Alex en die volmaan

Sproetgesig Alex trap sy fiets dat die remme fluit. Die koue lug sny deur sy wange soos hy die top van die heuwel nader. Die twaalfjarige is soek na sy pa. Hy sug en skuif sy effens te groot bril terug op sy neus.

“Waar is jy?” vra Alex. Hy haal sy pa se nagvisie-kamera uit sy rugsak. Alex rits sy sak toe, maar die aksie word stopgesit deur ‘n skielike geluid in ‘n bos agter hom.

 “Pa? Is dit jy? Of is dit dalk iets anders?” vra Alex saggies terwyl hy die donkerte in staar. Die onsekerheid laat sy handpalms sweet en sy hart klop vinniger as voor ’n wedloop.

“Wie is dit?” vra Alex. Hy weet nie waarom hy so iets vra nie. Dit is miskien die weerwolf wat hy probeer vang.

“Dit is ek, Ané. Jou sussie! Wie anders kan dit wees?” snou die figuur Alex toe.

“Dankie tog!” sê Alex verlig. Hy skakel sy flits aan. Alex herken die krulbos hare en skraal stem onmiddellik.

“Moenie die flits in my oë skyn nie. Dit is so helder soos ʼn trok op die N1!”

Alex sien dat Ané se broek vol dorings is. Hy sê liewer niks vir haar daaroor nie.

“Ek het vir ʼn oomblik gedink dit is Pa.”

“Pa? Kan ’n mens hom nog ooit Pa noem?”

Ané is Alex se ouer suster. Sy is in ʼn fase in haar lewe waar sy heeltyd net op haar foon gesels en op haar ouers se senuwees werk. Alex is verbaas dat sy vanaand met die soektog help, want sy hou baie van televisie kyk en haar sepies het alreeds begin.

“Die ander dink Pa is by die dam.”

Alex het dieselfde gedink, maar hy moet eers die dorp van bo af bekyk. Alex skuif sy bril terug op sy neus. Hy kyk deur die nagvisie-kamera om te sien of sy pa in die strate is.

Hierdie soektog is alles te danke aan Ané en haar simpel poetse, maar dit het hierdie keer te vêr gegaan.

Alex se ma, Retha is nie die beste kok nie. Haar sop is volgens haar, haar sterkpunt. Ané het gedink dit sal snaaks wees as sy die hond se kos in Pa se sop meng.

Die sop is so waterig en sleg dat Pa dit nie eens agtergekom het nie. Al was dit nie lekker vir hom nie, sou Pa steeds niks gesê het nie. Hy wil tog sy huwelik spaar.

Oomblikke later het Pa begin bewe. Die hare op sy liggaam het verdubbel en sy kakebeen het verleng. Die sop en hondekos het ʼn chemiese reaksie gehad. Dit het chaos en paniek in die huis veroorsaak.

Die senuweeagtige weerwolf het met ʼn oop bek gegrom en by die kombuisdeur uitgehardloop.

Almal was verslae en onseker oor die moontlikheid van so ʼn eienaardige gebeurtenis. Ma het byna die hele familie gebel.

Alex wou nog altyd ’n weerwolf sien, maar hy het nie gedink dit is moontlik dat sy pa vanaand een sou word nie.

“Ek sien hom ook nie van hier af nie. Ek gaan na die dam toe ry. Gaan jy solank terug huis toe?” Alex sit die kamera terug in sy rugsak en tel sy fiets van die grond af op.

“Het die volmaan met jou kop gesmokkel? Ek is die ousus en jy is net twaalf jaar oud. Ek kan jou nie net los nie.”

Alex raak gefrustreerd. Sy sproetgesig gloei en sy hart begin weer vinniger klop. Hy moet sy pa vind voor hierdie aand verby is.

“Kom dan saam!” Alex sit sy sak op sy fiets en Ané huiwer nie vir ’n oomblik om ook agter op te klim nie.

 “Die fiets trap effens swaarder met jou agterop, Ané,” sê Alex uitasem.

Alex voel hoe sy bene brand. Die strate is stil en verlate met net die rook van almal se kaggels wat ’n wolk oor die straat laat hang. Dit maak alles wat vanaand aan die gang is net meer spookagtig.

In die straat af staan ‘n harige figuur onder ʼn gebreekte lamppaal. Die figuur het vier bene, skerp naels en gloeiende geel oë. Alex stop in die straat net ’n paar meter van die figuur af.

 “Alex, sien jy ook wat ek sien? Is dit ʼn wolf?” vra Ané hakkelend.

Alex se bene begin bewe en die fyn hare op sy arms staan regop. “Ek sien dit ook.”

Die reuse figuur staan stil in die donker en Alex haal sy rugsak van sy rug af. Hy haal die nagvisie-kamera uit. Die skielike beweging van Alex laat die weerwolf grom. Die geel oë staar na die Alex en Ané. Dit is al waarop Alex nou kan fokus.

“Dit is definitief die weerwolf. Ek het gehoop dit is oom Fanie se hond. Ons moet ’n plan maak om hom te vang,” sê Alex dapper.

“Wat is jou plan?” vra Ané.

“As weerwolwe soos wolwe is, sal hy nie sommer nader kom terwyl ek hom direk in die oë staar nie. Dit het Voortrekkers my geleer. Haal jy die fluitjie in my sak uit.”

Ané vat die sak by Alex en haal die fluitjie daaruit. Haar hande bewe en haar maag grom van senuwees. “Ek het die fluitjie. Wat moet ek volgende doen?”

“Gaan in die veld hier agter ons in. Kry ʼn paar groot klippe en vat die deksel van die vullisdrom ook.”

Die weerwolf beweeg nader aan ʼn vullisdrom wat langs hom staan. Vir ʼn oomblik wil dit vir Alex voorkom asof die weerwolf hom verstaan. Alex skuif sy bril terug op sy neus.

“Ané, hoe lank nog?” vra Alex. Hy is bang dat die weerwolf hom gaan storm as hy nou langer wag.

“Ek is klaar!” roep Ané effens bo die stilte van die straat uit.

“Jy raas, praat sagter!”

“Wat moet ek nou volgende doen?” Ané is vol stof. Sy dra swaar aan die klippe, maar sy is net so gretig om die weerwolf te vang.

“Beweeg jy stadig terug na die boom. Die een verder terug in die straat. Kruip daar weg totdat ek skree ‘weerwolf’, dan blaas jy die fluitjie so hard as wat jy kan.”

“En wat gebeur dan?”

Alex sug en hoop sy plan gaan werk. Hy het ʼn massiewe slaggat gesien ʼn paar meter terug. Riebeeckstad het baie slaggate. Hierdie slaggat is diep genoeg om ʼn weerwolf in te kan vang.

Ané maak net soos wat Alex vir haar gesê het om te doen en beweeg na die boom. Die oorverdowende klank van die weerwolf wat huil, eggo in die straat af.

Hy skuif sy bril terug op sy neus en druk die klokkie op sy fiets. “RING-RING.” Alex begin trap. Na ʼn paar meter roep hy uit: “WEERWOLF-WEERWOLF!”

Ané blaas die fluitjie. Dit het die weerwolf se aandag getrek.

So in die trap kyk hy oor sy skouer. Die weerwolf is agter hom. Alex sien die slaggat wat net voor hom is. Hy duik met fiets en al regoor die gat.

“Perfek!” roep Ané.

Die weerwolf is kort op Alex se hakke. Hy kan nie spring soos wat Alex gedoen het nie. Die weerwolf val halsoorkop in die slaggat.

“TJANK!”

Alex is verstom deur die weerwolf se tjankie. Hy kan sommer hoor dit is sy pa se siel daarbinne. Geen weerwolf gaan so tjank nie. ʼn Regte weerwolf sou hulle buitendien al lankal opgevreet het.

“Alex, kom gou, kom help!”

Alex stop en hardloop tot by Ané en help om deksel en klippe bo-op die gat te pak. Alex tel die swaar klippe met gemak op.

 “Ons het hom, ons het hom!”

Alex en Ané staan ook sommer op die hoop klippe.

“Alex, kom ons pak nog klippe bo-op die deksel,” sê Ané terwyl hulle vasstaan om die weerwolf binne te hou.

“Bel jy vir Ma, Ané. Ek sal nog klippe kry!”

 “Ek bel vir Ma. Alex, die weerwolf moet net nie ontsnap nie!”

“Pa, ons gaan Pa nou help,” sê Alex aan die bewegende deksel.

“Ma, die veearts en die dokter is op pad hierheen,” sê Ané verlig.

Die ligte van die motor kom vinnig om die draai. Die motor kom tot stilstand met die veearts sommer eerste op die toneel. Die veearts waggel in sy pantoffels en nagrok om die motor. Sy botterbene maak dat hy nie so vinnig kan loop nie.

“Definitief ’n geval van ‘Likantropie’ of beter bekend as Wolf-word-man-sindroom,” sê Dokter. Die dokter bly in die motor. Sy hakkelende toon en wankelrige bene laat veel te wense oor.

“Gaan my man dit oorleef?” vra Ma. Sy is geskok en haar krullerige hare staan soos ʼn kraaines. Haar klere is steeds vuil. Dit is vol stukke vleis en groente van die sop. Nadat Pa in ʼn weerwolf verander het, het sy die hele pot sop op haar skoot laat val.

“Ek het al voorheen so ’n geval gesien en het net die beste medisyne daarvoor,” sê die veearts.

“Het Dokter van die medisyne hier?” vra Alex.

“Maar natuurlik! Ek spuit hom sommer dadelik daarmee in. Toe ek hoor van die geval, het ek sommer die inspuiting saam gebring.”

