Spooksoeker #2

Warno Alberts is onder die indruk dat hy ‘n nuwe begin kan maak ná sy ontmoetings met spoke in Spooksoeker # 1. Ongelukkig is dit nie sy lot nie. Sy pad kruis weer met ‘n reeks geheimsinniges en spoke. Nie net kom hy van aangesig tot aangesig met die berugte spookmeisie van Uniondale, die geheimsinnige man in swart, en die grusame bruid nie, maar hy ontdek ook die ander spooksoeker …

Elle-reeks: Omnibus 2

Die volgende drie boeke van Christien Neser se gewilde Elle-reeks is nou beskikbaar in ʼn omnibus. Hierdie titels is: Rocksusters, Duinebesies en Franse vlegsel.

In Rocksusters kan Elle nie wag vir die Musikanto-fees wat Oktober in Parys plaasvind nie. Die Musicanto is ‘n splinternuwe, landswye skolefees. Maar eers moet die skoolorkes genoeg geld insamel om in ‘n ordentlike hotel te gaan bly …

In Duinebesies moet Elle teësinnig na Namibië gaan om saa met haar oom Eddie goggas te vang. Belanglik! Tog is die woestynuitstappie baie meer opwindend as wat Elle verwag het…

In Franse vlegsel gee die woord losloper vir Elle koue rillings … Dit is presies wat sy hierdie jaar gaan wees wanneer Alex op ‘n 4×4-toer gaan. Die enigste lekker ding wat vir Elle voorlê, is haar vakansie na Parys in Frankryk saam met Refi. Maar ‘n uitruilstudent met stoute groen oë maak ‘n onverwagse opwagting, en hy doen vreemde dinge aan Elle se hart.

Glam-divas Omnibus

Talia, Didi en Lienka is al van kleuterskooldae af beste vriendinne. Noudat hulle in graad tien is, weet hulle presies wat die skool nodig het: ’n funky agentskap wat partytjies reël, fantastiese klere ontwerp en modewenke gee. Maar as jy in graad tien is, is dit nie kinderspeletjies om almal te oorreed om jou ernstig op te neem nie. Tussen die agentskap, meisies wat vasbeslote is om die Glam-divas se lewens te versuur en seuns wat hulle knieë lam maak, is daar nooit ’n vervelige oomblik nie. Lees nou al drie hierdie geliefde verhale saam in een lekkerlees-omnibus.

Iemand wat verdrink en ander verhale

Hierdie bundel bevat kortverhale van ’n aantal bekende skrywers, soos Marita van der Vyver, Fanie Viljoen, Nathan Trantraal, Nanette van Rooyen en Zelda Bezuidenhout. Jong stemme soos Mercy Kannemeyer, Almero Welgemoed, Corinne Raath en Arleen Stone verskyn ook in die bundel. Die bundel bevat stories wat so aangrypend is, jy sal als in een slag wil klaarlees sodat jy iemand word wat verdrink in stories …

Papierblomme

Soos papierblomme in die wind, so het haar lewe verwaai. Sal sy dit regkry om die flentertjies weer op te tel? Daar is net een uitweg…

Janine was sewe jaar oud toe haar ouers dood is en sy die deur tussen haar en Jesus toegemaak het. Net sy het dit geweet, want sy was ’n soet kind, oupa Koen en ouma Leen se trots. Die seer in haar was haar eie en sy wou nie bejammer word nie, sy het haar skoolwerk gedoen en presteer, maats gekies wat haar grootouers goedgekeur het, maar wat saam met haar langs die rand van die afgrond geloop het. Sy wou groot wees en wegkom van die klein dorpie waar almal mekaar geken het en baie van die oumense, ook die wat sy bewonder het, met hul eie mislukkings geworstel het. Haar kans het gekom toe Greg Walker die Engelsklas by mister Barlow-Jones oorneem. Met drome in haar oë en haar bruidsruiker in haar hande is sy Londen toe waar sy groter hartseer leer ken, maar ook die grootste ontdekking van haar lewe gemaak het.

Z-A-K: Die Blou Planeet

Twee wêrelde is op die punt om te bots … Mitch het ’n knop op sy maag, hy weet iéts gaan gebeur. Iets sleg. En dan land die ruimtewesens in Deltaville en ontvoer inwoners van die dorp. Mitch en sy beste vriend, Lionel, besef dat dit hulle taak sal wees om die inwoners te red. Op die planeet Zenkion is Imke besig om oor die Blou Planeet, Aarde, te leer. Haar ma was ’n Aardling en dit beteken Imke is half-Blou Planeter, half-Zenkioniet. Al wat Imke wil doen, is om die blou waters van die Blou Planeet te sien. Sal sy die kans aangryp om na hierdie planeet te gaan? Al is die planeet besig om aangeval te word … Mitch en Imke se wêrelde ontmoet in hierdie verhaal oor ruimtereise, ruimtewesens en ’n soeke na die plek waar elkeen behoort.

’n Ster in haar sak en ander verhale

Tussen die bladsye van hierdie kortverhaalbundel is ’n wonderwêreld van stories wat wag om ontdek te word. Hierdie opwindende bundel bevat 21 stories deur van die bekendste skrywers in Afrikaans. Goedgekeur as voorgeskrewe werk vir Afrikaans Tweede Addisionele Taal Graad 11. Die boek bevat volledig uitgewerkte vrae en antwoorde; inligting oor die skrywers; opsommings van die verhale en besprekings van die literêre aspekte van elke verhaal.

Oopmond

Wenner van LAPA se Jeugromankompetisie 2017! Madelaine Taaibosch vermoed die skenkerhart wat in haar bors klop, is ’n gebroke hart. Die dokters verseker haar daar is niks met die hart verkeerd nie, maar sy begin vreemde dinge sien. Dinge uit die verlede. Dinge wat in die toekoms gaan gebeur. Die speurtog na die waarheid oor haar skenker, laat haar stadigaan besef dat party harte mekaar selfs oor eeue heen kan vind.

Die meisie wat gedink het haar ma is ’n meermin

’n Aangrypende, fantastiese avontuur buite en onder die water … Stella is nog altyd die eenkantkind in die familie gewees. Sy loop in haar slaap en sy is bang vir die water alhoewel sy geboei is daardeur. Die grootste raaisel vir Stella is haar ma, wat oorlede is toe Stella agt jaar oud was. Wie was haar ma? Hoekom het sy vir Stella ‘n hangertjie gegee wat “die belofte van die see” genoem word? Niemand kan vir Stella antwoorde gee nie omdat haar pa te hartseer is en haar ouma se geheue versleg. Dit is net deur die see te trotseer, dat Stella regtig die antwoord op haar grootste vraag kan uitvind: Was haar ma ’n meermin? ’n Aangrypende verhaal oor familie, verlies, vriendskap en ontdekking. Tania Unsworth meng fantasie en realiteit in ’n boeiende, poëtiese wyse wat steeds ’n vinnige pas het vir jong lesers. Hierdie is ’n boek wat enige leser sal meesleur met dieselfde magiese, emotiewe krag van die oseaan.