Ons laaste legendariese somer

“Besef julle hierdie Desember is legit ons laaste ordentlike somer-skoolvakansie?” Tobi, Rowan en Dean besef matriek gaan rof wees. Die onderwysers deel alreeds huiswerk uit en dis nou eers die einde van graad elf. Daarom moet hulle hierdie laaste Desember-vakansie legendaries maak. Hulle sit af na Vleesbaai – ja, daar is rêrig so ’n plek – en maak ’n paar reëls vir die vakansie: • Geen bakleiery nie. • Almal doen alles saam. • En geen meisies nie. Dis egter waar dinge skreeusnaaks ontspoor … ’n Legendariese misverstand, legendariese ramp, legendariese surfing, legendariese meisie, en dalk ’n legendariese soen – dit alles maak ’n legendariese somer.

LAPA Jeugromankompetisie 2023 Wenner

Bravo! Charlie

Wat het geword van elke man vir homself? Charlie Flets is 17, taai en ʼn 800m atleet op pad na SA’s. Behalwe vir sy skaaphond buddy, Bravo, en vriend, Jordan Jafta, probeer Charlie sy bes om solo te vlieg. Probeer … Dis makliker gesê as gedaan, veral as jou buddies moeilikheid kry. Terwyl hy bloed sweet op die atletiekbaan, maak hy seker dat hy nie per ongeluk ʼn barmhartige Samaritaan soos die res van sy gesin word nie. Hy fokus eerder op sy eie oorlewing, want hy haat dit dat sy pa ’n helikoptervlieënier in die lewensgevaarlike Soedan is en hy haat dit dat sy ma alles en almal in nood help. Soos die uiters vreemde tannie San wat haar intrek in sý buitekamer kom neem het. En dan tel Charlie teensinnig ʼn verlore joernaal op en teen sy beterwete probeer hy die eienaar opspoor. Skielik word sy eie planne van alleen leef ontspoor, want die joernaal maak ʼn ander wêreld vir hom oop.

LAPA Jeugromankompetisie 2023 Naaswenner

Donkerster

Carli Kirstein is 17 en so toegewyd aan wildbewaring dat sy soms van gevaar vergeet. Met twee veeartse as ouers was dit eintlik onvermydelik, maar haar passie maak haar nie juis deel van die gewilde groep nie. Die drie ouens in haar lewe maak ook dinge moeiliker. Wouter, toekomstige hoofseun en sterkrieketspeler; Stef, die sjarmante ouer buurseun; en Xander, ’n hardwerkende dromer en doring in haar vlees. Paaie kruis en die gevaar styg wanneer Carli uitvind dat wildstropers die naburige rehabilitasiesentrum vir leeus en ander groot katte teiken. Carli, haar vriende en haar jonger boetie, Julian, besluit om ’n paar aande te help waghou sonder dat hulle ouers weet. Toe dinge skeefloop is almal in gevaar, en dis Carli se skuld. Is daar vir hulle uitkoms?

LAPA Jeugromankompetisie 2023 Naaswenner

Dinge wat ek nie van skape geweet het nie

Glo my, as jy op die ingewing van die oomblik `n skaap by ‘n kerkbasaar steel, sal jou lewe nooit weer dieselfde wees nie …
Luan se vakansieplanne is in hulle peetjie.

In plaas daarvan dat hy by die huis gaan rondsit, PlayStation speel en saam met sy pelle kuier, moet hy Karoo toe gaan. Op ‘n road trip. Saam met sy eksentrieke fotograaf-ouma wat ‘n fotoboek oor windpompe wil publiseer.

Dit is sy straf omdat hy en sy vriende een aand iets aangevang het wat hulle in groot moeilikheid laat beland het.

Op pad deur die Karoo ontmoet hy vir Lana, wie se pa al die pad van Bloemfontein na Kaapstad met sy fiets ry om geld vir kankernavorsing in te samel. Lana wat nie vleis eet nie, mal is oor boeke en hom (sonder dat sy dit weet) oortuig om ‘n skaap te steel.

Luan leer ken vir die eerste keer werklik sy ouma – die hardekwas-predikantsvrou wat al die jare ‘n geheim saam met haar ronddra.

En die belangrikste van als: Hy leer homself ken.

Kort voor lank verander ‘n vervelige rit deur die Karoo in ‘n onvergeetlike reis …

Hierdie humoristiese, hartroerende tienerboek uit die pen van Jaco Jacobs sal jou anders laat kyk na die dinge wat die lewe die moeite werd maak.

