Kuier by An-Mari do Carmo

An-Mari se storie

“Bestaan hierdie plek regtig? Gebeur hierdie tipe goed regtig vandag nog? Is dit nie iets van die verlede nie?” Dit is die tipe vrae wat An-Mari van mense oor haar boek kry. Haar antwoord bly altyd dieselfde: “Ja, die plek bestaan. Ja dit gebeur vandag steeds.”

Toe als groen was is ʼn Christelike jeugroman wat veral temas rondom geloof ondersoek. Die storie gaan oor ʼn jong meisie, Marné, wat uit haar ouerhuis van die Sederboom Sending ontsnap en by haar tannie in Klerksdorp gaan skuil. Selfs al kom sy fisies van die Sending af weg, is dit nie so maklik om geestelik daarvan te ontsnap nie. Daar is altyd die skuldgevoelens, die baie vrae en die werklike vrees dat hulle jou gaan soek en kom haal…  “Vrees en skuldgevoel: dit is hoe die Sending mense beheer.”

An-Mari do Carmo (voorheen Fouché) het ʼn unieke lewensverhaal. Sy het grootgeword in die KwaSizabantu Sending in KwaZulu-Natal. Hierdie sendinggenootskap is in ʼn onlangse ondersoek as ʼn kultus ontbloot, nadat baie mense hulle stories oor die Sending gedeel het. “Mense is geskok om te hoor dat alle feite waaroor ek in die boek skryf die waarheid is. Mense dink dis goed wat in die verlede gebeur het. Hulle besef nie dit gebeur vandag nog steeds, elke dag nie,” vertel An-Mari.

Hierdie talentvolle skrywer en redakteur het as kind op ʼn plaas grootgeword, maar haar ouers het aan die Sending behoort en haar volgens die reëls grootgemaak.

“Jy mag nie ʼn selfoon hê as jy nog op skool is nie.”

“Jy mag geen deel aan die wêreld hê nie.”

“Jy mag nie kontak hê met enige iemand, selfs familie, wat nie deel van die Sending is nie.”

“Geen verhoudings nie.”

“Geen vriendskappe met seuns nie.”

“Geen langbroeke, juwele, grimering of wêreldse klere nie.”

Dit is egter net enkele reëls. As tiener het An-Mari haar ouers se plaas verlaat en op die sendingstasie saam met haar ouma gaan bly, waar sy selfs nóg meer onder die reëls gebuk gegaan het. “Ek het van ʼn gelukkige, opgewekte kind op die plaas, na ʼn erg depressiewe tiener in die Sending verander.”

Gelukkig vir An-Mari, het haar ouers besluit dat sy moet studeer. Na haar matriekjaar begin An-Mari haar graad in Taal- en Literatuurstudies by die Noordwes-Universiteit (NWU). Hier het sy besef dat die woord wat die Sending verkondig, vals is en sy het begin om ʼn nuwe identiteit as Christen aan te neem. “My geloof het my gered en gemaak dat ek lewendig aan die ander kant uitgekom het. Geloof is die grootste en belangrikste gedeelte van my lewe – dit is die boodskap wat ek [met die boek] wou oordra.”

Na haar studies begin sy as kinder- en jeugboekredakteur by LAPA-Uitgewers werk. Daar was egter nog een ding wat An-Mari moes doen. Sy het ʼn storie om te vertel. ʼn Storie wat al lank in haar binneste vassit en aanhou klop om geskryf te word…

Oor Toe als groen was

An-Mari se skryfkunsdosent op universiteit was een van die eerste mense wat haar aangeraai om oor haar ervaring by die Sending te skryf. “Ek het altyd geweet my storie is iets wat ek moet skryf, maar ek was op daardie stadium nog nie gereed om dit te skryf nie.” Toe An-Mari ʼn paar jaar later begin het om die storie te skryf, kon sy nie ophou nie. Sy het nie eers aan haar plot beplan nie en haar storie net uit haar hart vertel. “Die karakters het bepaal wat gebeur en soos ek verder geskryf het, het die storie verder in my kop gevorm.”

An-Mari vertel dat alles wat in haar storie gebeur, wel al met iemand in die Sending gebeur het. Sy het brokkies van mense se stories aanmekaar gesit om die verhaal van Marné te vertel. “Ek het my belangrikste boek eerste geskryf. Ek dink my boek gee vir mense ʼn gevoel van hoop.” An-Mari reken dat haar boek die meeste vir mense sal beteken wat reeds van die Sending ontsnap het, maar sy het ook probeer om ʼn boek te skryf waarmee die meeste mense sal kan identifiseer, selfs al kom hulle nie van die Sending af nie.

Een van die vrae wat An-Mari kry, is “wat simboliseer die kleur groen?” Volgens haar het die kleur baie betekenisse, dit is die kleur van Marné se skuldgevoel, maar die groei wat tydens die verhaal plaasvind. “Die Sending is ook in die vallei van ʼn duisend heuwels geleë wat ʼn ongelooflike groen, en ironies genoeg, ʼn mooi plek is. Die leser kan self ook interpreteer wat die kleur vir hulle beteken.”

Marné se ouers besef uiteindelik, net soos baie ander mense wat die Sending verlaat, dat hulle hul lewe vir ʼn leuen gegee het. An-Mari hoop dat haar boek veral vir hierdie mense ʼn boodskap van hoop en van die Here se genade sal oordra. “Ek kan nie my geloof en my skryfwerk van mekaar skei nie,” glimag sy.

Anneke Langner en An-Mari in gesprek.

Oor die skryfproses en die pad vorentoe

Deel van An-Mari se skryfproses was om van haar ou dagboeke “uit te grawe” om te onthou hoe sy gevoel het toe sy Marné se ouderdom was. “Dit was ʼn baie emosionele proses, maar dit het my gehelp om die ou emosies weer te voel en dit realisties in my karakter uit te beeld.” An-Mari het haar boek vier tot vyf keer herskryf voordat dit gereed was vir publikasie. “Ek moes van my karakter se emosies minder intens uitbeeld, om uiteindelik ʼn groter impak te maak.” An-Mari lag as sy vertel dat sy gevoel het hoe dit voel om aan die skrywerskant van die publikasieproses te wees. Dit het haar as redakteur ook laat dink hoe sy weer met skrywers kan kommunikeer.

Dit was vir An-Mari ʼn groot voorreg om ook deel van die publikasieproses te kon wees. “Die uitgewer beskerm die skrywer teen baie dinge waarvan die skrywer nie noodwendig weet nie. As daar byvoorbeeld ʼn probleem by die drukkers is, dan hanteer die uitgewers dit en die skrywer is salig onbewus van alles. In hierdie geval was ek bewus van elke struikelblok en sperdatums wat gemis word en dit was ʼn baie stresvolle ervaring, maar alles het darem uiteindelik reg uitgewerk.”

An-Mari glo dit het haar ook baie gehelp om elke dag met jeugboeke te werk, sodat sy uiteindelik ook ʼn boek kon skryf waarmee meeste tieners sal kan identifiseer. “My redakteurstem het my gelei om my werk te herskryf. Dit het my baie agtergrondkennis gegee wat my gehelp het met praktiese kennis.” Rencha Buitendag was verantwoordelik vir die pragtige illustrasies, buitebladontwerp en uitleg van die boek. An-Mari het haar spesifiek gekies, omdat elkeen van haar boekontwerpe uniek is. “Rencha doen ongelooflik baie moeite en ek het geweet sy sal iets spesiaal met my boek ook kan doen.”

As jy Toe als groen was klaar gelees het, kan ʼn mens nie anders as om te wonder of daar ʼn volgende boek op pad is nie. Daar is goeie nuus vir die leser: An-Mari oorweeg dit om ʼn opvolg vir Toe als groen was te skryf. “Daar gaan miskien ʼn opvolg vir hierdie een wees – een van die vriendinne wat op die sending agterbly se storie en wat gebeur as Marne universiteit toe gaan. Maar dis nie iets wat op die oomblik gebeur nie. Dalk iewers in die toekoms.”

Verder is An-Mari tans met ʼn paar projekte besig. Op die oomblik skryf sy ʼn Christelike jeugroman in die romantiese genre. Sy vertel ook dat haar tyd as skryfkunsstudent by die NWU haar ʼn goeie fondasie en verwysingsraamwerk gegee het en haar aangemoedig het om wyd te lees.

Toe als groen was is ʼn debuut wat ʼn mens lank bybly. An-Mari slaag daarin om mense met haar hartroerende verhaal te boei. Haar antwoord op die vraag oor watter impak sy dink haar boek maak, is in die kol: “Ek dink my boek maak ʼn klein verskil, al is dit net om mense bewus te maak van wat aangaan.”

Kuier by Cliffordene Norton

Cliffordene Norton het haar BA Honneurs-graad in joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom voltooi. Sy was al ’n uitgewer en joernalis en werk tans by die Noordwes-Universiteit as kopieskrywer in die bemarkingsafdeling.

Ek doen tans my honneurs in Skryfkuns by die NWU en het die eer gehad om ’n onderhoud met Cliffordene te kon voer. Ek het haar ontmoet by Die Jonge Akker op kampus. Tussen die gewemel van studente wat gereedmaak vir Canvas, het ons vir ’n stil hoekie by die Klipoog Kafeteria gesoek. Die Jonge Akker was ongelukkig al gesluit. Oorspronklik was ek gespanne vir die onderhoud, maar Cliffordene se opgewekte geaardheid het my gou op my gemak gestel.

Minette van Vuuren en Cliffordene Norton
Minette van Vuuren en Cliffordene Norton.

Cliffordene vertel dat, terwyl sy nog besig was om te studeer, haar plan was om profielartikels te skryf vir tydskrifte. Sy het vir ses maande by Volksblad gewerk in die redaksieafdeling, maar het vinnig besef dat sy dit nie graag haar hele lewe lank sal wil doen nie. Dit het wel gehelp dat sy insig verkry het oor die redaksieproses en heelwat mense leer ken het.

Cliffordene was nog altyd lief vir skryf, maar sy is grootgemaak om aan die praktiese te dink. Joernalistiek was die opsie wat die mees praktiese voorgekom het vir iemand wat lief is vir skryf, maar graag ’n salaris wil verdien. Tog is daar baie agter-die-skerms drama wat in ag geneem moet word: “Soos byvoorbeeld die Cosas-saak waar daai mense gedreig is met hulle se lewens en hoe daar ingebreek is by hulle se huise en dan klink dit so exciting as jy daaroor dink en mens tend to glamorize sulke goeters en jy veg vir reg en geregtigheid. Dan besef mens, ’n paar van daai mense het dit swaar. Hulle het post-traumatiese stress, weet nooit wie hulle kan vertrou nie…” Sy het vinnig besluit dat joernalistiek nie vir haar is nie.

