Kuier by Verna Vels

Ek is 14 jaar oud en in st 6. Ek wil ‘n stemkunstenaar word, met ander woorde ek wil die stem agter animasie karakters wees. Ek het Liewe Heksie so geniet toe ek klein was en die tannie agter Liewe Heksie het my so inspireer, dat ek nou die vrymoedigheid het om hulp by tannie te vra!

Ek is bly om te hoor dat jy Liewe Heksie geniet het! Ek sal probeer om van jou vrae te beantwoord, maar ek weet nie meer hoe dit presies werk met “stemme” by die SAUK nie, aangesien daar na my wete nie meer veel produksie van die soort kinderprogramme of oorklanking plaasvind nie.

Watter vaardighede is betrokke?

Wat vaardighede betref, moet ‘n mens vlot en natuurlik kan lees en, veral as jy bv aan ‘n animasiekarakter ‘n stem moet gee, die vermoë hê om jou stem te verander.

Watter kwalifikasies is betrokke?

Alhoewel nie alle mense wat stemwerk doen dit het nie, is opleiding in drama baie nuttig, want ‘n mens moet ‘n rol kan vertolk. Opleiding is, soos ek sê nuttig, maar ‘n mens moet die natuurlike talent en lus hê om die soort werk te doen. Belangstelling in drama en animasiekarakters maak die werk nogal interessant.

Watter werk ure word van jou verwag?

Dit is moeilik om die werkure vooruit te bepaal. Indien ‘n mens ‘n rol gekry het, sal die regisseur vir jou sê hoe lank dit ongeveer sal neem om dit te voltooi. Die ure word dan in die nodige aantal sessies verdeel. Afhangend van die moeilikheidsgraad van die rol, kan sessies enigiets van 2 tot 4 ure elk, duur.

Werk jy aleen of met ander mense?

Soms werk jy alleen, soms met ander spelers, maar daar is altyd ‘n regisseur en ‘n klankman teenwoordig.

Waarmee werk jy hoofsaaklik?

‘n Mens werk soms met film, soms met video waar die opname van die storie reeds voltooi is en jy die stem of stemme aan die karakters moet verskaf. Soms, maar nie dikwels nie, word die stemme eers opgeneem en die karakters daarby aangepas.

Waar werk jy?

Jy werk òf by die SAUK òf by die produksiemaatskappy wat die werk moet voltooi.

Watter salaris kry jy?

Aangesien dit hoofsaaklik vryskutwerk is, is daar nie iets soos ‘n vasgestelde maandelikse salaris nie. ‘n Mens word per stuk werk betaal – gewoonlik taamlik goed.

As ‘n mens ‘n nuwe kunstenaar is, moet jy natuurlik ‘n oudisie aflê, sodat daar bepaal kan word waartoe jy in staat is.

Ek weet nie hoeveel van die soort werk daar tans gedoen word nie, maar ek sou aanraai dat jy navraag doen by die SAUK se opvoedkundige – departement waar programme soos “Sesame Street” opgeneem word en die Oorklankings-departement. Die SAUK se adres is Privaatsak X24, Auckland Park 2006.

(Onderhoud met Steven Dowse, 14 jaar, graad 8. Junie 2003.)

Liewe tannie, my naam is Leila van Coller. Ek is 8 jaar oud en bly op die oomblik in Swede. My Au-pair lees elke aand vir my een van Liewe Heksie se stories. Ek is mal oor haar maar het ‘n paar vrae om tannie te vra.

Hoekom noem tannie dit gifappeltjies? Hoekom is die gifappeltjies geel? Mens kan die kleur mos maklik in die donker sien.

In die Vrystaat waar ek grootgeword het, was daar in die veld sulke valerige bossies wat ‘n vrug, so groot soos ‘n kleinerige tamatie gedra het. Hulle was geel en ons het hulle bitter appeltjies genoem. Na aanleiding daarvan het ek besluit om die nare geelheks se kabouters gifappeltjies te noem en hulle geel te maak soos daardie oorspronklike bitter appeltjies. Hulle name, Kerrie en Borrie, is ook so gelerig! Dit is waar dat ‘n mens hulle dalk in die donker sou kon sien, maar gelukkig het Blommeland nie straatligte wat op die geel sal reflekteer nie!

Hoekom wil hulle die silwer roos steel? Wat gaan van Blommeland word as die roos gesteel is?

Die geelheks wat gewoonlik vir Kerrie en Borrie stuur om die silwerroos te steel ( wanneer sy dit nie self probeer doen nie,) weet dat as sy silwerroos het, sal Blommeland en almal wat daar woon vergaan en haar dor en lelike Gifappeltjieland sal so mooi word soos Blommeland. Die silwerroos is Blommeland se heel kosbaarste besitting, want dit is die roos wat hulle en hulle mooi land aan die lewe hou.

Hoekom is dit ‘n silwer roos en nie ‘n goue een nie?

Ek het dit ‘n silwerroos gemaak want in een van my geliefkoosde operas, nl “Der Rosenkavalier” van Richard Strauss, speel ‘n pragtige silwerroos ‘n groot rol. ‘n Jong man, of “kavalier” word deur die man wat met die mooi jong meisie wil trou, gestuur om ‘n silwerroos aan haar te oorhandig. Miskien kry julle eendag die geleentheid om die opera te sien. Toe ek dit vir die eerste keer gesien het, het ek gedink dit sal nogal lekker te wees om ‘n storie te vertel van so ‘n land waar ‘n silwerroos die inwoners en hulle koning se kosbare besitting is wat hulle moet oppas en keer dat dit nie gesteel word nie.

(Onderhoud met Leila van Coller, 8 jaar. Maart 2004.)

Kuier by Carina Diedericks-Hugo

Thomas Steyn is die hoofkarakter in die reeks Thomas@. Hoe sal jy Thomas beskryf?

Thomas is in graad agt en woon in Kaapstad. Hy is ‘n doodnormale ou wat hou van pizza, sport, sy rekenaar en deesdae ook ‘n goeie vriendin, Alex. Hy dink die skoolhoof is walglik, hy is ‘n vrek goeie losskakel, hy bekommer hom oor sy beste vriend, Hannes, wat soms ‘n bietjie snaaks is na ‘n kaping en uiteindelik lyk sy stiefma, Louisa, nie so sleg nie.

Karakters in jeugboeke val telkens net in twee kategorieë: of hulle is hierdie superkids wat alles onder die son (en sonder moeite) kan doen of hulle is totale losers. Ek hoop Thomas is iemand met wie ‘n mens kan assosieer omdat hy ‘n bietjie meer realisties is.

Hoe voel jy oor die feit dat Thomas in resensies met Trompie van toentertyd vergelyk word?

