Boksom is ’n baie vriendelike Pit Bull. Hy bly saam met sy gesin wat baie lief is vir hom. Ma gee vir hom soentjies tussen sy ore, Pa voer hom skelm biltong en in die aand mag hy langs Lila op haar kussing lê. Daar is net een ding wat Boksom baie hartseer maak. Elke dag as hy alleen by die huis moet bly, wil niemand met hom speel nie.
Elke oggend wanneer die posman met sy fiets verby die huis kom, hardloop Boksom om hom te groet.
“Môre, meneer Posman! Wil jy dalk met my speel?” vra Boksom.
“Aikôna, Ntshwa!” sê die posman en klap Boksom liggies met ’n handvol koeverte oor die neus.
Teleurgesteld stap Boksom weg. Hy was dan net vriendelik met die posman. Dan sien hy vir Dawie de Duif op die voorstoep pik. Opgewonde hardloop hy na Dawie toe.
“Môre, Dawie de Duif! Wil jy dalk met my speel?”
Met ’n gefladder vlieg Dawie tot op die dak.
“Ek is veels te klein om met jou te speel! ’n Hond en ’n duif wat met mekaar deel, is iets wat jy jou net kan verbeel,” sê Dawie kwaai.
Afgehaal draai Boksom om. Dan sien hy vir Mietsie, die buurvrou se kat, waar sy haar naels teen die boomstam skerpmaak. Opgewonde hardloop hy nader.
“Môre, mooiste Mietsie! Wil jy dalk met my speel?”
“Mi-aaaa-u!” gil Mietsie en klouter by die boom op.
Haar hare staan skoon regop van die skrik.
“Nee, nee, nee,” sê sy terwyl sy haar poot lek, “Dit kos net een hap en ’n klap, dan is ek katpastei. Honde soos jy, is veels te groot vir my.”
Hartseer gaan sit Boksom op die gras.
Ek wens ek was eerder so rats soos ’n kat, dan het ek dalk ’n maatjie gehad, dink Boksom treurig.
In die straat kom daar bende afgesluip. Hulle dra almal groot sakke oor hulle skouers en daar is donker maskers oor hulle oë. Die bende fluister vir mekaar en kyk rond of hulle iemand sien.
Boksom lig sy een oor aandagtig. Sal hulle miskien sy maatjies wees? Die bende begin een vir een oor die heining klouter. Boksom wag dat hulle almal met ’n gesukkel oor die heining geklim het, dan storm hy blaffend op hulle af. Die bende skrik hulleself boeglam!
So vinnig as wat hulle kan, probeer hulle terug oor die heining klim, maar hulle trap en skop mekaar só dat nie een oor die heining kan kom nie. Boksom hardloop tot by hulle en begin opgewonde op en af spring.
“Het julle met my kom speel? Het ek vier nuwe maatjies gekry?”
Die mans bewe dat hulle tande klap. Hulle klou aan mekaar vas.
Siestog, dink Boksom, hulle weet seker nie hoe om te speel nie.
“Ek sal julle wys hoe om te speel,” sê Boksom.
Hy gryp die een man se broekspyp en ruk dit soos wanneer hy en Pa toutrek speel.
Die man gil so hard dat Dawie de Duif kom kyk wat aangaan.
“Wys hom, Boksom!” juig Dawie en fladder sy vlerke.
Een van die mans begin om weg te hardloop. Boksom dink hy wil die jaag speletjie speel en storm agter die man aan. Boksom is baie vinniger en hy duik die man plat dat die gras spat.
Mietsie bekyk alles vanuit die boom.
“Mooi-aau so, Boksom!” spin sy.
Die man staan bewend op. Hy wil na die hek toe gaan, maar hy is te bang om verby Boksom te stap. Boksom kyk na die res van die bende waar hulle tevergeefs oor die hek probeer klim.
Van al die lawaai kom kyk die buurvrou wat aangaan. Sy praat op haar selfoon. Vinnig raak die straat vol mense wat die affêre aanskou.
Miskien is dit ook ’n speletjie om oor die heining te probeer kom? wonder Boksom.
Hy storm weer op die bende af en spring so hoog as wat hy kan teen die heining op. Dit voel of hy vlieg. Sy ore flap in die wind Sy kop steek bokant die hek uit. Hy sien vir ’n oomblik al die dakke van die huise van die buurt.
Eensklaps val die mans op die grond van skrik toe Boksom langs hulle spring.
“Het julle dit gesien? Het julle dit gesien? Ek wen!” blaf Boksom opgewonde. Sy tong hang skoon uit van opwinding.
“Mooi so, Boksom!” bulder oom Piet.
Die mense in die straat klap hande.
Skielik stop daar twee polisiekarre voor die huis. Twee polisiemanne spring rats oor die heining.
“Nóg maatjies!” roep Boksom uit en spring teen een van die polisiemanne op.
Die polisiemanne begin om die bende na die hek toe te stoot.
Mense speel darem maar baie vreemde speletjies, maar Boksom dink hy verstaan hoe dit werk. Met al sy krag stoot hy een man van agter af. Die man skrik so groot dat hy sommer vanself na die hek toe hardloop.
Dit was maklik, dink Boksom trots. Nou hoef die polisie nie eens meer te veg nie. Die bende klou aan die hek was. Sweet slaan op hulle voorkoppe uit.
“Asseblief, asseblief, ons sal gehoorsaam wees, beskerm ons net,” pleit hulle.
’n Wit kar trek haastig by die oprit in. Dit is Pa. Boksom waai sy stert opgewonde. Pa maak die hek oop. Die bende storm na die polisiekarre toe en spring vinnig in die vangwa. Boksom hardloop agter hulle aan en staan met sy pote teen die polisiekar op. Hy glimlag vir die bende.
“Dankie dat julle my maatjies was vandag! Ek hoop ek sien julle sommer gou weer!”
Van daardie dag af het Boksom altyd iemand om mee te speel.
Elke keer as die posman verby kom, gooi hy vir Boksom ’n stok om te vang.
Dawie leer Boksom om oor die heining te vlieg. Hy kry dit nog nie heeltemal reg nie, maar met bietjie oefening, weet Boksom, kan hy enige iets doen!
Mietsie laat hom toe om haar te jaag. Die beste van alles is, al die mense van die straat wat hom troetel en hondebeskuitjies voer. Hulle noem hom ’n held.
Boksom weet nie wat ’n held is nie, maar hy dink dit is wat Lila nou die dag gesê het:
“’n Groot hond, met ’n klein hart van goud.”