Stella Blakemore - reeksboeke

Die een na die ander: Stella Blakemore (13 April 1906 – Mei 1991)

Wanneer die meeste van ons terugdink aan ons gekoesterde jongdae en die boeke waaraan ons vreugde gehad het, is reeksboeke waarskynlik deel van daardie lys en Stella Blakemore se naam een van die bekendes.

Trompie, Saartjie, Soekie, Meintjie en Mientjie, Kobie en doktor Serfontein, die Rissies en die Bushies, Rooi Jan, Fritz Deelman, Sias en Mias, Jasper, Zackie, Thomas en Professor Fungus, Basjan Blom, Aksieheld Austin. Wanneer ‘n mens Afrikaanse jeugboekreekse en hulle onvergeetlike hoofkarakters begin opnoem, is dit ‘n baie lang tradisie, en een wat met sukses voortgesit word. In die baie interessante en nuttige handleiding “Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom” (*) word daar 78 reekse gelys vanaf 1930 tot 1999. Daar is ook ‘n teoretiese uiteensetting van wat die subgenre “reeksboek” behels, onder meer dat dit dikwels deur akademici as triviale literatuur bestempel word (en om hierdie rede dus ook nie in die literêre kanon opgeneem word nie). Maar skrik dit enige jong leser af? Inteendeel. Wanneer die meeste van ons terugdink aan ons gekoesterde jongdae en die boeke waaraan ons vreugde gehad het, is reeksboeke waarskynlik deel van daardie lys.

Stella Blakemore, die matriarg van die Afrikaanse jeugboekreekse, is op 13 April 1906 in ‘n hensoppertent naby Lindley gebore, en die verloop van haar lewe lees eintlik net so interessant as een van haar vele jeugverhale: Toe haar pa, Percy Blakemore, op pad was om hulp te gaan haal vir die bevalling, vertoef hy eers iewers om kaart te speel. Die baba moes sonder hulp van buite in die wêreld kom. Uiteindelik verlaat haar pa hulle toe sy nog baie klein was, om ‘n beroepskaartspeler iewers in England te word. Haar ma, Emma Krogh, was ‘n musiekonderwyser en aktrise, en Stella het self ook ‘n lisensiaat in klavier en sang verwerf. In 1933 trou sy met David Owen, ’n siviele ingenieur, en hulle reis die wêreld deur. Hulle woon onder meer in die destydse Ivoorkus, en ook in Italië, Engeland, Swaziland, Nigerië, Duitsland en Ierland. Sy is op 85-jarige ouderdom in Ierland oorlede.

Min skrywers kon in haar leeftyd die bekendheid wat sy met die Maasdorp-reeks verwerf het, ewenaar. Onder die skuilname Theunis Krogh (haar oupa se naam) skryf sy die Keurboslaanreeks, en hoewel dié verhale eintlik vir seuns bedoel was, het die meisies lustig saam gelees, heelwaarskynlik agter die aantreklike doktor Serfontein aan, wie weet?

Blakemore skryf ook “Die Rissies” se stories onder die naam Dien Grimbeek, en verdere verhale onder die naam Annelise Bierman. Sy gebruik ook haar getroude van as skrywersnaam. Sedert 1932, toe “Meisies van Maasdorp” verskyn het, het die jonges begin lees, en net nie weer opgehou nie.

‘n Mens wonder wat die geheim van die reeksboek is? Dalk die super – oulike, meestal avontuurlike hoofkarakter, die óók meestal onwaarskynlike situasies waarin die karakters beland en die innoverende wyse waarop hulle daar uitkom? Of is dit net daardie allerlekkerste wete dat daar aan die einde van een verhaal ‘n verdere een wag, nóg ‘n avontuur saam met jou gunstelinge? Vir my is dit hoofsaaklik laasgenoemde. En ek besef dit toe ek onlangs ‘n jeugverhaal van François Bloemhof te lese kry: die eerste in die “Spooksoeker”-reeks. Ek kan nie wág vir die volgende boek nie! Daar is natuurlik ook die bonus dat reekse deesdae in omnibusvorm gepubliseer word. “Liewe Heksie” is só bymekaar, en die gunstelingreeks deur Carina Diedericks-Hugo ook, die “Thomas @”-boeke. Daar is aan reeksboeke se plesier geen einde nie, in watter taal ookal. Dis die verhale waarop ‘n mens jou leestande sny.

* Wybenga, G en Snyman, M.(reds.). Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom. LAPA, 2005.

Artikel deur Leana Lategan, pasafgetrede hoofvakkundige van NALN, asook skrywer, resensent , leeskringbegeleier en spreker.

Die artikel is oorspronklik op 13 April 2020 op NALN se Facebookblad gepubliseer. https://web.facebook.com/vriendevannaln

[Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) beskik oor die grootste versameling personalia van Afrikaanse skrywers in die wêreld, en lewer ’n unieke inligtingsdiens uit meer as 200 000 manuskripte, 450 000 knipsels en bykans elke Afrikaanse letterkundige werk (asook die verskillende uitgawes daarvan). Die NALN-versameling word steeds aangevul deur manuskripskenkings van skrywers, daaglikse knipsel-insameling – en digitisering en die aankoop en ontvangs van boeke, ter uitbreiding van die boekversameling. NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel.]

Kontak NALN: naln@sacr.fs.gov.za

Leana Lategan
Leana Lategan is die pasafgetrede hoofvakkundige van NALN, asook skrywer, resensent , leeskringbegeleier en spreker.
April 2021