Piet Grobler

Piet Grobler is gebore in Nylstroom, Limpopo-provinsie in 1959. 
Studie & loopbaan: BA en BD(Teologie); Universiteit van Pretoria (1984), Hons. B Joernalistiek; Universiteit van Stellenbosch (1990)
N6 Grafiese Ontwerp; Kaapstadse Tegniese Kollege (1993) MA Beeldende Kuns (cum laude); Universiteit van Stellenbosch (2004).

Hy was vir 5 jaar predikant in die Nederduitsch Hervormde Kerk en vir 5 jaar grafiese ontwerper en grafiese redakteur by Sanlam se reklame- en publikasie-afdeling. Werk sedert 1996 as vryskut illustreerder en -kunstenaar. Tans is hy deeltydse dosent in illustrasie aan die Cape Peninsula University of Technology. Piet besit ’n studio galery vir narratiewe kuns (Hoi Hannelore! en ander verhale) in Stellenbosch.

Hy het ongeveer 60 boeke (opvoedkundige boeke, prenteboeke en ook volwasse literatuur) geïllustreer. Byvoorbeeld:

  • Moenie ’n mielie kielie nie, Karnaval van die diere, Kat se blad, Beware of the canary (Philip de Vos)
  • Aan tafel met Nettie Pikeur
  • Ouma Hester-reeks (Janie Oosthuysen)
  • Olinosters op die dak (Marita vd Vyver)
  • Sannie Langtand (Alex D’Angelo)
  • Kwinksinnig (Johan Combrinck)
  • Rampe in die ruigte (Hennie Aucamp)
  • Liewe Heksie (Verna Vels)
  • Dr MeDiSyn en die keiser se seun (Roberto Piumini)
  • Meisie my muisie (Lida Dijkstra)
  • Die Spree met Foete (Annie M. G. Schmidt)
  • Net één slukkie, Padda! (Piet Grobler)
  • Accidente Celeste (Jorge Lujan)
  • Oh, the colours! (Jorge Lujan)
  • Fussy Freya (Katherine Quarmby)

Tentoonstellings van werk

Piet reeds verskeie kunsuitstallings in Suid-Afrika gehou bv (eenpersoonstentoonstellings) by die Universiteit van Stellenbosch, Universiteit van Bloemfontein, die Klein Karoo Nasionale kunstefees (feeskunstenaar in 2001), Kunsthal-Rotterdam in Nederland, Stellenbosch (Dorpstraatgalery) en Pretoria (Tina Skukan) en groepsuitstallings in galerye in Kaapstad, Bellville, Stellenbsoch, Pretoria, KKNK.

Kinderboekillustrasies is ingesluit in tentoonstellings in Italië, Japan, Engeland, Oostenryk, Slowakye en Portugal.

Toekennings nasionaal: 

  • Tienie Holoway-medalje van die Suid-Afrikaanse akademie vir Wetenskap en kuns, 1997 (vir Olinosters op die dak deur Marita vd Vyver)
  • Tweede plek: Mondi-toekennings 1997, saam met Philip de Vos vir gesamentlike strokiesprent in De Kat
  • IBBY-erelys 2002: Dr MeDiSyn en die keiser se seun deur Roberto Piumini en 2006 vir Makwelane en die krokodil deur Maria Hendricks
  • Vivian Wilkes Award 2003 (van die South African Children’s book forum) vir Net een slukkie Padda (Piet Grobler)
  • ATKV-toekenning (2003) vir Net een slukkie, Padda
  • M.E.R toekenning (2006) vir Mia se Ma (Marita vd Vyver)
  • Feeskunstenaar van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees 2001

Toekennings iInternasionaal:

  • Silwer medalje: Noma Concours, Japan 1997 vir Hier is ek(Ann Walton) en in 2003 Vir Sun Canary, Moon Canary deur Piet Grobler (ongepubliseer)
  • Brons medalje: TIBI, Iran (1999) vir Karnaval van die Diere (Philip de Vos)
  • Octogone de Chêne, Frankryk (1999) vir Karnaval van die Diere (Philip de Vos)
  • Primo Alpi Apuane, Italië (2000) vir Karnaval van die Diere
  • Bronsmedalje 2003: Internasionale Biennale vir Illustrasie, Bratislava, Slowakye vir Net één slukkie, Padda! en die Spree met Foete
  • Neem deel aan ’n slypskool van die Biennale vir Illustrasie, Bratislava in Slowakye in 1999
  • Ontvang ’n stipendiaat van die Internasionale Jeugbiblioteek, München vir navorsing in 2001
  • Gekies tot die beoordelaarspaneel van die 2006 NOMA Concours (UNESCO), internasionale biennale vir prenteboekillustrasie in Tokyo, Japan.


