Dit is ‘n warm Desembermiddag en Lientjie is op pad na Gawie-se-gat,
‘n verlate kwarrie net buitekant Grawanietburg. Haar ma het vir haar
gesê om badwater te gaan haal, maar Lientjie besluit sommer dat sy ‘n
bietjie gaan swem omdat dit verskriklik warm is.
“Parram parram parram Daar is paddas in die dam En kwarrie net vir my Om die hitte te bestry,” sing Lientjie terwyl sy die kwarrie se hek oopmaak.
Sy huppel dan na ‘n groot rots aan die rand van die kwarrie, toe en dan duik sy in die water in.
Toe sy uit die water uit klim sien sy ou vrou, met ‘n
boggelrug en ‘n kierie in haar hand, op ‘n bloekomstomp sit en huil.
“Waarom huil tannie so?” vra Lientjie besorg en loop nader aan die ou vrou.
“Die wind het my kopdoek van my kop afgewaai,” snik die ou vrou en wys na ‘n rooi kopdoek wat op ‘n klip lê.
“Nou waarom tel tannie dan dit nie net op nie?”
“Ek kan nie,” snik sy. “My rug is te seer en daarom kan ek nie buk nie. Sal jy dalk vir my hom optel asseblief?”
“Natuurlik sal ek!” sê Lientjie en buk om die kopdoek op te tel.
Toe sy aan die kopdoek raak, sprei hy skielik uit en vou om
haar toe. Lientjie probeer met alle mag om uit die kopdoek los te kom,
maar hy trek net stywer om haar toe. Die ou vrou lag uitbundig en sê
dan:
“Segen vader Segen sop My doek vreet nog ‘n kindjie op. Kort voor lank Nog voor sonop het ek, Moshoushou ‘n nuwe marionetpop!”
Moshoushou sleep Lientjie tot by ‘n houthuisie. Lientjie sien deur
‘n gaatjie hoe Moshoushou haar deur die huisie sleep tot by ‘n hysbak
se deur. Moshoushou trek die hysbak se traliedeur oop, sleep Lientjie
in die hysbak in en dan trek sy weer die traliedeur agter haar toe.
Daarna stamp sy haar kierie drie keer teen die hysbak se plafon. Die
hysbak gee ‘n ruk en dan begin hulle sak.
Die lug om hulle raak bedompiger en warmer soos wat die hysbak verder af beweeg. Die hysbak kom uiteindelik met ‘n ruk tot stilstand en Lientjie hoor hoe die traliehek weereens oopgaan. Moshoushou sleep haar vir so entjie oor die nat, koue vloer en dan voel Lientjie hoe sy deur die lug trek. Wanneer sy op die grond neer val vou Moshoushou se towerdoek oop.
Die eerste maal wat Hein die hangkas gesien het, het hy geweet iets omtrent dié meubelstuk is vreemd. Hein se pa versamel antieke meubels en hierdie meubelstukke staan die hele huis vol. Die ander meubelstukke het nog nooit vantevore die hare op sy lyf laat rys nie, maar hierdie hangkas… hierdie hangkas is anders.
“Die kas lyk stokoud, Pa. Nee, oeroud,” sê Hein en staar na die ongewone hangkas. “Moet nie vir jou laf hou nie, Hein! Dit is ‘n klassieke stuk,” sê Hein se pa en hy vee met sy hand oor die donker hout voordat hy by die studeerkamer uitstap. Hein bly doodstil voor die hangkas staan. Hy voel met sy vingerpunte aan die hout. Dit is grof en die vernis dop plek-plek af. Terwyl sy vingers oor die hangkas se deur gly, kraak die hangkas skielik. Hein trek sy hand vinnig terug en tree agteruit. “Wat op aarde sien Pa in hierdie hangkas? Dis vrek lelik! Die knobbelrige pote en die geroeste deurknoppe… En vir wat moet dit ook nog hier in ‘n donker hoekie in die muwwerige studeerkamer staan?” dink Hein terwyl hy na die ligskakelaar loop. Sy vinger rus nog op die skakelaar toe die hangkas se deure met ‘n gekraak oopswaai. Hy skrik so groot dat hy reguit by die deur uithardloop en oor Kerneels, die huiskat, val. Hy lê plat op sy rug in die gang en kyk hoe Kerneels in die studeerkamer besig is om die hangkas te verken.