Die veearts nader die slaggat versigtig terwyl Alex met skrefies oë koekeloer na wat volgende gaan gebeur.

“Ditsem!” roep die veearts uit en staan ʼn treetjie terug.

“Wat nou, Dokter?” vra Alex se ma.

“Vir veiligheid gaan hy nou na die plaaslike dierehospitaal sodat hy die nag in ’n hok kan deurbring, mens weet nooit watter simptome hy later kan toon nie.”

Alex begin lag, want die idee dat sy pa vanaand in ’n hok moet slaap is vir hom baie snaaks. “Môre sal ons vir Pa moet gaan aanneem by die diereskuiling en dan is Pa as’t ware ’n troeteldier by die huis,” sê Alex.

“Dit nie eens gepraat van Ané se gekerm en kla wanneer sy besef dat sy ’n broek en been vol dorings het nie,” fluister hy vir sy ma.

Geraamte in die sak

“Maar, ou mense is VERVELIG!” Elana stamp haar voet teen die grond. “Hoekom kan ek nie net by Marelize gaan oorslaap nie?”

Elana se ma gluur haar aan. “Ouma Nettie is dierbaar! Hou nou op kla, ek en jou pa moet amper ry.”

 Elana rol haar oë. Grootmense verstaan net nie. Sy wil haar vakansie geniet terwyl haar ouers in Frankryk rondrits, maar nou gaan Ouma Nettie heeltyd in die pad wees. Elana het vir Ouma Nettie nog net by verjaarsdae en met Kersfees gesien, maar nog nooit regtig met haar gaan sit en gesels nie. Ouma Nettie lyk soos daardie haarlose katte. Laasjaar het sy ’n superryk kêrel gehad, maar hy is vroeër die jaar skoonveld.

Ma se oë peul soos die van ’n verkleurmannetjie uit haar kop. “Marco, ons gaan amper ry. Kyk hoe lyk jy!”

“Wat is fout met my uitrusting?” Pa glimlag terwyl hy uit die studeerkamer gestap kom. Hy het nounet een of ander belangrike Zoom-vergadering bygewoon. Hy wys na sy “stylvolle” uitrusting: ’n netjiese knopieshemp, rooi das en kakiekortbroek met plakkies!

Elana sug. Gelukkig lui die deurklokkie.

Ma maak die deur oop en daar is Ouma Nettie, maar sy lyk bietjie anders as toe Elana haar laas gesien het. Sy dra ’n stywe jean met bloedrooi tekkies. Langs Ouma Nettie toring haar bagasie amper tot by die deurkosyn! Elana wonder wat is in al daardie tasse. Op haar t-hemp staan “Ciao, Bellla” met glitter op geskryf. Haar hare lyk soos wit spookasem.

Elana se mond hang oop.

“Ma lyk… anders.” Elana kan die twyfel in haar ma se oë sien. Sy kyk vir ’n oomblik bekommerd na Elana. “Is Ma seker Ma sal vir Elana kan oppas?”

“Natuurlik! Kom, julle moet in die pad val. Moet oor niks bekommer nie.” Ouma Nettie sien duidelik nie kans vir een van Ma se verantwoordelikheidspreke nie. Elana glimlag breed. Pa druk vir Ma liggies in die kar in terwyl sy nog steeds bekommerd omkyk na Elana.

“Wil Ouma tee hê?  Moet ek vir Ouma Soduku bring?” Elana weet nie eintlik wat doen ’n mens met oumas nie.

Soduku? Tee?” vra Ouma verontwaardig. “Ek is nog veels te jonk om te sit en tee drink terwyl ek Soduku speel, nee dankie!”

Elana weet nie wat om te antwoord nie. Sy stap kombuis toe om ʹn glas water te kry. Ewe skielik voel dit asof ’n aardbewing die huis skud en ’n oorverdowende klank vul die huis. DOEF. DOEF. DOEF. Elana hardloop na die sitkamer toe. Ouma Nettie staan by die stereosisteem en is besig om die volumeknoppie al harder te draai! Op die TV-skerm is Alexander Silwertand besig om sy nuutste liedjie te rap.

“Ouma! OUMA!”

Die musiek is so hard, Ouma Nettie hoor nie eers vir Elana nie. Elana druk haar hande oor haar ore en loop tot by die stereo. Sy draai die klank sagter. “Ouma mag nie die musiek so hard speel nie. Die bure gaan raas!” Elana kyk benoud deur die venster na die bure se huis.

“Waardeer julle bure nie goeie musiek op ’n Vrydagmiddag nie?” Ouma Nettie sug.

Elana kyk verbaas na Ouma Nettie. Haar pa skakel gewoonlik Alexander Silwertand se musiek af wanneer dit oor die radio speel.

“Tannie Bertha is baie kwaai. Sy raas altyd as ons te hard musiek speel. “Elana kyk weer benoud na die bure se huis. Sy sien vir Tannie Bertha oor die muur gluur. Oom Thomas, haar man, is besig om die vullissakke uit te vat. Ouma Nettie kom staan by Elana.

“Iets aan daardie mense lyk vreemd.”

“Wat bedoel Ouma?”

“Elana, ek skryf artikels vir die Daaglikse Klaagbek, waar ek al miljoene speurraaisels oor die dorp opgelos het. Ek weet wanneer ek iets vreemds ruik en dan druk ek my neus soos ’n bloedhond in die besigheid in.

Elana kyk na haar Ouma. Noudat sy daaraan dink lyk Ouma Nettie eintlik meer soos ’n bloedhond as ʹn haarlose kat.

Toe Elana weer sien, is Ouma Nettie uit by die voordeur.

“Ouma!” Elana hardloop agter Ouma Nettie aan.

“Shhh!” Ouma Nettie hurk agter ’n konfettibos. Sy wys na Oom Thomas wat lyk asof hy ’n baie swaar vullissak dra.

“Oom Thomas sit elke Vrydagmiddag vullissakke uit Ouma!”

 Ouma Nettie luister nie. Die oomblik toe Oom Thomas in die huis verdwyn, skeur sy die vullissak oop. Elana se oë rek en sy gee ’n gil. Ouma Nettie druk haar hand oor Elana se mond.

“Shh! Sien, ek het gesê hierdie mense is vreemd.”

Hulle staar na die geraamte wat in die sak lê. “Dalk is hulle weerwolwe en het hulle laasnag ’n arme siel van die strate af gegryp en verorber.” Ouma Nettie praat in ʼn diep stem. Elana ril.

“Kom Elana, ons moet verder ondersoek instel.” Ouma Nettie sluip nader aan die huis. Elana volg benoud kort op haar hakke.

Hulle loer deur die een venster en sien vir Tannie Bertha in die kombuis. Sy is besig om ’n yslike groot vleispastei te maak. Elana sluk en probeer om nie te veel aan Hansie en Grietjie te dink nie.

“Ons moet haar uitlok sodat ons daardie pastei kan ondersoek,” fluister Ouma Nettie.

Elana wil vir Ouma Nettie antwoord toe hulle ʼn geroep aan die ander kant van die huis hoor. Hulle wip van die skrik.

“Bertha, daar is iemand by die voordeur!” Oom Thomas roep in sy skril stemmetjie en tannie Bertha rol haar oë voordat sy voordeur toe stap.  

“Elana, nou is ons kans. Ons gaan by die kombuisdeur inglip en kyk watter leidrade ons binne die huis kan vind.

“Ouma, ons kan nie net in hulle huis ingaan nie!”

“Ons moet hierdie raaisel oplos!” Elana huiwer ’n oomblik en knik dan haar kop. Stilletjies glip sy en Ouma Nettie by die agterdeur in. Die kombuis lyk amper te netjies vir iemand wat nou-net ʼn pastei gebak het. Elana druk haar neus toe.

“Ouma, daardie pastei ruik baie,,, vreemd.”

Hulle hoor hoe die voordeur toegeklap word en Tannie Bertha se voetstappe naderkom. “Kruip weg Elana!”, fluister Ouma Nettie.

Elana buk onder die kombuistafel in. Sy hoor hoe Tannie Bertha met Oom Thomas in die oorkantste vertrek gesels. Sy kruip nader aan die gang om beter te kan afluister. Sy probeer hard konsentreer, maar hoor net elke tweede woord.

“… kan jy dit glo?… mens… vleis… kompetisie.”

Haar bloed word yskoud. Hulle moet hier wegkom. Elana swaai om en hardloop na die kombuisdeur toe. “Wat gaan aan?” Ouma Nettie steek haar kop by ʹn kas uit.

“Ek en Ouma moet nou hier wegkom en die polisie gaan bel!”

Sy gryp Ouma Nettie aan die arm en hulle vlug terug huis toe.

ʼn Week later sit Elana saam met Ouma Nettie in die kombuis.

“Het Ouma gesien hulle praat van ons in die koerant?” Ouma Nettie draai opgewonde om en Elana begin lees:

Geraamtes in die sak!

’n Skooldogter en haar Ouma was bekommerd oor’n geraamte wat hulle in hul bure se vullis gevind het. Na polisieondersoeke is daar gevind dat die geraamte in Meneer Thomas le Roux se wetenskapklas gestaan het toe hy nog klas gegee het. Toe dit tyd raak vir somerskoonmaak het hy die gehawende ou geraamte uitgesmyt.

Elana sug. “So, hulle was toe nie weerwolwe of mensvreters nie.”

“Mens weet nooit, Elana. Ek glo nie dat Bertha besig was om ’n skaappastei vir die Vrouemark se kompetisie te bak nie. Die polisiespeurders weet ook nie altyd alles nie.” Ouma Nettie gee vir haar ʼn bord kos aan. Elana skud haar kop. Ouma Nettie se speur- eskapades gaan hierdie ’n BAIE opwindende vakansie maak.

