De Wet Hugo

De Wet Hugo is op 26 November 1982 op Worcester gebore. Hy het drie ouer susters en hulle het op ‘n Bolandse wynplaas, Spes Bona, tussen Worcester en Villiersdorp grootgeword. Tydens sy laerskooljare het De Wet elke dag met ‘n bus tot op Worcester gery, en gedurende sy hoërskoolloopbaan het hy in die Paarl in ‘n koshuis gebly. Na skool het De Wet onderwys op Wellington en Stellenbosch studeer. Daarna het hy as laerskoolonderwyser begin werk – eers in Kaapstad en toe in Somerset-Wes. Gedurende hierdie tydperk het hy ‘n vryskutteksskrywer vir Cool Catz op E-TV geword. In 2010 het De Wet die geleentheid gekry om na Djedda in Saoedi-Arabië, waar hy steeds as laerskoolonderwyser by ‘n Britse Internasionale Skool werk, te verhuis. As skrywer het hy bydraes tot die volgende publikasies gelewer: 

Skrik op die lyf (2015) – Tafelberg 
Rympies vir pikkies en peuters (2015) – Tafelberg 
Seesand en koekies (2016) – Shuter & Shooter  
Rympies vir kleintjies en kleuters (2017) – Tafelberg      
Liedjies vir pikkies en peuters (2017) – Tafelberg
Skool is ‘n riller (2017) – Human & Rousseau
Grilgrypers 1: Die vloek van Vreesbaai (2018) – Human & Rousseau 
Grilgrypers 2: Web van die mummie (2018) – Human & Rousseau 
Grilgrypers 3: Kamp vir monsters (2018) – Human & Rousseau 
Grilgrypers 4: Die meisie in die maanlig (2019) – Human & Rousseau 
Grilgrypers 5: Die groen watergraf (2019) – Human & Rousseau 
Bybelliedjies vir kleintjies en kleuters (2019) – Tafelberg  
Grilgrypers 6: Die geheim van die spookwerf (2020) – Human & Rousseau 
Kies-jou-avontuur 1: Die gevaarlikste speletjie op aarde (2020) – Human & Rousseau 
Ingonyama en ander maats met leeueharte (2021) – Best Books
Kies-jou-avontuur 2: Die gevaarlikste boek op aarde (2021) – Human & Rousseau
Kies-jou-avontuur 3: Die gevaarlikste fliek op aarde (2021) – Human & Rousseau

Helena Hugo

Helena Hugo, die outeur agter die naam Arno Fourie, verwerf in 1969 die graad B.A.-drama aan die Universiteit van Pretoria. In 1969 en 1970 was sy onderskeidelik aktrise vir SUKOVS en lektrise aan die Departement Drama van die Universiteit van die Vrystaat. Tot in 1994 is sy onder meer as regisseuse, speler en skrywer betrokke by die radiowese. Sedert 1974 skryf sy radioverhale vir Siembamba en tussen 1978 en 1987 lewer sy agt radiovervolgverhale vir Jongspanateljee. Sy is ook die skrywer van die Atlantis-reeks. Die eerste boek in dié wetenskapfiksie-reeks, Atlantis (1979), is in 1978 oor Jongspanateljee uitgesaai en weer in 1991 in sagteband uitgegee.

By Drippelkie (1998) en Alexander en die R100-noot (2001) gebruik Hugo die skuilnaam, Arno Fourie. In Drippelkie gaan dit oor Arno Fourie se stryd om die lyding en dood van sy meisie, Sarien, te verwerk. Drippelkie wen in 1998 die CUM/CNW-skrywerskompetisie.

Die gesteelde R100-noot wat die armoedige Alex in Alexander en die R100-noot van ‘n daggaroker met die bendenaam, Skeleton, aanvaar, bring vir hom groot probleme mee.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Atlantis (1979)
  • Drippelkie (1998)
  • Alexander en die R100-noot (2001)

Barrie Hough

Barrie Hough is gebore op 17 Januarie 1953. Hy word groot in Johannesburg en matrikuleer aan die Hoër Seunskool Helpmekaar waar sy Afrikaansonderwyser, die digter Lukas Malan, hom aanmoedig om te skryf. Hy studeer in Kommunikasiekunde aan die RAU en behaal ‘n M.A.-graad in Engels met ‘n verhandeling oor die dramaturg Athol Fugard. Aanvanklik hou hy skool by St. Barnabas College, maar word later toneelresensent by Beeld. Later word hy aangestel op die kultuurredaksie van Rapport, waar hy oor films, teater en die letterkunde skryf. Benewens die pryse wat hy vir sy jeugboeke gekry het, is hy ook in 1984 bekroon met die AA Vita-prys vir teaterjoernalistiek.

