Die vlieënde Hollander

Rina de Klerk
“Daar bestaan nie so 'n ding soos spoke nie, man,” grom ek vies. “Maar boetie, ek het regtig gisteraand een gesien. Hy was in my kamer,” neul die sesjarige Tanya eenstryk deur.

Deel 3

Voor ek my kom kry, is ek aan die onderpunt van die gang en spring om die hoek. Ek sien die kaptein op die brug van die skip staan en drafstap soontoe. Hy tuur byna nostalgies oor die skip.

Die eerste paar bemanningslede kom op die dek uitgestap.

“Kaptein, maar dit is dan vrouens? Hoekom het jy vrouens as matrose?” vra ek geskok toe ek die lang blonde hare sien wat darem die grootste deel van hulle geraamtes bedek. Net hulle gesigte het vel oor en net soos hulle kaptein gloei hulle oë soos vuurwarm kole.

“Dit is deel van die vloek gewees, al my bemanningslede het vrouens geword.”

En steeds kom hulle aan. Ek weet nie waar op aarde hulle almal weggekruip het nie, maar die dek krioel van behaarde geraamtes.

“Gewese manne, ek het my straf uitgedien. Ek gaan nie meer vir baie lank julle kaptein wees nie. Sien julle hierdie seun,” sy vingers grou in my skouer in: “hy gaan vir die volgende driehonderd jaar julle kaptein wees.”

“Nee, ek gaan nie. Ek weier…”

“Bly stil!” bulder die kaptein.

“Julle kan maar die ritueel uitvoer,” beveel die kaptein, terwyl hy met die trappe afloop tussen die bemanning in. Drie van die bemanningslede trek gelyk hulle swaarde en kap na die kaptein se kop, maar slaan in hulle lompheid mekaar se swaarde raak..

Ek moet hier wegkom! Ek hardloop by die trappe af in rigting van die touleer. Een van die bemanningslede gryp my van agter af en swaai my om, net betyds om te sien hoe ‘n breëlemswaard diep in die kaptein se nek inslaan en hy agteroor val. ‘n Klomp sak op hom neer en vir ‘n oomblik weet ek nie wat hulle doen nie, tot een se hand skielik bo die ander uitsteek met ‘n hart wat amper-amper nog klop daarin. Die word van een na die ander aangestuur tot by my.

“Eet,” word ek beveel terwyl een van die bemanningslede die bebloede hart na my toe uithou.

“Nee, ek sal nie, nooit nie!” roep ek terwyl hy nader kom.

“Eet!” kom dit hierdie keer harder.

“Eet! Eet ! Eet!” jil hulle terwyl die vrou ‘n stuk van die hart afskeur. Een bemanningslid gryp my van agter af vas. Die vrou forseer haar vinger beentjies tussen my lippe en my tande in en dwing my mond oop. Ek gil gesmoord toe sy die stuk in my mond druk en ek die warm bloed orals in my mond proe.

“Thinus word wakker!”

“Tanya!” Ek sit regop in my bed en knip-knip my oë teen die skerp kamerlig.

“Wat maak jy? Jou mond is vol bloed.”

Ek vee oor my mond en voel hoe rou my lip is. Dankie tog, dit is net my lip wat ek stukkend gebyt het.

 Uit pure verligting sak ek terug teen my kussings.

“Sus, jy sal nooit glo wat ek gedroom het nie…”

Skrywer: Rina de Klerk

Rina de Klerk
Die storie is geskryf deur Inge Rina de Klerk. Rina is ‘n skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.
Kopiereg Rina de Klerk
Illustreerder: Henrico Greyling
2017-01
0
Would love your thoughts, please comment.x