“Watter gereg is hierdie Ouma?”

“My beroemde skaapbrein-bobotie en groenteslaai met komkommersous.”

Elana voel hoe sy begin naar word en Ouma Nettie skaterlag.

‘n Donker kamer, ‘n spook en ‘n tutu

Die danslokaal van Laerskool Witfontein lyk groot en onheilspellend in die helder lig van die volmaan. Party mense glo dit spook daar. Soms, as ʼn mens mooi luister, kan ʼn mens in die middel van die nag sagte musiek en ander vreemde geluide op die skoolterrein hoor, maar as jy naby die danssaal kom, hou dit skielik op…

“Pssst… Christo… word wakker…”

Jana staan by die venster van Juffrou Snyman se woonstel. Vandat die nuwe juffrou en haar seun in die woonstelle op die skoolterrein ingetrek het, is Jana amper elke dag by Christo se venster. Dit was voorheen darem vreeslik vervelig om vakansies alleen saam met ʼn klomp onnies op die skoolterrein te bly. Sy was egter nog nooit in die middel van die nag hier nie…

Christo antwoord net met ʼn harde snork en draai op sy ander sy. Jana skyn met haar flitslig om haar rond. Hoe gaan sy hom ooit wakker kry? Hy slaap so vas, Juffrou Snyman moet seker elke oggend sy pols voel om seker te maak hy slaap net.

Die maan hang soos ʼn helder poel melk in die lug en gooi ʼn dowwerige wit skynsel oor die tuin.

“Klippies!” roep Jana amper te hard.

Sy trippel vinnig na die tuin en gryp ʼn handvol van die wit klippies wat die beddings versier. Met ʼn sierlike boog gooi sy een van die klippies deur die oop venster. Die klippie tref vir Christo netjies tussen sy oë. Christo skrik wakker met Jana se flitslig in sy oë. Hy probeer uit die bed uit spring, maar hy is so gekoek in sy komberse dat hy soos ʼn vis buite water op die bed wriemel en dan met ʼn harde slag van die bed af tuimel.

“Wat de…” Christo wurm homself tussen die komberse uit en skakel sy bedlampie aan. Dan gewaar hy vir Jana wat nogsteeds buite sy oop venster staan.

“Jana!” roep hy vies.

“Shhht!” Jana hou een vinger voor haar mond.

“Is daar enigsins ʼn logiese rede waarom jy my in die middel van die nag met klippe staan en gooi?” vra Christo terwyl hy voel-voel op sy bedkassie om sy bril op te spoor. Jana sug. Christo klink altyd asof hy woordeboeke vir ontbyt eet.

“Hoe het jy geweet dis ek? Jy is mos so blind soos ʼn ratel sonder jou bril.”

Christo het intussen sy bril opgespoor.

“Dis so blind soos ʼn mol,” sê hy en rol sy oë, “en ek het nie ʼn bril nodig om jou rooi krullebos raak te sien nie.”

Jana klap haar tong. Christo kan partykeer so irriterend wees.

“Wat ookal. Pak jou rugsak. Ons moet die spook in die danssaal gaan vang.” Sy blaas ʼn woeste rooi krul van haar voorkop af.

“Ag nee, Jana! Moet my net nie sê jy dink regtig daar is ʼn spook in die balletklas nie. Sabrina het jou net probeer bang praat. Sy kry dit altyd reg om jou te fnuik.” Christo gryp in elk geval ʼn rugsak uit sy kas uit en prop ʼn paar dinge daarin. As Jana eers besluit het sy wil iets doen, gaan niemand haar keer nie. Veral nie as skelm Sabrina Vermaak iets daarmee uit te waai het nie. Hy klouter lomp by die venster uit.

“Ek weet nie wat ‘fnuik’ beteken nie,” Jana is al halfpad in die pad af, “maar dit het niks met simpel Sabrina uit te waai nie. Ek het hom gesien…”

Jana loop al vinniger en Christo moet amper hardloop om te probeer byhou.

“Wat… bedoel jy… jy het hom… gesien…” hyg hy uitasem.

“Die spook. Hy bly onder die verhoog. Hy het gister die luik agter die gordyne opgelig en deur ʼn skrefie vir ons geloer.”

Christo gaan staan skielik stil. Hy haal sy asmapompie uit sy rugsak en neem ʼn paar diep teue. Jana draai vinnig om.

“Is jy oukei?” vra sy bekommerd.

“Hoekom… het ek hom dan nie ook… gesien nie?” Christo bêre die pompie weer en stap aan. Jana stap nou aansienlik rustiger. Hulle klouter vinnig oor die lae heininkie wat die onderwysers se woonstelle van die klasse skei.

“Jy was te besig om alweer vir Sabrina te verduidelik hoekom ʼn seun ook ballet kan doen,” sê sy skouerophalend.

“O,” Christo stoot sy bril teen sy neus op, “maar hoekom vertel jy my nou eers?” vra hy terwyl hulle agter tussen die klaskamers deursluip om by die groot danssaal uit te kom.

“Jy sou nooit saamgekom het as ek jou vroeër van my plan vertel het nie.”

Hulle stap om die donker gebou na die verhoogdeur. Madam Dansenhov vergeet altyd om daardie deur te sluit.

“Wat presies is jou plan?” Christo is skepties. “Ons het nie gesofistikeerde toerusting om spoke mee te vang nie.”

Jana frons. Christo hou hom alweer slim “Ek het nie gefosistik… gekosifkit… daai goed nodig nie. Ons moet hom net in ʼn hoek vaskeer.”

Jana maak die deur oop en hulle sluip tot agter die verhoog se gordyne. Jana is verbaas dat die saalligte nog aan is. Mevrou Dansenhov is baie erg oor energiebesparing. Skielik vries hulle. Die saal se luidsprekers speel dan saggies musiek!

“Dis Tchaikovsky se Swanemeer,” fluister Christo verbaas.

Jana begin saggies oor die verhoog sluip. Christo probeer haar nog keer, maar sy is al klaar amper by die opening tussen die gordyne. ʼn Verhoogplank kraak skielik onder haar voete. Toe sy deur die gaping loer, sien sy net ʼn wit en pienk streep wat vinnig oor die verhoog trek en deur die luik op die verhoog verdwyn. Die deurtjie klap met ʼn harde knal toe.

“Het jy dit gesien?” vra Jana opgewonde.

“Ek het!” roep Christo skielik reg agter haar.

Jana wip soos sy skrik. “My magtag Christo, amper laat jy my tot binne-in die hospitaal skrik.”

“Jammer,” fluister Christo verleë.

Jana kniel by die luik en druk haar oor teen die deur. Christo doen dieselfde.

klink dit skielik van onder die verhoog. Christo val skoon agteroor van die skrik. Hy en Jana kyk verskrik na mekaar.

“Wat gaan ons doen?” vra Christo bekommerd.

Jana lig die deurtjie versigtig op. “Ons moet inklim.”

Christo wys met ʼn bewerige vinger in die donker gat in.

“Bedoel jy… dáár in?”

Jana antwoord nie eers nie. Sy begin net versigtig voel waar die leertjie se eerste trappie is en klim dan al dieper in die duisternis in. Christo sug. Hy haal sy asmapompie uit sy rugsak, trek ʼn paar teue en sit dit weer terug in sy sak. Eintlik wil hy net huis toe gaan, maar hy weet hy moet dapper wees. Jana mag nie dink dat hy bang is nie.

Hy druk sy bril stywer op sy neus en begin versigtig om ook met die leertjie af te klim. Jana skyn met haar flits in die donker kamer rond.

“Shhht!” sê sy toe Christo met ʼn plof van die laaste trappie af spring.

Hulle stap stadig deur die vertrek. Oral staan bokse vol kostuums opmekaar gestapel. Ou, gebreekte meubels staan die wêreld vol en alles ruik na stof. Iets rubberig vee teen Christo se wang.

“Vlermuis!” gil hy en steier agteroor. Hy stamp teen ʼn groot toring bokse agter hom. Die toring wankel gevaarlik heen en weer en tuimel dan bo-op Christo. Jana hardloop nader. Sy vat sy hand en trek hom sukkelend tussen die bokse uit. Christo proes van die stof. Hy grou vir sy asmapompie en trek ʼn diep teug.

“Sjoe, amper sien ek my alie!” lag hy verleë.

Jana antwoord nie. Sy kyk stip voor haar en haar oë is so groot soos die tutu wat Madam Dansenhov gister aangehad het.

Dan sien Christo dit ook. Twee groot geel oë loer agter een van die bokse uit. Jana begin stadig vorentoe sluip.

“Jana, wat doen jy?” fluister Christo bang.

“Ek dink hy is bang,” sê Jana, sonder om haar oë van die spook af te haal.

Christo kan sy ore nie glo nie. ʼn Spook wat bang is vir mense? Dit is die simpelste ding wat hy al ooit gehoor het. Nie eens slinkse Sabrina kan met so ʼn storie vorendag kom nie.

“Toemaar meneer Spook,” begin Jana praat, “jy kan maar uitkom. Ons sal jou nie seermaak nie.” Jana gee nog ʼn tree nader.

Die spook huiwer vir ʼn oomblik. Dan beweeg dit stadig agter die boks uit. Jana en Christo snak gelyk na hul asem. Dit is ʼn klein ou spokie – skaars hoër as Jana se skouers – met ʼn helder pienk tutu aan!

“H… hallo…” Probeer Christo, “ek neem aan jy is nie ʼn meneer nie…”

Whiee hie hie,”

giggel die spook.

 Jana en Christo lag lekker saam. Dit is beslis nie ʼn spook waarvoor ʼn mens hoef bang te wees nie.

