Helena JF Lochner

Helena J.F. Lochner (15 Sept 1892–15 Julie 1951)

Vir die Afrikaanse kinderliteratuur het Helena Lochner baanbrekerswerk gedoen. Met haar haar gewilde stories het sy in 'n dringende behoefte voorsien het vir die verskyning van kinderboeke wat werklik vir kinders geskik sou wees.

“A-ja-a! Vanaand gaan ek lekker die rondloop-kinders vang. Dis mos my kans as hulle nie vroeg wil gaan slaap nie! Hê-hê-hê-hê!” lag ou Antjie Somers”, skryf Helena J.F. Lochner (15 September 1892–15 Julie 1951) in “Kinderland”.*

Die groot eetkamertafel in die Swartlandse pastorie het as verhoog gedien vir die toneelstukkies wat die tienjarige Helena Johanna Francina Lochner geskryf het. Helena J.F. Lochner, skrywer en illustreerder van leesboekies vir jong kinders, was die tiende van 14 kinders en is op 15 September 1892 in Moorreesburg gebore. Haar eintlike skrywersloopbaan het begin in 1926 as 34-jarige toe adv. J.H.H. de Waal ‘n artikel van haar na “Die Huisgenoot” gestuur het sonder haar medewete. Dit is gepubliseer.

Helena se verloofde, die portretskilder George Crosland Robinson (1858-1930), het haar aangespoor om haar illustrasietalent te ontwikkel. George se onverwagte dood het daartoe bygedra dat sy as 37-jarige onderwyseres nooit getrou het nie. Sy het haar ouers versorg tot albei se dood. “Kinderland” is ‘n versamelbundel wat selfs volwassenes intrek in die diep, ver wonderwêreld, gevul met haar pragtige humoristiese illustrasies, stories, speletjies en versies.

Hier verloor jy tred met die harde werklikheid, terwyl jy ontsnap na ‘n “kinderland” waar “Die lui dwergie” deur die bos- water-, boom- en berghekse bestorm word, of “Die agterstevoor ou vrou” wat net mooi niks kon klaarkry nie. “Die Stokkies-familie” se kampkaskenades in tekenprentvorm gryp die verbeelding aan wanneer hulle met valskerms van kranse af spring of deur ‘n krokodil gejaag word. Dan is daar ook nog uittel-rympies, versies oor ‘n nat kat, hekse, hasies, skapies en varkies en die seuntjie met “Die gaatjie in sy broekie”. Prent-raaisels, aanwysings hoe om skadu-prente by lamplig te maak, kode-briewe en die spore van diere in versvorm sou pret waarborg op reëndae. “Ou Vader Krismis” fluit vir sy span takbokke en daar trek die slee “oor al die lande, deur wolke, deur die blou lug, want Ou Vader Krismis moet in een nag deur die hele wêreld reis” (p. 139).

Altesaam 62 van haar boekies is gepubliseer en bevat meer as 100 verhaaltjies. Drie groot versamelbundels is na haar dood op 57 jaar, heruitgegee nl. “Sprokieland” (1969), “Kinderland” (1969) en “Kammaland” (1970).

Helena het graag sprokies en legendes van ander lande versamel, tydens haar internasionale reise en deur intensiewe navorsing in biblioteke te doen. Sy het ook vir die “Afrikaanse Kinderensiklopedie” geskryf. Elsabe Steenberg skryf: “Vir die Afrikaanse kinderliteratuur het Helena Lochner baanbrekerswerk gedoen – nie net omdat sy met haar gewilde stories in ‘n dringende behoefte voorsien het vir die verskyning van kinderboeke wat werklik vir kinders geskik sou wees. Sy het ingewikkelde en abstrakte woorde vir kleuters vermy en deur die gebruik van koppeltekens lang woorde makliker leesbaar vir die kleintjies gemaak. Sy het daarvoor gesorg dat haar boeke in groot druk verskyn het en van gekleurde buiteblaaie en genoeg illustrasies, wat sy self gemaak het, voorsien was. Deur haar lewe het sy haar onvermoeid beywer vir groter erkenning van die kinderboek as onontbeerlike deel van ‘n volk se literatuurskat.”… “Onder die lang, swart rok, het hy ’n man se klere aan en die broek steek onder uit. Aan sy groot voete is ’n paar tamaai, stukkende velskoene. Almal ken hul spore in die rooi stof orals deur die hele land… “A-ja-a! Vanaand gaan ek lekker die rondloop-kinders vang. Dis mos my kans as hulle nie vroeg wil gaan slaap nie! Hê-hê-hê-hê!” lag ou Antjie Somers .” *

* Uit: Lochner, Helena J.F. Kinderland. Kaapstad: Nasionale Pers, 1948, pp. 45-46.

Berig saamgestel deur A. Diedericks.

Lees gerus verder: https://af.wikipedia.org/wiki/Helena_Lochner

𝙆𝙤𝙣𝙩𝙖𝙠 𝙙𝙞𝙚 𝙉𝙖𝙨𝙞𝙤𝙣𝙖𝙡𝙚 𝘼𝙛𝙧𝙞𝙠𝙖𝙖𝙣𝙨𝙚 𝙇𝙚𝙩𝙩𝙚𝙧𝙠𝙪𝙣𝙙𝙞𝙜𝙚 𝙈𝙪𝙨𝙚𝙪𝙢 𝙚𝙣 𝙉𝙖𝙫𝙤𝙧𝙨𝙞𝙣𝙜𝙨𝙚𝙣𝙩𝙧𝙪𝙢 (𝙉𝘼𝙇𝙉): 𝙣𝙖𝙡𝙣@𝙨𝙖𝙘𝙧.𝙛𝙨.𝙜𝙤𝙫.𝙯𝙖

(Kurator: Wyno Simes)

[Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) beskik oor die grootste versameling personalia van Afrikaanse skrywers in die wêreld, en lewer ’n unieke inligtingsdiens uit meer as 200 000 manuskripte, 450 000 knipsels en bykans elke Afrikaanse letterkundige werk (asook die verskillende uitgawes daarvan). Die NALN-versameling word steeds aangevul deur manuskripskenkings van skrywers, daaglikse knipsel-insameling – en digitisering en die aankoop en ontvangs van boeke, ter uitbreiding van die boekversameling. NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel.]

A. Diedericks
September 2020
0
Would love your thoughts, please comment.x