Feiteblokkies stel lesers in staat om die nuwe opwindende wêreld van MonPetit beter te verstaan. Sodoende word ‘n nuwe leerervaring vir die lesers geskep.Anna Atoom en die seerower se dolk is Elizabeth Wasserman,hoof van Geneeskundige Mikrobiologie by die Gesondheidswetenskappe kampus op Tygerberg, se nuutste boek. Sy het haar loopbaan as skrywer begin met die Speurder Willem-reeks wat vir kinders tussen agt en tien geskryf is.Anna Atoom en die seerower se dolk gaan oor ‘n meisie, Anna Atoom, wat op die eiland van MonPetit bly. Haar ma, Professor Sabatina, en Maks, die superrekenaar, werk op die eiland by die mees gesofistikeerde weerstasie. Hulle doel, om mense te waarsku teen aankomende natuurrampe. Hulle hou ook die ekologiese stelsel dop om die aardbol teen die mens se besoedeling te probeer beskerm.Anna se pa, Admiraal Abraham Atoom, werk in ‘n ruimtestasie nadat ‘n aaklige ongeluk op MonPetit veroorsaak het dat sy liggaam nie meer die swaartekrag van die aarde kan weerstaan nie. Wanneer alge te vinnig begin groei en dreig om die see oor te neem en alle seelewe te verwoes, werk Professor Sabatina, Admiraal Abraham en Maks dag en nag om dit te keer.Met haar ma en pa wat so verskriklik besig is om die aarde te probeer red, en haar jonger broer, Pip, wat half mens half robot is, pokmasels kry, los dit tyd vir Anna om die geheime storie agter die bekende seerower Hodoul se dolk te kry. Haar soektog vat haar diep in die donker waters van die see in waar gevaar om elke hoek en draai skuil.Hierdie boek bevat alles waarvan ‘n leser kan droom wanneer dit kom by opwindende avonture. Elizabeth Wasserman vat die leser se ervaring nog een stap verder deur feiteblokkies binne die storie te plaas wat meer vertel van seelewe en ander interessanthede. Hierdie feiteblokkies stel lesers in staat om die nuwe opwindende wêreld van MonPetit beter te verstaan. Sodoende word ‘n nuwe leerervaring vir die lesers geskep.Interessante karakters skep ‘n element in die boek waarmee lesers kan identifiseer en wat maak dat hul verder wil lees. Van die eerste paar bladsye af waar Anna kla oor hoe vervelig skool is kan die leser met haar identifiseer. Reg deur die boek verseker Wasserman met haar kleurvolle karaktersketse dat die leser saam met Anna bang is wanneer ‘n reuse inkvis haar aanval, en saam met haar bly is wanneer alles aan die einde regloop. Wasserman se unieke tog eenvoudige manier van skryf maak dat die leser saam met Anna op onderwaterreise gaan, saam die seerower se skat gaan soek, saam die waarheid oopvlek en uiteindelik die wêreld teen die alge-bedreiging red. Spanning is om elke hoek en draai van hierdie verhaal en hou die lesers op hul tone.Anna Atoom en die seerower se dolk is ‘n kinderboek geskik vir lesers tussen agt en dertien. Wasserman se skryfstyl, die wonderlike wêreld van MonPetit en die naelbytende avontuur van Anna, kan maak dat ouer lesers ook moontlik hierdie boek interesant vind. Die taalgebruik in hierdie boek is heel eenvoudig en snaakse terme word deur oulike feite blokkies verduidelik wat dit ideaal maak vir hierdie teikenmark.Anna Atoom en die seerower se dolk neem die leser op ‘n reis deur die opwindende wêreld van MonPetit en met kleurvolle karakters wat maak dat mens nie die boek kan neersit nie. Hierdie boek sal nie bloot net ure se vermaak aan kinders verskaf en hulle meer leer van ons wonderlike nie, maar ook moontlik hulle inspireer om meer te lees.