“Wat is jou naam?” vra Jana.

My naAAAam is SpokinaaAAA vaaAAan GeeEEEEestens!

bulder die spook.

“Hallo Spokina! Ek is Jana en hierdie is my vriend Christo.” Jana is nou baie opgewonde. Sy kan nie glo hulle praat met ʼn regte egte spook nie! ʼn Regte egte spook in ʼn regte egte… tutu?

Jana frommel haar neus. “Ee… Spokina… mag ek miskien vra… hoekom kruip jy hier onder weg? En hoekom dra jy ʼn tutu?”

Trane begin skielik in Spokina se geel oë opdam. Dit loop teen haar wit spooklyfie af en verdwyn dan in die niet. Jana en Christo kyk verbaas na mekaar. Nie een van hulle het geweet spoke kan huil nie.


My faAAamilieeeee het my uit die spoOOOookhuis booOOoo in die straAAat uitgeskop omdat ek nie mense wil skrikmaAAAak nie. Ek wou nog aaaAAAaaltyd ʼn balerinaAAaa gewees het.”

Die trane spat nou sommer uit Spokina se oë uit.

Jana en Christo staan verstom. ʼn Spook wat wil dans? Hierdie avontuur raak net vreemder en vreemder!

“Uhm… Spokina,” laat Christo na ʼn rukkie van hom hoor, “as jy dan so graag ʼn ballerina wil wees, hoekom repeteer jy nie net saam met ons nie?”

Spokina hou skielik op huil en kyk met groot oë na Christo.

WaaAAaat is repeteeEEeer?”

“Dankie tog!” roep Jana verlig uit. “Ek is darem nie die enigste een wat nie Christo se groot woorde verstaan nie!”

“Gmf,” snork Christo. So dit is ʼn huilende, dansende en onopgevoede spook!

“Repeteer beteken om te oefen! Hoekom oefen jy nie net saam met ons nie?” verduidelik Christo moedeloos.

oooOOOOooOOO!

bulder Spokina.

“Nou verstaaAAan ek. Ek kan nie, want mense hou aaAaaAAan vir my skrik, al is ek hoEeeeEEe vriendelik.”

Spokina begin weer om te snik. Jana skud haar kop. Dit moet vreeslik wees as mense heeltyd vir jou wil weghardloop.

“So, jy bly hier onder net om te sien hoe ons dans?” vra Jana simpatiek.

JaaAAA…”

snik Spokina. “

E… en ek daaaAAans skelm in die aaaAAaaAAaande.”

Dinge begin nou vir Jana sin maak. Dit is seker hoekom hulle die Swanemeer gehoor het toe hulle ingekom het! Spokina was besig om te dans!

MaaAAaar,”

snik Spokina voort,

Ek kon nog nooOOOit voor ʼn gehoooOOOoor daAAaans nie.”

Nou kry Jana haar éérs jammer. Vir haar is die gehoor se reaksie die beste deel van ballet!

“Ons kan jou gehoor wees!” Christo het duidelik dieselfde as Jana gedink.

“Dit is ʼn briljante idee!” Jana spring opgewonde op en af en klap haar hande. Spokina se wit gloed word sommer helderder.

“ReeEegtig? HieeEEeeer? NouUUu?”

vra sy opgewonde.

“Ja! Jy het mos klaar ʼn tutu aan, en ons sal vir jou die musiek ook speel!” Jana is uit haar vel uit van opgewondenheid.

In ʼn japtrap is alles opgestel. Christo het selfs ʼn sagte pers lig aangesit sodat alles op die verhoog vreeslik skouspelagtig lyk. Jana en Christo sit op twee stoele voor die verhoog wat Christo vir hulle aangedra het. Die musiek begin en Spokina kom op die verhoog aangesweef. Sy draai fraaitjies in die rondte, sweef met manjifieke bewegings deur die lug en swaai grasieus op die maat van die musiek. Sy raak byna in vervoering. Toe sy klaar is klap Jana en Christo verwoed hande. Hulle staan op en juig so hard as wat hulle kan.

Spokina draai ʼn laaste keer in die rondte en maak ʼn buiginkie, en Jana is seker dit is die gelukkigste spook in die wêreld.

Anja en die zombie-apokalips

“Skoert, jou vieslike gedierte!”

Anja se krieketkolf tref die zombie se kop met ’n dowwe DONK. Die zombie wieg effens agteruit en kry ʼn verwarde kyk op sy muwwerige groen gesig. Dan verloor hy sy balans heeltemal en val plat op sy rug.

Anja draai om en hardloop. Dis Reёl Een van die zombie-apokalips: Wees vinniger as hulle!

Die verlate huise vlieg verby haar. Haar bene en haar longe brand al, maar sy kyk eers oor haar skouer toe sy ʼn hele ent weg is.

Sy gaan staan verbaas. Die zombie het opgestaan, maar in plaas daarvan om haar te volg, draai hy om en begin in die teenoorgestelde rigting skuifel.

Anja frons. Dit het nog nooit voorheen gebeur nie.

Sy kyk die zombie agterna soos wat hy deur die vuil straat beweeg. Dis amper asof iets hom weggeroep het… En sy MOET weet wat dit is.

Sy voel-voel aan haar kop om seker te maak dat die fietshelm wat sy altyd dra nog stewig sit. Dis Reёl Twee van die zombie-apokalips: Beskerm jou brein!

Dan sluip sy stilletjies agter die zombie aan.

ʼn Geknars langs die pad haar laat haar skrik. ʼn Tweede zombie strompel uit die bosse van ʼn verwaarloosde tuin. Anja vries, maar hy loop verby haar agter die eerste zombie aan, asof hy haar nie eens sien nie.

Anja wag totdat hulle ʼn entjie weg is voordat sy weer normaal begin asemhaal.

Kort voor lank sluit daar nog zombies by hulle aan. Hulle almal ignoreer vir Anja en hou aan om in dieselfde rigting te loop. Anja volg hulle op ʼn veilige afstand.

Hulle kom voor ʼn huis tot stilstand. Dis nie een van die vervalle huise waaraan Anja gewoond is nie. Die vensters is nog heel en daar is ʼn stewige veiligheidsheining rondom die erf. Daar drom ʼn skare zombies teen die heining saam.

Anja stop en lig haar krieketkolf op, reg om te slaan as een van die zombies haar probeer gryp, maar die zombies kyk glad nie vir haar nie.

“Iets is aan die gang daarbinne,” mompel Anja by haarself. “Ek wonder wat dit kan wees…”

Sy loop stadig tussen die zombies deur. Hulle ignoreer haar heeltemal. Naby aan die heining is ʼn boom waarvan die takke oor die heining hang. Anja sit haar krieketkolf versigtig teen die stam neer en klouter in die boom op. Dit vat haar nie lank om al met ʼn tak langs te skuif totdat sy bo-oor die heining is nie. Sy spring af.

Buite stamp die zombies nog teen die veiligheidsheining, asof hulle daardeur wil gaan. Anja grinnik by haarself. Reёl Drie van die zombie-apokalips: Wees slimmer as hulle!

Sy loop versigtig na die voordeur toe. Dis gesluit. Net toe sy besluit om rondom die huis te loop, beweeg die gordyn van die venster langs die deur.

“Hallo?” roep sy.

Die enigste antwoord is die zombies se gekreun. Dis doodstil binne die huis.

Anja frons. “Ek weet hier is iemand. Kyk, jy kan mos sien ek is nie ʼn zombie nie!”

Sy tree voor die venster in en beduie na haarself.

“Ehm…” kom ʼn temerige stem agter die gordyn uit. “Goed… Ek maak nou oop.”

Daar is ʼn skuifelstappie binne die huis en dan gaan die houtdeur op ʼn skrefie oop. ʼn Tingerige man in ʼn wit jas loer vir haar oor ʼn knypbrilletjie. Sy wilde grys hare staan soos ʼn stralekrans om sy kop.

“Hello,” sê sy. “Ek is Anja. Hoekom drom die zombies so om die huis saam?”

“Ek is Professor Cerebrum,” sê hy en maak die deur ʼn klein bietjie wyer oop. “Die zombies soek my brein.”

ʼn Wetenskaplike! dink Anja opgewonde. “Hoekom juis Prof se brein?”

Hy sug so hard dat sy grys neushaartjies tril. “My brein is bonatuurlik groot.”

“Weet zombies dan hoe groot ʼn mens se brein is?” vra Anja gefassineerd.

“Aha!” Professor Cerebrum lig ʼn vinger op. “Dis ʼn interessante vraag. Jy sien – ” hy gee ʼn tree in die huis in en Anja volg hom, “wanneer ʼn mens dink, skei jou brein ʼn sekere reuk af.” Hy beduie na ʼn swartbord teen die muur met ʼn reuse skets van ʼn brein daarop. Anja staar oopmond na al die wetenskaplike byskrifte en formules.

“So mens kan ruik as iemand hard dink?” vra sy. Sy haal stilletjies deur haar neus asem om agter te kom of sy iets ruik.

“Natuurlik kan ʼn MENS dit nie ruik nie,” sê Professor Cerebrum. “Maar ʼn ZOMBIE se reuksintuig is baie meer gevorderd as ʼn mens sʼn.”

Anja loer benoud oor haar skouer. “Prof moes seker baie hard gedink het om soveel zombies hier te kry.”

“Natuurlik het ek hard gedink,” sê Professor Cerebrum met ʼn snuif. “Ek het sopas die teenmiddel vir Zombiose ontdek!”

“WOW!” sê Anja opgewonde. “Mag ek dit sien?”

Professor Cerebrum steek sy hand in een van sy wit jas se sakke en haal ʼn proefbuis uit.