My kat word herfs (1986), Hough se debuutwerk, is ‘n verhaal oor die vyftienjarige Danie Meyer, ‘n eensame, hakkelende tienerseun en sy Siamese kat, Nefertiti. Droomwa (1990) is bekroon met ‘n silwertoekenning van die Sanlamprys vir jeuglektuur, die Alba Bouwerprys vir kinderlektuur en die C.P. Hoogenhoutprys. Dit is eweneens ‘n stadsverhaal. Die verhaal gaan oor Paul, die jongste van drie broers, en die gesin se hartseer en swaarkry nadat hulle pa sterf, hulle ma haar aan drank vergryp en hulle na ‘n woonstel in Hillbrow moet trek. Vlerkdans (1992) het die Sanlamprys (goud), asook die ATKV-kinderboekprys (13 tot 15 jaar) verower en het ‘n kragtige effek gehad op die wêreld van die tienerteater. Hannes, die ek-verteller en een van die hoofkarakters in die verhaal, is ‘n kunsleerling in standerd 9. Die ander hoofkarakter is Anton, ‘n danser wat ontdek dat hy, as gevolg van die gebruik van vuil dwelmspuitnaalde, vigs het. Ook Skilpoppe (1998) is bekroon met die goue Sanlamprys vir jeuglektuur en word in 2000 deur Lizz Meiring verwerk tot drama en opgevoer. Anna Meyer se rol as Juliet in die skoolopvoering beïnvloed haar groei as karakter. Anna se verhaal word vervleg met ander verhale soos haar joernalissuster, Elise, se verhouding met ‘n sekuriteitswag, Julian, wat haar in ‘n dwelmdilemma laat beland; die gesin se verwerking van die enigste broer, Sebast, se selfmoord; die ontwikkeling van die gesin se verhouding met en die pa se aanvaarding van Sebast se Chinese vriend, Ching-kung.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • My kat word herfs (1986)
  • Droomwa (1990)
  • Vlerkdans (1992)
  • Skilpoppe (1998)

Droomwa (1990) ontvang ‘n silwer toekenning van die Sanlamprys vir jeuglektuur, die Alba Bouwerprys vir kinderlektuur en die C.P. Hoogenhoutprys.

Vlerkdans (1992) het die Sanlamprys (goud), asook die ATKV-kinderboekprys (13 tot 15 jaar) verower.

Skilpoppe (1998) is bekroon met die goue Sanlamprys vir jeuglektuur.

Tienie Holloway

Christina Maria Purchase is op ‘n plaas in die distrik Lindley gebore, as die derde oudste van tien kinders. Haar vader was Engelssprekend en haar moeder Afrikaans. Sy gaan skool op ‘n plaasskool en in Bethlehem en word opgelei as onderwyseres aan die Normaalkollege in Bloemfontein. Uit haar huwelik met die onderwysman, dr. John Edward Holloway, is vyf kinders gebore. Sy het tot haar dood op die kleinhoewe, Skuilhoek, langs die Morelettaspruit in Pretoria gewoon. Na haar dood is die Tienie Holloway-medalje deur haar eggenoot geïnisieer en in 1970 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ingestel. Dit is ‘n toekenning vir oorspronklike Afrikaanse kleuterlektuur, vir kinders onder agt jaar spesifiek gerig op kinderverse. In 1979 is die Tienie Holloway-medalje postuum aan Holloway toegeken vir die laaste twee bloemlesings van haar werk, Rympies van Tienie Holloway(1978) en Versies van Tienie Holloway (1979).

Tienie Holloway het aanvanklik bekende Engelse kleuterryme vertaal. Later is haar eie werk gepubliseer in Die Volkstem, onder die skuilnaam Madelief. Sedert 1938 verskyn Die Haasbekkies en ander Versies (1938), Hasie Kalbassie (1945), Nuwe kleuterversies (1947), Doempie Domkop (1949), Martha-hulle (1951) en Nuwe kinderversies (1955). In 1971 bundel Jan Kromhout sommige van hierdie gedigte, asook van haar diereverse wat verskyn het in Toevlugsoord van C.S. Stokes in Versies wat vonkel: ‘n keur uit die kinderverse van Tienie Holloway. Nog twee bloemlesings uit haar werk volg, naamlik Rympies van Tienie Holloway (1977) en Versies van Tienie Holloway (1978).

