Annerle Barnard

Kuier by Annerle Barnard

Annerle Barnard is die skrywer van twee opvolgende jeugromans, Sweepslag en Sindikaat, wat albei in 2019 verskyn het. Cari Cloete het vir Annerle via e-pos-korrespondensie oor haar skryfwerk en -ervarings uitgevra.

Wanneer is jou passie vir skryf aangewakker?

Ek het op 15 reeds geweet dat ek graag eendag sou wou skryf. Ek het destyds net glad nie geweet hoe om hierdie droom te laat realiseer nie. Op 13 het ek Konsalik gelees, op 15 omtrent net rillers en my gunstelinge was Stephen King en Dean R. Koontz. Ook spanningsverhale: Robert Ludlum, ens. Sedert ek in graad een leer lees het, was ek mal oor boeke en voordat ek self kon lees, het my ma vir my baie stories gelees. Daar was altyd baie boeke in ons huis (fiksie en vakliteratuur) en beide my ouers het dikwels saans gelees.

Watter ander jeugromanskrywer(s) inspireer/beïnvloed jou?

Daar is ’n aantal. Afrikaans: Jan Vermeulen, Fanie Viljoen. Engels: Veronica Roth (Divergent reeks), Pittacus Lore (I am Number Four reeks), Suzanne Collins (Hunger Games reeks), Michael Grant (Gone reeks), Marissa Meyer (Archenemies reeks).

Hoe gaan jy te werk wanneer jy ’n nuwe storie skryf? Speel navorsing ’n groot rol in die beplanningsfase?

Ek doen ongelooflik baie navorsing. My stories begin gewoonlik met ’n idee en tot dusver het dit alles met aktuele kwessies te doen: mensehandel (Sweepslag), die handel in bedreigde spesies (Sindikaat), ens. Wanneer ’n idee aan my deur kom klop, begin ek met navorsing. Ek wil presies verstaan hoe sake in mekaar steek. Met Sweepslag, byvoorbeeld, wou ek onder andere weet hoe die handelaars dit regkry om, ten spyte van wetgewing, kinders van een land na ’n ander te smokkel. Vir my het dit destyds onmoontlik geklink. Ongelukkig is dit wel moontlik. Met bedreigde spesies (Sindikaat) wou ek weet hoekom op aarde hierdie spesifieke spesie in ’n huis in Bloemfontein gevind is. Dis dan ’n dier wat glad nie hier aard nie! (Ek het tydens my navorsing eers besef dat die produk in gedroogde formaat geberg was.) Onregte teenoor mense en diere ontstel my en ek wil altyd weet hóé die misdadigers dit regkry om ongestoord met hulle booshede voort te gaan. Min van my navorsing verskyn uiteindelik in die storie, maar vir my om iets geloofwaardig te kan skryf, moet ek die agtergrond verstaan. Daarom al die navorsing.

Mens kry ‘plotters’ en ‘pantsers’. Ek is beslis ’n pantser. Ek begin met ’n idee en weet min of meer waar dit sal heengaan, maar soms neem die storie ’n wending wat ek nie verwag het nie — en dikwels het dit met ’n nuwe stuk navorsing/inligting wat ek lees, te doen. Wanneer my storie vashaak en ek nie weet hoe verder nie, wend ek my dikwels weer tot navorsing.

Het jy ’n vaste skryfroetine? Indien wel, wat behels dit?

Ja, ek probeer om soggens vroeg te begin skryf. My ouers het altyd gesê ‘die oggendstond het goud in die mond’ en ‘vroeg begin is half gewin’ en ‘wat klaar is, is klaar’. Tydens ’n normale skooltermyn skryf ek vroeg soggens (tensy die een of ander krisis opduik) en smiddae is ek by die skool en ry kinders rond (of agter hulle aan wanneer hulle wedstryde speel). Sedert grendeltyd begin het, het ek ’n bietjie meer tyd vir skryf, want ek hoef nie skoolkos te beplan en die hele middag langs die sportveld te sit nie. (Wanneer ek egter so vir die kinders sit en wag, lees ek altyd. Soms lees ek vir die lekker, ander kere lees ek deur navorsing en soms werk ek in my motor op my skootrekenaar.)

