Deel 2
Toe Werner die volgende dag skool toe stap, sien hy dat die werkers met die geel oorpakke al klaar weer besig is om die groot saag van die vragmotor af te laai. O, toggie, dink hy, dit lyk of hulle nou ál die bome wil kom afsaag.
Later die oggend begin dit baie hard reën. Dit reën só hard, dat Werner se ma hom ná skool met die motor kom haal en huis toe neem. Toe hulle by die parkie verby ry, sien hy dat die mans met die geel oorpakke weg is, maar dat daar nog ‘n paar bome stukkend op die grond lê.
Arme Dingemalêrie, dink Werner.
Dit reën en reën amper die hele middag. Toe die reën eindelik ophou, hardloop Werner parkie toe. Hy soek en roep na Dingemalêrie.
“Wiebl!” hoor hy by die swaai. “Wiebl, wiebl, wiebl, wiebl, WIEBLL!”
Die hele swaai sit vol Dingemalêries – kleintjies en grotes, ouma-lêries en oupa-lêries en sommer ‘n hele klomp baba-lêries ook. Almal is papsopnat en die baba-lêries huil en huil.
“Ai, tog,” sug Werner. “Julle gaan almal verkoue kry. Kom tog maar saam na my kamer toe.”
Hy druk die koue, nat Dingemalêries by sy hemp in en neem hulle na sy kamer. Hy gaan haal sy ma se haardroër om hulle droog te blaas en maak vir hulle ‘n lê-plek op sy bed.
Toe hy die volgende oggend moet skool toe gaan, slaap al die Dingemalêries nog. Werner gaan haal vir hulle brood en melk in die kombuis.
Hy weet hy gaan in groot moeilikheid kom as mevrou Saar die Dingemalêries in sy kamer kry.
“Jy hoef regtig nie my kamer skoon te maak nie, mevrou Saar,” sê hy voor hy skool toe gaan. “Dis regtig baie netjies.”
Sy kyk hom kwaai aan. “As jy weer vir my jok, Werner Weideman, gaan ek jou ma en jou pa by hulle werke bel en dan gaan ek die Burgemeester by sy werk bel en dan het jy GROOT MOEILIKHEID!”
Die hele oggend by die skool bekommer Werner hom oor die Dingemalêries in sy kamer. Hy begin sommer bewe as hy dink wat hulle alles daar kan aanvang.
Toe hy ná skool by die huis kom, wag Mevrou Saar en sy ma en sy pa vir hom by die hekkie.
“Ek het jou gesê ek gaan jou ma en jou pa bel as jou kamer nie netjies is nie,” sê mevrou Saar toe hy nog ver aankom. “Jy kan bly wees ek het nog nie die Burgemeester gebel nie.”
“Werner Weideman,” sê sy pa. “Jou kamer lyk erger as ‘n varkhok of as ‘n treinongeluk. Dit lyk soos ‘n rotsstorting.”
“Ai, tog,” sê Werner. “Dis die Dingemalêries wat so omgekrap het, pappa. Dis nie ék nie!”
“Ek het al lankal gesê daar gaan nog iets vreesliks in jou kamer uitbroei,” sê sy ma.
“Vir die volgende maand sit jy jou voete nie weer in die parkie nie,” sê sy pa. “Jy doen jou huiswerk en verder sorg jy dat jou kamer netjies bly. En van die Dingemalêries wil ek nie weer ‘n woord hoor nie.”
“Maar pappa…” begin Werner.
“Niks ge-maar nie,” sê sy ma. “Gaan pak reg jou kamer.”
Werner stap na sy kamer met voete wat sleep, so moedeloos is hy. Toe hy sy kamerdeur oopmaak, hoor hy ‘n ge-wiebl. Die Dingemalêries sit in ‘n lang ry op die gordynkap, wat nou op die vloer lê.
Werner kyk verbaas om hom rond.
“Hoe het julle dit reggekry om my bed om te draai en die kas op die vloer om te keer en die mat aan die lig op te hang?” wil hy weet.
“Wiebl, wiebl, wiebl,” vertel almal gelyk.
Die enigste ding in die kamer wat nog op sy plek is, is die bordjie met brood en melk wat hy die oggend vir hulle neergesit het.
“En hoekom het julle nie die melk en brood geëet wat ek gebring het nie?” vra hy. Die Dingemalêries word kwaad.
“WIEBL, WIEBL, WIEBL!” baklei hulle met hom.