v_An-Mari Do Carmo_sw_300

Kuier by An-Mari do Carmo

“Ek het my belangrikste boek eerste geskryf. Ek dink my boek gee vir mense ʼn gevoel van hoop.” An-Mari do Carmo en Anneke Langner gesels oor die agtergrond van An-Mari se debuutroman, Toe als groen was.

An-Mari se storie

“Bestaan hierdie plek regtig? Gebeur hierdie tipe goed regtig vandag nog? Is dit nie iets van die verlede nie?” Dit is die tipe vrae wat An-Mari van mense oor haar boek kry. Haar antwoord bly altyd dieselfde: “Ja, die plek bestaan. Ja dit gebeur vandag steeds.”

Toe als groen was is ʼn Christelike jeugroman wat veral temas rondom geloof ondersoek. Die storie gaan oor ʼn jong meisie, Marné, wat uit haar ouerhuis van die Sederboom Sending ontsnap en by haar tannie in Klerksdorp gaan skuil. Selfs al kom sy fisies van die Sending af weg, is dit nie so maklik om geestelik daarvan te ontsnap nie. Daar is altyd die skuldgevoelens, die baie vrae en die werklike vrees dat hulle jou gaan soek en kom haal…  “Vrees en skuldgevoel: dit is hoe die Sending mense beheer.”

An-Mari do Carmo (voorheen Fouché) het ʼn unieke lewensverhaal. Sy het grootgeword in die KwaSizabantu Sending in KwaZulu-Natal. Hierdie sendinggenootskap is in ʼn onlangse ondersoek as ʼn kultus ontbloot, nadat baie mense hulle stories oor die Sending gedeel het. “Mense is geskok om te hoor dat alle feite waaroor ek in die boek skryf die waarheid is. Mense dink dis goed wat in die verlede gebeur het. Hulle besef nie dit gebeur vandag nog steeds, elke dag nie,” vertel An-Mari.

Hierdie talentvolle skrywer en redakteur het as kind op ʼn plaas grootgeword, maar haar ouers het aan die Sending behoort en haar volgens die reëls grootgemaak.

“Jy mag nie ʼn selfoon hê as jy nog op skool is nie.”

“Jy mag geen deel aan die wêreld hê nie.”

“Jy mag nie kontak hê met enige iemand, selfs familie, wat nie deel van die Sending is nie.”

“Geen verhoudings nie.”

“Geen vriendskappe met seuns nie.”

“Geen langbroeke, juwele, grimering of wêreldse klere nie.”

Dit is egter net enkele reëls. As tiener het An-Mari haar ouers se plaas verlaat en op die sendingstasie saam met haar ouma gaan bly, waar sy selfs nóg meer onder die reëls gebuk gegaan het. “Ek het van ʼn gelukkige, opgewekte kind op die plaas, na ʼn erg depressiewe tiener in die Sending verander.”

Gelukkig vir An-Mari, het haar ouers besluit dat sy moet studeer. Na haar matriekjaar begin An-Mari haar graad in Taal- en Literatuurstudies by die Noordwes-Universiteit (NWU). Hier het sy besef dat die woord wat die Sending verkondig, vals is en sy het begin om ʼn nuwe identiteit as Christen aan te neem. “My geloof het my gered en gemaak dat ek lewendig aan die ander kant uitgekom het. Geloof is die grootste en belangrikste gedeelte van my lewe – dit is die boodskap wat ek [met die boek] wou oordra.”

Na haar studies begin sy as kinder- en jeugboekredakteur by LAPA-Uitgewers werk. Daar was egter nog een ding wat An-Mari moes doen. Sy het ʼn storie om te vertel. ʼn Storie wat al lank in haar binneste vassit en aanhou klop om geskryf te word…

Oor Toe als groen was

An-Mari se skryfkunsdosent op universiteit was een van die eerste mense wat haar aangeraai om oor haar ervaring by die Sending te skryf. “Ek het altyd geweet my storie is iets wat ek moet skryf, maar ek was op daardie stadium nog nie gereed om dit te skryf nie.” Toe An-Mari ʼn paar jaar later begin het om die storie te skryf, kon sy nie ophou nie. Sy het nie eers aan haar plot beplan nie en haar storie net uit haar hart vertel. “Die karakters het bepaal wat gebeur en soos ek verder geskryf het, het die storie verder in my kop gevorm.”

An-Mari vertel dat alles wat in haar storie gebeur, wel al met iemand in die Sending gebeur het. Sy het brokkies van mense se stories aanmekaar gesit om die verhaal van Marné te vertel. “Ek het my belangrikste boek eerste geskryf. Ek dink my boek gee vir mense ʼn gevoel van hoop.” An-Mari reken dat haar boek die meeste vir mense sal beteken wat reeds van die Sending ontsnap het, maar sy het ook probeer om ʼn boek te skryf waarmee die meeste mense sal kan identifiseer, selfs al kom hulle nie van die Sending af nie.