Ek praat uit ondervinding wanneer ek sê dat aspirantskrywers baie keer in hulle skryfvermoë twyfel. Hulle raak onseker oor of hulle stories goed genoeg is en of daar enige teikenmark daarbuite is wat daarin sal belangstel. Wat hou jou gemotiveerd om nie moed te verloor as jy ’n storie skryf nie?

Ek skryf ten eerste dit wat ek self graag lees en daarom weet ek daar sal ’n teikenmark wees wat dit interessant sal vind. Ek ken immers baie mense wat dieselfde leesstof as ek lees. Verder sien ek ook watter tipe flieks en boeke my seuns en hulle maats interessant vind. Of dit goed genoeg is? Nadat my eerste poging met Sweepslag deur ’n uitgewer afgekeur is, het ek iemand vir ’n leesverslag betaal. Dit het my oneindig baie gehelp. Tans maak ek van betalesers gebruik om eerlike kommentaar te lewer. Ek het ’n vriendin wat vreeslik reguit is en sy lees al my manuskripte. Sy vra ongemaklike vrae (en dís juis wat mens wil hê). Omdat ek jeugromans skryf, kry ek altyd ’n tienerleser se insette ook. Ek hou die tieners fyn dop, maar my denke verskil uiteraard aansienlik van hulle s’n. Van onskatbare waarde vir my jeugromans, is die sielkundige wat ek altyd raadpleeg. Sy werk by uitstek met jongmense en wanneer ek onseker is oor die keuse wat ’n tienerkarakter sou maak, het sy altyd vir my die antwoord en motivering daarvoor.

Met die skryf van jeugverhale loop die skrywer die gevaar om onbewustelik ’n volwasse gehoor toe te spreek. Hoe het jy verseker dat die tienerkarakters in Sweepslag en Sindikaat geloofwaardig en identifiseerbaar is vir die beoogde teikengroep?

’n Aantal aspekte is hier ter sprake:

  1. Deur van ’n tiener betaleser gebruik te maak.
  2. Ná my heel eerste poging het ek besef dat my manuskrip soos ’n e-pos aan ’n kliënt klink. Ek het toe begin om aandagtig na my kinders en hulle maats te luister. Ook na vriende se kinders. Onder normale omstandighede is hier gereeld tienermaats wat by my seuns kuier. Verder spandeer ek noodgedwonge baie tyd by die skool en ry soms ander kinders ook rond wanneer hulle ’n saamrygeleentheid benodig. Wanneer hulle met mekaar gesels, luister ek baie fyn, want tieners se taalgebruik in gesprekke met mekaar, verskil van hulle taalgebruik tydens gesprekke met volwassenes.
  3. Betreffende die keuses wat my karakters uitoefen: ek praat gereeld met ’n sielkundige wat slegs met jongmense werk. Soms wonder ek oor die keuse wat ’n karakter sou maak. Die sielkundige kan altyd motiveer waarom ’n tiener daardie spesifieke keuse sou maak. Dis eintlik ’n ongelooflik interessante veld. Ek verstaan nou ook sekere optredes van my eie kinders (en hulle maats) beter.

Met Sweepslag en Sindikaat kom aktueel realiteitsverwante temas (kinderslawerny, korrupsie, seksuele mishandeling, kriminele aktiwiteite) sterk aan lig. Beplan jy om in die toekoms verder op hierdie temas te fokus?

