In kinderboeke is die skryfstyl en taalgebruik van die skrywer baie belangrik om jong lesers se aandag te trek. Daar is talle aspekte wat ’n skrywer in ag moet neem as dit kom by die taalgebruik en skryfstyl wat hulle in hul boeke gaan gebruik, insluitende die leesvaardighede en leesbehoeftes van hulle teikenlesers. In hierdie opstel word die taalgebruik en skryfstyl in twee kinderboeke bespreek.
Theresa van Baalen se Sanri Steyn: Doktor Zombos se geheime formule is ’n uitstekende voorbeeld van ’n kinderboek wat by jong lesers se leesbehoeftes en -vaardighede sal kan aansluit. Die rede hiervoor is die gebruik van jong karakters en die eenvoudige taalgebruik en skryfstyl in die verhaal.
Die kinderboek volg Sanri Steyn (die fokaliseerder) en haar avonture saam met haar nuwe vriend, Markus, in die dorpie Raaiselfontein. Beide die hoofkarakters is jonk en nog in die laerskool wat die verhaal vir jonger lesers aantreklik sal maak, omdat hulle hulself met die karakters sal kan vereenselwig. Die karakters is dadelik by die aksie betrokke, omdat die verhaal met dialoog en vreemde gebeurtenisse begin. Baie jong lesers sal die aksie en dialoog bo lang beskrywings verkies, veral as dit die leser reeds van die eerste bladsy by die gebeure betrek. Van Baalen gebruik hierdie skryfstyl baie effektief, omdat Sanri as karakter deur dialoog aan die jong leser voorgestel word. Die leser kan Sanri se houding teenoor hulle verhuising na Raaiselfontein sien, asook leer hoe sy met haar ma en ander mense kommunikeer.
Die res van die boek word geskryf met Sanri en Markus (min of meer in dieselfde ouderdomsgroep as die teikenlesers) se onafhanklikheid van hul ouers in gedagte. Dit strook met lesers van hierdie ouderdom wat ook meer onafhanklik van hulle ouers word en meer tyd saam met hulle maats begin deurbring. Die gebeure fokus op Sanri en Markus en hulle keuses, asook wat hulle saam doen. Van Baalen maak ook seker dat daar ’n duidelike doelwit vir Sanri as protagonis geskep word – sy wil die dorp red, maar ook ’n storie vir haar eie koerant skryf. Sy droom om eendag ’n ‘superjoernalis’ te word. Hierdie droom maak haar ook meer identifiseerbaar, omdat die teikenlesers ook op hierdie stadium begin droom oor wat hulle wil word as hulle ouer is.
Die gebeure in Sanri Steyn: Doktor Zombos se geheime formule is opwindend en avontuur wag om elke hoek en draai. Die spanning wat opbou wanneer Sanri en Markus na die Bloepghloeps Lekkergoed-fabriek gaan om uit te vind wat die lekkergoed aan al die mense in die dorp doen, sal jong lesers effens bang kan laat voel. Die spanning kan effektief wees om die leser se aandag te behou, omdat hulle verder sal wil lees om te sien wat gebeur.
Die taalgebruik in die Sanri Steyn-verhaal is eenvoudig, maar daar word nie op jong lesers neergekyk nie. Van Baalen maak dit duidelik deur byvoorbeeld nie verkleiningsvorme te gebruik wanneer die onderwyseres, juffrou Booysen, die klas aanspreek, of wanneer Sanri se ma met haar praat nie. Van Baalen hou die sinne en die woorde konkreet en eenvoudig, en verduidelik ook as daar ’n stuk in die verhaal is wat verkeerd verstaan kan word. ’n Voorbeeld volg hieronder:
“’n Lendelam kennisgewingbord kondig die ingang tot die dorp aan: W LKOM IN RAAIS LF ONTEIN. Party van die letters is weg. Sanri kyk nuuskierig rond. Raaiselfontein lê…” (Van Baalen, 2014:4-5).
