Werner Weideman het ‘n maat wat niemand anders nog ooit gesien het nie.
Sy naam is Dingemalêrie.
Dingemalêrie woon in die ou parkie met die hoë bome oorkant die straat en hy is altyd bly om Werner te sien. Werner is net so bly om vir Dingemalêrie te sien, want hy mag nie maats in sy kamer kry nie. Sy ma sê hulle sal sy kamer deurmekaar maak. En mevrou Saar, wat elke dat die huis kom skoonmaak, sê hulle sal sommer die hele huis deurmekaar maak. Sy pa sê hulle maak dalk die tuin en die motorhuis ook deurmekaar.
Smiddae ná skool kan Werner nie wag om by Dingemalêrie te gaan speel nie. Hy eet sommer gou-gou sy middagete en doen so gou soos nou sy huiswerk en dan sluip hy in die gang af en uit by die voordeur, en…
“Werner Weideman, waar dink jy gaan jy heen?”
Ag, toggie! Mevrou Saar het hom gesien.
“Jou kamer lyk soos ‘n varkhok,” raas mevrou Saar. “Ek bel sommer die Burgemeester dat hy die koerant kan vra om ‘n foto te kom neem. Dan kan die hele dorp sien hoe deurmekaar jou kamer is.”
Werner gaan pak sy kamer reg so vinnig as wat hy kan. Hy maak sy lego’s bymekaar en gooi hulle in ‘n boks. Hy tel sy slaapklere van die vloer af op en druk sy boeke in die rak.
En toe hardloop hy gou-gou parkie toe.
Dingemalêrie wag vir Werner op ‘n swaai. “Wiebl, wiebl,” sê hy toe hy vir Werner sien.
Werner tel hom op en gaan sit op die swaai. Hy en Dingemaêrie swaai hoog en ver. En toe gaan draai hulle op die rondomtalie.
“Wieblllllll,” lag Dingemalêrie van die lekkerte. Skrrie-e-ek! skree die rondomtalie.
Toe dit begin laat word, sit Werner Dingemalêrie op die grond neer
“Gaan klim in jou boom, Dingemalêrie,” sê hy. “Ek moet nou huis toe gaan.”
“Waar was jy die hele middag, Werner?” vra sy ma toe hulle daardie aand aan tafel sit.
“Ek het met Dingemalêrie in die parkie gaan speel,” sê Werner.
“Jy met jou stories oor Ding… Dingemal-dinges,” frons sy pa.
“Hoekom speel jy nie liewer met jou nuwe rekenaarspeletjie nie?” wil sy ma weet.
“Maar dis lekkerder om met Dingemalêrie te speel,” sê Werner. “In my kamer is daar niemand wat saam met my speel nie.”
“Mevrou Saar kla dat jou kamer soos ‘n varkhok lyk,” sê sy pa streng. “Vir die volgende week bly jy smiddae in die huis. Jy mag nie parkie toe gaan nie. Miskien sal dit jou help om te onthou om jou kamer reg te pak.”
“Maar…” begin Werner.
“Niks ge-maar nie,” sê sy ma. “Jy’s gehok en dis klaar. Jou kamer lyk naar. Daar sal nog eendag vreemde goed onder jou bed uitbroei, as jy nie oppas nie.”
“Ja,” sê sy pa. “‘n Vreemde spesie, vir al wat ons weet.”
Vir een hele week kan Werner nie by Dingemalêrie gaan speel nie.
Elke middag wanneer hy van die skool af kom, moet hy reguit huis toe gaan. En wanneer hy klaar geëet het, moet hy kamer toe gaan om sy huiswerk te doen en reg te pak.
Die derde middag sien Werner dat daar ‘n groot doenigheid in die parkie is. ‘n Paar mans met geel oorpakke is besig om een van die groot bome in die parkie af te saag. Werner sit in sy kamer en kyk deur sy venster hoe hulle die saag laat brul en die boom met ‘n groot gekraak op die gras laat val. En toe begin hulle om die boom in stukke op te saag en op ‘n groot vragmotor se bak te laai.
Ai, toggie, dink Werner benoud. Netnou saag hulle Dingemalêrie se boom ook af!
Sê-nou net een van die mans trap op Dingemalêrie? Of ‘n boom val op hom? Of hulle ry met die vragmotor bo-oor hom?
Terwyl Saar in die kombuis besig is, hardloop hy gou-gou na die man wat die vragmotor bestuur.
