Tienie Hollowaymedalje vir Kleuterliteratuur 2021

Die wenners van vanjaar se SA Akademiepryse is op Woensdag 14 Julie tydens ’n virtuele bekroningsplegtigheid vereer.

Die dag toe die draak kom deur Fanie Viljoen (skrywer) en Tumi K. Steyn (illustrasies) (Human & Rousseau) is met die Tienie Hollowaymedalje vir Kleuterliteratuur vereer.

Die kortlys was soos volg:

Die skandalige susters Smit – Adeline Radloff (skrywer) en Alex van Houwelingen (illustrasies) (Tafelberg)

Stories vir Pikkies en Peuters – Gertie Smit (skrywer) en Samantha van der Riet, Tasia Rosser, Melany Pietersen en Tumi K. Steyn (illustrasies) (Tafelberg).

Topsy Smith (12 Julie 1914 – 5 Maart 1985)

Trompie en Saartjie skiet telkens soos ’n prop bo die water uit.

Op Maties was Topsy Smith saam met “groot manne” in Dagbreek koshuis, soos F.A. Venter, Gerhard Beukes, Ernst van Heerden, Paul de Klerk en John Vorster. Trompie Toerien en Saartjie Baumann is karakters wat nooit uit die mode raak nie. Miskien lê hulle bekoring daarin dat hul wêreld dié van elke kind is: die wêreld van skoolgaan en huiswerk doen, sport, stokkiesdraai en straf.

Tussen al die gebeurtenisse heen, vleg die verhaal van kinders wat die lewe met oorgawe beleef – hul suksesse en mislukkings. As dinge dreig om hulle onder te kry, skiet hulle weer soos ’n prop bo die water uit.Mathys Gerhardus Smith (12 Julie 1914 – 5 Maart 1985) bring sy vroeë jare in Pretoria deur – in ’n Engelse omgewing. Na sy ouers se dood gaan hy skool in Koppies waar hy met Afrikaans kennis maak. As kind is hy gedurig by die swemgat, en in die winter speel hy rugby. Maar hy is ook ’n boekwurm en lees alles wat hy in Afrikaans in die hande kan kry: van Patrys-hulle tot Hans-die-Skipper.Hy is besonder lief vir al die sportsoorte. Tydens sy studentedae op Maties speel hy eerstespan rugby en is hy Kaptein van die boksspan.

Saam met sy B.A.-graad volg hy ook ’n kursus in Liggaamsopvoeding en hy skryf sy eerste boek as eerstejaarstudent. In 1944 begin hy as Afrikaans-onderwyser skoolhou in Johannesburg, en is later getroud met mej. Josie Stuart Bertram. In sy vrye tyd begin hy kortverhale en sketse skryf en in “Die Naweek” van 25 Mei 1943, verskyn ’n kortverhaal, “Trompie se das”. Hy word sportverslaggewer en volgens hom is dit waar hy eintlik begin skryf het. ’n Aantal sportboeke verskyn uit sy pen, soos “Draers van groen en goud” en “Atlete van Springbokland”.

Sy belangstelling in sport kwyn en hy begin met sy eerste Trompie-reeks onder die skuilnaam Topsy Smith. Min het hy geweet hóé gewild die reeks uiteindelik gaan word. Watter kind ken nie die sproetgesig seun met sy uithanghemp en skewe pet nie? En dan, natuurlik, die Boksombende van Kwaggaberg! Topsy Smith het self die verwerking vir die televisieweergawe van Trompie gedoen.

Die rolprent “Trompie” word in 1974 in inry-teaters vertoon, net ’n jaar voor televisie. Dit is op Netflix beskikbaar.Later skep hy die Saartjie-reeks onder die skuilnaam Bettie Naudé en Saartjie en haar Drie Muskiete-bende verskyn ook in hul eie televisie-reeks. Hy skryf nog ander reekse jeugverhale, soos Gamaroela Gawie, die Louws van Linton, Jantjie, Hendrik Hoffman, Bosapies van Bergville en Gampietjie-reekse. Vir Engelse kinders skryf hy reekse oor Nicky (ook in Afrikaans vertaal as die Niekie-reeks) en Leon. Die Jantjie-reeks speel op die dorpie Petrusdorp af, waar Jantjie en sy bende, die Nuuskierige Agies, die dorp op horings neem.

