig jaar gelede spoorloos verdwyn het.

Volgens gerugte was dit een van die ingewikkeldste doolhowe wat nog ooit in ʼn pretpark gebou was. Net die eienaar het die roete geken: geen ander persoon kon ooit naby die fontein in die middel uitkom nie. Hy was blykbaar gek oor speletjies, en het verklaar dat hy aan enige besoeker wie die fontein kon kry, ‘n wens sou skenk. Ritte, spookasem, vertonings… solank dit net deel van die pretpark was.

Die doolhof was baie gewild totdat Jan eendag ingegaan het en nooit weer uitgekom het nie. Die polisie het regdeur die nag na hom gesoek. En die hele dag daarna. En die dag daarna. Vir dae lank.

Hy is nooit gekry nie.

Toe die polisie uitkom… Hulle het stories vertel van ʼn stem wat roep om hulp en van ʼn skadu in die hoek van hul oog wat verdwyn sodra hulle omkyk. Hulle het gesê dat die doolhof Jan se siel gesteel het.

Die dorpenaars het die eienaar vir Jan se verdwyning geblameer. Hy het kort daarna by die doolhof ingestap en is nooit weer gesien nie. Die pretpark het mettertyd in duie gestort …

En nou, nou gaan ons in die doolhof in. Net as gevolg van Hendrik se vreeslike stupid dare. Ek skud my kop. “Jy weet ons is jou beste vriende, en dat ons enigiets vir jou sal doen, maar…” Ek kyk weer na die pretpark en ʼn rilling wriemel by my ruggraat af.  “Hoekom moet jy in elk geval daai grootkop se dare aanvaar net om ʼn girl te beïndruk wat al meer kêrels gehad het as wat sy wiskundetoetse deurkom?”

Lana knyp haar neus tussen haar vingers vas. “Ek moet met Adriaan saamstem, James. Al waarin sy belangstel is seuns se aandag. En Hendrik … wel, hy probeer maar net grootkokkedoor wees.”

James trek sy skouers op. “Julle kon maar altwee by die huis gebly het as julle so teen hierdie idee is.”

Lana sug. “Asof ons jou ooit sonder toesig sou los. Wel, as jy regtig so vasberade is, vat hier.” Sy druk iets in ons albei se hande in.

“ ʼn Muntstuk?” vra James in ongeloof.

“Ja, vir wanneer ons die fontein kry, sodat ons darem ons wense kan uitspreek.”

“Wense? Jy is nie ernstig nie! Hierso, Adriaan, twee wense vir jou.”

Ek vang sy muntstuk met ʼn skud van my kop voordat ek opkyk na die ingang voor ons.

“Adriaan… Ek dink jy moet dit ook vat.” Lana hou ʼn kompas na my toe uit. “Dis my ouma s’n. Dis veronderstel om baie waardevol te wees, maar ek het nie gedink sy sal omgee as ons hom net vir ʼn aand leen nie… Dit wys blykbaar die rigting van jou gewenste bestemming aan.” Sy trek haar skouers op. “Ons kan dit maar net sowel saamvat.”

Kompas

James lig sy foon op. “Google Earth, mense. Los die kompas. Ek het ʼn arial view van die doolhof; ons sal binne minute daar wees. Al wat ons nodig het, is ʼn selfie, dan is ons uit en dan praat ons nooit weer daaroor nie.” Met een kyk in Lana se sagte, bruin oë, druk ek maar die muntstukke en kompas in my broeksak. Haar skitterende glimlag is amper genoeg om my gerus te stel.

Amper …

Hemelhoë bosse

Ons gaan die park versigtig binne. Ons voetstappe weergalm in die stilte. Die flitsligte gooi lang, onaardse skadu’s wat ons volg soos grypende vingers. Voor ek my oë kan uitvee, is ons by die doolhof. Die struike wat eens as heinings gedien het, het in die halwe eeu waartydens hulle wild gegroei het, in massiewe, hemelhoë bosse verander.

James se kneukels is wit soos hy sy foon vasklou. Met ʼn knik van sy kop begin ons stap. Na ʼn paar meter moet ons kies: links of vorentoe.

“Vorentoe,” prewel James, sy foon amper teen sy neus gedruk. “Links is ʼn doodlooppad.” Na nog ʼn paar meter moet ons weer kies. “Regs. Vorentoe vat ons terug na waar ons begin het.”

ʼn Geritsel in die bosse laat ʼn skreeu uit my keel losbars. James en Lana swaai om.

“Wat? Wat is dit?” vra Lana bekommerd.

“Het julle dit nie gehoor nie? Daar is iets in die bosse!”

James sluk. “Seker net ʼn kat of iets. Kom, ons moet hier voor regs draai.”

Ek draai regs en stop in my spore. ʼn Doodloop. Ek draai terug. “Is jy seker?”

James byt sy lip. “Dalk het ons ʼn afdraai gemis. Kom ons gaan terug.”

Terwyl ons omdraai, hoor ek weer die geritsel van bosse. My hart gaan sit in my keel. Dit kan nie wees nie: nog ʼn doodlooppad!

“Onmoontlik,” fluister ek. “Ons het dan nou net hier deurgekom …” Dit voel asof my hart gaan staan. Die geritsel in die bosse … Dit was nie in die bosse nie, dit was …

Guys, ek dink … ek dink die doolhof …” Ek sluk hard. “Ek dink die doolhof beweeg.

