Hoe om ‘n grilstorie te skryf

De Wet Hugo

Een van die grootste wanpersepsies onder lesers, is die feit dat hulle dink spookstories en grilstories is dieselfde ding. ‘n Spookstorie is ‘n subgenre van grilstories, maar om lesers se bloed te laat stol en hulle hare regop te laat staan, hoef ‘n storie nie noodwendig oor spoke te gaan nie.

‘n Grilstorie is enige verhaal wat dit regkry om die leser gespanne te maak én op die punt van hulle stoel te hou. Wanneer dit voel of iets van iewers af na hulle loer of dat ‘n yskoue sweetdruppel stadig teen hulle ruggraat afkruip, moet hulle weet hulle is besig om ‘n werklike goeie grilstorie te lees.

Dis baie maklik om ‘n idee vir ‘n lekker grillerige storie te kry. Al wat jy moet doen, is om die regte voorwerp op die regte tyd (of eerder die verkeerde tyd!) iewers te plaas; daar waar dit nie hoort nie.

Hier volg ‘n voorbeeld: verbeel jou jy is alleen tuis en jy gaan na die badkamer om te stort. Jy maak die deur agter jou toe. Maar toe jy ‘n paar minute later uit die stort klim, sit daar ‘n teddiebeer in die middel van die stomerige badkamer se teëlvloer! Hierdie gedagte is klaar genoeg om vir die meeste lesers die horries te laat kry. Hoeveel erger sou dit nie wees as die hoofkarakter geluide gehoor het terwyl hy/sy nog in die stort was nie? En hoeveel grilleriger sou dit nie wees as die teddiebeer skielik beweeg het of eerder iets lewendigs soos ‘n dier was nie?

‘n Teddiebeer is skadeloos, maar omdat dit nie in die badkamer hoort nie of veronderstel was om self tot daar te beweeg nie, het ons onmiddellik ‘n grillerige situasie op hande.

Die protagonis in ‘n grilstorie moet kwesbaar wees of ‘n vrees hê. Dit sou tog nie lekker wees as die hoofkarakter dapper was en die monster teen hoofstuk drie reeds uitoorlê het nie? Maar dis belangrik dat die leser wel hoop vir die karakter het en glo dat hy/sy lewendig aan die einde sal kan uitkom.

Indien jy ‘n langer storie skryf, hou die hoofstukke kort en laat iets grillerigs in elke hoofstuk gebeur. Die grilelemente moet natuurlik verskillende vlakke hê. Ons wil nie hê die leser moet stokflou of morsdood geskrik wees teen hoofstuk ses nie. Daarom is dit heeltemal aanvaarbaar om in meeste hoofstukke slegs leidrade te gee dat die antagonis op pad is of besig is om die protagonis dop te hou of te manipuleer.

Probeer om elke hoofstuk met ‘n naelbyter te laat eindig. Niks is erger as ‘n vervelige grilboek nie. Om jou storie ‘n boeiende leeservaring te maak, moet die leser aan die einde van elke hoofstuk dink: net nog een hoofstukkie!

Natuurlik is daar ook ‘n paar taboes as dit kom by die skryf van Afrikaanse grilboeke vir kinders. Vir die skolemark is spoke nie ‘n aanvaarbare onderwerp nie en oor die algemeen werk hekse nie in ons kultuur nie. Dis ook belangrik om te onthou dat die dood van ‘n karakter, ongeag van hoe belangrik die karakter is, vir baie kinders traumaties kan wees. Besluit dus baie mooi vir watter ouderdomsgroep jy wil skryf en doen navorsing. Vra vir plaaslike onderwysers of hulle jou beplande tema in hulle klaskamer sal gebruik. Ouers en bibliotekarisse sal ook kan help met raad.

Laastens, wanneer jy saans laat nog aan jou grilstorie skryf, hou maar ‘n flits byderhand. Skielike kragonderbrekings of onverwagse beurtkrag, help nie veel vir die reeds sensitiewe senuwees van ‘n grilskrywer nie!

De Wet Hugo is die skrywer van die Grilgrypers-reeks
De Wet Hugo is die skrywer van die Grilgrypers-reeks
Kopiereg: De Wet Hugo
April 2021