Ek voel gevlei omdat ek baie waarde heg aan die ou reeksboeke soos Trompie, Saartjie, Maasdorp, Keurboslaan, ens. Nie so lank gelede nie, toe daar nog nie ‘n Harry Potter of ‘n Artemis Fowl was nie, was dit regtig die enigste lekker Afrikaanse boeke vir die jonger, pre-André P. Brink-lesers onder ons. Daarna het meeste van ons maar oorgeslaan na Engels. Vir ‘n lang tyd was reeksboeke so uit soos dans op Potchefstroom en arme Trompie het amper op die brandstapel beland. Natuurlik is dit belaglik. Trompie is nou baie retro – Sandile Dikeni het selfs gesê dat dit Trompie was wat hom lief gemaak het vir Afrikaans, en vandag is hy ‘n belangrike skrywer. As Thomas oor vyftig jaar ook nog so cool is, sal ek baie bly wees.

Thomas@Moord.net was jou eerste boek. Hoe het jy aan die skryf gekom? Kom dit al van skool af, of is dit ‘n gier wat jou uit die bloute beetgepak het?

Ek was in ‘n Engelse meisieskool en vinnig besig om te verengels, maar in Matriek het ons ‘n fantastiese Afrikaanse juffrou gekry wat my oorreed het om weer Afrikaanse boeke te lees. Dit was ‘n ongelooflike ervaring – eintlik ontdekking (baie corny!). Soos meeste jongmense wat in woorde belangstel, het ek daarna deur ‘n ultra “diep” fase gegaan en verwoed gedig, maar dit was verskriklik sleg. Absoluut onleesbeer. Ek het op universiteit kortverhale geskryf en ‘n gedeelte van my honneurskursus in kreatiewe skryf by Marlene van Niekerk gedoen. Die persoon wat my egter aan die skryf gekry het was my huidige uitgewer, Miemie du Plessis, van LAPA Uitgewers. Ons paaie het gekruis en Miemie het geduldig aangemoedig, geïnspireer, raad gegee en uiteindelik was die produk Thomas@moord.net. Ek sal altyd diep dankbaar wees vir Miemie dat sy my by kinder- en jeugboeke uitgebring het. Ek kan nie aan iets anders dink wat ek eerder sou wou doen nie.

Jy is net 25 jaar oud – een van ‘n handjievol Afrikaanse skrywers jonger as dertig. Hoe voel jy oor Afrikaanssprekende jongmense?

Ek dink ons geslag jongmense is erg cool. Die nuwe geslag Afrikaanssprekende jongmense is meer selfversekerd, dink oor issues sonder om te voel dit hoef ‘n hengse krises vir almal te word, is meer onafhanklik in hulle keuses juis omdat daar gedink word en nie blindelings volgens voorskrifte en verwagtinge gehandel word nie en daar’s ‘n interessante viriliteit wat ‘n mens orals sien. As ‘n mens kyk, presteer jongmense geweldig goed. Dink maar aan Karen Zoid, Derick Hougaard, Natalie du Toit, Saartjie Botha, Neels van Jaarsveld, Francois Toerien, Nicole Holm, ens. Ek is soms net bang dat ons te apaties is, maar ek glo dat elkeen self moet besluit wat vir hom/haar belangrik is. ‘n “Herd”-mentaliteit maak my vies.

Wie is jou rolmodelle?

My ma, Karen Zoid, Petronella van Heerden, die ou wat die geel Post-It-notajies uitgedink het, Harry Potter, Koningin Elizabeth (die eerste een – nie Charles se ma nie) en Ronald MacDonald.

Met watter storieboekkarakter kan jy jou die beste vereenselwig?

Die Swart Kat

Hoe lyk ‘n ideale dag in jou lewe?

Een wat die see, droë witwyn, my man, goeie vriende en seekos insluit. In die winter verkies ek ons kaggel in ons spokerige Victoriaanse huis, sjokolade croissants, mooi musiek en ‘n goeie boek.

Wat laat jou bloed kook?

Die Kaapse Suidoos, ‘n slegte pizza, ‘n flou cocktail, die vervelige boeke wat ek op skool moes lees, pretensieuse skrywers, taxi’s en swak diens.

Kuier by Elkarien Fourie

Vertel in twintig woorde of minder: waaroor gaan Dans op die rand van ‘n krans?

Dit gaan oor Gustav se reis vanaf verbeeldingsvlugte uit die kloue van drake na die moed om hulle aan te vat en die onverwagse hupstoot wat hy van sy charismatiese Keltiese voorvader kry.

Dans op die rand van ‘n krans is jou debuut. Vertel ‘n bietjie, waar kom die idee vandaan?

Jaco, dis ‘n konkoksie wat van ver af kom: van ervaring, verbeelding en half onbewuste idees wat, dink ek, via ou mites en sprokies in ons almal ‘n uitleefkans soek.

Om ‘n boek vir tienerlesers te skryf, moet jy in ‘n sekere sin in ‘n jongmens se kop kan klim. Hoe kry jy dit reg?

Soos prof Hans du Plessis gesê het, ‘n jeugverhaalskrywer word nooit heeltemal groot nie. Maar die jeug se woordeskat soos dit in die dialoog tot uiting moet kom, stem my tot nederigheid. Hulle woordgebruik is so glibberig dat teen die tyd dat jy dit eindelik op ‘n manier vasgevang kry, is dit klaar verouderd.

Hoe sien jy vandag se jongmense? Wat is hulle issues, en watter dinge is vir hulle belangrik?

Ek dink ons moet hulle nie te lukraak saamgroepeer nie, want net soos volwassenes, is jongmense ook individue. Sake wat die samelewing besig hou, sal by die meeste tieners ook spook tensy hulle in persoonlike trauma vasgevang is, maar hulle het meestal die energie en waagmoed om die oumense bo dertig te wys hoe om die lewe reg te ruk.

Hoekom skryf jy vir jongmense?

Ek staan soms verwonderd voor die onbeperkte moontlikhede tot goed (en kwaad) in die wêreld, en probeer die jongmens se varsheid en oopheid vir enige gebeurlikheid, werklik of in die verbeeldingwêreld, uit te beeld.

‘n Mens hoor soms die beskuldiging dat jeugliteratuur deesdae net oor seks en dwelms gaan. Dink jy dis in ‘n mate sensasiesoekery?

Nee, so ‘n neiging toon eerder stereotipering van jongmense. Vandag word sommige kinders fisiek meer beskut as hulle ouers groot weens die groter gevare in die meer komplekse samelewing wat so lank moontlik van hulle weggehou word. Net so ‘n werklikheid as wat seks en dwelms vandag vir sekere jongmense is, net so werklik is professionele ambisie, bekommernis oor toekomstige werksgeleenthede en die aanloklikheid van materialisme teenoor die rug keer op die rotteresies vir ander.

