Noodlot (resensie)

Noodlot is die derde boek in Sunel Combrinck se faereeks, Die Ontwaking van Winter, gemik op ’n tiener- en jongvolwasse-gehoor. Wat dadelik die aandag trek, is die pragtige, geïllustreerde omslag deur Casper Schutte. Op die voorblad staan twee figure rug-aan-rug: ’n jongman aan die linkerkant en ’n meisie aan die regterkant. Die man het helder-oranje hare, en sy donker klere smelt saam met die plantegroei en die silhoeët van ’n Gotiese, kasteelagtige struktuur wat agter hom teen ’n diep-pers naghemel uittroon. Hierdie toneel kontrasteer skerp met die meisie se seeblou vel, haar sagte, pastelkleurige rok en die helder, sandkleurige gebou met die koepeldak wat in die agtergrond sigbaar is.

Lesers van die vorige boeke sal die karakters herken as die rebelse elf Zander Blight en waternimf Nereida (Niri) Kearney wat saam met Lumi Erös en Colden Breakspear (die protagoniste van Hartklop (2022)) by Kasteelhoogte Kosskool skoolgaan. Die keuse om Zander en Nereida op die voorblad te plaas, dui daarop dat hierdie boek spesifiek oor hul individuele of gesamentlike ontwikkeling en verhoudings sal handel.

Waar die vorige boek, ’n Beeldskone Nagmerrie (2023), die leser terugvoer na gebeure voor die ontstaan van Tír na hÓige, ’n aparte faedimensie, volg Noodlot direk op die gebeure van Hartklop. Lumi en haar vriende se wintervakansieplanne word omvergewerp wanneer Melody, die monarg van die Winterryk, besluit om Colden Breakspear, ’n Winterfae en een helfte van Winter se Hartklop, tydens die Ysbloeiselfees by haar binnehof in te sluit sodat sy oor hom beheer kan uitoefen. Om tyd te wen, besluit Zander Blight om ’n Forya en’tarna – ’n Elwe-grootwordritueel – vir hom en sy vriendekring op te roep. Ná die ritueel reis Zander en Colden na die Gruwelryk om Koning Donohue se hulp te verkry om Valta (die Elwe-ryk) te bereik en ’n artefak op te spoor wat Colden teen die monarg se mag kan beskerm. Intussen gaan Lumi, Niri en Kai Fermi na Óneiro (die Waternimfryk) om ’n alliansie met Generaal Fermi (Kai se pa) te vorm in die hoop om ’n weermag te bekom.

Noodlot stel nuwe karakters bekend, waaronder Raidan (Donohue se suster) en Generaal Fermi en sy seun, Nalu (Kai se ouer broer). Die Forya en’tarna verbreek tydelik die sielsverbinding tussen Lumi en Colden, asook tussen Zander en Nereida, wat spanning en konflik veroorsaak wanneer Zander gevoelens vir die Gruwelkoning se suster begin ontwikkel.

Tydens hul ontdekkingsreis leer Zander en Nereida meer oor hulself. Vroeg in die verhaal is Zander onseker oor Valta se aanbod, en sy verhouding met Raidan kompliseer sake verder. Nereida voel verdeeld tussen haar pa se verwagting dat sy met Kai Fermi moet trou en haar liefde vir Zander. Beide karakters dra die swaar las van ander se verwagtinge op hul skouers.

Die Ontwaking van Winter pas by wat Bill Hughes as dark faery romance bestempel, ’n subgenre van die bonatuurlike liefdesverhaal waarin gebeure nie altyd deur wetenskap verklaar kan word nie. Kenmerkend van die genre is die gebruik van spoke en tydreise asook die teenwoordigheid van bonatuurlike wesens, insluitend kruisings (mens-monsters), vampiere, engele, demone, zombies, vormverwisselaars, weerwolwe, fae en towenaars. Deesdae geniet fae en pixies groot literêre populariteit. Internasionale fae-liefdesverhaalreekse soos Julie Kagawa se The Iron Fey (2010-2015), The Folk of the Air (2018-) deur Holly Black en Sarah J. Maas se A Court of Thorns and Roses (2015-) is gewild. Soos in The Iron Fey, word die verskeie fae-groepe in Combrinck se reeks tematies aan die verskillende seisoene gekoppel, soos die Somer- en Winterryk.

’n Kenmerk wat fae-verhale uniek maak, is die karakters se toetrede tot sekondêre dimensies of ’n ander wêreld. Elikser (2021) en Die Ontwaking van Winter is Afrikaanse voorbeelde van hierdie subgenre. In beide verhale besoek karakters ’n tweede fantasie-ruimte wat bevolk word deur fae en ander magiese wesens; in Elikser is dit Dobrón, die vampierkoninkryk wat deur faerieringe betree word, en in Hartklop en Noodlot, Tír na hÓige.

Lesers wat van bonatuurlike liefdesverhale hou, sal dalk ook hou van die Die Poort-reeks deur Nelia Engelbrecht, wat tussen 2016 en 2017 verskyn het, asook van Frenette van Wyk se Elikser.

LAPA-jeugromankompetisie 2023

Het jy ‘n goeie idee vir ‘n jeugroman? Daar is nog ses maande tyd om jou roman vir LAPA se jeugromankompetisie te skryf. Die sluitingsdatum is 31 Oktober 2023.