“Hoekom saag julle die bome af?” vra hy.
“Hier gaan nuwe kantore vir die Burgemeester gebou word,” verduidelik die man. “Die parkie moet afgebreek word en die bome moet afgesaag word.”
“O, nee, asseblief! Julle moenie die parkie afbreek nie. Ek speel daar,” soebat Werner.
“Gaan huis toe, seun,” sê die man. “Dis nie meer ‘n plek vir kinders nie. Jy gaan net seerkry hier.”
Daardie middag wil Werner nie sy spaghetti en maalvleis eet nie.
“Wat is verkeerd, Werner?” wil mevrou Saar weet.
“Hulle gaan die parkie afbreek,” sê Werner.
“Dis goed,” sê mevrou Saar. “Dan kan jy elke dag by die huis bly en jou kamer regpak.”
Toe Werner se ma van die werk af kom, kom kyk sy na sy kamer.
“Jou kamer is mooi netjies, my groot seun,” prys sy hom. “Jy mag maar weer parkie toe gaan.”
Werner hardloop so vinnig as wat sy bene hom kan dra parkie toe. Toe hy daar kom, sien hy dat Dingemalêrie se boom weg is.
Dingemalêrie is ook weg.
Werner soek oral – op die swaai en by die wipplank en die glyplank en die rondomtalie.
“Dingemalêrie!” roep hy.
“Wiebl,” antwoord Dingemalêrie uit die vullisdrom.
Werner gaan haal hom dadelik daar uit. Dingemalêrie bewe vreeslik van die bang.
“Arme Dingemalêrie,” sê Werner. Hy steek hom in sy hemp weg en neem hom saam na sy kamer. Hy maak vir hom ‘n warm lêplekkie langs sy kussing.
Toe Werner die volgende oggend moet skool toe gaan, lê Dingemalêrie nog vas aan die slaap. Werner vat vir hom ‘n bietjie melk en ‘n stukkie brood kamer toe.
Hy is baie bang mevrou Saar kry vir Dingemalêrie in sy kamer.
“Mevrou Saar,” sê hy voor hy skool toe stap. “Jy hoef regtig nie my kamer te gaan stofsuig nie, hoor? Dis regtig baie mooi netjies.”
Maar toe Werner van die skool af terugkom, wag sy vir hom by die hekkie.
“Ek gaan vir jou ma vertel jy jok vir my,” raas sy. “Gaan dadelik na jou kamer toe en pak dit reg. Dit lyk soos ‘n varkhok! As dit nie voor vyfuur vanmiddag netjies is nie, bel ek die Burgemeester.”
Toe Werner sy kamerdeur oopmaak, kan hy sy oë nie glo nie. Mevrou Saar is reg.
Sy kamer lyk erger as ‘n varkhok. Dit lyk soos ‘n treinongeluk, so deurmekaar is dit.
Dingemalêrie sit bo-op sy rekenaar.
“Wiebl!” sê hy kwaad toe hy vir Werner sien.
“Kyk hoe lyk my kamer!” sê Werner. “Hoekom het jy alles omgekrap?”
“WIEBL, WIEBL,” raas Dingemalêrie. Hy het glad nie van die brood en melk geëet wat Werner vir hom gebring het nie.
“Ek is jammer as jy nie van die kos hou nie,” sê Werner. “Ek weet mos nie wat jy eet nie.”
Mevrou Saar maak die deur oop. “Met wie praat jy?” wil sy weet.
“Met Dingemalêrie,” sê Werner.
“Ek sien niemand,” sê mevrou Saar.
Werner kyk om. Dingemalêrie het spoorloos verdwyn.
“Jou ma sê lankal daar gaan nog goed in hierdie kamer van jou uitbroei,” waarsku mevrou Saar.
“Dingemalêrie, waar’s jy?” vra Werner toe sy weg is.
“Wiebl, wiebl,” antwoord Dingemalêrie bo van die gordynkap af.
Werner klim op sy lessenaar en haal Dingemalêrie af. Toe steek hy hom onder sy hemp weg en neem hom terug parkie toe.
“Dingemalêrie,” sê hy toe hy hom op die grond neersit. “Jy mag nie weer na my kamer toe kom nie. Jy sal maak dat ek vir twee weke gehok word.”
Tot dit donker is daardie aand, pak Werner sy kamer reg.