Haar groot passie is om te skryf. Dit het tyd en moed gevat om te besluit dat sy die uitdaging gaan aanvaar om ’n skrywer te word. Die fiksie wat sy skryf, is vir haar baie anders as die joernalistiekwerk wat sy gedoen het. Sy kombineer nie haar aanvoeling vir joernalistiek met haar skryfwerk nie. Sy het ook nie gevoel sy wil speurverhale skryf (soos baie voormalige joernaliste doen) nie. Haar werk is baie metodies, maar met haar kreatiewe skryfwerk volg sy ’n totale ander skryfmetode. Die kreatiewe skryfwerk is vir haar ’n ontvlugting.

Cliffordene is baie lief vir liefdesverhale, fantasie, geskiedenis en nie-fiksie boeke. Sy het nooit eintlik gedink dat sy jeugverhale sal skryf nie. Haar uitgewer het haar uit die bloute gevra om ’n kortverhaal vir ’n jeugbundel te skryf. So het sy haar liefde vir die genre ontdek. Gelukkig het die gogga gebyt, want dit het daartoe gelei dat sy Om Jou Te Ken geskryf het!

Cliffordene vertel hoe haar skrywerspad begin het as Skryfkunsstudent aan die NWU.

In Om Jou Te Ken, beeld Cliffordene die verskillende verhoudings wat die tieners met mekaar en met volwassenes het, puik uit. Die verhouding tussen die twee niggies wat die hoofrolle speel is natuurlik op die voorgrond. Cliffordene geniet dit baie om mense waar te neem. Georgia en Gabby is geïnspireer deur Cliffordene se verhouding met haar eie niggie. Groot dele van die boek is deur haar eie ervaringe geïnspireer. Haar skryfwerk is dus baie konkreet, dit voel asof jy van regte mense lees en jy word lief vir elkeen. Dit was vir haar opvallend hoe twee mense in presies dieselfde omstandighede kan grootword en steeds verskil.

Cliffordene vertel waar die inspirasie vir Om te te ken vandaan gekom het.

Cliffordene is nie een vir stilsit nie en is al klaar besig met haar volgende projek, ’n opvolg op een van haar ander stories wat in die proses van publikasie is! Haar vyf-jaar plan het dalk nie uitgewerk nie, maar haar reis het haar gelei tot waar sy nou is – ’n uitstekende skrywer. Ek kan nie wag om nog vele meer van haar stories te lees nie.

As jy Om Jou Te Ken op die rakke sien, doen jouself ’n guns en gooi dit in jou inkopiesak!

Kuier by Dana Snyman

Die Snyman agter die stories

“Dankie, ouma,” sê ek en vat die hoop kosbare papiere by haar.

Dit is nog verhale uit die pen van Dana Snyman. My ouma gee elke jaar so ’n pak papiere vir my, sodat ek hierdie stories lewe kan gee by kunswedstryde.

“Ek is mal oor oom se skryfwerk – ek gebruik dit altyd vir my dramaopvoerings,” sê ek self ’n paar jaar later aan Dana Snyman na ’n vertoning by die Aardklop Kunstefees in 2019.

“Dankie dat jy doen wat jy doen, Ané,” was Dana se antwoord.

Dana Snyman en Ané Smith – Aardklop 2019

Ek moes natuurlik myself eers ’n paar keer knyp om seker te maak dat ek nie droom nie. Wanneer ek my oë toemaak, onthou ek steeds die nederige kyk wat hy in sy oë gehad het terwyl hy daardie woorde vir my gesê het. Min het hy geweet dat dit ’n oomblik is wat ek vir die res van my lewe sal koester.

Nooit sou ek kon raai dat ek twee jaar later self ’n skrywersonderhoud met hom gaan voer nie. Die agtste September 2021 het aangebreek. Ek het Dana se nommer geskakel. My hart het wild geklop soos wat ek vir ’n antwoord gewag het. Met ’n warm “hallo” is ek dadelik gerus gestel en ons het gesels asof ons al jarelange vriende is.

Dana Snyman is ’n Suid-Afrikaanse joernalis en skrywer. Hy is in 1963 in Stellenbosch gebore en het aan die Hoërskool Nylstroom matrikuleer. Later het hy joernalistiek by die Technikon in Pretoria studeer.

Ek het hom daaroor uitgevra en hy het gesê dat hy eintlik eers laat, op 26-jarige ouderdom, sy liefde vir skryf ontdek het. Hy het eers ’n paar ander beroepe beoefen voordat hy voltyds begin skryf het, naamlik veiligheidswag, boekwinkelklerk en ook op die skakelbord by die flieks.

“Ek het nie geweet wat ek wil doen nie,” beaam Snyman, maar vertel verder dat hy nog altyd daarvan gehou het om koerant te lees.

Dit is toe dat hy besluit het om joernalistiek te studeer, “en ek was ook bietjie desperaat,” het hy laggend bygevoeg.

Snyman het daarna by Beeld gewerk. Terwyl hy besig was om een aand laat ’n rubriek te skryf, het hy besef dat skryf dalk vir hom ’n ding kan wees. Hierdie besluit het daartoe gelei dat hy diep in ’n klomp lesers se harte ingekruip het.

Snyman se gepubliseerde boeke is: Uit die binneland (2005), Anderkant die scrap (2006), Op die agterpaaie (2008), Op die toneel: stories, reise en stemme (2009), Hiervandaan: op reis in die geliefde land (2011), Onder die radar: stories uit ons land (2013), In die blou kamp: Facebook-stories (2015), Op pad: ’n reisjoernaal (2017), Soekmekaar (2019) en Onder een dak (2020). Op die agterpaaie en Hiervandaan is ook in Engels vertaal.

Snyman het egter ook verskeie produksies geskryf, waar Die uwe, Pottie Potgieter, onder andere een van hulle is. Hierdie toneelstuk is deur Frank Opperman by die Aardklop Kunstefees in 2006 opgevoer en is as naaswenner van die AngloGold Ashanti-Aardklop-Smelt-kroesprys vir nuutgeskrewe tekste aangewys.

My passie vir drama en my liefde vir Snyman se skryfwerk loop hand aan hand en ek wou dus by hom weet of hy daarvan bewus is dat sy kortverhale dikwels by kunswedstryde opgevoer word.

“Dit gee my plesier, want dit is wat ek graag wil doen. Ek is verskriklik dankbaar vir so iets,” sê die nederige skrywer en hy sê dat hy ook self daarvan hou om stories voor te dra.

Hy stel dit so mooi wanneer hy sê: “’n Storie is vir my ’n ding wat jy hardop moet kan voorlees. Dit is iets wat jy moet kan opvoer of dramatiseer.”

Dana Snyman het al vele toekennings vir sy werk ontvang. Hy het die Technikon-raadsmedalje vir buitengewone prestasie op kulturele- akademiese- en sportgebied, in 1990, ontvang. In 2005 en 2006 is die ATKV-prys vir gedrukte media in die kategorie vir tydskrifjoernaliste aan hom toegeken. In 2008 is hy as die Pica-wenner van Reisskrywer van die Jaar aangewys. Hy het ’n Mondi-koeranttoekenning in die artikelskryf afdeling, in 2011, ontvang. In 2012 en 2013 het hy ’n ATKV-Mediaveertjie in die rubrieke kategorie verwerf. Onder die radar is in 2014 vir die kykNET-Rapport Boekpryse in die Niefiksie kategorie genomineer.

Hierdie ikoonskrywer het sy eie, unieke skryfstyl – een wat my, en beslis ook vir ander, heeldag aan die lees kan hou. Ek het om uitgevra oor waar hy inspirasie vandaan kry om te skryf. Hy het gesê dat hy al van kleintyd af lief vir stories is.

“Ek het grootgeword met stories in die huis,” vertel hy verder. “Dit was nog die tyd voor TV, so dit was die tyd van sit by die eetkamertafel en luister na oupa se stories. Die lewe inspireer my.”

Snyman geniet dit om oor die lewe te praat. Hy kyk na dinge in die lewe en probeer om die vrae en onsekerhede daarvan in woorde om te sit. Sy gunsteling tyd om te skryf is ook vroeg in die oggend.

Snyman vertel ook dat hy sy tyd met sy skryfwerk vat. Hy probeer om ’n prentjie duidelik te maak en dit vat tyd. Hy vertel verder dat dit moeiliker is om eenvoudig te skryf as om geleerd te skryf.

“Ek sê altyd ‘as jy dit wil doen dan sal jy dit doen’. Party mense het net daardie impuls om te kan skep met woorde,” sê Snyman.

Hy is natuurlik ook ’n rolmodel vir baie en ek wou weet wie sy rolmodel was voordat hy self een geword het.

Sonder om twee keer te dink, het hy geantwoord: “Chris Barnard, vir seker.”

Hy het vertel van die tyd toe hy op Barnard se plaas gaan kuier het en hoe hulle oor alles behalwe skryf gepraat het.

“Hy het net oor die lewe gepraat en ek hou daarvan – so gewoon – Chris was ’n ongelooflike skrywer, maar in die eerste plek ’n mens,” vertel Snyman verder.

Natuurlik moes ek by Snyman hoor watter raad hy vir aspirant skrywers sal gee. Hy het gesê dat ’n mens moet verstaan dat dit baie harde werk is. ’n Mens moet probeer en probeer en weer probeer.

“Skryf, skryf, skryf, skryf – hou net aan,” het hy bygevoeg. “Moet net nooit die liefde daarvoor verloor nie.”

Kuier by Linki Brand

Vertel asseblief kortliks iets oor jouself.

Ek is in die 80’s in Potchefstroom, Suid-Afrika, gebore en bring my kinderdae in Pretoria deur en later Venterstad in die Bo-Karoo. Ek het BA Grafiese Ontwerp aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, studeer. Tydens my studies raak ek in die geheim effens obsessief oor illustrasiewerk. Grafiese ontwerp hou egter die pot aan die kook en ek werk daarna vir agentskappe in Bloemfontein en Kaapstad. Daarna verruil ek sentraal Suid-Afrika vir die Kaap en doen vryskutwerk vanuit Hermanus en daarna Bettysbaai en Greyton. Ek leef en werk nou in Penicuik, Skotland saam met my man, Werner, en kinders Fia en Ben.

Waarom het jy besluit om ʼn illustreerder te word?

Ek dink dit is een van daai dinge – nie regtig jou eie besluit nie, jy is net so gebore. Ek het ander dinge probeer maar altyd terug gehunker na stories en die visuele beeld. Ek was baie stil as kind (in so mate dat die juffrouens by die skool bekommerd was!) maar het ‘n stem deur my tekeninge gekry en agtergekom dat dit ‘n manier is om te kommunikeer.

Hoe het jy begin om kinderboeke te illustreer? Wat was die eerste kinderboek wat jy geïllustreer het?