Wat dink jy van die Afrikaansejeugboektoneel in die algemeen? Is dit ‘n morsdood bedryf, soos baie mense dink, of is daar opwindende goed aan die gebeur?

Aan die skryfkant is opwindende goed aan die gebeur, maar ek weet nie aldag of dit op vrugbare grond aan die leeskant val nie. Sonder die amptelike beskerming waarop die Afrikaanse boek nie meer kan staatmaak nie, is jeugboekskrywers tot ‘n groot mate op skole aangewese om hulle stories vir kinders lewendig te maak. Skole sit egter dikwels weens begrotingstekorte met stokou voorgeskrewe werke wat hulle nie kan vervang nie, maar wat nie meer die jongmens van 21ste eeuse Suid-Afrika kan oortuig dat Afrikaans byhou nie.

Wat is die beste Afrikaanse tienerboek wat jy al gelees het?

Ek dink George Weideman is dalk my gunstelingjeugskrywer. Hier dink ek aan Dana se jaar duisend, Die optog van die aftjoppers en veral sy nuwe kinderboek, Die geel komplot. Veral laasgenoemde se humoristiese gebruik van Afrikaans bewys vir my die soepelheid en die veelsydigheid van die taal. Niemand kan mismoedig wees oor die moderne moontlikhede van Afrikaans na die lees van hierdie lewendige storie oor ‘n muisgespuis nie!

Wat is jou raad aan jongmense wat wil begin skryf?

My ervaring is dat die eerste weergawe van jou storie maar net die begin is. Moenie dadelik ‘n blitsverkoper van 300 bladsye aandurf nie, want soos in alle beroepe is die klein begin meestal die enigste uitweg. Jy moet egter aan jou werk glo, want slegs dan sal jy kan vasbyt deur die hersien, voorlê aan uitgewer na uitgewer en weer eens herskryf totdat jou breinkind (en soms jyself) verder gegroei het. As daar iets is wat geduld en aanhouvermoë verg, is dit om te vorder van dromer tot gepubliseerde skrywer. Behalwe begaafde vertellers soos Jaco Jacobs wat vroeg ‘n deurbraak op die skrywerstoneel maak, moet baie van ons meer volwasse raak voor dit gebeur.

Kuier by Balkie Balkie

Raasbek Mieliepit: Baie dankie dat u so vriendelik was om vandag met my te gesels.

Meneer Balkie Balkie: Dit is ‘n groot plesier.

Raasbek Mieliepit: Dit is môre u tiende verjaarsdag. Hoe voel u vandag?

Meneer Balkie Balkie: Hmmm. Goed. Dit voel baie goed.

Raasbek Mieliepit: Hoe voel u oor die tien jaar wat verby is?

Meneer Balkie Balkie: Dit was ‘n wonderlike tyd.

Raasbek Mieliepit: Party mense sê dat dit nie moontlik is dat u nog stories kan vertel nie. Hulle sê dat Balkie NIKS meer stories het nie.

Meneer Balkie Balkie: (ontsteld) WAT? Watse nonsens is dit? Ek ken nog DUISENDE, miljoene en BILJOENE en TRILJOENE en GALJOENE stories.

Raasbek Mieliepit: (skrik) O? O ja, nee goed. Ek verstaan. Maar ek weet nie wat is galjoene stories nie.

Meneer Balkie Balkie: Maar weet jy dan niks? Galjoene stories is … galjoene stories natuurlik.

Raasbek Mieliepit: (verward) Maar ek dog ‘n galjoen is ‘n vis?

Meneer Balkie Balkie: En mag visse nie stories hê nie?

Raasbek Mieliepit: Ja, natuurlik. Hmmm. Nou ja, laat ek sien. (kyk vir sy notaboek) En hoe voel u oor die toekoms?

Meneer Balkie Balkie: Ek voel die toe koms is eintlik ‘n oop koms? Want hoe moet ek weet wat môre gaan gebeur?

Raasbek Mieliepit: Huh?

Meneer Balkie Balkie: Hoe voel jy oor die toekoms?

Raasbek Mieliepit: Ehhh … ek weet nie.

Meneer Balkie Balkie: Jy sien? Mense en Balkies weet mos nie wat môre gaan gebeur nie. Behalwe dat ek nog DUISENDE, miljoene en BILJOENE en TRILJOENE en GALJOENE stories ken wat ek vir die kinders gaan vertel.

Raasbek Mieliepit: Maar dit is WONDERLIKE nuus, Meneer Balkie Balkie. Ehmmm .. (kyk op notaboek) Het u enige boodskap op u tiende verjaarsdag vir al die mense wat u bewonder?

Meneer Balkie Balkie: Ja. Hulle moet oor hulleself wonder.

Raasbek Mieliepit: Ek het eintlik bedoel BEwonder.

Meneer Balkie Balkie: BE wonder, VER wonder, NABY wonder …. almal moet wonder oor hoe WONDER lik ons almal is. Waaroor WONDER JY?

Raasbek Mieliepit: Wel … ek het nog nie eintlik ge WONDER nie …

Meneer Balkie Balkie: Maar dan moet jy DADELIK begin wonder …. hoekom … vra jy vrae en ek moet antwoord? Hoe voel JY vandag?

Raasbek Mieliepit: Ek voel … eh … deurmekaar.

Meneer Balkie Balkie: Deurmekaar is goed …. want dan wonder jy … en dalk is jy lus vir ….

Raasbek Mieliepit: …. mieliepastei!

Meneer Balkie Balkie: Huh? Wat is ‘n mieliepastei? EK wil ook mieliepastei hê.

Raasbek Mieliepit: Nou maar kom, laat ons gaan. Ek ken ‘n WONDERlike plek wat mieliepasteie maak en wortelpannekoeke en …

Meneer Balkie Balkie: Huh? O VETPLANT! JA! Kom ons gaan … wat is daar nog om te eet?

Raasbek Mieliepit: Ek hoop jy gaan ‘n WONDERLIKE verjaarsdag môre hê … en jy moet my bietjie vertel van daai GALJOENE ….

Raasbek Mieliepit: Eendag was daar ‘n galjoen wat ….

Hier is nou ongelukkig niks meer plek nie. Dis die einde van die onderhoud. Meneer Balkie Balkie en Raasbek Mieliepit het gaan mieliepasteie eet en BAIE gesels. En dit was ‘n WONDERLIKE voorverjaarsdag!

Kuier by Barrie Hough

Jy is veral bekend as jeugboekskrywer. Hoekom skryf jy spesifiek vir jongmense?

Ek het skool gehou tussen 1975 en 1979 en ‘n behoefte gevind onder die leerlinge aan Afrikaans wat hulle eie issues aanspreek. Toe het ek en die kinders begin skryf in nuwe Afrikaans, die Afrikaans wat hulle praat. “Sy’s ‘n nja ousie” beteken byvoorbeeld “Sy’s ‘n mooi girl”. Ons het die ou-ou handboeke met die ou reëls uitgegooi en spesifiek die wêreld van die leerlinge van die Western township begin verken.