Hulle kyk my net met groot oë aan, maar ek het klaar besluit: genoeg is genoeg. Ek druk my flits in James se hand, gryp hulle albei aan die elmboë en begin hardloop.

Uit! Ons moet hier uit!

Ek voel hoe James langs my struikel en ek my greep op sy arm verloor.

“Bly by, man!” gil ek.

Doringtakke gryp na my klere. Ek skeur myself los en hou aan hardloop.

“Adriaan!”

Ek swaai terug. Lana struikel om los te kom van doringtakke wat blitsig om haar bene krul. Waar is James? Voor my oë begin die doringtakke groei. Binne sekondes is daar ’n muur tussen ons.

“Adriaan! Hou aan hardloop! Gebruik die kompas, vinnig!”

Lana se woorde tref my soos ʼn hamer. Die kompas! Ek grawe dit met bewende hande uit. Ons enigste hoop! Ek begin weer hardloop, hierdie keer al agter die kompas se rooi pyltjie aan. Om draaie, verby doringtakke wat na my gryp soos frenetiese dansers, aan en aan totdat ek uiteindelik in ʼn oopte instruikel.

Trane rol oor my wange. Die fontein!

“Geluk,” fluister ʼn spottende stem. Ek vries. “Jy is die eerste een ooit …”

“Ek is reg om my wens te maak,” wurg ek uit. Ek draai bewend om. Die skadu op die grond wat ek eers gedink het is myne, begin in stadige sirkels om die fontein loop.

“Is jy seker?” fluister hy weer.

Ek maak my geklemde vuis oop. Die muntstukke glinster in die donker.

“Wel,” grom die stem, “dit lyk asof jy is. Wat is jou wens?”

“Ek wens dat jy my en altwee my vriende sal laat gaan.”

“Dis nie hoe dit werk nie!” singpraat die skadu. “ ʼn Muntstuk is slegs geldig vir sy eienaar…”

Ek kan die grynslag in sy stem hoor. Ek kyk wanhopig af na die muntstukke in my hande. My hart galop soos ʼn resiesperd en ek baklei om my jagende asem onder beheer te kry. Fokus! Ek moet fokus.

James se muntstuk val met ‘n dowwe ‘klonk!’ in die water. “Ek wens namens my vriend dat jy hom sal bevry.”

Nog ʼn grynslag. “Goed dan.”

Ek kyk af na die oorblywende muntstuk en terug na die skadu. Sy pretpark … ʼn Plan begin vorm in my kop. Ek laat val my eie muntstuk in die water. “Ek wil ʼn speletjie speel,” forseer ek dit uit.

Die skadu raak stil. Tyd het nog nooit so stadig verloop nie.

“En wat is hierdie speletjie?”

“As ek my vriendin in die doolhof kan kry, laat jy ons altwee vry op my muntstuk. En dan is dit verby met jou. Dan mag jy nooit weer enigiemand in jou doolhof gevange hou nie.”

Ek hou my asem op. Asseblief-asseblief-asseblief …

“En as jy verloor?”

Ek sluk hard. “Dan bly ons hier, vir ewig. Dan … dan behoort ons siele aan jou.”

Die skadu lag onheilspellend, en vir ʼn oomblik dink ek hy gaan weier, maar dan sis hy, “Jy het tot middernag, seun.”

My oë skiet na my polshorlosie: 11:21. Ek is voor my volgende asemteug aan die hardloop, die kompas vasgeklem in my hand.

“Lana!” gil ek. “Lana, waar is jy?”

Die pyl spring aanhoudend rond. Waar’s jy waar’s jy waar’s jy … Die lug verlaat my longe soos ek pynlik met die aarde kennis maak. Die kompas vlieg uit my hand uit en verdwyn onder die lang, gevlegte rankplante.

“Nee!” Ek trek die rankplant om my enkel los en skarrel agterna. Die golwende rankplante vou voor my toe.

Nee! Nee!

“Lana! Adriaan!”

My kop ruk op – James! Ek struikel om die volgende draai, en – daar! Hy is uit! Hy is veilig!

Ek kyk na die doolhof agter my. Toe ek weer vorentoe kyk, is die uitgang klaar besig om toe te groei. My voete dra my terug na die eindelose donkerte … aan en aan en aan. My horlosie glinster in die maanlig: 11:42. Om die volgende draai sien ek ‘n spatsel bruin hare.

“Lana!”

Ek vlieg om die hoek, net betyds om haar wit tekkies te sien verdwyn. Dit voel asof ons op ʼn mallemeule is: net soos ek om ʼn draai kom, verdwyn sy om die volgende een. Ek is net naby genoeg om haar te sien verdwyn, maar nooit naby genoeg om haar te vang nie.

11:58. My tyd is amper om.

My oë rek toe ek om ʼn laaste draai vlieg. Ek is weer terug by die middel, maar ek is nie alleen nie. Lana staan hygend oor die rand van die fontein gebuk, die kompas tussen haar vingers vasgeklem. Sy het dit gekry nadat ek dit laat val het! Ek gee ʼn tree vorentoe en vries. Daar is rimpels in die water; die derde muntstuk lê nou glinsterend op die bodem van die fontein. My oë rek. Sy het haar eie wens kom maak!

“Adriaan?” hyg sy toe sy my raaksien.

Die dorp se kerkklok weergalm skril deur die nag. Middernag – ek het verloor!

ʼn Hand gryp my arm en begin my terugtrek in die doolhof. My voete volg asof ek gehipnotiseer is. Al wat ek kan sien, is die grypende, groeiende skadu’s om my en die hoë, eindelose heinings wat dreig om my te verslind.

