Professor Trommeldikkus waai weg

Professor Trommeldikkus gee ’n lang gaap en maak sy oë oop. Dit is al wragtig weer Maandag. Die dae vlieg regtig verby. Dit voel regtig asof dit net gister Vrydag was. Gelukkig is dit nog vakansie, so hy hoef nie klas te gee nie. Hy sug en spring van die boomtak af waarop hy gelê het.

Nou dink jy dalk: O, gaats! Professor Trommeldikkus gaan die grond baie hard tref. So hard dat die mense in Amerika gaan dink dis ’n aardbewing.

Ek bewonder jou verbeelding, maar jy is heeltemal verkeerd. Professor Trommeldikkus is defnitief nie só dik dat die aarde bewe as hy val nie. Nee, Professor Trommeldikus lyk soos die “i” in sy naam, net baie langer. Hy weeg byna niks nie. As hy uit die boom spring, dan sweef hy tot onder. Behalwe, as die wind hom wegwaai… en dit is presies wat vandag gebeur.

Nou wil jy seker weet: Wat op dees aarde het hy in die boom gemaak? Wel, hy bly in die boom. Ja, maar hoekom blý hy in die boom? Want hy wil. Dis mos nou maklik.

Terug na Professor Trommeldikkus. Hy is besig om saam met die droë blare en stof tussen die boomtakke deur te “vlieg”. Hy lyk so kalm soos badwater. Hy koes nie eers vir die boomtakke nie. Dit is mos nie die eerste keer wat so iets gebeur nie. Hy wéét hy is so maer die wind gaan hom nooit in ’n tak vas waai nie. Gewoonlik waai die wind hom so 100m en dan is hy weer op die grond. Dis nou maar pas dertig meter, so alles loop nog goed. Professor Trommeldikkus vou sy hande agter sy kop en maak sy oë toe. Hy kan net sowel slaap terwyl hy wag vir die wind om hom neer te sit.

’n Mens kan heeltemal verstaan dat Professor Trommeldikkus nog bietjie wou slaap. Maar hy moes regtig eers sy graad in Windkunde aangewend het om uit te werk hoe sterk die wind waai. Dalk moes hy ook sy graad in Basiese Logika gebruik het om te besef dat dit nie ’n vreeslike goeie idee is om in die middel van die lug te slaap nie.

Toe Professor Trommeldikkus uiteindelik sy oë weer oopmaak, sweef hy nog steeds saam met die droë blare en stof in die lug rond. Onder hom strek die Vrystaat se welige grasvlaktes en die son sit eensaam in die oop blou lug. Daar is nie ’n boom in sig nie. Dit kan nie wees nie. Hy droom seker. Skielik waai daar ’n astrante stofkorrel in sy oog. Dis vrek seer. Nee, hy droom definitief nie!

“AATISHOE!” Om alles te kroon het hy nou hooikoors van die stof.

Professor Trommeldikkus kyk om hom rond en probeer dink waar hy is. Hy kyk en kyk, maar al wat hy sien vaal gras en doer in die verte klein bloubergies. Daar is niks wat hy kan herken nie. (Dit is heeltemal verstaanbaar, veral as ’n mens daaraan dink dat Professor Trommeldikkus Geografie op skool gedruip het.)

“AAATISHOEEE!” Professor Trommeldikkus begin paniekerig raak en dit maak dat hy erger nies.

“AAAAAATTISHOEEEE!!” Hy knyp sy neus met sy vingers toe en probeer die nies keer, maar dit werk nie. Al wat gebeur is dat hy nou snotterige vingers het.

“AAAAAAAAAAAATTTTIIIIISSSSSHHHHOOOOEEE!!!!!!!”

“Shoe, ’n mens sit mos darem ’n hand voor jou mond as jy nies, jou ongemanierde skobbejak!” sê ’n stem uit die lug bokant hom.

“AAAA –“  Professor Tromeldikus skrik so groot hy vergeet sommer van sy nies. Bokant hom sweef ’n baie groot en baie vies voël..

“Jy het my amper heeltemal van koers af genies! Het jou ouers nie vir jou maniere geleer nie?”

“Ag, ekskuus! Ek is baie jammer.” Professor Trommeldikus voel opreg jammer.

Die voël met die blink swart vere skud sy kop en snuif: “Gmf!” Dan is dit of hy vir die eerste keer besef hy praat met ’n vlieënde man. “Wat op dees wolke maak jy in die lug?”

Professor Trommeldikkus sug. Dis nooit lekker as jy jou vernederende stories moet oorvertel nie.

“Ek het aan die slaap geraak en nou weet ek nie waar ek is nie,” brom hy.

“HAHAHAHA!”

Dat die voël nog die vermetelheid het om vir hom te lag!

“Jy is in die land waar die voëlkoning heers”

Professor Trommeldikkus bedank die voël vir die inligting. Nou weet hy darem waar hy is. Net jammer hy weet nie wáár die voëlkoninkryk is nie.

Die voël lag weer. “Tussen die bergpieke tussen die vallei en die lug – daar woon die voëkoning. Hy sal jou help om jou pad terug te kry.”

Met ’n kragtige flap van sy vlerke, is die groot swart voël weg.

Agter die berge tussen die lug en die vallei – daar woon die voëlkoning. Nee, dis nie reg nie. Tússen die pieke, tussen die vallei en die lug – dáár woon die voëlkoning. Wat beteken dit? Dit maak mos glad nie sin nie! Hoe kan iets tussen die vallei en die lug wees? Gelukkig is Professor Trommeldikkus nie sommer net ’n gewone mens nie. Hy is nie ’n professor vir niks nie. Hy weet wat dit beteken.

Hy glimlag in sy noppies en pluk, sommer so in die verbyvlieg, ’n groot blaar van ’n piesangboom af. Nou dink jy seker piesangbome in die Vrystaat? Dit kan eenvoudig nie wees nie. Wel, jy is heeltemal reg. Daar groei nie piesangbome in die Vrystaat nie. Arme Professor Trommeldikkus het nou al so ver gewaai dat hy al lankal verby die Vrystaat is en homself nou in KwaZulu-Natal bevind. En piesangs is mos tropiese bome en kom volop hier voor. Professor Trommeldikkus is regtig slim, hy gebruik die piesangblaar soos die roer van ’n boot om hom in die rigting van die grootste twee pieke te stuur. Hierdie keer doen hy moeite om die windspoed van die wind te bereken. Professor Trommeldikkus leer darem uit sy foute. As alles goed loop, is hy voor 10 uur by die huis.

Ongelukkig vir arme Professor Trommeldikkus is die wind nie baie betroubaar nie en waai dit soms vinnig en soms stadig. 10 uur kom en gaan sonder dat hy die paleis van die voëlkoning bereik het. 12 uur kom en gaan en Professor Trommeldikkus is honger. (Dis weereens baie verstaanbaar; hy het gisteraand laas geëet.)

Uiteindelik bereik hy die twee bergpieke. En raai? In die middel van die twee pieke hang ’n reusagtige nes van boomstompe en wol, wat met dik kabels aan die kranse vasgemaak is.

Kan jy dit nou glo? Tussen die twee bergpieke, tussen die vallei en die lug – daar hang die nes! En in die bek van die nes sit die blink swart voël wat Professor Trommeldikkus vroeër die oggend gesien het.

“Wel gedaan, Professor Trommeldikkus! Jy het my woning gekry.”

“Jy! Nou is ek eers jammer dat ek op u koninklike voëlheid genies het!” sê Professor Trommeldikkus verleë.

“Hahahah! Jy is ’n ander soort mens Professor Trommeldikus! Ek was baie vies vir jou en wou jou straf vir jou ongemanierdheid. Daarom het ek jou nie van die begin af gehelp nie. Kom, laat ek jou huis toe stuur.”

Die voëlkoning vlieg op en gee ’n paar harde flappe met sy vlerke. Dit word ’n harde rukwind wat Professor Trommeldikkus heeltemal onderste-bo waai. Skaars het hy tot tien getel of hy is terug by sy boom.

Professor Trommeldikkus is so deurmekaar gewaai dat hy eers ’n rukkie op die gras onder die boom gaan sit en probeer om sy arms en bene te ontknoop. Omdat hy so dun is het die sterk wind hom gekoek en geknoop dat hy soos ’n gekoekte bondel wol lyk. Toe hy uiteindelik al die knope en kinkels uit het, staan hy op en gaan gooi vir homself van sy Smul-En-Lip-Lek-Lekker-Ontbytgraan in vir middagete.

Van daardie dag af slaap Professor Trommeldikus met ’n veiligheidsgordel om hom. En elke aand voor hy gaan slaap, dan drink hy ’n anti-hooikoors pil om te keer dat hy nie perongeluk in sy slaap begin nies nie!

Spits durf die donker aan

Spits, die tuinkabouter, sit heel agter op die verste paddastoel van die res van die kabouters af. Oupa Vaatjie het al die tuinkabouters bymekaar geroep vir ’n belangrike vergadering. Die donker hoekie van die tuin waar hulle nou sit, gee vir Spits koue rillings. Hy kyk op om seker te maak hy kan nog die son deur die reuse akkerboom se blare sien skyn.

Die ander tuinkabouters hou van die donker koelte, maar Spits raak sommer bang as hy nie die son kan sien nie. In die aand wanneer die res van die kabouters na hulle huisies onder die grond kruip, gaan krul Spits alleen op onder die lig op die huis se stoep. Dan kan hy sommer lekker slaap sonder nagmerries.

Spits kyk na al die tuinkabouters wat voor hom sit en kwetter terwyl hulle wag vir Oupa Vaatjie. Hulle ronde rooi neuse steek uit oor lang sneeuwit baarde. Spits vat aan sy eie gesig. Sy eie wange en ken is heeltemal te glad. Hy gaan seker nooit ’n baard hê soos die res van die kabouters nie.

“Kom uit my pad uit, Spitsneus!” grom Fungus skielik hier langs hom.