“Pa, hoekom kraak die nuwe hangkas so?” vra Hein terwyl hulle met aandete aan tafel sit. “Dit is ‘n ou hangkas, Hein. Ek is seker die skarniere kort net ‘n bietjie olie,” sê sy pa en vat ‘n hap van sy kapokaartappels. Tevrede met sy pa se antwoord gaan Hein voort om die ertjies in sy bord met sy vurk rond te stoot. Na ete gooi Hein se ma soos gewoonlik ‘n bietjie melk in ‘n piering vir Kerneels. “Kerneels!” roep sy ma na die kat. “Keneeeels!” roep Hein se baba sussie agterna. Gewoonlik kom Kerneels dadelik aangehardloop, maar hy is nêrens te sien nie. “Waar kan daai kat tog nou wees? Wil jy nie gaan kyk of jy hom iewers sien nie, Hein?” vra sy ma en begin om die vuil skottelgoed in die skottelgoedwasser te pak. “Kerneels… Kerneels! roep Hein soos wat hy van die een kamer na die ander loop en soek. By die studeerkamer gaan staan hy stil. Onseker of hy moet ingaan, loer hy stadig om die deurkosyn. “Kerneels!” roep hy weer, maar die kat is ook nie in die studeerkamer nie. “Ma, ek kry nêrens vir Kerneels nie. Dalk moet ons buite gaan soek,” sê Hein en beduie na die voordeur. “Hein, gaan haal gou my jas uit die nuwe hangkas dan help ek soek,” sê sy pa waar hy nog aan tafel sit en koerant lees. “Die nuwe hangkas? Maar…” Hein besluit om eerder nie teë te praat nie. Hy sluk aan die knop in sy keel en stap na die studeerkamer. Hy gaan staan voor die hangkas en sy arms hang roerloos langs sy sye. Stadig tree hy nader en steek sy hand uit na die geroeste deurknoppe. Die growwe deurknoppe laat hom gril. Hy haal diep asem en trek aan die deurknoppe. “Krrrrrrrr,” kraak die hangkas soos wat die deure oopgaan. Hein laat los dadelik die deurknoppe en vee die sweet van sy voorkop af. “Komaan! Jy kan tog nie bang wees vir ‘n simpel ou hangkas nie!” praat Hein homself moed in. Hy begin om tussen al die klere na sy pa se jas te soek.
“Ah! Het hom,” sê Hein verlig toe hy op sy pa se swart jas afkom. Hy vat die hanger vas en lig die jas van die reling af. Agter sy pa se jas vang sy oog ‘n skielike beweging. “Wat? Dit het dan nou net soos ‘n harige klou met lang naels gelyk… Komaan! Hou op om jouself te verbeel!” Hein gooi die jas oor sy arm en slaan die kas met ‘n harde slag toe. “Krrrrrrrr,” kraak die hangkas weer. Die keer harder as die vorige keer. Die jas val van Hein se arm af en hy staan onseker na die kas en kyk. “Kerneels! Ek het vir Kerneels die laaste keer in die studeerkamer gesien!” besef Hein. Hy tel die jas op en hardloop na die kombuis. “Paaaaa! Die hangkas… Die hangkas het…” sê Hein uitasem “Wat sê jy van die hangkas?” vra sy pa. “Daar is iets… ‘n ding in die hangkas! Dit het Kerneels….” “Jy is nou laf, Hein!” val sy pa hom in die rede. “Nee, regtig. Ek het die ding gesien! Dis harig en het skerp kloue!” “Hein, wat is dit met jou en daardie hangkas? Dit is ‘n doodgewone hangkas. Kerneels moet hier êrens wees. Kom ons gaan soek buite,” sê Hein se pa.
“Ek is seker daai ding in die hangkas het vir Kerneels gevang… of nog erger… geëet! Hoekom anders kon ons hom dan nêrens kry nie?” dink Hein terwyl hy in sy bed lê. In sy gedagtes sien hy weer die harige klou agter sy pa se jas. Hy sien sommer hoe die klou vir Kerneels in die hangkas intrek en hy hoor weer die kraakgeluide. “Vir wat moet my kamer reg langs die studeerkamer wees?” wonder Hein en hy trek die lakens oor sy kop. So lê hy totdat hy dit hoor. “Krrrrrrrr. Krrrrrrrr…” kraak die hangkas.
“Vrek! Dalk is die ding in die kas weer honger,” dink Hein. Die knop in sy keel is weer terug en hy voel hoe die sweet op sy voorkop uitslaan. Hy spring uit die bed, sluk aan die knop in sy keel en loop tot by sy kamerdeur. Stadig loer hy om die deurkosyn na die studeerkamer. “Krrrrrrrr!” kraak die hangkas weer. Hy stamp sy kop teen die deurkosyn soos hy skrik. Hy slaan sy kamer deur toe, loop half dronk van die harde hou terug bed toe en trek sy kussing oor sy kop.
“Môre, Ma,” sê Hein half deur die slaap en vat ‘n sluk van die koffie wat sy ma op die bedkassie neergesit het. Hy klim uit die bed en gaan staan voor die spieël. Hy sien die yslike knop op sy voorkop en vryf ingedagte daaroor. Alles wat die vorige aand gebeur het kom weer terug na hom toe. “Die hangkas, Kerneels, die harige ding… en die kraakgeluide!” dink Hein benoud. Hy loer weer om die deurkosyn na die studeerkamer, maar dis doodstil. Hy hoor sy ma en pa in die kombuis en die geluid van sy sussie se ratel, maar geen kraakgeluide nie. “Sjoe, dankie tog! Ek moet weet wat in die hangkas wegkruip!” dink Hein en sien dan sy skoolklere wat op sy bed lê. “Vrek! Ek sal eers vanmiddag na skool kan gaan kyk!” Hein trek ongeduldig sy skoolklere aan en stap na die kombuis. “Ma, ons kan maar ry. Ek is reg,” sê Hein en gooi ‘n appel in sy skooltas. “Hoe vinniger ek by die skool kom, hoe vinniger kan ek terug kom om na daai dekselse ding in die kas te soek,” dink Hein en trek senuweeagtig aan sy skooldas. “Ek pak net gou die skottelgoed in die wasser dan kan ons ry. Gaan haal solank jou sussie, asseblief. En maak tog seker dat haar ratel saamkom,” vra Hein se ma. “Waar is Sussie?” vra Hein en plak sy skooltas op die kombuistafel neer. “O, Sussie is in die studeerkamer.” “Wat? Die studeerkamer? Nee, dit kan nie…” Hein hardloop in die gang af en by die studeerkamer in. Die hangkas se deure staan wawyd oop, maar daar is geen teken van sy sussie nie. “Sussie!?” roep Hein. Stadig stap hy tot voor die hangkas. Hy staar na die klere wat in die kas hang. Dan vang sy oog die helder geel speelding wat onder in die kas lê. Hy buk om dit op te tel, maar hy weet alreeds wat dit is. Die knop in sy keel is weer terug en sy hele lyf bewe nou. Hy kyk met groot oë na sy sussie se geel ratel in sy bewende hand. “Sussie!” roep Hein en stoot die klere versigtig eenkant toe.
