Elizbè van der Colff

Ek het in Bellville en Oudsthoorn grootgeword in die dae toe kinders nog buite gespeel het en my ouers se huis maar net een van die huise in ons buurt was waar ek grootgeword het.

Na matriek by Hoërskool Oudthoorn is ek na die Universiteit van Stellenbosch en het my B.Arbeidsterapie graad in 1996 behaal. Ek het my toegespits op kinderontwikkeling en het eers by Orion sentrum vir gestremdes gewerk, waarna ek my eie privaatpraktyk bedryf het.
Intussen is ek getroud met my sielsgenoot en beste vriend, Nico en ons het drie kinders: Cara, Niel en Annalise.

Onlangs het ek weer onthou van my kinderdroom en het ‘n kinderboekskryfkursus bygewoon. Ek het nooit weer teruggekyk nie. Skryf is my passievolle stokperdjie. Verder sing ek in die acapella groep, 8 Misses Croon vir wie ek ook liedjies in stemme verwerk.

Publikasies: 

  • 2011 – Buksie en die maantuig (Fynbosskrywers-CD, Dierestories)
  • 2012 – Nina en die funky eksperiment (Tafelberg)
  • 2013 – Kortverhale gepubliseer in ‘n Via-Afrika leeshandboek (graad 6), Vrouekeur en Bazoo-tydskrif
  • Buksie red ‘n planeet (Fynbosskrywers-CD, Fantasiestories)
  • 2014 – Nina en die funky eksperiment (Tafelberg)
  • Snowy de Wit en die sewe smurfies (Kliekclick ePub)
  • Vuma Afrikaanse leesreeks, graad R en graad 1 (Pearson) – reeds in die publikasieproses
    Die piekniek
    Deurmekaar
    Newton word gered
    Kabelo se dinosourus
    Die maanman

Toekennings

  • 2013 Kortlys vir die MER-kinderboektoekenning (Nina en die wacky hare)
  • Wenner van ‘n ATKV-kinderboektoekenning (Nina en die wacky hare)
  • Wenner van die Intiem-tydskrif kortverhaalkompetisie (Tuiskoms)
  • 2014 Algehele wenner van die Kliekclick kortverhaalkompetisie (Snowy de Wit en die sewe smurfies)

Prevot van der Merwe

Prevot van der Merwe se eerste jeugroman, Skoenlappers vlieg voor brekfis (1992), is ‘n speur-spanningsverhaal wat teen ‘n agtergrond van spioenasie, verraad, musiek en liefde afspeel. Deon en Elize se lewens is in gevaar, vermoedelik vanweë hulle pa se betrokkenheid by ‘n hoogs geheime militêre satellietprojek.

In Poppe wil nie altyd dans nie (1993) ondersoek twee tieners die moord op hulle geliefde kunsonderwyseres met behulp van die raaiselagtige skilderye wat sy aan hulle nalaat.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Skoenlappers vlieg voor brekfis (1992)
  • Poppe wil nie altyd dans nie (1993)

Dolf van Coller

Skoonveld (1993) is Dolf van Coller se debuutroman en val in die genre van psigologiese realisme. Die hoofkarakter, Wim, se ouer broer sterf onder vreemde omstandighede tydens sy weermagopleiding, sy tweelingsuster is aan ‘n rystoel gekluister en sy ouers se huwelik is besig om te verbrokkel. Wim is nie by magte om al hierdie traumatiese gebeure self te verwerk nie en ‘n groot gedeelte van die boek handel dan ook oor Wim se interaksie met ‘n sielkundige, dr. Hans Reinecke.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Skoonveld (1993)

Theresa van Baalen

Theresa van Baalen is op 5 Junie 1970 op Uitenhage gebore en het in 1988 aan die Hoërskool Brandwag gematrikuleer. Sy het geen formele skryfopleiding ontvang nie, maar skryf al van haar laerskooldae af stories. Sy het toe al geweet sy wil ’n skrywer wees.