Wanneer Spits vir Fungus sien, word sy hele lyf sommer stokstyf.

“Gaan weg, Fungus! Ek was eerste hier,” probeer hy met ’n harde stem sê. Ongelukkig klink dit meer soos die gehuil van ’n ballon wat stadig afblaas.

“Moenie laf wees nie, Spitsneus! Jy dink seker jy is die baas van die bedding,” lag Fungus met skewe groen tande. “Hoekom is jy so stil? Alweer bang?”

Spits se kop vol dolleeg en hy kan aan niks dink om vir die nare kabouter te sê nie. Terwyl hy nog dink, stamp Fungus hom sommer met een hou van die paddastoel af. Spits val so hard op die grond, dit voel of die bene so skud in sy lyf. Ai! nou is daar modder op sy gunsteling geel stewels.

Ai! nou is daar modder op sy gunsteling geel stewels.

Fungus lag sy aaklige kraai-lag, en Spits weet dit sal nie help om nog iets te sê nie. Sonder ’n baard en ronde neus, sal die ander kabouters hom altyd spot.

“Stilte!” dreun Oupa Vaatjie se stem oor die see van kabouters.

Spits spring regop, maar hy kan nie vir Oupa Vaatjie sien nie! Hy is te kort. Stadig begin Spits onderdeur die paddastoele waarop die ander kabouters sit, kruip. Hy wil reg voor Oupa Vaatjie kan sit.

“Tuinkabouters, ons het nog altyd in vrede met die mense van Silwerstraat nommer 17 gewoon. Ons het hulle tuin laat slaap in die winter en laat blom in die somer.” Oupa Vaatjie frons. “Ongelukkig is daardie dae nou verby.”

Kabouters snak na hulle asem en die tuin zoem soos hulle onder mekaar fluister. Spits kruip al hou nader aan waar hy vir Oupa Vaatjie hoor.

“Dis reg, kabouters,” sug Oupa swaar. “Die besproeiingspype is besig om te lek en kabouterhuise oorstroom! Die Von Kappertjie gesin is heeltemal haweloos nadat water in hul ondergrondse huisie ingelek het.”

Spits steek vas in sy spore. Hy het al gehoor van ander tuine waar waterpype onder die grond gaatjies in kry en dan kabouterhuisies in damme vol water verander. Nou is Spits baie bly dat hy nie onder grond slaap nie.

“Ons sal moet trek!” huil ’n kabouter uit die skare.

O nee! dink Spits. Wat as die nuwe tuin waar ons woon nie ’n stoep met ’n lig het nie?

“Ons kan nie trek nie!”

Die tuin is tjoepstil.

“Wie praat?” kraak Oupa Vaatjie se stem.

Spits sit heel agter op die verste paddastoel

Spits staan stadig regop, maar sy kop steek skaars bo die paddastoele uit. Hy skarrel so vinnig as wat sy dun beentjies hom toelaat tot voor die kabouters op hul paddastoele. Hy kyk reg in Oupa Vaatjie se dik bril vas. Almal kyk vir hom. Spits se wange voel vuurwarm.

“Ons kan nie trek nie,” sê hy weer in ’n stemmetjie wat effens bewe.

Oupa Vaatjie kyk na Spits met oë so groot soos pierings. “Wat anders moet ons doen, klein Spits?”

Spits kyk om hom rond en sien al die kabouters wat met opgetrekte wenkbroue na hom staar. Hy weet dat hy ’n plan sal moet voorstel, anders gaan hy soos ’n groter gek as gewoonlik lyk.

Sonder om te dink knyp hy sy oë toe en bars uit: “Ek sal die stukkende pyp regmaak!”

“Wat!?” roep ’n skril lag-stem iewers uit die skare.

“Weet hy die pype is ondergronds?” fluister ‘n ander kabouter.

“Spits is dan so bang vir die donker, hy skrik as hy sy oë knip!”

Daardie laaste woorde kom beslis van Fungus af. Ek sal hom wys, dink Spits en staan ekstra regop. Hy draai na die skare en ignoreer die snaakse kyke en kommentaar van Fungus en sy trawante.

“Julle het reg gehoor, ek sal die stukkende pyp regmaak sodat daar nie meer water in die kabouterhuise instroom nie.”

Selfs Fungus en sy maats is stil. Spits staan steeds met sy rug so reguit dat dit amper begin pyn.

“Nou goed,” brom Oupa Vaatjie. “Dan wens ons jou sterkte toe, Spits.”

Spits kan nie glo dat Oupa Vaatjie hom nie probeer keer het nie, en hy glimlag breed. Die res van die kabouters lyk nie so gelukkig nie. Niemand juig, klap hande of kom sê vir Spits hy is ’n held nie. Brom-brom keer die wat kabouters terug na hulle tuinwerk.

Toemaar, troos Spits homself, ek het hulle nie nodig nie.

Hy pak ’n grafie, nektar-koeldrank, en ’n suurwurm wat hy verlede week ná ’n kinderpartytjie in die tuin opgetel het, in sy rugsakkie.

Die aand wag Spits tot dit donker is en al die mense in die huis slaap. Hy pak ’n grafie, nektar-koeldrank, en ’n suurwurm wat hy verlede week ná ’n kinderpartytjie in die tuin opgetel het, in sy rugsakkie. Sy geel stewels is intussen skoon gevryf, en net om seker te maak hy kry nie koud nie, het Spits ’n blou wolserp om sy nek gedraai.

Spits kyk vir oulaas na die helder lig op die stoep. Sy hart bokspring, maar hy haal diep asem en stap in die rigting van die waterpomp. Daar gekom, sien Spits drie pype wat water na die tuin neem laat vloei. Oupa Vaatjie het vir hom gesê dat die pyp wat lek, met blou gemerk is.

Daar is dit! Spits loop al langs die gladde blou plastiekpyp tot waar dit soos ’n reuse erdwurm in die grond in verdwyn. Spits sal ’n tonnel al langs die pyp onder die grond moet grawe om by die lekplek uit te kom.

Skielik lyk hierdie plan glad nie meer vir Spits so wonderlik nie. Sy mond voel droog, asof hy ’n hap stof gevat het en dringend ’n slukkie water nodig het. Spits haal die nektar uit sy rugsak en neem ’n sluk groot genoeg om ’n olifant se dors te les. Hy voel nie juis beter nie. As hy nou moed opgee, gaan Fungus hom vir altyd terg.

Die gedagte aan Fungus se vrot glimlag gee Spits nuwe moed en hy haal sy grafie uit en begin grawe. Af en af, reguit in die grond in grawe hy. Kort-kort kyk Spits op en sien die sterre hoog bo die bek van die tonnel skyn. Die helder sterre en slukkies nektar laat hom so ’n bietjie veiliger voel.

Toe Spits weer voor hom kyk, sak sy moed tot ver onder sy gunsteling geel stewels. Hier voor draai die pyp! Dit beteken dat Spits nie meer reguit af kan grawe nie, en dat hy nie meer die sterre bo hom sal kan sien nie. Spits kan sy hart voel klop, asof dit uit sy borskas wil bars.

Uitasem klouter Spits uit die tonnel. Hy gaan lê op sy rug op die gras en kyk op na die maan. Wat gaan hy nou doen? Spits staar na die sterre. Hy wens dat hy die maan kan pluk en saamneem in die donker tonnel.

Dit lyk vir Spits of die maan se lig al hoe helderder word. Dalk is dit tog naby genoeg om te pluk.

O gaats! dink Spits. Die maan is besig om te val!

Die lig kom nader en nog nader en Spits hou sy hande voor sy gesig, gereed om te koes. Niks gebeur nie. Spits is te bang om sy oë oop te maak. Wat as die maan geval het en hom heeltemal ingesluk het? Dit is beter om eerder nie te weet nie.

“Hallo! My naam is Flits.”

“Verskoon my?” tjirp ’n fyn stemmetjie.

Spits wip soos hy skrik en moet keer om nie te val nie. Sy hande is nie meer voor sy oë nie, en ’n helder lig verblind hom. Spits loer deur skrefies oë en probeer uitmaak wie met hom praat. Iets beweeg links van hom en hy draai versigtig om.

Hier voor hom in die lig fladder ’n klein insek met ses pote, vlerkies wat blitsvinnig klap, en ’n gawe gesig. Spits kan nie glo wat hy sien nie: die insek se agterlyf gloei soos ’n helder lantern.

Die insek is seker gewoond aan kabouters wat nie weet wat om te sê nie, want sy stel haarself voor: “Hallo! My naam is Flits.”

“Waar kry jy daardie lantern?” vra Spits. Hy is nog nie seker of hierdie Flits-insek vriend of vyand is nie.

“Moenie laf wees nie, ek is die lantern. Het jy dan nog nooit ’n vuurvliegie gesien nie?”

Spits hou nie van hoe die vuurvliegie praat nie. Dit laat hom dink aan Fungus se grappies wat nie regtig snaaks is nie. Hy gee ’n nors kyk in Flits se rigting.

“Ek is jammer,” verduidelik sy tjirpend, “ek was haastig en toe het ek my maniere by die dammetjie vergeet. Ek is opsoek na die kabouter wat die lekkende pyp gaan regmaak.”

Spits wil nie te opgewonde klink nie. “En wat het jy daarmee te doen?” vra hy.

“Ek wil hom graag help. Die ander vuurvliegies wil trek, maar…” Flits frons, kyk na Spits en haal dan diep asem voor sy uitblaker: “Ek is bang vir die donker, en ek is bang dat ons trek na ’n huis wat nie so ’n lekker helder lig op die stoep het nie.”

Spits glimlag sommer breed en kyk na haar.

“Ek en jy gaan sommer baie lekker saamwerk.”

Met Flits om die tonnel te verlig, kan Spits verder grawe sonder dat hy sy hart teen ’n wegholpas klop. Hy grawe tot by die gaatjie in die pyp waar water in die grond in lek. Spits smeer ’n dik laag van die laaste druppels nektar oor die suurwurm wat hy saamgebring het.