Daar is ʼn groen, slymerige vloeistof in die proefbuis. Klein borreltjies styg opwaarts, amper asof dit baie stadige gaskoeldrank is.

“Dit neem weke om ʼn effek te toon, maar dit is steeds ʼn belangrike deurbraak.” Professor Cerebrum bêre die proefbuis weer in sy sak. “Ek wens net ek kon dit êrens heen vat waar dit ʼn verskil sal maak.”

“Kom saam met my!” sê Anja. “Ek is oppad na ʼn kamp vir oorlewendes toe!”

“Maar ek kan nie buitentoe gaan nie,” sê Professor Cerebrum.

“EEEEUUUUGGGGG,” kreun ʼn zombie buite. Anja besef dat al wat ʼn zombie is vir Professor Cerebrum gaan bespring as hy selfs net ʼn toon by die tuinhekkie uitsit.

“Sê nou maar ons vermom Prof se brein-reuk? Daar moet iets wees wat sterk genoeg ruik.” Anja draai na die kombuis se kant toe. “Vrot eiers, of – ”

“Buite die kwessie!” sê Professor Cerebrum vinnig. “Ek dink hard genoeg dat hulle my kilometers ver kan ruik. Eiers gaan niks help nie.”

“O.” Anja wonder of hy eintlik net nie besmeer wil word nie, maar sy sê liewers niks nie. Miskien moet sy die teenmiddel self na die oorlewendekamp toe vat. Dit kan tog lewens red. En Professor Cerebrum gaan nie maklik uit sy huis kan kom, met die dat hy so hard dink nie…

“Wag,” sê Anja skielik. “Hoekom hou Prof nie net op om te dink nie?”

Professor Cerebrum lyk ingedagte. “Kan dit werk? Hmm…”

“Kom ons kyk!” Anja draai om en draf by die voordeur uit.

Daar is meer zombies as vroeёr. Hulle drom harder teen die heining saam toe professor Cerebrum by die huis uit kom. Anja sluk en hoop maar dat die heining sal hou.

Sy draai om. “Prof moet nou ophou dink, sodat ons kan sien of dit werk.”

“Ek probeer al om op te hou vandat ons buite is,” sê hy en en pluk-pluk gefrustreerd aan sy wilde grys hare. “Hoe doen mens dit?”

“Probeer net om aan niks te dink nie,” stel Anja onseker voor. Dit kan tog nie so moeilik wees nie?

Die plooitjies op Professor Cerebrum se voorkop kreukel inmekaar soos wat hy konsentreer.

KLANG!!! ʼn Zombie met ʼn beblomde strandhoed op sy kop gooi homself hard teen die heining. Sy kwyl spat meters ver en die hoed vlieg van sy kop af. Die ander zombies kreun en drom harder saam soos hulle probeer om by professor Cerebrum uit te kom.

Professor Cerebrum gooi sy hande in die lug.

“Ek kan nie!” kerm hy.“Ek kan nie aan NIKS dink nie! As ek aan NIKS kan dink, dan is NIKS tog IETS! En hoe kan NIKS IETS wees as dit nie bestaan nie?”

Anja vee vieserig ‘n sliert zombiekwyl van haar gesig af. “Daar moet ʼn manier wees. Ons het net nog nie daaraan gedink nie.”

Iets in haar eie woorde laat haar nadink. “Daaraan gedink…” prewel sy. Dan draai sy opgewonde om. “Ek het dit!”

“Werklik?” vra die professor mismoedig.

“Prof, waaraan dink zombies?”

Hy gaan staan doodstil. “Wel… dis ʼn fassinerende vraag. Zombies het nie breine nie, maar hulle kan beweeg. Dit laat ʼn mens wonder of hulle nie tog sekere kognitiewe funksies het nie…”

“So hoekom probeer Prof nie soos ʼn zombie dink nie?”

Professor Cerebrum staar na haar. “Wat bedoel jy?”

“Maak asof Prof self ʼn zombie is!”

“Dit kan ʼn interessante eksperiment wees,” sê hy stadig en vryf oor sy ken. “Om jou instink te volg, eerder as jou denke…”

“Kom ons probeer dit!” sê Anja. “Het Prof al Prof se navorsing?”

Hy beduie na sy kop. “Hierso.” Hy haal ʼn notaboekie uit sy ander sak en wys dit vir Anja. “En hier, vir ingeval die zombies my brein kry.”

Hy druk die notaboekie terug in sy sak en steek sy arms stokstyf voor hom uit, soos ʼn zombie. Dan draai hy sy kop skeef, laat sy mond oophang en kreun: “EEEEEEEEUUUUUUUUUGGGGGH.”

Dis so realisties dat ʼn rilling by Anja se rug afgly. Sy loer na die heining toe. Die zombies staan en wieg verveeld heen en weer.

“Dit werk,” fluister Anja opgewonde. “Kom ons gaan!”

Die tuinhekkie kraak toe Anja dit oopstoot. Professor Cerebrum se adamsappel spring op en af soos wat hy sluk, maar hy hou sy arms dapper voor hom uit en stap uit.

Die zombies kyk nie eens in sy rigting nie. Anja haal diep asem en volg hom.

ʼn Paar tree tussen die zombies in besef sy skielik dat hulle almal na haar staar. Noudat die professor ophou dink het, kan die zombies háár brein natuurlik beter ruik. ʼn Lang zombie snuif-snuif in die lug bokant haar, soos ʼn jaghond wat sy prooi ruik. Anja kan voel hoe die zombie se vrot asem deur haar hare beweeg. Sy sluk en wens haar krieketkolf was nie so ver weg nie.

Sy steek vinnig haar hande voor haar uit en kreun.

Breine, breine, breine, breine, dink sy. Sy hou haar oё op professor Cerebrum se rug soos wat hy stadig tussen die zombies deurskuifel. Breine, breine, breine.

Die lang zombie gee ʼn teleurgestelde kreun en draai weg.

Anja volg die professor stadig maar seker tussen die skare zombies deur. Haar arms brand en haar hart hamer in haar borskas, maar sy laat haarself nie toe om daaroor te dink nie.

Die professor hou aan loop totdat hulle ʼn paar blokke van sy huis af is. Uiteindelik waag Anja dit om versigtig rond te kyk. Daar is nie meer ʼn zombie in sig nie.

Sy laat sak haar arms en loop vinnig om die professor in te haal.

“Ons kan maar ophou!” roep sy. “Dit gaan hulle ʼn rukkie vat om ons in te haal, selfs al kan hulle ons nou ruik.”

“EEEEEEEEEEUUUUUUGGGHHH,” kreun die professor.

Dan skud hy sy kop, asof hy wakker skrik. “Jammer,” sê hy verleë en laat sy arms sak. “Ek het my heeltemal ingeleef. Wat ʼn interessante eksperiment!”

Anja skud haar kop, maar sy glimlag verlig. “Ek het vir ʼn oomblik gedog hulle het vir Prof gekry.”

“Darem nie,” sê Professor Cerebrum. Hy haal die proefbuis uit sy sak en glimlag vir die eerste keer vandat Anja hom ontmoet het. “Nou kan ek uiteindelik die teenmiddel met ander mense deel!”

Anja lag. “En ons het iets nuuts oor zombies geleer! Reёl Vier van die zombie-apokalips: Om slimmer te wees as ʼn zombie, moet jy soms dommer wees as een!”

Die bure bly nooit lank nie

“Dis nou al die vierde gesin wat uit daardie huis uit trek,” sê Chris terwyl hy by die agterdeur uitkyk.

Die bure is besig om hulle laaste paar meubels op ʼn sleepwa te laai. Sy ma sê hulle het skaars drie maande gebly. Hulle het gereeld nuwe bure.

“Ek dink daardie plek spook,” sê Jaco. Hy is Chris se beste vriend. Sy ouer broer probeer hom altyd bang maak met allerhande scary flieks.

“Daar bestaan nie so iets soos spoke nie,” sê Chris.

“Hanno sê dat mense nooit lank bly in ʼn huis wat spook nie.” Jaco gaan staan langs Chris in die kombuisdeur.

“Jou boetie kyk te veel flieks,” sê Chris.

“Kom ons gaan kyk vanaand. As daar niks is nie, dan kan jy vir my sê I told you so. As daar iets is, het ons ʼn spook gesien, en hoe flippen cool is dit nie?” Jaco kyk opgewonde na Chris.

“Hoekom is dit so cool om ʼn spook te sien?” vra Chris.

“Want mense maak flieks daaroor, en mense maak net flieks oor goed wat cool is.” Hy het dit seker ook by sy boetie gehoor, maar hy het seker ʼn punt beet.

“Ons kan nie net by daai huis ingaan nie.” Chris staan en kyk vir die bure se huis.

Hy is tog nuuskierig oor wat daarbinne aangaan. Dit kan seker nie toevallig wees dat niemand ooit lank daar bly nie.

“Niemand bly meer daar nie, so op die oomblik is dit seker niemand sʼn nie,” sê Jaco en trek sy skouers op.

Chris sug en skud sy kop. “Het jy ʼn plan?”

Jaco begin entoesiasties verduidelik. Die plan is om dit baie laat in die aand te gaan doen, Jaco gaan oorslaap. Hy gaan met ʼn flits oor die muur klim, terwyl Chris, ook met ʼn flits, op ʼn stoel by die muur staan en uitkyk vir sy ouers.

Hulle gaan Chris se walkie-talkies gebruik om met mekaar te praat. Die bure het een van die vensters half oop gelos, Jaco reken hy sal dit verder kan oop kry, maar hy gaan eers kyk of die deur dalk oop is.