Dit was ’n lang pad van skryf, probeer en leer, en na vele probeerslae en voorleggings oor ’n tydperk van amper tien jaar, het haar eerste boek, Aspris-krokkedis, in 2009 verskyn. Dit is in 2010 met  ’n ATKV-Kinderboektoekenning (Woordveertjie) bekroon en het ook in 2012 die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur ontvang.   

Haar tweede boek, Karla Krullebol, het in 2010 verskyn. Karla Krullebol is in 2011 ook met ’n Woordveertjie bekroon, en was so gewild dat dit ’n verdere drie keer herdruk is.

Tot op datum (Augustus 2020) het 25 boeke reeds uit haar pen verskyn, wat titels insluit soos die gewilde Sanri Steyn-reeks, die Vakansiepret-reeks, en boeke soos Justin Fortuin Skattejagter, ZAK – Die Blou Planeet, en ZAK – Die reis na Zenkion. Sy het die afgelope paar jaar ook verskeie artikels en kortverhale vir Vrouekeur geskryf, asook sewe romanses vir die Romanza-druk onder die skuilnaam Cheryl Rogers. Boek nommer 26, Justin Fortuin Seerower, volg binnekort.

In 2019 het sy vir die eerste keer haar hand aan die skryf van ’n radiodrama gewaag, vir die Netwerk24 luisterdrama-kompetisie. Haar inskrywing, Ouma se boyfriend, was as een van die top 5 inskrywings aangewys. Dit was ’n heerlike uitdaging en sy beoog om nog baie radiodramas te skryf.

In haar vrye tyd, as sy nie lees of stap nie, skryf sy briewe vir haar vriendin, sy speel soms rekenaarspeletjies, doen soms handwerk, skilder soms en neem baie foto’s. Sy is ook baie lief vir Sudoku.

Sy woon tans op Hermanus, maar beskou Port Nolloth in die Noord-Kaap as haar tuisdorp, en beoog om na afloop van 2021 permanent terug te keer soontoe.

Sjané van Aswegen

Sjané van Aswegen was vir jare spraak- en drama onderwyseres aan die meisiekole, LaRochelle en Girls High, in die Paarl.

Sy het vir agt jaar lank in Radiodramas in Kaapstad ateljee deelgeneem, en was ook een van die beoordelaars op Kaapse Eisteddfod.

Sjané is 16 jaar gelede getroud met Robert van Aswegen, boer van Celeryfontein. Hy is onlangs oorlede. Sy woon steeds op die plaas.

Mietjie van Muisdam is Sjané se eerste boek en is met die hand geskryf omdat daar geen elektrisiteit (of rekenaars) op die plaas is nie.

Publikasies:

  • Mietjie van Muisedam (Tafelberg). 
    Mietjie is voorgelees op Suid-Kaap Stereo en was ook een van die gekeurde boeke vir die ATKV-kinderlektuurprys

Marita van Aswegen

Marita van Aswegen is gebore op 19/5/49 in die omgewing van Nylstroom. Gaan skool in Fouriesburg, Hobhouse en matrikuleer te Hoërskool Clocolan. Behaal die graad B.Soc.Sc aan die Vrystaatse Universiteit en doen 4 jaar lank maatskaplike werk. Trou in 1973 met ‘n boer bly nou reeds 33 jaar op ‘n plaas buitekant Bloemfontein. Behaal die graad BA by Unisa (Afr/Ned en Kommunikasiekunde) in 1981.

Skryfrekord:

Verskeie sketse vir die radio, kortverhale en vervolgverhale vir tydskrifte, artikels en humoristiese sketse vir tydskrifte.