Tienie Holloway het ‘n baie belangrike bydrae gelewer in ‘n tyd toe daar ‘n skaarste aan goeie kinderverse was. Dit is gepas dat haar nagedagtenis vereer word met die Tienie Holloway-medalje vir kleuterlektuur.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Hasie Kalbassie (1945)
  • Nuwe kleuterversies (1947)
  • Doempie Domkop (1949)
  • Martha-hulle (1951)
  • Nuwe kinderversies (1955)
  • Rympies van Tienie Holloway (1978)
  • Versies van Tienie Holloway (1979)
  • Die Haasbekkies en ander Versies (1938)
  • Versies wat vonkel: ‘n keur uit die kinderverse van Tienie Holloway
  • Toevlugsoord

Tienie Holloway-medalje vir Rympies van Tienie Holloway (1978) en Versies van Tienie Holloway (1979)

G.C. Hobson en S.B. Hobson

Hierdie twee broers was die eerste nie-afrikaanstalige skrywers wat die Hertzogprys ontvang het in 1930 vir Kees van die Kalahari. Hulle het saam aan hulle boeke geskryf. G.C. Hobson het vir die idees gesorg, terwyl S.B. Hobson die verhale neergeskryf het. Hoewel hulle nie eksklusief vir kinders geskryf het nie, het kinders aan die begin van die eeu hulle boeke gretig gelees.

Kalahari-kaskenades (1929) is die eerste van die Hobsons-broers se nege boeke en die enigste een wat spesifiek vir kinders bedoel is. Dit is ‘n lekkerleesfantasie oor die ontstaan van die Ngamimeer wat ontwerp en gebou is deur die diere van die Kalahari. Kees van die Kalahari (1929) is ‘n bundel wat twee novelles bevat. Die titelverhaal is ‘n realistiese vertelling oor die bobbejaan, Kees. Die tweede novelle in hierdie bundel, Kloes, vertel van dié jakkals se stryd om die pot vir sy gesin aan die kook te hou. Die realistiese verhaal, Buks(1933), handel oor ‘n ratel. Skankwan van die duine (1930) vertel die geskiedenis van ‘n Boesman wat wees gelaat is, maar uiteindelik wraak neem op die moordenaar van sy ouers.

In Vlam van die Bantomberge (1945) wat net soos Kees van die Kalahari uit twee novelles bestaan, is die eerste novelle ‘n verhaal oor die wildehond, Vlam, en in die tweede verhaal die storie van Grys, ‘n muishond.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Kalahari-kaskenades (1929)
  • Kees van die Kalahari (1929)
  • Kloes (1929)
  • Skankwan van die duine (1930)
  • Buks (1933)
  • Vlam van die Bantomberge (Vlam, Grys) (1945)

Hertzogprys in 1930 vir Kees van die Kalahari

Hester Heese

Hester Heese (de Swardt) is op 26 Oktober op Kuilsrivier gebore, as die derdejongste van sewe kinders. Sy gaan skool in Kuilsrivier en Kaapstad en word as kindertuinonderwyseres opgelei in Wellington. Sy was hartstogtelik lief vir die Wes-Kaap, waar sy meestal gewoon het. Enkele jare as onderwyseres in Upington vind neerslag in Kinders van die Konka-hut (1967). Sy trou in 1937 met die bekende sielkundige en prediker, dr. Kalie Heese en is predikantsvrou op Malmesbury, Bonnievale en Pinelands, totdat die gesin se verhuising na die rietdakhuis in Jonkershoek, Stellenbosch. Dit word die inspirasie vir ruimte-uitbeeldings in boeke soos Aljander, Aljander so deur die bos, (1966) en Hierdie lente, (1969). Na haar man se dood verhuis sy van Stellenbosch na Prins Albert en uiteindelik na die Strand. Haar vyf kinders en negentien kleinkinders het meermale (saam met haar eie en haar man se jeug) inspirasie verskaf vir haar kinder- en jeugboeke. Haar groot verskeidenheid tekste sluit kinderverse, verhale vir kleuters, jong kinders en jeugdiges, asook ‘n digbundel, Sonder jou (1976), en ‘n outobiografiese vertelling vir volwassenes, Ek gooi my luike oop (1986), in. As predikantsvrou skryf sy ook ongepubliseerde toneelstukke en godsdienstige voorstellings. Sy vertaal agt kinderboeke, onder meer Bybelverhale, en skryf saam met A.J. van der Merwe ses aanvullende leesboeke vir die tweede skooljaar.