“Pa, Dawie gaan vandag hiernatoe kom. Ons moet aan ‘n wetenskaptaak werk.” George staan langs die tafel waar sy pa woordeloos na die koerant sit en kyk. Hy begin ongemaklik na die dak kyk, dan na die vloer en dan weer na sy pa wat met sy neus in die koerant sit. “Oukei, Pa, um, ek sal later weer vir Pa tee maak. Ek sien Pa het nog nie die ander tee gedrink nie. Was dit nie lekker nie? Was dit te warm of te koud of – ” Die voordeurklokkie se gelui onderbreek hom. Hy kyk na die deur en dan weer na sy pa voor hy vinnig wegstap om die deur oop te maak.
Dawie stap in en kyk na die man wat by die tafel sit. “Hallo, oom.” Die man antwoord nie. George sien hoe Dawie effens ongemaklik lyk. “So, jy moet my help met hierdie flippen taak van ons. Ek kan nie gat of kop uitmaak hoe ‘n mens daardie goed doen nie. Kilopascal? Hoe verveeld moet jy wees om te probeer uitwerk hoeveel druk… um… ja. In elk geval. Ek het nie ‘n clue wat hier aangaan nie.” “Wel, dis nie so moeilik nie. Eintlik heel eenvoudig. Maar wil jy iets drink?” “Het jy bier? O, ja, jy is mos die nerd. Coke sal reg wees, dankie.” George voel hoe sy gesig rooi raak van woede maar gaan aan asof niks fout is nie. “Sit sommer in die sitkamer. Ek dink my pa sal tee wil hê so ek gaan net gou tee maak ook. Ek’s nou daar.” “Oukei.” George stap kombuis toe, gooi koeldrank in en maak tee. Hy vat eers die tee na sy pa toe. “Hier is Pa se tee. As dit nie reg is nie kan Pa maar vir my sê. Of Pa kan dit uitgooi of vir die kat gee of dit net hier los, dan maak ek ander tee.” Maar sy pa ignoreer hom heeltemal. George krap sy voorkop, vryf met sy hand oor sy gesig, kyk na sy pa en stap weg. Hy kry die koeldrank en stap na die sitkamer waar hy die koeldrank aangee en op die bank oorkant Dawie gaan sit. Die kat wat op die bank lê is min gespin oor die seun wat langs hom kom sit. Hy lê doodstil, selfs al vryf George hom agter die ore. “Hoor hier, ou, wat gaan aan met jou pa? Die dude sit net daar en lees koerant. Hy het gister ook die hele dag daar gesit.” “Hy sit maar so en lees, jong. Hy is so stil vandat my ma oorlede is. Dit het hom nogal geknak.” “Hoe lank terug was dit? Ek dog hulle is geskei of iets.” “Um, dit was so tien jaar terug. Ek was sewe.” “Jis, dis nogal ‘n taai een.” “Ja. Maar kom ons begin nou werk.” “Ek wil net eers badkamer toe gaan. Dis daar bo, nè?” “Ja dit is. Maar maak gou; ons het baie werk om te doen voor jy die ding môre kan ingee.” Dawie stap weg en George hoor hoe hy ekstra stadig verby die man by die tafel stap. Na ‘n paar minute hoor hy die toilet spoel, die deur oopgaan en die voetstappe by die houttrappe afkom. Die tempo is weer stadiger deur die eetkamer. “Ek wil nou nie snaaks wees nie, Oom, maar daardie koerant is al twee dae oud.” George voel hoe die skok en vrees in hom opstoot en hoe hy yskoud raak. Hy staan vinnig van die bank af op en stap na die sitkamer toe. “Dawie, ons moet nou werk. Jy gaan nie klaarkry nie.” “Maar die koerant is dan gister s’n. Ek weet want ek was gister weer op die voorblad vir die provinsiale kleure wat ek vir rugby gekry het. Vir wat lees hy die ding twee keer?” “Jy moet regtig jou werk doen, Dawie.” George vroetel senuweeagtig met sy hande in sy broeksakke. “Dalk is daar interessante artikels in, nè, Pa? Kom net sitkamer toe dan werk ons.” Hulle stap na die sitkamer toe en George begin die werk verduidelik. Dawie kyk elke nou en dan terug om die man wat aan tafel sit dop te hou. “So, die kilopascal is om te meet hoeveel – “ “Dude, wat gaan aan met jou pa? Regtig, nou, hy sit net daar. Dis moerse freaky. En jou kat ook. ‘n Mens sal sweer hulle is gevrek of iets. En jou pa ruik funky. Hy het gister ook daardie klere aangehad.” George voel hoe woede in hom opstoot. Hy antwoord egter nie sy vraag nie. “Nou dat ek daaraan dink, ons het moontlik bier in die yskas. Ek dink my pa het gekoop. Stap saam dan kyk ek vir jou.” “Dit sal nou cool wees as jy bier het. Ek wens net jy het vroeër daaraan gedink. Dan het ek nou nie my tyd gemors om die Coke te drink nie.” Die seuns stap na die kombuis toe en George sien hoe Dawie spottend na sy pa kyk. In die kombuis maak hy die yskas oop. “Dit lyk my daar is nie. Stap gou saam met my ondertoe. Dalk het my pa dit in die yskas in die kelder gesit.” George maak die kelder se deur oop en stap by die trappe af. “Moet ons nie die lig aansit nie?” “Nee, dis nie nodig nie. Kom net.” “Um, oukei.” George glimlag toe hy die huiwering in Dawie se stem hoor en stap vinnig vooruit. Dawie is uiteindelik onder in die kelder. Alles is donker. Van waar George staan kan hy vir Dawie sien. Die lig wat van die kombuis af inskyn, skyn reg op hom. “Ek wou jou nog vra. Ken jy daardie song Demon Sweeney Todd? Ek wil hom vir jou speel.” George verdwyn en na ‘n paar sekondes begin die musiek kliphard speel. Hy gaan staan reg agter Dawie en fluister in sy oor. “Die chorus is die beste deel. Wag net.” “Dude, jy freak my uit!”