Slypskole en referate

  • Het slypskole in illustrasiewerk gehou vir skoolkinders by die KKNK te Oudtshoorn, Universiteit van Stellenbosch en by die Internasionale Jeugbiblioteek in München, Duitsland.
  • Aanbiedings gelewer by die internasionale IBBY konferensie in Kaapstad (2004) en by die African Research Society for Children’s Literature se konferensie te Gaberone, Botswana (2002).


Werk opgeneem in die volgende versamelings

  • Nasionale Pers
  • Rand Aksep Bank
  • BIB (Biennale for Illustration, Bratislava) -versameling, Slowakye
  • Universiteit van Stellenbosch-versameling
  • Klein Karoo Nasionale Kunstefees-versameling
  • Nelson Mandela Metropolitan Art Museum, Port Elizabeth

Marie Grobler

Mari Taylor skryf onder haar nooiensvan Grobler. Sy is ‘n beeldende kunstenaar en toneelspeler sowel as digter en skrywer. Sy is op Uitenhage gebore, waar sy steeds woon en het een dogter, Cecily, ‘n musiekonderwyseres.

Marie het vir vyf jaar Grafiese Skonekuns aan die Port Elizabethse Technikon studeer en haar Nasionale Diploma en Hoër Nasionale Diploma in kuns verwerf. Sy het ook vir een jaar lank aan ‘n Diploma in Tegnologie gewerk. Sy het al heelwat uitstallings in Kaapstad en die Oos-Kaap gehou.

Daar is reeds sewe van haar boeke deur Tafelberg gepubliseer, asook heelwat van haar werk in versamelbundels. Etlike van Mari se stories is oor Siembamba, SAUK uitgesaai, sowel as twee reekse. Daar is ook al van haar kortverhale in Die Huisgenoot gepubliseer. Joti, die Griekse Boertjie, het al een van haar lirieke opgeneem en die Dorfling Trio was kategorie-wenners met een van haar lirieke, Mayibue i Afrika by ‘n Crescendo kompetisie. Daar het ook onlangs een van haar lirieke as titellied op Louis van Rensburg se nuutste CD Jy Mag Maar verskyn.

Mari is ook baie bedrywig op amateur-toneelgebied. Sy het al in heelwat vertonings opgetree, as regisseur opgetree en self toneelstukke geskryf. Haar kleurvolle karakter, Meraai Maltees, ‘n komiespel waarvan sy self die rol vertolk, word gereeld vir liefdadigheidsvertonings bespreek.

Publikasies:

  • 1990: Jan Blom Pluk Paddavere (Tafelberg) – kinderboek
  • 1990: Wat Sigbaar is in Amber (Tafelberg) – digbundel
  • 1991: Die Huis met Groen Oë (Tafelberg) – jeugboek
  • 1994: Verjaarsdag-taxi (Tafelberg) – jeugboek Naaswenner ATKV
  • 1997: Isinye, die Grootmaak-kind (Tafelberg) – jeugboek
  • 1997: Lulama’s Magic Blanket (Tafelberg) – kinderboek (Vertaal in Afrikaans, Xhosa, Zoeloe, Noors, Deens en Sweeds)
  • 1997: Musa’s Journey (Tafelberg) – kinderboek (Vertaal in Afrikaans, Xhosa, Zoeloe, Noors, Deens en Sweeds)

Lys van publikasies in versamelbundels:

  • 1988: Die Sonroepertjies (Tafelberg) – kinderrympies
  • 1995: Stipppe Stappe Stories (J.L. van Schaik) – kinderboek
  • 1997: Poskaarte (Tafelberg/Human & Rousseau) – bloemlesing
  • 1999: Die Afrikaanse Poësie in Duisend en Enkele Gedigte(Saamgestel deur Gerrit Komrij, Uitgewery Bert Bakker) – bloemlesing
  • Millennium Moment (Poetry Institute of Africa – Unique Publications)
  • Honderd Dichters (Internationaal Forum, Nederland)

