“Onthou, julle mag nie die botaniese tuin verlaat nie … Geniet dit!”
Juffrou De Wee staan soos ’n protea voor die botaniese tuin se hek. Pienk top, groen romp en arms versprei. Sy probeer regtig opgewonde klink, maar sy hoef nie so hard te probeer nie. Almal is te dankbaar om uit die klaskamer en weg van die skool te wees.
Cataleya se selfoon vibreer in haar hand.
Ma [10:04]: Onthou, moenie aan plante raak nie.
Sy keer net betyds ’n oogrol, trek haar rugsak se bande stywer en begin met die armband aan haar arm speel. Die koper armband lyk soos vervlegde takke. Vandag moet dit haar help onthou om haar hande weg van blomme te hou.
Sy val agter haar klasmaats in wat soos ’n trop skape deur die hek beweeg. As die nuweling – twee maande vars, yay! – probeer sy maar die mini-massa verdwyn. Soos ’n doringboom in die Noord-Kaap se vlaktes.
Die soet ruik vang haar weer en sy verlang huis toe. Die dorp waar die daisies blom in die somer en winter. Die vlaktes waar jy ver kan sien, waar jy die sterre kan sien sonder om op te kyk.
In die stad moet sy haar kop agteroor gooi om die sterre te sien. Die geboue en ligte, wanneer Eskom nie snaaks wil wees nie, kompeteer met die sterre. En sy is nog nie sterk genoeg om verby hulle te vlieg nie.
Haar vlerke wil sprei toe sy dink aan vlieg. Sy sal vir Ma vra of hulle weer kan gaan bungeespring die naweek.
Sy stop by die eerste blomme. Dit is so mooi, die pers staan soos ’n kroon teen die groen uit. Brassica oleracea (sierkoolkoolplante).
Haar hand steek vanself uit en onmiddellik toe haar vingerpunte aan dit raak, droog die kleur uit die blom.
Oe! Cataleya trek verskrik terug, maar dis te laat.
Vaal en dood.
Sy kyk oor haar skouer maar dis die lekker van nuweling wees, mense los haar uit. Sy hou haar hand uit en probeer konsentreer. Sy ruik die soet van bloeisels, hoor ’n voël roep na ’n maat en probeer alles inneem.
Komaan. Komaaan!
Nee, die blom bly steeds vaal.
’n Woudfeetjie wat blomme vermoor – wat ’n grap! Sy moet nog net die moenie-laat-mense-uitvind- van feetjies nie – verbreek dan kan sy suksesvol druip as ’n feë. Wie het die respek en liefde van jou mense nodig?
Dit het begin ’n week nadat hulle stad toe getrek het. Sy het een middag na skool uitgegaan om die peperment water te gee. Toe Cataleya aan Minty geraak het, het elke blaar begin verlep.
Sy het onmiddellik vir mamma Kora gebel.
“Ek sal hoor wat sê die ou vertellers,” het haar ouma belowe. Maar om na honderde stories te luister vat tyd en intussen word die vloek net erger.
Cataleya kyk rond en sien ’n labirint van veldplante. Veldplante is sterk. Hulle oorleef amper alles. Hulle kan tog seker vir Cataleya oorleef?
Dit gebeur nog deur keer op pad na die labrint, sy nies per ongeluk op ’n klein Bonsai-boompie, raak aan ’n aster en stamp teen ’n lang tak.
Nee, nee, nee, kyk sy hoe die tak vaal word. Genoeg besluit sy en breek die vaal tak af voor dit verder kan versprei.
“Jy is Cataleya, né?” vra iemand skielik langs haar.
Sy kyk om in die gesig van die enigste ander eenkantmens… Madeleine? “Hallo?”
Die ander meisie kyk rond, voor sy terugdraai en reguit na Cataleya kyk. “Wil jy saam loop? Ons twee is die enigste twee vriendeloses hier.”
Hoe tragies is dit? Twee is seker beter as een in hierdie geval. “Uh, oukei. Ek was op pad na die labirint.”
Madeleine val woordeloos langs Cataleya in.
Links of regs.
Moenie aan die plante raak nie.
Links, links, regs.
Waai vir ’n oukeirige klasmaat.
Moenie aan die plante raak nie.
So, speel hulle die labirint tot hulle hulself vasloop in ’n doodlooppad. Onthou, moenie aan plante raak nie.
“Hou jy nie van plante nie?” probeer die ander meisie gesels terwyl hulle omdraai en ’n ander rigting kies.
Mal oor hulle, hulle voel net nie dieselfde nie. Cataleya draai regs. “Hoekom?”
“Jy bly so ver as moontlik van hulle weg,” antwoord sy en kies regs.
Dis vir hulle eie beswil. “Nee, net bietjie hooikoors vandag.”
“Ai, en die bloeisels sal jou laat ly,” simpatiseer Madeleine.
Nie net die bloeisels nie, wil sy sê, maar kyk eerder na die bokkie gemaak uit takke.