George sit sy arms om Dawie se nek en druk ‘n naald daarin. “As ‘n mens op die regte plekke op jou liggaam druk kan jy glad nie beweeg nie. Dis wat ek nou gedoen het. Die musiek is wonderlik. Luister net daarna. Die chorus kom nou.” Hy haal ‘n skerp mes uit sy sak en druk dit teen Dawie se vel. Dan begin hy hard saam met die lirieke sing. “Feel the knife on your skin. Now you pay for your sin. Let the blood start to flow. Full of panic and fear whispered words in your ear. I am the demon, Sweeney Todd.” Hy forseer die lem deur die vel, deur die slagaar en voel hoe die bloed oor sy vingers loop. Hy voel die pols onder sy vinger en hoe dit stadig ophou klop. Hy laat die lyk op die grond val. “Ek wil ‘n taksidermis word. My pa se depressie het my net irriteer. Die kat was siek. En jy, jy is net vir oefening. ‘n Mens moet baie goed wees en practice makes perfect. Maar ons kan later daaroor gesels.” Hy draai om en stap by die keldertrappe op. Hy gaan na die eetkamer toe. “Hy is nou weg, Pa. Wil Pa tee hê?”
Lucas Niemand roer onrustig in sy slaap. Hy lê inmekaargetrek op die motor se agtersitplek. Sy vingers krul in vuiste. ‘n Droom pluk aan sy ooglede. Dit dring deur na sy brein en beelde begin vorm. Hy het hierdie nagmerrie al verskeie kere gehad: Hy staan in ‘n doolhof, vasgevang tussen blinkblou metaalwande. Helder lig stroom uit die vloer en laat dit soos glimmende water lyk. Angs laat sy bors toetrek. Hy weet nie waar hy is nie. Hy weet nie hoe om uit te kom nie. Hy weet nie wat buite die metaalwande op hom wag nie. ‘n Geluid laat hom omdraai. Dit was byna onhoorbaar, maar hy is seker daar was iets. Dalk was dit skuifelende voete. Hy wag en kyk, maar sien niks nie – totdat ‘n hand uit die metaalmuur langs hom reik. Hy probeer wegkom, maar die mure om hom het nouer getrek. Hulle hou hom vas. Die hand kom nader. Vingers huiwer bo sy arm. Toe vat dit aan hom. Die aanraking is doodskoud. Lucas ruk wakker. Die benoudheid bewe nog in sy bors. “Lekker gedroom, Luc?” vra sy pa met ‘n glimlag. Lucas kyk verward om hom. Toe onthou hy: Hulle is in die motor op pad huis toe ná ‘n vakansie by Stilbaai. Die motor is omtrent gepak met al die vakansiegoed: kussings, CD’s, ‘n rugbybal, krieketkolf en nog drie plante op die vloer. Sy ma ry mos nie ‘n kwekery mis nie. Sy karwei al wat ‘n groen ding is terug huis toe, om te “kyk of dit in die tuin sal aard”. “Moenie hom terg nie,” lag sy ma. “Die kind is moeg.” Lucas skud sy kop. Hoekom moet sy ma hom altyd “die kind” noem. “Die kind is altyd moeg,” sê ‘n stem onder die hoop kussings. Lucas skop na die lyf onder die kussings. ‘n Oog loer uit. “Ja, jy moet lekker loer, jou wirkop,” snou Lucas vir Gavin, sy jonger broer, toe. “Ek klap vir jou dat jy net sterre sien,” kap Gavin terug. “Dis donker buite. Ek sien hulle in elk geval. En jy sal ook as jy soos ‘n normale mens met jou kop óp ‘n kussing slaap en nie ónder ‘n kussing nie.” “Hei, julle twee!” waarsku hulle pa. “Gavin het daarmee begin,” sê Lucas vinnig. Gavin trek die kussing weer oor sy kop. “Gavin het eerste daarmee begin,” koggel hy. Lucas mik ‘n vuishou na sy broer, maar besluit om dit liewer te los. Dit help tog nie. Die vakansie is nog lank. Daar sal later baie tyd wees om die klein wirkop op sy plek te sit. En dan sal sy ma en pa nie kan keer nie. Lucas soek vir sy PSP tussen al die goed op die motorsitplek. Hy kry dit half onder sy linkerbeen. “Vrekkit,” sê hy sag en sit dit aan. “Sit sagter daai ding,” sê sy ma dadelik. “Oukei, Ma!” Lucas rol sy oë. Dis nie iets wat hy sal durf waag om voor haar te doen nie. Sy sal hom gou wys wie is baas. Sy ma se tong kan skerper wees as enige kombuismes. Maar sy het ook ‘n sagte kant wat sy nie te dikwels wys nie. Ná ‘n paar minute se speel, gooi Lucas die PSP verveeld langs hom neer. Hy kyk hoe die landskap in die donker verby die motor flits. “Pa, kan ons nie ‘n bietjie stop om die dou van die lelies af te skud nie?” vra hy. “Ag nee, Lucas. Wag nog ‘n rukkie. Ons is amper op Nova.” “Asseblief, Pa. My oë swem al, so vol is my blaas.” Sy ma skud haar kop. “Soek tog maar ‘n aftrekplek.” Hulle ry nog ‘n ent voor hulle ‘n stilhouplek kry. Lucas