LAPA se jeugromankompetisie lewer elke twee jaar ʾn groot verskeidenheid fantastiese verhale op. Vorige pryswenners sluit in: Annelie Ferreira (Dit het alles begin by ʾn hond), Nerine Ahlers (Die verdwyning van Seamus Smit deur Seamus Smit) en Jan Vermeulen (Baster, Oopmond en Asem). Die kompetisie is ook bekend daarvoor dat daar byna elke jaar debuutskrywers op die kortlys beland.

Die kompetisie se prysgeld beloop R60 000! Die pryswenner kry R30 000 en twee naaswenners kry elk R15 000. Selfs skrywers wat nie in die topdrie eindig nie, staan steeds ’n kans om gepubliseer te word.

LAPA nooi graag alle skrywers en voornemende skrywers uit om deel te neem aan hierdie geleentheid om hul stories te vertel. Skrywers word aangemoedig om die kompetisiereëls goed te bestudeer.

Inskrywings sluit die 31ste Oktober 2023. Besoek www.lapa.co.za vir meer inligting.

  • Die verhaal moet in Afrikaans geskryf wees en gemik wees op lesers tussen 11 en 18 jaar oud. Verskeie onderafdelings is by die 2023-kompetisie aangewys, want net soos alle tieners nie dieselfde is nie, so is elke jeugverhaal nie dieselfde nie. 

Skrywers kan hul verhale struktureer volgens die volgende onderafdelings: 

  • Jeugromans vir jonger tieners (11-13 jaar). Manuskripte vir hierdie ouderdomsgroep is tussen 25 000 en 30 000 woorde lank. Voorbeelde is die Thomas@-reeks deur Carina Diedericks-Hugo, ʼn Goeie dag vir boomklim deur Jaco Jacobs en Die verdwyning van Seamus Smit deur Seamus Smit deur Nerine Ahlers. 
  • Tienerfiksie (13-15 jaar). Manuskripte vir hierdie ouderdomsgroep is tussen 30 000 en 45 000 woorde lank. Voorbeelde is Z-A-K: Die Blou Planeet deur Theresa van Baalen, As mens geluk kon proe deur Zelda Bezuidenhout babelen Dit het alles begin by ’n hond deur Annelie Ferreira. 
  • Jongvolwassenefiksie (15-18 jaar). Manuskripte vir hierdie ouderdomsgroep is tussen 45 000 en 70 000 woorde lank. Voorbeelde is Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen, Oopmond deur Jan Vermeulen en Uitverkies deur Noreen Nolte.
  • Die beoordelingsproses vind as volg plaas:
  • Wanneer die kompetisie gesluit is, word ʼn kortlys van manuskripte saamgestel.
  • Beoordelaars sal ʼn wenmanuskrip in elke afdeling aankondig. Die algehele wenner sal die prysgeld van R30 000 wen.  
  • Alle inskrywings moet die deelnemer se oorspronklike, ongepubliseerde werk wees.
  • Deelnemers gee aan LAPA die eerste opsie om enige van die inskrywings te publiseer. Geen ingeskrewe verhaal mag elders voorgelê word of wees vir moontlike publikasie nie. LAPA sal ná afloop van die kompetisie skriftelik met alle deelnemers in verbinding tree om te bevestig of hul verhale gepubliseer word al dan nie. 
  • Die prysgeld is as volg:
    • Prys vir merkwaardige jeugverhaal: R30 000
    • Naaswenner: R15 000
    • Naaswenner: R15 000
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie. Indien die gehalte van die inskrywings nie na die beoordelaars en LAPA Uitgewers se mening voldoende is nie, word die reg voorbehou om geen pryse toe te ken nie.
  • Die volgende inligting moet op die heel eerste bladsy van die voorlegging verskyn en enige inskrywing kan gediskwalifiseer word indien dit nie daarop verskyn nie:
  • Die skrywer se naam en van
  • Titel van die manuskrip
  • Lengte (aantal woorde) van manuskrip
  • E-posadres
  • Telefoonnommer
  • Indien daar onder ʼn skuilnaam geskryf word, moet die skrywer se volle naam en van ook op die heel eerste bladsy van die manuskrip aangebring word.
  • Die deelnemer se naam, of skuilnaam, moet op die eerste bladsy verskyn, maar dit mag nêrens elders op die manuskrip verskyn nie. Sou dit iewers anders verskyn, kan die manuskrip summier gediskwalifiseer word.
  • Inskrywings moet op genommerde A4-bladsye getik wees, slegs aan een kant van die bladsy, in dubbelspasiëring en in ’n maklik leesbare lettertipe (soos Arial of Times New Roman).
  • Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Oktober 2023. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.
  • Wenners sal in Maart 2024 bekendgemaak word.
  • Werknemers van Penguin Random House Suid-Afrika en LAPA Uitgewers mag nie deelneem nie.
  • LAPA Uitgewers aanvaar geen aanspreeklikheid vir verlore manuskripte nie. Dit is altyd raadsaam om ’n afskrif van ’n manuskrip te hou.
  • Deur in te skryf, onderneem jy dat jy al die reëls gelees en aanvaar het.
  • Inskrywings kan op twee maniere voorgelê word.

Per e-pos: stuur dit aan lapajeugroman@penguinrandomhouse.co.za met JEUGROMANKOMPETISIE en jou manuskrip se naam as onderwerp.