Gamaroela Gawie is, soos altyd, ’n rooi-haar sproetgesigseun wat goed rugby speel en ondanks sy huislike agtergrond groot hoogtes bereik. In die Leon-reeks het Topsy Smith blykbaar ’n Engelse parallel vir Trompie probeer skep, iets waarin hy goed geslaag het. Vir volwasse lesers skryf hy boeke vir die Dagbreek-Boekkring, meestal onder die naam M.G. Smith, waarvan “Juffrou Jackie se man” die gewildste is. “Die ontluiking van tant Matilda” (later heruitgegee as “Die metamorfose van Matilda”) en “Blonde godin”.Later ondervind hy hartprobleme en moet vir die eerste keer in sy lewe tydelik ophou skryf. “As ek my net kan uitskud uit hierdie moegheid..” sê hy na ’n groot ope-hart operasie in 1980.Topsy Smith is op 5 Maart 1985 oorlede. Hy was 25 jaar lank hoof van die Laerskool Sandringham en het die hart van ’n kind deur en deur geken. Na sy aftrede het hy voltyds geskryf.

Daar het meer as 200 boeke uit sy pen verskyn.Die hoofkarakters van die 1980 televisie-jeugreeks “Trompie en die Boksombende,” Riaan Winter (Trompie), Ivan Ivanovich – regte naam Ivan Snyman – (Rooie), Sean du Preez (Blikkies) en Petrus Jooste (Dawie) gesels op Vrydag 27 Mei 2016 oor daardie jare, én oor wat hul deesdae doen, met Martelize Brink en Johan Rademan op “Oggend op RSG,” die oggendprogram van Radio Sonder Grense (RSG): Luister gerus na dié vrolike opname: https://www.youtube.com/watch?v=QWxVj-YwH5k

*******

Trompie en Saartjie se e-boeke is beskikbaar by NB-Uitgewers/Publishers: https://www.nb.co.za/en/authors?authorId=377

– Trompie Omnibus 1 – 7 deur Topsy Smith

– Saartjie Omnibus 1 – 7 deur Bettie Naudé

Artikel: A. Diedericks

Die artikel is oorspronklik op 12 Julie 2020 op NALN se Facebookblad gepubliseer. https://web.facebook.com/vriendevannaln

[Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) beskik oor die grootste versameling personalia van Afrikaanse skrywers in die wêreld, en lewer ’n unieke inligtingsdiens uit meer as 200 000 manuskripte, 450 000 knipsels en bykans elke Afrikaanse letterkundige werk (asook die verskillende uitgawes daarvan). Die NALN-versameling word steeds aangevul deur manuskripskenkings van skrywers, daaglikse knipsel-insameling – en digitisering en die aankoop en ontvangs van boeke, ter uitbreiding van die boekversameling. NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel.]

Verna Vels (13 Junie 1933 – 21 Augustus 2014)

“Die verhaal van ’n Vrystaatse dorpskind wat volksbesit geword het: Verna Vels (13 Junie 1933 – 21 Augustus 2014),” vertel Leana Lategan*

Byna-byna was haar naam “Vermin”, want dis wat ’n samevoeging van Pa Vernon en Ma Minnie sou beteken. Gelukkig het dit Verna Barbara Robertson geword, dié dogter van die Vels-egpaar van Reitz in die Vrystaat. Op hierdie dorpie is ‘n legende op 13 Junie1933 gebore.Vir die meeste mense is Verna Vels en haar storieboekkarakter “Liewe Heksie” sinonieme, maar voor die bestaan van dié vriendelike, onbeholpe, en “dommerige” heksie, was daar al ’n joernalistieke lewe wat vir vele hoogtepunte in Verna Vels se dekadeslange loopbaan gesorg het.

Ná haar B. A. – studie aan die UP lê sy sommer terloops ’n omroeperstoets by die SAUK af. Agt jaar lank werk sy as omroeper en plateprogramopsteller in hulle ateljees in Durban, en behartig kinder-, vroue- en allerlei musiekprogramme. Sy begin ook in hierdie tyd met skryfwerk vir die radio, vir kinders sowel as vir volwassenes. Sy is uiteindelik vir 18 jaar lank by radiowerk betrokke, voordat sy in 1974 oorgeplaas word om die SAUK se nuwe TV-diens te help voorberei.

Die geboortedatum van Levinia Heks, soos Karel Kat haar streng noem, is 2 Mei 1962, toe die eerste verhaal van “Blommie Kabouter en die Heks wat vergeet het” in ‘n Siembamba-program uitgesaai is. Meerdere verhale volg, en in 1965 verskyn die eerste versameling “Liewe Heksie” – stories in twee bundels : “Liewe Heksie” en “Liewe Heksie kom weer”.

Die suksesverhaal van hierdie geliefde karaktertjie loop paralel met dié van haar skepper. Verna Vels het by geleentheid na haarself verwys as die “eerste werklike career girl gebore” Reitzmeisie. Haar werk was haar passie, oorsese reise (veral na die wêreldstad Parys) en tintelende musiekkonserte in o.m. Berlyn was bederwe wat haar lank kreatiewe energie gegee het vir verdere werk. Sy was die eerste vroulike uitruilomroeper in Nederland, die eerste vroulike streekorganiseerder vir radio, en kanaaldirekteur van TV 1. Ná haar amptelike aftrede het sy vir etlike jare nog twee dae per week as hoofregisseur op die stel van die “7de Laan” – reeks gewerk.