Dis verby. Dis verby met my!

Die vriesende naglug tref my soos ʼn vuis in die gesig. Ek kyk verwilderd om my rond. Ek is buite die doolhof! Lana se bewende hand is nog steeds in ʼn ystergreep om my arm vasgeklem. Ons oë ontmoet mekaar in stille skok terwyl ons op die klam gras inmekaarsak.

“Hoe…?” hyg ek.

“Hy het my gevra of ek ʼn speletjie wil speel … vir ons vryheid. As ek nie die kompas kon gebruik om ons altwee uit te kry nie, dan – dan sou ons in die doolhof moes bly. Vir ewig.”

ʼn Skril, onaardse skreeu weergalm deur die lug. Voor ons oë begin die doolhof toegroei. Die doringtakke en rankplante vleg styf deurmekaar en verdroog met ʼn bloedstollende geknars en gekraak.

ʼn Doodse stilte kruip oor die nag.

Die doolhof se geheime lê weereens diep agter sy mure versteek.

Die doolhof – Laura Kruger
Eerste prys (hoërskoolafdeling) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021.

Een is gelyk aan ses

Sewe slymerige slakke! Hoe op aarde gaan ek verduidelik dat die verjaardagpresent waarvoor ek so lank gewag het binne ‘n dag weg is? 

***

Ons bly nou ‘n maand in ons nuwe huis in die nuwe dorp. Ek is elke oggend al voor sonop wakker. Daar is ‘n hoenderhaan ‘n ent van ons af wat vals, maar vasbeslote daarvan seker maak. Dit help nie eers om ‘n kussing oor my ore te druk nie, want hy stop eers met sy aardige solo wanneer die son vol by my kamervenster inskyn. Maar vanoggend gee ek glad nie om nie: dis my verjaarsdag! Ek strek my lank en salig op die bed uit met my arms agter my kop ingevou. En wag…

Dis ons gesin se tradisie om hul present oop te maak voor die een wat verjaar skool toe of werk toe gaan. My tone krul sommer al klaar van lekkerkry. Ma het gister reeds die kolwyntjies gebak wat Juffrou Ilse kort pouse vir ons klas gaan uitdeel. Vanillageur met die Bloubulle logo op, al bly ons nou in die Vrystaat. 

Daar is ‘n geskuifel en ‘n ligte kloppie vóór my kamerdeur op ‘n skreef oopgaan en Pa en Ma se gesigte in die opening verskyn. Harry, die Jack Russell, druk sommer so tussen hulle enkels deur en is woeps! bo-op my bed terwyl hulle ‘Veels geluk, liewe Xander’, sing.

Ma oorhandig ‘n groot boks oorgetrek met Dinosourus-geskenkpapier.   Ek wonder of hulle my lysie met leidrade vir ‘n geskenk reg verstaan het? 

Xander se verjaarsdag wenslys:

  1. Bloubulle Rugbybal
  2. Perd
  3. Bottelneus dolfyn
  4. Rugbybal met Bloubulle logo op.

(Het julle gesien wat ek gedoen het met nommers twee en drie?  Dis goed wat ek nooit in ‘n miljoen-biljoen-triljoen jaar sal kan kry nie.  Dis Die Plan, want ek wil eintlik ‘n Bloubulle Rugbybal hê).

Maar, in die middel van al die lae sneespapier wat ek uitgrou en Harry daarna in flentertjies skeur, is my present in volle glorie: ‘n regte, egte Bloubulle rugbybal. 

“Dankie, Pa! Dankie, Ma! Dis die perfekte geskenk! Dis die perfekte dag!”

“Baie geluk, Seuna. Ons weet jy wag al lank hiervoor. Maar”, sê Pa met sy ‘nou-is-ek-ernstig-gesig, “jy oefen net by die skool. Ons wil nie hê jy moet ‘n ruit hier uitskop nie”. En toe hulle uitstap, sê hy saggies vir Ma: “As hy nie twee ore gehad het nie, het daai glimlag reg rondom se kop geloop”.

***

Dis ‘n lieflike sonskyn middag op Loftus. Die skare is so stil jy kan hoor hoe hulle aan hul worsbroodjies kou. Xander maak gereed om punte aan te teken en mik vir die pale. Hy skop!”, sê die blikkerige stem van die aankondiger.

Yes, Xander! Dis jou beste skop ooit! Nou is ek Xander: die Bloubul. Een drie is gelyk aan vyf. (Ek weet, ek weet – dit maak nie sin nie). En as ek oorskop kry ons nog twee punte. Dan is een eintlik gelyk aan sewe.

Rugbyballe

Dinge gebeur baie vinnig: my voet tref die bal en dit trek met ‘n perfekte boog. Die denkbeeldige skare skree soos besetenes! En toe gebeur dinge verder baaaaie, baaaaie staaaaaadig. Met die afkomslag tref die bal die spits dakkie van Harry se hondehok. Dit tol een… twee… drie… vier keer soos dit oor die tuinmuur trek. Vir ‘n oomblik lyk dit of die bal met die vyfde tolslag teen die ruit tot stilstand gaan kom. Toe skerf die glas in honderde stukke en ‘n donker gat sluk my splinternuwe rugbybal in. Waar daar oomblikke gelede nog ‘n venster was, is daar nou die mond van ‘n monster met lang slagtande van glas. Sewe slymerige slakke!

