Moshoushou se poppespel

Deel 2

Lientjie staan stadig op en vryf haar kop wat sy met die val gestamp het, en sien dat sy vasgevang is in ‘n sel. Dit lyk na een of ander ondergrondse myn. Orals hang daar marionette, met pikke in hul hande, leweloos aan kettings van die plafon af. Langs haar sel is daar rakke vol jambottels met rooierige besies daarin. Die besies lyk dood, omdat hulle nie beweeg nie. Voor haar sel loop daar ‘n spoor verby en op die spoor staan daar ‘n groot koekepan, met wat lyk soos graniet, daarin.

Moshoushou haal ‘n besie uit een van die jambottels uit en sit dit in haar hand.

“Weet jy wat is die dingetjie in my hand ?” vra Moshoushou.

“Dit lyk soos ‘n besie,” antwoord Lientjie deurmekaar en bang.

“Ja, ‘n besie, maar nie net sommer enige besie nie,” sê Moshoushou en kyk in bewondering na die besie. “Hierdie besondere besie in my hand, is ‘n rooi-kognusbesie. Wat die spesie so besonders maak, is dat ‘n mens hulle kan oplei om mense te beheer, veral kinders.”

Moshoushou loop na ‘n ou platespeler toe. “Adonis, kom hier my liefie!” roep sy.

‘n Blouapie, met ‘n rok aan, verskyn uit ‘n donker hoekie uit en hy hardloop na die ou platespeler toe. Hy sit die naald op die plaat en begin aan die platespeler se handvatsel draai. ‘n Liedjie in ‘n vreemde taal begin speel:

Ghie rie ha moe sie ka toer
Wes ka noe tum toe ka toe
Wes ka noe tum toe ka toe tum
Nos tra bel ha nos tra bel
Nos tra bel ha
Ha ha…

Eenskaps begin die besies in die jambottel krioel en die marionette begin graniet kap op die maat van die musiek. Moshoushou lag manies en draai in die rondte.

“Sodra die klok sewe uur slaan, sal ek een van my besies in jou oor laat inkruip, en dan sal jy vir ewig my speelding wees!” sê Moshoushou laggend en gaan sit op haar wiegstoel langs die platespeler.

Lientjie voel hoe haar maag bollemakiesies maak. Sy wil nie die nare ou heks se speelding wees nie.

“Dink, Lientjie, dink…” sê sy vir haarself.

Sy voel in haar broeksakke vir enigiets wat haar dalk kan help om te ontsnap. Uit haar sakke haal sy ‘n ou suigstokkie, twee klein krekkertjies en ‘n boksie vuurhoutjies. Sy probeer eers die blouapie lok met haar suigstokkie, maar hy steur hom nie daaraan nie.

“Ek wonder of die apie sal skrik as ek hom met ‘n krekker gooi?” dink sy.

Sy steek ‘n vuurhoutjie aan en probeer om een van die krekkers aan te steek, maar niks gebeur nie.

“O koekemakranka, die krekkers het seker nat geword toe ek geswem het!” dink sy.

Sy vryf die krekkers in haar hande om dit droog te maak en dan probeer sy weer om dit aan die brand te steek.

Sssssssssss…

Die krekker het die keer aan die brand gesteek! Lientjie gooi dit vinnig  in die apie se rigting.

Pa!

Die krekker ontplof tussen die apie se bene en hy wip van die skrik.

“Aaaahiiiiii!” skree die apie en hardloop in die tonnel af.

Moshoushou spring op.

“Adonis kom terug my liefie!” roep sy, maar Adonis se skril stem verdwyn in die verte.

0 0 votes
Article Rating
guest
0 Comments
Oudste
Nuutste Mees stemme