Sanlamprys vir Jeuglektuur kortlys

Sanlampryse vir Jeuglektuur – 2021-kortlyste

Sanlam en Tafelberg Uitgewers kondig met trots die finaliste vir die 2021-Sanlampryse vir Jeuglektuur aan. Altesaam 95 manuskripte – talle deur debuutskrywers – is ingeskryf vir die kompetisie, wat die ontwikkeling van gehalte-inheemse leesstof vir lesers tussen 12 en 18 jaar ten doel het. Inskrywings in nege van Suid-Afrika se 11 amptelike tale is ontvang.
Die pryse word in drie kategorieë toegeken: Engels, Afrikaans en Afrikatale. ’n Wenner (goud) en naaswenner (silwer) word in elke kategorie aangewys.

Die 2021-finaliste, in alfabetiese volgorde volgens skrywer, is:
Afrikaans
– Faeed Amardien van Parkwood Estate, Kaapstad vir Life is ’n biets
– Marissa Badenhorst van Potchefstroom vir Akwa
– Annerle Barnard van Bloemfontein vir Spel
– Elanie Boshoff van Newcastle vir 56 dae van Lente
– Ihette Senekal van Colbyn, Pretoria vir Vyf sekondes voor Vrydag
– Betsie van Niekerk van Malmesbury vir Anderkind

Engels
– Jayne Bauling van Witrivier vir Looking for Letsie
– Jaco Fouché van Hermanus vir The Kowie
– Catherine Jarvis van Orange Grove, Johannesburg vir The Swim Team
– Fred Khumalo van Wendywood, Johannesburg vir Crossing the River
– Penny Lorimer van Kaapstad vir Luntu Masiza Tells the Truth
– Lwazi Msimango van Umlazi vir The Firstborn

Afrikatale
– Musa Baloyi van Malamulele vir Tinsimu to Pfumala Mphumawulo (Xitsonga)
– Othusitse Lobelo van Delareyville vir Maru ga se pula (Setswana)
– Maledimo Moeng van Pretoria vir Eish, Eish, Eish (Sepedi)
– Sandile Ngwenya van Newcastle vir Imali Yesipoki (isiZulu)
– Thulani Simayile van Eersterivier, Kaapstad vir UNolali (isiXhosa)
– Francis Tebesi van Tembisa vir Likhapha tsa mofutsana ha li rothele fats (Sesotho)

“Die kortlyste is eklekties, met groot diversiteit wat styl en temas betref,” sê Michelle Cooper, uitgewer van kinder- en jeuglektuur by Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers. “Die genres wissel van histories tot modern, en van magiese realisme tot distopies. Grootwordverhale is volop, en talle skrywers verken die werklikhede waarmee jong mense in Suid-Afrika gekonfronteer word, soos rassisme, ’n lewe op straat, xenofobie, mensehandel en HIV. Daar is werklik ’n storie vir almal.”

Mariska Oosthuizen, Handelsmerkhoof by Sanlam, sê: “As ’n doelgedrewe organisasie is ons daartoe verbind om Suid-Afrikaners te bemagtig om met selfvertroue te lewe. Ten einde selfvertroue by kinders te kweek en kernvaardighede te ontwikkel, is dit noodsaaklik dat ons dit vir kinders moontlik maak om in hul huistale te leer. Ons glo elkeen verdien ’n gelyke kans op ’n beter lewe deur ekonomiese insluiting. Een van die beste maniere om stukrag te gee aan volhoubare sosio-ekonomiese insluiting, is om ’n hoër vlak van geletterdheid te bevorder – lees met begrip en robuuste syfer- en finansiële vaardighede. Ons vier al die skrywers wat so hard werk om boeke te skep wat ons jong mense aangryp en inspireer.”

Die wenners word in Oktober 2021 bekend gemaak. Die prysgeld beloop altesaam R90 000: R20 000 vir die wenner (goud) en R10 000 vir die naaswenner (silwer) in elke kategorie. Die wentitels word deur Tafelberg uitgegee en verskyn ook in Oktober 2021.

Die Sanlampryse vir Jeuglektuur is in 1980 begin en word tweejaarliks toegeken. Burgers van Suid-Afrika, Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland mag deelneem met inskrywings in enige van Suid-Afrika se 11 amptelike tale. Manuskripte word anoniem beoordeel.

0
Would love your thoughts, please comment.x