Harry, wat tot nou toe saam gespeel en met hoë blaffies agter die bal aan gehardloop het, skrik so groot van die lawaai dat hy reguit huis toe nael. Verraaier! 

Ek weet die regte ding om te doen is om te gaan om verskoning vra by die bure vir die helse gemors. Ek sal moet aanbied om met my sakgeld die ruit te laat regmaak. (Erg!). En dan sal ek vir Pa en Ma moet vertel. (Baie erger!). Ma sal sê dis wat gebeur as kinders nie ore het nie en Pa sal verseker nie dink dat my plan om wég van ons huis te skop ‘n goeie een was nie. 

Jip, Xander! Dit sal die regte ding wees om te doen. Dis net… Daar’s nie iemand om voor te gaan jammer sê nie. Daar bly reeds vir maande lank niemand in die vaal ou huis sedert die Omie wat daar gewoon het oorlede is nie. Die grasperk en die potplante op die stoep is morsdood verdor. Die tuinhekkie is vasgesweis met roes en die gordyne dig toegetrek om die huis se geheime binne te hou.

Want: Tannie Jessie oorkant die straat vertel ‘n week terug vir ons niemand stel belang om die huis te koop nie. Dat alhoewel die Omie oorlede is, hy steeds in die huis “bly”. Wanneer sy “bly” sê, maak sy aanhalingstekens in die lug met haar vingers en trek haar wenkbroue in ‘n boog terwyl sy skuinsweg na die lendelam huis kyk. Blykbaar het die dorp se eiendomsagent hom al hoor loop op die solder; voetstappe, ‘n kierie se stamp en aaklige sleepgeluide. Toe sy in die gang af retireer voordeur toe, kom daar sisgeluide uit die donker eetkamer. Sy sweer gloeiende oë het van onder die eetkamertafel vir haar gekyk! 

Tannie Jessie was besig om haar roosbedding nat te lei toe die eiendomsagent gillende op haar spykerhakke by die huis uitstorm en met haar wit Kia wegjaag – sommer met ‘n stuk van haar rok wat so wapper waar dit in die kar se deur vasgeslaan is. Nou wil niemand hul voete sit in die huis waar die Omie se spook bly nie…

Ek wil ook nie my voete in daai huis sit nie. Maar waarvoor is ek banger: ‘n teleurgestelde Pa wat sal wil weet waar my nuwe rugbybal is of ‘n sissende, sleepvoet, rooi-oog spook in die huis waar my nuwe rugbybal is?

Ek kan nie waag dat die geroeste hekkie my posisie verklap of dat Tannie Jessie my deur die voortuin sien sluip nie. Ek besluit om Harry se hok tot teenaan die tuinmuur te skuif en dan oor te klim in die boom langsaan. Binne-in die huis net vinnig my bal te gryp en dan dieselfde roete terug volg. 

Niemand hoef ooit hiervan te weet nie. Ek moet net doodstil hieroor bly. Yes, Xander! Dis Die Plan. ‘n Ringnekduif skrik so groot toe ek langs haar op ‘n tak klim dat sy tjorts! en vervaard wegvlieg. Vir ‘n paar sekondes fladder daar ‘n verskrikte duif in my borskas ook. Die struik waarop ek land, keer darem dat ek my vol rowe val op die sement oprit aan die ander kant van die tuinmuur. 

‘n Wolk skuif voor die son in en gooi ‘n emmer grys verf oor die verweerde ou huis en tuin uit. Ek kry skielik koud. Die plek gee my die horries!

Die stukkende venster is te hoog vir my om deur te klim. Daai glasskerwe sal in elk geval sommer biltong van my maak. Ek kruip-loop om die huis om te kyk of daar ‘n ander manier is om in te kom.

Toe ek om die hoek loer kan ek my oë nie glo nie: die voordeur staan wraggies op ‘n skreef oop! Die eiendomsagent moes met haar groot skrik vergeet het om dit weer te sluit. 

Ek kan oor die stoepie kruip en by die voordeur inglip. Net eers mooi dink waar die gebreekte venster van hier af is, want ek wil so vinnig as moontlik uit die monster-huis uit wegkom. Maar sê nou net…

  1. Die gloeiende oë is lasers wat dwarsdeur mure kan kyk en sien waar ek is? 
  2. Hy trip my met sy kierie en sleep my na die solder toe? 
  3. Hy weet al klaar dat ek hier is? 
  4. Die gebreekte venster het hom uit sy middagslapie wakker gemaak en dat hy nou woedend en slobberrend in die huis rondloop?

In die verte dawer die kerkklok. Dis vieruur. Pa en Ma is oor ‘n uur by die huis. My tyd raak min. 

Die voordeur waarvan baie jare se lae groen enamelverf afdop, klink of dit uit die skarniere gaan skeur toe ek dit oopstoot. Onder my hande en knieë is die plankvloere toe onder ‘n mat van blare en stof. Ek is in! Die deur kraa-a-a-a-k agter my toe.

Oorkruipers

Die gang is nou ‘n pikswart grot. Ek voel soos Jona in die walvis se maag. My oë begin die donker gewoond raak. Die vertrekke se deuropeninge gloei met ‘n flou rooi of geel skynsel soos die sonlig deur die ou gordyne worstel. Hoeveel kakkerlakke en oorkruipers is nou saam met my op die donker vloer? My kop draai van té vinnig opstaan en met my volgende tree loop ek gesig-eerste deur die taai spookasem van ‘n spinnerak. 

Sewe slymerige slakke!