Inskrywingsvorm: https://lapa.co.za/kompetisiereels-lapa-jeugromankompetisie-2023

Saam met Saartjie… My ervarings as jong leser

As kind was ek bevoorreg genoeg om ʼn boekrak vol kinder- en jeugboeke in my kamer te hȇ. Alhoewel ek eers op hoërskool vir my eie genot begin lees het, het my ma my van kleintyd af gemotiveer om die fantasiewȇreld te betree. Skoolvakansies by die see, was mý leestyd! Ek was nooit daardie waaghalsige kind wat nog voordat sy haar vlerkies aangehad het, gehardloop het vir die golwe nie… ek was ʼn dromer… skaam, teruggetrokke, en in my eie wȇreld. Gevolglik, was ʼn hartverskeurende liefdesroman onder my sonsambreel, my ondergang!

Vir spookstories was ek veels te lig in die broek, speurstories was veels te vervelig na my smaak, en fiksie was nog altyd te onrealisties. Maar namate ek ouer geword het, het my liefde vir tienerromanse, gegroei. As kind het my ouers ʼn groter invloed gehad op die tipe storieboeke en genres wat ek gelees het. My gunsteling kleuter- en slaaptydstorieboeke het gewissel tussen die werke van Martie Preller se ‘Babalela reeks’, Leon de Villiers se Maroelaboomstories, en Max Lucado se kindeboeke oor die geliefde ‘Pinkenolsie’ (Pinkenolsie en die Wonderlikste Geskenk, Ek het jou gemaak, Jy is myne, Die heel beste).

Tussen die ouderdom van 7 en 9 jaar, het ek die bogenoemde boeke self van tyd tot tyd gelees, sowel as meer ingewikkelde storieboeke van Leon de Villiers, Droomoog Diepgrawer, en die Engelse ‘Walt Disney’ kinderboekreeks (waarvan Lady and the Tramp, en The Little Mermaid my gunstelinge was). Tussen die ouderdom van 10 en 13 jaar, het Bettie Naudé se Saartjie-reeks my aan die lees gehou. Ek het Saartjie(#1), en Saartjie se vakansie(#2), oor en oor deurgelees. Sy was ʼn rabbedoe en ʼn waaghals. Dit wat ek in werklikheid nooit die moed gehad het om te doen nie, het Saartjie voor opgemaak in hierdie boeke.

Vanaf 13-jarige ouderdom het ek geniet om boeke soos, My hart is vol graffiti, deur Tania Brink, en Doodloopstrate van Louise van Niekerk, te lees. Op hoërskool het ek die meeste van Janie Oosthuysen se jeugromanse gehou, wat haar ‘Eerste liefde reeks insluit (Rugbyballe en bikini’s, Daar is ʼn ou in my aarbei-smoothie, My hart klop muffins, en Ouens is nes ekstra bagasie), asook van haar ander boeke, byvoorbeeld Soene op ʼn Suzuki. Tans is Sophia Kapp my gunsteling skrywer, met werke soos die van Die verhuising, Die tuiskoms, en Die ooreenkoms.

Juis omdat my ma my gemotiveer het om te lees as kind, het ek aan baie onvoorbereide leeskompetisies deelgeneem. Dit is hier waar ek meeste van my boeke gekry/gewen het. As jong leser het my ouers ook, minstens een keer ʼn jaar, ʼn punt daarvan gemaak om saam met my boekwinkel toe te gaan, sodat ek vir myself ʼn nuwe boek kan koop. Soos wat ek ouer geword het, kon (en wou) ek dit later self doen, of ek het sommer aanlyn die leesboeke op ʼn webtuiste bestel.

Soos wat ek terugdink aan die kinderboeke wat ek eens gelees het, erken/onthou ek genoeg daarvan om nostalgies te raak. As klein dogtertjie kon ek myself verbeel ek is ʼn meermin, met pragtige lang lokke, en ʼn selfs pragtiger stertvin. Met oulike pers maatjies soos die Babalela, het ek avonture in die woud aangepak. Saam met Saartjie was ek die heldin in elke storieboek, en in elke roman het ek iemand gehad om my te troos na nóg ʼn liefdesteleurstelling. Ek het altyd ʼn maatjie gehad, ek kon altyd met iemand identifiseer, ek was nooit alleen nie. Daarvoor, is ek baie dankbaar. 

LAPA se Jeugromankompetisiewenners word aangekondig

Ons stel bekend die wenners van 2021 se Jeugromankompetisie!

Annelie Ferreira wen die afdeling vir Manuskripte vir Tieners asook die Algehele Wenner:

Dit het alles begin by ‘n hond vertel die storie van hoe vier uiteenlopende tieners, Fundani, Sandria, Lihle en Vincent, se paaie kruis. Hulle ken mekaar van geen kant af nie, maar daar is iets magies wat hulle aan mekaar bind … (Die boek verskyn in September.)

Nerine Ahlers wen die afdeling vir Manuskripte vir Jonger Tieners:

 Die verdwyning van Seamus Smit deur Seamus Smit is ‘n lekkerleesboek in die kraal van ‘n moderne Swart Kat-storie. Hierdie boek is vir lesers wat dol is oor superheld-boeke en -flieks! (Die boek verskyn in Oktober.)