Vels het verskeie eerbewyse ontvang, onder meer van die FAK, en ook ’n SAUK Artestoekenning, die Tienie Holloway-medalje, en die C. P. Hoogenhouttoekenning.

Ook Liewe Heksie het van krag tot krag gegaan. Sy het vis gevang, was maan toe, en na ‘n rugbywedstryd. Sy het ‘n kat gekry, was betrokke by die gesogte Silwer Roos, het kaskenades beleef óf veroorsaak!, en was dikwels in die pekel. Sy was op televisie, op teaterverhoë, in Omnibusformaat en op DVD. Natuurlik is sy ook in boeke, storieboeke, en leerboekies, want dis ’n báie goeie plek vir ‘n heksie om te wees.

En natuurlik het sy die rekenaar bygedam, want dis nóg iets wat ‘n liewe heksie moet doen. Sou dit nie wonderlik wees as sy die heersende virus kon bykom nie?! Sy hét immers vir Wicus Virus suksesvol verwyder van van die Blommelandrekenaar…Lank lewe die legende van Verna Vels en haar liewe heksie!

*TEKS deur Leana Lategan, pasafgetrede hoofvakkundige,

**Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN).

Kontak NALN**: naln@sacr.fs.gov.za of vriendevannaln@gmail.com

**Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) beskik oor die grootste versameling personalia van Afrikaanse skrywers in die wêreld, en lewer ’n unieke inligtingsdiens uit meer as 200 000 manuskripte, 450 000 knipsels en bykans elke Afrikaanse letterkundige werk (asook die verskillende uitgawes daarvan). Die NALN-versameling word steeds aangevul deur manuskripskenkings van skrywers, daaglikse knipsel-insameling – en digitisering en die aankoop en ontvangs van boeke, ter uitbreiding van die boekversameling. NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel. asook die radio- en rolprentgeskiedenis.

ATKV-Tienertoneel 2020: Laai tekste gratis af

ATKV-Tienertoneel stel bekend ’n digitale monoloogbundel, enig in sy soort en ’n Tienertoneel-eerste.

Dit was nie so maklik vir vanjaar se tieners om aan ATKV-Tienertoneel deel te neem nie. Nie net moes hulle hul spel vir kamera aanpas nie, maar die ATKV het ook seker gemaak dat niemand kortpaaie kies deur ’n reeds bestaande teks af te stof nie.

Dr. André Gerber van die dramadepartment aan die Universiteit Stellenbosch en een van vanjaar se mentors, wil die skrywers van hierdie monoloë gelukwens vir hul uitsonderlike harde werk, kreatiwiteit en die hoë gehalte van die tekste.

“Dit is van kardinale belang dat ons skrywers ’n platform het om te skep, maar dat daar ook rekord gehou word van hierdie kreatiewe werk vir toekomstige gebruik. En ja, die tekste sal beslis nog ’n lang lewe ná die kompetisie hê. Akteurs, regisseurs en selfs lesers sal inspirasie uit hierdie tekste put.”

JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel, sê hulle wou sien wat dink en voel tieners en daarom moes deelnemers slegs nuutgeskrewe monoloë uit ’n voorgeskrewe temawolk skep en voordra.

Die voorgeskrewe temas vanjaar was Ingeperk, Isolasie, Huis, Alleen en Stil.

48 tekste het ’n gemiddeld van meer as 80% behaal en vandaar het hierdie digitale bundel die lig gesien.

André is daarvan oortuig dat hierdie skrywers met enorme insig en empatie met baie komplekse idees en konsepte omgegaan het.

“Wat my veral beïndruk, is die haarfyn balansering tussen komedie en tragedie in elke teks. Ja, die tematiek is somtyds donker, maar daar is deurlopende humor.”

Hy glo dat dit moontlik ’n teken van ons tydsgees is. “Ons kan huil tot op ’n punt, maar dán moet ons lag. Hierdie skrywers het dit reggekry om albei te doen.”

Kom reis saam met jong stemme  wat jou sal laat lag, huil en moontlik ook jou asem wegslaan.

Laai die bundel nóú gratis af deur hier te klik.