Wat maak skryf vir jongmense anders as skryf vir volwassenes?

Jong lesers is baie meer krities as volwasse lesers. Hulle wil ‘n ervaring in ‘n boek aan hul eie bas kan meet, dan lees hulle graag, stel hulle belang. Hoe meer hulle regstreeks kan identifiseer, des te makliker lees die tiener of skolier.

Wat is jou gevoelens oor vandag se jong Afrikaanssprekendes? Wat is hulle sterk punte en swak punte?

Vandag se jong Afrikaanssprekendes het nie juis meer of minder swakkere of meer goeie punte as enige vorige generasie nie. Hulle is dieselfde. Hulle verwag om uitgedaag te word deur leervorste en boeke en skole.

Wat dink jy van die hedendaagse Afrikaanse jeugboek/tienerboek?

Die hededaagse jeugboek spreek issues soms te versigtig aan. Miss Nagtegaal se boek (Daar’s vis in die punch) was ‘n atoombom wat ‘n helse verskil gemaak het. Eerlik. Hier is geen issues vermy nie. Afrikaanse jeugromans is miskien deesdae minder issue-gedrewe as vroeër.

Dink jy dis ‘n goeie ding, of is dit dalk ook ‘n manier om sekere issues te vermy?

Ek het nog altyd gedink dis nonsens om ‘n boek te skryf met ‘n sekere issue in gedagte. Die dryfkrag kom van die karakters af. Jy gooi hulle saam. Daar is konflik, sinergie, oplossing, onoplosbare skeuring, groot drama en dan te slotte ‘n afloop.

Die issues is deesdae meer omdat die lewe meer uitdagend is. Kyk na die nuus. Mense word seksueel en akademies en emosioneel baie vroeër ryp. Die beste maatstaf is of die kinders lees. En hulle lees.

Jy het Breek saam met Lizz Meiring geskryf. Is dit makliker of moeiliker om saam met iemand aan ‘n boek te werk?

Dis moeilik om ‘n boek saam met iemand anders te skryf, want daar is twee uiteindelike fokuspunte wat een moet word. Dit is ‘n kwessie van gee en neem en bekhou en iets inslip as iemand anders nie kyk nie en hoop dit word aanvaar. Dis ‘n interessante en ‘n leersame proses wat jou taaier maak as wat jy voorheen was.

Meiring het vroeër vanjaar een van jou vorige tienerromans, Skilpoppe, tot filmdraaiboek verwerk. Wat is die planne daarmee?

Boeke-in-movies in is ‘n speletjie wat filmmakers al lank met Suid-Afrikaanse skrywers speel. As jy baie gelukkig is, kom daar iets daarvan soos met Karel Schoeman se Promised Land. Anders is dit maar net rearranging the deckchairs on the Titanic.

Jy is ook bekend as joernalis en filmresensent. As jy Breek met enige film/films kan vergelyk, watter sal dit wees?

Breek handel oor die broosheid van die mens, iets wat byvoorbeeld vooropgestel is in Tennessee Williams se The Glass Menagerie. Breek as movie sou miskien iets van die vrees en wankommunikasie in gesinne beklemtoon soos wat Glass Menagerie gedoen het. Breek het egter ook politieke issues wat so tussen die glasbreek deurkom en die broosheid van die politieke proses ook belig.

Kuier by Lizz Meiring

Breek begin met die sin “Van kleins af weet ek daar’s goed waaroor nie gepraat word nie.” Dink jy daar’s goed wat nog doodgeswyg word in Afrikaanse jeugromans, of is die tienerboek nou uiteindelik “bevry”?

Kom ons praat eers oor die term “jeugroman”. Weet nie waar dit vandaan kom nie, maar dit klink vir my darem vreeslik patronising. Enigiemand wat boeke skryf vir jongmense en dink hulle moet dit op ‘n sekere vlak pitch, maak ‘n groot fout: ek sou sê Breek gaan oor jonges en oues. Dis ‘n volwasse verhaal, want die nuwe generation is nie paloekas nie! Wat jou eintlike vraag betref: Is ons regtig bevry? Ek weet nie. Ek sou hoop Breek is ‘n teken van die bevryding, maar ek sien nog gereeld “jeugromans” (sic) wat niks anders is as ‘n camouflaged traktaatjie oor morele en geestelike aspekte nie.

Dan sit skrywers nog met oude doos literêre kritici wat sidder as ‘n roman nie suiwer Afrikaans is nie, of in galbulte uitslaan oor ‘n vloekwoord. Get real, die nuwe generasie is ‘n wêreldwese, met al die goeie en slegte habits van enige gemeenskap. Ek en Barrie voel sterk dat ons nie daar is om vir enigiemand voor te sê of te preek oor wat goed of sleg is nie; ons reflekteer die waarheid. En as daar ‘n wel ‘n “lessie” is, is dit dat elke generasie met deernis en menslikheid mekaar moet probeer verstaan; m.a.w: nobody’s perfect.

Eers as ons erken dat veral die Afrikaansprekende nuwe generation nie meer met hulle tone in die stof, en naïef vinger-in-die-mond na die wêrld kyk nie, sal ons regtig bevry wees, en dit is grotendeels ons as skrywers se verantwoordelikheid.

Breek het aanvanklik as ‘n drama beslag gekry, waarvan jy die teks geskryf het. Jy het dus amper twee “babas”: Breek die verhoogstuk en Breek die boek. Watter een is jou gunsteling?

Ek het die drama Breek geskryf as opdragstuk vir KKNK en Aardklop 2001, voor daar nog ‘n roman was. Barrie het ‘n idee in sy kop gehad en vier halfklaar hoofstukke, ek het bygelas en weggevat vanaf sy idee, gereeld met hom gekonsulteer en so het die drama lewe gekry. Dis my 22ste drama wat ek aan geskryf het, dus ‘n genre waarmee ek baie gemaklik voel, en dit sal seker altyd my favourite medium bly, omdat dit ‘n reuse thrill is wanneer jou akteurs dit laat lewe kry. Dis ‘n high wat niks anders op aarde mens kan gee nie! Maar toe ek die boek uiteindelik in my hande hou, was ek ongeskik trots. Nou wil ek net novels skryf! Dus, ek het nie ‘n favourite nie. Hoe vra jy ‘n ma om te kies tussen haar twee kids?

Hoe sou jy die hedendaagse Afrikaanssprekende tiener beskryf?

Ek werk baie saam met Afrikaansprekende tieners en studente. Hulle is die nice-ste mense: oopkop, bright, witty, fabulous sin vir humor en bowenal humaniste. Hulle challenge my, hulle ontroer my met hulle menslikheid, kreatiwiteit en vreesloosheid. Ek kan nie wag vir die dag wat hulle die besluitnemers word nie.

