Die bure bly nooit lank nie

Die bure bly nooit lank nie

Johannes Coetzee
“Dis nou al die vierde gesin wat uit daardie huis uit trek,” sê Chris terwyl hy by die agterdeur uitkyk.

“Dis nou al die vierde gesin wat uit daardie huis uit trek,” sê Chris terwyl hy by die agterdeur uitkyk.

Die bure is besig om hulle laaste paar meubels op ʼn sleepwa te laai. Sy ma sê hulle het skaars drie maande gebly. Hulle het gereeld nuwe bure.

“Ek dink daardie plek spook,” sê Jaco. Hy is Chris se beste vriend. Sy ouer broer probeer hom altyd bang maak met allerhande scary flieks.

“Daar bestaan nie so iets soos spoke nie,” sê Chris.

“Hanno sê dat mense nooit lank bly in ʼn huis wat spook nie.” Jaco gaan staan langs Chris in die kombuisdeur.

“Jou boetie kyk te veel flieks,” sê Chris.

“Kom ons gaan kyk vanaand. As daar niks is nie, dan kan jy vir my sê I told you so. As daar iets is, het ons ʼn spook gesien, en hoe flippen cool is dit nie?” Jaco kyk opgewonde na Chris.

“Hoekom is dit so cool om ʼn spook te sien?” vra Chris.

“Want mense maak flieks daaroor, en mense maak net flieks oor goed wat cool is.” Hy het dit seker ook by sy boetie gehoor, maar hy het seker ʼn punt beet.

“Ons kan nie net by daai huis ingaan nie.” Chris staan en kyk vir die bure se huis.

Hy is tog nuuskierig oor wat daarbinne aangaan. Dit kan seker nie toevallig wees dat niemand ooit lank daar bly nie.

“Niemand bly meer daar nie, so op die oomblik is dit seker niemand sʼn nie,” sê Jaco en trek sy skouers op.

Chris sug en skud sy kop. “Het jy ʼn plan?”

Jaco begin entoesiasties verduidelik. Die plan is om dit baie laat in die aand te gaan doen, Jaco gaan oorslaap. Hy gaan met ʼn flits oor die muur klim, terwyl Chris, ook met ʼn flits, op ʼn stoel by die muur staan en uitkyk vir sy ouers.

Hulle gaan Chris se walkie-talkies gebruik om met mekaar te praat. Die bure het een van die vensters half oop gelos, Jaco reken hy sal dit verder kan oop kry, maar hy gaan eers kyk of die deur dalk oop is.

Na aandete gaan sit en wag hulle in Chris se kamer vir sy ouers om te gaan slaap. Hulle het klaar die walkie-talkies en kopliggies gereed. Daar hang ʼn verkyker om Chris se nek. Hy vee sy sweterige hande aan sy broek af, is dit regtig so ʼn goeie idee?

ʼn Sagte gonsgeluid breek die stilte. Beide seuns ruk effens. Chris voel die vibrasie teen sy bobeen. Hy het vergeet dat hy vroeër ʼn wekker gestel het. Die selfoon se skerm wys dat dit twaalfuur is.

“Ek dink hulle sal nou al slaap,” fluister hy. Hulle staan op en Chris gaan kyk by sy kamerdeur uit. Sy ouers se lig is af. Hy draai om en wys vir Jaco dat hy na die deur toe moet kom.

Hulle sluip op hulle tone deur die gang tot in die kombuis. Chris probeer sy bes om die agterdeur oop te sluit sonder om te raas. Hy sukkel vir ʼn oomblik om die sleutel in die gaatjie te kry. As sy hande net kan ophou bewe.

“Maak gou,” fluister Jaco. Chris hou sy vingers oor sy lippe en frons effens vir Jaco. Hy draai die sleutel stadig en die slot gaan met ʼn sagte klik oop.

Toe hulle uit die huis uit kom, hoor hulle sagte klikgeluide op die sement. Leo kom om die hoek van die huis en maak sagte tjankgeluide.

“Nee, bly stil, Leo,” sê Chris en begin hom vryf. As die hond sy ouers wakker maak is hulle aand verby.

“Ek gaan solank oorklim,” fluister Jaco. “Maak daai hond stil.” Hy trap op ʼn tuinstoel en lig homself oor die muur.