Helena J.F. Lochner (15 Sept 1892–15 Julie 1951)

“A-ja-a! Vanaand gaan ek lekker die rondloop-kinders vang. Dis mos my kans as hulle nie vroeg wil gaan slaap nie! Hê-hê-hê-hê!” lag ou Antjie Somers”, skryf Helena J.F. Lochner (15 September 1892–15 Julie 1951) in “Kinderland”.*

Die groot eetkamertafel in die Swartlandse pastorie het as verhoog gedien vir die toneelstukkies wat die tienjarige Helena Johanna Francina Lochner geskryf het. Helena J.F. Lochner, skrywer en illustreerder van leesboekies vir jong kinders, was die tiende van 14 kinders en is op 15 September 1892 in Moorreesburg gebore. Haar eintlike skrywersloopbaan het begin in 1926 as 34-jarige toe adv. J.H.H. de Waal ‘n artikel van haar na “Die Huisgenoot” gestuur het sonder haar medewete. Dit is gepubliseer.

Helena se verloofde, die portretskilder George Crosland Robinson (1858-1930), het haar aangespoor om haar illustrasietalent te ontwikkel. George se onverwagte dood het daartoe bygedra dat sy as 37-jarige onderwyseres nooit getrou het nie. Sy het haar ouers versorg tot albei se dood. “Kinderland” is ‘n versamelbundel wat selfs volwassenes intrek in die diep, ver wonderwêreld, gevul met haar pragtige humoristiese illustrasies, stories, speletjies en versies.

Hier verloor jy tred met die harde werklikheid, terwyl jy ontsnap na ‘n “kinderland” waar “Die lui dwergie” deur die bos- water-, boom- en berghekse bestorm word, of “Die agterstevoor ou vrou” wat net mooi niks kon klaarkry nie. “Die Stokkies-familie” se kampkaskenades in tekenprentvorm gryp die verbeelding aan wanneer hulle met valskerms van kranse af spring of deur ‘n krokodil gejaag word. Dan is daar ook nog uittel-rympies, versies oor ‘n nat kat, hekse, hasies, skapies en varkies en die seuntjie met “Die gaatjie in sy broekie”. Prent-raaisels, aanwysings hoe om skadu-prente by lamplig te maak, kode-briewe en die spore van diere in versvorm sou pret waarborg op reëndae. “Ou Vader Krismis” fluit vir sy span takbokke en daar trek die slee “oor al die lande, deur wolke, deur die blou lug, want Ou Vader Krismis moet in een nag deur die hele wêreld reis” (p. 139).

Altesaam 62 van haar boekies is gepubliseer en bevat meer as 100 verhaaltjies. Drie groot versamelbundels is na haar dood op 57 jaar, heruitgegee nl. “Sprokieland” (1969), “Kinderland” (1969) en “Kammaland” (1970).

Helena het graag sprokies en legendes van ander lande versamel, tydens haar internasionale reise en deur intensiewe navorsing in biblioteke te doen. Sy het ook vir die “Afrikaanse Kinderensiklopedie” geskryf. Elsabe Steenberg skryf: “Vir die Afrikaanse kinderliteratuur het Helena Lochner baanbrekerswerk gedoen – nie net omdat sy met haar gewilde stories in ‘n dringende behoefte voorsien het vir die verskyning van kinderboeke wat werklik vir kinders geskik sou wees. Sy het ingewikkelde en abstrakte woorde vir kleuters vermy en deur die gebruik van koppeltekens lang woorde makliker leesbaar vir die kleintjies gemaak. Sy het daarvoor gesorg dat haar boeke in groot druk verskyn het en van gekleurde buiteblaaie en genoeg illustrasies, wat sy self gemaak het, voorsien was. Deur haar lewe het sy haar onvermoeid beywer vir groter erkenning van die kinderboek as onontbeerlike deel van ‘n volk se literatuurskat.”… “Onder die lang, swart rok, het hy ’n man se klere aan en die broek steek onder uit. Aan sy groot voete is ’n paar tamaai, stukkende velskoene. Almal ken hul spore in die rooi stof orals deur die hele land… “A-ja-a! Vanaand gaan ek lekker die rondloop-kinders vang. Dis mos my kans as hulle nie vroeg wil gaan slaap nie! Hê-hê-hê-hê!” lag ou Antjie Somers .” *

* Uit: Lochner, Helena J.F. Kinderland. Kaapstad: Nasionale Pers, 1948, pp. 45-46.

Berig saamgestel deur A. Diedericks.

Lees gerus verder: https://af.wikipedia.org/wiki/Helena_Lochner

𝙆𝙤𝙣𝙩𝙖𝙠 𝙙𝙞𝙚 𝙉𝙖𝙨𝙞𝙤𝙣𝙖𝙡𝙚 𝘼𝙛𝙧𝙞𝙠𝙖𝙖𝙣𝙨𝙚 𝙇𝙚𝙩𝙩𝙚𝙧𝙠𝙪𝙣𝙙𝙞𝙜𝙚 𝙈𝙪𝙨𝙚𝙪𝙢 𝙚𝙣 𝙉𝙖𝙫𝙤𝙧𝙨𝙞𝙣𝙜𝙨𝙚𝙣𝙩𝙧𝙪𝙢 (𝙉𝘼𝙇𝙉): 𝙣𝙖𝙡𝙣@𝙨𝙖𝙘𝙧.𝙛𝙨.𝙜𝙤𝙫.𝙯𝙖