My eerste amptelike kinderboek was Gokul’s Game wat hier in die Verenigde Koninkryk gepubliseer is in 2018 – glad nie so lank terug nie! Die pad wat ek gestap het om tot op die punt te kom om kinderboeke te illustreer was lank. Ek het Grafiese Ontwerp by Noordwes-Universiteit gestudeer en toe dadelik in die korporatiewe wêreld begin werk as grafiese ontwerper. Alhoewel illustrasiekuns nog altyd ‘n groot voorliefde van my was, het ek geglo dit sal nie noodwendig ‘n voltydse beroep kan wees nie en ek het ook in my eie vermoëns as illustreerder getwyfel. Ek het altyd illustrasies in die korporatiewe werk probeer invleg waar ek kon – en op dié manier uiting gegee aan die behoefte om te illustreer en agtergekom mense sal selfs daarvoor betaal! Voorbeelde van my korporatiewe ontwerp: https://linkibrand.com/other

Jy gebruik ʼn groot verskeidenheid illustrasiestyle (bv. in die verskillende stories in Halala Job Maseko). Hoe besluit jy op die tipe styl wat gebruik word vir ʼn storie of boek?

Die storie se trant en gevoel (asook die skrywer se skryfstyl) gee vir my ‘n aanduiding van die styl. Ek dink ook, omdat ek jare met korporatiewe handelsmerkidentiteite gewerk het, is daar hierdie bewustheid in my dat my styl moet aanpas by die identiteit van die storie en ook moet spreek tot die teikenmark van die spesifieke boek. Ek is vreeslik bewus van wie die storie gaan lees terwyl ek op ‘n styl besluit.

Hier is voorbeelde van verskillende style uit Halala Job Maseko.

Watter illustrasiestyl is jou gunsteling? En watter styl verg die meeste moeite?

Ek het agtergekom daar is ‘n verskil in ‘n styl wat ek rerig van hou en ‘n styl wat net natuurlik na my toe kom. Ek sien myself as ‘n redelike ernstige mens en tog is dit asof ‘n meer humoristiese styl natuurlik uit my vloei. Dit kom maklik en vanself. Die illustrasies in Wetenskaap van Leon de Villiers is só ‘n voorbeeld.

Ek hou dan ook baie, aan die anderkant, van meer ernstige illustrasies soos van die wat ek in Wendy Maartens se Halala Job Maseko gedoen het. Die illustrasie van Saartjie Baartman is so voorbeeld. Dit is so ‘n moeilike, komplekse storie wat Wendy op ‘n baie goeie manier vir kinders verwerk het en ek voel hierdie geweldige sin van verantwoordelikheid om die storie reg te verteenwoordig in ‘n illustrasie en nie net sommer ‘n mooi prentjie te maak nie. Dieselfde geld ook vir Hector Peterson en Klara Majola se stories in dieselfde boek. Vir dié tipe van stories gaan lees ek in diepte na enige iets rondom die gebeurtenisse en persone en probeer dit so respekvol as moontlik hanteer maar tog op so ‘n manier dat dit kinders wat vir ‘n eerste keer met hierdie mense se stories te doen kry aangeraak sal wees – en deernis vir die mens agter die storie sal kry. Mens is tog hier besig om met kinders se psige ontwikkeling te werk, hulle morele kompas te vorm vir die toekoms.

In die video’s wat jy maak oor die illustrasieproses en op FB en Instagram plaas (bv. vir Magriet hou konsert en die voorblad vir Wetenskaap) is dit duidelik dat die proses vir jouself interessant is en dat dit verweef is met jou dinkproses. Vertel asseblief iets oor jou skeppingsproses. Watter deel van die skeppingsproses geniet jy die meeste?

Daar is ‘n paar prosesse in die skeppingsproses wat ek nou al kon uitpluis. As ek vir die eerste keer ‘n nuwe manuskrip kry dan is ek baie opgewonde en raak verlore in die storie en maak moodboards en sweef rond tussen idees. Dit is ‘n baie lekker deel want die wêreld is oop en vol moontlikhede. En dan kom die tweede, vreesaanjaende deel, as ek voor ‘n leë wit papier sit met iets oorspronkliks moet vorendag kom. ‘n Mens is baie rou en kwesbaar dan. Maar ek het geleer om eenvoudig deur dit te werk. Ek moet net BEGIN. Sit potlood op papier en begin skribbel aan idees. Al jou idees – selfs al is dit simpel, voor die hand liggend en reeds deur ander mense gedoen – moet uit jou sisteem gewerk word. En dan daarna kom die nuutskeppinge. En dan begin die storie en die styl stadig in plek val. Ek raak dan weer van voor af opgewonde oor die boek en laat waai van daar af. Ek sal karakters en kleure van die spesifieke storie waaraan ek werk dan altyd byderhand hou deur dit uit te druk en op te plak by my werkstasie sodat ek dit altyd as verwysing kan gebruik deur die res van die skeppingsproses.

Besoek my webtuiste om na die ontwerpproses van die Magriet-reeks en Wetenskaap te kyk: https://linkibrand.com/

Ek neem aan die meeste van die werk is digitale produksies, maar ek sien dat jy ook ʼn kombinasie van papiertekeninge en digitale metodes gebruik. Daar is natuurlik baie voordele om digitaal te werk, maar sou jy ook sê dat daar enige ‘nadele’ is?

As ek dinge oor kon kies, sou ek beslis ‘n beter basis van tradisionele mediums wou aanleer – en ek beplan nogsteeds om in die toekoms dit te doen. Ek het so bietjie tydens my studies op universiteit daaraan geraak. Maar ek het nooit byvoorbeeld kuns op skool gehad of rerig gemaklik met enige mediums geraak nie. Ek was maar van kleins af agter die rekenaar en het altyd gemaklik daar gevoel. Maar ek dink ander prosesse in die brein word aangewakker as jy weg van die rekenaar of iPad (wat ek deesdae meestal gebruik) skuif en meer van jou sintuie betrek in die skeppingsproses. Daar kan ook meer “happy little accidents” gebeur (as ek vir Bob Ross kan aanhaal) omdat jy nie net kan “undo” soos met die digitale medium nie. (Hier is foto’s waar ek met die hand teken maar ook dan digitaal op ‘n skerm:

Wat is volgens jou die belangrikste kunselement om in ag te neem in boekillustrasies? (bv. komposisie, balans, kleur, ens.)

Dit is redelik moeilik om te beantwoord. Want al die elemente vorm saam ‘n harmonie natuurlik. Maar ek dink – vir my persoonlik – komende van ‘n grafiese agtergrond waar ek baie met uitleg gewerk het, is komposisie nogal belangrik. Dit voel vir my dat dit die basis vorm waarvandaan ek werk – soos die bloudruk. Ek moet, voor enige iets anders, eers die komposisie uitpluis en daarna volg die res. Ek hou dus ook daarvan om nie net ‘n boek te illustreer nie, maar ook, as ek die geleentheid gegun word, die uitleg te doen. Dit laat die storie beter vloei en sin maak. Daar is niks so erg vir my as die teks en illustrasies nie ‘n lekker ritme het nie. Of as dit illustrasie iets weggee nog voordat dit in die teks genoem word. Dit is asof jy die leser pootjie. Komposisie was byvoorbeeld belangrik by Rooimiere in die broek idioominkleurboek.

Jy gebruik sterk en interessante kleure in jou werk. Kleur is ook belangrik wanneer dit kom by stemming. Hoe besluit jy op die kleur wat gebruik word?

Vandat ek hier in Skotland bly, het ek besef wat ‘n geweldige rol kleur in my visuele taal speel. Die kinderboeke wat hier (dit sluit dan ook Europa in) gepubliseer word, spreek baie van die gedempte, grys ondertone wat mens om jou sien (ook natuurlik mooi en gepas soos dit moet wees). Dit is dus bloot ‘n verteenwoordiging van wat die illustreerders hier rondom hulle sien en die omgewing waarin hulle grootgeword het. Die kleure wat ek in my boeke gebruik, het half vanself gekom – as dit vir my lekker werk langs mekaar dan gebruik ek dit so. Nou, as ek terugkyk na my gepubliseerde boeke, besef ek eers hoe geweldig kleurvol my werk is – omdat ek van ‘n sonskynland af kom met ‘n ryk diversiteit van kultuur en style – van kleredrag tot kos. Ons is nie bang om te anders te wees of te lyk van mekaar nie. Ek vermoed ook my bemarkingsagtergrond speel hier ‘n rol.

Wat is die geheim vir ʼn suksesvolle voorblad? Wys asseblief twee van jou voorbladontwerpe en vertel kortliks iets hieroor.

Almal praat altyd daaroor dat ‘n boek op ‘n rak moet uitstaan. En dit is nie verniet so nie. Dit is hoe jy daai eerste interaksie kry met die potensiële leser. So ek probeer dit gewoonlik eenvoudig hou maar terselfdertyd “bold” maak. Ek is nie bang vir kleur nie! En ek dink dit is waar my grafiese agtergrond weereens handig te pas kom. In die korporatiewe bedryf moes ons altyd dink wat sou die meeste uitstaan. Die gebruik van fonts is dan ook vir my vreeslik belangrik vir die voorblad. ‘n Pragtige illustrasie kan net so platval as daar verkeerde font saam met dit gebruik word. Ek is ook nie aanhanger van die idee dat die hoogtepunt van die boek op die voorblad van die boek met verskyn nie, jy gee dan die hele storie weg! Dit voel my jy kul dan die leser net om die boek te koop en respekteer nie die feit dat hul self wil uitvind wat gebeur in die storie nie. Ek hou daarvan om die nuuskierigheid eerder te prikkel deur ‘n element of twee op die voorblad te plaas sodat die leser sou wonder hoe die elemente met mekaar verbind sou kon hou.

Kyk na die alternatiewe kleuropsies wat tydens die ontwerpproses van Iemand wat verdrink na vore gekom het: https://linkibrand.com/iemand-wat-verdrink

Kan jy asseblief kortliks iets vertel oor die verhouding tussen ʼn uitgewer en ʼn illustreerder van kinderboeke. Skryf die uitgewer aan die illustreerder voor of mag jy jou eie idees gebruik?

Komende uit die grafiese ontwerp wêreld waar kliënte vreeslik voorskriftelik is en die ontwerper, in baie gevalle, bloot as ‘n instrument gebruik word om die kliënt se visie te laat vergestalt (al is daardie visie nie noodwendig altyd suksesvol, uniek of relevant nie) was dit vir my ‘n absolute openbaring dat uitgewers soveel vertroue in my eie visie / stem as illustreerder gehad het. Ek kon nie al die vryheid glo nie! Vir die eerste keer kon ek doen wat ek wou! Dit help natuurlik as jy net eers daai eerste boek of twee geïllustreer het en dit gepubliseer is sodat hulle jou kan vertrou.

Aan die begin van ‘n boek – soos ‘n prenteboek soos die Magriet-reeks byvoorbeeld sal ek eers die hele boek met teks uitlê en klein duimnael sketsies van die hele boek maak en laat goedkeur deur die publiseerder.