“Een, twee, drie!” steun Spits.

Flits beur teen sy skouer en hulle gesigte word bloedrooi soos hulle die taai spul in die gat in forseer. Suikerdrade plak aan Flits se pootjies vas en Spits moet trek om haar los te kry.

Uiteindelik is die gat in die pyp toegestop. Spits en Flits bekyk hulle handewerk.

"Nogal nie te slegs vir twee bangbroeke nie!"

“Nogal nie sleg vir twee bangbroeke nie,” sê Spits met ’n halwe glimlag.

“Ek dink glad nie jy is ’n bangbroek nie, Spits. Jy het al die kabouters gered.”

Spits voel asof daar ’n goue lantern in sy hart gloei. Flits is reg, selfs al was hy bang, het hy al die kabouters gered. Selfs die grillerige Fungus!

Smokey vlieg

Terwyl Smokey een oggend in die sonnetjie lê, hoor hy aardige geluide vanuit die kamer kom. Dis ‘n gekreun en gesteun, ‘n gesug en gehyg.

“Dalk het Ouma geval!” dink hy terwyl hy vinnig kamer toe draf. Maar nee, sy is besig om haar groot tas bo van die kas af te haal.

“Sy gaan vlieg!” sê Seun, die papegaai. “Vlieg! Vlieg! Ek saam! Ek saam! Kom Seun, soet Seun!!” Die papegaai praat aanmekaar en deurmekaar.

Smokey se ore en sy hart pyn. As Ouma gaan vlieg en Seun gaan vlieg en hy wat Smokey is, moet by die huis bly….want hy het nie vlerke nie!! Bekommerd en bek-af stap hy tuin toe.

“Wat is fout Smokey?” koer Fief , die duif, bo van die dak af.

“Ag Fief,” sê Smokey en sy grys ogies is sommer vol trane. “Seun en Ouma gaan vlieg en ek kan nie saamgaan nie, want ek het nie vlerke nie!” snik hy.

“Nee! Nee!” krys Hadida wat op die gras rondloop en pik-pik na goggatjies.

“Nee!! Nee!! Vlieg is hoog bo en onder is vêr onder! Heigend hert…bly onder, bly onder!”

“Ek wil regtig saamgaan,” sê Smokey, “hulle gaan lank weg, dalk vir altyd weg.

Daar kom sulke klein kermgeluidjies uit Smokey se keel.

Fief kry hom baie jammer en roep haar maat, Faf, nader. ”Hoe kan ons hom help vlieg, Faf?” Faf skud sy kop.

“Dis nie mooi nie, dis nie mooi nie!” koer hy en vlieg nader aan Smokey.

“Kom ons sit koppe bymekaar. Ons moet ‘n plan kan maak.”

Smokey lig sy hartseer gesiggie op en kyk hoopvol na die twee duiwe. Hy weet hulle is nou nie die slimste voëls in die tuin nie, maar twee koppe is altyd beter as een.

“Nou hoekom kan jy nie vlieg nie Smokey?” vra Faf.

 “Ek kan nie vlieg nie, want ek het nie vlerke nie.” sê Smokey stadig en duidelik. Hy lig sy voorpote op om vir Faf te wys…hy het gedink Faf behoort dit darem te weet.

“Seun het vlerke, so, hy kan vlieg, jy en Fief het vlerke, julle kan vlieg. Selfs Hadida kan vlieg, as hy net nie so bang was vir hoogte nie, kon hy ook vlieg, maar ek, ek het net hare!”

“Mmmm”, sê Faf, “Dis nou ‘n probleem…”

“Hoekom maak ons nie vir hom vlerke nie?” vra Janfrederik wat nuuskierig naderwip.

“Ek weet nie hoe om vlerke te maak nie, weet jy?” vra Faf.

“Nee, maar ek is seker Grootoog Uil sal weet.”

 Die drie van hulle vlieg dadelik na uil se huis in die groot akkerboom. Smokey en Hadida drafstap agterna.

“Nee! Nee! Nie vlieg nie! Net nie vlieg nie!” roep Hadida sover as wat hy stap.

“Grootoog, Grootoog!” roep Janfrederik toe hulle by Grootoog se nes kom.

“Kom uit, Kom uit” koer Fief en Faf.

“Wat wil julle hê?” brom Grootoog van sy sitplek af. “Ek slaap, ek werk nagskof, ek slaap!”

“Ons is so jammer om te pla,” sê Janfrederik en vertel gou vir Grootoog van hul probleem.

“Kan jy ons dalk help om vir Smokey vlerke te maak? Jy is mos baie slim,” vra Jan Frederik vir Grootoog.

“Belaglik,” brom die uil. “Katte wat vlieg?! Belaglik!”

Smokey se ogies raak weer tranerig en net voor hy begin snik, sê Grootoog: “Goed, goed…ek sal bietjie dink…stomme ding…ja, dis nie lekker om alleen te wees nie.” Kom so oor ‘n rukkie terug, ek moet dink.”

Toe die son net-net verby die middel van die dag staan, is almal vol afwagting voor die akkerboom. Grootoog kom stadig uit sy nes en in sy bek is stuk papier met tekeninge op. Geruisloos vlieg hy grond toe en sit die papier neer. Op die papier is ‘n tekening van ‘n kat en aan sy voorpote twee groot vlerke vasgemaak. Die voëls kyk verstom na die vlerke. Dit is van takkies, blare en ou penvere gemaak en met dun draadjies aanmekaar vasgemaak.

“So,” sê Grootoog, “ons moet vier groot blare soek, tien lang blare, ses penvere en lang stringe van die garingboom in die park. Roep dadelik vir Fanie Vink. Hy is die beste bouer en sal weet hoe om alles aanmekaar te kry.”

Jan Frederik vlieg vinnig na Fanie Vink se nes. Hy is besig om hier en daar nuwe grassies in sy nes te sit terwyl kwaai Sannie Vink toekyk. Sy hele lyfie bewe so bang is hy dat sy die nessie weer gaan afbreek. Dis al die derde een die week. Hy luister so tussen die werskaf na Jan Frederik se versoek en loer versigtig na Sannie.

“Tjaag, hierdie nes lyk stewig. Hy sal werk. Gaan help tog die kat,” kwetter sy.

By Grootoog se huis bekyk Fanie Vink die planne van bo, van onder, van links, van regs. Hy draai sy koppie amper reg in die rondte.

“Mmmm,” tjirp hy, “dit lyk nie te moeilik nie…sterk gras…sal self gaan haal…weet waar..,” praat hy met homself.

 “Goed julle, gaan soek die res, bring dit hiernatoe dan bou ons vlerke.” Die voëls vlieg in alle windrigtings en Fief ruk sommer een van haar penvere uit.

“Smokey,” sê Grootoog, “jy sal moet begin oefen om te vlieg. Jou voorpote moet sterk wees. Seun sê julle gaan Kaap toe en glo vir my, die Kaap is baie vêr van hier.”

Smokey se oë rek. Hy begin dadelik strekoefeninge doen en die res van die dag hardloop hy boom-op en boom-af, doen opstote, trek homself teen takke op. Hy spring en strek en hardloop tien keer om die huis.

Ouma skud net haar kop. Sy dink Smokey het sonsteek. Hy kom nie eers in om te eet nie, dis net skarrel en hardloop. Stokflou slaan hy die aand op sy bedjie neer.

Die volgende oggend kwetter en kweel al wat ‘n tuinvoël is voor en in die akkerboom. Mossie en sy hele familie is daar, Janfrederik se neef, Jan-Jan ook.  

Smokey stap stadig nader. Almal is baie nuuskierig om te sien wat gaan gebeur. Smokey steur hom nie aan hulle nie – sy oë is net op die vlerke wat Grootoog in sy snawel vashou.

“Toe-toe Smokey” sê Grootoog van bo af. “Trek bietjie aan dat ons kan sien of dit werk.” Fief en Faf help Smokey om die vlerke aan te trek. Vink staan nader met ‘n lang stringetjie gras. Vinnig ryg hy die vlerke aan Smokey se lyfie vas.

“Daar’s hy,” sê Fanie Vink tevrede.

“Mmm…” laat hoor Grootoog van bo af, “Jy het goeie werk gedoen Vink, goeie werk…”

Smokey stap versigtig ‘n paar tree met sy vlerke. Dis ongemaklik en hy moet sy pote hoog oplig om te keer dat die vlerke nie op die grond sleep nie. Hy konsentreer baie hard en soos ‘n kat op ‘n warm plaat hop-skuifel-hop hy tot op die boonste stoeptrappie. Die groot oomblik het aangebreek…sal hy kan vlieg? Hy staan so entjie terug, gee ‘n skuifel-stappie, swaai sy vlerke op en af en spring!

Met ‘n harde slag maak hy kop eerste met moeder aarde kennis! Jy sien net stofwolke en stukkies blare trek soos hy val.

“Meer wind onder die vlerke,” gee Janfrederik raad.

 “Jy moet hoër wees sodat die wind onder jou vlerke kan inkom. Dis hoe vlieg werk” tjirp hy.

Skaam en seer kom Smokey regop. Hy stof homself af en stap na die hoogste boom in die tuin toe.

“Ek sal nie opgee nie,” dink hy. “Ek sal oefen en oefen totdat ek kan vlieg. Ouma sê altyd ‘aanhouer wen’.” Hy trek homself op in die boom, hoër en hoër…

“Dis hoog, dis hoog!!” krys Hadida van onder af, “Ek wil nie kyk nie! Hoog is vêr, help, help!!” Hy maak sommer sy oë toe met sy een vlerk.

Vir Smokey voel dit ook skielik bietjie hoog hier van bo af. Die voëls onder lyk asof hulle gekrimp het. Met sy hartjie wat klop-klop-klop begin hy sy voorpote op en af swaai.

“Nog, Nog!” por Janfrederik hom aan.

“Vinniger, vinniger!” kom dit van Fief en Faf.