Bekroning: Scheepersprys vir Jeuglektuur 2019

Siyolo se trui

Siyolo trek sy geel en rooi trui aan, maar toe iets sy hand kielie, besef hy dat sy gunstelingtrui besig is om uit te rafel by die mou. Hy besluit om verskeie mense met wol van sy trui te help: elkeen op `n unieke manier.
BEKRONINGS:
M.E.R.-prys vir `n geïllustreerde boek 2008.
IBBY Ererol vir illustreerders 2009
Exclusive Books IBBY SA Toekenning 2009

Die onderwêreld

Die verhaal speel af by `n elite privaat seunskool waar Greg Owen hoofseun is en Ekhardt, `n buitestander, in matriek by hulle aansluit. Reeds met die inisiasie van nuwelinge vorm `n band tussen die twee seuns. Die verhaal speel af by `n elite privaat seunskool waar Greg Owen hoofseun is en Ekhardt, `n buitestander, in matriek by hulle aansluit. Reeds met die inisiasie van nuwelinge vorm `n band tussen die twee seuns. Ekhardt erken dat hy `n voortreflike rekenaar hacker is en lei Greg in die geheime van die onderwereld in wat hom, onwillekeurig, in `n gevaarlike avontuur intrek.
BEKRONINGS:
Sanlamprys vir jeuglektuur,Silwer Afrikaans, 2007.

Dokter Me Di Syn en die Keiser se seun

Prins Hi Po Kondri is baie siek. Hy sit net heeldag in die paleis en hy glimlag nooit. Al die koning se dokters het probeer, maar die klein prinsie word nie gesond nie. Toe laat kom die koning vir dokter Me Di Syn – wat sê prins Hi Po Kondri het sonlig en vars lug nodig, maar die prinsie weier om buite toe te gaan. Die wyse dokter Me Di Syn bedink toe `n baie slim plan en kort voor lank word `n ernstige saak `n heerlike speletjie . . . `n Pragtige verhaaltjie wat weer eens die helende krag van die natuur bevestig.
BEKRONINGS:
Katrine Harries-prys vir jeugboekillustrasies, 2001.

Nie vir kinders nie

Tim Marais is op die vooraand van matriek. Op die oog af het hy alles wat hy wil hê – aantreklikheid, gewildheid en akademiese sukses – maar daar is by hom ’n ontevredenheid met sy voorstedelike bestaan wat hy nie mooi kan verstaan of beskryf nie. Die mense om hom dra by hiertoe: soos tannie Trisa, sy sangdosent, vir wie hy meer voel as wat hy behoort te voel – veral aangesien sy die ma is van sy beste vriend, Ruan. Tim se ouers, as voorbeelde van hoe hy nié wil word nie, dra daartoe by dat hy in `n sekere rigting beweeg. Wanneer dinge deur `n sameloop van omstandighede erg skeef loop slaan Tim met mening daardie rigting in.
BEKRONINGS:
Sanlam-prys vir Jeuglektuur 2005: Goue prys.

Jabulani die olifant

Jabulani sit in die modder vas en al probeer die ander olifante hoe, kan hulle hom nie uitkry nie. Gaan Jabulani gered word voordat hy doodgaan van honger en dors?
’n Splinternuwe reeks met stories en feite oor bedreigde diere sowel as inligting oor die organisasies wat hul beywer vir die bewaring van hierdie diere.

BEKRONINGS:
ATKV Kinderboektoekennings, 2006.

Pretpark

“Hier gebeur daar elke tien minute niks en tussenin gaan daar ook nie veel aan nie.” So praat Anton, een van die karakters in Pretpark, oor Rustenvrede, die stowwerige dorpie waar die verhaal afspeel. Daarom dat die besoek van die reisende pretpark met soveel afwagting gepaard gaan. Die gedagte aan `n hengse ferriswiel, spooktonnels en olifantritte en goed. En Madame Zelda se besoek aan die skool om die kinders solank `n voorskou te gee van al die pretpark se aanloklikhede – was dit regtig so onskuldig? Waarom kan Anton-hulle dan nie ontslae raak van die onheilspellende en vreeslik realisteise drome wat hulle snags het sedert hy en Johan en Karin gehipnotiseer is nie?
`n Lekker grillerige verhaal wat die leser van die begin af intrek en nie weer laat los nie!

BEKRONINGS:
ATKV Kinderboektoekennings, 2004.