is soos blits uit die kar. Met bene nog styf van die lang sit, kies hy koers na die naaste boom. Agter hom hoor hy sy ma soek na die waterbottel. Sy pa vra of daar nog padkos oor is. Gavin is stil. Hy het seker aan die slaap geraak onder die hoop kussings. Iemand skakel die motorradio aan. Die musiek verdwaal in die naglandskap om hulle. Daar is geen ander motors op die pad nie. Dis asof die aarde geduldig wag vir dagbreek. Toe hy klaar is, stap Lucas traag terug motor toe. Die motorradio kraak. “Kyk tog na die ding,” sê sy ma ergerlik. Sy pa skuif onder die geel dakliggie in. Met een arm oor die stuurwiel en die ander hand op die radio se knoppies soek hy na ‘n stasie, maar almal kraak. Sy ma klik haar tong. “Hier, sit liewer ‘n CD in,” sê sy. “Oh brother,” sug Lucas sag, “opera-getjank hier kom ons.” Hy is reg. Maria Callas se stem dryf by die motor uit. Lucas skop vies na ‘n klip. Hulle gaan nou na daardie kermende kat moet luister tot by die huis. Maar hy is verkeerd. Die kermende kat knyp nog aan ‘n hoë noot en toe is sy skielik stil. Die CD-speler is morsdood. Die motor se ligte doof ook oombliklik asof iemand sy hande skielik dig oor hulle vou. “En nou?” vra sy ma bekommerd. “Dis die battery,” sê sy pa. “Moet wees.” “Jy het dit ‘n maand gelede vervang. Hierdie kar gaan ook deur batterye soos kinders deur ‘n bak fudge.” Die enjinkap klap oop. Sy pa se voete knars op die grys. Lucas hou hom van ‘n afstand dop. Dit lyk of hy iets in sy hand het. Hy skud dit. Klik-klik, probeer hy die lig aanskakel. “Die flitslig werk ook nie,” sê sy pa. “Genade tog,” sug sy ma. Lucas glimlag onderlangs. Ten minste is Maria Callas nou stil. Hy sien ‘n vae skadu beweeg onder die enjinkap. Sy pa probeer in die donker die batteryklampe ontkoppel. Hy praat sag met homself en vloek een keer. En toe, skielik, kom die onaardse dreuning.
Miserella sak grond toe, die donker deur teen haar rug, met die wind wat haar hare stringerig verby haar gesig waai. Wat haar trane droogmaak so gou as wat sy hulle kan huil. Buite die kamer hoor sy nog Juvenis, Violenta en Laniolet se stemme. Maar sy kan nou nie meer uitmaak wat hulle sê nie. Dit smelt weg saam met die geluide in die vertrek. Die klap, skuur en kraak van meubels, die suisende wind, die grommende onheil. En in haar kop kom daar nóg geluide, diep, swaar orrelklanke, dreunend. Die note van die Lamentum-serenade van Volaticus, Juvenis se gunsteling wat sy soms vir hom speel. Die musiek wat Volaticus vir sy vrou gekomponeer het ná haar wrede dood aan die kake van ‘n weerwolf, so word vertel. Miserella probeer die snikke wat uit haar bors wil bars, in toom hou. Haar oë is vasgenael op die vaas met die as. Dit word stil. Skielik. Die windjie draal net vir ‘n oomblik langer en raak dan ook weg. Is dit verby? kom die vraag in Miserella op. Soos gister? Gaan daar niks gebeur nie? Het Mortallus dit weer nie reggekry om uit die as op te staan nie? Vrae wat oor en oor deur haar spoel. Maar toe! ‘n Weerligstraal. Blitsend! Van die dak af, vloer toe. Die tafel spat in stukke, splinters hout klief deur die lug. Die kerse ontplof. Hulle vlamme gaan dood, maar die kamer is nou gehul in ‘n helder wit lig, wat dring tot in elke donker skeur en vergete hoek. ‘n Geluid soos botsende treine, skeurende metaal en hartverskeurende gille. Meubels skuif na die mure toe van die impak in die middel van die vertrek. Miserella gryp haar bene vas. Arms beskermend oor haar lyf. ‘n Stoel tref haar teen die skouer. Sy byt op haar tande van pyn. Byt haar wang aan die binnekant raak en proe bloed in haar mond. En in al hierdie waansin tuimel die vaas daar voor haar grond toe, saam met die glaskissie. Miserella sien dit in stadige aksie, draaiend. Die vaas se deksel gly af, as wolk mistig uit die vaas se tollende bek. Die aswolk wat dan onnatuurlik begin krul, groter word. Buite die deur hoor Miserella nou iemand gil. Aanhoudend. Juvenis, dink sy, maar haar gedagtes is vasgevang in dit wat sy hier voor haar sien. Nog ‘n weerligstraal wat die mure ruk en ‘n gordyn voor die venster wegskeur. Die venster breek oop, glas spat, blare en sand waai in. Maar die aswolk bly