Smokey maak sy oë toe en spring. Hy voel die wind onder sy arms en waag dit selfs om sy oë effens oop. Al wat hy sien is die grond wat baie vinnig naderkom. Hy klap sy vlerke nog vinniger, hy skop sommer met sy agterpote ook. Jy sien net blare en vere waai toe hy hom disnis val op die tuinpaadjie. Sy kop draai, hy is naar, sy neusie is nerf-af en sy asem op. Hy het alles probeer om genoeg wind onder sy vlerke te kry, maar niks wou help nie.

“Aanhouer wen” dink hy terwyl hy homself weer teen die boom optrek.

Bo gekom wag hy nie eers nie, hy spring sommer dadelik, klap sy vlerke en…land in ‘n bondeltjie op die grond. Weer en weer probeer hy – elke keer val hy homself katswink. Die voëls beskou die petalje vanuit die boom. Party van Mevrou Mossie se kinders giggel-giggel, kwaai Sannie Vink knyp haar oë toe en Janfrederik skud net sy kop.

“Smokey,” sê hy, “Ek dink nie katte is veronderstel om te vlieg nie, jong. Miskien is dit beter as jy maar plat op die aarde bly.”

“Maar Seun gaan vlieg en Ouma gaan vlieg en ek wil saamgaan,” snik-snik hy van pure moedeloosheid.

“Toemaar, Smokey,” sê Fief gou om Smokey te troos. “ gaan rus, die son is amper onder. More probeer jy weer. Fanie Vink sal die vlerke regmaak en sterker maak met boomgom. Dan sal alles nie uitmekaar val as jy…mmm….land nie.”

“Dankie Vink, dankie vir al jou harde werk,” onthou Smokey darem sy maniere toe hy mank-mank met hangskouertjies wegstap.

Toe Smokey sy oë die volgende oggend oopmaak is die eerste ding waaraan hy dink sy vlerke en hoe hard hy sal moet oefen. Wat hy by die voordeur sien, laat hom so groot skrik dat hy sommer sit. Sy oë rek. By die deur staan Ouma se tasse mooi in ‘n ry. Langsaan is hy en Seun se dramandjies staan gemaak.

“Sy gaan nou vlieg. Vandag nog,” besef Smokey. Sy hartjie spring omtrent uit sy keel van pure skrik.

“Ek het nog nie genoeg geoefen nie!” Al wat hy nou kan doen is om sy vlerke sou gou moontlik in die dramandjie te kry. Terwyl Ouma besig is om Seun in sy mandjie te laai, storm hy by die voordeur uit na Grootoog se boom.

“Help julle!” roep hy die voëls, “Ouma vlieg VANDAG! Ek moet my vlerke in my dramandjie kry!”

So tussen die verbaasde uitroepe en gekwetter kry Smokey net genoeg asem om vir almal dankie te sê.

 “Toe loop nou, “ brom Grootoog uit die boom. Hy lyk bekommerd en skud net sy kop. Smokey gryp die die vlerke in sy bekkie en storm die huis in. Net betyds duik hy met vlerke en al in die katmandjie. Hy trek hier en skuif daar om dit onder sy kombersie in te kry.

“O, jy is al klaar in jou mandjie,” sê Ouma verbaas. Sy maak die hekkie toe en dra hom kar toe.

“Seun-Seun,” roep Seun opgewonde. “Kom ons gaan vlieg! Soet voëltjie! Kom-kom!” praat hy nes Ouma.

Sus ry met Ouma, Seun en Smokey na die lughawe. Dit is hier waar Ouma in die groot voël gaan klim om Kaap toe te vlieg. Grootoog uil het vir Smokey van lughawens vertel en verduidelik dat Ouma te oud is om self te vlieg. Sy klim in ‘n groot voël van yster se maag, en hy vlieg met haar Kaap toe. Smokey was bly om dit te hoor, want hy weet Ouma gaan te gou moeg word om self te vlieg.

“Seun,” vra Smokey, “wanneer maak hulle ons mandjies oop dat ons kan regmaak om te vlieg. Hy doen solank ‘n paar strekoefeninge.

“Wetie, wetie,” sê Seun onseker. Skielik is hy ook nie meer seker wat gaan gebeur nie.

Hulle word op ‘n waentjie gelaai saam met Ouma se bagasie. Die waentjie stop langs die vliegtuig. Smokey se oë rek groot. Hy voel soos ‘n muggie teen hierdie groot voël.

“Hy moet seker sy vlerke baie klap om genoeg wind onder hulle te kry, “ dink hy terwyl hy sy vlerke probeer aantrek in die klein dramandjie. As hulle die deurtjie oopmaak, wil hy reg wees om te spring. Hy hoop die groot voël wag darem vir hom en Seun. Netnou verdwaal hulle op pad Kaap toe.

Twee sterk hande tel hom en Seun se mandjies, op, gooi ‘n kombers oor en dra hulle tot in ‘n donker kamertjie.

“Seun, hoekom maak hulle ons nie oop nie? Wanneer kan ons vlieg?”

Seun se bek gaan oop en toe, maar daar kom geen geluid uit nie. Hy is skoon stomgeskrik.

“Miskien wil hulle nie hê ons moet vlieg nie!!” Smokey miaau al hoe harder.

“Dalk wil Ouma ons nie meer hê nie. Dalk het sy ons aan die sirkus verkoop! Sy’t altyd gesê sy gaan ons vir die sirkus gee as ons laf is!”

Nou huil Smokey dat die trane so spat. Hy gaan nooit weer vir Ouma sien nie!

“Wat is fout met die kat?” vra ‘n stem uit die hoek van die kamertjie?

Smokey hou vir ‘n oomblik op met huil toe hy die stem hoor. Hy maak sy oë effens oop om te loer wie praat. Regoor hom staan nog twee dramandjies. In een is ‘n wit poedel in en die ander ‘n klein worshondjie.

“Hoekom huil jy so katjie?” vra die poedel neus in die lug. “Jy maak my kop seer.”

“Ouma het ons aan die sirkus verkoop. Nou vlieg sy Kaap toe en ek gaan haar nooit weer sien nie!” Smokey snik weer soos hy huil, sy voorpote is sopnat.

“Ek het vlerke en alles en ek het hard geoefen. Ons sou saam vlieg, ek en Seun…nou gaan ons sirkus toe.”

Die twee honde kyk vir mekaar en bars uit van die lag. Hulle hou skoon hulle magies vas soos hulle lag. Smokey is sommer vies. Hier breek sy hart en die twee lag asof dit ‘n groot grap is! Hy hoop nie hulle gaan ook sirkus toe nie. Hy weet nie of hy baie van hulle hou nie.

“Sies, stout! A nee a!” kry Seun sy stem terug toe hy sien hoe bang en verwese arme Smokey is. Uiteindelik hou die twee op met lag.

“Katjie,” sê die poedel, “jy is nie aan die sirkus verkoop nie, jong. Jy is in ‘n spesiale kajuit binne in die vliegtuig wat net vir troeteldiere is. Wanneer ons in die Kaap kom, haal hulle ons uit en gee ons vir ons mens-ma’s. Jy hoef nie self te vlieg nie. Bedaar tog nou, ons het al baie Kaap toe gevlieg.”

Smokey kan sy ore nie glo nie! Hy gaan vir Ouma sien en hy hoef nie eens self te vlieg nie! Hy is so verlig dat hy sommer op die naat van sy rug gaan lê.

“Hoor jy Seun…hoor jy….?” Voor hy sy sin kan klaarmaak, val sy ogies toe.

“Nou-nou sien ons weer vir Ouma…”dink hy terwyl hy met ‘n breë glimlag as aan die slaap raak.

Nina se vellie-avontuur

Met hangskouers en effe te groot vellies stap Nina sleep-sleep deur die veld. Sy verlang na die stadsliggies, na die dae toe haar ouers nie so besig was nie en na haar pophuis. Die pophuis met die baie vensters en pienk mure, dié pophuis wat veroorsaak het dat sy en oupa Jan nou so vassit. As oupa Jan net vir haar ‘n pophuis wil koop, sal sy ‘n baie lekkerder tyd hier op die plaas hê. Maar nee! Soos Oupa sê, “Hier op die plaas werk ons vir wat ons wil hê. Geld groei nie op bome nie, Nina!”

Terwyl Nina nog so hartseer loop en dagdroom, hoor sy ‘n vreemde geskree van iewers in die veld. Nina skrik haar yskoud! Sy wil omdraai en terughardloop huis toe, maar oupa Jan sê as mens vellies wil aantrek, moet mens ook braaf kan wees. Stadig en op haar tone sluip Nina nader aan die geluid. In die veld lê n groot kunsmissak.

Maar…daar roer iets in die sak!

Met oë toegeknyp maak Nina die sak versigtig oop en spring dan terug, bang vir wat uit die sak gaan klim. Maar voor haar is geen monster nie, maar ‘n groot, groenoog, babavlakvarkie.

Die skaamtelose, nuuskierige agie spring sommer op Nina se skoot en nét daar besef sy dat haar dae van alleen wees op die plaas verby is. 

Sy het nou vir Fanie die vlakvark!

Fanie was goed vir Nina. Hulle het elke oggend in die veld ontmoet en gesels tot die son sak. Hy het haar vertel hoe hy in die kunsmissak beland het en sy het hom vertel van haar vakansie op die plaas.

Eendag, terwyl Nina arms agter haar kop en Fanie pooitjies in die lug onder die maroelaboom lê, stop Fanie vir Nina in die middel van haar sin. “Nina, vergeet nou eers van jou pophuis… hier is ‘n groot probleem op die plaas!”

Met groot oë luister Nina na elke woord wat Fanie sê, geskok oor wat sy hoor spring sy sommer op.

“Fanie, dit is verskriklik! Ek het nie geweet dat daar nog diere soos jy is nie, ons moet hulle red van al die rommel. Kom ons gaan help hulle nou dadelik!”