(Kurator: Wyno Simes)

[Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) beskik oor die grootste versameling personalia van Afrikaanse skrywers in die wêreld, en lewer ’n unieke inligtingsdiens uit meer as 200 000 manuskripte, 450 000 knipsels en bykans elke Afrikaanse letterkundige werk (asook die verskillende uitgawes daarvan). Die NALN-versameling word steeds aangevul deur manuskripskenkings van skrywers, daaglikse knipsel-insameling – en digitisering en die aankoop en ontvangs van boeke, ter uitbreiding van die boekversameling. NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel.]

Dit waarop ek my hande kon lê…

Ek het kleintyd enigiets gelees waarop my hande kon lê. Gunstelinge wat ek uit my laerskooldae onthou, sluit Marius se merkwaardige medisyne (Roald Dahl), Leandie en die wonderklimtol (Erna Moller) en CJ Langenhoven se spookstories in. Ek het vroeg ook Engels begin lees en dit het gehelp om hierdie Afrikaanse plaasseun wat in die Boland grootgeword het, vandag tweetalig te maak.

Sanlampryse vir Jeuglektuur – 2021-kortlyste

Sanlam en Tafelberg Uitgewers kondig met trots die finaliste vir die 2021-Sanlampryse vir Jeuglektuur aan. Altesaam 95 manuskripte – talle deur debuutskrywers – is ingeskryf vir die kompetisie, wat die ontwikkeling van gehalte-inheemse leesstof vir lesers tussen 12 en 18 jaar ten doel het. Inskrywings in nege van Suid-Afrika se 11 amptelike tale is ontvang.
Die pryse word in drie kategorieë toegeken: Engels, Afrikaans en Afrikatale. ’n Wenner (goud) en naaswenner (silwer) word in elke kategorie aangewys.

Die 2021-finaliste, in alfabetiese volgorde volgens skrywer, is:
Afrikaans
– Faeed Amardien van Parkwood Estate, Kaapstad vir Life is ’n biets
– Marissa Badenhorst van Potchefstroom vir Akwa
– Annerle Barnard van Bloemfontein vir Spel
– Elanie Boshoff van Newcastle vir 56 dae van Lente
– Ihette Senekal van Colbyn, Pretoria vir Vyf sekondes voor Vrydag
– Betsie van Niekerk van Malmesbury vir Anderkind

Engels
– Jayne Bauling van Witrivier vir Looking for Letsie
– Jaco Fouché van Hermanus vir The Kowie
– Catherine Jarvis van Orange Grove, Johannesburg vir The Swim Team
– Fred Khumalo van Wendywood, Johannesburg vir Crossing the River
– Penny Lorimer van Kaapstad vir Luntu Masiza Tells the Truth
– Lwazi Msimango van Umlazi vir The Firstborn

Afrikatale
– Musa Baloyi van Malamulele vir Tinsimu to Pfumala Mphumawulo (Xitsonga)
– Othusitse Lobelo van Delareyville vir Maru ga se pula (Setswana)
– Maledimo Moeng van Pretoria vir Eish, Eish, Eish (Sepedi)
– Sandile Ngwenya van Newcastle vir Imali Yesipoki (isiZulu)
– Thulani Simayile van Eersterivier, Kaapstad vir UNolali (isiXhosa)
– Francis Tebesi van Tembisa vir Likhapha tsa mofutsana ha li rothele fats (Sesotho)

“Die kortlyste is eklekties, met groot diversiteit wat styl en temas betref,” sê Michelle Cooper, uitgewer van kinder- en jeuglektuur by Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers. “Die genres wissel van histories tot modern, en van magiese realisme tot distopies. Grootwordverhale is volop, en talle skrywers verken die werklikhede waarmee jong mense in Suid-Afrika gekonfronteer word, soos rassisme, ’n lewe op straat, xenofobie, mensehandel en HIV. Daar is werklik ’n storie vir almal.”

Mariska Oosthuizen, Handelsmerkhoof by Sanlam, sê: “As ’n doelgedrewe organisasie is ons daartoe verbind om Suid-Afrikaners te bemagtig om met selfvertroue te lewe. Ten einde selfvertroue by kinders te kweek en kernvaardighede te ontwikkel, is dit noodsaaklik dat ons dit vir kinders moontlik maak om in hul huistale te leer. Ons glo elkeen verdien ’n gelyke kans op ’n beter lewe deur ekonomiese insluiting. Een van die beste maniere om stukrag te gee aan volhoubare sosio-ekonomiese insluiting, is om ’n hoër vlak van geletterdheid te bevorder – lees met begrip en robuuste syfer- en finansiële vaardighede. Ons vier al die skrywers wat so hard werk om boeke te skep wat ons jong mense aangryp en inspireer.”