Een van die vrae wat An-Mari kry, is “wat simboliseer die kleur groen?” Volgens haar het die kleur baie betekenisse, dit is die kleur van Marné se skuldgevoel, maar die groei wat tydens die verhaal plaasvind. “Die Sending is ook in die vallei van ʼn duisend heuwels geleë wat ʼn ongelooflike groen, en ironies genoeg, ʼn mooi plek is. Die leser kan self ook interpreteer wat die kleur vir hulle beteken.”

Marné se ouers besef uiteindelik, net soos baie ander mense wat die Sending verlaat, dat hulle hul lewe vir ʼn leuen gegee het. An-Mari hoop dat haar boek veral vir hierdie mense ʼn boodskap van hoop en van die Here se genade sal oordra. “Ek kan nie my geloof en my skryfwerk van mekaar skei nie,” glimag sy.

Anneke Langner en An-Mari in gesprek.

Oor die skryfproses en die pad vorentoe

Deel van An-Mari se skryfproses was om van haar ou dagboeke “uit te grawe” om te onthou hoe sy gevoel het toe sy Marné se ouderdom was. “Dit was ʼn baie emosionele proses, maar dit het my gehelp om die ou emosies weer te voel en dit realisties in my karakter uit te beeld.” An-Mari het haar boek vier tot vyf keer herskryf voordat dit gereed was vir publikasie. “Ek moes van my karakter se emosies minder intens uitbeeld, om uiteindelik ʼn groter impak te maak.” An-Mari lag as sy vertel dat sy gevoel het hoe dit voel om aan die skrywerskant van die publikasieproses te wees. Dit het haar as redakteur ook laat dink hoe sy weer met skrywers kan kommunikeer.

Dit was vir An-Mari ʼn groot voorreg om ook deel van die publikasieproses te kon wees. “Die uitgewer beskerm die skrywer teen baie dinge waarvan die skrywer nie noodwendig weet nie. As daar byvoorbeeld ʼn probleem by die drukkers is, dan hanteer die uitgewers dit en die skrywer is salig onbewus van alles. In hierdie geval was ek bewus van elke struikelblok en sperdatums wat gemis word en dit was ʼn baie stresvolle ervaring, maar alles het darem uiteindelik reg uitgewerk.”

An-Mari glo dit het haar ook baie gehelp om elke dag met jeugboeke te werk, sodat sy uiteindelik ook ʼn boek kon skryf waarmee meeste tieners sal kan identifiseer. “My redakteurstem het my gelei om my werk te herskryf. Dit het my baie agtergrondkennis gegee wat my gehelp het met praktiese kennis.” Rencha Buitendag was verantwoordelik vir die pragtige illustrasies, buitebladontwerp en uitleg van die boek. An-Mari het haar spesifiek gekies, omdat elkeen van haar boekontwerpe uniek is. “Rencha doen ongelooflik baie moeite en ek het geweet sy sal iets spesiaal met my boek ook kan doen.”

As jy Toe als groen was klaar gelees het, kan ʼn mens nie anders as om te wonder of daar ʼn volgende boek op pad is nie. Daar is goeie nuus vir die leser: An-Mari oorweeg dit om ʼn opvolg vir Toe als groen was te skryf. “Daar gaan miskien ʼn opvolg vir hierdie een wees – een van die vriendinne wat op die sending agterbly se storie en wat gebeur as Marne universiteit toe gaan. Maar dis nie iets wat op die oomblik gebeur nie. Dalk iewers in die toekoms.”

Verder is An-Mari tans met ʼn paar projekte besig. Op die oomblik skryf sy ʼn Christelike jeugroman in die romantiese genre. Sy vertel ook dat haar tyd as skryfkunsstudent by die NWU haar ʼn goeie fondasie en verwysingsraamwerk gegee het en haar aangemoedig het om wyd te lees.

Toe als groen was is ʼn debuut wat ʼn mens lank bybly. An-Mari slaag daarin om mense met haar hartroerende verhaal te boei. Haar antwoord op die vraag oor watter impak sy dink haar boek maak, is in die kol: “Ek dink my boek maak ʼn klein verskil, al is dit net om mense bewus te maak van wat aangaan.”

Anneke Langner
Anneke Langner is ‘n skryfkunsstudent aan die Noord-Wes Universiteit. Sy is tans besig met honneurs in Skryfkuns. 2022.
Augustus 2022
0
Would love your thoughts, please comment.x