Vellies, sonskerm op hulle neuse en kruiwa aan die stoot, loop Nina en Fanie veld toe. Twee maatjies op ‘n missie om die plaas en so ook die wêreld ‘n beter, skoner en veiliger plek te maak. Soos hulle stap, sing hulle… 

Trippe trappe trone 
Kom saam, ons red die verlore 
Roer, want hier is plek vir jou in ons drome 
Wikkel, wapper of waai, moet nie waag om te wag 
Ons gee almal n tweede kans om lag

Vinnig leer Nina dat die grootmenswoord ‘Besoedeling’ rêrig so gevaarlik is soos wat die tannie op die nuus gewaarsku het. 

Eerste was dit Kallie die kalf wat vasgevang was in ‘n kraaines van gekoekte toue. Daarna Hessie die haas wat nou op een been hop oor ‘n stukkie glas in haar linkerpoot. Snoekie die skaap se ‘Mêêê’ is skoon hees van ‘n stukkie lekkergoedpapier wat in haar keel vasgesit het. 

Vossie die vark se stertjie wil nie meer krul nadat dit vasgevang was in een van die weggooikartonne nie en Minkie die muis en haar drie babas sit nou sonder ‘n huis nadat haar stukkie veld in ‘n rommelhoop verander het.

Ontsteld gooi Nina al die rommel in haar kruiwa, hartseer oor hoe dit al die diere seegemaak het. 

Met ‘n huppel in hulle stap en groot glimlagte op hulle gesigte stap Nina en al haar nuwe maatjies terug huis toe. Die kruiwa loop behoorlik oor van rommel en die plaas is nou weer veilig. Almal sing… 

Trippe trappe trone 
Ons is gered maar was eers verlore 
Nou kan ons weer leef soos van tevore 
Wikkel, wapper en waai! Ons het lank gewag 
En nou kan ons almal uit ons magies uit lag.

Oupa Jan en ouma Marie was spierwit geskrik toe hulle hoor van al die rommelgoed op die plaas en besluit toe net daar dat hulle van nou af meer sal oplet oor waarheen al hulle rommer gaan en sal begin herwin.

Daardie aand het Nina met ‘n groot glimlag in die bed geklim. 

Sy het nie meer na die stad se liggies en haar pophuis verlang nie. Sy het vandag geleer dat daar groter probleme in die wêreld is, probleme wat groter is as haar eie geluk.

Die probleme stel ander in gevaar… en van nou af sal sy help om dit op te los.

Die volgende oggend staan Nina dou voor dag op, selfs voor die haan se kraai! Sy is reg vir n nuwe dag vol avonture saam Fanie en haar nuwe maatjies. Soos sy buitetoe stap, hoor sy ‘n gegiggel en ‘n gefluister. Reg voor die voordeur staan oupa Jan met ‘n glinster in sy oë. “My liewe Nina, nie net het jy gewerk vir wat jy wil hê nie, jy het sommer ander in die proses gehelp; vir my en Ouma en sommer die hele plaas ook. Ek is baie trots op jou! Jy verdien die nuwe pophuis.”

Nina kan nie haar oë glo nie! Voor haar is die mooiste pophuis wat sy al ooit gesien het. Groot en so kleurvol soos ‘n reënboog pronk ‘n pophuis so mooi soos ‘n kasteel …en alles is uit rommel gebou!”

Nina hardloop die pophuis giggelend binne, opgewonde om elke hoekie te verken. Toe sy om die draai kom, sit al haar nuwe maatjies daar. Kallie, Hessie, Snoekie, Vossie en Minkie sit in ‘n kring en geniet ouma Marie se lekker melktert. Dis toe dat Fanie langs haar kom staan en vra, “So Nina, hoe gaan ons vandag die wêreld ‘n beter plek maak…?”

Nina se vellie-avontuur – Merize Beukes
Derde prys (hoërskool) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021

Petronella, die vlakwaterpadda

Rosie is verveeld. Sy dwaal rond in die tuin om hulle huis. Miskien moet sy by Ouma gaan tee drink. Ouma woon net twintig treë weg in haar eie kothuis, maar Rosie is nou te lui om na Ouma toe te loop. 

Rosie dwaal nog so in die tuin, toe sy ’n vreemde geluid hoor. Dit klink soos iemand wat huil! Wie kan dan so hartseer wees? Rosie loop agter die geluid aan. Dit kom van die draad se kant af naby die tuinhekkie. Rosie loop versigtig langs die draad, want Pappa het ’n paar dae terug die omheining elektries gemaak om skelms uit te hou.

Rosie dwaal in die tuin rond

By die tuinhekkie gaan Rosie verward staan. Die gehuil is nou op sy hardste, maar wie kan dit wees wat so ween? Niemand behalwe Rosie is in die tuin nie. Die enigste ander lewendige ding hier buite wat Rosie kan sien, is ’n piepklein padda. 

Die padda sit aan die anderkant van die tuinhekkie. Rosie buk af om die padda van nader te bekyk. Sowaar! Dis die padda wat so vreeslik huil! Rosie is baie verbaas oor die huilende padda.

“Vir wat sal die padda dan so huil?” vra Rosie hardop vir haarself.

“Ek huil omdat ek nie deur die heining kan kom nie!” ween die padda kliphard.

Rosie val agteroor soos sy skrik. “Paddas kan mos nie praat nie!” sê sy vir haarself.

“Paddas kán praat, maar nie almal kan ons hoor nie,” snik die paddatjie.

Rosie sit regop en kyk na die liggroen padda.

Rosie ontdek padda

“Wat is jou naam, Padda en hoekom huil jy so?” vra Rosie.

“My naam is Petronella, die vlakwater padda,” antwoord die groen diertjie.

Twee groot trane rol by haar wange af.

“Vir wat is jy so hartseer?” vra Rosie weer.

“Want ek kan nie by my ouma gaan kuier nie!” Petronella, die vlakwater padda, begin van vooraf jammerlik huil.

“Hoekom kan jy nie by jou ouma gaan kuier nie?” vra Rosie stomgeslaan.

Petronella huil

Petronella huil so erg dat sy nie kan praat nie. Rosie staan op en maak die tuinhekkie oop. Sy tel die huilende paddatjie op om haar te troos. Eers gril Rosie vir die padda se glibberige lyf en laat val amper vir Petronella. Die padda skrik en hou op huil. 

“Toemaar, Petronella, ek sal jou nie seermaak nie,” troos Rosie toe sy sien hoe bang die padda lyk.

“My naam is Rosie en ek wil hê jy moet my vertel hoekom jy nie vir jou ouma kan gaan kuier nie.”

Die padda kyk na Rosie en haal diep asem voor sy verduidelik.

Rosie luister na padda

Petronella, die vlakwater padda, woon saam met haar gesin in die plaasdam anderkant Rosie-hulle se tuinhek. Ouma Adda-padda bly in die visdammetjie langs Rosie-hulle sê huis. Elke dag kom kuier Petronella en haar boetie vir Ouma Adda-padda om vir haar kos te bring. Die afgelope week kon Petronella en haar boetie nie by hulle ouma gaan kuier of vir haar kos vat nie. Die omheining wat Rosie se pappa elektries gemaak het, hou nie net die skelms uit nie, dit keer ook dat Petronella en haar gesin nie by Ouma Adda kan uitkom nie. Hulle sal skok as hulle onderdeur die draad probeer klim. 

Petronella se boetie het nie geweet van die elektriese draad nie en toe hy deur die draad probeer klim, skok hy so erg dat hy nou op krukke is.

“Dis verskriklik!” roep Rosie ontsteld uit.

“Dit is verskriklik!” snik Petronella en begin weer huil. Rosie se hand is sopnat van die hartseer padda se trane.

“Wat gaan ons doen?” vra Rosie. Sy wil baie graag vir Petronella help. “Ons kan nie aan die draad verander nie. Dit moet skelms buite hou.”

Petronella huil

Die huilende padda trek haar skouertjies op. “Ons het al ons koppe seer gedink, maar ons weet ook nie wat om te maak nie,” sê Petronella.

Rosie praat met padda

Rosie weet sy moet die padda-familie help, maar sy kan nie dink as die padda haar hand so nat huil nie. Sy sit vir Petronella versigtig op ’n klip neer. Toe gaan sit Rosie plat op die grond oorkant die padda en begin dink.

“Ek het dit!” skree Rosie en spring regop.

 “Pappa het eenkeer gepraat van…” 

Rosie haak vas, want dis ’n groot woord, 

“I-s-o-l-a-t-o-r. Ja, dis reg, isolators.”

Petronella wip soos sy skrik vir die groot woord. “Watse tipe tor is dit?” vra Petronella. “Ek dink nie ek het al van hulle hier rond gesien nie.”

Rosie lag. “Nee man, dis nie ’n gewone tor met pote en vlerke nie. ’n Isolator is ’n ding.”

“Watse ding?” wil die padda nuuskierig weet.

Rosie gaan sit weer langs die padda, haal diep asem en begin verduidelik.

“Kyk, Petronella, ek het nie nou tyd om alles vir jou te vertel nie. As jy nie verstaan hoe elektrisiteit werk nie, kan jy op ’n ander dag my pappa vra. Reg so?”

Petronella knik.

Rosie praat verder. “Nou kyk, ’n isolator is ’n ding wat elektrisiteit stop. Ek het nie nou al die ander groot woorde wat Pappa gebruik het nie, maar ek weet net as jy met ’n isolator aan die nuwe draad vat, gaan jy nie skok nie.”

Petronella glimlag. “Nou waar kry ons so ’n tor, Rosie?”

“Daar is net ’n paar dinge wat ’n isolator kan wees,” sê Rosie “byvoorbeeld; plastiek, glas, hout of rubber. As jy met een van daai goed aan die draad raak, sal jy nie skok nie.”

Petronella, die vlakwater padda, hou haar kop skeef soos sy luister. 

“So as ek van plastiek gemaak was, kon ek onderdeur die elektriese draad kruip sonder om te skok?”