Chris hardloop by die huis in. Hy is weer op sy tone. “Stupid”, mompel hy vir homself.” Hulle moes aan Leo gedink het. Hy sluip reguit na die yskas toe, hy dink daar is nog rooiworsies oor.

Met verligting sien hy dat hy reg is. Hy haal die rooiworsie uit die yskas uit, en maak die deur saggies toe. Hy kyk vir oulaas weer by die gang af om seker te maak dat sy ouers se lig nog af is en sluip dan weer terug agterdeur toe.

Leo is in ekstase oor sy rooiworsies. Hy gaan sit op die gras en eet gulsig. Chris staan op die tuinstoel en kyk oor die muur vir Jaco. “Is jy reg?” fluister hy in die walkie-talkie in.

“Ja ek is reg, kan jy my hoor?” klink dit uit die walkie-talkie uit. Jaco begin na die huis toe loop.

Die droë gras kraak onder Jaco se voete. Die maanlig skyn silwer op die huis. Die stilte in die werf is om van mal te word. Al wat hy kan hoor, is sy voetstappe. Hy hoop dis net syne.

Die deurknop is yskoud in sy hand en dit draai maklik. Skielik wil hy nie meer ingaan nie.

Hoekom is die deur oop? Hulle sou dit gesluit het, sou hulle nie? Hy kyk terug na Chris toe. Sy kop en skouers steek bo die muur uit. Om nou uit te chicken is nie ʼn opsie nie, wat sal Hanno sê? Hy asem die koue aandlug diep in sy longe in.

Die deur swaai met ʼn sagte kreun oop. Dit voel vir Jaco asof daar ʼn ligte bries deur sy hare waai. Dit laat hom ril van sy kroontjie tot in sy groottoon.

Chris staan op die stoel en kyk hoe Jaco die deur oopmaak. Hy sit sy kopliggie aan en kyk deur die verkyker by die huis se vensters in. Dit lyk of meeste van die kamers leeg is, ten minste dié waarin hy kan sien.

Jaco skakel sy kopliggie aan. Dit skyn ʼn grys bal lig teen die vaal-wit mure. Daar is ʼn vrotterige reuk in die lug. Dalk ʼn dooie rot. Sy voetstappe eggo deur die leë huis, dit klink asof daar iemand in elke vertrek rondloop. Nog ʼn rilling kruip teen sy nek op.

Chris sien deur ʼn venster hoe Jaco in een van die kamers in loop. Daai ou is mal. “Hoe lyk dinge daar binne?” fluister hy. Hy sien hoe Jaco bietjie ruk toe hy die walkie-talkie hoor.

“Hier is nie veel om te sien nie,” sê Jaco, “sit af jou kopliggie, dit skyn in my oë.” Hy stap uit die kamer uit. Die gang voel skielik vir hom baie nou, asof die mure binnekort aan sy skouers gaan raak. Hy haal weer diep asem en blaas ʼn wit wolk uit. Die koue lug laat hom amper hoes.

Hy stap stadig by die gang af. By elke deur stop hy en stoot dit stadig oop. Elke keer is die kamer leeg. Daar is nog net een deur oor. Sy boetie sê in die flieks is die spook of monster altyd by die laaste plek waar ʼn mens kyk. Hy stoot die deur stadig oop. In die verte hoor hy hoe Leo begin blaf.

“Leo, bly stil!” fluister Chris. Leo staan met sy bene gebuig en blaf. Sy lippe trek weg van sy skerp tande af. Chris gooi nog ʼn rooiworsie voor hom, maar hy vat dit nie. Hy begin teen die muur op spring.

Chris klim van die stoel af en probeer vir Leo bedaar. “Shhh! Jy gaan vir Ma-hulle wakker maak!”

Die kamer is heelwat groter as die ander. Jaco stap in om beter te kan sien wat binne aangaan. Hy gaan staan by die venster wat die mense oop gelos het en kyk na waar Chris gestaan het. Leo blaf nog steeds. As Chris nie daardie hond stil kry nie, gaan hulle moeilikheid hê.

Na ʼn hele ruk se gevryf, begin Leo bedaar. Hy blaf nie meer nie, maak net klein tjankgeluide. Chris gooi vir hom nog ʼn paar rooiworsie. Hy luister om te hoor of sy ouers dalk wakker is. Vir ʼn oomblik dink hy sy pa gaan by die agterdeur uitkom maar daar is niks.

“Chri… wa… jy…” Chris skrik vir sy walkie-talkie. Hy druk die knoppie.

