Vasgevang

Vasgevang

Anneke Langner
"Wat speel jy?" Thea wip soos sy skrik toe Luan skielik agter haar praat. "Niks met jou te doen nie," sê sy nors en druk haar selfoon teen haar bors vas.

“Wat speel jy?” 

Thea wip soos sy skrik toe Luan, haar 9-jarige boetie, skielik agter haar praat.

“Niks met jou te doen nie,” sê sy nors en druk haar selfoon teen haar bors vas.

Die laaste ding wat sy nou nodig het, is dat hy haar vra om Roblox  te speel. Hy vra elke dag en haar antwoord bly elke dag dieselfde: Nee. Hy breek boonop alles wat in sy hande beland.

“Môre is my verjaarsdag,” glimlag  hy vroom, “Mag ek vir my verjaarsdag op jou foon speel?”

“Ja. Môre,” antwoord sy bot.

Skielik gryp Luan Thea se foon uit haar hand en kruip onder die koffietafel in waar Thea hom nie kan beetkry nie.

“Gee my foon TERUG!” gil Thea byna histeries.

Sy duik onder die koffietafel in en klou met alle mag aan haar selfoon, in Luan se hand, vas. Thea ruk haar foon terug en stamp haar kop so hard aan die onderkant van die tafel dat die blompot omval en in skerwe spat. 

“Sien wat het jy nou gedoen?” raas Thea.

Sy en Luan kyk verskrik na die gebreekte keramiekstukke en water wat oor die duur houttafel drup.

“Wat gaan hier aan?” bulder Pa skielik agter hulle, “Julle weet ek probeer werk.”

Pa het ’n diep frons tussen sy oë. Vandag moet hulle versigtig trap.

“Thea wil nie hê ek moet op haar foon speel nie,” kerm Luan terwyl hy so onskuldig soos hulle strepieskat probeer lyk.

“Dit is nie waar –” probeer Thea protesteer, maar haar pa val haar in die rede.

“Is julle huiswerk al gedoen? Het julle al die wasgoed opgehang soos ek gevra het? Het julle al vir Strepies kos gegee vanmiddag?”

Thea soek vir woorde, maar dit sit in haar keel vas.

“Jy is die hele dag op daardie selfoon,” gaan hy voort,  “Plaas dat julle ’n bietjie buite speel soos ander kinders.”

Pa ruk  Thea se selfoon uit haar hand en marsjeer terug studeerkamer toe. Thea staar haar pa verslae agterna.

Aw man,”  kerm Luan, “Ek wou regtig graag Roblox gespeel het.”

“Jy is ’n puisiepunt!” snou Thea hom toe en storm kamer toe.

Die vensters bewe soos sy die deur agter haar toeklap.  

***

Daardie aand kan Thea nie aan die slaap raak nie. Al waaraan sy  dink is die gebeure van die middag. Dit voel so vreemd om nie haar selfoon te hê nie. Sy kan nie die nuutste trends op Tik-Tok sien nie, sy kan nie saam met Leandri Roblox speel nie en die ergste van alles is, dat sy nie eers vir iemand kan laat weet dat haar foon gevat is nie! Sy het seker teen hierdie tyd al 20 Whatsapps.

Thea hoor hoe haar ouers die deure sluit en na hulle kamer beweeg. Sy spits haar ore. Sy kan nie alles uitmaak wat hulle sê nie. Dit klink iets soos:

“Ek het Thea…foon…”

“Ja…vanmiddag…”

“Wat van…Luan…verjaarsdag…môre?”

Na ’n rukkie is dit doodstil en donker in die huis. Pa se snorke is al wat hoorbaar is. Saggies staan sy op. Die houtvloer kraak onder haar voete. Sy luister ’n oomblik.  Niks. Suutjies sluip sy gang af tot in haar pa se studeerkamer.  Versigtig maak sy die deur oop.

In die donker voel-voel sy in al die rakke. Skielik skuifel iets agter haar pa se lessenaar. Sy vries. Haar hart klop wild. Daar – op haar pa se stoel – sit ’n donker figuur. Thea se hart gaan staan amper. ’n Gil stol in haar keel.

“Wat soek jy hier?”  fluister die figuur hees.

Dis net Luan.

Ek soek my foon. Wat soek jý hier?”  

Ek soek ook jou foon. Ek wil “Roblox” speel.”

Nog voor Thea iets kan sê, trek Luan een van die laaie oop. Sowaar, tussen haar pa se papiere lê haar selfoon.  Thea en Luan gryp gelyk na die selfoon. 

Los my foon, Luan!”  fluister Thea dringend.