Noreen Nolte wen die afdeling vir Manuskripte vir Jong Volwassenes:

Uitverkies is ‘n distopiese verhaal met ‘n sterk vroulike hoofkarakter, Zia. Die wêreld soos Zia dit ken, word skielik omvergegooi en alles is chaos. Hoe vind jy jou pad in hierdie deurmekaar wêreld? (Die boek verskyn in November.)

Die finaliste was:

Manuskripte vir jonger tieners:

Die verdwyning van Seamus Smit deur Seamus Smit – Nerine Ahlers

Die grys wolf en die rooi fiets – Anrie le Roux (Debuut)

Soek – Nellie Alberts

Manuskripte vir tieners:

Onder alles – Fanie Viljoen

Dit het alles begin by ‘n hond – Annelie Ferreira

Uitgesluit – Nerine Ahlers

Veergewig – Jan Vermeulen

9 Maart 2022

Cliffordene Norton

Cliffordene is ’n trotse kaalvoetkind van Barkly-Wes in die Noord-Kaap. Sy het haar BA Honneurs-graad in joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom voltooi en haar loopbaan by Volksblad as vertaler begin. Sy was ook al ’n uitgewer en joernalis en is tans werksaam by die Noordwes-Universiteit as kopieskrywer in die bemakingsafdeling. Sy hou van lees en speelse sarkasme op die regte tyd en is verslaaf aan springmielies en cinnamon buns! Daar het reeds meer as twinting kortverhale uit haar pen verskyn.  

Haar debuutroman, Om jou te ken, is in 2022 deur Pan Macmillan South Africa Children’s Books gepubliseer.

Cliffordene is ook een van die skrywers in die kortverhaalbundel vir tieners, Die meisie met die uitroeptekens in haar oë.

#booktok, #bookstagram en die boekbedryf

Wie sou kon dink dat die sosiale media platforms Tik-Tok en Instagram boekwurms só aan die lees kan kry? Binne ʼn jaar, kry die hutsmerke, #booktok en #bookstagram, reg waarmee uitgewers en bemarkers vir jare al sukkel (The Gaurdian, 2020), maar wat presies is #booktok en #bookstagram en hoe werk dit?

#Booktok is ʼn hutsmerk op Tik-Tok waar ʼn persoon ʼn kort video maak oor ʼn boek of die boeke wat hulle lees. Hierdie video’s het ʼn gemiddelde lengte van 45 sekondes en is sterk visueel met interessante video-tegnieke en klank. Dit is opmerklik hoe #boektok veral tieners en jongmense se aandag trek. Liefdesverhale en dramas as ontspanningsfiksie is veral gewild, maar speur- en spanningsverhale geniet ook baie aandag. Nog ʼn tendens van hierdie video’s is om jou “eerste reaksie” te wys terwyl jy die boek lees. Die persoon in die video sal byvoorbeeld huil terwyl hulle ʼn liefdesdrama lees of wys hoe hulle onder die komberse inkruip van vrees in ʼn spanningsverhaal. Alhoewel hierdie “reaksies” oordrewe en aansitterig vir sommige kan wees, berig die New York Times (2020) dat hierdie emosie-gelaaide videos daarin slaag om belangstelling te prikkel. Talle gebruikers het bevestig dat hulle ʼn boek aangekoop het, net om te sien of dit regtig so hartseer of vreesaanjaend is.

 #Booktok is vir die eerste keer deur die 16-jarige Kate Wilson begin, toe sy TikTok-video’s oor haar boeke begin maak. Vinnig het haar volgelinge aangegroei en het ander mense ook oor hulle boekervaringe begin gesels. Vandag het #booktok ʼn reuse aantal volgelinge en die boekverkope stroom in. Die sukses van #booktok kan miskien aan die populêre musiek, visuele materiaal en generasie z-humor toegeskryf word. Bussiness Insider (2021) berig dat boeke wat in 2011 gepubliseer is, topverkopers in 2021 word danksy #booktok. Colleen Hoover se boek “It ends with us” (2016) is veral gewild onder die “boektokkers” en het in 2020 binne ʼn maand 21 000 eksamplare verkoop. Nou is Hoover se 5-jaar oue boek New York se topverkoper. Daar is ongelukkig nog nie baie plasings en voorbeelde van Suid-Afrikaanse boeke onder #booktok nie en die meeste video’s word oor Amerikaanse boeke gemaak.

#Bookstagram is Instagram se weergawe van #booktok. In plaas van video’s, deel mense op hierdie platform foto’s van hul gunsteling boeke of uittreksels uit ʼn boek. Teenoor #booktok se video’s met klank en byskrifte, deel #bookstagram ʼn foto met ʼn langer onderskrif wat die gebruiker moet lees. Dit maak #bookstagram egter nie minder gewild nie. Onder die hutsmerk #bookstagram sien ʼn mens meestal internasionale boeke en boeke in tale soos Arabies, Frans en Portugees. Om jou soektog meer spesifiek te maak, kan jy die hutsmerk #bookstagram saam met jou land se naam gebruik, byvoorbeeld #bookstagramswitzerland. Suid-Afrika se hoof hutsmerk is #bookstagramza. #Bookstagramza bestaan uit plasings oor eg Suid-Afrikaanse publikasies in boekwinkels soos Bargain Books en Rutlandboekwinkel, maar die meeste van die plasings wys slegs Engelse boeke.