“Jammer ek het net gou die hond stil gemaak.” Hy klim weer terug op die stoel. Jaco se kopliggie skyn amper in sy oë. “Is alles nog reg?” vra hy.

Jaco begin aan die walkie-talkie klap, die flippen ding wil nie werk nie. Sy kopliggie begin aan en af flikker. Hy sit die walkie-talkie in sy sak en bekyk die kopliggie, hy wil nie in die donker wees nie.

Chris probeer agterkom wat aangaan. Jaco se lig het afgegaan, nou kan hy niks sien nie. Daar flikker ʼn lig en hy sien vir ʼn oomblik Jaco se gesig. Dan is dit weer donker. Nog ʼn flikker. Hy sien weer Jaco se gesig. En die man wat agter Jaco staan.

Hy val amper van die stoel af soos hy skrik. Dis weer donker in die kamer. Hy weet nie hoekom nie, maar hy spring oor die muur. Sy asem brand koud in sy longe terwyl hy oor die grasperk hardloop Hy moet vir Jaco help.

Jaco is nog besig om met sy kopliggie te sukkel. Hy moes geweet het Chris gaan vir hom die slegte een gee. Skielik skyn daar ʼn helder wit lig in sy gesig.

Chris staan by die venster en probeer vir Jaco beduie. “Agter jou!” skree hy.

Jaco draai om. Hy kyk in ʼn wit benerige gesig vas. ʼn Man met ʼn bleskop en ʼn grys stoppelbaard staan vir hom en kyk.

Kom uit my huis uit!” gil hy. Dit klink nie of die klank deur sy mond kom nie, maar uit die mure en die dak.

Die ou man se stem tref Jaco soos ʼn emmer yswater. Voor hy kan keer, gil hy uit sy maag uit. Hy wil ʼn tree terug gee, maar hy voel die venster teen sy rug. Sy bene begin bewe, maar hy veg daarteen. Jy kan nie weghardloop met bewende bene nie.

Chris hardloop voordeur toe. Toe hulle sien dit was oop, moes hulle geweet het daar is moeilikheid. Hy is op pad om by die deur in te hardloop, toe dit met ʼn donderende knal toeklap. Die deur wil nie weer oopgaan nie. Leo begin weer blaf.

Die ou man stap op Jaco af. Sy lippe trek oop en ʼn ry geel tande kom te voorskyn. Jaco besluit genoeg is genoeg. Hy hardloop na die voordeur toe. Die ou man se roggel weergalm agter Jaco deur die kamer. Is sit sy asem wat hy in sy nek voel?

By die voordeur sien hy hoe die handvatsel beweeg. Dis Chris wat die deur probeer oopmaak.

“Dis gesluit!” skree Chris. Jaco het nie nou tyd om te wonder nie. Die deur was oop toe hy ingekom het, en nou is dit nie. Hy kan niks daaraan doen nie. Net hardloop.

Hy kyk agter hom. Die kamer is pikdonker. Hy probeer weer sy kopliggie aansit. Dit gaan aan. Die ou man staan in die gang. Hy begin vinnig op Jaco afsweef. Jaco koes en voel ʼn kou wind teen sy arm. Hy hardloop weer gang toe.

Die ou man se roggel is weer in Jaco se ore. Hy hardloop by die laaste kamer in die gang in en slaan die deur toe. Die ou man steur hom nie aan die deur nie. Jaco hardloop na die venster toe en duik soos ʼn swemmer daardeur. Sy bene tref die vensterbank.

Chris gryp vir Jaco onder sy arms en help hom op. Hulle hardloop muur toe. Chris is vinnig oor. Jaco dink dis die vinnigste wat hy nog ooit oor ʼn muur gespring het. Hy kan nie eers onthou of hy sy hande gebruik het nie, dalk het hy oor dit gespring asof hy hekkies hardloop.

Chris en Jaco lê in die kamer, niemand het nog enigiets gesê vandat hulle in hulle beddens gaan klim het nie.

Na ʼn ruk praat Jaco. “Ek het jou gesê dit gaan cool wees.”

Johannes Coetzee
Johannes Coetzee is ‘n Skryfkunsstudent aan die NWU. Hy het die verhaal geskryf as deel van die module oor die skryf van kinder- en jeugverhale.
Kopiereg Johannes Coetzee
Illustreerder: Henrico Greyling
Junie 2020