Die wenners word in Oktober 2021 bekend gemaak. Die prysgeld beloop altesaam R90 000: R20 000 vir die wenner (goud) en R10 000 vir die naaswenner (silwer) in elke kategorie. Die wentitels word deur Tafelberg uitgegee en verskyn ook in Oktober 2021.

Die Sanlampryse vir Jeuglektuur is in 1980 begin en word tweejaarliks toegeken. Burgers van Suid-Afrika, Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland mag deelneem met inskrywings in enige van Suid-Afrika se 11 amptelike tale. Manuskripte word anoniem beoordeel.

Die een na die ander: Stella Blakemore (13 April 1906 – Mei 1991)

Trompie, Saartjie, Soekie, Meintjie en Mientjie, Kobie en doktor Serfontein, die Rissies en die Bushies, Rooi Jan, Fritz Deelman, Sias en Mias, Jasper, Zackie, Thomas en Professor Fungus, Basjan Blom, Aksieheld Austin. Wanneer ‘n mens Afrikaanse jeugboekreekse en hulle onvergeetlike hoofkarakters begin opnoem, is dit ‘n baie lang tradisie, en een wat met sukses voortgesit word. In die baie interessante en nuttige handleiding “Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom” (*) word daar 78 reekse gelys vanaf 1930 tot 1999. Daar is ook ‘n teoretiese uiteensetting van wat die subgenre “reeksboek” behels, onder meer dat dit dikwels deur akademici as triviale literatuur bestempel word (en om hierdie rede dus ook nie in die literêre kanon opgeneem word nie). Maar skrik dit enige jong leser af? Inteendeel. Wanneer die meeste van ons terugdink aan ons gekoesterde jongdae en die boeke waaraan ons vreugde gehad het, is reeksboeke waarskynlik deel van daardie lys.

Stella Blakemore, die matriarg van die Afrikaanse jeugboekreekse, is op 13 April 1906 in ‘n hensoppertent naby Lindley gebore, en die verloop van haar lewe lees eintlik net so interessant as een van haar vele jeugverhale: Toe haar pa, Percy Blakemore, op pad was om hulp te gaan haal vir die bevalling, vertoef hy eers iewers om kaart te speel. Die baba moes sonder hulp van buite in die wêreld kom. Uiteindelik verlaat haar pa hulle toe sy nog baie klein was, om ‘n beroepskaartspeler iewers in England te word. Haar ma, Emma Krogh, was ‘n musiekonderwyser en aktrise, en Stella het self ook ‘n lisensiaat in klavier en sang verwerf. In 1933 trou sy met David Owen, ’n siviele ingenieur, en hulle reis die wêreld deur. Hulle woon onder meer in die destydse Ivoorkus, en ook in Italië, Engeland, Swaziland, Nigerië, Duitsland en Ierland. Sy is op 85-jarige ouderdom in Ierland oorlede.

Min skrywers kon in haar leeftyd die bekendheid wat sy met die Maasdorp-reeks verwerf het, ewenaar. Onder die skuilname Theunis Krogh (haar oupa se naam) skryf sy die Keurboslaanreeks, en hoewel dié verhale eintlik vir seuns bedoel was, het die meisies lustig saam gelees, heelwaarskynlik agter die aantreklike doktor Serfontein aan, wie weet?

Blakemore skryf ook “Die Rissies” se stories onder die naam Dien Grimbeek, en verdere verhale onder die naam Annelise Bierman. Sy gebruik ook haar getroude van as skrywersnaam. Sedert 1932, toe “Meisies van Maasdorp” verskyn het, het die jonges begin lees, en net nie weer opgehou nie.

‘n Mens wonder wat die geheim van die reeksboek is? Dalk die super – oulike, meestal avontuurlike hoofkarakter, die óók meestal onwaarskynlike situasies waarin die karakters beland en die innoverende wyse waarop hulle daar uitkom? Of is dit net daardie allerlekkerste wete dat daar aan die einde van een verhaal ‘n verdere een wag, nóg ‘n avontuur saam met jou gunstelinge? Vir my is dit hoofsaaklik laasgenoemde. En ek besef dit toe ek onlangs ‘n jeugverhaal van François Bloemhof te lese kry: die eerste in die “Spooksoeker”-reeks. Ek kan nie wág vir die volgende boek nie! Daar is natuurlik ook die bonus dat reekse deesdae in omnibusvorm gepubliseer word. “Liewe Heksie” is só bymekaar, en die gunstelingreeks deur Carina Diedericks-Hugo ook, die “Thomas @”-boeke. Daar is aan reeksboeke se plesier geen einde nie, in watter taal ookal. Dis die verhale waarop ‘n mens jou leestande sny.