Breek gaan onder meer oor die breekbaarheid van verhoudings en die feit dat ‘n mens soms die kans moet waag om dinge te breek júís om hulle heel te maak. Wanneer laas het jy iets gebreek?

Gereeld! Maar nie met opset nie, my kop is op ‘n duisend plekke tegelyk, want ek werk nooit aan minder as sewe projekte tegelyk nie, dan kyk ek nie wat ek doen nie en stamp goed om. Veral in die kombuis, dis vir my ‘n “combat zone.”

Is dit makliker om ‘n boek/toneelstuk saam met iemand te skryf, of is dit makliker om op jou eie te werk?

Die ironie is ek en Barrie het nooit fisies saam gesit en skryf nie. Ek het sommige hoofstukke geskryf, hy ander, en dan het ons mekaar se werk ge-edit. Ons het gereeld oor borde sushi gesit en chat en uitpluis, maar onthou, ons het reeds die drama as grondplan gehad. Ek is gek oor Barrie, en het net die grootste respek vir hom as skrywer. Hy is amazing – ons het nooit, ooit koppe gestamp nie, so as mens in sulke sinergie met iemand kan saamwerk, is dit een kreatiewe jol.

Maar sekere material leen hom tot ‘n enkelskrywer, so ek en Barrie werk dikwels op ons eie. Dus, die material waarmee jy werk, dui vir mens aan of dit ‘n one-man show of ‘n two-hander is! Ook, ons het onmisbare leiding gekry van Louise Steyn, Barrie se redakteur by Tafelberg-uitgewers.

Jy is as aktrise baie besig, en dan kry jy nog tyd vir skryf ook. Hoe lyk ‘n gemiddelde dag in die lewe van Lizz Meiring?

Crazy! Ek’s soms al vieruur in die oggend op, dan skryf ek aan my dramas, artikels, TV- of filmtekste. Daarna gaan ek ateljee of stel toe om te skiet aan ‘n TV-reeks of film, of ek repeteer aan ‘n drama – hetsy as aktrise of regisseur. Party dae rush mens na klankateljees toe om radioadvertensies of kommentaar of oorklanking vir ‘n TV-program te doen, dan weer terug stel toe, of na repetisies. Saans speel ek dikwels op die verhoog, of tree as seremoniemeester of gasspreker op, of is ‘n ateljeegas vir ‘n TV-onderhoud , of moet een of ander funksie bywoon. Ek collapse gewoonlik so teen eenuur in my bed. Slaap is gelukkig nie iets waarvan ek baie nodig het nie.

Wat is die laaste drie boeke wat jy gelees het?

Diary of an inefficient man en First Love deur die Russiese skrywer Turgenev

Storyteller, ‘n biografie oor Sir Laurens van der Post

One thing leading to another deur Sylvia Townsend Warner.

Jy het onlangs Barrie Hough se Skilpoppe tot rolprentdraaiboek verwerk. Wat is die planne nou daarmee?

Ek het reeds voorheen Barrie se jeugromans Vlerkdans en Skilpoppe as opdragstukke vir die verhoog verwerk. Toe vra ‘n rolprentmaatskappy my om Skilpoppe as draaiboek te doen. Daar is wonderlike dinge aan die kook, maar my skrywerskontrak sê ek mag nie daaroor praat tot als gefinaliseer is nie. Jammer, want ek bars van opgewondheid.

Gunstelinge:

Kleur: Pers

Nagereg: Lemon merinque

Troeteldier: Ek het twee v-e-t katte, maar is ook gek oor honde, all shapes and sizes.

Boek(e): God of small things van Annuaditi Roy

Fliek(s): Amelie, Interiors, Rosella’s Grave

Webwerf: Ek gaan Yahoo of Google toe, en soek vandaar af na watter info ek nodig het.

Gesegde: “The duty of an artist is to remind mankind of its humanity and the promise of its creativity.” en “When in doubt, put on lipstick.”

Kuier by Marita van der Vyver

Marita van der Vyver is een van die suksesvolste skrywers in Afrikaans. Haar boek Griet skryf ‘n sprokie wat in 1992 verskyn het, is vertaal in Engels, Nederlands, Frans, Duits, Italiaans, Spaans, Sweeds en selfs Chinees. Haar ander boeke Die dinge van ‘n kind, Wegkomkans en Griet kom weer was ook blitsverkopers. Min mense weet egter dat sy haar skryfloopbaan as tienerromanskrywer begin het. Haar boek Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom het pas die goue medalje in die Afrikaanse afdeling van die Sanlamprys vir Jeuglektuur verower.

Jy is veral bekend vir jou volwasse romans soos Griet skryf ‘n sprokie en Die dinge van ‘n kind, en tog het jy jou skryfloopbaan begin met tienerboeke soos Van jou jas (1982), Tien vir ‘n vriend (1987) en Eenkantkind (1991). Hoekom het daar so ‘n lang ruk verby gegaan voordat jy nou weer ‘n tienerroman geskryf het?

Ek het nog nooit ‘n erg beplande lewe gelei nie. Ek sê mos altyd die lewe is wat gebeur terwyl jy ander planne maak. Eers as ek terugkyk, kan ek (soms) ‘n soort patroon uitmaak. Toe die nuwe boek nou die dag uitgegee is, het ek vir die eerste keer besef dat ek presies twintig jaar gelede my eerste boek gepubliseer het, presies tien jaar lank jeugromans geskryf het en daarna presies tien jaar lank volwasse romans geskryf het. Wie weet wat nou gaan gebeur? Ek het so ‘n voorgevoel die volgende tien jaar gaan my gemengde dekade wees, want ek het reeds weer begin werk aan ‘n volwasse roman, en ek is besig met nogal ernstige volwasse kortverhale, en ek het klaar weer ‘n idee vir ‘n volgende jeugboek, en ek sit met ‘n laai vol humoristiese essays oor my soms absurde lewe in Frankryk…

Jou boek Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom het pas die Sanlamprys vir Jeuglektuur gewen. Wie is Hanna Hoekom, watter ongelooflike avonture beleef sy en waar kom die idee vir die karakter vandaan?

Hanna is ‘n tiener wat van kleins af te veel vrae gevra het, daarom het haar mense haar Hanna Hoekom begin noem.

Sy lewe nou in ‘n taamlik eksentrieke laslapgesin (ma is ‘n skilder wat verfkwaste in haar hare druk, pa is ‘n gay klereontwerper wat sy omtrent nooit sien nie, stiefpa is ‘n akteur wat sukkel om werk te kry, en dan is daar nog twee stiefbroers en ‘n half-broer wat ‘n proefbuisbaba was) en haar grootste begeerte is om ‘n ‘normale’ kerngesin te hê. Soos in ‘n ma wat koekies bak en ‘n pa wat ‘n aktetas plaas van ‘n handsak dra. Daarom maak sy vir haar ‘n lewe op in haar (besonder vrugbare) verbeeldingswêreld en skep ‘n ‘alter ego’ met ‘n eksotiese naam soos Fabienne wat allerlei fantastiese avonture meemaak.

