My naam is Jannes Marais. Ek bly in Kerkstraat. In my straat is daar ‘n huis wat jou rillings gee al dink jy net aan die plek. Die tuinhekkie staan oop maar die gras is so lank dat jy nie eens kan sien watter kant die ingang is nie. Daar is nie ‘n enkele lewendige plant nie – nie ‘n kolletjie groen nie. Die huis se bakstene val uit die mure en maak sulke groot gate. Dit lyk soos oë wat na my kyk. Die vensters op die tweede verdieping is alles stukkend. Wanneer die wind waai, dan is die gordyne buite die huis. Wanneer ek verby die huis moet loop, loop ek baie vinnig aan die oorkant van die pad en kyk oor my skouer of daar nie iemand is wat my dophou nie.
Elke jaar naby Kersfees bak my ma koekies. Hierdie jaar was nie anders nie en sy het besluit dit is ‘n slim plan om vir al die bure daarvan te gee. Nou verwag sy van MY om by ‘daardie’ huis koekies te gaan aflewer. Sy luister nie eers na my nie. Sy gee nie om wat ek sê nie!
“Daar bly niemand nie. Carla se niggie sê haar oom sê dat die tannie van die winkel gesê het, dat iemand in die huis dood is. Spoke hou wag sodat niemand kan binne kom nie. Daar bly lelike monsters met oë wat vuur spoeg! Dit is gevaarlik!”
Niks kan my ma van haar besluit laat verander nie. ALMAL sal koekies kry en ek moet dit gaan aflewer.
Dit het my nog nooit so lank gevat om 300m te loop nie. Dit was ‘n aaklige 300m, dit kan ek jou vertel.
Stadig loop ek die erf binne. Ek hoop regtig dat daar niemand bly nie. (Ek sal vinnig terughardloop huis toe en skelm die koekies in my kamer opeet.) Die stukkende houttrappe op die stoep kraak onder my voete en ek hoor ‘n geskarrel in die dooie gras. Ek kan amper nie asem kry nie. Ek dink ek gaan naar word. Ek kom al hoe nader aan die voordeur en sien dat daar nie ‘n klokkie is nie. Ek lig my hand op om te klop… ek hoor hoe my hart klop…….haaaaaaaaaaigh! Die deur swaai. ‘n Ou tannie met rooi oë, wit krullerige hare en geel tande staar my aan.
“Hoe kan ek so ‘n mooi jong kêrel op ‘n Saterdagoggend help?” vra sy met ‘n skril stemmetjie en ek kan die knoffel ruik tot waar ek staan.
My stem bewe. Dit klink nie eens soos ek nie, maar ek hoor myself sê: “Ek bring vir Tannie kerskoekies wat my ma gebak het.”
“Hoe wonderlik. Jy moet saam my kom koffie drink dan eet ons saam daarvan.”
“Dit is nie nodig nie, Tannie. Ek het ander planne gemaak vir die dag.” Ek weet ek jok, maar as ek nou in die huis ingaan, kan ek maar my eie graf begin grou.
‘’Ek het gesê kom drink koffie, NOU.’’ Haar oë trek op skrefies en dit lyk of daar stoom by haar ore gaan uitkom.
Ek het twee keuses. Ek kan weghardloop en sy sien waarheen ek gaan en kom maak my dood in my slaap. Of ek kan in haar huis ingaan vir koffie en maak asof ek een of ander engeltjie is sodat sy my lewe kan spaar. Keuse twee sal dit wees, besluit ek soos wat sy my by die deur inforseer met haar knopkierie.
Daar hang fotorame teen die mure met swart-en wit foto’s van mense wat nie glimlag nie. Die meubels lyk stokoud en ‘n dik laag stof lê op die televisie. Daar is nie plek om te trap nie, orals lê koerante en briewe wat nooit oopgemaak is nie. Asof dit nie erg genoeg is nie, kom daar ‘n swart kat by die trappe afgeloop. Die kat het net een oog. Die reuk in die lug maak my naar en laat my dink aan die tyd toe ons paddas opgesny het in die biologieklas.
Haar kombuis is so deurmekaar dat ek nie eers die ketel kan sien nie. Ek kyk vas teen die groot swart pot op die stoof wat besig was om te prut. Sy gooi van die groen vloeistof in twee borde wat sy sommer uit die wasbak haal. Sy wys my hoe om die ‘koffie’ op te slurp en beduie na die koekies is my hande. Ek is te bang en sluk daaraan. Ek het nog nooit iets so aakligs geproe nie. Ek dink sy kon dit aan my gesigsuitdrukking sien, want sy stap nader en mors aspris daarvan op my broek. Dadelik brand daar ‘n gat in my broek. As sy my nie gaan doodmaak nie, dan gaan my ma, in woede, oor my broek.
“Ek dink my krokodille sal die koekies vreeslik baie geniet, wil jy hulle sien?” vra die tannie en glimlag vir my.
Te bang om nee te se, knik ek my kop op en af. Ek stap agter haar aan tot by die agterdeur wat met verskillende slotte gesluit is. Met ‘n vinnige beweging maak sy al die slotte oop en die deur swaai vanself oop. Die knop in my keel keer die suurstof om my longe te bereik en ek begin sterretjies sien.
Ek staar na die vuil modderige, grillerige water. My oë vasgenael op wat voor my gebeur.
Sy gooi die koekies in die lug en dan spring daar iets uit die water wat dit uit die lug uit gryp. Kan dit regtig krokodille wees? Dit lyk soos groen gediertes maar ek het nog nooit so iets gesien nie. Hulle is lank, amper soos ‘n slang, slymerig, het skubbe en die verskriklikste tande wat ek nog ooit gesien het.
Sy sê dit is my beurt en druk die bak met koekies in my hande. Ek loop treetjie vir treetjie nader. Ek kyk om en die volgende oomblik stamp sy my in die water in en ek verdyn onder die groen slik. Al wat deur my kop gaan is die feit dat ek nie kan swem nie! Met ‘n geskop en ‘n gewroetel kry ek my kop bo die water. Iets het my voet beet en trek my weer af onder die water in. Die kloue om my voet se greep word sterker, dis nou wat ek moet skop vir my lewe! Gelukkig kom my voet los en ek klou aan die slymerige grasse vas. Ek snak na my asem toe my kop bo die water uitsteek en ek dit regkry om halfpad uit die water se kruip.
Die tannie kom nader gestap met ‘n mes in haar een hand en ‘n swart sak in die ander.
“Los my net uit! Los my net uit!” skree ek so hard as wat ek kan.
Sy ruk aan my skouer en ek hoor: “Jannes, hou op skree, hou net op skree!”
Ek ruk my los, kyk op en sien hoe my ma haar kop skud. Die vloer is nat, die mure is nat, die gordyn hang by die venster uit. In die hoek lê ‘n groen handdoek bo oor ‘n bord met Kerskoekies.
My ma sit die swart sak neer: “Het jy aan die slaap geraak in die bad? Kyk net hoe nat is die vloer. Waarom het jy nog nie die koekies gaan aflewer nie?”
En al waaraan ek kan dink is: Hoekom is haar oë rooi?