Dit is duidelik dat die era van #booktok en #bookstagram beslis ʼn nuwe wêreld van moontlikhede vir die boekbedryf oopmaak, maar wat beteken dit vir die Afrikaanse boekbedryf? Dit is vanselfsprekend dat die grootste aantal plasings in Engels is. Sou ʼn mens “boekstagram” of “boektok” in die soekenjin tik, verskyn daar tallle Nederlandse boeke op die skerm. “#Boektokafrikaans” en ander variasies daarvan bestaan nog nie, ten spyte van die groot aantal Suid-Afrikaanse Engelse boeke. Afrikaans sal eenvoudig sy eie unieke hutsmerk moet kry.

Instagram se hulpsentrum beskryf wat nodig is vir ʼn hutsmerk om bekendheid te verwerf:

  1. Die hutsmerk moet deur baie gebruikers gesien en gedeel word.
  2. ʼn Groot hoeveelheid gebruikers moet die hutsmerk in hulle plasings begin gebruik.
  3. Die hutsmerk moet eenvoudig wees, maar oor trefkrag beskik.

Die Afrikaanse #bookstagram en #booktok is egter nie sonder voorlopers nie. Op Instagram het die 12-jarige @emiliedjie reeds ʼn hutsmerk vir Afrikaanse boeke begin: #boekstagramsuidafrika. Op TikTok het die jeugboekskrywer, Annerle Barnard, verskeie video’s onder die hutsmerk “boektok” geplaas. Hierdie gebruikers is ʼn voorbeeld van waarop Afrikaanse boekbemarking gebou kan word. Indien meer skrywers en lesers van hierdie hutsmerke gebruik maak en bestaande plasings deel, hoe vinniger sal die Afrikaanse #boektok en #boekstragram groei.

Afrikaanse skrywers en lesers behoort opgewonde te wees oor die nuwe moontlikhede wat #bookstagram en #booktok vir die boekbedryf bied. Deur saam te werk en aktief betrokke te raak by die hutsmerkkultuur, kan Afrikaanse boeke nuwe lewe op sosiale media kry.

Sanri Steyn en Professor Fungus: Taalgebruik en skryfstyl in aksie

In kinderboeke is die skryfstyl en taalgebruik van die skrywer baie belangrik om jong lesers se aandag te trek. Daar is talle aspekte wat ’n skrywer in ag moet neem as dit kom by die taalgebruik en skryfstyl wat hulle in hul boeke gaan gebruik, insluitende die leesvaardighede en leesbehoeftes van hulle teikenlesers. In hierdie opstel word die taalgebruik en skryfstyl in twee kinderboeke bespreek.

Sanri Steyn: Dokter Zombos se geheime formule

Theresa van Baalen se Sanri Steyn: Doktor Zombos se geheime formule is ’n uitstekende voorbeeld van ’n kinderboek wat by jong lesers se leesbehoeftes en -vaardighede sal kan aansluit. Die rede hiervoor is die gebruik van jong karakters en die eenvoudige taalgebruik en skryfstyl in die verhaal.

Die kinderboek volg Sanri Steyn (die fokaliseerder) en haar avonture saam met haar nuwe vriend, Markus, in die dorpie Raaiselfontein. Beide die hoofkarakters is jonk en nog in die laerskool wat die verhaal vir jonger lesers aantreklik sal maak, omdat hulle hulself met die karakters sal kan vereenselwig. Die karakters is dadelik by die aksie betrokke, omdat die verhaal met dialoog en vreemde gebeurtenisse begin. Baie jong lesers sal die aksie en dialoog bo lang beskrywings verkies, veral as dit die leser reeds van die eerste bladsy by die gebeure betrek. Van Baalen gebruik hierdie skryfstyl baie effektief, omdat Sanri as karakter deur dialoog aan die jong leser voorgestel word. Die leser kan Sanri se houding teenoor hulle verhuising na Raaiselfontein sien, asook leer hoe sy met haar ma en ander mense kommunikeer.

Die res van die boek word geskryf met Sanri en Markus (min of meer in dieselfde ouderdomsgroep as die teikenlesers) se onafhanklikheid van hul ouers in gedagte. Dit strook met lesers van hierdie ouderdom wat ook meer onafhanklik van hulle ouers word en meer tyd saam met hulle maats begin deurbring. Die gebeure fokus op Sanri en Markus en hulle keuses, asook wat hulle saam doen. Van Baalen maak ook seker dat daar ’n duidelike doelwit vir Sanri as protagonis geskep word – sy wil die dorp red, maar ook ’n storie vir haar eie koerant skryf. Sy droom om eendag ’n ‘superjoernalis’ te word. Hierdie droom maak haar ook meer identifiseerbaar, omdat die teikenlesers ook op hierdie stadium begin droom oor wat hulle wil word as hulle ouer is.

Die gebeure in Sanri Steyn: Doktor Zombos se geheime formule is opwindend en avontuur wag om elke hoek en draai. Die spanning wat opbou wanneer Sanri en Markus na die Bloepghloeps Lekkergoed-fabriek gaan om uit te vind wat die lekkergoed aan al die mense in die dorp doen, sal jong lesers effens bang kan laat voel. Die spanning kan effektief wees om die leser se aandag te behou, omdat hulle verder sal wil lees om te sien wat gebeur.