Daar sal dalk hier en daar ‘n klein aanpassing wees, maar nooit te dramaties nie. Sodra ek dan goedkeuring daarvan het kan ek met ‘n geruste hart aangaan met die res omdat ek weet ek en die uitgewer is op dieselfde bladsy. Met ander boeke vir ouers kinders wat meer teksgedrewe is en dieper delf in die karakter, soos Draakasem van Jaco Jacobs, sal ek voorbeelde van die hoofkarakters vir die uitgewer stuur en miskien een of twee tonele vanuit die storie en dit eers goedkeur voordat ek aangaan. Dit is vir my ‘n ongelooflike ervaring dat my stem as illustreerder net soos die skrywer s’n gerespekteer word, dat my insette gewaardeer word en eintlik gevier word. (https://linkibrand.com/draakasem)

Illustrasies uit Draakasem

Watter raad sal jy gee vir iemand wat belangstel in die beroep van illustreerder? Wat is die twee belangrikste vereistes om as ʼn suksesvolle illustreerder te kan werk?

Teken. Soveel as moontlik. Werk deur die vrees. Begin met pro bono werk. Teken gigposters vir bands, teken vir die dierebeskermingsverenging, teken vir die ouetehuis, teken vir die kerkbasaar. Teken net! En bou jou portefeulje. Maar wees krities wat jy in jou portefeulje sit. Eerder minder werk, maar alles op ‘n hoë standaard, as meer werk en daar is een of twee minder goeies tussen in.

Deel jou werk en dele van die proses agter jou werk waarmee jy gemaklik is op sosiale media (nooi mense agter die skerms, vertel jou persoonlike storie), kry ‘n ordentlike webwerf wat jou professioneel laat voorkom. Ek dink mense is geneig om te dink illustreerders is verstrooid en gaan nie altyd professioneel kan optree as dit by kommunikasie of die bestuur van tyd kom nie. So, lyk so professioneel as moontlik aanlyn en in jou kommunikasie aan potensiële kliënte.

En dan, laastens, omhels en koester die hart wat op jou mou is tydens die illustrasieproses. Dit is ‘n baie teer gedeelte van jouself wat jy aan die wêreld ontbloot as jy jou illustrasies openbaar. En alhoewel jy dit dalk self as ‘n swakheid sien, om so sensitief te wees, weet ook dat dit juis dít is wat jou toelaat om te skep en deur te dring na ander mense toe.

Besoek gerus my webtuiste: https://linkibrand.com/
Ek is ook op Facebook, Instagram en Behance.

Kuier by Rouxnette Meiring

Rouxnette Meiring, ’n opkomende jeugverhaal-skrywer, het met haar debuutverhaal Kraak ’n vernuwe belangstelling in toekoms- en wetenskapsfiksie (vir die jeug) verseker. Sy beeld ’n geloofwaardige wêreld in die jaar 2315 uit, aan die suidpunt van Chinafrika waar ’n virtuele koepel opgerig is in die stad ||Hui !Gaeb om die inwoners deur invloede van die buitewêreld te beskerm. Ongelukkig is daar groter gevare buiten die skadelike lug, toksiese see wat die stad omring en die vreemde wêreld buite die koepel – die koepel self is besig om te kraak. Kara en haar vriende word deur Sophia aangewys om die koepel, en hulle ouers wat in die droomhospitaal lê, te verlaat om na die noorde te reis tot in Egipte waar hulle hul antwoorde sal vind.

Kraak beeld ’n diverse land uit waar mense van verskillende rasse, kulture en tradisies ná 300 jaar in vrede en harmonie met mekaar saamlewe. Rouxnette het dit juis so bedoel om die ander kulture van ons land te betrek, en sekere probleme wat steeds in die hede aan die gemeenskap knou heeltemal iets van die verlede te maak. Haar liefde vir skryf het vroeg vertoon en, vandat sy kan onthou, skryf sy al stories. Haar Afrikaans-onderwyser het haar liefde vir gedigte en prosa aangewakker. Aan mense wat wil begin skryf, maar dalk al te oud voel, moedig sy aan dat mens op enige ouderdom kan begin. Sy het ook die boek juis in Afrikaans geskryf, omdat sy glo jy “skryf nooit so eg en uit jou hart soos wat jy in jou moedertaal doen nie.” Rouxnette beskou Afrikaans as een van Afrika se inheemse tale en ’n taal wat oor kulture heen kan strek: “Solank ons besef hierdie is ’n taal waar verskillende mense van verskillende kulture bymekaar kan kom en saam lief kan wees vir hierdie taal, dan het dit verseker bestaansreg en sien ek ’n rooskleurige toekoms vir Afrikaans…”

Kara, ’n identifiseerbare protagonis en fokaliseerder

Kara, erken Rouxnette, se persoonlikheid reflekteer gedeeltelik dié van haar eie dogter. “Ek het probeer iets uitbeeld van ’n tiener se tipiese onsekerheid oor dinge en hoe mense oor hulle voel,” vertel sy. Hulle is dikwels oormatig krities oor hulleself… daardie onsekere dele in Kara se persoonlikheid is dalk argetipes van dinge wat ek in tieners sien.” Al die karakters in haar verhaal besit karaktertrekke wat sy in haar kinders se vriende van daardie ouderdom raakgesien het.

Inspirasie en motivering

Rouxnette het twaalf jaar gelede reeds aan die verhaal begin skryf – maar sy het dit nooit voltooi nie. Dit was haar sussie wat die voorstel gemaak het dat sy haar vir elke hoofstuk sal betaal, omdat sy gedink het dit was ’n verhaal wat gepubliseer moet word. Omtrent die inspirasie vir hierdie storie, vertel sy dat dit vir haar ’n gevoel van verwondering, misterie en afwagting was wat sy aan haar dogter wou oordra waaruit die storie van ||Hui !Gaeb ontwikkel het. Haar dogter het in graad drie ophou Afrikaanse boeke lees en Rouxnette wou graag iets skryf wat haar sou interesseer.

Invloede

Rouxnette vertel dat alle ervarings, alle verhoudings met mense, boeke, kuns en met die lewe die skryfproses affekteer. ’n Faktor wat ’n invloed op haar skryfproses beoefen het, was haar PhD in Omgewingsopvoeding wat haar drie jaar geneem het om klaar te maak. In hierdie tydperk was skryf ’n kreatiewe uitlate vir haar akademiese studies en navorsing, en waarby die einde van haar boek aansluit.

Globale aardverwarming en omgewingskwessies

In Kraak is die nadele van aardverwarming en die onleefbare toestand van die aarde ’n globale kwessie. Die omgewing en die versorging van die aarde speel ’n prominente rol in die jeugverhaal. Rouxnette wou bloot nie net ’n lessie voorgee oor aardverwarming nie, maar in die eerste plek “’n storie vertel” en “geloofbare karakters” skep. Die karakters in haar verhaal beleef die natuur op ’n baie intiemer en geestelike vlak. Die rede juis “waarom ons besig is om die aarde te verwoes is omdat ons vergeet het om te kommunikeer met die aarde en vergeet het om te luister na wat plante en diere vir ons wil sê… terwyl ons digitaal kommunikeer, vergeet ons van die natuur se behoeftes,” verduidelik sy.

Wetenskap- en toekomsfiksie

Binne die Afrikaanse letterkunde is wetenskap- en toekomsfiksie genres wat taamlik min aan geraak word. Rouxnette het juis Kraak as ’n toekomsroman geskryf omdat sy oor aardverwarming kommentaar wil lewer “sonder om te preek”. In ’n werklikheid waar die newe-effekte van aardverwarming duidelik sigbaar is, het sy nie nodig gehad om daaroor te preek nie, en het eerder geskryf oor hoe dit hanteer kan word. Die advies wat sy aan skrywers gee wat ook graag in hierdie genres (wetenskap- en toekomsfiksie) of enige ander genre wil skryf is: “Lees lees lees. ’n Mens moet regtig baie lees om te kan skryf. Wanneer jy in ’n sekere genre belangstel moet jy baie oor daardie spesifieke genre lees. Dit is ook belangrik om verskillende skrywers van hierdie genre se boeke te lees. So kan jy van die tegnieke leer wat hulle gebruik en steeds jou eie stempel daarop sit. Moenie soos hulle skryf nie, maar leer uit die tegnieke wat hulle toepas op hulle werke.” Sy vertel verder mens moet nie wag tot die gees van inspirasie oor jou kom nie, maar tyd en energie daarin sit om elke dag te skryf. “Jy moet gedissiplineerd wees in skryf. Dis soos enige ander werk.”

Ervaring van uitgewers en publikasieproses

Oor haar ervaring met die publikasieproses vertel sy dat sy ’n baie positiewe en aangename ervaring met NB-uitgewers het. “My redakteur en die mense wat my publikasie behartig is regtig almal wonderlike mense, en hulle gee vir my die vryheid om nog steeds te sê hoe ek dit wil hê.” Sy het nooit gevoel asof sy in iets geboelie is nie. “Dit het gevoel of ek aan die een kant die vryheid het van mense wat hulle eie boeke publiseer, maar tog het ek die ondersteuning-sisteem gehad van ’n groot uitgewery met baie ervaring en mense met baie kennis.” Sy het haar boekbekendstelling baie geniet, omdat dit soos ’n “partytjie gevoel het waar iemand anders alles reël en jy hoef maar net op te daag”.

Vir aspirant-skrywers wat graag hul eie boeke wil uitgee, maar geïntimideerd voel oor die omvang van die publikasieproses, verskaf sy die volgende raad: Dit is juis dan beter om die publikasie-proses saam met ’n bekende en gevestigde uitgewer deur te maak, eerder as om ’n boek self te probeer uitgee. Hulle het net soveel meer ervaring. Met die redigeringsproses kyk hulle in diepte na jou manuskrip. Soveel mense lees deur jou boek en hulle stuur dit ook na buite-lesers wat verskillende opinies daaroor gaan gee. Daar is baie meer gevare gekoppel aan selfpublikasie, omdat daar nie soveel mense is wat saam met die skrywer deur die proses werk en foute uitwys nie.

Kuier by Annerle Barnard

Wanneer is jou passie vir skryf aangewakker?

Ek het op 15 reeds geweet dat ek graag eendag sou wou skryf. Ek het destyds net glad nie geweet hoe om hierdie droom te laat realiseer nie. Op 13 het ek Konsalik gelees, op 15 omtrent net rillers en my gunstelinge was Stephen King en Dean R. Koontz. Ook spanningsverhale: Robert Ludlum, ens. Sedert ek in graad een leer lees het, was ek mal oor boeke en voordat ek self kon lees, het my ma vir my baie stories gelees. Daar was altyd baie boeke in ons huis (fiksie en vakliteratuur) en beide my ouers het dikwels saans gelees.

Watter ander jeugromanskrywer(s) inspireer/beïnvloed jou?