Luan los nie. Hulle ruk en pluk aan die foon. Skielik kom daar ’n warrelwind van nulle en ene uit die foon getol. Dit spin hulle om en om en om. Die warrelwind van nommers word sterker en meer. Dit lig Thea en Luan op waar hulle steeds aan die foon vasklou. Thea voel hoe sy kleiner en kleiner word. Die wind is te sterk. Dit suig haar en Luan tot binne die foon in en spoeg hulle op die selfoon se tuisskerm uit. 

Die nommers verander in pers skoenlappers wat om hulle vlieg. Luan gryp na een, maar hulle is te rats. Thea verwonder haar aan die oop veld waarin hulle staan. Hier en daar sweef ’n paar apps rond. Tussen die wolke en die pers lug is haar kalender. “Luan verjaar” waai bo hulle koppe verby.

“As jy maar net jou wallpaper iets anders wou maak kon ons nou by die see wees” terg Luan.

“Bly jy stil, ” sê sy bitsig, “Dit is alles jou skuld!”

“Ag, issie man,” sê Luan dapper.

“Kyk!” Hy hardloop volspoed teen die glasskerm vas.

Sy kop maak ’n harde “donk” teen die glas. Eina. Teen die glas sit daar twee handmerke en ’n gesigafdruk. Die skerm se lig gaan aan en die selfoon skud soos dit vibreer.

“Dit is so cool,”  sê Luan en hardloop ’n tweede keer teen die glas vas.

“Hou op, Luan!” roep Thea terwyl sy benoud vashouplek soek soos die foon skud.

“Dit is wat elke keer gebeur wanneer jy ’n boodskap ontvang, Thea,” praat ’n stem skielik agter hulle, “Dit is nie lekker nie, né?”

Thea staar na die mooiste foon-vroutjie wat na hulle aangesweef kom. Dit lyk of haar hele liggaam deur seine en radiogolwe bymekaar gehou word.

“Wie is jy?” vra Luan nuuskierig.

Haar stem het ’n beheersde, kalm toon wanneer sy praat:  

“Sommige noem my Alexa. Ek is ook Siri en Bixby en die stem van Google. Ek verkies egter, Watsenaam.”

“Watsegoed?” vra Luan met ’n frons.  

“Nee,” sê die foon-vroutjie steeds baie geduldig, “WAT-SE-NAAM. Ek is die bestuurder van Slimfoon A8. Ek het ’n sterk wind gehoor en toe die foonbewings. Dit is my werk om te kom kyk wie ons so laat in die aand pla.”

“Ons?” vra Thea.

“Ja,” sê Watsenaam, “Ons werk hard om jou tydens skermtyd tevrede te hou.”

Sy stryk haar helderkleurige romp met haar hande reguit.  

“In elk geval, ek praat te veel. Kom ek wys julle liewer.”

Luan hardloop gretig agter Watsenaam aan by die tuisskerm uit.  Thea vou haar arms nors. Daar is nie ’n manier dat sy Watsenaam gaan volg nie. Sy vertrou haar glad nie. Luan moet maar sy les leer. As hy net haar selfoon wou uitlos, dan sou hulle nie nou in hierdie gemors gesit het nie.  

Thea gaan lê op haar rug en kyk na die skoenlappers. Sy is baie tevrede met die prentjie wat sy vir haar tuisskerm gekies het. Skielik breek ’n angswekkende gil die stilte. Die skoenlappers vlieg verwilder weg. Thea kyk verskrik om haar rond. Was dit Luan? Het hy seergekry? Sy het geweet sy kan nie vir Watsenaam vertrou nie! Haar hart klop vinniger. Wat gaan sy vir haar ouers vertel as Luan weg is? Hoe gaan hulle haar ooit hier kry? Dit is nie Luan se skuld nie…dit is haar skuld.

Vasberade staan Thea regop.

“Dit is my foon. Ek is die bestuurder hiervan – nie  Watsenaam nie.”

Vol moed stap sy na die plek waar Luan en Watsenaam verdwyn het.

“Ek, wat Thea is, sal my boetie kry en Watsenaam sal seker maak dat ons hier uit kom as sy weet wat goed vir haar is.”  

Thea verkyk haar aan die binnekant van haar selfoon. Dit lyk glad nie soos die tuisskerm nie, maar eerder na ’n huis met baie vertrekke. Sy draai by die eerste vertrek in wat sy sien. Bo die deur staan daar in blink letters: Tik-Tok. 

Die hele vertrek lyk soos ’n filmstudio.  Daar is ’n verhoog, kameras, ligte en ’n klomp spieëlkaste en kostuums. Die vertrek is vol bedrywige akteurs. Sommige grimeer terwyl ander se hare gedoen word.

“Het enige een van julle vir Luan en Watsenaam gesien?” vra sy hard.

Almal stop waarmee hulle besig is en kyk vir Thea. Sommige begin agter hulle hande fluister en giggel.

“Wel, is dit nou nie Thea van Wyk nie?” vra een van die akteurs sarkasties.

