Deel 3
“Kyk wat hy jy nou gedoen!” bulder Moshousou en stamp haar voet op die grond, “Kom nou sal jy die platespeler kom opwen, jou klein niksnut!”
Moshoushou loop na die sel se deur toe en sluit die deur oop. Sy wys met haar kierie kwaai in die rigting van die platespeler.
“Kom, kom, kom, die son trek water!” sê Moshoushou en stoot-stoot met haar stok teen Lientjie se rug.
Lientjie gaan sit op ‘n stoel langs die platespeler en begin die handvatsel draai.
“Ah ah
Ah leb art son,” sing die platespeler.
Die besies maak ‘n harde sisgeluid.
“Stop, stop jou domkop! Jy draai die handvatsel in die verkeerde rigting!” gil Moshoushou en tik Lientjie op die kop met haar kierie. “’n Mens is veronderstel om die handvatsel kloksgewys te draai, is dit duidelik?”
“Ja,” antwoord Lientjie saggies.
“Net om seker te maak ons verstaan mekaar duidelik, gaan ek vir jou sê wat ek gaan doen as jy weer die handvatsel in die verkeerde rigting draai, of enigsins iets snaaks probeer,” sê Moshoushou, “Sien jy die byl teen daardie houtstut?”
Lientjie knik haar kop.
“Maak weer so ‘n simpel fout en ek kap jou hand af met daardie byl!” waarsku Moshoushou en trek haar oë op skrefies.
Daarna gaan sit sy op haar stoel en wieg haarself aan die slaap, terwyl Lientjie die platespeler se handvatsel draai.
Na ‘n rukkie word Moshoushou wakker.
“Jy kan maar nou ophou draai, dit is amper seweuur,” sê sy en gaap.

Lientjie hou op om die platespeler se handvatsel te draai en so hou die marionette op om te kap en die besies hou op om te krioel in die jambottels. Wanneer Moshoushou haar rug draai, draai Lientjie vinnig die platespeler agterstevoor.
Moshoushou gaan haal ‘n jambottel, sit ‘n besie daarin, en maak hom vas aan Lientjie se oor. Daarna loop sy na die platespeler toe en draai aan sy handvatsel.
“Ah ah
Ah leb art son
Leb art son ah leb art son…”
Die besies begin sis en wriemel, amper so asof hulle pyn ervaar.
“Wat gaan aan met die simpel ding?” vra Moshoushou verward en klap
die platespeler. “Ek draai tog die handvatsel kloksgewys.”
Sy draai die handvatsel weer…
… mut oet ak eot mut eon ak sew
Oet ak oet mut eon ak sew
Reot ak eis eom ah eir eihg…
Die besies sis al hoe harder en kruip uit die marionet-kinders se ore uit. Hulle vlieg op Moshoushou af en pak haar toe. Onder die sisgeluide van die besies, hoor Lientjie Moshoushou gil.
Die groot hoop wriemelende besies word al hoe kleiner soos Moshoushou deur hulle weggevreet word, tot net ‘n paar stokstywe besies op die grond oorbly…