In 1976 ontvang sy die Tienie Holloway-medalje vir Wat is daai – hè Pappa? (1972); Oustryk (1973); Piet Vrolik en Ben Verstrooi (1975); Die peperboom (1975) en Bokmakierie sing (1975). In 1982 kry sy dieselfde medalje vir Sy wat die soen op haar voorkop dra (1980). Die illustreerder, Ann Walton is ook bekroon met die Katrine Harries-prys. Adriaan van Zyl ontvang dieselfde prys vir sy super-realistiese illustrasies in Kobus het ‘n blom (1982). Die C.P. Hoogenhout-toekenning vir die beste boek vir kinders tussen sewe en elf jaar ontvang Hester Heese vir Sêra Madêra (1979) in 1979. Die volgende tien van haar boeke verdien eervolle vermelding by die SAIBI: Aljander, aljander so deur die bos (1966), Loekie die rondlopertjie(1966), En daar is lig – verhale uit die Bybel (1971), Die blou duif (1972), Die huis op pale (1973), Die wildsbok van Ver-eiland (1974), Die peperboom (1975), Josef is ‘n jong vrugteboom (1976), Hokaai (1977), Kompatjierie is my liedjie (1981). Ek en jy, Grootbroer(1970) is in 1970 bekroon as die beste jeugboek in ‘n wedstryd van Tafelberg-Uitgewers.

In Dwars-in-die-weg (1979) en Miekel die koerantjoggie (1967) moet beide die hoofkarakters na die dood van ‘n ouer of ouers aanpas in ‘n nuwe dorp en skool. Die klein dogtertjie in Op die vensterbank in April (1983) gee die week voor haar verjaarsdag elke dag, soos haar oorlede pa, vir haar ma ‘n geskenkie. Fanus, in Die klein pasella (1968) moet sy ernstige hardhorendheid hanteer, en Alota in Ek en jy, Grootbroer (1970) voel te klein en jonk vir wat hy wil doen, soos die hoofkarakter in Frans se vyf dae in Desember(1977). In hierdie verhale kan spanninge tussen kinders gesien word, sien ook Die geluid van wakker (1981).

In Polka-masurka (1972), gesitueer in die vroeg-twintigste eeu, bou die ouer broer ‘n outydse radio. In Moks van Ver-Wêreld (1966) ruil die twee seuntjies Moks en Ghoempa, die een afkomstig van “Blikkiesdorp”, in die spel ‘n perdewaentjie en vragmotor, maar ook tradisionele rolle om. In Wannelas (1978) dink Wannelas op negejarige leeftyd nog dat ‘n ma gekoop kan word en ontvang hulp van die skrander Jakkie wat sy ouma se plaas besoek. Sy skryf ook geestige volkse verhale, soos Boertjie word ryk (1980) en fantasieverhale.

Haar laaste rymverhaal, Daar diep in die see (1991), word gesien as ‘n hoogtepunt. Sy lewer etlike belangrike versbundels, Opsêgoed vir Kleingoed (1966), later bygewerk tot Bokmakierie sing (1975), is eenvoudige versies oor alledaagse gebeurtenisse. In Kompatjierie is my liedjie (1981) staan natuurbelewing voorop, maar soos in Waarom is die reënboog krom? (1983) steeds gesien vanuit die kinderwêreld. Steweltjies na Wonderland (1998) is ‘n keur uit haar kinderverse. 