Daar is ’n aantal. Afrikaans: Jan Vermeulen, Fanie Viljoen. Engels: Veronica Roth (Divergent reeks), Pittacus Lore (I am Number Four reeks), Suzanne Collins (Hunger Games reeks), Michael Grant (Gone reeks), Marissa Meyer (Archenemies reeks).

Hoe gaan jy te werk wanneer jy ’n nuwe storie skryf? Speel navorsing ’n groot rol in die beplanningsfase?

Ek doen ongelooflik baie navorsing. My stories begin gewoonlik met ’n idee en tot dusver het dit alles met aktuele kwessies te doen: mensehandel (Sweepslag), die handel in bedreigde spesies (Sindikaat), ens. Wanneer ’n idee aan my deur kom klop, begin ek met navorsing. Ek wil presies verstaan hoe sake in mekaar steek. Met Sweepslag, byvoorbeeld, wou ek onder andere weet hoe die handelaars dit regkry om, ten spyte van wetgewing, kinders van een land na ’n ander te smokkel. Vir my het dit destyds onmoontlik geklink. Ongelukkig is dit wel moontlik. Met bedreigde spesies (Sindikaat) wou ek weet hoekom op aarde hierdie spesifieke spesie in ’n huis in Bloemfontein gevind is. Dis dan ’n dier wat glad nie hier aard nie! (Ek het tydens my navorsing eers besef dat die produk in gedroogde formaat geberg was.) Onregte teenoor mense en diere ontstel my en ek wil altyd weet hóé die misdadigers dit regkry om ongestoord met hulle booshede voort te gaan. Min van my navorsing verskyn uiteindelik in die storie, maar vir my om iets geloofwaardig te kan skryf, moet ek die agtergrond verstaan. Daarom al die navorsing.

Mens kry ‘plotters’ en ‘pantsers’. Ek is beslis ’n pantser. Ek begin met ’n idee en weet min of meer waar dit sal heengaan, maar soms neem die storie ’n wending wat ek nie verwag het nie — en dikwels het dit met ’n nuwe stuk navorsing/inligting wat ek lees, te doen. Wanneer my storie vashaak en ek nie weet hoe verder nie, wend ek my dikwels weer tot navorsing.

Het jy ’n vaste skryfroetine? Indien wel, wat behels dit?

Ja, ek probeer om soggens vroeg te begin skryf. My ouers het altyd gesê ‘die oggendstond het goud in die mond’ en ‘vroeg begin is half gewin’ en ‘wat klaar is, is klaar’. Tydens ’n normale skooltermyn skryf ek vroeg soggens (tensy die een of ander krisis opduik) en smiddae is ek by die skool en ry kinders rond (of agter hulle aan wanneer hulle wedstryde speel). Sedert grendeltyd begin het, het ek ’n bietjie meer tyd vir skryf, want ek hoef nie skoolkos te beplan en die hele middag langs die sportveld te sit nie. (Wanneer ek egter so vir die kinders sit en wag, lees ek altyd. Soms lees ek vir die lekker, ander kere lees ek deur navorsing en soms werk ek in my motor op my skootrekenaar.)

Ek praat uit ondervinding wanneer ek sê dat aspirantskrywers baie keer in hulle skryfvermoë twyfel. Hulle raak onseker oor of hulle stories goed genoeg is en of daar enige teikenmark daarbuite is wat daarin sal belangstel. Wat hou jou gemotiveerd om nie moed te verloor as jy ’n storie skryf nie?

Ek skryf ten eerste dit wat ek self graag lees en daarom weet ek daar sal ’n teikenmark wees wat dit interessant sal vind. Ek ken immers baie mense wat dieselfde leesstof as ek lees. Verder sien ek ook watter tipe flieks en boeke my seuns en hulle maats interessant vind. Of dit goed genoeg is? Nadat my eerste poging met Sweepslag deur ’n uitgewer afgekeur is, het ek iemand vir ’n leesverslag betaal. Dit het my oneindig baie gehelp. Tans maak ek van betalesers gebruik om eerlike kommentaar te lewer. Ek het ’n vriendin wat vreeslik reguit is en sy lees al my manuskripte. Sy vra ongemaklike vrae (en dís juis wat mens wil hê). Omdat ek jeugromans skryf, kry ek altyd ’n tienerleser se insette ook. Ek hou die tieners fyn dop, maar my denke verskil uiteraard aansienlik van hulle s’n. Van onskatbare waarde vir my jeugromans, is die sielkundige wat ek altyd raadpleeg. Sy werk by uitstek met jongmense en wanneer ek onseker is oor die keuse wat ’n tienerkarakter sou maak, het sy altyd vir my die antwoord en motivering daarvoor.

Met die skryf van jeugverhale loop die skrywer die gevaar om onbewustelik ’n volwasse gehoor toe te spreek. Hoe het jy verseker dat die tienerkarakters in Sweepslag en Sindikaat geloofwaardig en identifiseerbaar is vir die beoogde teikengroep?

’n Aantal aspekte is hier ter sprake:

  1. Deur van ’n tiener betaleser gebruik te maak.
  2. Ná my heel eerste poging het ek besef dat my manuskrip soos ’n e-pos aan ’n kliënt klink. Ek het toe begin om aandagtig na my kinders en hulle maats te luister. Ook na vriende se kinders. Onder normale omstandighede is hier gereeld tienermaats wat by my seuns kuier. Verder spandeer ek noodgedwonge baie tyd by die skool en ry soms ander kinders ook rond wanneer hulle ’n saamrygeleentheid benodig. Wanneer hulle met mekaar gesels, luister ek baie fyn, want tieners se taalgebruik in gesprekke met mekaar, verskil van hulle taalgebruik tydens gesprekke met volwassenes.
  3. Betreffende die keuses wat my karakters uitoefen: ek praat gereeld met ’n sielkundige wat slegs met jongmense werk. Soms wonder ek oor die keuse wat ’n karakter sou maak. Die sielkundige kan altyd motiveer waarom ’n tiener daardie spesifieke keuse sou maak. Dis eintlik ’n ongelooflik interessante veld. Ek verstaan nou ook sekere optredes van my eie kinders (en hulle maats) beter.

Met Sweepslag en Sindikaat kom aktueel realiteitsverwante temas (kinderslawerny, korrupsie, seksuele mishandeling, kriminele aktiwiteite) sterk aan lig. Beplan jy om in die toekoms verder op hierdie temas te fokus?

Ek het eintlik nie ’n antwoord hierop nie. Wat ek wel kan sê is dat die tema waarmee ek tans besig is, ook aktueel is. Ek lees baie koerant/nuus en dit wat ek lees/hoor, dien dikwels as katalisator vir ’n storie. Ek vermoed my belangstelling in aktuele temas het ook met my liefde vir misdaadfiksie te doen. Dit wat ek lees, laat my vrae vra. Byvoorbeeld: as daar sulke streng sekuriteit by myne is, hoe kry mynwerkers dit reg om diamante uit te smokkel? En dan lees mens hoe sekere mynwerkers in ’n stadium onder andere vliegduiwe gebruik het om dit uit te vlieg. Fassinerend met watter skelmstreke die menslike brein alles vorendag kan kom!

Hoe verseker jy dat jou leser meegevoer bly? Watter tegnieke pas jy toe in jou skryfwerk wat die leser se aandag op die teks behou?

My seuns (en ’n aantal van ons vriende se kinders) is nié van nature gewillige lesers nie (beide seuns en meisies). ’n Hele aantal van hulle is baie sportief. Enige boek kompeteer dus nie net met elektronika en skerms nie, maar ook met ’n rugbybal, krieketkolf, netbalbal, of hokkiestok. As daar nie in ’n fliek/boek van die begin af reeds baie gebeur nie, verloor van hierdie besige kinders dadelik belangstelling. Ek het die onwillige lesers in my agterkop gehad ten tye van die skryf van Sweepslag en Sindikaat. Daarom het ek gefokus op korter sinne en redelik baie aksie sodat mens (hopelik!) die onwillige lesers se belangstelling sal hou. Paul Rudman (protagonis) is sportief: vlieghengel, muurbal, krieket, ens. Alicia (Sweepslag) doen gimnastiek en Karlien (Sindikaat) doen ook gimnastiek en is ’n model. Ek het doelbewus sportiewe karakters geskep in die hoop dat die sportiewe lesers by hierdie karakters aanklank sou vind.

In beide jeugverhale is Paul die protagonis en hoof-fokaliseerder. Is dit, in jou opinie, moeiliker of meer uitdagend om uit die oogpunt van ’n karakter te skryf wat die teenoorgestelde geslag van die skrywer is?

Nee, dit het vir my baie natuurlik gekom, miskien omdat ek twee seuns in die huis het. Verder is my fantastiese stiefdogter en ewe fantastiese skoonseun ook sportiewe, buitelug mense. Hulle almal se belangstellings sluit aan by die van my man; vlieghengel, sport en die natuur. Ek vermoed dit het ook ’n redelike groot invloed op my skryfwerk.  

Sou jy en een ander persoon in ’n hysbak vassit vir 30 minute, saam met watter karakters uit Sindikaat verkies jy om die tyd deur te bring? En hoekom?

Bossie. Ek wil hom ’n hengse klomp vrae vra (navorsing) wat ek in die toekoms sou wou gebruik. Ek hoop net hy sal lus wees om my vrae te beantwoord. Recces is dikwels redelik stug en baie goed daarmee om vrae te ontwyk. Andersins beslis Paul Rudman. Hy’s vir my ’n interessante karakter. Ek ken twee of drie mense soos hy: sad clowns. Baie vermaaklik! As dit egter een van daardie dae is wat die swart hond Paul se lewe oorskadu, sal hy waarskynlik baie min te sê hê. Dan eerder Karlien. Dalk kan sy my iets van mode leer, want as dit by klere en kleure kom, is ek redelik ‘clueless’.

As jy een wenk moet gee vir die skryf van ’n suksesvolle storie, wat sou dit wees?

Skryf wat jyself graag lees en lees soveel as moontlik.

Ek wil graag vir Annerle Barnard dankie sê vir dié geleentheid. Dis is die ervarings en insigte van reeds gevestigde skrywers wat toekomstige skrywers slyp. Annerle  se slagspreuk is Never give up! Skryf, in my opinie, is vrek moeilik en harde werk. Daarom is hierdie slagspreuk van toepassing op almal wat die passie deel.

Kuier by Annabel Allers

Kupido.com is Annabel Allers se debuutroman wat in September 2017 gepubliseer is. Die jeugroman handel oor ‘n tienermeisie wie se vriendinne vir haar ‘n valse profiel op ‘n aanlyn-kletskamer skep. Annabel het dit reg gekry om die kuberwêreld met fiksie te vermeng en ‘n vermaaklike verhaal daaruit te skep.