Lys van toekennings:

  • ATKV-Kinderboektoekenning vir 1991 vir die Huis met Groen Oëin die kategorie 8-9 jaar
  • ATKV-Kinderboektoekenning vir 1995 vir die bydrae tot die wenboek Stippe Stappe Stories in die kategorie 3-5 jaar.
  • Sertifikaat van Erkenning toegeken deur ATKV Despatch vir buitengewone bydrae tot die Afrikaanse Skryfkuns

Pieter W. Grobbelaar

Pieter Willem Grobbelaar is op Kersdag in Bloemfontein gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein in 1947. Hierna behaal hy die BA-graad en ‘n MA-graad (1974) aan die Universiteit van Bloemfontein. In 1981 verwerf hy ‘n doktorsgraad in Afrikaanse Kultuur- en Volkskunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy werk as joernalis by Die Burger en Die Volksblad en trou in 1953 met Cornelia Joubert, ‘n skoolvriendin. Hulle het vier kinders. In 1956 word hy omroeper en regisseur by die SAUK waar hy onder andere jeugprogramme soos By die boekrak en Skrywers van die toekoms, ‘n poësieprogram, hanteer. Vir die sewende reeks van sy program oor sy versamelde Afrikaanse volksliedjies, Die volk as digter, ontvang hy in 1986 ‘n Artes-toekenning. In 1961 word hy uitgewersredakteur by Tafelberg-uitgewers en in 1962 voltyds skrywer terwyl hy boer op sy vrugte- en wynplaas in Franschhoek. In 1970 word hy dosent in die Departement Afrikaanse Kultuurgeskiedenis, waar hy later professor word. Hy tree in 1995 af.

Hy is ‘n baie produktiewe skrywer, vertaler, versamelaar en boekstawer van en navorser oor Afrikaanse volksverhale, volksrympies, liedjies en ander volkskundige sake. Hy skryf verhale gebaseer op Boesmanverhale, Afrikaanse volksverhale, sprokies, legendes, sages en fabels, Swap- en Uilspieëlverhale, Wolf- en Jakkalstories, historiese verhale en verhale met grappies, getalspeletjies, raaisels, tongknopers, ‘n skelalfabet, woord- en leesspeletjies, geheime tale, ensovoorts.

Hy ontvang die C. P. Hoogenhout-toekenning in 1968 vir Die mooiste Afrikaanse sprokies (1968); die Tienie Holloway-medalje in 1971 vir al sy kleuterboeke wat geskik is vir hardop voorlees; die Katrine Harries-toekenning in 1985 en 1989 onderskeidelik vir Die aarde moet vry wees (1984) en Lank lewe Leeuhart (1987). Laasgenoemde verower ook die eerste prys in Daan Retief Uitgewers se wedstryd vir kinderboekillustrasies en in 1989 die Katrine Harries-prys. Hy ontvang ook herhaaldelik eervolle vermelding van die SABV. Die Genootskap vir Afrikaanse Volkskunde en die ATKV vereer hom in 1972 en 1975 onderskeidelik met ‘n oorkonde vir sy werk oor die Afrikaanse volksvertelling en met ‘n erepenning vir sy volkskundige geskrifte. In 1976 vereer die Federasie vir Rapportryerskorpse hom met ‘n toekenning vir sy werk oor die Afrikaanse volksrympie.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Ou Mi’kai vertel: hoe die melkweg sy vuur gekry het (1963)
  • Ou Mi’kai vertel: Tafelberg se karos (1964)
  • Die vermaaklike lewe van Tyl Uilspieël (1967)
  • Die groot dierestorieboek (1967)
  • Die mooiste Afrikaanse sprokies (1968)
  • Trippe trappe trone (1969)
  • Aandstories vir kleuters (1970)
  • Die avonture van die sewe swape (1972)
  • Uit ou Mi’kai se dae (1976)
  • Die groot Afrikaanse heldeboek (1976)
  • My rooi rympieboek: los rympies vir lekkerlees en luister(1977)
  • Die groot Afrikaanse fabelboek (1978)
  • Wolf en Jakkals in die lang pad, Jakkalsdraf en wolwedans: Afrikaanse oustories (1982)
  • Eendag was daar ‘n domjan: Afrikaanse oustories (1983)
  • ‘n Koning genaamd leeu: Afrikaanse oustories (1983)
  • Doer in Dierlandy: Afrikaanse oustories (1986)
  • Uiltjie, Uiltjie in die spieël: Afrikaanse oustories (1984)
  • Klaas Naald-hulle: Afrikaanse oustories (1985)

Franci Greyling

Franci Greyling het in ‘n huis vol kinders groot geword. As tweede oudste van sewe kinders het sy dikwels vir die jongstes stories en speletjies uitgedink. Sy was ‘n regte boekwurm, het vroeg begin versies maak, en opstelle skryf was die lekkerste huiswerk.