IETS OOR MY SKRYFWERK:

Ek skryf omdat ek daarvan hou. Ek skryf graag oor dit wat ek daagliks sien en belewe en meng dit dan met magic. Mense, veral kinders, fassineer my. Ek glo aan mense se vermoëns om op te staan en die lewe in die gesig te kyk. Ek is in ‘n wêreld waar kinders misbruik word, waar hulle min het. Tog het hierdie kinders eienskappe wat my aangryp. Ek skryf vanuit die landelike, verarmde omgewing waarbinne ek bly en vanuit die maatskaplike agtergrond wat deel van my toerusting is. As ‘n mens op ‘n Vrystaatse plaas met sy baie droogtes bly, kry jy nie baie kans om die werklikheid te ontvlug nie. Dit is om jou jy moet dit daagliks hanteer. Daarom het my stories baie keer ‘n groot stuk werklikheid in.


JEUGBOEKE

  • 1998: Roer jou riete Pampas. (Van Schaiks) (Op voorgeskrewe lys van skole vir 5 provinsies)
  • 2004: Phahamela mapoqo Pampase (vertaling van Roer jou riete) (Van Schaiks) (Op voorgeskrewe lys vir skole in Vrystaat)
  • 1997: Dans Tshipo, dans (KWELA)
  • 1997: Dance Thispo, dance. (KWELA)
  • 1997: Tjeka, Tshipo, tjeka! (KWELA)
  • 2004: Hulanye se vergissing (MML) (op voorgeskrewe lys van skole)
  • 2004: Wawiel vir Velile (MML) (Op voorgeskrewe lys van skole)
  • 2004: Mengelmoes (Van Schaiks) (Op skolelys).
  • 2004: Thukulatshe (Van Schaiks, vertaling in Suid-Sotho van Mengelmoes. Op voorgeskrewe lys.)
  • 2006: Na die land van melk en McDonald’s. Actuapers.


BOEKE

Nag van die Tweede Son (grootdruk): Hartbees Uitgewers. 2004

KORTVERHALE IN BUNDELS

  • Akuut/Jaargang 2 nr 1.
  • So op jou gemak: 1998 (J.P. van der Walt)
  • Lugspieëlings: 1999 (Ravan Press) (Vir skole voorgeskryf)
  • Reënboogmense: 1999: Hodder & Stoughton
  • Dit kom van ver af: 2002: Litera.
  • Opreg uit die hart: Cum Boeke.
  • Uit die donker na die lig:Cum Boeke
  • Van Spoke gepraat: Tafelberg.
  • Afrikaans-is-lekker: Via Afrika. (op skolelys)
  • Leesfees (Graad 7):MML (skolelys)
  • Leesfees (Graad 8) MML (skolelys)
  • Die melkweg het ‘n ster laat val.
  • Impact(Grade 9)

LITNET

  • 2001: Kortverhaal: GELYKOP.
  • 2002: Kortverhaal: Die Vangs.

Boeke wat ek self uitgegee het:

O Tsamaya o se robale/ Wakkerloop.
Ke ngwana ya ratang Thapelo/Ek is ‘n kind wat wil bid. 
Pulani se storie/ Pale ya Pulani.

Gretel Wybenga

Gretel Wybenga verwerf haar M.A.-graad met ‘n verhandeling oor die hantering van die verteller in enkele Afrikaanse jeugverhale. Sy was musiekonderwyser en sedert 1986 ‘n dosent aan tersiêre inrigtings. Aan die PU vir CHO (Vaaldriehoekkampus) bied sy tot in 2003 ‘n honneurskursus in kinder- en jeugliteratuur aan.

By geleentheid was sy betrokke by skryfkursusse, ook vir kinderboeke. Van Wybenga verskyn talle resensies, onder andere in Beeld, Literator en Tydskrif vir Letterkunde.

Enkele kortverhale, ook vir kinders, verskyn in versamelbundels.

Haar kortverhaalbundel met getransformeerde sprokies vir volwassenes, Sproke, verskyn in 1995.

Onder haar publikasies tel twee kinderboeke, Malie en Maggie en die tagtig kalkoene (1993) en Malie en Maggie en die maer Kersfees(1995).

Gretel Wybenga is mederedakteur van Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: ‘n gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek (2005).