Rosie knik.

“Maar ons paddas is nie van plastiek gemaak nie, so wat nou?” frons Petronella.

Rosie steek haar wysvinger opgewonde in die lug. “Nou dis waar my plan inkom! Ons moet vir julle isolator-jassies maak. Jy weet? Amper soos reënjassies wat keer dat jy nat word in die reën.”

Rosie dink

Die groen paddatjie spring op en af van opgewondenheid. “Dan trek ons isolator-jassies aan wat ons beskerm teen die elektrisiteit van die draad!”

“Net so!” stem Rosie saam.

“Ek dink nie plastiek, glas of hout gaan lekker werk vir isolator-jassies nie,” sê Petronella.

“Nee, dit is te hard,” stem Rosie saam “maar wat van rubber jassies?”

Rosie het 'n plan

“Dit kan werk, ja!” roep die padda uit “maar waar gaan ons die rubber jassies kry?”

Rosie dink skielik aan haar ouma. “My ouma is baie goed met naaldwerk. Ek is seker sy sal ons kan help. Kom ons gaan vra haar sommer nou dadelik!”

Rosie tel vir Petronella op en draf na Ouma se kothuis toe. Ouma is baie bly om vir Rosie te sien en verbaas oor die nuwe vriend wat haar kleindogter gemaak het. Rosie en Petronella vertel vir Ouma van die probleem met die nuwe draad en die rubber jassies. Ouma stem dadelik in om hulle te help. Sy sal die rubber jassies vir die padda-gesin maak. 

“Maar dit kan nie sommer enige rubber wees nie,” sê Ouma “vir ekstra veiligheid gaan ek 100% rubber gebruik.”

“Wat van die geel handskoene in Ouma se kombuis?” vra Rosie. “Ons kan mos net die vingers afsny en daarvan jassies maak vir die paddas.

Rosie by Ouma

Ouma skud haar kop. “Nee, die rubber van die handskoene is nie sterk genoeg nie. Ek gaan van die rubber in Pappa se stoorkamer gebruik.”

Ouma vra vir Rosie om vir hulle iets te maak om te drink. Terwyl Rosie vir almal ’n lekker koppie tee maak, gaan haal Ouma die sterk rubber in Pappa se stoorkamer. Ouma meet Petronella se lyfie en sny patrone uit die rubber.

Ouma maak jassies

Toe hulle klaar tee gedrink het, gaan sit Ouma agter haar naaimasjien. Binne ’n japtrap is die rubber jassies klaar.

Ouma stap saam met Rosie en Petronella na die elektriese draad sodat hulle kan sien of die jassies werk. Petronella trek haar jassie aan en gaan staan onseker langs die draad. 

“Toemaar,” troos Ouma “die jassie sal sy werk doen. Sorg net dat jy nie met jou vingers en tone aan die draad raak as jy deurkruip nie.”

Versigtig kruip Petronella onderdeur die draad. Sy kyk mooi dat haar vingers en tone nie aan die draad raak nie. Eenkeer voel sy die draad aan haar ruggie raak en skrik, maar die rubber van die jassie het gekeer dat sy nie skok nie. Toe Petronella veilig aan die anderkant van die draad is, begin sy dans en hande klap. Nou kan hulle weer by Ouma Adda-padda kom kuier sonder om bang te wees vir die draad! Petronella bedank vir Rosie en haar Ouma. 

So vinnig soos wat haar lyfie kan, hop die padda met die ander rubber jassies terug na haar huis toe by die dam om vir haar gesin die goeie nuus te gaan vertel.

Rosie gee vir haar Ouma ’n stywe druk.

“En nou?” lag Ouma.

“Ek is so bly daar is niks wat my keer om vir my ouma te gaan kuier nie,” sê Rosie. 

“Van nou af sal ek nooit weer te lui wees om die twintig treë na Ouma se kothuis toe te loop nie.”

Totsiens

Petronella, die vlakwaterpadda – Helena Mellet
Derde prys (volwassenes) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021

Maanpêrels

Nicky en Riffels speel in die tuin. Hulle jaag skoenlappers en blaas borrels – enigiets, net solank Nicky nie moet gaan bad en in ’n donker kamer moet gaan slaap nie. Nicky haat die donkerte, dit maak haar bang.

Nicky en Riffels speel in die tuin

Toe Nicky moeg is van borrels blaas, plaas sy die halfvol botteltjie seepsop in haar broeksakkie vir later – want jy weet nooit. Sy loer na die son wat vinnig sak.

“Wat gaan ons nou doen, Riffels?” vra sy.

Riffels blaf. “Is jy lus vir ’n avontuur?”

Nicky klap haar hande. “Ja, natuurlik, altyd!”

Riffels hardloop na ‘n bos in die hoek van die tuin en begin ‘n gat grou. Hy haal iets uit en hardloop daarmee in sy bek terug.

“Nou toe, trek aan,” sê hy en gee vir haar die pragtigste stel vlerkies. Dit glinster met al die kleure van die reënboog. “Klim op my rug. Ons gaan maan toe!”

Nicky en Riffels vlieg maan toe

Nicky klouter op. Sy gee ’n gilletjie en gryp na Riffels se ore toe hy met een reusesprong tot bo-op ’n wolk spring. Daar klim sy af en vlieg saam terwyl Riffels van wolk tot wolk spring.

Saam-saam spring en vlieg hulle al hoër … tot op die maan.

“Kyk!” Nicky wys na ’n silwer meer. “Kyk hoe blink die water!”

Nicky en Riffels by die silwer meer

“Dis nie water nie,” grom Riffels. “Dis Doengka wat so blink.”

“Doengka? Wat is dit?”

“Jy sal sien,” antwoord Riffels geheimsinnig.

Die Holly Ke Pollie en Dunabenz

Nicky se oë rek toe ’n eienaardige mannetjie oor die rand van ’n krater loer.

Sy onderdruk ’n gilletjie toe hy uitklim en naderstap. Hy het ’n woekoe-woekoe kop en ’n oliestreep oor sy neus. Langs hom drafstap ’n miniatuurdrakie, omtrent so groot soos ’n kat.

“Dit is ’n Holly Ke Pollie,” verduidelik Riffels. “En die drakie is sy Dunabenz.”

Riffels stel vir Nicky en die Holly Ke Pollie aan mekaar voor.

“Hallo,” sê die maanmannetjie met ’n lang sug.

“Wat is fout?” blaf Riffels. “Jy is dan altyd so vrolik en verspot?”

“Kom ek gaan wys julle.” Die Holly Ke Pollie stap met hangskouers weg. Hy loop tot by ’n masjien met talle lepels, arms en buise wat nie ’n geluidjie of ’n beweging maak nie.

Nicky snak na asem. “Dit lyk soos ’n enorme roomysskepper!” sê sy.

En sowaar. In een van die skeppers lê ’n perfek ronde bal wat uit maansand gevorm is.

“Die masjien skep dit op en druk dit baie styf saam.” Die Holly Ke Pollie snuif. “Maar nou is dit stukkend.” ’n Traan blink in sy oog.

Nicky frons. “Maar wat maak ’n mens met so ’n bal?”

“Kom kyk.” Die Holly Ke Pollie tel die maanbal op en stap na die silwer meer.

Die maanpêrel en die skepper

“Ek doop dit in die Doengka en wag tot dit droog is. Dit gebeur sommer vinnig. Kyk!” Hy hou die maanbal in die lug.

“Oe, dit blink te pragtig!” roep Nicky.

Die Holly Ke Pollie knik. “Dis ’n maanpêrel. Sodra dit droog is, bêre ek dit saam met die ander in die pakkamer. Wanneer dit baie donker is, steek Dunabenz dit aan die brand en dan skiet ek dit met my kettie die lug in.”

“En dan?” vra Nicky verwonderd.

Die Holly ke Pollie glimlag effens. “Het jy al gesien hoeveel sterre daar op ’n donker aand in die hemelruim is?”

“Jy bedoel …” Nicky aarsel. “So dis eintlik jou maanpêrels wat so brand?”

“Ja –” Die Holly Ke Pollie snuif. “Maar nou het die masjien gebreek. Hoe gaan ek nou maanpêrels maak?” Hy vee ’n traan weg.

Holly Ke Pollie huis oor die stukkende masjien

Nicky en Riffels probeer hom troos. “Toe maar, Holly Ke Pollie, ons sal jou help.” Lank sit die driestuks langs mekaar op die maanstrand en dink.

Skielik spring Riffels op. “Ek het ’n plan! Nicky, gee gou die botteltjie in jou rugsak vir my.” Hy neem dit, sprinkel ’n bietjie maansand daarin, draf na die silwer meer en skep van die Doengka op. Toe skud hy die mengsel liggies en gee dit vir Nicky. “Kyk of dit werk.”

Baie versigtig om nie ’n druppel van die kosbare vloeistof te mors nie, blaas Nicky ’n borrel. Groter en groter word dit … tot dit net so groot soos ’n maanpêrel is. Die nuwe maanpêrel is heelwat ligter as die voriges en dryf die lug in.

Die Dunabenz maak sy bek oop en blaas vuur daaroor uit.

“Oe, kyk!” roep Nicky uit. “Kyk hoe skitter dit nou!”

Die nuwe maanpêrel

“Dis die mooiste maanpêrel wat ek nog ooit gesien het!” roep die Holly Ke Pollie en hy lag en dans in die rondte. “Hoera, hoera! Ek kan weer maanpêrels maak! Mooier en blinker as ooit!”

Hy vang die nuwe, glansende maanpêrel en gee dit vir Nicky. Tot haar verbasing brand dit nie haar vingers nie.

“Hierdie een is joune, Nicky,” sê die Holly Ke Pollie. “Baie, baie dankie vir al julle hulp. Nou gaan ek die beste en mooiste maanpêrels onder die son maak. Dink net hoe bly gaan die ander kinders wees as hulle snags na die hemelruim kyk en al die nuwe ‘sterre’ sien.”