Slymerige slakke

Ek sien ‘n wit eier-vorm op die hoek van die mat in die sitkamer. My bal! Yes! As ek dit nou gryp en spore maak is ek betyds by die huis.

Toe die bal vir my begin grom, moes ek onraad vermoed het. Toe die bal vir my sis met die optelslag, moes ek eerder laat los en spore gemaak het. Toe die bal met gloeiende oë ‘n uitgerekte nagmerrie skree gee, was dit reeds te laat. Naalde kap in my hande in! Lemme sny my arms, my skouer, my rug! Ek val grond toe in ‘n bondeltjie. Probeer my gesig met my arms toehou.

En toe is dit skielik verby. Dis doodstil. My hart slaan trom in my ore. My asem jaag erger as na ‘n rugbywedstryd. Die snyplekke op my arms is kloppende kole vuur. Ek is te bang om te kyk wat aangaan…

Ek voel iets warm verby my been vee. Hy’s terug! Kort hale skuurpapier trek oor die onderkant van my regtervoet. My skopvoet. As ek hierdie oorleef is my droom om vir die Bloubulle te speel verby. Ek gaan vermink verder moet lewe. Xander met die stompie-been.

Ek voel hoe hy om my beweeg.

Nader. 

Nog nader. 

Tot teenaan my arms wat pateties om my kop gevou is vir beskerming. Dis verby met my! HY GAAN MY…!!! 

Purrr… purrr… purrr… purrr? My oë is twee garagedeure wat onwillig ooprol.

“Meow!”, sê die wattebol voor my gesig. “Meow!”

Ek kom stadig orent. Nou is daar nóg vier nuuskierige wattebolle om my.

“Meow! Meow! Meow! Meow! Meow!”

Dit neem ‘n rukkie vir my om te registreer wat aangaan. Die monster is nie ‘n hy nie, maar ‘n sy. En sy is ‘n Ma-kat wat uitgestrek lê op die mat ‘n entjie van my af.  Asof daar nie minute van tevore ‘n stryd om lewe en dood plaasgevind het nie. Sy lek haar voorpoot en vee dit dan een, twee, drie keer oor haar ore voor sy die skoonmaakproses van voor af begin. Die wattebolle raak gou verveeld met my en mik een-vir-een gretig vir die sagte teiken van haar maag. Dis tyd vir aandete. 

***

Spoortjies

Die Plan moet natuurlik nou verander. Ek besluit om die bul by die horings te pak en by die motorhuis vir Pa-hulle te wag. Ek sal alles moet vertel. Maak nie saak hoe erg dit gaan wees nie of hoe swaar die straf is nie. 

Want daar is: 

  1. Wonde wat ontsmet moet word. 
  2. ‘n Venster wat reggemaak moet word. 
  3. ‘n Oproep wat gemaak moet word na die mense wat die VERMIS: Katinka plakkate oral in die dorp opgesit het. 
  4. Vyf wattebolle wat name en huise moet kry.

Plakkaat

Sewe slymerige slakke! Een (vermiste kat) is toe al die tyd gelyk aan ses…

Een is gelyk aan ses – B Olivier
Wenverhaal (eerste prys) in volwasse-afdeling.

Storiewerfskryfkompetisie 2021.

Vasgevang

“Wat speel jy?” 

Thea wip soos sy skrik toe Luan, haar 9-jarige boetie, skielik agter haar praat.

“Niks met jou te doen nie,” sê sy nors en druk haar selfoon teen haar bors vas.

Die laaste ding wat sy nou nodig het, is dat hy haar vra om Roblox  te speel. Hy vra elke dag en haar antwoord bly elke dag dieselfde: Nee. Hy breek boonop alles wat in sy hande beland.

“Môre is my verjaarsdag,” glimlag  hy vroom, “Mag ek vir my verjaarsdag op jou foon speel?”

“Ja. Môre,” antwoord sy bot.

Skielik gryp Luan Thea se foon uit haar hand en kruip onder die koffietafel in waar Thea hom nie kan beetkry nie.

“Gee my foon TERUG!” gil Thea byna histeries.

Sy duik onder die koffietafel in en klou met alle mag aan haar selfoon, in Luan se hand, vas. Thea ruk haar foon terug en stamp haar kop so hard aan die onderkant van die tafel dat die blompot omval en in skerwe spat. 

“Sien wat het jy nou gedoen?” raas Thea.

Sy en Luan kyk verskrik na die gebreekte keramiekstukke en water wat oor die duur houttafel drup.

“Wat gaan hier aan?” bulder Pa skielik agter hulle, “Julle weet ek probeer werk.”

Pa het ’n diep frons tussen sy oë. Vandag moet hulle versigtig trap.

“Thea wil nie hê ek moet op haar foon speel nie,” kerm Luan terwyl hy so onskuldig soos hulle strepieskat probeer lyk.

“Dit is nie waar –” probeer Thea protesteer, maar haar pa val haar in die rede.

“Is julle huiswerk al gedoen? Het julle al die wasgoed opgehang soos ek gevra het? Het julle al vir Strepies kos gegee vanmiddag?”

Thea soek vir woorde, maar dit sit in haar keel vas.

“Jy is die hele dag op daardie selfoon,” gaan hy voort,  “Plaas dat julle ’n bietjie buite speel soos ander kinders.”

Pa ruk  Thea se selfoon uit haar hand en marsjeer terug studeerkamer toe. Thea staar haar pa verslae agterna.

Aw man,”  kerm Luan, “Ek wou regtig graag Roblox gespeel het.”