Die idee kom seker maar uit die feit dat ek self deesdae in ‘n laslapgesin lewe – darem nie heeltemal so eksentriek soos Hanna s’n nie! – en dat ek begin wonder het hoe dit voel om ‘n kind in so ‘n gesin te wees. Dalk is die hele storie net ‘n poging om my kinders en stiefkinders beter te verstaan!

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom gaan deels oor die krag van stories. Wat beteken stories en stories vertel vir jou?

Ja, binne die hoofstorie van Hanna en haar weird gesin is daar al die stories wat Hanna oor Fabienne skryf – ‘n riller, ‘n speurverhaal, ‘n kortverhaal, selfs ‘n gedig, en nog vele meer. Die beoordelaars van die Sanlamprys het dit as ‘n post-modernistiese strekking beskryf, maar eintlik is die ding van stories binne ‘n storie mos maar so oud soos die oudste stories wat ons ken. Dink maar aan Die duisend-en-een nagte waarin Sjeherazade aanhoudend moet stories vertel om nie doodgemaak te word deur haar koninklike bruidegom nie.

En dit som ook sommer op wat stories vir my beteken. Dis letterlik en figuurlik ‘n manier om die dood te oorwin. Om sin te probeer maak van alles wat ons hier op aarde belewe. Met die klem op lewe.

Jy bly deesdae permanent in Frankryk. Wat is die lekkerste en die slegste daarvan om nie meer in Suid-Afrika te bly nie?

Lekkerste is (seker heel voorspelbaar) om nie snags my huis te sluit nie, om my fiets weke lank buite te los sonder vrees dat dit gesteel sal word, dié soort van ding. Jy weet waarvan ek praat, jy moes dit al gehoor het by ander Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon! Slegste bly die gemis aan mense, familie en vriende, vir wie ek lief is. Om tot laatnag om ‘n tafel te sit en in Afrikaans te kuier.

Met dié dat jy oorsee bly, kry jy seker heelwat meer blootstelling aan die wêreldletterkunde. Hoe vergelyk oorsese boeke vir jongmense met Afrikaanse tienerromans?

As jy my twintig jaar gelede dié vraag gevra het, sou ek gesê het Afrikaanse tienerromans is nie eens op die kaart nie, daar’s só min daarvan en hulle is só ver agter wat onderwerpe en leesgenot en skryfgehalte betref. Dis hoekom ek begin het om tienerromans te skryf. Omdat ek gedog het daar’s ‘n gaping wat gevul moet word, en as niemand anders dit doen nie, kan ek seker maar probeer. Deesdae is hierdie gaping grotendeels gevul. Ek dink ons kan nogal trots wees op wat die afgelope twee dekades met tienerromans gebeur het.

Hoe oud was jy toe jy die eerste keer begin skryf het, en wie was jou inspirasie?

Ek skryf stories van ek geleer het om ‘n pen vas te hou en letters te vorm. Soos iemand slimmer as ek gesê het, it’s not a gift, it’s a burden. Dis of ek hierdie vrag woorde in my ronddra, en die enigste manier om die vrag ligter te maak, is om te skryf.

Het jy enige vreemde gewoontes of bygelowe as jy skryf?

Nee wat, skryf is nie vir my ‘n mistieke ervaring nie, dis doodgewoon verskriklike harde werk. Ek swoeg so om elke punt en komma op presies die regte plek te plaas dat daar nie nog energie oorbly vir bygelowigheid nie.

Daar word deesdae baie in die media geskryf oor die hedendaagse jong Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner. Hoe sien jy hierdie spesie? Hoe verskil vandag se jongmense van jouself toe jy 16 of 17 was?

Daar is natuurlik die obvious verskille, soos dat hulle/julle in ‘n veel vryer samelewing grootword, met byvoorbeeld tydgenote van alle rasse in dieselfde skool, en dat die land baie minder afgesluit is van die buitewêreld. Maar die emosiewêreld van tieners is universeel en op ‘n manier ook tydloos. Anders sou ek my nie aangematig het om steeds vir tieners te probeer skryf nie!

Wat is na jou mening die beste tienerroman in Afrikaans of watter Afrikaanse jeugboekskrywers bewonder jy?

Laat ek die vraag op ‘n ander manier probeer beantwoord. ‘n Goeie jeugboek moet ook deur ouer mense waardeer kan word. Dink aan Catcher in the Rye of The Heart is a Lonely Hunter. Is hulle jeugboeke of is hulle volwasse boeke? Maak dit saak? Ons het nog nie genoeg van sulke boeke in Afrikaans nie. Seker ook nie in ander tale nie.

Met Griet skryf ‘n sprokie het jy bekend geword as iemand wat nie skroom om “taboe” onderwerpe kaalvuis aan te pak nie. Die Afrikaanse jeugroman het die afgelope paar jaar baie meer toeganklik geword en takel meer “gewaagde” onderwerpe. Dink jy daar is nog onderwerpe in Afrikaanse jeuglektuur waaroor geswyg word en wat verdien om oor geskryf te word?

Eintlik dink ek dit het tyd geword dat Afrikaanse jeugboeke bietjie wegkom van ‘onderwerpe’ of issues of boodskappe en net ‘n slag ‘n storie vertel. Eintlik glo ek die verbeelding is magtiger as enige onderwerp.

Die onderwerp vir hierdie jaar se Sanlamprys vir Jeuglektuur was “‘n Verhaal wat die leser positief stem”. Hoekom dink jy is Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom so ‘n boek?

Wel, dit was nou vir jou ‘n lekker vae ‘onderwerp’, seker dié dat dit my aangetrek het! Dis ‘n boek wat gaan oor familie en oor verbeelding. Ons kan nie ons familie kies nie, maar verbeelding kan ons help om hulle te verdra. En ons het almal verbeelding gekry, nie waar nie?

(Marita van der Vyver woon sedert Januarie 1999 permanent in Provence, Frankryk, saam met haar Franse man, Alain, hulle dogter, Mia, haar seun, Daniel, en Alain se twee seuns, Thomas en Hugo.)

Kuier by Janie Oosthuysen

Janie Oosthuysen is nie net een van die bekendste Afrikaanse kinder- en tienerboekskrywers nie; sy is ook bekend vir haar vertalings van die Harry Potter-boeke in Afrikaans. Hiervoor is sy vroeër vanjaar deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon. Meer onlangs het sy ook die eerste Artemis Fowl-boek en twee van C.S. Lewis se Narnia-verhale vertaal.