“Hoe het jy in jou tuisdorp gemaak? Jy is van die Namakwaland af, né?”
Cataleya voel hoe haar oë warm word en knyp die binnekant van haar palm. Moenie huil nie. Haar tweede moenie vir die dag en dis skaars elfuur. Sy sluk. “Ja, van die Namakwalandse wêreld. Maar …” onthou sy die tweede vraag. “Die daisies het my nie gepla nie. Seker omdat ek daar groot geword het.” Dis haar geboorteblom.
“Ek is vernoem na ’n madeliefie,” gesels haar nuwe vriend verder.
“Ek dog jou naam is Madeleine.” Cataleya stap by die labirint se mond uit. Dit was vinnig. Hoe lank gaan hulle by die botaniese tuin wees? Seker lank genoeg vir haar om ’n spesie uit te wis.
Madeleine kyk op en glimlag. “Dit is. My pa het op die laaste oomblik besluit Madeliefie klink te outyds. My ma was só kwaad. Sy’t die naam gekies omdat ek die eerste keer geskop het terwyl hulle na die Namakwalandse madeliefies gekyk het.”
Dis ’n … “Mooi storie.”
“Ja, ek is nogal trots daarop. Ek wou eintlik kyk of ek die madeliefies kan kry. Kom jy saam?”
“Nee!” Sy praat so hard, twee van hul klasmaats kyk haar verbaas aan.
“O.” Madeleine lyk verbaas.
“Jammer. Ek moet badkamer toe.” Cataleya draai om en begin stap.
“Ek kan saam met jou kom?” bied die meisie aan.
“Nee.” Die keer praat sy sagter. “Stap solank verder.”
Die badkamer is gelukkig leeg, en sy saak agter die toe badkamer deur neer. Sy kan nie naby Namakwalandse blomme gaan nie. Hulle sal haar vlerke terugvat! Die vertellers sal haar lewe as ’n waarskuwing gebruik:
“Eendag nie te lank gelede was daar ’n vervloekte feetjie. Haar vaal vingers kon in ’n oomblik dood vir plante beteken …”
Sy sit haar rugsak voor haar neer en haal haar foon uit. Sy wil graag vir Ma vra of sy kan terug gaan huis toe. Sy kan by ouma Kora bly en net elke vakansie by Ma kom kuier.
Sy kan dit nie doen nie. Ma het hierdie werk geneem om vir hulle ’n beter lewe te gee. Om vir ouma, almal, te help.
Cataleya vee oor haar foon se skerm. Twee oproepe van ouma Kora af. Sy ignoreer Ma se “Hoe gaan die uitstappie?” en soek haar ouma se naam.
Ouma Kora [10:42]: My blommekind, bel my. Ouma kan help.
Ouma kan help. Drie woorde wat maak dat haar vingers vinniger beweeg as ooit te vore. “Ouma?”
“Hallo Leya. Ek het iets gekry. Die ou verteller weet van een so ’n storie.” Haar ouma haal asem en begin met haar storie-vertel-stem. “Dit gebeur nie baie nie. Gewoonlik gebeur dit wanneer ’n jonk feë, wie se geskenk nog nie volwassenheid bereik het nie, verhuis van haar voedingsbron. Jou voedingsbron is jou geboorteblom en die afstand daarvan maak dat die geskenk in jou bloed draai teen dit wat dit veronderstel is om te beskerm.”
“Beteken dit ek moet huis toe kom?” Sy wil nie bly word nie.
“Dis nie nodig nie,” keer ouma Kora. “Ek het vir jou ’n paar daisies gekoerier. Dit behoort môre daar te wees.”
“Môre …” sug sy. “Wag! Ek kort daisies?”
“Ja, ware Namakwalandse daisies. Dit is jou geboorteblom.”
“Ouma? Ouma is ’n badass!”
“Hei, hier’s jy! Kyk wat het ek gekry.” Madeleine streel oor verskillende blomme in ʼn bedding, ’n groot glimlag op haar mond.
Dimorphotheca sinuate (Namakwalandse madeliefies).
Toe Cataleya voor die blomme stop, voel dit asof sy in die veld by die huis staan. Elke ding in haar lyf word stil en haar vlerke kry hul lêplek.
Sy steek haar vingers uit en trek dit terug.
“Wat’s fout?’ vra haar nuwe vriend.
Sy’s doodbang! Hierdie blomme kan sy nie doodmaak nie. Sy steek haar vingers uit en toe sy aan die blomme raak, voel dit asof hulle haar hand vat. Sy voel die temperatuur van die grond. Sien hoe blare hulself regskud van lekker kry en voel huis in haar are. Hallo.
“Die madeliefies hou van jou!” sê Madeleine langs haar.
En sy van hulle.
Toe hulle by die botaniese tuin uitstap, vee sy oor die armband en die daisy wat daarom gegroei het. ’n Stukkie huis saam met haar.