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Aljander, Aljander so deur die bos (1966)
  • Loekie die rondlopertjie (1966)
  • Opsêgoed vir Kleingoed (1966)
  • Moks van Ver-Wêreld (1966)
  • Miekel die koerantjoggie (1967)
  • Kinders van die Konka-hut (1967)
  • Die klein pasella (1968)
  • Hierdie lente (1969)
  • Ek en jy, Grootbroer (1970)
  • En daar is lig – verhale uit die Bybel (1971)
  • Wat is daai – hè Pappa? (1972)
  • Die blou duif (1972)
  • Polka-masurka (1972)
  • Die huis op pale (1973)
  • Oustryk (1973)
  • Die wildsbok van Ver-eiland (1974)
  • Die peperboom (1975)
  • Piet Vrolik en Ben Verstrooi (1975)
  • Die peperboom (1975)
  • Bokmakierie sing (1975)
  • Josef is ‘n jong vrugteboom (1976)
  • Frans se vyf dae in Desember (1977)
  • Hokaai (1977)
  • Wannelas (1978)
  • Dwars-in-die-weg (1979)
  • Sêra Madêra (1979)
  • Boertjie word ryk (1980)
  • Sy wat die soen op haar voorkop dra (1980)
  • Kompatjierie is my liedjie (1981)
  • Die geluid van wakker (1981)
  • Kompatjierie is my liedjie (1981)
  • Kobus het ‘n blom (1982)
  • Waarom is die reënboog krom? (1983)
  • Op die vensterbank in April (1983)
  • Daar diep in die see (1991)
  • Steweltjies na Wonderland (1998)

Elsa Hamersma

Elsa Meiring Hamersma word in Pretoria groot waar sy ook ‘n BA-graad aan die plaaslike universiteit behaal. Sy verwerf ‘n Hoër Onderwysdiploma en ‘n M. Ed.-graad met lof. Aan die Randse Afrikaanse Universiteit behaal sy ‘n doktorsgraad in linguístiek. Haar spesialisgebied is tweedetaalonderrig, Afrikaans, sowel as Engels. Sedert 1990 is sy ook betrokke by tweedetaalonderrig aan volwassenes aan die RAU. Elsa Hamersma skryf ook kortverhale vir tydskrifte. Sy hou van naaldwerk en reis, is getroud met André Hamersma en het drie kinders.

Die teken van Crux (1997) is wetenskapsfiksie en speel af aan die einde van die twintigste eeu. Die sestienjarige sendelingdogter, Mia Basson, wen ‘n internasionale opstelwedstryd, wat haar en nog ander wenners van dwarsoor die wêreld na Washington in die VSA neem om onder andere om aan ‘n TV-debat deel te neem en die Amerikaanse president te ontmoet. Hier raak haar lewe op ‘n vreemde wyse verweef met dié van die Centauriërs, welwillende besoekers van ‘n ander sonnestelsel, wat besig is met ‘n studie oor die primitiewe aardlinge. Hamersma het ook die Sanlamprys vir dié roman ontvang.

Later ontvang sy ook ‘n tweede prys in ‘n wedstryd van FNB/Kagiso-uitgewers vir die ongepubliseerde Die hart van Hillbrow.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Die teken van Crux (1997)
  • Die hart van Hillbrow

Sanlamprys vir Die teken van Crux (1997)

Tweede prys in ‘n wedstryd van FNB/Kagiso-uitgewers vir die ongepubliseerde Die hart van Hillbrow.

Marisa Haasbroek

Iewers vlieg daar Fairy Dust is Marisa Haasbroek se eerste jeugverhaal, maar sy is al jare aan’t skryf en het reeds talle kortverhale, artikels en liefdesverhale gepubliseer.

Sy het in Pretoria grootgeword en het ook aan die Universiteit van Pretoria studeer. Marisa is getroud en het twee tieners.

Hulle gesin staan aan die vooraand van ’n groot avontuur aangesien hulle vir twee jaar in die VSA gaan woon, waar Marisa se man naby Washington DC gaan werk. Sy hoop al die nuwe ondervindinge gaan sorg vir talle nuwe stories.

Publikasies: 

  • 2014 –Iewers vlieg daar Fairy Dust (Lapa)

Helena Haasbroek

Iewers vlieg daar Fairy Dust is Marisa Haasbroek se eerste jeugverhaal, maar sy is al jare aan’t skryf en het reeds talle kortverhale, artikels en liefdesverhale gepubliseer.

Sy het in Pretoria grootgeword en het ook aan die Universiteit van Pretoria studeer. Marisa is getroud en het twee tieners.

Hulle gesin staan aan die vooraand van ’n groot avontuur aangesien hulle vir twee jaar in die VSA gaan woon, waar Marisa se man naby Washington DC gaan werk. Sy hoop al die nuwe ondervindinge gaan sorg vir talle nuwe stories.

Publikasies:

  • 2014 –Iewers vlieg daar Fairy Dust (Lapa)