Ek het eintlik nie ’n antwoord hierop nie. Wat ek wel kan sê is dat die tema waarmee ek tans besig is, ook aktueel is. Ek lees baie koerant/nuus en dit wat ek lees/hoor, dien dikwels as katalisator vir ’n storie. Ek vermoed my belangstelling in aktuele temas het ook met my liefde vir misdaadfiksie te doen. Dit wat ek lees, laat my vrae vra. Byvoorbeeld: as daar sulke streng sekuriteit by myne is, hoe kry mynwerkers dit reg om diamante uit te smokkel? En dan lees mens hoe sekere mynwerkers in ’n stadium onder andere vliegduiwe gebruik het om dit uit te vlieg. Fassinerend met watter skelmstreke die menslike brein alles vorendag kan kom!

Hoe verseker jy dat jou leser meegevoer bly? Watter tegnieke pas jy toe in jou skryfwerk wat die leser se aandag op die teks behou?

My seuns (en ’n aantal van ons vriende se kinders) is nié van nature gewillige lesers nie (beide seuns en meisies). ’n Hele aantal van hulle is baie sportief. Enige boek kompeteer dus nie net met elektronika en skerms nie, maar ook met ’n rugbybal, krieketkolf, netbalbal, of hokkiestok. As daar nie in ’n fliek/boek van die begin af reeds baie gebeur nie, verloor van hierdie besige kinders dadelik belangstelling. Ek het die onwillige lesers in my agterkop gehad ten tye van die skryf van Sweepslag en Sindikaat. Daarom het ek gefokus op korter sinne en redelik baie aksie sodat mens (hopelik!) die onwillige lesers se belangstelling sal hou. Paul Rudman (protagonis) is sportief: vlieghengel, muurbal, krieket, ens. Alicia (Sweepslag) doen gimnastiek en Karlien (Sindikaat) doen ook gimnastiek en is ’n model. Ek het doelbewus sportiewe karakters geskep in die hoop dat die sportiewe lesers by hierdie karakters aanklank sou vind.

In beide jeugverhale is Paul die protagonis en hoof-fokaliseerder. Is dit, in jou opinie, moeiliker of meer uitdagend om uit die oogpunt van ’n karakter te skryf wat die teenoorgestelde geslag van die skrywer is?

Nee, dit het vir my baie natuurlik gekom, miskien omdat ek twee seuns in die huis het. Verder is my fantastiese stiefdogter en ewe fantastiese skoonseun ook sportiewe, buitelug mense. Hulle almal se belangstellings sluit aan by die van my man; vlieghengel, sport en die natuur. Ek vermoed dit het ook ’n redelike groot invloed op my skryfwerk.  

Sou jy en een ander persoon in ’n hysbak vassit vir 30 minute, saam met watter karakters uit Sindikaat verkies jy om die tyd deur te bring? En hoekom?

Bossie. Ek wil hom ’n hengse klomp vrae vra (navorsing) wat ek in die toekoms sou wou gebruik. Ek hoop net hy sal lus wees om my vrae te beantwoord. Recces is dikwels redelik stug en baie goed daarmee om vrae te ontwyk. Andersins beslis Paul Rudman. Hy’s vir my ’n interessante karakter. Ek ken twee of drie mense soos hy: sad clowns. Baie vermaaklik! As dit egter een van daardie dae is wat die swart hond Paul se lewe oorskadu, sal hy waarskynlik baie min te sê hê. Dan eerder Karlien. Dalk kan sy my iets van mode leer, want as dit by klere en kleure kom, is ek redelik ‘clueless’.

As jy een wenk moet gee vir die skryf van ’n suksesvolle storie, wat sou dit wees?

Skryf wat jyself graag lees en lees soveel as moontlik.

Ek wil graag vir Annerle Barnard dankie sê vir dié geleentheid. Dis is die ervarings en insigte van reeds gevestigde skrywers wat toekomstige skrywers slyp. Annerle  se slagspreuk is Never give up! Skryf, in my opinie, is vrek moeilik en harde werk. Daarom is hierdie slagspreuk van toepassing op almal wat die passie deel.

Onderhoud met Carli Cloete
Carli Cloete is tans besig met haar MA-studie in Afrikaanse Skryfkuns aan die NWU.
Junie 2020