“Ag help my,” sê ’n blonde aktrise, “Ek is so moeg om die hele tyd in haar gesig vas te kyk.”

Een vir een stap hulle nader om Thea beter te bekyk.

“Weet jy, Thea,” sê ’n ander een, “Ons is só moeg en oorwerk. Al wat ons 24/7 moet doen is jou vermaak.”

Thea weet nie wat om te sê nie. Sy het nie geweet dit is hoe die mense op Tik-Tok oor haar voel nie. As sy nou terug dink, het sy lang tye op Tik-Tok  spandeer.

“Ek is jammer,” stotter sy.

“Jammer?”

Die akteurs en aktrises kom nog nader en vorm ’n halfmaan voor haar.

 “Jammer gaan nie dinge regmaak nie, Thea.” 

Thea sluk benoud. Weer skeur die gil deur die selfoon. Sy druk haar ore toe. Luan is definitief nie hier nie. Sy hardloop by Tik-Tok uit voor die akteurs haar miskien beetkry. Sy draai by die volgende vertrek in: Whatsapp.

Thea voel verlig. Sy is seker daar is niemand hier wie sy kon ontstel nie.

“AAAAAAAAAAAAAAAAARGH!”

Thea gryp haar hart vas soos sy skrik.  In die middel van die vloer sit ’n mannetjie met ’n ronde, geel gesig. Dit is hy wat so gil. Skielik begin hy verskriklik huil dat die trane loop.  Thea gaan hurk langs hom.

“Wie is jy?” vra Thea rustig.

“Ek…ek… is Emoji.”  

“Net een?” vra Thea. Sy het gedink daar is baie.

“Ja,” sê hy, “Dit is my werk om al die emosies en voorwerpe voor te stel wat jy in ’n boodskap wil gebruik.”

“Wat makeer dan, Emoji?” vra Thea.

“Ek…ek…kan…nie meer nie,” snik Emoji. “Ek…ek…is…nie….meer myself nie.”

Skielik begin hy glimlag. Sy gesig verander na ’n dieper geel. Dan skater hy weer dat die trane loop. Die trane verander in hartjies en die rooi hartjies maak sy gesig rooier en rooier. Nou frons hy. Dieper en dieper. Hy is woedend.  Weer gee hy ’n bloedstollende gil van frustrasie.

“Sien wat het jy gedoen Thea! Ek moet van gesig verander elke paar sekondes op jou bevel! Weet jy hoe dit voel om nie te weet hoe jy voel nie? Ek is….is…”

Die rooi begin verander na groen. Hy gaan naar word! Thea gryp haar mond vas. Gelukkig verander Emoji vinnig weer na ’n ligte pienk en ’n koorspen verskyn in sy mond.

“Ek is moeg en siek, Thea. Kyk wat het jy aan my gedoen…” sê hy flou.

Dan word hy grys tot sy gesig in ’n kopbeen verander.

Verbyster stap Thea by Whatsapp uit. Van nou af sal sy onthou om minder gesiggies te gebruik. Soos sy wegstap, gil Emoji weer. Thea ril. Dalk beter, sy sal minder op Whatsapp gesels.  As die gil nie Luan s’n is nie, waar kan hy dan wees?

Uiteindelik sien sy vir Watsenaam en Luan voor ’n vertrek staan. Sy hardloop na hulle toe.

“Luan! Watsenaam!” roep sy.

“Ah, Thea,” praat Watsenaam steeds kalm, “Ons het gewonder wanneer jy by ons gaan aansluit.”

Thea is glad nie vriendelik nie.

“Luister vir my Watsenaam, ek en Luan wil huis toe gaan. Jy gaan ons nou verduidelik hoe ons hier uitkom.”

Sy gryp Luan aan sy arm, maar hy ruk los.

“Nee, Thea,” sê Luan, “Ek wil hier bly en Roblox speel. Jy wou my mos nie die kans gee nie.”

Thea sien nou eers die blou geblokte letters bo die deur:  ROBLOX.

“Asseblief, Luan! Moenie! Jy weet nie eers hoe Roblox werk nie,” smeek sy.

Luan steek sy tong vir Thea uit en verdwyn in die donker vertrek.

“Wel,” sê Watsenaam, “Ek gaan julle tweetjies maar hier los om dinge uit te praat. Ek ken boonop nie die pad uit nie.”

Nog voor Thea kan keer, is Watsenaam reeds weg. Thea staan weer alleen in die gange van haar selfoon. Sy sal Luan moet gaan soek. Hy gaan nooit al daardie hindernisse oorleef sonder oefening nie. Sy probeer nie eers dink aan die moordenaar in party speletjies nie. Dalk moes sy hom maar ’n kans gegee het om te speel…

Die grootste uitdaging gaan wees om uit te vind in watter een van die duisende speletjies hy verdwyn het. Vol moed spring Thea by die eerste speletjie in. Sy verander in ’n blokkie-karakter en alles om haar is in animasie styl. Sy haal diep asem en roep so hard as wat sy kan:

“Lu-an!”