Na aandete gaan sit en wag hulle in Chris se kamer vir sy ouers om te gaan slaap. Hulle het klaar die walkie-talkies en kopliggies gereed. Daar hang ʼn verkyker om Chris se nek. Hy vee sy sweterige hande aan sy broek af, is dit regtig so ʼn goeie idee?

ʼn Sagte gonsgeluid breek die stilte. Beide seuns ruk effens. Chris voel die vibrasie teen sy bobeen. Hy het vergeet dat hy vroeër ʼn wekker gestel het. Die selfoon se skerm wys dat dit twaalfuur is.

“Ek dink hulle sal nou al slaap,” fluister hy. Hulle staan op en Chris gaan kyk by sy kamerdeur uit. Sy ouers se lig is af. Hy draai om en wys vir Jaco dat hy na die deur toe moet kom.

Hulle sluip op hulle tone deur die gang tot in die kombuis. Chris probeer sy bes om die agterdeur oop te sluit sonder om te raas. Hy sukkel vir ʼn oomblik om die sleutel in die gaatjie te kry. As sy hande net kan ophou bewe.

“Maak gou,” fluister Jaco. Chris hou sy vingers oor sy lippe en frons effens vir Jaco. Hy draai die sleutel stadig en die slot gaan met ʼn sagte klik oop.

Toe hulle uit die huis uit kom, hoor hulle sagte klikgeluide op die sement. Leo kom om die hoek van die huis en maak sagte tjankgeluide.

“Nee, bly stil, Leo,” sê Chris en begin hom vryf. As die hond sy ouers wakker maak is hulle aand verby.

“Ek gaan solank oorklim,” fluister Jaco. “Maak daai hond stil.” Hy trap op ʼn tuinstoel en lig homself oor die muur.

Chris hardloop by die huis in. Hy is weer op sy tone. “Stupid”, mompel hy vir homself.” Hulle moes aan Leo gedink het. Hy sluip reguit na die yskas toe, hy dink daar is nog rooiworsies oor.

Met verligting sien hy dat hy reg is. Hy haal die rooiworsie uit die yskas uit, en maak die deur saggies toe. Hy kyk vir oulaas weer by die gang af om seker te maak dat sy ouers se lig nog af is en sluip dan weer terug agterdeur toe.

Leo is in ekstase oor sy rooiworsies. Hy gaan sit op die gras en eet gulsig. Chris staan op die tuinstoel en kyk oor die muur vir Jaco. “Is jy reg?” fluister hy in die walkie-talkie in.

“Ja ek is reg, kan jy my hoor?” klink dit uit die walkie-talkie uit. Jaco begin na die huis toe loop.

Die droë gras kraak onder Jaco se voete. Die maanlig skyn silwer op die huis. Die stilte in die werf is om van mal te word. Al wat hy kan hoor, is sy voetstappe. Hy hoop dis net syne.

Die deurknop is yskoud in sy hand en dit draai maklik. Skielik wil hy nie meer ingaan nie.

Hoekom is die deur oop? Hulle sou dit gesluit het, sou hulle nie? Hy kyk terug na Chris toe. Sy kop en skouers steek bo die muur uit. Om nou uit te chicken is nie ʼn opsie nie, wat sal Hanno sê? Hy asem die koue aandlug diep in sy longe in.

Die deur swaai met ʼn sagte kreun oop. Dit voel vir Jaco asof daar ʼn ligte bries deur sy hare waai. Dit laat hom ril van sy kroontjie tot in sy groottoon.

Chris staan op die stoel en kyk hoe Jaco die deur oopmaak. Hy sit sy kopliggie aan en kyk deur die verkyker by die huis se vensters in. Dit lyk of meeste van die kamers leeg is, ten minste dié waarin hy kan sien.

Jaco skakel sy kopliggie aan. Dit skyn ʼn grys bal lig teen die vaal-wit mure. Daar is ʼn vrotterige reuk in die lug. Dalk ʼn dooie rot. Sy voetstappe eggo deur die leë huis, dit klink asof daar iemand in elke vertrek rondloop. Nog ʼn rilling kruip teen sy nek op.

Chris sien deur ʼn venster hoe Jaco in een van die kamers in loop. Daai ou is mal. “Hoe lyk dinge daar binne?” fluister hy. Hy sien hoe Jaco bietjie ruk toe hy die walkie-talkie hoor.

“Hier is nie veel om te sien nie,” sê Jaco, “sit af jou kopliggie, dit skyn in my oë.” Hy stap uit die kamer uit. Die gang voel skielik vir hom baie nou, asof die mure binnekort aan sy skouers gaan raak. Hy haal weer diep asem en blaas ʼn wit wolk uit. Die koue lug laat hom amper hoes.

Hy stap stadig by die gang af. By elke deur stop hy en stoot dit stadig oop. Elke keer is die kamer leeg. Daar is nog net een deur oor. Sy boetie sê in die flieks is die spook of monster altyd by die laaste plek waar ʼn mens kyk. Hy stoot die deur stadig oop. In die verte hoor hy hoe Leo begin blaf.

“Leo, bly stil!” fluister Chris. Leo staan met sy bene gebuig en blaf. Sy lippe trek weg van sy skerp tande af. Chris gooi nog ʼn rooiworsie voor hom, maar hy vat dit nie. Hy begin teen die muur op spring.

Chris klim van die stoel af en probeer vir Leo bedaar. “Shhh! Jy gaan vir Ma-hulle wakker maak!”

Die kamer is heelwat groter as die ander. Jaco stap in om beter te kan sien wat binne aangaan. Hy gaan staan by die venster wat die mense oop gelos het en kyk na waar Chris gestaan het. Leo blaf nog steeds. As Chris nie daardie hond stil kry nie, gaan hulle moeilikheid hê.

Na ʼn hele ruk se gevryf, begin Leo bedaar. Hy blaf nie meer nie, maak net klein tjankgeluide. Chris gooi vir hom nog ʼn paar rooiworsie. Hy luister om te hoor of sy ouers dalk wakker is. Vir ʼn oomblik dink hy sy pa gaan by die agterdeur uitkom maar daar is niks.

“Chri… wa… jy…” Chris skrik vir sy walkie-talkie. Hy druk die knoppie.

“Jammer ek het net gou die hond stil gemaak.” Hy klim weer terug op die stoel. Jaco se kopliggie skyn amper in sy oë. “Is alles nog reg?” vra hy.

Jaco begin aan die walkie-talkie klap, die flippen ding wil nie werk nie. Sy kopliggie begin aan en af flikker. Hy sit die walkie-talkie in sy sak en bekyk die kopliggie, hy wil nie in die donker wees nie.

Chris probeer agterkom wat aangaan. Jaco se lig het afgegaan, nou kan hy niks sien nie. Daar flikker ʼn lig en hy sien vir ʼn oomblik Jaco se gesig. Dan is dit weer donker. Nog ʼn flikker. Hy sien weer Jaco se gesig. En die man wat agter Jaco staan.

Hy val amper van die stoel af soos hy skrik. Dis weer donker in die kamer. Hy weet nie hoekom nie, maar hy spring oor die muur. Sy asem brand koud in sy longe terwyl hy oor die grasperk hardloop Hy moet vir Jaco help.

Jaco is nog besig om met sy kopliggie te sukkel. Hy moes geweet het Chris gaan vir hom die slegte een gee. Skielik skyn daar ʼn helder wit lig in sy gesig.

Chris staan by die venster en probeer vir Jaco beduie. “Agter jou!” skree hy.

Jaco draai om. Hy kyk in ʼn wit benerige gesig vas. ʼn Man met ʼn bleskop en ʼn grys stoppelbaard staan vir hom en kyk.

Kom uit my huis uit!” gil hy. Dit klink nie of die klank deur sy mond kom nie, maar uit die mure en die dak.

Die ou man se stem tref Jaco soos ʼn emmer yswater. Voor hy kan keer, gil hy uit sy maag uit. Hy wil ʼn tree terug gee, maar hy voel die venster teen sy rug. Sy bene begin bewe, maar hy veg daarteen. Jy kan nie weghardloop met bewende bene nie.

Chris hardloop voordeur toe. Toe hulle sien dit was oop, moes hulle geweet het daar is moeilikheid. Hy is op pad om by die deur in te hardloop, toe dit met ʼn donderende knal toeklap. Die deur wil nie weer oopgaan nie. Leo begin weer blaf.

Die ou man stap op Jaco af. Sy lippe trek oop en ʼn ry geel tande kom te voorskyn. Jaco besluit genoeg is genoeg. Hy hardloop na die voordeur toe. Die ou man se roggel weergalm agter Jaco deur die kamer. Is sit sy asem wat hy in sy nek voel?

By die voordeur sien hy hoe die handvatsel beweeg. Dis Chris wat die deur probeer oopmaak.

“Dis gesluit!” skree Chris. Jaco het nie nou tyd om te wonder nie. Die deur was oop toe hy ingekom het, en nou is dit nie. Hy kan niks daaraan doen nie. Net hardloop.

Hy kyk agter hom. Die kamer is pikdonker. Hy probeer weer sy kopliggie aansit. Dit gaan aan. Die ou man staan in die gang. Hy begin vinnig op Jaco afsweef. Jaco koes en voel ʼn kou wind teen sy arm. Hy hardloop weer gang toe.

Die ou man se roggel is weer in Jaco se ore. Hy hardloop by die laaste kamer in die gang in en slaan die deur toe. Die ou man steur hom nie aan die deur nie. Jaco hardloop na die venster toe en duik soos ʼn swemmer daardeur. Sy bene tref die vensterbank.