Die taalgebruik in die Sanri Steyn-verhaal is eenvoudig, maar daar word nie op jong lesers neergekyk nie. Van Baalen maak dit duidelik deur byvoorbeeld nie verkleiningsvorme te gebruik wanneer die onderwyseres, juffrou Booysen, die klas aanspreek, of wanneer Sanri se ma met haar praat nie. Van Baalen hou die sinne en die woorde konkreet en eenvoudig, en verduidelik ook as daar ’n stuk in die verhaal is wat verkeerd verstaan kan word. ’n Voorbeeld volg hieronder:

“’n Lendelam kennisgewingbord kondig die ingang tot die dorp aan: W LKOM IN RAAIS LF ONTEIN. Party van die letters is weg. Sanri kyk nuuskierig rond. Raaiselfontein lê…” (Van Baalen, 2014:4-5).

Vir jong lesers wat nie self die kennisgewingbord se letters self kan invul nie, gee Van Baalen meer inligting in die volgende sinne, wat die leser help om die gebeure te volg.

Van Baalen gebruik ook humor in hierdie verhaal. Die benaming van die lekkergoed-fabriek (Bloepghloeps Lekkergoed) en die manier hoe die karakters met mekaar onderhandel, is komies en jong lesers sal dit waarskynlik geniet om dit lees. Die aankoms in ’n nuwe dorp en die oriëntering deur Sanri en die bure help ook moontlik om die jong leser te laat verstaan waar die gebeure afspeel en hoe die dorp lyk. Die paar illustrasies in die boek help ook verder om die plek aan die leser te wys.

Professor Fungus en die diepsee-dilemma

Die tweede boek wat ons kan bespreek in terme van taalgebruik en skryfstyl, is Jaco Jacobs se Professor Fungus en die diepsee-dilemma.  Net soos by Theresa van Baalen se storie, begin Jaco Jacobs ook sy storie met dialoog. Dit kan weereens effektief wees, omdat dit die jong leser dadelik in die aksie plaas en hulle geïnteresseerd kan maak om verder te lees. Die hoofkarakters in hierdie verhaal is die tweeling, Bennie en sy suster Jenny. Jacobs gebruik ook jong karakters waarmee die jong lesers kan identifiseer. Soos in die Sanri Steyn-verhaal, is die tweeling ook meer onafhanklik van hulle ouers. Hier is egter ook sprake van ouer karakters waarmee die tweeling onderhandel soos hulle oom, professor Fungus. Professor Fungus en professor Igtus (professor Fungus se kollega) speel ’n groot rol in hierdie storie omdat hulle hul uitvindings (soos die V.I.S – ’n duikboot wat lyk soos ’n groot vis) gebruik om die diepsee te gaan verken. Daar is ook ’n verdere wetenskaplike-element en vreemde uitvindings soos ’n blaffende konyn (Argon) en’n pratende robot (Edison). Die uitvindings en die geluide wat elkeen maak, is komies en kan die leser ook betrek by die uitspattige storie. ’n Voorbeeld van professor Fungus se selfoon se luiklank: “TJIERRRR! TJIKKE-TJORRR!” (Jacobs, 2016:4).

Jaco Jacobs gebruik kort en eenvoudige sinne en woorde in Professor Fungus en die diepsee-dilemma. Die meeste van wetenskaplike elemente word aan die leser verduidelik, terwyl ander aan die jong leser se interpretasie oorgelaat word. Die skryfstyl en verwysings is eietyds en relevant en dra by tot leesgenot. Jennie wat altyd met haar selfoon besig is, die uitvindings en die “BTW L.O.L.” op Professor Fungus se diploma, gee ’n aanduiding van die era waarin die storie afspeel en dra by tot die humor. Die omgewing (die strand) kan ook help om die verhaal vir jonger lesers te plaas.

Jaco Jacobs gebruik ook spanning in sy verhaal, soos byvoorbeeld wanneer die reuse-pylinkvis die duikboot aanval en dit begin platdruk. Jong lesers sal wil verder lees om uit te vind of die reuse dierasie dit regkry, en ook of die karakters vanaf die eiland kan ontsnap as die duikboot breek.

Soos mens kan aflei, maak die Theresa van Baalen en Jaco Jacobs van soortgelyke taalgebruik en skryfstyle gebruik wat gepas is vir die jong leser. Die baie dialoog, sowel as die illustrasies wat in beide verhale voorkom, kan help om jong lesers geïnteresseerd maak om verder te lees. Albei stories sentreer om een karakter (Sanri en Bennie), maar sluit ook die ander geslag in (Markus en Jenny), wat daartoe bydra dat die stories deur seuns en dogters geniet kan word. Sanri Steyn: Doktor Zombos se geheime formule en Professor Fungus en die diepsee-dilemma maak gebruik van effektiewe elemente wat die jong lesers se leesbehoeftes en -belangstellings in ag neem.

Wolk (resensie)

Elke wolk het ʼn silwer randjie, maar die een waarvan Hannes Barnard skryf, het ʼn vurige oranje gloed wat die leser op die punt van sy/haar stoel sal hou. Hannes Barnard se debuut, Halley se komeet, het in 2019 verskyn en Wolk ʼn jaar later in 2020. Nog voor die leser die boek begin lees, trek die treffende voorblad deur Linki Brand reeds aandag. Die donkeroranje wolk met geel weerligstrale wat oor die silhoeët-karakters blits, skep alreeds ʼn spannende atmosfeer. Linki Brand het ʼn Pendoring Advertising Awards-sertifikaat vir hierdie voorblad ontvang.