Resensies
Middernagfees (resensie)
Smul aan hierdie Middernagfees!Jaco Jacobs dis vir ons ‘n middernagfees vol aliens, weerwolwe, monsters, vampiere en nog wat, op!Dié nuwe kinderfiksie-bundel laat ons jong lesers van lekkerkry gril en gretig omblaai vir die volgende bangmaakstorie. Middernagfees is vir lesers van 9+ jaar en die storie is geskik as ‘n voorlees- of selfleesboek. Op die spyskaart vind ons agt stories en ses gedigte wat happies insluit soos Die monstertoilet, Kamma-snot, Kom kyk na die Ongelooflike Paddaman en Flaffie (die zombie-poedel). Ek sien ook potensiaal vir ‘n konsert of kunswedstryd met ‘n storie soos Die Aliens is hier! of ‘n gedigge soos Varanus die Monsterlikkewaan.Jacobs se taalgebruik is na my mening wonderlik gebalanseerd – hy skryf vir vandag se jong lesers maar die taal bly steeds goed afgerond. Ek hou veral van sy eie idiome soos “sy’t ‘n humeur soos ‘n WWE-stoeier” (bl. 23) en verveliger as “‘n drie uur lange weervoorspelling” (bl.58). Jacobs is ook nie ‘n nuwe gedaante op die griltoneel nie. Uit sy pen kom die Grille & Goeters-reeks waaronder Tande, die Troetelgedrog, Voelers en Nag van die Monsters, van die bekendstes is. Wees dus gewaarsku – Jaco ken sy stuff!Chris Venter werk as vryskut-illustreerder en maak sy debuut in Middernagfees. Die illustrasies is uniek, vol detail en ondersteun Jacobs se heerlike humorsin. Elkeen is goed uitgedink en Venter slaag daarin om dit ‘n ‘jong’ gevoel te gee. Die ek-verteller in Vampiere en ander ouvroustories som die illustrasiekuns van Chris Venter vir my op: “Ek hou van die boek se voorblad. Dis lekker grillerig.” (bl. 32).Koop hierdie boek en geniet dit saam met jou kind – wie weet – dalk voel jy ook ‘n rilling of twee as jy alleen na jou slaapkamer toe moet loop…MIDDERNAGFEES
NOVA – Die begin (resensie)
Niemand weet ooit wat in Die Hok gebeur nie, maar niemand bevraagteken dit ook nie…
Nova: ‘n klein dorpie met groot geheime. Lucas Niemand en sy gesin woon in die klein dorpie Nova. Die groter gedeelte van hulle lewe is normaal en Lucas se pa – soos al die ander ouers van Nova – werk in Die Hok: ‘n navorsingsorganisasie. Niemand weet ooit wat in Die Hok gebeur nie, maar niemand bevraagteken dit ook nie. Totdat Lucas en sy gesin iets vreemds gewaar oppad terug van ‘n vakansie: iets wat soos ‘n VVV lyk.
Na die insident begin Lucas se pa vreemd optree en nóg vreemder dinge gebeur. Lucas Niemand en sy vriende besluit om ondersoek in te stel oor Nova se donker geheime en hoeveel van hierdie geheime te doen het met Die Hok.
Hierdie is ‘n baie geslaagde avontuurboek en beide meisies en seuns sal kan identifiseer met die verhaal. Voordat jy nog die eerste bladsy kan omblaai is daar al klaar aksie en jy word onmiddellik ingetrek. Die taalgebruik van Nova is baie van pas en die teks vloei maklik. Viljoen het dit (soos met al sy ander boeke) reggekry om die spanning konstant te hou en ook die leser aan die raai te hou.
Hierdie is die eerste van ‘n reeks boeke. Dit is die perfekte boeke vir kinders en die boek is net lank genoeg vir ‘n kind om nie verveeld te raak nie. Die boek is wel vir die groot kind bedoel, maar dit het weer die groot kind in my wakker gemaak. Ek was terug gevat na my dae van fietsry, boomklim en jou verbeel dat jy en jou vriend baklei teen die teen die een of ander buiteruimtelike wese. In die verhaal voel dit egter of dit realiteit word en dit vat die avontuurelement nog ‘n stap verder.
As ‘n geheel is hierdie ‘n baie suksesvolle boek (in genre, teikenmark, en elke ander opsig). Dit sal ook baie goed werk as ‘n reeksboeke en ek sal dit sterk aanbeveel.
Resensie deur: Burger Meyer