Chris gryp vir Jaco onder sy arms en help hom op. Hulle hardloop muur toe. Chris is vinnig oor. Jaco dink dis die vinnigste wat hy nog ooit oor ʼn muur gespring het. Hy kan nie eers onthou of hy sy hande gebruik het nie, dalk het hy oor dit gespring asof hy hekkies hardloop.

Chris en Jaco lê in die kamer, niemand het nog enigiets gesê vandat hulle in hulle beddens gaan klim het nie.

Na ʼn ruk praat Jaco. “Ek het jou gesê dit gaan cool wees.”

Weerwolf

Ek onthou nog daardie aand asof dit nou net gebeur het. Hoe kan enige iemand so iets vergeet? Ma en Pa dink seker ek het al vergeet, ek was tog so klein, seker nie meer as vier jaar oud nie. Maar sulke goed bly by ’n mens, my drome laat my nie toe om te vergeet nie. Dit was ’n aand net soos vanaand, die volmaan…

***

Die volmaan skyn vaal tussen die boomtakke deur. Pa sê dis al amper middernag. Die perd se hoewe maak dowwe plofgeluide op die grondpad en daar kom ’n wit wolk by sy neusgate uit elke keer wat hy uitasem.

“Ons moes nie so laat gery het nie,” sê Pa. Hy vee met sy een hand oor sy voorkop en vee sy hande een vir een aan sy baadjie af.

“Ag Hendrik, jy weet mos hoe Stoffel kan raak, as hy eers begin met ’n storie kan hy nie ophou nie,” fluister Ma.

“Watter tipe dominiee vertel sulke stories? Hy gaan vir Henkie laat sleg slaap.”

“Ons moet bevoorreg voel dat die dominiee ons genooi het vir aandete,” probeer Ma die vrede bewaar.

Pa trek aan die leisels om die perdekar tot stilstand te bring.

“En nou Hendrik?” vra Ma verbaas. “Ek dink jy het vir Henkie wakker gemaak.”

“Ek dink ek het iets in die bos gesien, ek gaan gou kyk.” Hy begin van die perdekar af klim.

“Maar ons is amper by die huis, ek kan al die windpomp sien,” kerm Ma.

“Dit kan nie langer wag nie, Anna!” bulder Pa. Hy haal diep asem. “Moenie bang wees nie, ek sal nou terug wees, as enige iets gebeur, gryp vir Henkie en roep my naam, ek sal jou hoor.” Voor Ma nog iets kan sê hardloop Pa tussen die bome in.

“Waarheen gaan Pappa?” vra ek.

“Hy gaan net iets kyk, hy sal nou terug wees, kom, jy kry seker koud.” Sy gooi ’n dik kombers oor ons.

Die geluid van ’n tak wat kraak verbreek die stilte. Dit ruk my uit my warm, ongemaklike slaap uit.

“Wat is dit?” vra ek met ’n bewerige stem.

“Dis seker jou pa wat terug kom, slaap maar verder.” Ek kan voel hoe haar hand op my skouer bewe.

Ons kan nou nie meer so goed sien nie, die mis begin dik oor die pad hang. Daar is weer die geluid van takke wat kraak. Dié keer nader. Ma druk my stywer teen haar vas. Ek dink sy is besig om iets te fluister.

“En vergeef ons onze schulden…” Hoekom bid sy?

Hierdie keer kom daar ’n ander geluid tussen die bome uit. Dit is nie ’n tak wat kraak nie. Ek gryp die kombers tussen my vingers vas toe ek dit hoor. Pa moet nou terug kom. Daar is dit weer. ’n Diep donker gromgeluid.

“Zoals ook wij vergeven,” bid sy nog steeds.

Ek kyk in die mis in. Ek kan die skaduwee bome sien. En twee kolle. Twee rooi kolle. Hulle beweeg heen en weer. Daar begin ’n skaduwee om die twee kolle vorm. Dit lyk eers soos ’n man. Maar mense het nie sulke ore nie.

“Aan onze schuldenaren.” Ma begin nou harder bid.

Sy sit en wieg met my in haar arms. Is dit wat Pa in die bosse gesien het? Skielik verander die grom in ’n brul. Die skaduwee beweeg na die agterkant van die perdekar toe.

Die perdekar ruk terwyl iets op die dak land. Ma begin nog harder bid, sy skree nou die Onse Vader.

“En leid ons niet in verzoeking, maar verlos ons van de boze!” Haar stem breek met die laaste woord.

Die perd begin hardloop. Dan is die skaduwee op hom. Hy sak inmekaar en dit klink amper as of hy gil. Die perdekar kom tot stilstand en ek en Ma val amper vooroor.

Weerwolf

Die skaduwee draai om. Hy kry ’n gesig. Daar is ’n bloederig snoet wat blink in die maanlig. Kort, harde gromme kom tussen massiewe skerp tande uit. Drade bloed hang by hulle af.

Daardie rooi oë kyk honger vir my terwyl die dier op twee bene na ons toe stap. Hy buig sy bene en maak reg om te spring. Dis die laaste wat ek gesien het. Ma vou ons soos ’n kokon in die kombers toe. Sy gaan lê bo-oor my.

Ek voel hoe ek harder teen die bankie vasgedruk word. Die dier se geroggel is nou oorverdowend. Ma gil in pyn, en ek voel hoe iets nat op my hand drup.

“HENK! HENK!” gil sy.

Die roggel verander eers in ’n grom en dan in swaar asemhaling. Ma klim van my af en ek kruip onder die kombers uit. Pa is op sy hande en knieë voor die perdekar. Hy het niks anders as ’n vervlenterde broek aan nie.

“Dankie, Anna,” sug hy, “Jy het my bevry.”

***

Die volmaan skyn nou weer vaal oor die veld. Ek sit onder ’n peperboom en klou aan ’n kombers vas. Wit wolke kom by my mond uit as ek asem haal. My hande begin sweet.

Ek moet dit terug hou. Ek het nie gedink dit sou nou al gebeur het nie. Ek is nog te jonk. My mond begin oopgaan terwyl my tande begin groei. Ek kan sien hoe my skoolhemp se knope begin styftrek en losskiet.

Ek probeer skree. Al wat uitkom is ’n grom. Ek wens hier was iemand om my naam te sê.

DIE EINDE

***

Hierdie kortverhaal is gebaseer op die gedig, The Werewolf deur Hans Christian Andersen en vertaal deur Anne Bushby. Ek het dit die eerste keer in die boek Wulf: Tales of wolves and werewolves gelees en dit is, so ver ek kon navors, die eerste keer in 1881 gepubliseer in The New monthly magazine. Ek het dit herskryf as ’n kortverhaal in ’n Suid Afrikaanse konteks. (Johannes Coetzee)

‘n Nag in September

Deel 1

’n Blou oog, detensie en bowenal het hy nog die bus ook verpas. Kevin stap huis toe na skool. Skool is nooit lekker vir hom nie, maar vandag was bietjie erger as gewoonlik. Vir Kevin is die klas nie so erg nie, maar sodra die klok vir pouse lui, kan hy nie help om te voel hoe sy hart losruk in sy borskas nie. Groot Frikkie en sy twee skoothonde, Robbie Rooies en Ou Valie, teiken hom altyd as hulle die dag lus voel om iemand te boelie.
Al drie van hulle is drie jaar ouer as Kevin. Eerste pouse het Kevin in juffrou Katrien se klas gesit om die volgende dag se huiswerk te doen en, wel, om uit Groot Frikkie se pad te bly.

Teen tweede pouse het die wolke toegetrek en die reën het hard op die skool se groen dakke geval. Die stoepe was vol kinders wat wil skuiling soek teen die reën en dit was moeilik om daarop te loop sonder om iemand so af en toe te stamp.
Kevin het twintig rand uit sy kous uit gehaal, wat hy wegsteek vir Frikkie, en agter in die snoepie ry gestaan – halfpad in die reën. Tweede pouse is net tien minute lank en partykeer lui die klok voordat mens iets kon koop. Kevin was derde van voor af toe Groot Frikkie voor hom kom indruk het. Dié lummel gryp hom toe teen die bors, maar Kevin trap, sonder om te dink, met alle krag op Frikkie se toon.
“Eina! Eina, eina, eina! My seer toon! Ek dink hy bloei weer!” het Frikkie gegil. Met alle geweld gooi Frikkie toe sy vuis teen Kevin se linkerwang. Frikkie huppel op een been met sy een voet in sy hand en met een blitssnel beweging het sy ander voet onder hom uitgegly op die nat teëls.

Kevin kan nie help om te lag as hy dink aan die skril gil wat Frikkie gegee het nie; en sy gesigsuitdrukking is onvergeetlik. Die stomme ou se toon was seker aan die brand, dink Kevin by homself. Daai bietjie humor het Kevin ’n uur detensie na skool gekos en sy bus huis toe, maar dit was als die moeite werd.

Kevin is twee blokke van die huis af. Dit reën nog liggies en hy kan voel hoe die modder van sy skoene af teen sy kuit spat. Kevin is verbaas om nie vir Frikkie en sy trawante by die hoekkafee raak te loop nie. Hulle koop gewoonlik kougom daar en spandeer die hele middag in die strate op hulle fietse. Kevin loop ingedagte toe hy Frikkie se stem hoor.
Hy vries.
Vandag is die dag wat Kevin Oosthuizen sowaar met twee blou oë huis toe gaan, dink hy.
Kevin kyk om en kan die verligting tot in sy skoene voel toe hy sien dat Frikkie aan die ander kant van die sportgrond se heining staan.
“So, jy dink jy is groot en sterk omdat jy vandag gedink het jy kan my seer maak, Oosie?” vra Frikkie. Kevin kan in Frikkie se stem hoor dat sy ego bietjie seer gekry het. Dit is verstaanbaar, want amper die hele skool het vir hom gelag; tot die tannie wat in die snoepie werk.
“Ek het net vir myself opgestaan, Frikkie. Dit is jy wat begin het. Jy het voor my ingedruk. Jy het gekry net wat jy verdien, Frikkie.”
“As jy dink jy is man genoeg om mý aan te vat moet jy dit bewys; voor die hele skool.” Frikkie sê dit met ’n breë glimlag op sy gesig. Kevin weet dat hy nooit ’n vuisgeveg met Frikkie sal kan wen nie. Sonder verdere gesprek stap Kevin weg en vermy Frikkie sover hy kan.
“Ja, net soos ek gedink het,” skree Frikkie agterna, “jy is te bang vir ’n geveg! Bang, bang sê ek jou!”
Kevin stap weg voordat hy homself in moeilikheid kry wat hy nie sal kan hanteer nie.