 

Ons voer graag ‘n onderhoud met díe jong skrywer om uit te vind waar sy aan haar idees kom en wat sy vir die toekoms beplan.

Annabel is gebore in Pretoria, Gauteng en het al van kleins af ‘n liefde vir skryf. Sy is ook mal daaroor om te lees, kitaar te speel en te teken of skilder. Haar gunsteling boeke sluit in To kill a mockingbird deur Harper Lee en Withering Tights deur Louise Rennison.

Annabel noem dat alhoewel sy nog altyd stories skryf, Kupido.com haar eerste poging tot ‘n vollengte roman was. Haar motivering om die roman te voltooi, het gekom van haar besluit om vir Lapa se jeugromankompetisie in te skryf. Die roman het begin as ‘n mengsel van ‘n klomp onvoltooide stories wat sy reeds geskryf het. Haar niggie het haar die idee gegee om die stories te meng en om hierdie rede het Annabel die boek aan haar niggie opgedra.

As dit by die skryfproses kom, beplan Annabel altyd vooraf. Sy noem dat sy vashaak as sy net begin skryf sonder om te weet waarheen die verhaal op pad is. Gevolglik skep sy ‘n geraamte en bou daarop deur aan te hou skryf en herskryf. Sy sê ook dat al haar karakters uit verskillende dele van haar persoonlikheid – of die persoonlikhede van mense naby aan haar – kom. Sy glo dat haar karakters daarom lewensvatbaar is en dat jong meisies maklik daarmee kan identifiseer. 

Annabel (die jong skrywer wat nie Astos of M&Ms kan eet sonder om dit volgens kleur of aantal te sorteer nie)  sê dat sy nie binnekort beplan om op te hou skryf nie. Sy glo dat daar nou – meer as ooit – ‘n aanvraag en mark vir Afrikaanse fiksie is. Ons hoop daarom dat ons nog baie van Annabel in die toekoms sal lees.

Kuier by Fransi Philips

In haar beginjare as skrywer het ʼn uitgewer eenmaal vir haar gesê dat niemand ooit sal belangstel in haar boeke nie. Nou, dekades later, het sy dertien gepubliseerde boeke waaronder digbundels, kortverhale, romans (haar mees onlangse een, Net ʼn lewe, wen in 2011 Lapa Uitgewers se roman kompetisie) en ook jeugverhale. Vir my het sy altyd bekend gestaan as ‘Ouma se niggie, die skrywer’, maar vandag leer ek Fransi Phillips persoonlik ken.

Sy is op 12 Augustus 1958 op ʼn plaas naby Lichtenburg, NW, gebore, maar verhuis later Pretoria toe waar sy aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool matrikuleer. Sy studeer by die Universiteit van Pretoria, waar sy ʼn BA graad behaal sowel as ʼn B.A. Honneurs in beide Filosofie en Kunsgeskiedenis. Sy trou met Charles Phillips, en hul dogter Nina word later gebore. Na haar egskeiding doen sy vir ʼn tydperk tydelike en vryskutwerk voordat sy by die Tsjeggiese ambassade gaan werk tot en met 2010. Tans werk sy in Rusland, waar sy Engels gee op ʼn klein dorpie naby Moskou.

Ek is baie gelukkig om met haar kontak te maak terwyl sy in Suid Afrika is, en ek ontmoet haar in ʼn koffiewinkel in Pretoria. Nina, wat ʼn pianiste is, kom sit ook by ons vir ʼn rukkie terwyl sy vir iemand wag.

Sy het al op tienjarige ouderdom begin skryf, vertel sy, toe hulle besig was om ʼn opstel oor Wolraad Woltemade te skryf vir skool. Daar het iets gebeur met haar opstel; verrassings terwyl sy skryf, wat haar laat besef het dat sy ʼn skrywer wil word.

Op my vraag oor wat haar inspireer, antwoord sy eenvoudig: “Stories. Ek is mal oor stories.” Haar dogter wys na haarself, en Fransi sê laggend ja, Nina inspireer haar ook. Sy dink ʼn oomblik en gesels dan verder. “Eintlik dink ek wat ek doen, is om te lewe sodat ek ʼn storie kan skryf daaroor. Ek lewe ʼn storie. As dit nie so spectacular is dat dit ʼn storie kan word nie dan is ek baie unhappy daarmee.”

Sy is nie regtig ʼn beplanner as dit kom by haar skryfproses nie. “Dis ʼn skande,” lag sy. “Hierdie laaste boek (dis nou by die uitgewers) het ek in Rusland gesit en skryf terwyl ek vir die metro wag. Maar nou moet jy weet hoe klink dit – dit is ʼn helse lawaai. Dit is seker so 15, 20 minute op ʼn slag dan skryf ek gou ʼn bietjie, maar dis so lawaai jy kan jouself nie hoor dink nie. Dis ʼn absolute disaster. My ander boek het ek geskryf terwyl ek by die Tsjegge gewerk het; dan gee die ambassadeur vir my ʼn opdrag dan kyk ek hom so in sy oë terwyl ek skryf. So dis baie afgeskeep eintlik.”

Om te begin skryf is vir haar die moeilikste deel, om haar “gat in rat te kry”. “Die lekkerste deel is as daar verrassings gebeur. As dit nie gebeur nie, dan is dit terrible. Dan voel mens net siek, en dan kan jy dit nie gebruik nie. Daar moet iets gebeur wat jy nie self verwag het nie. Dit is wat belangrik is. En as dit nie gebeur nie, is dit terrible. Dan is dit nie eers moeilik nie, dit is beyond. Jy gooi dit weg. Dit kan nie bestaan nie.”

Om daardie oomblikke raak te sien, daardie verrassings en inspirasie, is volgens haar die belangrikste ding wat ʼn skrywer en kreatiewe mens moet kan doen. “Hy moet die tyd hê en hy moet die geduld hê om dit te sien. As dit daar is, moet hy dit vat. Hy moet die waarde daarvan kan sien.” Onderskeiding is egter ook belangrik, voeg sy by, want soms dink mens iets is goed en “dan sien jy o, hel, dit is maar nie so hot as wat ek gedink het nie. Dan moet jy probeer dat dit jou nie heeltemal vernietig nie.”

En wat van kritiek? “As ek kritiek vra, vat ek dit, maar as ek dit nie gevra het nie is ek baie ongeduldig daarmee. As dit iemand is wat ek dink “Wat de hel weet jy, in any case?” gaan ek nie my bek hou vir daardie ou nie.” Sy glo dis belangrik om iemand te hê wie se opinie jy vertrou, en vertel nostalgies dat sy altyd vir André P. Brink gevra het oor haar verhale. “Maar jy moet jou nie aan almal steur nie,” voeg sy by. Dit is vir haar nogal hartseer hoeveel potensiaal verlore gaan deur resensente wat veral debuutwerk “doodmaak”.

Sy is eintlik baie “cheeky”, erken sy. “Ek dink dis belangrik dat mens cheeky moet wees. Jy moet glo dat dit wat jy wil sê al is wat eintlik saak maak, want dit is al wat vir jou saak maak.” Dit is veral belangrik vir ʼn jong skrywer, dink sy. “Dis eintlik die ding: doen net wat jy wil. In die eerste plek; mens moet dit geniet. As mens enige kunsvorm nie geniet nie, nie een of ander baie diep bevrediging kry daaruit nie, dan is dit heeltemal futile. Maar as jy dit kry, doen jou eie ding. Dis al wat sin maak, want dis wat niemand anders kan doen nie.”

Sy vertel van raad wat sy eenmaal by ʼn Switserse filmmaker gekry het, wat gesê het jy moet jouself die hele tyd so sterk as moontlik projekteer. Die volgende boek waaraan sy werk, genaamd ʼn Huis om in te ek, gaan juis daaroor dat skryf ʼn plek waar jy jouself moet projekteer. “Dit beteken nie dit moet die heeltyd oor jouself gaan nie, maar jy moet jou eie angle projekteer die heeltyd.”

Haar nuutste boek gaan wel oor haar eie ervaringe in Rusland, en is tans by die uitgewers. “Dit is maar ʼn lang proses,” sê sy. Sy het al baie ervaringe gehad by verskillende uitgewers, wat nie altyd maklik was nie. “Elke keer dan kry ek ʼn fight met een en dan loop ek weer na die volgende een toe,” vertel sy laggend. Sy het haar eerste boek self uitgegee omdat niemand anders wou nie. Met die tweede een het sy na Human & Rousseau toe gegaan, waar Koos Human vir haar gesê het: “Ek stel nie belang in jou boekie nie en niemand anders sal daarin belangstel nie.” Sy kry wel op die ou einde ʼn uitgewer vir haar boek (Sewe en sewentig stories oor ’n clown), en dit kom op die kortlys vir die Rapportprys in 1986. Met die boek na daardie een, is Koos Human “baie nicer”, en vat haar selfs uit vir ete. Human & Rousseau gee ook die boek uit. “Maar toe word ek weer vies en toe is ek weer weg daar,” lag sy.

Sy sou baie graag wou leef van haar boeke, maar erken baie min mense kan. “Ek kan lank nie daarvan leef nie, maar ek sal baie bly wees as ek daai punt kan bereik waar ek regtig ʼn skrywer kan word en kan weet daar gaan nog genoeg kom dat ek kan leef daarvan.”

Dit is vir haar swaar dat sy nie ʼn werk in haar eie taal kon kry nie. Haar eie taal, waarna sy dikwels in van haar boeke verwys as ʼn ‘dooie taal’. Ek vra haar daaroor. “Ek onthou met Net ʼn lewe was dit spesifiek hierdie ding, ek het op ʼn stadium die obsessie gehad met die ‘spooktaal’ ding; en skryf in ʼn spooktaal en hoe die skryfproses in sigself soos ʼn spookagtige ding is. Jy skryf teen alle logika in nogsteeds in Afrikaans omdat hy dood is, basically, maar nou is daar nog ʼn spook wat praat.”

Dit bekommer haar dat Afrikaners nie bereid is om hulself en hul taal te verdedig nie. “Daar is ʼn groepie wat nog veg,” sê sy. “Dit is vir my baie goed, so as ek in ʼn spooktaal skryf dan is ek maar deel van daardie groepie eintlik.”

Fransi Phillips het al meer as ʼn dosyn boeke uitgegee, waaronder poësie, kortverhale soos Die horlosie se wysers val af en Hersverhale, en prosa soos Die donker god en Net ʼn lewe. Sy skryf ook kinder- en jeugboeke, en haar publikasies sluit in Nicholas se belofte en ʼn Baie lang brief aan Rolf. Fransi se nuutste boek is getiteld Liefde in die tyd van die internet, en word mid-2018 uitgegee deur Queillerie.