* Wybenga, G en Snyman, M.(reds.). Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom. LAPA, 2005.

Artikel deur Leana Lategan, pasafgetrede hoofvakkundige van NALN, asook skrywer, resensent , leeskringbegeleier en spreker.

Die artikel is oorspronklik op 13 April 2020 op NALN se Facebookblad gepubliseer. https://web.facebook.com/vriendevannaln

[Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) beskik oor die grootste versameling personalia van Afrikaanse skrywers in die wêreld, en lewer ’n unieke inligtingsdiens uit meer as 200 000 manuskripte, 450 000 knipsels en bykans elke Afrikaanse letterkundige werk (asook die verskillende uitgawes daarvan). Die NALN-versameling word steeds aangevul deur manuskripskenkings van skrywers, daaglikse knipsel-insameling – en digitisering en die aankoop en ontvangs van boeke, ter uitbreiding van die boekversameling. NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel.]

Kontak NALN: naln@sacr.fs.gov.za

Storiewerf 21 skryfkompetisie

Wen R10 000 in Storiewerf se skryfkompetisie!

Sluitingsdatum verleng tot 15 Julie 2021.

Storiewerf, die webtuiste vir kinder- en jeugboeke en jong skryftalent, is vanjaar 21 jaar oud. As deel van die feesvierings word ʼn Storiewerfskryfkompetisie in samewerking met die Vakgroep Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit en die FAK aangebied.

www.storiewerf.co.za

  1. Deelnemers kan onder die volgende ouderdomskategorieë inskryf:
    • Laerskole
    • Hoërskole
    • Volwassenes
  2. Die prysgeld word geborg deur die FAK. Die prysgeld per ouderdomskategorie is as volg:
    • Eerste prys: R2000
    • Tweede prys: R800
    • Derde prys: R500
  3. Hoe om in te skryf:
    • Kuier op Storiewerf en lees stories in Haasbekkies en Grilgrot.
    • Skryf ʼn storie wat geskik is vir een van die afdelings (Haasbekkies of Grilgrot).
    • Teken prente (illustrasies) wat by die storie pas.
    • Stuur die inskrywing aan: skryf21@storiewerf.co.za
  4. Reëls
    • Alle stories moet in Afrikaans wees.
    • Die storie moet geskik wees vir een van die volgende afdelings op Storiewerf: Grilgrot of Haasbekkies.
    • Woordtelling van die storie: 800 tot 2000 woorde.
    • Die storie moet die skrywer se eie oorspronklike skryfwerk wees.
    • Die storie mag nie reeds gepubliseer wees nie.
    • Die storie mag nie voorheen of huidig vir ʼn ander kompetisie ingeskryf wees nie.
    • Die skrywer moet ook prente (illustrasies) by die storie voeg. Die illustrasies moet oorspronklike werk wees en mag deur die skrywer of deur iemand anders gedoen word. Die illustreerder se naam en van moet in die inskrywing aangedui word. (Kyk wenke vir illustrasies onderaan.)
    • Alle inskrywings word oorweeg, maar die pryse word slegs toegeken indien die gehalte van die inskrywings dit regverdig. Alle deelnemers sal ʼn Storiewerf-FAK sertifikaat ontvang.
    • Goeie inskrywings sal op Storiewerf in die betrokke afdeling geplaas word. Die skrywer en illustreerder behou die kopiereg van die werk.
    • Skryfkunsstudente aan die Noordwes-Universiteit mag nie aan die kompetisie deelneem nie.
    • Sluitingsdatum vir inskrywings: 15 Julie 2021.
    • Die wenners sal via e-pos in kennis gestel word en op Storiewerf se webwerf en sosiale media bekend gemaak word. Die beoordelaars se beslissing is finaal.
    • Elke inskrywing moet vergesel word deur ʼn foto van die skrywer en die illustreerder.
    • Formaat:
      1. Inskrywing moet in WORD-formaat wees.
      2. Die volgende inligting moet bo-aan die storie verskyn:
        • Die skrywer se naam en van
        • Die illustreerder se naam en van
        • Die afdeling waaronder die inskrywing val, bv. “Haasbekkies”
        • Ouderdom of ouderdomskategorie
        • Skrywer se e-posadres
        • Skrywer se kontaknommer
        • Titel van die storie
      3. Die prente (illustrasies) moet deel van die dokument wees, en moet ook apart in JPG-formaat gestuur word.
      4. Titel van die dokument: Skrywer se naam, titel, ouderdomskategorie, afdeling Byvoorbeeld: Johan Vermaak, Die klasmonster, Hoërskool, Grilgrot
      5. Indien meer as een inskrywing ingedien word, moet elke storie apart gestuur word.

