Elke dag is ‘n unieke ervaring hier in Nederland.
Elke dag is ‘n unieke ervaring hier in Nederland. Of dit nou met die kinders is en of dit ‘n nuwe dorp of koffiekroeg of wat ook al is. Ek wens ek kon alles afneem en vir mense wys, maar dit is nie altyd moontlik nie, dus probeer ek maar alles neerskryf wat ek kan onthou.
Die Nederlanders is glad nie “liefdevolle” mense nie, behalwe dalk teenoor hulle eie kinders. Wanneer hulle mense na aan hulle groet is dit een, twee, drie soene op die wange (soos die Franse, net drie keer). Toe ek een aand vertel dat ons ons tantes en ooms en soms ook ouer mense wat jy skaars ken, op die mond soen, was hulle VREESLIK verbaas en het hulle grootoog na my gekyk. Hulle kon nie glo dat ons mense op die mond soen nie!
Iets snaaks wat gebeur het en waaroor ek skaam gekry het is toe ek ‘n hond geroep het. Ek het agtergekom daat daar geen spesiale manier hier is om honde te roep nie, behalwe op hulle name. In SA sal ons die “soen-geluidjies” maak met ons monde. Hier doen hulle dit nie. Maar ek het… Daar het ‘n stilte om die tafel gekom, en ek het af bly kyk totdat almal weer begin praat het. Ek kan my nie indink wat deur hulle gedagtes moes gaan nie..
En dan is daar ook die skoonheid wat ek beleef.
In SA was ek nooit so bevoorreg om sneeu te sien nie, dus was dit fantasties om dit vir die eerste keer hier te beleef. Ek het elke dag gehoop vir sneeu in die begin toe dit nog so bitterkoud was, en dit het toe uiteindelik gebeur. Vir die eerste keer het ek nie gekla oor die koue nie, maar het ek gaan stap net om alles in wit te sien. Dit was pragtig, en ek sal eintlik nie omgee om elke dag met daardie beeld wakker te word nie. Ek sal die koue verdra as ek elke dag die prag van ‘n sneeuwêreld kan beleef.
Ek kon natuurlik ook nie wag om na ‘n bekende dorp soos Amsterdam te gaan nie, en dit het my verwagtinge oortref! Om al die ou geboue te sien, is werklik iets besonders. Daar is soveel kanale wat deur Amsterdam loop dat elke straat werklik ‘n poskaart-foto op sy eie is. Na die oorlog is Amsterdam een van die stede waar die geboue nog gestaan het. En daar is ‘n groot verskil tussen die argitektuur van ‘n stad soos Amsterdam teenoor ‘n stad soos Rotterdam waar daar meer moderne argitektuur is.
Ek wou nog altyd ‘n huisie by die see hê, maar ek sal my huisie by die see verruil vir ‘n huisie in Amsterdam. My gesin het my ook uitgevat vir ‘n bootrit deur Amsterdam se kanale en ons het ook die berugte Madame Toussaud besoek. Die wasbeelde is regtig iets besonders – dit lyk regtig soos die regte persoon wat daar staan, soos Albert Einstein wat daar sit en asof ek langs die koning en koningin van Nederland staan.
Elke ervaring hier in Nederland is iets uniek. En ek moet myself baie keer knyp om myself te verseker dat ek nie droom nie, dat ek regtig die dinge beleef. Ik hou van Nederland!
Tot ‘n volgende keer.
Groete uit Nederland