Vir jong lesers wat nie self die kennisgewingbord se letters self kan invul nie, gee Van Baalen meer inligting in die volgende sinne, wat die leser help om die gebeure te volg.
Van Baalen gebruik ook humor in hierdie verhaal. Die benaming van die lekkergoed-fabriek (Bloepghloeps Lekkergoed) en die manier hoe die karakters met mekaar onderhandel, is komies en jong lesers sal dit waarskynlik geniet om dit lees. Die aankoms in ’n nuwe dorp en die oriëntering deur Sanri en die bure help ook moontlik om die jong leser te laat verstaan waar die gebeure afspeel en hoe die dorp lyk. Die paar illustrasies in die boek help ook verder om die plek aan die leser te wys.
Die tweede boek wat ons kan bespreek in terme van taalgebruik en skryfstyl, is Jaco Jacobs se Professor Fungus en die diepsee-dilemma. Net soos by Theresa van Baalen se storie, begin Jaco Jacobs ook sy storie met dialoog. Dit kan weereens effektief wees, omdat dit die jong leser dadelik in die aksie plaas en hulle geïnteresseerd kan maak om verder te lees. Die hoofkarakters in hierdie verhaal is die tweeling, Bennie en sy suster Jenny. Jacobs gebruik ook jong karakters waarmee die jong lesers kan identifiseer. Soos in die Sanri Steyn-verhaal, is die tweeling ook meer onafhanklik van hulle ouers. Hier is egter ook sprake van ouer karakters waarmee die tweeling onderhandel soos hulle oom, professor Fungus. Professor Fungus en professor Igtus (professor Fungus se kollega) speel ’n groot rol in hierdie storie omdat hulle hul uitvindings (soos die V.I.S – ’n duikboot wat lyk soos ’n groot vis) gebruik om die diepsee te gaan verken. Daar is ook ’n verdere wetenskaplike-element en vreemde uitvindings soos ’n blaffende konyn (Argon) en’n pratende robot (Edison). Die uitvindings en die geluide wat elkeen maak, is komies en kan die leser ook betrek by die uitspattige storie. ’n Voorbeeld van professor Fungus se selfoon se luiklank: “TJIERRRR! TJIKKE-TJORRR!” (Jacobs, 2016:4).
Jaco Jacobs gebruik kort en eenvoudige sinne en woorde in Professor Fungus en die diepsee-dilemma. Die meeste van wetenskaplike elemente word aan die leser verduidelik, terwyl ander aan die jong leser se interpretasie oorgelaat word. Die skryfstyl en verwysings is eietyds en relevant en dra by tot leesgenot. Jennie wat altyd met haar selfoon besig is, die uitvindings en die “BTW L.O.L.” op Professor Fungus se diploma, gee ’n aanduiding van die era waarin die storie afspeel en dra by tot die humor. Die omgewing (die strand) kan ook help om die verhaal vir jonger lesers te plaas.
Jaco Jacobs gebruik ook spanning in sy verhaal, soos byvoorbeeld wanneer die reuse-pylinkvis die duikboot aanval en dit begin platdruk. Jong lesers sal wil verder lees om uit te vind of die reuse dierasie dit regkry, en ook of die karakters vanaf die eiland kan ontsnap as die duikboot breek.
Soos mens kan aflei, maak die Theresa van Baalen en Jaco Jacobs van soortgelyke taalgebruik en skryfstyle gebruik wat gepas is vir die jong leser. Die baie dialoog, sowel as die illustrasies wat in beide verhale voorkom, kan help om jong lesers geïnteresseerd maak om verder te lees. Albei stories sentreer om een karakter (Sanri en Bennie), maar sluit ook die ander geslag in (Markus en Jenny), wat daartoe bydra dat die stories deur seuns en dogters geniet kan word. Sanri Steyn: Doktor Zombos se geheime formule en Professor Fungus en die diepsee-dilemma maak gebruik van effektiewe elemente wat die jong lesers se leesbehoeftes en -belangstellings in ag neem.