onaangeraak, word digter, digter. Miserella moet haar oë knip teen die trane en vrees. “Miserella!” hoor sy weer vir Juvenis. En uit die as verskyn daar nou ‘n bonkige figuur, eers dofgrys soos uitgebrande stompe in ‘n dooie vuur. Die as begin effens wegsyfer. Die silwerwit lig word nou dowwer, maar is steeds helder genoeg vir Miserella om te sien hoe die silhoeëtagtige figuur in die wolk sy hande oplig, aan sy gesig vat. Dis ‘n man, kan Miserella uit sy houding aflei, breë skouers, voete uitmekaar. Toe is daar ‘n geluid soos iets wat val. Iets geels, sien Miserella. Metaalagtig. Goue muntstukke wat uit die as op die vloer neerkletter en wegrol onder die meubels teen die mure in. Die man is blykbaar nie eens daarvan bewus nie. Hy vee nog met sy hande oor sy lyf. Toe steek hy sy hand voor hom uit. En die hand kry ‘n kleur: doodsbleek vel met blou, bultende are. Nou die ander hand, ‘n silwer ring aan een vinger, ‘n ring met ‘n kraai op. Miserella trek haarself kleiner teen die muur. Die man gee ‘n tree vorentoe. Vuil swart skoene, grys langbroek, gekreukelde baadjie. Vergeelde hemp met ‘n dun, swart strikdas wat uitrafel aan die punte. Sy kop is bles, sien Miserella, want hy kyk af vloer toe, sy gesig gehul in skadu’s. Miserella hou haar asem op. Hy lig sy kop op. Die skadu’s val van sy gesig af soos vlermuise van ‘n grot se dak. Sy vel is grof, groot neus met dun neusvleuels. Sy bokaak strek ver verby sy onderkaak. En dan . . . sy wrede groen oë onder die wilde wenkbroue. Hy knip sy oë een keer, draai sy kop skuins, snuif, glimlag boosaardig. Sy verrotte botande steek uit onder die bloedlose lippe. Mortallus! Hy draai sy kop in Miserella se rigting. Sy wenkbroue lig en laat sy oë nog groter lyk, sodat sy die wit aan die bo- en onderkant kan sien. “Ná al die jare . . .” grom hy binnensmonds. Sy stem skuur oor sy lippe. Miserella lê steeds in ‘n bondeltjie teen die deur. Mortallus kom nader. Afgemete treë, nader. Nou eers los sy haar bene wat steeds in haar arms opgetrek was. Sy begin wegkruip, al met die muur langs, stoot meubels uit haar pad. “Moenie bang wees nie . . .” sis Mortallus. Nader. Miserella voel die kamer se hoek teen haar rug. Sy kan nie verder nie, maar Mortallus kom steeds nader. Sy gesig verander heeltyd, vriendelik, boos, treurig, asof hy nie sy emosies onder beheer kan kry nie. Sy mond wat heeltyd oop- en toegaan. Hy steek ‘n hand uit, die een met die silwer ring aan. “Miserella, nie waar nie?” draal sy growwe stem. Sy hand is nou hier by haar gesig. Sy ruik sy vel. Dit ruik na as. Mortallus vat aan haar ken. Miserella probeer haar gesig wegdraai. Hy vat haar ken stewiger vas, draai haar gesig terug. Nou kom sy gesig nader. En sy ander hand, die een met die mes wat Miserella die dag op die tafel agtergelaat het toe sy geskrik en weggehardloop het. Miserella se oë val bang op die mes se lem. Haar asem ruk. Die lem blink naby haar keel. Toe hoor sy hoe die deur oopgebreek word.
Die speurder staan by die hek terwyl tant Ella die stoep afvee. Sy loer onder haar hand deur met die besem in die ander. “Goeie more, mevrou,” sê die speurder met verdwaasde uitdrukking op sy gesig. “Van der Leq,” sê tant Ella, “en wat bring u vanmôre hier en met u Sondagpak op ‘n Dinsdagoggend.” Die speurder kyk na haar met ‘n kalm gesig. “Ek is meneer van Rooi en ek is hier om die dood van Kêns Atta te ondersoek.” Ella se gesig is onmiddellik spierwit. “O, kom binne, meneer van Rooi.” Sy lei hom na die sitkamer waar sy vir hom ‘n koppie tee aanbied. “Rooibos, asseblief.” Sy loop uit kombuis toe en kom uit met ‘n skinkbord met twee koppies en ‘n ketel. “Ek verstaan Kêns Atta was u dogter.” ‘n Doodse stilte heers vir ‘n kort oomblik. “Ek verstaan ook dat sy per ongeluk omgestamp is deur ‘n pers bakkie naby die Dooie Vallei.” Ella kyk nou op. “Pers is my gunsteling kleur,” sug sy dramaties. “Dit is wat Atta altyd gesê het.” Sy kyk na meneer Van Rooi met trane in haar oë en prewel met ‘n bewerige stem. “Ek glo nie vir een oomblik dat sy per ongeluk omgestamp is nie – sy is omgestamp en daar is oor en oor bo-oor haar gery. Daar is baie merke op die pad, maar haar lyk is nooit gevind nie.”