Frikkie se woorde weergalm in Kevin se kop.
Ek is tog nie bang nie, dink hy, ek is net baie slim. Dit sal baie dom wees om ’n geveg met Frikkie te soek. Hy is amper drie keer my grootte. Ek wonder wat sal hy doen as hy bang was? Hy sal seker soos ’n maer vark skree. Kevin onthou die keer toe hulle op die uitstappie na die pretpark toe was. Frikkie wou ewe vir Lunette Vries beïndruk deur, soos hy self gesê het, “’n vinnige stappie deur die spookhuis te vat”.
Hy het so bleek daar uitgestorm dat hy self soos ’n spook gelyk het. Sy gesig was so wit dat juffrou Anette hom nie, met haar bril op, kon herken nie.
Dit is toe Kevin dié plan van aksie uitdink. Hy gaan nou vir Frikkie ’n les leer. Hy gryp sy foon en begin vinnig met beide duime daarom tik.

boodskap

Die vlieënde Hollander

Deel 1

“Daar bestaan nie so ‘n ding soos spoke nie, man,” grom ek vies.

“Maar boetie, ek het regtig gisteraand een gesien. Hy was in my kamer,” neul die sesjarige Tanya eenstryk deur.

“Nou gaan sê vir Ma daarvan, miskien sal sy die spook vanaand vir jou kom wegjaag,”

“Nee, maar die spook het gesê hy wil vir jou sien.”

“Ag oukei, ek sal vanaand by jou kom sit tot jy slaap en die spook wegjaag, maar dan moet jy nou loop. Ek kan nie graad tien wiskunde probeer deurkom en na jou luister nie.”

Doodtevrede omdat sy haar sin gekry het, swaai Tanya om en trippel die kombuis uit.

“Klein sussies,” mompel ek, terwyl ek weereens na die algebrasom kyk wat vir my na Grieks lyk in plaas van syfers.

Moeg gooi ek my skooltas op my bed neer. Vandag se rugbyoefening voel of dit erger was as gewoonlik. Miskien is dit maar net omdat ek gisteraand minder as gewoonlik geslaap het. My ma loer opgewonde om my kamerdeur

“Thinus, ek en pa gaan vanaand uit. Jy moet asseblief mooi na jou sussie kyk vanaand. Ons sal vir julle roomys bring na die vertoning.” My ouers was lanklaas vir ‘n aandjie alleen uit en ek gun hulle dit.

“Dis reg so, Ma. Julle moet dit geniet.”

“Gaan jy vir my storie lees?” vra Tanya en hou ‘n groot prenteboek met ‘n breë glimlag na my toe uit. Ek vat die boek by haar en loop saam met haar na haar kamer toe. Na sy uiteindelik vir haar ‘n gemaklike posisie gekry het om te lê gaan sit ek langs haar en slaan die boek oop. Toe sy uiteindelik aan die slaap raak, staan ek so saggies as moontlik van die bed af op. Hopelik droom sy nie weer van spoke vanaand nie.

Ons huis se ou houtvloere kraak onder my terwyl ek traag na my kamer toe loop waar ‘n hoop huiswerk vir my wag. Teen twaalf uur maak ek uiteindelik klaar met die laastes. Nie lank daarna nie lê ek in my bed en alhoewel ek baie moeg is, raak ek nie aan die slaap nie. Eers op die een sy en toe op die ander, dan my maag en laastens my rug, maar al wat kom is slaap. ‘n Plank wat skielik kraak in die gang laat my my ore spits, maar toe ek niks verder hoor nie, raak ek weer rustig. ‘n Rukwind laat my kamerdeur met ‘n slag toeslaan. Ek sit regop in my bed en kyk na my deur, maar ek sien niks. Skielik kraak ‘n plank hier reg langs my bed asof dit enige oomblik gaan breek. ‘n Swart gedaante toring oor my bed. Al wat ek kan sien is twee rooi oë wat soos kole gloei. Ek steek my hand uit om my bedlamp aan te sit, maar die gedaante gooi dit van my bedkas af.

“Los uit daai ding, wil jy hê die hele wêreld moet weet ek is hier?”

Die gedaante se stem klink soos ‘n donderstorm en ek verbeel my dat ek veraf branders teen rotse hoor vasslaan.

“Wie is jy?”

Ek probeer braaf klink, maar faal liederlik, want my stem klink soos die van ‘n muis.

“Ek is Hendrik van der Decken, kaptein van die Vlieënde Hollander.”

“Wat de ongeluk is jy? ‘n Spook?”

Die gedaante klink amper teleurgesteld oor die opmerking.

“Ek is nie ‘n spook nie, ek is ‘n regte mens. Waar kom jy daaraan dat ek ‘n spook is?”

 Hierdie moet ‘n mal man wees, maar hoe op aarde het hy in ons huis gekom. Was dit hy wat gisteraand by Tanya was?

“Al die legendes sê dat jy ‘n spook is.”

“Wel ek is nie, voel hier.” Hy gryp my hand en druk dit onder sy baadjie in. Teen my hand voel ek yskoue been… ribbes! Ek ruk my hand weg en val byna van my bed af soos ek gril. My skrik spring ook sommer by die deur uit.

“Is jy nou simpel man, dink jy ek wil aan jou binnegoed vat? Sies!”

“Sien, dis hoekom ek jou uitgekies het, jy is nie bang soos die ander kinders van jou ouderdom nie.”

Willemien en die Hê-monster

Deel 1

Willemien pak opgewonde haar tandeborsel heel bo in haar tas, rits die sluiter toe en sleep hom van die bed af deur toe waar die res van haar goed reeds reg staan.

Die tyd het uiteindelik aangebreek. Hulle vertrek vanmiddag op die koortoer na Kaapstad, waar Willemien se skoolkoor saam met ses ander kore van regoor die land aan ʼn groot kompetisie gaan deelneem. Willemien mik spieël se kant toe, sy wil net ʼn laaste keer haar solo oefen.

“Willemien! Het jy jou tandeborsel ingepak? Jy moet opskud, ons gaan laat wees!” roep haar ma in die gang af.

“Ek is klaaaar!” skree Willemien terug.

“Moenie op my skree nie, Willemien, loop hierheen en kom sê dit vir my!” antwoord haar ma.

Voor haar ma haar weer roep, gryp Willemien haar kussing en tas om dit solank kar toe te dra, ook net betyds want sy hoor hoe haar pa ongeduldig op die kar se toeter blaas. Terwyl haar pa haar tas inlaai, hardloop sy vinnig terug om haar griller storieboeke te kry, sy het amper daarvan vergeet! Met haar boeke veilig onder haar arm klim sy solank in, vandag is nie die dag wat daar vir haar weggery gaan word nie.

Willemien waai tot sy seker is haar ma en pa kan haar nie meer sien nie, dan sak sy terug op die sitplek. Sy kan nie glo hulle is uiteindelik op pad nie. Juffrou Nadia staan nog verbouereerd voor in die bus en kyk of almal sitplek het. Sy is eintlik bietjie deurmekaar dink Willemien, sy het amper die bus gemis en sy het haar handsak by die huis vergeet.

Juffrou Nadia het gesê dit gaan te duur vir die skool wees om vir almal vliegkaartjies te koop, nou gaan hulle twintig ure lank op die bus ry. Dit pla Willemien nie eintlik nie sy het twee nuwe grillerboeke in haar padkossakkie gepak en nou gaan sy bietjie tyd hê om dit klaar te lees en haar maats dan met die stories bang maak.

Willemien kyk by die venster uit

Sy neurie een van die liedjies vir die kompetisie terwyl sy by die bus se venster uitkyk na hoe die dorp in veld verander soos hulle die hoofweg Kaapstad toe vat.

“Vals Willemien, wille Willemien, jou hare voel soos gras, Willemien!” tart Bennie haar terwyl hy oor die sitplek hang en aan haar poniestert trek.

Willemien swaai om en gryp vir Bennie aan die oor. “EINA!” roep Bennie benoud en onnodig hard, sy het nog nie eens getrek nie.

“Willemien! Los vir Bennie uit! As ek met julle gaan sukkel laai ons julle nou af en toer sonder julle!” raas juffrou Nadia kwaai van voor in die bus.

Willemien beland altyd in die moeilikheid as sy met Bennie begin baklei en sy wil nie nou al die toer suur maak nie, sy los maar eerder sy oor en draai terug in haar sitplek. Sy voel hoe Bennie ʼn laaste geniepsige trek aan haar poniestert gee maar ignoreer dit eerder.

Willemien kry haar boek uit haar padkossakkie en kort voor lank is sy verlore in die storie van die spookdorp met die monster wat alles verorber wat hy sien, Willemien kry sommer hoendervleis oor die grillerige groen gedierte en kort voor lank pla die knaende Bennie se stem haar nie meer nie.