WENKE VIR STORIES:

  • Kies ʼn titel wat ʼn leser se aandag sal trek.
    • Maak seker dat die storie ʼn duidelike begin, middel en einde het.
    • Laat iemand anders die storie lees en vir jou kommentaar gee.
    • Gebruik ʼn speltoetser en gaan jou storie goed na om onnodige foute uit te skakel.
    • Herskryf die storie ʼn paar keer. Elke probeerslag maak jou storie beter.
    • Lees die kompetisiereëls mooi deur en volg die instruksies sorgvuldig.

WENKE VIR ILLUSTRASIES:

Rig enige navrae aan: Franci Greyling franci@storiewerf.co.za

Gratis aanlyn lees-en-luisterbiblioteek

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het op 30 September 2020 sy nuwe gratis en aanlyn lees-en-luisterbiblioteek bekend gestel.

Die projek is van stapel gestuur na aanleiding van gesprekke met onderwysers oor leerders se gebrekkige leesvermoëns, en onrusbarende statistiek oor die afname van leesvaardighede onder eerstejaarstudente – alles tekens dat jongmense se blootstelling aan die Afrikaanse skrifbeeld aan die kwyn is.

Die allerbelangrikheid van goeie leesvermoëns kan nouliks oorbeklemtoon word. Jong leerders, en selfs hulle ouers, meen dikwels dat die tegnologiese ontwikkelinge wat ons die afgelope dertig jaar beleef het, ons in ʼn digitale eeu plaas waarin lees nie meer ʼn rol speel nie. Intussen is die oorwig inligting wat ons in ʼn digitale omgewing kry, steeds in taal vasgevang. Die lees van ʼn teks op ʼn rekenaarskerm in plaas van in ʼn papierboek, verg presies dieselfde leesvaardigheid. Leerders wat nie kan lees nie, kan geen vakinhoud behoorlik bemeester nie, want selfs vakke soos wiskunde, musiek, drama en tegnologie vereis van leerders om groot dele van die vakinhoud in die vorm van geskrewe teks te bemeester.

Afgesien van die gewone probleme wat leesonvermoë ʼn jong leerder besorg, is daar sekondêre probleme soos onkunde oor die wêreld waarin ons leef, ʼn gebrekkige woordeskat en uitdrukkingsvermoë, en onkunde oor die verband tussen die klank- en skrifbeeld van ʼn taal. Mense wat nie lees nie, sukkel gewoonlik ook om te spel, omdat hulle nie op ʼn vermaaklike en gemaklike manier die taal se spelpatrone ontdek het nie. En dis hierdie leemte wat die lees-en-luisterbiblioteek beoog om te vul.

Die biblioteek is van nuuts af deur VivA geskep en gratis beskikbaar. Op die oomblik het ons die tekste in twee ingedeel: een groep vir jong lesers, en ʼn ander vir volwasse lesers. Elke groep tekste is in vaardigheidsvlakke ingedeel, van heel beginners waar die klank by elke woord gepas word, tot romans wat net voorgelees word. Die belangrike eienskap van die tekste in die biblioteek, is dat die klank- en skrifbeeld saam aangebied word. ʼn Gebruiker wat na die teks luister, sien dus ook terselfdertyd die skrifbeeld, en die verband tussen klank en spelling word duidelik gemaak.

Hoewel die nuus oor die projek groot opgewondenheid veroorsaak het, was dit ook verbasend moeilik om tekste daarvoor te kry. Ons het by verskeie uitgewers gaan aanklop om samewerkingsooreenkomste te sluit, maar kopieregwetgewing het ons gefnuik. Die feit dat ons die materiaal gratis beskikbaar stel, het ook ʼn stok in die wiel veroorsaak, want uitgewers moet geld maak om te oorleef. Uiteindelik moes ons op die goedheid van ons Afrikaanse skrywers staatmaak, en ons het tekste van groot name soos Fanie Viljoen, Christien Neser, Francois Bloemhof, Eben Venter, Elsa Winckler, Marion Holm, Joan Hambidge, Karin Hougaard, Kristel Loots, Peet Venter en Reinette Lombard van Tippie-faam ontvang.

Professionele stemkunstenaars soos Marion Holm, Karin Hougaard, Esmarie Yssel en Altus Venables het gehelp met stemopnames.

Soos al VivA se projekte, is die lees-en-luisterbiblioteek ʼn lewende projek wat aangevul word soos wat Afrikaans groei en gedy. Ons hoop om uiteindelik ʼn groot aantal tekste in die biblioteek te hê waarmee jong lesers en volwasse taalaanleerders Afrikaans in sy volle omvang sal kan ontdek sodat hulle nie net ʼn liefde vir lees nie, maar ook ʼn begrip vir die geskrewe woord sal ontwikkel.