Im 2005 verskyn die bundel met twaalf oorvertelde sprokies oor prinsesse: Sneeuwitjie en ander prinsesstories.

Jelleke Wierenga

Jelleke Wierenga het die graad BA (Hons) Kommunikasiekunde aan die Potchefstroomse Universiteit behaal en daarna tien jaar lank by die koerant Beeld gewerk as onder andere subredakteur, onderwysberiggewer en nuusredakteur (Pretoria-kantoor). Ná ’n kort kennismaking met die burokrasie via die WNNR in Pretoria het sy ’n opvou-woonwa aangeskaf en Kaapstad toe gevlug. Sy was vir twee jaar artikelskrywer by die tydskrif Sarie in Kaapstad, waarna sy bedank het om ’n vryskutter te word. Sedertdien was sy onder andere boekredakteur by Juta, het vertaalwerk gedoen, manuskripte geredigeer, bemarkingskopie geskryf, by Huisgenoot gewerk as subredakteur, skoolboeke saamgestel en geskryf, en ’n kinderblad vir Rapport-Tydskrif gedoen. Deesdae lê sy haar toe op die skryf van kinder- en jeugverhale.

Jeugboeke

  • Moenie kameelperde kop toe vat nie – Gr. 3 Ster Stories, Juta Gariep
  • ’n Bosluis red die koningshuis – finalisprys in Maskew Miller Longman se Letterkundekompetisie 2010
  • Kat in die pan vir die Fransman – goue prys in Maskew Miller Longman se Letterkundekompetisie 2010
  • Moord per suurlemoen – silwer Sanlamprys vir Jeuglektuur 2013, Tafelberg Uitgewers

Jeugverse

Verskeie verse is opgeneem in skolebundels

Digbundel

  • Bloot mens – Protea Boekhuis 2010 

George Weideman

GEORGE WEIDEMAN is vier-en-vyftig jaar gelede (op 2 Julie 1947) op die Karoo-dorp Cradock gebore. Hy is dus oud genoeg om ‘n oupa te wees – maar sy twee dogters, Melita (nou 18) en Siobhan (nou 13), en sy vrou, Celién, hou hom nog jonk. Melita is ‘n student in Natuurbewaring aan die Kaapse Technikon en Siobhan is ‘n Graad 8-leerling aan die Hoërskool D.F. Malan in Bellville, waar die Weidemans bly.

George het in die Karoo en in die Noord-Kaap grootgeword en aan die Hoërskool Namakwaland op Springbok gematrikuleer. Hy was nie ‘n vreeslike goeie student nie en het veral gesukkel met Wiskunde en Skeinat. Maar hy het sy eie skoolkoerant gehad, vandat hy dertien jaar oud was. Daarin het hy geskryf wat hy wou … wel, ámper wat hy wou, want die onnies het ook Die Namakwa gelees!

Maar vandat hy kan onthou, wou hy skryf. Eintlik het letters en woorde en vreemde tale hom nog altyd gekielie. Toe hy nege jaar oud was, wou hy tale soos Magjaars (die taal wat hulle in Hongarye praat) en Yslands (die taal van die Yslanders) leer. Daar is iets geheimsinnigs aan woorde … Goed soos hiërogliewe, Sjinese beeldskrif, Runeskrif en enige soort geheimskrif maak die lewe interessant. Om te weet waar woorde vandaan kom, is lekker. Sy pa was net so verlief op woorde en liedjies en hy het altyd nuwe uitdrukkings, woorde, gesegdes en liedjies opgeteken. Woorde is nie so vaal as wat hulle lyk nie. Hoekom is pampoen nou juis pampoen? Maar dis ‘n lang storie vir ‘n ander dag.