“Jy is ’n puisiepunt!” snou Thea hom toe en storm kamer toe.

Die vensters bewe soos sy die deur agter haar toeklap.  

***

Daardie aand kan Thea nie aan die slaap raak nie. Al waaraan sy  dink is die gebeure van die middag. Dit voel so vreemd om nie haar selfoon te hê nie. Sy kan nie die nuutste trends op Tik-Tok sien nie, sy kan nie saam met Leandri Roblox speel nie en die ergste van alles is, dat sy nie eers vir iemand kan laat weet dat haar foon gevat is nie! Sy het seker teen hierdie tyd al 20 Whatsapps.

Thea hoor hoe haar ouers die deure sluit en na hulle kamer beweeg. Sy spits haar ore. Sy kan nie alles uitmaak wat hulle sê nie. Dit klink iets soos:

“Ek het Thea…foon…”

“Ja…vanmiddag…”

“Wat van…Luan…verjaarsdag…môre?”

Na ’n rukkie is dit doodstil en donker in die huis. Pa se snorke is al wat hoorbaar is. Saggies staan sy op. Die houtvloer kraak onder haar voete. Sy luister ’n oomblik.  Niks. Suutjies sluip sy gang af tot in haar pa se studeerkamer.  Versigtig maak sy die deur oop.

In die donker voel-voel sy in al die rakke. Skielik skuifel iets agter haar pa se lessenaar. Sy vries. Haar hart klop wild. Daar – op haar pa se stoel – sit ’n donker figuur. Thea se hart gaan staan amper. ’n Gil stol in haar keel.

“Wat soek jy hier?”  fluister die figuur hees.

Dis net Luan.

Ek soek my foon. Wat soek jý hier?”  

Ek soek ook jou foon. Ek wil “Roblox” speel.”

Nog voor Thea iets kan sê, trek Luan een van die laaie oop. Sowaar, tussen haar pa se papiere lê haar selfoon.  Thea en Luan gryp gelyk na die selfoon. 

Los my foon, Luan!”  fluister Thea dringend.

Luan los nie. Hulle ruk en pluk aan die foon. Skielik kom daar ’n warrelwind van nulle en ene uit die foon getol. Dit spin hulle om en om en om. Die warrelwind van nommers word sterker en meer. Dit lig Thea en Luan op waar hulle steeds aan die foon vasklou. Thea voel hoe sy kleiner en kleiner word. Die wind is te sterk. Dit suig haar en Luan tot binne die foon in en spoeg hulle op die selfoon se tuisskerm uit. 

Die nommers verander in pers skoenlappers wat om hulle vlieg. Luan gryp na een, maar hulle is te rats. Thea verwonder haar aan die oop veld waarin hulle staan. Hier en daar sweef ’n paar apps rond. Tussen die wolke en die pers lug is haar kalender. “Luan verjaar” waai bo hulle koppe verby.

“As jy maar net jou wallpaper iets anders wou maak kon ons nou by die see wees” terg Luan.

“Bly jy stil, ” sê sy bitsig, “Dit is alles jou skuld!”

“Ag, issie man,” sê Luan dapper.

“Kyk!” Hy hardloop volspoed teen die glasskerm vas.

Sy kop maak ’n harde “donk” teen die glas. Eina. Teen die glas sit daar twee handmerke en ’n gesigafdruk. Die skerm se lig gaan aan en die selfoon skud soos dit vibreer.

“Dit is so cool,”  sê Luan en hardloop ’n tweede keer teen die glas vas.

“Hou op, Luan!” roep Thea terwyl sy benoud vashouplek soek soos die foon skud.

“Dit is wat elke keer gebeur wanneer jy ’n boodskap ontvang, Thea,” praat ’n stem skielik agter hulle, “Dit is nie lekker nie, né?”

Thea staar na die mooiste foon-vroutjie wat na hulle aangesweef kom. Dit lyk of haar hele liggaam deur seine en radiogolwe bymekaar gehou word.

“Wie is jy?” vra Luan nuuskierig.

Haar stem het ’n beheersde, kalm toon wanneer sy praat:  

“Sommige noem my Alexa. Ek is ook Siri en Bixby en die stem van Google. Ek verkies egter, Watsenaam.”

“Watsegoed?” vra Luan met ’n frons.  

“Nee,” sê die foon-vroutjie steeds baie geduldig, “WAT-SE-NAAM. Ek is die bestuurder van Slimfoon A8. Ek het ’n sterk wind gehoor en toe die foonbewings. Dit is my werk om te kom kyk wie ons so laat in die aand pla.”

“Ons?” vra Thea.

“Ja,” sê Watsenaam, “Ons werk hard om jou tydens skermtyd tevrede te hou.”

Sy stryk haar helderkleurige romp met haar hande reguit.  

“In elk geval, ek praat te veel. Kom ek wys julle liewer.”

Luan hardloop gretig agter Watsenaam aan by die tuisskerm uit.  Thea vou haar arms nors. Daar is nie ’n manier dat sy Watsenaam gaan volg nie. Sy vertrou haar glad nie. Luan moet maar sy les leer. As hy net haar selfoon wou uitlos, dan sou hulle nie nou in hierdie gemors gesit het nie.  