Die Holly Ke Pollie gee vir Nicky 'n maanpêrel

Nicky wil baie graag bly en nog maanborrels blaas, maar Riffels trek aan haar arm. “Dis tyd om huis toe te gaan,” blaf hy.

Nicky en Riffels groet die Holly Ke Pollie en die Dunabenz en vlieg deur die hemelruim en verby die wolke tot in hulle tuin.

“Wat ’n lekker avontuur was dit nie!” sê Nicky en sy gee vir Riffels ’n stywe druk voor sy binnetoe hardloop om te gaan bad.

Nicky slaap met die nuwe maanpêrel

Daardie aand slaap sy rustig en tevrede. Haar kamer is nie te lig nie en ook nie te donker nie, dis net reg, want sy het nou haar eie maan.

“Dankie, Riffels, dankie, Hollie Ke Polly, dankie, Dunabenz,” fluister sy. “Nou gaan ek lekker slaap.”

Maanpêrels – Martelize Faber
Tweede prys (volwassenes) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021.

Bartel Beer bak kluitjies

Daar is ‘n paadjie al deur die bos…
en ‘n stroompie om visse te vang vir kos.
Stap ‘n bietjie aan en dan kry jy ‘n grot,
Bartel die beer en sy gesin se genot.

Bartel Beer probeer visse vang.

”Help my ek sink!” Bartel proes benoud. Sy kop is amper onder water en hy kan nie swem nie. Skielik voel hy hoe ‘n poot sy nekvelle stewig beetkry en hom met mening uit die waterstroom ruk.

”Moet ek jou wragtig heeltyd oppas? Jy het nou al die visse in die water afgeskrik met jou geskree!”

”Ag, Ouboet, ek het verstik, ek belowe dit sal nooit weer… Ouboet?” Bartel vee oor sy nat gesig en kyk angstig rond.

”Ouboet, hou op speletjies speel!” Sy kreet eggo deur die bos, maar daar is steeds geen antwoord nie. Bartel brul en stamp sy voet teen iets glibberigs.

”Help!” gil hy terwyl hy agteruit steier. Hy gryp ‘n tak wat langs hom lê en swaai dit wild rond totdat hy duislig op sy sitvlak te lande kom. ”As jy naby kom gaan jy met my te doene kry!” Bartel probeer sy bes om braaf te klink terwyl hy stadig orent kom. Hy stap versigtig ‘n paar tree nader aan die blink ding wat naby hom op die grond lê. ”Sjoe, ek’s gelukkig!” sê Bartel uitbundig. Dit was toe al die tyd ‘n groot silwer vis. Bartel probeer dadelik om die vis met albei hande vas te gryp, maar die vis is gans te glad. Ek weet, ek sal die vis in blare toedraai. Na ‘n ruk is Bartel terug met twee groot blare en riet om dit stewig om sy vis te bind. Ek is darem slim, dink hy trots.

Bartel met twee groot blare en riet

Die vis oor sy skouer, is al waaraan Bartel kan dink. Houtgerus, vergeet hy skoon van Ouboet en dat die son al besig is om water te trek. Soos Bartel verder aanstap, slaan ‘n vreemde reuk in sy neusgate op. Hy snuif die lug, homself en dan sy skouer. Die vis! Dit kan nie wees nie. Ouboet draai dan ook altyd sy vangs in blare toe. Dit moet seker dan so ruik. Bartel raak al minder op sy gemak. Die vis is tog my vangs, ek het dit gekry en nou is dit mos myne. Hy frons.

Ek kan nie wag om Ma, Pa en Ouboet se gesigte te sien as ek huis toe kom met aandete nie! Bartel besluit om te hardloop. Hygend sleep hy homself en sy vis vorentoe. Sy keel brand en sy pote pyn.

Ek gaan ‘n graspol soek om op te sit, dink Bartel. Net vir ‘n rukkie.

Bartel gaap en vryf sy oë. Hoor hy krieke sing? Hy val amper agteroor toe hy behoorlik om hom kyk. Dit is dan piknagdonker! Hy hou sy vis styf vas. Ek moes aan die slaap geraak het. Hoe gaan ek ooit weer by die huis kom? Bartel se onderlip bewe. Die vis ruik nou baie slegter as ‘n ruk terug. Bosse ritsel en die skaduwees van takke maak vir hom bang. Skielik verskyn twee oë reg voor Bartel. Die geheimsinnige dier snork hard deur sy neusgate.

”Wat het jy daar tussen jou pote, Bartel?”

Verstom, en lam van skok gee Bartel ‘n gil.

”Moenie bekommer nie, dis net ek. Ons soek oral na jou.”

”Pa, ek wil vir pa iets wys!” Bartel se gesig straal, maar sy pa lyk nie so opgewonde nie. Bartel is nog glad nie so sterk soos Ouboet nie en die vis is ‘n moeilike een om te vang.

”Waar presies het jy die vis gekry?”

Bartel sluk benoud.

”Ek het hom self by die waterstroom gevang, ek belowe,” sê hy skuldig. Hy weet hy praat nie heeltemal die waarheid nie.

”Nou goed, gee die vis hier. Ek sal dit vir ons huis toe dra,” sê sy pa wat begin om snuf in die neus te kry.

”Pa het vir Bartel gekry! Ek was baie bekomerd.” Ouboet het hulle by die paadjie voor die grot ingewag.

Bartel gluur vir Ouboet vies aan.

”Ek gaan jou kry!” gil hy terwyl hy volspoed op sy broer afstorm.

”Jy het vir my weggehol en my alleen by die waterstroom gelos!” Bartel hamer nou met albei vuiste teen Ouboet se maag.

”Jy het al die visse afgeskrik toe jy in die stroom geval het!” bulder Ouboet.

”Seuns, dis nou genoeg!” Pa Beer se stem is streng. ”Julle gaan altwee nou vir my die waarheid vertel.”

Ouboet en Bartel kyk vir Pa Beer.

Nadat Ouboet en Bartel dikmond hul sê gesê het, kyk altwee in afwagting na hul pa.

”Julle het altwee leuens vertel,” sê hulle pa kalm. ”Ouboet het vir my gesê jy het weggeloop en jy het nie die waarheid oor die vis gepraat nie, Bartel. As jy vir iemand jok sukkel hulle om jou te vertrou. Weet julle hoekom ons mekaar met respek moet behandel?”

Die Beerboeties skud stadig hulle koppe.

”Dit is baie beter om liefde aan mekaar te bewys as om onnodig te stry. Julle het altwee geweet wat julle doen is nie reg nie, maar julle het dit nog steeds gedoen. As iemand die waarheid praat kan jy altyd op hulle staatmaak. As hulle oneerlik is, sukkel jy om te glo wat hulle sê. Dit is baie belangrik dat julle verstaan hoekom leuens nie reg is nie. Daar gaan gevolge vir julle dade wees. Julle altwee gaan voor ete al die onkruid om ons grot uittrek en dit moet netjies gedoen wees. Kom, vele hande maak ligte werk!”

Bartel en Ouboet dink na oor wat hul pa gesê het, terwyl hulle die bossies onkruid op mekaar stapel. Al is hulle glad nie lus vir tuinwerk nie, gaan die tyd tog gou verby.

”Dit lyk netjies.” Hulle pa lyk in sy skik.

”Ek is nog steeds baie trots op julle. Die regte ding sal wees om die vis se eienaar te kry as ons kan.” Pa Beer kyk na die plek op die grond waar hy die vis neergesit het.

”Seuns, die vis lê nie meer hier nie!” Almal draai paniekbevange om. Iets beweeg naby die grot, en ‘n silwer visstert skitter in die maanlig.

”Vang die boef!” Bartel hardloop so vinnig as wat hy kan. Hy gryp die stert met sy pote vas.

”Gee terug!” skree hy.

Bartel Beer en die grys otter

”Nee, ek het die vis by die stroom vir ‘n kort rukkie alleen gelos. Toe ek terugkom was dit weg. Ek soek nou al vir ure!”

Bartel kyk verslae na die grys otter.

”Ag nee, nou is dit bederf!” sê die otter. “Het jy giftige blare om my vis gedraai?”

Bartel voel nou baie sleg. ”Ek het nie geweet nie,” piep hy.

”Nou is daar niks om te eet nie!” Die otter is woedend.

”Leuens is nie ‘n goeie ding nie. Dit kan jouself en ander benadeel.” Bartel se pa staan nou langs hom. ”Ek weet jy het gedink jy doen goed, Bartel, maar nou het jy iets geleer. Ek sal jou volgende keer wys hoe.”

Bartel voel bietjie beter, maar die otter is ‘n ander saak.

”Het ons ‘n gas vir aandete?” Bartel se ma staan in die opening van hulle grot en glimlag. Sonder om te aarsel nooi sy die otter na die tafel.

”Ma, hierdie is heerlik!” Bartel slurp honger aan sy sop. Die otter sit nou tevrede en glimlag.

”Ek moet vir jou iets sê.” Bartel kyk verleë na die otter. Dis nie altyd lekker om jammer te sê nie. ”Dit was verkeerd om iets te vat wat nie myne was nie, ek is jammer dat niemand dit nou kan geniet nie.” Bartel laat sak sy kop.

”Weet jy wat kan ons wel geniet?” Die otter glimlag.

”Nagereg!”

Bartel kyk hoe sy ma vir almal ‘n stuk heerlike heuningkoek sny.

”Kry ek julle morê by die stroom? Ek sal jou ‘n paar visvangdinge leer, Bartel,” sê die otter.

”Dan kan ons lekker viskoekies eet, jy weet mos dis my gunstelling!” sê Pappa Beer en lag.

Bartel Beer bak kluitjies – Bea Badenhorst
Wenverhaal (tweede prys) in hoërskoolafdeling Storiewerfskryfkompetisie 2021.