George hou van stories. Vandat hy kan onthou, het sy ouma en sy ma en sy tantes stories vertel: spookstories, grilstories, stories met stertjies … Dis seker maar hoekom hy skrywer geword het.
En verbeelding! Dis die lekkerste van verbeelding, het hy vroeg uitgevind: As jy nou nie baie lus is om werk (nare woord!) te doen nie, kan jy altyd jou verbeelding aanskakel: bzzz, groen liggie flits, en daar gaan jy. Voor jy jou kom kry (of voordat iemand jou in die hande kan kry) gly jy oor ‘n spierwit gletser in Ysland (sjoe, waar’s my trui?), of jy ry op ‘n wildemaanhaarperd oor die vlaktes in Hongarye.

Só het ‘n paar kinderboeke (Rykdom uit rommel, Ben, Babi en die geel helikopter, Die raaisel van die spuitnaalde, Die storie van die lieweheersbesie en Koeries se rivier – almal uitgegee deur MML: Rimpelstories) en drie jeugboeke (Los my uit, paloekas!, Die optog van die aftjoppers en Dana se jaar duisend – uitgegee deur Tafelberg) al uit sy verbeelding ‘n draai op papier gegooi. Hoewel hy ook gedigte en kortverhale en romans en toneelstukke vir grootmense skryf, gee die skryf van kinder- en jeugboeke hom die grootste gevoel van vryheid. Dis dieselfde soort vryheid wat ‘n mens ook ervaar as jy ‘n lekker boek lees, nie waar nie?

Elizabeth Wasserman

Op ongeveer 10-jarige ouderdom wen ek ‘n limeriek kompetisie in Die Huisgenoot, die limeriek word in Huisgenotjies geplaas en ek ontvang met trots ‘n tjek van R5.

Op daardie stadium was ek reeds aan die skryf en het baie papier gemors. Met die grootmaak van my dogter het my skryfwerk begin fokus op kinderrympies en verhale.

Liefde vir diere, die bewaring van die natuur, avontuur en die pret van reis bly sentrale temas in al my werk. Ek doen baie navorsing oor alles waaroor ek skryf en meng my stories met ware feite. Die seerower stories, byvoorbeeld, is al twee gebaseer op regte karakters en die ware geskiedenis van seerowery in die Indiese Oseaan. 

Ek glo dat die wetenskap net so wonderlik is as enige fantasie en dat die wêreld n baie opwindende plek kan wees, as jy net jou oë oophou.

Kwalifikasies: MBChB, MMed (Microbiol.Path) cum laude, FC Path (SA), DPhil (Social Science Methods)

Beroep: Hoofspesialis en Professor in die Afdeling Geneeskundige Mikrobiologie, Departement Patologie, Stellenbosch Universiteit en Tygerberg Hospitaal

Gepubliseerde werk:


Boeke

2009: Meerkat restaurant en ander diererympies, LAPA
2010: Speurhond Willem op reis, Tafelberg uitgewers
2011: Speurhond Willem en die Seerowers, Tafelberg uitgewers
2011: Anna Atoom en die Seerower se Dolk, Tafelberg uitgewers
2011: Speurhond Willem en die Wilddiewe, Tafelberg uitgewers


Bydraes tot bundels:

2009: Nuwe Kinderverseboek, Tafelberg uitgewers (drie kinderrympies)
2010: Sweef. LAPA (kortverhaal)
2010: Toulopers, LAPA (twee gedigte vir tieners)

Werk reeds in die publikasieproses:

2012: Speurhond Willem in die Ruimte, Tafelberg uitgewers, vir vrystelling in Februarie
2012: Anna Atoom en die Magnetiese Meermin, vir vrystelling in die eerste helfte van die jaar.

Beplande skryfwerk vir 2012: 

Die Engelse vertaling van die Anna Atoom reeks, sowel as die derde en finale boek in hierdie reeks.
Speurhond Willem in New York, Speurhond Willem in die Amasone.


Kompetisies amper gewen:

2009: Speurhond Willem op reis kom tweede in die Kleinburger se jeugverhaal kompetisie.
In 2010 word die werk genomineer vir die M.E.R. prys vir jeugliteratuur