draak

Is jou ma ‘n draak?

Lynné en Gerhard Maré
Wenner in Storiewerf se Vonkelkompetisie 2007 (ouer en kind)

‘n Kreatiewe kreature-storie

Johan is so opgewonde dat hy al voor die wekker lui wakker is. Hy trek dadelik aan en kam sy hare vir skool. Vandag moet al die kinders foto’s van hulle ma’s saambring om vir juffrou Hannelie te wys.
Niemand in die klas het nog ooit Johan se ma gesien nie. Want Johan se pa laai hom in die oggend by die speelskool af en na middagete ry Johan weer met die skool se minibussie huistoe. 

Johan besluit hy gaan sy ma se foto vir al sy maats wys. Maar heel eerste wys hy dit vir Ruan. Ruan kyk lank na die foto, maar sê eers niks nie. Al wat gebeur is dat Ruan sy voorkop vol plooie trek en sy mond begin oophang.
Later kan Ruan dit nie meer hou nie en vra: “Johan, is jou Ma ‘n draak?”

“Natuurlik nie!” antwoord Johan vies. “Lyk ek miskien vir jou soos ‘n draak?”
“Maar…” vra Ruan, “Is jou ma vir jou mooi?” 
“O ja,” sê Johan: “My ma het die mooiste sagste, groenste oë in die hele wêreld! My pa dink ook Mamma is pragtig.”
Ruan wonder darem en vra: “Maar haar nek lyk net soos ‘n slang?”
“O, dit,” sê Johan. 

“Mamma het laasjaar die hek met haar motor omgery. Pappa sê dis omdat sy alweer nie agter haar kyk nie! Maar ek weet Mamma kon nie agter haar sien nie, want haar nek was te styf om om te kyk. Vandat Mamma vir haar ‘n slangnek gekry het, kan sy haar kop heen-en-weer en vorentoe-en-agtertoe draai en orals mooi sien. Nou sal sy nooit weer haar motor stamp nie.”
“Maar,” vra Ruan verder, “Haar mond lyk dan soos ‘n eend se bek?”
“O, dit,” sê Johan. 
“Mamma klets so graag op die telefoon dat sy ‘n eendbek gekry het. Maar dis wonderlik, want nou kan sy elke aand met slaaptyd vir my lekkerbekstories vertel.”

Ruan is nog nie tevrede nie en vra weer: “Maar haar hande en voete lyk dan soos eendpote?” 
“O, dit,” sê Johan. 
“Mamma en Pappa hou vreeslik daarvan om te dans. Een aand het Mamma so baie gedans, dat sy later pootuit was. Sy het toe liewer haar dansskoene vir pote omgeruil. Nou kan sy heelaand met Pappa dans sonder om seer voete te kry.” 
“Ja, maar wat van haar hande?” vra Ruan. 

“Ag, dis net omdat die seep haar hande skurf maak as sy skottelgoed was. Nou het sy sagte hande, want sy dra haar oranje rubberhandskoene as sy skottelgoed was en as sy gaan swem.” 
Ruan kyk weer na die foto. Johan se ma se lyf lyk nog steeds snaakserig en daarom vra hy: “Nou, hoekom lyk jou ma se lyf soos ‘n koei?” 
“Sies, jy is lelik!” sê Johan. “My ma mag miskien baie van pienk melkskommels hou, maar sy is beslis nie ‘n koei nie! Dit is net haar gunsteling leerjas wat sy so graag in die winter dra.” 

Alles is nog oraait, dink Ruan, maar Johan se ma het vlerke. Hy dink nog steeds sy moet ‘n draak wees. “Johan, maar hoekom het jou ma dan vlerke?” 
“O, dit,” sê Johan, wat al verveeld met al die vrae is. “Mamma gebruik haar vlerke om elke aand vir ons drome op die maan en tussen die sterre te gaan haal. Sy sê dit is soveel vinniger om te vlieg. Nou kan sy eerste daar wees en net die beste drome kry.”
“Maar,” hou Ruan vol, “Jou ma het dan ‘n lang stert met doringhakies?” 

“O, dit . . . dit is nogal oulik!” lag Johan. “Dis net omdat ons tuimeldroër gebreek het. Nou kan sy al ons nat wasgoed aan die doringhakies haak en met haar stert droogwaai. En as ons winkels toe gaan, hoef ons nie nog met ‘n groot trollie te sukkel nie. Mamma haak sommer die inkopiesakke aan haar stert.”
Maar daar is nog steeds iets van Johan se ma wat hy nie sommer so maklik kan wegverduidelik nie. Daarom vra Ruan: “Johan, maar daar kom dan vlamme en rook by jou ma se neusgate uit, net soos by drake.” 

“O, dit . . . dit is regtig pret!” sê Johan opgewonde. “Nou, kan ons elke oggend roosterbrood eet. Mamma maak ook elke Saterdagaand sommer tjop-tjop lekker braaivleis en blaas op my pienk malvalekkers tot hulle ontplof.” Johan hou baie van Ruan. Dit klink vir hom asof Ruan nogal baie van drake weet. Johan gee ook nie regtig om dat Ruan sulke lawwe vrae oor sy ma vra nie. 

Maar skielik dink hy aan iets. Hy het ook nog nooit Ruan se ma gesien nie. “Ruan, kan ek bietjie jou ma se foto sien?” 
“Nee!” fluister Ruan benoud. 
En nou wonder Johan darem regtig en vra: “Ruan, is jou Ma dan ‘n draak?”

(Skrywers: Lynné en Gerhard Maré)

Lynné en Gerhard Maré
Die storie is geskryf deur Lynné Maré saam met seun Gerhard Maré (10) Die storie was die wenner in Storiewerf Vonkelfiksie Kreatiewe Kreature Skryfkompetisie 2007 – Afdeling E
Kopiereg: Lynné en Gerhard Maré
2007-09
0
Would love your thoughts, please comment.x