Sy het ingestem om met Jaco Jacobs ‘n onderhoud te voer op een voorwaarde: “Solank jy niks vrae oor kwantumfisika vra nie.” Hy het met haar gepraat oor wipneuse, Harry Potter, Kersvader, goed wat verdwyn as ‘n seuntjie onderdeur die reënboog stap … en uitgevind wat vertaling en kwantumfisika met mekaar uit te waai het.

Wie is Janie Oosthuysen? Hoe sal jy jouself beskryf aan mense wat glad nie weet wie jy is nie?

Hm – ja – laa’k sien – maar baie soos al die ander biljoene mense op die planeet, behalwe dat my neus wip.

In die afgelope jaar of wat het jy nogal baie vertaalwerk gedoen – onder andere die vier Harry Potter-boeke, twee Narnia-boeke en Artemis Fowl. Hoe kry jy dit reg om so vinnig te werk?

Ek is nogal fluks. Taak-georïenteer, sê die slim mense. As ek iets begin, maak ek dit klaar. Tensy dit goed is soos briewe skryf, bed opmaak, onkruid uittrek . . .

Wat is die grootste struikelblokke as ‘n mens van Engels na Afrikaans vertaal?

Hm – dit begin al na kwantumfisika klink – en ek het mos gesê! Seker maar die Engelse manier om honderde goed in een sin in te prop. Afrikaans wat so “dig” geskryf is, klink vreemd.

Die meeste Afrikaanssprekendes kan Engels lees. Hoekom is dit nodig om boeke soos Artemis Fowl ook in Afrikaans beskikbaar te hê?

En sê nou hulle is nie lus om dit in Engels te lees nie? En in elk geval is die Afrikaanse vertaling BAIE beter as die oorspronklike Engels . . .

Hou jy van fantasie?

Mits dit goed geskryf is. Ek hou van enigiets wat goed geskryf is. Feite en fiksie.

Jy is nie net ‘n vertaler nie, maar ook ‘n skrywer in eie reg. Hoekom dink jy vaar Afrikaanse fantasieverhale so relatief swak in vergelyking met hul oorsese eweknieë? Kan Afrikaanse skrywers nie goeie fantasieverhale skryf nie, of lê die fout by lesers?

Bedoel jy in die plaaslike mark of oorsee? Dis natuurlik taamlik moeilik vir ‘n Afrikaanse skrywer om oorsee “in te kom” vir verskeie redes. En oorsese boeke word gewoonlik met groot fanfare plaaslik bemark.

Op watter Afrikaanse en watter Engelse skrywer(s) is jy jaloers?

Ek is nie juis jaloers nie. ‘n Mens moet die beste maak van wie jy is en wat jy het en daarmee basta.

As jy enige van die karakters uit Harry Potter, Narnia of Artemis Fowl kon wees, wie sou dit wees en hoekom?

Beslis Hermien in Harry Potter. Sy’s so lekker prakties en laat die seuns gedurig op hul neuse kyk – hier is iets Freudiaans vir jou. En Azaris in Narnia: Die Perd en sy seun. Dis ‘n heerlike storie met ‘n alte lekker bangmaaktoneel, waar Azaris en haar vriendin in die donker gangetjies in die vet ou Tisrok se kasteel rondsluip. En seker maar Artemis. Ek is nou nog kwaad oor ek die dag onderdeur die reënboog geloop het. En toe ek omdraai, toe’s dit weg.

Watter boek wil jy graag aan die einde van die jaar in jou Kerskous hê?

Liewe Vader Krismis, ek was vanjaar baie soet. Kan ek ‘seblief die versamelde werke van Dickens vir Kersfees kry?

Wat is die mees “embarrassing” ding wat jy nog ooit in jou lewe oorgekom het?

Hmmm . . . jammer, daar’s niks. Ek blok sulke goed baie effektief uit my geheue. En netnou hoor Vader Krismis.

Kuier by Jackie Nagtegaal

Wat het jou besluit om ‘n boek te skryf?

Ek wou skryf van geboorte af, maar toe moes ek eers die alfabet leer en moes ook leer hoe om te spel en te skryf. In Graad een het ek toe bykans elke aand stories geskryf en besluit toe in Graad tien dat ek net sowel vir een keer ‘n storie kan klaar skryf. Ek het dit toe gedoen, want ek het agtergekom ek hoef nie te wag vir veertig nie. Ek stuur toe die manuskrip Tafelberg Uitgewers toe en toe besluit hulle om dit te publiseer.

Hoekom Daar’s Vis In Die Punch? Waar kom die idee vandaan?

Vis In Die Punch is geskryf met baie doele. Grootliks omdat ek die lewe van ‘n tiener goed ken. Genugtig, ek is self ‘n tiener. Die belangrikste vir my in ‘n boek is rou eerlikheid en dink toe dat die lewe van kinders vandag die ding is wat ek die beste ken. Ek wou dit ook skryf sodat ouers dit kan lees en sien hoe hulle kinders se koppe werk en meer insig kry in tieners se lewens in. Kinders wil ook boeke lees wat getrou is aan hulle eie lewens, boeke in ‘n taal wat hulle baie goed ken.

Hoekom het jy Punch in Afrikaans geskryf as jy nog amper jou hele lewe in Engelse skole is?

Ek wou in Afrikaans skryf want dis vir my die mooiste taal in die wêreld. Afrikaans is so ‘n diverse taal wat moet jonk bly. Ek is Afrikaans, praat Afrikaans en wil tog ook skryf in Afrikaans.

Wat is jou gunsteling kos?

Snoek, oesters en McDonalds.

Wat wil jy volgende jaar doen as jy klaar is met skool?

Ek wil graag swot, ek dink aan BA met letterkunde en filosofie as hoofvakke. Maar ek wil tog ook Argitektuur swot of na ‘n filmskool toe gaan. Haha, daar’s baie wat mens kan doen deesdae, né? Ek dink ek sal wel met die BA graad begin en dinge dan verder vat.

Wie is jou rolmodel?

Jong, dis moeilik om ‘n rolmodel te kies. Daar is so baie mense wat ek vir verskeie redes admireer. Patricia de Lille, Antjie Krog, Ettienne le Roux, Jennifer Ferguson en Amanda Strydom onder andere.

Wat inspireer jou om te skryf?

Niks veel nie. Klein dingetjies wat ek sien rondom my. Sulke absurde oomblikke van die dag wat ek sien terwyl ander mense nie bewus is daarvan nie. Soos om by ‘n restaurant te sit en almal net dop te hou sonder dat hulle weet jy kyk vir hulle. Verder, net omdat ek meer van skryf hou as van tv kyk. Dis vir my vrek lekker!

Jou ma het ook al ‘n boek geskryf. Het sy jou baie geleer?