Die tweede week is verby en meneer van Rooi het al vir almal ondervra en het minder inligting gekry as waarop hy gehoop het. “Het meneer al vir tant Sinty ondervra? Sy kan glo spoke sien,” sê mevrou Pandoor. “Mevrou, ek kan vir u stories vertel van daai Dooie Vallei, wat my moeder in haar graf sal laat omdraai,” sê tant Sinty later. “Ek weet dat daar ‘n getroude paartjie met ‘n pers bakkie verongeluk het toe hulle iemand omgestamp het en toe af in die vallei gery het en almal wat daar vermis word verdwyn sonder ‘n spoor.
“Mamma, wat het die speurder toe gedoen?” vra die dogtertjie terwyl haar ma die storie van die Dooie Vallei vertel. “Wel, my kind, hy wou toe nie vir tant Sinty glo nie en het toe self gaan kyk wat hy daar kan kry as bewyse. Na verneem het die volgende met hom gebeur. Hy het met groot oë gekyk toe twee skerp ligte na hom toe kom. Hy het ook net verdwyn. . .” Die kind kyk na haar ma met groot oë en vra: “Wat het toe gebeur, mamma? Ek kan nie wag nie.” Haar ma vertel verder met opwinding in haar oë. “Wel, nadat tant Sinty vir hom gesê het dat niemand ooit weer daar gevind is nie, besluit die speurder om weg te spring en rol toe af in die Dooie Vallei en bevind homself toe in ‘n grot wat nooit in die dag gesien was nie. Meneer van Rooi het toe besluit om die grot te ondersoek en omdat sy flits ‘n bietjie swak was het dit maar stadig gegaan. Toe meneer Van Rooi water sien drup besef hy eers dat hy ondergronds was en besluit toe om verder in te gaan. Hy hoor toe stemme en. . .” “- en toe, mamma?” vra die dogter. “Die volgende dag kom meneer Van Rooi op die plaas aan met al die mense wie verdwyn het. Vanaf meneer Bossie, tannie Pillie tot by Kêns Atta en hy het toe uitgevind dat Mal Stompie, die man wat glad nie mal is nie, agter alles gesit het. Hy het tronk toe gegaan daarvoor, maar baie mense sweer tot vandag nog dat hulle die pers bakkie sien ry by die Dooie Vallei en hulle sweer dat hulle iemand hoor skree en dan is die bakkie weg. Tot ‘n volgende keer. . .”
Esther Brink kyk na haar groot liefde en nuwe man. Hy glimlag vir haar. Hulle is oppad na hul nuwe huis. Paul het die huis as ‘n verrassing gekoop, so sy gaan dit nou vir die eerste keer sien.
“Hier is ons,” fluister hy. Die huis het baie verander vandat sy dit laas gesien het, maar sy herken dit dadelik.
“Paul! Dis die huis waarin ons gebly het voor my ma-hulle verdwyn het!” roep sy. Sy was maar vier jaar oud toe haar ma en pa saam gaan eet het. Hulle het nie weer terug gekom nie. Niemand het hulle ooit weer gesien nie. Sy is groot gemaak deur die buurvrou, Josephine. Hulle het getrek na ‘n ander buurt toe.
Sy kyk op na die ou huis. Sy onthou hoe hulle vir dae lank na haar ouers gesoek het. Skielik gaan daar ‘n koue rilling teen haar nek af. Verbeel sy haar, of is daar iemand in die venster? Sy knip haar oë. Dit moes seker die lig gewees het.
“Esther, is jy ernstig? Ons het hier langsaan gebly, voor… toemaar. Ons het ook op ‘n stadium langsaan gebly,” sê Paul, alles in een asem.
Sy draai om. Sy besef dat sy nog nooit vir Paul se ma-hulle ontmoet het nie. Nie eers by hul troue nie. Sy maak haar mond oop, maar besluit om stil te bly. Hulle gaan in. Die binnekant is presies soos sy dit onthou. Selfs die vuurherd. Sy krap in haar handsak, en kry die enigste foto wat sy van haar ma en pa het uit. Sy sit dit op die vuurherd.
*
Sy en Paul het min meubels, so hulle pak gou alles uit. Teen aandete (pizza), gaan lê hulle op hul bed. “Paul, ek is mal oor hierdie huis,” sê sy vir hom.
“Ek ook!” verklaar hy. Sy hou sy hande vas. Sy is gewoond daaraan dat hulle so koud soos ys is. Paul raak aan die slaap. Esther is net op die punt om dieselfde te doen, toe sy voetstappe hoor. Sy stap in die gang af, en hoor geluide wat uit haar ou kamer uit kom. Sy luister by die deur.
“Haar ma en pa is weg… Nou vir die laaste skuldige.”
Esther wil omdraai, maar sy stamp die deur oop. Sy sien die mens wat praat. Dis Josephine.
“Jy,” rasper Josephine. Josephine lewe nog, dis duidelik. Ester het gewonder wat het geword van haar toe sy weggeloop het van die huis af.
“Jy moet betaal.” Sy kom nader. “Jy weet ek het hier langs jou ma-hulle gebly,” fluister Josephine toe sy vir Esther plat teen die muur druk. “Een aand het ek en my seuntjie buite gesit. Hy het sy bal in die straat in gegooi. Hy hardloop toe om die bal te kry, en toe jaag jou ma-hulle oor hom,” rasper die vrou. Sy lig ‘n mes op. “My seun was dadelik weg. Ek het jou ma-hulle gekry om in my huis in te gaan. Daar het ek hulle vermoor. Ek het hulle, daar ander kant in die woud begrawe.”