Nadat sy matriek aan die Hoërskool Drie Riviere in Vereeniging geslaag het, was sy vir ‘n jaar lank ‘n student aan die Burgerlike Beskermingskollege in George. Hier het sy, behalwe marsjeer, skiet, noodhulp en brandbestryding, ook geleer om te tik. Hierna behaal sy – in die skadu van Potchefstroom se akkerbome – BA en HOD met die hoofvakke Afrikaans, Sielkunde en Bybelkunde. Sy was aktief betrokke by die studentelewe en het gedurig foto’s geneem om dit self in die donkerkamer te ontwikkel.

Sy begin in 1981 by Hoërskool Overkruin in Pretoria skoolhou. Vanaf April 1987 tot Junie 2002 is sy as Departementshoof Opvoedkundige Leiding aan die Hoërskool Pretoria-Noord verbonde. Sedert Julie 2002 is sy dosent in Skryfkuns (Skool vir Tale) aan die Noordwes-Universiteit. Sy is ook betrokke by die aanbieding van skryfkursusse saam met die ATKV en die ATKV-skryfskool.

Haar eerste jeugverhaal, Die deurmekaarste herfs, verskyn in 1984. Verhale teen ‘n historiese agtergrond is Helena in die tyd van die tenteen Dirkie Drieka Frederika.

Omdat sy van nature nuuskierig is, het sy verder studeer. Sy verwerf BA Hons en BEd (Psig) aan Universiteit van Pretoria en MA en PhD aan die PU vir CHO. Die studieonderwerpe Ruimte in die kinderboek met verwysing na die werk van erkende Afrikaanse kinderboekskrywers is onder leiding van dr. Elsabe Steenberg gedoen, en Die keuse, skep en voorstelling van karakters in verhale vir 11-14-jariges onder leiding van prof. Hans du Plessis.

Franci hou daarvan om skeppend besig te wees. Sy is as organiseerder, navorser en kunstenaar betrokke by interdissiplinêre kreatiewe en navorsingsprojekte. Verder bou en onderhou sy Storiewerf, maak kunstenaarsboeke, en geniet dit om te reis en nuwe lande en plekke te ontdek.

Publikasies

  • 1984: Die deurmekaarste herfs (J.P. van der Walt)
  • 1985: Helena in die tyd van die tente (Tafelberg)
  • 1988: Dirkie, Drieka, Frederika (Tafelberg) Sanlamprys vir Jeuglektuur brons
  • 1991: Om te wag op ‘n duif (Tafelberg)
  • 1991: Kransduif en edelvalk (J.P. van der Walt)
  • 1992: Kort voor cul de sac (Tafelberg)
  • 1995: Die meisie van Melrosehuis (Human & Rousseau)
  • 1997: Vleuels soos die arende (Tafelberg) Tienerboek
  • 2007: Formule Drie, Twee, Een! (Tafelberg) Prenteboek saam met Vian Oelofsen.
  • 2007: Formula Three, Two, One! (Tafelberg)

Boekies as deel van ‘n leesreeks by Unibook:

  • Om eendag te vlieg – 1991
  • Meisie sonder naam – 1993
  • Staptog – 1994

Gediggies in die Nuwe Kinderverseboek, Toulopers, Rymreise, Vonkverse 1, Vonkverse 2

Bydraes in: In die kollig (saamgestel deur Lizz Meiring)

Kortverhale en bydraes in Boereoorlogstories (saamgestel deur Jeanette Ferreira), Literator, Sarie, Beeld, Huisgenoot, Taalgenoot.

Kunstenaarsboeke:

Avontuur (2008)
Tinboektoe toe (2010)
Mooirivier: Weerspieëling en weerklank (2013)