Fransi Phillips en An-Mari Fouché
Fransi Phillips en An-Mari Fouché

Kuier by Christien Neser

Ek was vol opgewondenheid (en ’n bietjie senuwees, as jong aspirerende skrywer) oor die geleentheid om op 13 Augustus die gewilde jeugverhaalskrywer, Christien Neser, te kon besoek. Christien het ingestem het om laatmiddag op ’n Sondag, op my pad terug Potchefstroom toe van Witbank af, ’n onderhoud te voer.

Elke skrywer het, uit die aard van die saak, hulle eie storie om te vertel, ook ten opsigte van hulle persoonlike ervaringe met die publikasieproses van hul boeke. Christien Neser is bekend vir werke soos die Elle-reeks (Kondensmelk, Koshuiskoffie, Duinebesies, ensovoorts) en Amper Einstein. Saam met haar voltydse werk as spraakterapeut, skryf sy graag as ’n stokperdjie. Sy het al van agtjarige ouderdom af daarvan gehou om stories te vertel, meestal vir haar jonger sussie, maar het dit eers in 2007 – die jaar wat sy vyftig geword het – as ’n beroep ernstig begin opneem nadat sy ’n ATKV Romanse-skryfkursus op die NWU Potchefstroomkampus bygewoon het. Dit is ook tydens hierdie kursus waar sy die idee vir haar eerste Elle-boek, Kondensmelk, ontwikkel het.

Kreatiewe en skryfproses

Christien het al baie met stories en verslae gewerk as integraal tot die beroep van spraakheelkunde. Skryf het dus nog altyd maklik vir haar gekom. Sy het as student ’n jeugskryfkursus onder leiding van Marthinus Basson bygewoon by die Universiteit van Johannesburg, so haar eerste ervaring met skryf was met jeugverhale – daarvandaan, waarskynlik, haar aanklank by die jeug as lesers. Haar eerste boek, Kondensmelk, het ontwikkel as gevolg van ’n huiswerkoefening tydens die ATKV Romanse-skryfskool in Potchefstroom. Hierdie idee het sy gebaseer op ’n onlangse Botswana-vakansie as agtergrond en het die tieners wat saam met haar op die vakansie was, as karakterbasisse gebruik. Die boek is deur Lapa-uitgewers gepubliseer en dit was die begin van groot dinge vir die boek asook die res van die reeks wat daarop gevolg het.

Die idee agter Koshuiskoffie, die tweede Elle-boek, was amper logies: Elle sou uit haar vorige skool na ’n koshuis toe verskuif na afloop van hulle Botswana-vakansie in die eerste boek. Blou Sjokolade het uit Christien se eie ervaring in Frankryk gekom, waar sy self van die unieke sjokolade geproe het wat soos die Franse dorp waaruit dit kom, se dakteëls lyk. Hieruit het die idee vir Elle wat daarvan droom om die sjokolade te proe, ontwikkel, asook waar sy dan gedwing was om dit prys te gee vir ’n Otter-staptoer saam met kankerpasiënte (gebaseer op werklike kinders waarmee Christien in haar werk te doen gehad het). Dit handel oor die tema van iets wat jy begeer wat dan op ’n teleurstellende wyse weggevat word, en hoe ’n mens dit hanteer om uiteindelik ’n onvergeetlike ervaring daaruit saam te neem. Rocksusters handel oor die tema van vooroordele, en hoe mense gereeld agter maskers wegkruip. Duinebesies was ook geïnspireer deur Christien se eie ervaringe in Namibië. In Franse Vlegsel word die reis-element wat Christien dikwels as inspirasie gebruik, duidelik uitgebeeld deur Elle se reis na Parys.

Baie van haar storie-idees spruit dus uit werklike ervaringe, reise en interaksies met jongmense. Amper Einstein se outistiese karakter, Micha, is gebaseer op ’n spesifieke seuntjie wat sy in sy graad R-jaar gediagnoseer het en mee gewerk het. Haar ervaringe met hierdie kinders in die werklike lewe is dus iets wat sy in haar skryfwerk inkorporeer, en dit dien ook ‒ veral in Amper Einstein se geval ‒ as ’n vorm van bewusmaking oor hierdie sosiale kwessies. Kinders van vandag, volgens Christien, is meer ingelig oor ernstige onderwerpe as wat ’n mens verwag en kan bydra tot die gesprekke daaroor. Dit was vir haar ’n bevredigende aspek van die publisering van hierdie boek, aangesien sy glo dat die kinderleser nie onderskat moet word nie.

Haar drie kinders het ook ’n invloed gehad op haar skryfwerk vir jongmense. Toe sy aan die Elle-reeks begin skryf het, kon sy die verwysingsraamwerk gebruik van haar kinders se interaksies met mekaar: die rebelse aard van haar dogter, wat in ’n privaatskool was, en die dankbare, rustiger geaardheid van haar twee seuns, wat in die koshuis was. Die uiteenlopende geaardhede, wat gedurig op ’n stryd tussen privaatskoolleerder- en koshuiskind-sieninge uitgeloop het, was vir haar ’n bron van inligting ten opsigte van konflik tussen verskillende jongmense, die manier hoe hulle met mekaar praat en die verskille in hoe hulle mense hanteer. Die uitbeelding van die koshuislewe het haar meer geïnteresseer – vandaar die toneelskepping vir die Elle-reeks. Baie van hulle huishulp se dogtertjie, Rosie, se eienskappe is ook prominent in die karakter van Elle se kamermaat, Refilwe.

Dit is opvallend hoe Christien gereeld inspirasie en inligting uit die werklikheid en regte mense in haar lewe put om haar fiktiewe werk meer geloofwaardig en treffend te maak. Dit neem haar ongeveer ses maande om ’n manuskrip te voltooi, vanaf die eerste oomblik wat sy die idee daarvoor gekry het. Dit hang ook af van hoe ver haar gedagtes vir die werk ontwikkel is. Sy skryf nie voltyds nie, en moet dus tyd máák om te skryf. Volgens haar kan die kognitiewe proses vir ’n manuskrip maande vat – die gedagte-ontwikkeling agter ’n storie neem gewoonlik langer as die fisiese skryf daarvan. Dit vat tyd om ’n idee vas te vang, dit te verander en aan te pas, los drade in ’n storie vas te maak, hoofstukke te organiseer en uit te werk watter karakters waarheen gaan in die verhaal.

Ervaring van publiseringsproses en uitgewers

“Dit het net gebeur,” is Christien se woorde as sy laggend antwoord op die vraag oor hoe dit gebeur het dat die Elle-reeks goedgekeur is vir publisering. Sy het aanvanklik slegs ’n hoofstuk van die verhaal aan Lapa-uitgewers voorgelê, wat toe nie aanvaar is nie omdat hulle slegs volledige manuskripte aanvaar. Nadat sy die manuskrip in twee maande voltooi het (ná baie kere se oorskryf), het sy dit weer aan Lapa gestuur. Die manuskrip is uitgegee en sy het met Lapa ’n kontrak aangegaan om aan te hou skryf aan die reeks. Sy skryf nou al sedert 2007 (10 jaar hierdie jaar) en het nog elke jaar minstens een boek uitgegee. Sy het die gesig begin raak vir alle ouer, ‘laat’ beginners in die veld van fiksie-skryf, en ’n ambassadeur vir die filosofie dat dit nooit te laat is om te begin nie.

Haar kontrak met Lapa is van so ’n aard dat hulle haar na afloop van ’n suksesvolle boek aanmoedig om nog een vir die reeks te skryf. Sy word effens beperk deur die voorskrifte met betrekking tot die verhaallyn, byvoorbeeld dat Elle eerder nie te lank buite die koshuiskonteks geneem moet word vir ’n oorsese reis of iets van daardie aard nie. Die rede hieragter, soos wat sy dit stel, is dat Lapa hulle mark goed ken: hulle weet wat hulle lesers wil hê, en as skrywers is dit wys om soms ’n bietjie jou ego te kruisig (“Kill your darlings”) en te hou by wat hulle weet tot goeie verkope sal lei. Omdat skryf vir Christien slegs ’n stokperdjie is, soos wat koeksisters bak vir iemand anders is, is sy afhanklik van die uitgewer om haar boeke uit te gee en hou sy by hulle raad.

Sy het tot op hede nog nie, anders as hierdie effense kreatiewe beperking, enige negatiewe ervaringe met Lapa gehad nie. Sy het wel Amper Einstein vir een van Lapa se skryfkompetisies ingeskryf, maar dit het uitgeval aangesien hulle nie geglo het dat tiener-lesers sou identifiseer met die tema van outisme nie. Sy het dit daarna aan NB-Uitgewers voorgelê, en hulle het dit aanvaar vir publisering. Christien noem dat sy by NB-Uitgewers ervaar het dat hulle baie goeie ondersteuning ten opsigte van proeflees en manuskrip-ontwikkeling gebied het, terwyl Lapa baie goeie bemarking en markgerigte vaardighede vir verkope toepas. Sy het die Elle-reeks by Lapa uitgegee, Amper Einstein by NB, en verskeie kortverhale wat in bundels soos Sweef (ook deur Lapa) uitgegee is. Sy het tot op hede nog nie erge negatiewe kritiek op een van haar werke ontvang nie: kinders kan in vandag se lewe, volgens haar, baie maklik ’n skrywer in die hande kry om te sê waarvan hulle gehou het in ’n boek, en waarvan hulle nie gehou het nie. Party wil selfs oudisie vir sekere rolle indien die boek ooit in ’n TV-reeks of film omskep sal word! Tydskrifte en resensente het egter nog nie uit-en-uit negatief op enige van die boeke gereageer nie.

Uit die manier hoe sy haar ervaringe weergee, is dit duidelik dat sodra jy ’n kontrak met ’n uitgewer aangaan, jy aan sekere voorskrifte en verwagtinge moet voldoen, maar dat hierdie voorskrifte ook – as gevolg van die uitgewers se kennis oor hulle mark – sal lei tot meer verkope. Indien jy nie bereid is om jou “darlings” dood te maak en die raad van die uitgewers te volg nie, is dit beter om na ’n ander uitgewer te gaan of self jou boek te publiseer – ’n komplekse en duur affêre, veral as jy nie ervaring daarin het nie.

Die uitgewersbedryf is ’n persoonlike ding in Suid-Afrikaanse literatuur, volgens Christien. Om hierdie rede is jou menseverhoudings van uiterse belang: dit kan noodlottig wees indien ’n uitgewer om die een of ander rede, soos sy dit stel, “’n gly in jou gevang het!”