Ja. My ma is ‘n ongelooflike cool vrou wat my van kleinsaf baie baie dinge leer. Sy het defnintief ‘n groot rol gespeel in my liefde vir skryf. My ouers in die algemeen het my ontsettend baie nice dinge geleer van die lewe.

Is jy en Charlie Koekemoer baie dieselfde?

Haha, nee. Ek en Charlie verskil ontsettend baie. Dit bly maar fiksie jy weet. Alhoewel ons ‘n paar goed deel. Ons hou van kuns en karre. Charlie het my wel goed geleer en ek het haar goed geleer. Ek dink nie ons sou in die regte lewe baie van mekaar gehou het nie. Sy kry haarself te jammer en is veels te egosentries.

Hoe voel jy oor die kritiek wat jy kry?

Goed, ek het nog nie soveel slegte kritiek gekry nie. Net partykeer sê mense dit is nie geloofwaardig nie, want kinders kan nie so ryk wees nie en hulle kan nie op sestien al kar bestuur en laataand in klubs rondhang nie ens. Maar ek weet hoe waar dit is en hoe hartseer dit is. Dis juis daardie ryksmanskinders wat dit die ergste tref en nogal ironies dat mense sê dit is nie waar nie, want almal wonder oor wat kinders doen en as jy vir hulle sê, dan dink hulle dit is nie so nie. Kritiek is goed, ek hou daarvan dat mense van verskillende dinge hou anders sou die wêreld veels te vervelig gewees het.

Wat kan jy vir jong mense sê wat ook graag wil skryf?

Om net te skryf. Soveel as wat hulle kan en om eerlik te bly. Om oor dinge te skryf wat hulle ken. Skryf en skryf en skryf en moenie ophou nie!

Gaan jy weer skryf?

Ja wil ontsettend graag. Ek is verslaaf daaraan. Moet nou eers op matriek konsentreer en dit klaar maak. Maar gaan binnekort weer begin, al klaar duisende idees in my kop.

Kuier by Jaco Jacobs

Willemien: Wat doen jy?

Ek studeer Kommunikasiekunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Ek is vanjaar ‘n derdejaar.

Magde-Mari: Waar bly jy?

Ek het so half-en-half twee huise – terwyl ek studeer, bly ek in Bloemfontein in ‘n woonstel, en vakansies bly ek by my pa-hulle in die Karoodorpie Carnarvon.

Willemien: Wat doen jy in jou vryetyd en wat in jou gunsteling stokperdjie?

Ek lees baie, en ek is verslaaf aan fliek en aan boekwinkels. Ek kuier ook graag saam met my vriende. Ek skryf vir ‘n stokperdjie. Daar is nie eintlik tyd om veel anders te doen nie.

Magde-Mari: Sal jy graag ‘n opvolg vir Troetelgedrog skryf?

Ek dink nie ek wil regtig ‘n vervolg op Troetelgedrog skryf nie – ek hou van die einde soos dit is. Dit maak ‘n mens tog ‘n bietjie nuuskierig oor wat verder gaan gebeur, en ek hou baie van sulke boeke. Ek wil hê elkeen wat die boek lees, moet self besluit wat verder gaan gebeur. Ek wil nie die lesers se pret bederf met ‘n vervolg nie. Miskien sal ek ‘n vervolg oorweeg as genoeg mense daarvoor vra!

Willemien: Watse soort boeke wil jy nog skryf?

Ek wil nog graag ‘n fantasieboek skryf, vol drake en trolle en towerstene en goed – die boek is om die waarheid te sê al halfpad. (Die storie se naam is Die Draakslagter wat Chicken was.) Maar ek sukkel om tyd te kry om dit klaar te maak.

Willemien: Sal jy graag grillers wil skryf?

JA! Ek is verslaaf aan grilboeke. Dis vir my die lekkerste goed op aarde om te skryf.

Magde-Mari: Het jy ‘n troeteldier?

Ja. Maar ek hoop nie julle gaan dink ek’s weird as ek sê wat dit is nie – ek het ‘n troetelslang. Haar naam is Queen Shirley en sy bly in ‘n tenk in my woonstel. In Carnarvon het ek nog ‘n hond en twee katte ook, en ek het ‘n troppie skaap op my pa se plaas.

Magde-Mari: Wat eet hy?

Wel, die slang eet pasgebore muise of rotte. Mens noem dit pienkies. My vrieskas is vol gevriesde muisies. Gruesome, ek weet! Gelukkig koop ek hulle klaar gevries by die troeteldierwinkel.

Willemien: Wanneer het jy begin skryf? (jou eerste boek)

Ek het op laerskool al begin skryf. My eerste boek het ek aan die einde van matriek klaargemaak, maar dit is nog nie gepubliseer nie. Dit verskyn volgende jaar by Human & Rousseau. Die titel is Pretpark. Ek het ook op skool al vir Sarie begin tydskrifstories skryf.

Willemien: Wat is jou ander boeke se name?

Troetelgedrog is my eerste publikasie. Maar oor ‘n maand of twee publiseer ek twee rugbyboeke, Duskant die doodlyn en Rugbypret, en die volgende boek in Lapa-Uitgewers se Grille en Goeters-reeks verskyn ook oor ‘n paar maande. Die titel daarvan is Tande, en dit gaan oor ‘n onderwyseres wat ‘n weerwolf is.

Magde-Mari: Hoe oud is jy?

Ek is 21.

Willemien: Hoe lank het jy aan Troetelgedrog geskryf?

Gits, ek kan nie eintlik onthou nie. Seker so twee maande. Maar daar was ‘n ruk in die middel wat ek nie geskryf het nie, want ek het nie ‘n clue gehad wat volgende moet gebeur nie!

Willemien: Wat het jou geinspireer terwyl jy geskryf het?

My sussie, Telana, se Tamagotchi. Sy het dit begin afskeep, en toe besluit ek om dit te begin versorg. Eendag het daar “Clean Me” of so iets op die skerm gestaan, en toe ek aan die agterkant van die speelding kyk, loop daar batterysuur uit! Ek het gedink dit was vrek scary.

Willemien: Wat was vir jou die beste deel van die boek?

Hmmmmmm. Dis nogal ‘n moeilike vraag. Ek dink die deel waar Anita-hulle in Meneer Grinaker se winkeltjie ingaan. Die papegaai is vir my ‘n cool idee – dit was groot pret om daai advertensierympies uit te dink!

Willemien en Magde-Mari: Ons dink dis ‘n wonderlike boek. Ons hoop om nie te lank op nog ‘n interessante nuwe boek te moet wag nie. Ons sal ons oë oop hou.

Baie dankie. Ek is bly julle het die boek geniet. En julle sal nie baie lank hoef te wag vir my volgende boek nie – hou Storiewerf dop!