Thea gaan lê op haar rug en kyk na die skoenlappers. Sy is baie tevrede met die prentjie wat sy vir haar tuisskerm gekies het. Skielik breek ’n angswekkende gil die stilte. Die skoenlappers vlieg verwilder weg. Thea kyk verskrik om haar rond. Was dit Luan? Het hy seergekry? Sy het geweet sy kan nie vir Watsenaam vertrou nie! Haar hart klop vinniger. Wat gaan sy vir haar ouers vertel as Luan weg is? Hoe gaan hulle haar ooit hier kry? Dit is nie Luan se skuld nie…dit is haar skuld.

Vasberade staan Thea regop.

“Dit is my foon. Ek is die bestuurder hiervan – nie  Watsenaam nie.”

Vol moed stap sy na die plek waar Luan en Watsenaam verdwyn het.

“Ek, wat Thea is, sal my boetie kry en Watsenaam sal seker maak dat ons hier uit kom as sy weet wat goed vir haar is.”  

Thea verkyk haar aan die binnekant van haar selfoon. Dit lyk glad nie soos die tuisskerm nie, maar eerder na ’n huis met baie vertrekke. Sy draai by die eerste vertrek in wat sy sien. Bo die deur staan daar in blink letters: Tik-Tok. 

Die hele vertrek lyk soos ’n filmstudio.  Daar is ’n verhoog, kameras, ligte en ’n klomp spieëlkaste en kostuums. Die vertrek is vol bedrywige akteurs. Sommige grimeer terwyl ander se hare gedoen word.

“Het enige een van julle vir Luan en Watsenaam gesien?” vra sy hard.

Almal stop waarmee hulle besig is en kyk vir Thea. Sommige begin agter hulle hande fluister en giggel.

“Wel, is dit nou nie Thea van Wyk nie?” vra een van die akteurs sarkasties.

“Ag help my,” sê ’n blonde aktrise, “Ek is so moeg om die hele tyd in haar gesig vas te kyk.”

Een vir een stap hulle nader om Thea beter te bekyk.

“Weet jy, Thea,” sê ’n ander een, “Ons is só moeg en oorwerk. Al wat ons 24/7 moet doen is jou vermaak.”

Thea weet nie wat om te sê nie. Sy het nie geweet dit is hoe die mense op Tik-Tok oor haar voel nie. As sy nou terug dink, het sy lang tye op Tik-Tok  spandeer.

“Ek is jammer,” stotter sy.

“Jammer?”

Die akteurs en aktrises kom nog nader en vorm ’n halfmaan voor haar.

 “Jammer gaan nie dinge regmaak nie, Thea.” 

Thea sluk benoud. Weer skeur die gil deur die selfoon. Sy druk haar ore toe. Luan is definitief nie hier nie. Sy hardloop by Tik-Tok uit voor die akteurs haar miskien beetkry. Sy draai by die volgende vertrek in: Whatsapp.

Thea voel verlig. Sy is seker daar is niemand hier wie sy kon ontstel nie.

“AAAAAAAAAAAAAAAAARGH!”

Thea gryp haar hart vas soos sy skrik.  In die middel van die vloer sit ’n mannetjie met ’n ronde, geel gesig. Dit is hy wat so gil. Skielik begin hy verskriklik huil dat die trane loop.  Thea gaan hurk langs hom.

“Wie is jy?” vra Thea rustig.

“Ek…ek… is Emoji.”  

“Net een?” vra Thea. Sy het gedink daar is baie.

“Ja,” sê hy, “Dit is my werk om al die emosies en voorwerpe voor te stel wat jy in ’n boodskap wil gebruik.”

“Wat makeer dan, Emoji?” vra Thea.

“Ek…ek…kan…nie meer nie,” snik Emoji. “Ek…ek…is…nie….meer myself nie.”

Skielik begin hy glimlag. Sy gesig verander na ’n dieper geel. Dan skater hy weer dat die trane loop. Die trane verander in hartjies en die rooi hartjies maak sy gesig rooier en rooier. Nou frons hy. Dieper en dieper. Hy is woedend.  Weer gee hy ’n bloedstollende gil van frustrasie.

“Sien wat het jy gedoen Thea! Ek moet van gesig verander elke paar sekondes op jou bevel! Weet jy hoe dit voel om nie te weet hoe jy voel nie? Ek is….is…”

Die rooi begin verander na groen. Hy gaan naar word! Thea gryp haar mond vas. Gelukkig verander Emoji vinnig weer na ’n ligte pienk en ’n koorspen verskyn in sy mond.

“Ek is moeg en siek, Thea. Kyk wat het jy aan my gedoen…” sê hy flou.

Dan word hy grys tot sy gesig in ’n kopbeen verander.

Verbyster stap Thea by Whatsapp uit. Van nou af sal sy onthou om minder gesiggies te gebruik. Soos sy wegstap, gil Emoji weer. Thea ril. Dalk beter, sy sal minder op Whatsapp gesels.  As die gil nie Luan s’n is nie, waar kan hy dan wees?

Uiteindelik sien sy vir Watsenaam en Luan voor ’n vertrek staan. Sy hardloop na hulle toe.

“Luan! Watsenaam!” roep sy.

“Ah, Thea,” praat Watsenaam steeds kalm, “Ons het gewonder wanneer jy by ons gaan aansluit.”

Thea is glad nie vriendelik nie.

“Luister vir my Watsenaam, ek en Luan wil huis toe gaan. Jy gaan ons nou verduidelik hoe ons hier uitkom.”

Sy gryp Luan aan sy arm, maar hy ruk los.

“Nee, Thea,” sê Luan, “Ek wil hier bly en Roblox speel. Jy wou my mos nie die kans gee nie.”