Raad aan voornemende jeug- en kinderboekskrywers

’n Mens kry soms negatiewe kritiek by uitgewers, veral wanneer hulle op die eerste weergawe van jou manuskrip reageer. Dit is egter belangrik om verby die opstandige gevoel en die reaksie om dit sommer dadelik te wil los, te veg. Die uitgewers doen dit waarskynlik omdat hulle boeke wil verkoop, en dit is belangrik om gehoor te gee aan hulle voorstelle. Christien noem dat sodra jy ’n manuskrip moet oordoen, is dit ’n goeie idee om hom vir ’n rukkie eers te los en later met nuwe oë daarna te probeer kyk (met die uitgewers of proeflesers se kommentaar in gedagte). Dit voel later, nadat jy oor en oor aanpassings moes maak, dat die verhaal nie meer joune is nie – maar dit is steeds! “So jy moet maar die punch vat. Wat het jy om te verloor?” As jy nog afhanklik is van die uitgewer om jou manuskrip te publiseer, dan wil hulle ’n produk skep wat by hulle beeld en mark sal pas – dan moet jy maar by hul plan inspring en dit doen!

Verdere raad wat sy vir kinder- en jeugboeksrywers bied, is dat dit ’n goeie idee is om persoonlik met uitgewers te gaan praat of ’n skryfkursus by te woon. Hulle sê gewoonlik sommer reguit watter tipe boeke hulle nooit weer wil hê nie. Die huidige Afrikaanse mark is, volgens Christien, op soek na oorspronklike boeke vir kinders, en dit gaan als oor die vloei en interessantheid van die teks, die verrassingselemente daaraan verbonde, die bemagtiging van die leser en die skep van ’n krisis waaruit daar ontsnap moet word. “Hoe meer druk daar op die taal geplaas word, hoe meer koop hulle boeke,” sê sy, met verwysing na Afrikaans as skryftaal. “Ligter en lekkerder” is volgens haar ervaring die nuwe tendens in jeugliteratuur.

Dit is ook belangrik om altyd aan te hou skryf – elke skrywer ontwikkel later ’n eie gevoel van ritme, en sy/haar eie manier van skryf.

“Een ‘nee’ moenie noodwendig vir jou al die deure toemaak nie. Probeer ’n ander mark, ’n ander plek.” Sy sê ook dat dit beter is om ’n ander hoofinkomste van geld te behou. Daar is in Suid-Afrika nie veel meer as tien skrywers wat dit voltyds kan doen – vir ander is dit meestal ’n stokperdjie. Die skrywer sal dalk baie harde bene moet kou om by die punt van suksesvolle publisering uit te kom, maar dit is belangrik om aan te hou skryf. Daar is altyd ’n mark daarvoor!

Christien se vriendelikheid en gasvryheid (sy het selfs koffie en mini-stroopwafels voorgesit vir die amper-uur wat ons in haar sitkamer gesit en gesels het) is iets wat my opgeval het tydens ons gesprek, en ek het besef watter voorreg dit was om die werklike ervaringe van ’n gevestigde skrywer soos sy te kon dokumenteer. Haar volledige verduideliking van haar kennis en ervaring van die skryf- en publiseringsproses is iets wat beslis van groot waarde is vir toekomstige jeugverhaalskrywers.

Kuier by Martie Preller

Martie Preller is ʼn skrywer van formaat. Sy het meer as 50 boeke sedert 1992 die lig laat sien – uitsluitend vertalings van haar boeke asook die meer as 60 stories wat in die Loebi-leesreeks ingesluit is. Sy is die wenner van verskeie skryftoekennings, onder andere die goue en silwer Sanlamprys vir Jeuglektuur, drie ATKV-Veertjies en die Alba Bouwer-prys vir Kinderlektuur, om net ʼn paar te noem.

Martie Preller het in 1966 gematrikuleer te Hoërskool Gimnasium, Potchefstroom. Na voltooiing van haar skoolloopbaan het sy ʼn BA graad in Engels en Latyn verwerf aan die PU die CHO in 1969. In 1970 verwerf sy ʼn onderwysdiploma, op dieselfde kampus. Tussen 1988 – 1990 ontvang sy haar graad in sielkunde by UNISA en in 1991 haar honneursgraad in sielkunde.

Haar liefde vir skryf het reeds vroeg in haar lewe begin: sy het groot geword in ʼn huis vol boeke, waar almal gelees het. Hulle het ook gereeld die biblioteek besoek.

Op hoërskool het haar onderwysers gesê dat sy moet skryf (dit het haar baie gevlei) maar sy het nie geglo dat sy kan nie. Ten spyte van, soos sy sê, “al wat leef en beef” se aanmoediging, was sy alreeds 40 gewees voordat sy begin skryf het.

Ek het die voorreg gehad om met Martie Preller te gesels, spesifiek oor haar skryfwerk vir kinders – ʼn gebied waarin sy baie ervaring het.

Daar was nie enige spesifieke skrywers gewees wat gedien het as haar inspirasie om self ʼn skrywer te word nie – sy het haarself nie regtig aan hulle gesteur nie. Vir haar was hulle net name op ʼn boek gewees. Dit was vir haar die stories wat belangrik was.

Sy voel dat, indien ʼn skrywer ʼn kind aan die lees kan kry en ʼn liefde vir boeke kan gee, die kanse goed is dat hulle lewenslange lesers sal wees. Vir haar is dit juis die lekkerste deel van om vir kinders te skryf: om hulle as ‘t ware lesers te “maak”.

Met unieke en geliefde karakters soos Babalela, Balkie en Sebastiaan die pratende kat, het sy beslis ʼn liefde vir die skep van antropomorfies karakters vir haar kinderstorie-helde. Sy voel egter nie dat hierdie soort karakters meer effektief in ʼn kinderverhaal is as ʼn kind-karakter nie. Vir haar is die gebruik van antropomorfies karakters net nog ʼn manier om vir kinder-lesers te laat besef dat ander wesens wat anders as ons lyk ook swaarkry, bang is, ensovoorts.

Jamie en Sebastiaan omnibus

Martie Preller stel dat haar karakters soos Balkie en Babalela maar net kinders in ander gedaantes is. Sy voel nie sy “skep” hierdie eiesoortige karakters van haar nie – sy dink hulle is “maar daar rond” en dat sy hulle net gevind het – of hulle haar! Baie keer lyk ʼn boomtak of ʼn klip met mos op vir haar na iets lewendigs. Sy voel dat verbeelding natuurlik ʼn enorme rol speel in die skep van karakters en dat dit daarom so goed is om ook kinders se verbeeldings te aktiveer deur stories.

Vanuit al die kinderboeke wat sy al geskryf het, het sy nie ʼn duidelike gunsteling nie, omdat elke boek, volgens haar, met hul eie vreugdes en pyne bring. Geeneen van haar stories is, volgens haar, naastenby outobiografies nie en sy maak nie juis gebruik van haar eie ervaringe wanneer sy haar karakters skryf nie.

Volgens haar dra die illustrasies in kinderboeke beslis ʼn verdere dimensie tot die verhaal wat vertel word by. Sy vertel dat die illustrasies weer klein kinders help om hulle verbeelding te aktiveer sodat hulle later net woorde nodig het om die storie in hulle gedagtes te laat afspeel.

Op die vraag, wat die moeilikste deel van skryf vir jong kinders is, het Martie Preller die volgende geantwoord: “Om jou voete op die aarde en jou kop in die wolke te hou. Kinders is nie ‘ordentlik’ nie – as hulle verveeld is, is hulle verveeld. Dink maar aan die Keiser se nuwe klere – almal het gemaak asof hy nie kaal is nie, behalwe die kinders… Kinders gee nie om of die boek ’n prys gewen het of hoe bekend die skrywer is nie ens. Hulle stel net belang in die storie – en dis soos dit hoort.”

Haar kreatiewe proses om met nuwe idees vir karakters/boeke vorendag te kom, wissel baie, sê sy. Sy loop baie rond as sy vashaak en sy skribbel ook baie rond met ʼn pen en papier. Met die skryf van “In die tyd van Esob”, onthou sy dat sy sit en skribbel het en naderhand woorde agterstevoor begin skryf het. Dit het daartoe gelei dat die woord “ESOB” na vore gekom het en dit was toe die begin van die boek gewees.

Ter afsluiting: ʼn wenk wat Martie Preller het vir voornemende kinderboekskrywers is dat ʼn mens nie kinders hoef te hê om vir kinders te skryf nie. “Ons was mos almal kinders. Dis nie makliker om te skryf omdat dit eenvoudiger of korter is as volwasse literatuur nie. Belangrikste wenk: moenie ’n kind onderskat nie. Hulle is jonk maar nie dom nie (Keiser se nuwe klere …).”

 

Martie Preller stel dat haar karakters soos Balkie en Babalela maar net kinders in ander gedaantes is. Sy voel nie sy “skep” hierdie eiesoortige karakters van haar nie – sy dink hulle is “maar daar rond” en dat sy hulle net gevind het – of hulle haar! Baie keer lyk ʼn boomtak of ʼn klip met mos op vir haar na iets lewendigs. Sy voel dat verbeelding natuurlik ʼn enorme rol speel in die skep van karakters en dat dit daarom so goed is om ook kinders se verbeeldings te aktiveer deur stories.

Vanuit al die kinderboeke wat sy al geskryf het, het sy nie ʼn duidelike gunsteling nie, omdat elke boek, volgens haar, met hul eie vreugdes en pyne bring. Geeneen van haar stories is, volgens haar, naastenby outobiografies nie en sy maak nie juis gebruik van haar eie ervaringe wanneer sy haar karakters skryf nie.

Volgens haar dra die illustrasies in kinderboeke beslis ʼn verdere dimensie tot die verhaal wat vertel word by. Sy vertel dat die illustrasies weer klein kinders help om hulle verbeelding te aktiveer sodat hulle later net woorde nodig het om die storie in hulle gedagtes te laat afspeel.

Op die vraag, wat die moeilikste deel van skryf vir jong kinders is, het Martie Preller die volgende geantwoord: “Om jou voete op die aarde en jou kop in die wolke te hou. Kinders is nie ‘ordentlik’ nie – as hulle verveeld is, is hulle verveeld. Dink maar aan die Keiser se nuwe klere – almal het gemaak asof hy nie kaal is nie, behalwe die kinders… Kinders gee nie om of die boek ’n prys gewen het of hoe bekend die skrywer is nie ens. Hulle stel net belang in die storie – en dis soos dit hoort.”

Haar kreatiewe proses om met nuwe idees vir karakters/boeke vorendag te kom, wissel baie, sê sy. Sy loop baie rond as sy vashaak en sy skribbel ook baie rond met ʼn pen en papier. Met die skryf van “In die tyd van Esob”, onthou sy dat sy sit en skribbel het en naderhand woorde agterstevoor begin skryf het. Dit het daartoe gelei dat die woord “ESOB” na vore gekom het en dit was toe die begin van die boek gewees.

Ter afsluiting: ʼn wenk wat Martie Preller het vir voornemende kinderboekskrywers is dat ʼn mens nie kinders hoef te hê om vir kinders te skryf nie. “Ons was mos almal kinders. Dis nie makliker om te skryf omdat dit eenvoudiger of korter is as volwasse literatuur nie. Belangrikste wenk: moenie ’n kind onderskat nie. Hulle is jonk maar nie dom nie (Keiser se nuwe klere …).”