Geraamte in die sak

Geraamte in die sak

Minette van Vuuren
"Maar, ou mense is VERVELIG!" Elana stamp haar voet teen die grond. "Hoekom kan ek nie net by Marelize gaan oorslaap nie?" Elana se ma gluur haar aan. "Ouma Nettie is dierbaar! Hou nou op kla, ek en jou pa moet amper ry."

“Maar, ou mense is VERVELIG!” Elana stamp haar voet teen die grond. “Hoekom kan ek nie net by Marelize gaan oorslaap nie?”

Elana se ma gluur haar aan. “Ouma Nettie is dierbaar! Hou nou op kla, ek en jou pa moet amper ry.”

 Elana rol haar oë. Grootmense verstaan net nie. Sy wil haar vakansie geniet terwyl haar ouers in Frankryk rondrits, maar nou gaan Ouma Nettie heeltyd in die pad wees. Elana het vir Ouma Nettie nog net by verjaarsdae en met Kersfees gesien, maar nog nooit regtig met haar gaan sit en gesels nie. Ouma Nettie lyk soos daardie haarlose katte. Laasjaar het sy ’n superryk kêrel gehad, maar hy is vroeër die jaar skoonveld.

Ma se oë peul soos die van ’n verkleurmannetjie uit haar kop. “Marco, ons gaan amper ry. Kyk hoe lyk jy!”

“Wat is fout met my uitrusting?” Pa glimlag terwyl hy uit die studeerkamer gestap kom. Hy het nounet een of ander belangrike Zoom-vergadering bygewoon. Hy wys na sy “stylvolle” uitrusting: ’n netjiese knopieshemp, rooi das en kakiekortbroek met plakkies!

Elana sug. Gelukkig lui die deurklokkie.

Ma maak die deur oop en daar is Ouma Nettie, maar sy lyk bietjie anders as toe Elana haar laas gesien het. Sy dra ’n stywe jean met bloedrooi tekkies. Langs Ouma Nettie toring haar bagasie amper tot by die deurkosyn! Elana wonder wat is in al daardie tasse. Op haar t-hemp staan “Ciao, Bellla” met glitter op geskryf. Haar hare lyk soos wit spookasem.

Elana se mond hang oop.

“Ma lyk… anders.” Elana kan die twyfel in haar ma se oë sien. Sy kyk vir ’n oomblik bekommerd na Elana. “Is Ma seker Ma sal vir Elana kan oppas?”

“Natuurlik! Kom, julle moet in die pad val. Moet oor niks bekommer nie.” Ouma Nettie sien duidelik nie kans vir een van Ma se verantwoordelikheidspreke nie. Elana glimlag breed. Pa druk vir Ma liggies in die kar in terwyl sy nog steeds bekommerd omkyk na Elana.

“Wil Ouma tee hê?  Moet ek vir Ouma Soduku bring?” Elana weet nie eintlik wat doen ’n mens met oumas nie.

Soduku? Tee?” vra Ouma verontwaardig. “Ek is nog veels te jonk om te sit en tee drink terwyl ek Soduku speel, nee dankie!”

Elana weet nie wat om te antwoord nie. Sy stap kombuis toe om ʹn glas water te kry. Ewe skielik voel dit asof ’n aardbewing die huis skud en ’n oorverdowende klank vul die huis. DOEF. DOEF. DOEF. Elana hardloop na die sitkamer toe. Ouma Nettie staan by die stereosisteem en is besig om die volumeknoppie al harder te draai! Op die TV-skerm is Alexander Silwertand besig om sy nuutste liedjie te rap.

“Ouma! OUMA!”

Die musiek is so hard, Ouma Nettie hoor nie eers vir Elana nie. Elana druk haar hande oor haar ore en loop tot by die stereo. Sy draai die klank sagter. “Ouma mag nie die musiek so hard speel nie. Die bure gaan raas!” Elana kyk benoud deur die venster na die bure se huis.

“Waardeer julle bure nie goeie musiek op ’n Vrydagmiddag nie?” Ouma Nettie sug.

Elana kyk verbaas na Ouma Nettie. Haar pa skakel gewoonlik Alexander Silwertand se musiek af wanneer dit oor die radio speel.

“Tannie Bertha is baie kwaai. Sy raas altyd as ons te hard musiek speel. “Elana kyk weer benoud na die bure se huis. Sy sien vir Tannie Bertha oor die muur gluur. Oom Thomas, haar man, is besig om die vullissakke uit te vat. Ouma Nettie kom staan by Elana.

“Iets aan daardie mense lyk vreemd.”

“Wat bedoel Ouma?”

“Elana, ek skryf artikels vir die Daaglikse Klaagbek, waar ek al miljoene speurraaisels oor die dorp opgelos het. Ek weet wanneer ek iets vreemds ruik en dan druk ek my neus soos ’n bloedhond in die besigheid in.