Thea sien nou eers die blou geblokte letters bo die deur:  ROBLOX.

“Asseblief, Luan! Moenie! Jy weet nie eers hoe Roblox werk nie,” smeek sy.

Luan steek sy tong vir Thea uit en verdwyn in die donker vertrek.

“Wel,” sê Watsenaam, “Ek gaan julle tweetjies maar hier los om dinge uit te praat. Ek ken boonop nie die pad uit nie.”

Nog voor Thea kan keer, is Watsenaam reeds weg. Thea staan weer alleen in die gange van haar selfoon. Sy sal Luan moet gaan soek. Hy gaan nooit al daardie hindernisse oorleef sonder oefening nie. Sy probeer nie eers dink aan die moordenaar in party speletjies nie. Dalk moes sy hom maar ’n kans gegee het om te speel…

Die grootste uitdaging gaan wees om uit te vind in watter een van die duisende speletjies hy verdwyn het. Vol moed spring Thea by die eerste speletjie in. Sy verander in ’n blokkie-karakter en alles om haar is in animasie styl. Sy haal diep asem en roep so hard as wat sy kan:

“Lu-an!”

’n Spraakborrel verskyn bo haar kop waarin daar staan: “Luan!” Dit gaan nie werk nie.  Skielik vlieg daar ’n yslike vliegtuig oor haar kop. Sy waai met al twee haar arms in die lug om te wys sy wil saam vlieg.  Dit vlieg net verby. Gelukkig land daar ’n kleiner vliegtuig langs haar en vlieg na al die eilande. Luan is nie op een van hulle  nie.

Sy hardloop by die volgende speletjie in. Sy staan in ’n donker woud saam met 14 ander karakters. Haar hart begin wilder en wilder klop. Net die Flicker nie! Haar oë gly oor die skare. Sy sien Luan agter ’n boom staan. Sy hardloop na hom toe. 

Luan, ons moet hier uit! Een van hierdie mense is ‘n moordenaar!

No way! Ek is nog nie klaar gespeel nie!

Die speletjie begin. Skielik is dit pikswart. Thea ys. Sy weet wanneer dit swart word, gaan iemand sterf. Die ligte gaan weer aan. Hulle is nou 13 mense. Daar is geen teken wie die moordenaar is nie. Dit lyk nie of dit Luan pla nie. Hy hardloop wild rond terwyl Thea by hom probeer bly.

Na ’n rukkie is dit net sy en Luan oor. Dan verskyn daar ’n kort mannetjie, met ’n mes in sy hand, van agter ’n boom. Thea begin hardloop. Dis die moordenaar! Sy kan gil van vrees!  Luan staan ’n rukkie vir die vreemde karakter en kyk. Die moordenaar begin hom jaag.  Luan storm agter Thea aan. Hulle hardloop sommer by die speletjie uit. Die moordenaar ook.

Hy jaag hulle by die gange van die selfoon af.

“Help!” skree Thea.

“Help!” skree Luan.

“Help?” vra die mense in Tik-Tok en begin by die vertrek uitbondel.

“Help?” vra Emoji. Sy gesig is in verbande toegedraai. Hy rol soos ’n balletjie by die vertrek uit.

Saam met die moordenaar begin hulle om vir Thea en Luan te jaag. Hulle hardloop tot in die tuisskerm. Thea staar na die swart skerm voor hulle. Sy kyk om en sien die skare wat briesend aangestorm kom; die moordenaar heel voor. Hulle lyk baie kwaad. Sy neem Luan se hand in hare.

“Een…Twee…Drie!”

Saam hardloop sy en Luan met al hulle krag in die skerm vas. Die foon skud en vibreer. Hulle val hard op die tuisskerm terug.

Die jaende skare kom nader en nader.

“Ek het ’n plan!” roep Luan en beduie na die herlaai-gaatjie aan die onderkant van die skerm.

Sonder om twee keer te dink, begin Thea en Luan om hulself deur die nou gaatjie te wurm.

Hulle kyk na mekaar waar hulle saam die selfoon in die studeerkamer vashou. Sonder om te twyfel, druk hulle die foon terug in die laai en stoot dit styf toe. So saggies, maar vinnig, as wat hulle kan, sluip hulle kamer toe. Thea druk die deur stewig agter haar toe.

***

“Veels geluk liewe, Luan,” kom dit vanuit die gang. Thea maak haar oë lomerig oop. Die son skyn helder in haar kamer. Luan verjaar! Thea hardloop na Luan se kamer toe waar haar ouers met ’n geskenksakkie staan. Luan gee een kyk vir Thea en sy weet hulle dink dieselfde. Dit was nie ’n droom nie.

Luan maak haastig die geskenk oop. Hy en Thea staar lank na die pakkie in sy hand.

“’n Selfoon!” roep hy verbaas uit.

“Ek en Ma het gedink jy is nou oud genoeg om Roblox op jou eie foon te speel,” sê Pa.

“En Thea,” sê Ma, “Ek en pa het besluit ons gaan jou selfoon vir die week hou. Jy kan dit Sondag kry wanneer ons sien dat jy meer tyd aan jou skoolwerk spandeer.”

Thea knik gretig.

“Ma-hulle kan dit sommer tot Kersfees hou. Van nou af gaan ek my huiswerk doen, die wasgoed ophang en elke middag vir Strepies kosgee.”  

Pa en Ma kyk verbaas na mekaar.

“Wie weet, dalk speel ons ook buite soos ander kinders,” sê Luan en knipoog vir Thea.