Wolk handel oor twee tieners, Rufus en Xander, wat ʼn avontuur saam wil aanpak voordat Rufus se gesin oorsee emigreer. Rufus en Xander is van kleintyd af boesemvriende en die gedagte om afskeid te neem, is vir hulle ondenkbaar. Alles begin by ʼn “onskuldige” besluit toe Rufus voorstel dat sy en Xander vir net drie dae wegglip na ʼn plek, sonder sein, om alleen tyd te spandeer voordat Rufus-hulle emigreer. Kort voor lank besef die twee vriende dat hierdie briljante idee, dalk eintlik nie so ʼn goeie idee was nie…

Wolk is propvol opwinding. Die hoofstukke wissel tussen Rufus en Xander se perspektief wat dit interessant en lewendig vir die leser hou. Wanneer die wolk dan sy verskyning maak, begin dinge lelik skeefloop. Ouer en jonger tieners (en selfs volwassenes) sal die avontuurgelaaide aard van die boek geniet en met die hegte vriendskapbande en aktuele kwessies kan identifiseer.

As gevolg van die min karakters in die boek, kry die leser die geleentheid om die hoofkarakters in diepte te leer ken. Die eerstepersoonsverteller word effektief aangewend om simpatie by die leser te kweek. Die dinamika tussen die twee hoofkarakters is so suksesvol dat dit duidelik word dat die een nie sonder die ander een kan bestaan nie.

Wolk kan beskou word as ʼn post-apokaliptiese jeugroman wat in die toekoms afspeel. Genregewys kan die boek met Virus van Jaco Jacobs vergelyk word, alhoewel Wolk in ʼn ligter trant geskryf is. Die storie laat die leser wonder hoe hy/sy self sou oorleef wanneer ʼn reuse, vuurspuwende wolk die wêreld uitwis.

Die skrywer kan geprys word vir die unieke ruimte-uitbeelding van Suid-Afrika. Die leser kan maklik visualiseer hoe die karakters uit die stad na die platteland beweeg. Die beskrywing van die omgewing soos die klimtog teen die berg, die verblyf in die grot, die waterval, die grensdrade en die gevreesde luiperd, is tipies van die Oos-Vrystaatse landskap. Hierdie realistiese plot en ruimte uitbeelding maak die koms van die wolk dus meer geloofwaardig.

Tydsverloop in die boek word nie net aangewend om spanning te skep nie, maar dra betekenis vir die karakters en dus ook vir die leser. In sommige hoofstukke verskyn die datum saam met die hoofstuktitel. Dit is miskien iewat onrealisties vir die karakters om só georiënteerd met die datum en tyd te wees, omdat hulle nie enige kontak met die buitewêreld het nie en omdat hulle selfoontyd beperk is. Daarteenoor, help die konstante verwysing na die datum en tyd in die dialoog die leser om nie verlore te raak nie.

Wolk is ʼn aangrypende jeugroman van die voorblad tot by die laaste sin en hou genoeg geheime in sodat die leser geen ander keuse het as om die opvolg, Roet, te lees nie. Lesers moet beslis nie hierdie opvolg van Wolk misloop nie!

Ela Spence (23/9/1909 – 2/5/1997)

Ela Spence (23/9/1909 – 2/5/1997)

“Almal wil tog van die liefde lees”, vertel Leana Lategan.

Ela Spence is in Burgersdorp gebore, en was die enigste kind van haar ouers. Van haar kinderjare vertel sy dat sy ‘n dromer was wat geselskap sommer vinnig kon ontduik ter wille van die lees van ‘n boek. Dat hierdie verbeelding haar skrywersloopbaan ten beste gepas het, is duidelik as ‘n mens sien dat sy 53 kinderboeke en sowat 136 liefdesromans geskryf het. Sy het ook vier operettes geskryf. Haar skryfloopbaan begin in 1946 met “Bevryding”, en strek tot die laaste publikasie in 1998. Herdrukke word hierna vir lesers in ‘n byderwetse formaat uitgeggee, en ook as grootdrukboeke en braille-weergawes gepubliseer. Sy kon vinnig skryf aan ‘n verhaal, en verskeie avontuurlustige maniere vind om feite te versamel en sodoende die liefdestema substansie gee. Verskeie oorsese reise het neerslag gevind in haar werk, en vir ‘n opdragreeks het sy letterlik ‘n tyd in die hospitaal deurgebring om die omstandighede van die verpleegster eerstehands te kon beleef. Die “Suster Wanda” – reeks, gebaseer op die lewe en werk van Florence Nightingale, was die resultaat.

Dit was egter nie net volwassenes wat gebaat het by Ela se ryk verbeelding nie. Sy begin trouens om vir kleiner kinders te skryf, want die jare ’40 en’ 50 was maar skaars jare vir kinderleesstof. Jeugverhale was egter ewe gewild en veral die “Soekie” – reeks en die “Tessa” – reeks (lg. onder haar nooiensnaam Elizabeth Stander geskryf) is opgeraap.