Elana kyk na haar Ouma. Noudat sy daaraan dink lyk Ouma Nettie eintlik meer soos ’n bloedhond as ʹn haarlose kat.

Toe Elana weer sien, is Ouma Nettie uit by die voordeur.

“Ouma!” Elana hardloop agter Ouma Nettie aan.

“Shhh!” Ouma Nettie hurk agter ’n konfettibos. Sy wys na Oom Thomas wat lyk asof hy ’n baie swaar vullissak dra.

“Oom Thomas sit elke Vrydagmiddag vullissakke uit Ouma!”

 Ouma Nettie luister nie. Die oomblik toe Oom Thomas in die huis verdwyn, skeur sy die vullissak oop. Elana se oë rek en sy gee ’n gil. Ouma Nettie druk haar hand oor Elana se mond.

“Shh! Sien, ek het gesê hierdie mense is vreemd.”

Hulle staar na die geraamte wat in die sak lê. “Dalk is hulle weerwolwe en het hulle laasnag ’n arme siel van die strate af gegryp en verorber.” Ouma Nettie praat in ʼn diep stem. Elana ril.

“Kom Elana, ons moet verder ondersoek instel.” Ouma Nettie sluip nader aan die huis. Elana volg benoud kort op haar hakke.

Hulle loer deur die een venster en sien vir Tannie Bertha in die kombuis. Sy is besig om ’n yslike groot vleispastei te maak. Elana sluk en probeer om nie te veel aan Hansie en Grietjie te dink nie.

“Ons moet haar uitlok sodat ons daardie pastei kan ondersoek,” fluister Ouma Nettie.

Elana wil vir Ouma Nettie antwoord toe hulle ʼn geroep aan die ander kant van die huis hoor. Hulle wip van die skrik.

“Bertha, daar is iemand by die voordeur!” Oom Thomas roep in sy skril stemmetjie en tannie Bertha rol haar oë voordat sy voordeur toe stap.  

“Elana, nou is ons kans. Ons gaan by die kombuisdeur inglip en kyk watter leidrade ons binne die huis kan vind.

“Ouma, ons kan nie net in hulle huis ingaan nie!”

“Ons moet hierdie raaisel oplos!” Elana huiwer ’n oomblik en knik dan haar kop. Stilletjies glip sy en Ouma Nettie by die agterdeur in. Die kombuis lyk amper te netjies vir iemand wat nou-net ʼn pastei gebak het. Elana druk haar neus toe.

“Ouma, daardie pastei ruik baie,,, vreemd.”

Hulle hoor hoe die voordeur toegeklap word en Tannie Bertha se voetstappe naderkom. “Kruip weg Elana!”, fluister Ouma Nettie.

Elana buk onder die kombuistafel in. Sy hoor hoe Tannie Bertha met Oom Thomas in die oorkantste vertrek gesels. Sy kruip nader aan die gang om beter te kan afluister. Sy probeer hard konsentreer, maar hoor net elke tweede woord.

“… kan jy dit glo?… mens… vleis… kompetisie.”

Haar bloed word yskoud. Hulle moet hier wegkom. Elana swaai om en hardloop na die kombuisdeur toe. “Wat gaan aan?” Ouma Nettie steek haar kop by ʹn kas uit.

“Ek en Ouma moet nou hier wegkom en die polisie gaan bel!”

Sy gryp Ouma Nettie aan die arm en hulle vlug terug huis toe.

ʼn Week later sit Elana saam met Ouma Nettie in die kombuis.

“Het Ouma gesien hulle praat van ons in die koerant?” Ouma Nettie draai opgewonde om en Elana begin lees:

Geraamtes in die sak!

’n Skooldogter en haar Ouma was bekommerd oor’n geraamte wat hulle in hul bure se vullis gevind het. Na polisieondersoeke is daar gevind dat die geraamte in Meneer Thomas le Roux se wetenskapklas gestaan het toe hy nog klas gegee het. Toe dit tyd raak vir somerskoonmaak het hy die gehawende ou geraamte uitgesmyt.

Elana sug. “So, hulle was toe nie weerwolwe of mensvreters nie.”

“Mens weet nooit, Elana. Ek glo nie dat Bertha besig was om ’n skaappastei vir die Vrouemark se kompetisie te bak nie. Die polisiespeurders weet ook nie altyd alles nie.” Ouma Nettie gee vir haar ʼn bord kos aan. Elana skud haar kop. Ouma Nettie se speur- eskapades gaan hierdie ’n BAIE opwindende vakansie maak.

“Watter gereg is hierdie Ouma?”

“My beroemde skaapbrein-bobotie en groenteslaai met komkommersous.”

Elana voel hoe sy begin naar word en Ouma Nettie skaterlag.

Minette van Vuuren
Minette is ‘n student in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Sy het “Geraamte in die sak” geskryf as ‘n tweedejaarsprojek.
Kopiereg Minette van Vuuren
Illustreerder: Merie Langner
April 2021
0
Would love your thoughts, please comment.x