Groete uit Nederland

Ik ben Lelani Viljoen en ek het besluit om ná my studies vir ‘n jaar te au pair in Nederland.

Nederlandse feeste

Iets eg Nederlands wat ek beleef het, paar weke nadat ek in Nederland aangekom het, is Carnaval. Dit word oral in die suide van Nederland gevier vir ‘n tydperk van vyf dae. Elke stad doen iets verskillend op die vyf dae.

Ek het Carnaval in Eindhoven gaan vier vir een dag, en dit was omtrent ‘n belewenis! Elke liewe persoon het ‘n kostuum gedra. Daar was hippies, en diere en seerowers. Noem dit op en iemand was so aangetrek. Dit is so cool hoe elke liewe mens iets aangetrek het. Dink maar aan kostuumpartytjies in Suid-Afrika – daar sal altyd ‘n hele klomp mense wees wat nie iets vreemds aantrek nie. Maar hier het oud en jonk deel gehad aan die fees. Behalwe die twee Suid-Afrikaners, ek en my vriendin. (Maar ek het gedink daar sal baie mense wees wat nie aantrek nie.) Ek sou graag weer Carnaval wou vier net om ook iets aan te trek.

Ek het ook nog nooit soveel mense bymekaar gesien nie en ook nog nooit soveel mense gesien wat almal bier drink nie. Dis wat mens drink tydens Carnaval, bier. En ek het ‘n hekel aan bier. Tog het ek maar probeer om dit af te sluk. Ek het gevoel ek moet ten minste een bier drink tydens Carnaval.

Daar was vlotte wat deur die strate gery het, die hele Eindhoven deur. Dit was ‘n belewenis! Maar dit het so lank gevat, ons wou nie meer alles kyk nie. Dit hou net nie op nie!

Carnaval was sover nog een van die lekkerste aande wat ek in Nederland beleef het. Dit was een groot fees waar almal vriendelik was (seker deels te danke aan die bier) en almal net wou saam kuier.

Koningsdag

Koningsdag is nog ‘n baie bekende feesdag in Nederland. Dit is die koning, Koning Willem Alexander, se verjaarsdag en dit is ‘n vakansiedag vir die hele Nederland sodat almal dit kan vier.

Op hierdie dag trek almal oranje aan en die Nederlanders hang die vlag buite. En almal kuier maar net weer.

Dit is blykbaar ‘n belewenis om Koningsdag in Amsterdam te sien. Miljoene mense gaan soontoe om te kuier, dus is dit oranje net waar jy kyk. Daar is ‘n Oranjestraat wat bekend is. Ek het Koningsdag in Utrecht deurgebring, wat ook lekker was, net baie minder mense. (Ek raak woedend in ‘n besige mall, hoe sou ek nou net nie raak in Amsterdam op Koningsdag nie). Maar ek wens ek kon Amsterdam van bo af sien op Koningsdag. Ek kan my net indink hoe dit moet lyk.

Tot ‘n volgende keer.
Groete uit Nederland

Lelani Viljoen was ‘n skryfkunsstudent by die NWU. Sy is tans ‘n au pair in Nederland.
2015-03
0
Would love your thoughts, please comment.x