’n Spraakborrel verskyn bo haar kop waarin daar staan: “Luan!” Dit gaan nie werk nie.  Skielik vlieg daar ’n yslike vliegtuig oor haar kop. Sy waai met al twee haar arms in die lug om te wys sy wil saam vlieg.  Dit vlieg net verby. Gelukkig land daar ’n kleiner vliegtuig langs haar en vlieg na al die eilande. Luan is nie op een van hulle  nie.

Sy hardloop by die volgende speletjie in. Sy staan in ’n donker woud saam met 14 ander karakters. Haar hart begin wilder en wilder klop. Net die Flicker nie! Haar oë gly oor die skare. Sy sien Luan agter ’n boom staan. Sy hardloop na hom toe. 

Luan, ons moet hier uit! Een van hierdie mense is ‘n moordenaar!

No way! Ek is nog nie klaar gespeel nie!

Die speletjie begin. Skielik is dit pikswart. Thea ys. Sy weet wanneer dit swart word, gaan iemand sterf. Die ligte gaan weer aan. Hulle is nou 13 mense. Daar is geen teken wie die moordenaar is nie. Dit lyk nie of dit Luan pla nie. Hy hardloop wild rond terwyl Thea by hom probeer bly.

Na ’n rukkie is dit net sy en Luan oor. Dan verskyn daar ’n kort mannetjie, met ’n mes in sy hand, van agter ’n boom. Thea begin hardloop. Dis die moordenaar! Sy kan gil van vrees!  Luan staan ’n rukkie vir die vreemde karakter en kyk. Die moordenaar begin hom jaag.  Luan storm agter Thea aan. Hulle hardloop sommer by die speletjie uit. Die moordenaar ook.

Hy jaag hulle by die gange van die selfoon af.

“Help!” skree Thea.

“Help!” skree Luan.

“Help?” vra die mense in Tik-Tok en begin by die vertrek uitbondel.

“Help?” vra Emoji. Sy gesig is in verbande toegedraai. Hy rol soos ’n balletjie by die vertrek uit.

Saam met die moordenaar begin hulle om vir Thea en Luan te jaag. Hulle hardloop tot in die tuisskerm. Thea staar na die swart skerm voor hulle. Sy kyk om en sien die skare wat briesend aangestorm kom; die moordenaar heel voor. Hulle lyk baie kwaad. Sy neem Luan se hand in hare.

“Een…Twee…Drie!”

Saam hardloop sy en Luan met al hulle krag in die skerm vas. Die foon skud en vibreer. Hulle val hard op die tuisskerm terug.

Die jaende skare kom nader en nader.

“Ek het ’n plan!” roep Luan en beduie na die herlaai-gaatjie aan die onderkant van die skerm.

Sonder om twee keer te dink, begin Thea en Luan om hulself deur die nou gaatjie te wurm.

Hulle kyk na mekaar waar hulle saam die selfoon in die studeerkamer vashou. Sonder om te twyfel, druk hulle die foon terug in die laai en stoot dit styf toe. So saggies, maar vinnig, as wat hulle kan, sluip hulle kamer toe. Thea druk die deur stewig agter haar toe.

***

“Veels geluk liewe, Luan,” kom dit vanuit die gang. Thea maak haar oë lomerig oop. Die son skyn helder in haar kamer. Luan verjaar! Thea hardloop na Luan se kamer toe waar haar ouers met ’n geskenksakkie staan. Luan gee een kyk vir Thea en sy weet hulle dink dieselfde. Dit was nie ’n droom nie.

Luan maak haastig die geskenk oop. Hy en Thea staar lank na die pakkie in sy hand.

“’n Selfoon!” roep hy verbaas uit.

“Ek en Ma het gedink jy is nou oud genoeg om Roblox op jou eie foon te speel,” sê Pa.

“En Thea,” sê Ma, “Ek en pa het besluit ons gaan jou selfoon vir die week hou. Jy kan dit Sondag kry wanneer ons sien dat jy meer tyd aan jou skoolwerk spandeer.”

Thea knik gretig.

“Ma-hulle kan dit sommer tot Kersfees hou. Van nou af gaan ek my huiswerk doen, die wasgoed ophang en elke middag vir Strepies kosgee.”  

Pa en Ma kyk verbaas na mekaar.

“Wie weet, dalk speel ons ook buite soos ander kinders,” sê Luan en knipoog vir Thea.

Anneke Langner
Anneke is ‘n student in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Sy het Vasgevang in 2020 as ‘n tweedejaarsprojek geskryf.
Kopiereg Anneke Langner
Illustreerder: Anneke Langner
Julie 2021
0
Would love your thoughts, please comment.x