“Het jy ‘n seun gehad?” wurg Ester dit uit.
“Ja, sy naam was Paul. Paul Brink,” fluister Josephine vir Esther se lewelose liggaam. Die bloed vlek die houtvloer waar Esther as kind saam met haar ma en pa gesit het…
“Een laat nag,” begin Ben met sy storie. Hy glo natuurlik in alles wat hy hoor of sien.
“Ben, hoekom kry jy net nie goed soos spoke uit jou kop uit nie?” vra ons hom.
“Jy sal sien, as jy net luister.”
So ek en my vriende sit op die grond en begin luister.
“Niemand kon slaap, almal was bang vir hom, DIE GROEN BOSTROL!”
“Hoekom?” vra ek deur my slaap.(Ek was so moeg, dat ek sy antwoord nie eers gehoor het nie.)
Later daardie nag skrik ek wakker, iets was besig om ons aan te val! “Tom, Ben, Anton waar’s julle?” fluister ek skrikkerig.
“Ek dink ons is vas,” begin iemand wat baie soos Anton klink, fluister. Ek duik uit my slaapsak na Anton s’n toe. “Eina!” hoor ek net soos ek land.
“Weet jy dalk wat hier aangaan?” fluister hy vir my.
“Nee, en ek wil ook nie.” Net toe val ‘n groot skaduwee oor ons tent.
“Help!” hoor ons toe Ben en Tom vol slym omrol by die tent in.
“Ons was oppad toilet toe, …” Hulle kon nie klaar maak nie want ‘n boom het doef, op ‘n klein stuk van ons tent geland, wat die hele tent laat inval het. Gelukkig was ek die een naaste aan die uitgang. Buite hoor ek ‘n groot brul agter my rug, toe ek omkyk sien ek net hoe ‘n groot reus my vriende benader.
“Nee, moenie!” skreeu ek hardop. Die reus loer om en skielik moet ek so vinnig as moontlik wegkom.
“Kyk, ons moet vir Zander help!” gil die ander.
Skielik terwyl ek hardloop, kom ek agter dat ek nie meer in my agterplaas is nie, maar in ‘n vreemde land vol monsters en baie goed wat net in storieboeke bestaan. Toe ek terugkyk om te sien of die reus nog agter my is, struikel ek en val, binne in ‘n groot diep gat! Ek’s so moeg dat ek nie eers opstaan toe ek ‘n brul agter my hoor nie.
“Moenie bekommerd wees nie!” skreeu die ander, “dis net ‘n brullende muis.”
“Kry my hier uit!” gil ek terug van die gat af.
“AAAAAAAAAAAHHHHHHHH!”
hoor ek toe hulle almal in een slag binne in die gat val.
“Ha! Ha! Ha!” lag die reus terwyl sy honde ons begin aanval. Toe kry ek die beste idee ooit. “Kom ouens, vat ‘n klip en val aan!” bulder ek na die ander. Ons spring op en begin die reus aanval. Maar hy is te sterk, hy spring in die gat in en fluit vir sy honde.
“Jy sal nie so maklik weg kom nie,” kraak ‘n snaakse stem naby ons. Ons kyk om en sien ‘n groot groen en slymerige heks met ‘n klein swart-en-wit kat, wat met haar geel lelike oë in joune in staar. “Jy dink hulle is joune?” glimlag die heks vir haar vyand, die reus. Na ‘n lang bakleiery neem die heks ons in een BOEM na haar grot toe.
“Maak skoon! Maak skoon!” kraak haar stem weer na ons toe. Haar grot het omtrent soos die volgende gelyk: In die een hoek was daar ‘n klein stoeltjie met ‘n tafel langs hom, ‘n rak vol buisies en botteltjies, ‘n yslike pot en lepel wat langs die deur gestaan het en laastens was daar nog ‘n kamer wat ons nie in mag gaan nie. Die nag het niemand geslaap nie. Terwyl ons skoon maak (glo my dit was sleg) het ons in paddas in verander… Skielik…
As jy op ‘n volmaanaand mooi kyk sal jy hulle dalk sien. Op die oop stuk grond, wat eens ‘n veldhospitaal was, staan die twee verliefdes in mekaar se omhelsing.
In 1899 tydens die Anglo-Boereoorlog was daar baie beseerdes wat in die hospitaal opgeneem is. Een van die beseerdes was ‘n kakie; ‘n Engelse soldaat wat verpleeg is deur ‘n Boerenooi. Hulle het dadelik op mekaar verlief geraak en hulle het geweet dat hulle geluk nie lank sou duur nie. Wanneer dit skemer geword het, het hulle mekaar onder die bome, wat die hospitaal omring, ontmoet. Hulle het besluit dat hulle trou aan mekaar kan sweer, en dat hulle gaan trou.
Sy het die ja-woord gegee en hom omhels, maar, voor daar enige iets kon gebeur is hulle getref deur ‘n Longtom-koeël en het hulle in mekaar se omhelsing gesterf.
Wanneer jy hulle sien, honderd jaar later, lyk hulle nog so verlief soos op daardie ongelukkige nag. Die gedaantes van die kakie en verpleegster staan tussen die bome en wanneer verliefdes hulle sien sal daar geluk vir hulle wag, want die Legendes van Ladysmith sien alles raak.