Ek is nou al vyf maande hier…
Ek is nou al vyf maande hier, dus verstaan ek die taal nou al 90% van die tyd, maar daar is nog daai 10% van onbegrip wat my laat lag by myself. Wanneer ek dan nie begryp nie, dink ek ook terug aan die begin waar Nederlanders met my gepraat het en ek nie ‘n benul gehad het van wat hulle sê nie. As ek gesien het iemand glimlag, het ek maar ook geglimlag en dan net my kop geknik en gesê “ja”, en so vinnig moontlik op my fiets geklim om weg te ry van die persoon af. Dit is omtrent altyd oumense wat met my praat, en dié praat so binnensmonds.
Nog iets van die oumense hier (en seker oral) is die slapery op publieke vervoer. Ek lag daaroor, maar ek voel ook jammer vir die ou tannies en omies wat so aan die slaap raak op busse en treine. Ek weet nie hoe hulle by die regte haltes afklim nie, want hulle slaap deur die afkondigings. Ek weet nooit of ek hulle ‘n tikkie op die skouer moet gee nie. Ek wens hulle maar net sterkte toe in my gedagtes en hoop dat hulle voor donker kom waar hulle moet wees. Gelukkig word dit nou, in die somer, eers half elf in die aand donker.
Nederland is baie bekend vir die tulpe hier. Hulle het tulp-velde waarna mens kan gaan kyk, wat ‘n baie groot toeriste-aantreklikheid is, genaamd Keukenhof. Dit was asemrowend mooi om te sien, soveel skoonheid en soveel sorg. Dit gaan mens se verstand te bowe om te dink hoe baie aandag hulle daaraan gee. Elke jaar het hulle ‘n tema. Hierdie jaar was hulle tema Vincent van Gogh, en het hulle tulpe geplant in die vorm van sy gesig.
Ek en my vriendin was saam met my gesin na ‘n pretpark toe, genaamd Efteling. Dit is letterlik sprokiesmooi. Die hele park het ‘n sprokiestema. Daar is dan verskillende ritte wat mens ry wat elkeen sy eie storie het. Dit voel of jy in die een of ander sprokie is en hulle maak dit so interessant. By meeste van die ritte mag mens nie jou stootwaentjie invat nie. En dit was vir my so vreemd om te sien dat die mense hulle stootwaentjies net daar buite los, met goed nogsteeds daarin, sonder om bekommerd te wees dat iets gesteel gaan word. My mond het oopgehang.
Dis byna dieselfde as mens jou baadjie moet ophang in sommige restaurante. Daar is een kapstok waar almal hulle baadjies kan ophand en niemand bekommer hulle daaroor nie.
Nog ‘n interessante ding, wat vir my baie uniek is, is wanneer iemand matriek klaargemaak het. Wat hulle dan doen is om die Nederlandse vlag te hang by die huis met ‘n skooltas daarby. Dan weet almal wat verby gaan daar is iemand in hierdie huis wat skool klaargemaak het.
Nederland het voorwaar baie interessante dinge hier. Maar ek mis my land. Ek mis Suid-Afrika en al die mense daar. Suid-Afrikaners is so gasvry. En, oe, ek mis braai. Suid-Afrikaners weet nie wat hulle het aan braai nie. Dit is nie dieselfde hier nie en ek sal dit nooit genoeg kan beklemtoon nie. You don’t know what you have until it’s gone.
Tot ‘n volgende keer.
Groete uit Nederland