Ela Spence het ‘n droom gehad om as operasanger te kon werk, maar ‘n lang siekbed het haar musiekstudie kortgeknip. Daarna het sy as joernalis by verskeie tydskrifte en koerante betrokke geraak , totdat sy uiteindelik voltyds begin skryf het, en net nooit weer opgehou het nie. J. P. Van der Walt, later LAPA, het die Ela Spence – medalje vir liefdesverhale as eerbewys ingestel. Ela was getroud met Reginald Spence, en het twee dogters gehad. Dié fyn, kort, hartlike vroutjie het ‘n ganse era van lesers in die holte van haar hand gehad. Op my ma se boekrak staan daar ‘n hele ry liefdesverhale in gelid, en word Ela gekoester tussen skrywers soos Sophie Roux, Sanet te Groen, Susanna M Lingua en C. F. Beyers Boshof.

Die bladsye is vergeel en al effens bros, die omslae te veel gehanteer, die prys van nege sjielings en vyf pennies ‘n geldaanduiding so oud soos die teks self. Maar ek herlees hulle steeds, en herroep ‘n jongmenstyd waarin ook hierdie Klubboeke soveel kleur in my lewe gebring het.

Berig deur Leana Lategan, pasafgetrede hoofvakkundige van NALN.

Die artikel is oorspronklik op 23 September 2020 op NALN se Facebookblad gepubliseer. https://web.facebook.com/vriendevannaln

[Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) beskik oor die grootste versameling personalia van Afrikaanse skrywers in die wêreld, en lewer ’n unieke inligtingsdiens uit meer as 200 000 manuskripte, 450 000 knipsels en bykans elke Afrikaanse letterkundige werk (asook die verskillende uitgawes daarvan). Die NALN-versameling word steeds aangevul deur manuskripskenkings van skrywers, daaglikse knipsel-insameling – en digitisering en die aankoop en ontvangs van boeke, ter uitbreiding van die boekversameling. NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel.]

𝙆𝙤𝙣𝙩𝙖𝙠 𝙙𝙞𝙚 𝙉𝙖𝙨𝙞𝙤𝙣𝙖𝙡𝙚 𝘼𝙛𝙧𝙞𝙠𝙖𝙖𝙣𝙨𝙚 𝙇𝙚𝙩𝙩𝙚𝙧𝙠𝙪𝙣𝙙𝙞𝙜𝙚 𝙈𝙪𝙨𝙚𝙪𝙢 𝙚𝙣 𝙉𝙖𝙫𝙤𝙧𝙨𝙞𝙣𝙜𝙨𝙚𝙣𝙩𝙧𝙪𝙢 (𝙉𝘼𝙇𝙉): 𝙣𝙖𝙡𝙣@𝙨𝙖𝙘𝙧.𝙛𝙨.𝙜𝙤𝙫.𝙯𝙖

(Kurator: Wyno Simes)

Wenverhale in Storiewerf se skryfkompetisie

Ter viering van Storiewerf se 21ste verjaarsdag, het skrywers die kans gekry om hulle kreatiwiteit vlerke te gee en in skryf vir die Storiewerf 21 skryfkompetisie. Deelnemers kon kies om ʼn storie te skryf vir haasbekkies – ʼn afdeling vir jong lesers en kleuters – of grilgrot, vir die avontuurlustige en dapper leser. Deelnemers kon ook kreatief te werk gaan om illustrasies saam met hul storie in te stuur.

Deelnemers kon in drie ouderdomskategorieë inskryf: Laerskool, Hoërskool of Volwassenes. Die FAK (Federasie vir die Afrikaanse Kultuurvereniginge) het die prysgeld ter waarde van R10 000 vir die kompetisie geborg. Die wenner in elke kategorie ontvang R2000, die tweede plek R800 en die derde plek R500.

Die beoordelaars is werklik beïndruk met die gehalte van die inskrywings en met die moeite wat die skrywers en illustreerders gedoen het. Dit was moeilik om slegs drie kategoriewenners uit soveel besonderse inskrywings te kies.

Die eerste prys in die laerskoolafdeling gaan aan Marisa Loubser (13), ʼn graad 7 tuisonderrigleerder, met haar storie Geheim in die bos. In die tweede plek is Elmé Steyl (12), ook ʼn tuisonderrigleerder in graad 6, met Die waterwese. In die derde plek is die 11-jarige Simon van Dyk, ʼn graad 6 leerder van Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, met sy storie, Rooi oë in die nag.

In die hoërskoolafdeling is Laura Kruger (17), tans in graad 11 in Hoërskool Potchefstroom Gimnasium, die wenner met haar storie, Die Doolhof. Bea Badenhorst (15), ʼn tuisonderrigleerder in graad 9, spog met haar storie, Bartel Beer bak kluitjies, in die tweede plek. Die derde plek gaan aan Merize Beukes (18), ʼn matriekleerling in Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal, vir Nina se vellie avontuur.

In die volwassekategorie ontvang Berdina Olivier die eerste plek met haar storie, Een is gelyk aan ses. In die tweede plek is dit Martelize Faber se Maanpêrels en in die derde plek Helena Mellet met Petronella, die vlakwaterpadda.

Storiewerf wens al die wenners van harte geluk.

Die eerste verhale (die drie afdelingswenners) kan vanaf Septembermaand in grilgrot gelees word. Die res van die wenverhale word in Oktober en November op Storiewerf geplaas.

Baie dankie aan elke talentvolle deelnemer wat ingeskryf het en bereid is om lees lekker te maak.

Die kompetisie is aangebied in samewerking met die FAK en die Vakgroep Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit (NWU).