Candy se Mexikaanse avontuur

In ’n huis in Pretoria, gaan lê ’n klein bruin hondjie op haar gunsteling kussing. Sy krul snoesig op en sug saggies soos wat sy insink in die verekussing. Hierdie hondjie se naam is Candy. Sy is ’n trotse Chihuahua. Saam met haar in die sitkamer sit al haar gunsteling mense. Candy se mense staan altyd reg om vir haar kop en maagkrappies te gee. Haar gunsteling van al haar mense, Tiemie, verander die kanaal na ʼn program oor Chihuahuas.

Chihuahuas was die gunsteling troeteldiere van antieke Aztec krygers. Hierdie klein bondeltjies energie is vandag steeds bereid om selfs teen die grootste Boerboel op te staan. Hierdie klein Mexikaanse vegters ken geen vrees nie…

Die Televisie se woorde weergalm in Candy se gedagtes soos wat sy sweef na Droomland. Voor haar verskyn ’n hele weermag Mexikaanse Chihuahuas, met veerkrone en verf soos die Aztec krygers.

“Wie is jy?” roep die diep stem van die hoofvegter.

“Ek is Candy, ek is ’n Chihuahua,” roep sy terug.

“Wat weet jy van ons trotse Mexikaanse kultuur? Jy is NIE ’n regte Chihuahua nie! Weg met jou!” roep die yslike stem. Sy skrik wakker op haar kussing. Skielik voel sy baie hartseer.

“Nie ’n regte Chihuahua nie?” huil sy. “Wat kan ek doen?”

Deur haar trane sien sy die beeld van die ou tempels waar haar voorvaders gewoon het op die televisie.

“Ek weet!” roep sy, “ek sal Mexiko toe gaan! Ek sal meer gaan leer oor my kultuur. Dan moet ek ’n regte Chihuahua wees!”

Candy spring kiertsregop en gryp haar kombers. “Ek moet net eers pak,” sê sy. Sy loer rond en dink oor wat sy alles sal nodig hê.

“’n Paar van my hondebeskuitjies, my gunsteling speelding, nog ’n hondebeskuitjie en dan is ek reg om te gaan!” Sy rol alles toe in haar kombers en sleep hom na die deur toe.

Nou kom die moeilike deel. Ek moet uit glip sonder dat enige van die mense my sien, dink sy. Die eerste mens kom, dit is Annie, Tiemie se sussie. Nou is my kans.

Drie… twee… een… KLAP!

“Ag nee,” sug Candy, “ek is te stadig.”

“Mamma, kan mamma my gou kom help asseblief?” roep Annie se stem van buite af.

Candy staan weer reg. Sy lig haar boud op en hurk neer, gereed vir die wedloop.

Drie… twee…. een… KLAP!

“Te stadig…” sug sy weer. “Hoe gaan ek ooit uitkom?”

Skielik swaai die deur oop en Tiemie stap uit met ’n groot bondel wasgoed. Candy sien haar kans en sy glip onderdeur Tiemie se bene. Uit is sy!

Candy druk haarself deur die hek en stap af straat toe, die hele wêreld lê voor haar oop, maar sy is nie bang nie. Sy en Tiemie stap hierdie pad elke dag en sy ken al amper elke liewe hond in die straat.

“Hallo, Pote. Hallo, Sokkies. Hoe gaan dit met julle?” vra sy die twee Jack Russels.

“Nie so goed nie, Pietie is skool toe vandag, so ons het niemand om mee bal te speel nie,” kla Pote.

“Hy gaan terugkom, Tiemie kom elke dag terug ná skool,” sê Candy met ‘n glimlag. “Julle sal sien, wag net ’n rukkie, slaap ’n bietjie in die warm son, dan vanmiddag het julle tonne energie vir speel!”

“Dit is ’n goeie plan, Candy,” sê Pote.

“Hoekom is jy alleen buite, waar is Tiemie?” vra Sokkies.

“Ek gaan Mexiko toe om te leer oor my kultuur. Ek wil ’n regte Chihuahua word. Die enigste probleem is, ek ken nie regtig die pad nie… Weet julle dalk waar Mexiko is?”

Die twee hondjies dink so bietjie en antwoord gelyk “Daai kant toe!”

“Uhhhh… Dankie,” sê Candy. Sy kyk rond en besluit om parkie se kant to te stap.

DOEF-DOEF-DOEF-DOEF

Wat is dit? wonder sy en kyk om. Agter haar kom ’n yslike Boerboel aangestorm. Sy bek is wa-wyd oop, sy tande so skerp soos messe en die kwyl spat orals. Candy skrik so groot dat sy haar kombersie laat val en so vinnig as wat sy kan weghol. Sy vat ʼn draai links, vat ’n draai regs, hol om ’n bos en af by die straat.

Sy vat ’n skielike draai om ’n hoek en kruip weg teen die muur. ZOEM! Die groot Boerboel skiet verby. Candy sug verlig.

“Daar is jy!” basuin sy diep stem. ’n Groot druppel kwyl val bo-op haar kop en sy kyk op na sy yslike tande. Een van hulle is net so groot soos sy.

Candy bewe die woorde uit “Moeeeet… myyyyy.. asss……sseeeb…lieeeef nieeee eee……eeet nieeeee.”

“Jou eet?” Die groot hond rol op die grond van die lag. “Hoekom sal ek jou ooit eet? Ek is hier om jou te help!”

“Heee…eeelp?” vra sy, steeds bewend.

“Ja! Die woord op die straat is dat jy op soek is na Mexikane.”

Sy sug verlig. “Eintlik is ek op soek na Mexiko.”

“Mexiko! ’n Hondjie so klein soos jy sal tien jaar lank stap voor jy eers halfpad is!”

“Is dit regtig so vêr?” vra sy.

“Dit is op ’n ander kontinent!”

“Ek het nie dit geweet nie.” Candy voel skielik weer baie hartseer. Wat gaan sy nou doen?

“Maar as jy meer wil leer oor Mexikaanse kultuur, kan jy net my mense vra. Hulle is Mexikane!”

“Regtig!” roep Candy opgewonde. “Kan ek hulle asseblief ontmoet?”

“Natuurlik, dit is hoekom ek jou kom soek het. Volg my net.”

Die twee stap vrolik terug na die boerboel se huis toe. Langs die pad vind Candy haar kombers en tel hom weer op.

“Ek het nooit gevra nie, wat is jou naam?” vra Candy.

“Guardián,” antwoord hy, “dit is Spaans vir oppasser.”

“Hierdeur,” sê Guardián. Hy beduie na ’n gat wat onder die hek en Candy spring in. Guardián moet hard druk om deur te pas.

Om hulle staan honderde kaktusse en daar staan twee groot strepiesbanke op die stoep. Guardián klim deur sy honde deur en hou dit oop vir Candy. Binne-in die huis lê twee mense en slaap op die banke met groot Sombrero hoedens op hulle gesigte.

“Wat doen hulle?” fluister Candy.

“Dit is Siësta tyd. In Mexiko word dit so warm in die middel van die dag dat almal ’n middagslapie vat na middagete. Dit is ’n baie ou tradisie.”

“Middagslapies, ek doen dit baie!” roep Candy.

“Sjuut, jy gaan die mense wakker maak.”

“Jammer,” fluister sy.

“Maar as jy alklaar elke dag siësta, dan IS jy mos trotse Meksikaans,” sê Guardián.

“Miskien is jy reg…” fluister Candy.

“Ek weet wat jy nodig het, ’n sombrero!”

Guardián verdwyn om die hoek en kom terug met ’n klein hoedjie in sy mond en sit dit neer op haar kop

“Dankie, Guardián!” roep sy weer.

“Sjuuuut.”

“Jammer,”

Guardián gaap, “ek dink ek is ook lus vir ’n siësta,” sê hy.

“Ek ook,” gaap Candy.

“Kom ons vat jou huis toe,” gaap Guardián.

Die twee spring weer deur die honde deur, druk deur die gat onder die hek en stap lui terug huis toe.

“Dankie, dat jy my geleer het oor Mexikane,” sê Candy en gee vir Guardián ’n nat lek.

“Dit was my plesier,” giggel hy.

Candy druk weer deur die hek en blaf by die deur totdat Tiemie vir haar kom oopmaak.

“Daar is jy!” roep Tiemie verlig. “Ons soek nog heelmiddag na jou! Waar het jy daardie hoed gekry?”

Candy is te moeg vir vrae antwoord. Sy gee vir Tiemie ’n nat lek en spring uit haar arms uit. Sy huppel na haar kussing toe en krul op vir ’n siësta.

Soos wat sy na Droomland sweef, dink sy weer aan die Mexikaanse weermag van klein Chihuahuas.

“Kaptein Candy! Ons is so bly jy is hier! Ons het ’n regte Chihuahua nodig vir hierdie geveg. Is jy reg om die groot yslike boerboel teen te staan?” roep die hoofvegter.

“Ná my siësta,” gaap sy en krul op onder ’n kaktus.

“Goeie plan. Dit is siëstatyd manne!” roep hy en die hele weermag krul op vir ’n middagslapie.

Haas en die einde van die wêreld

Een loom somersdag strek Haas homself rustig teen die stam van ʼn reuse kremetartboom uit. Hy maak hom reg vir ʼn lekker middagslapie, toe ʼn gedagte skielik by hom opkom: “Sê nou maar die wêreld eindig? Wat word dan van my?”

Hy dink en dink totdat hy effens insluimer.

'n Harde slag laat haas wakker skrik

ʼn Harde slag laat hom wakker skrik. Haas spring verskrik op. Hy is dadelik doodseker dat die wêreld besig is om te vergaan. Hy spring weg en hardloop so vinnig as wat hy kan.

Haas hardloop verby ’n ander groep hase wat in ʼn skadukolletjie lê. Hulle kyk hom verbaas aan.

“Haai!” roep die ander hase. “Hoekom hardloop jy so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep Haas in die verbygaan. “Ek het dit met my eie ore gehoor!”

Die ander hase skrik groot. “As hy so sê, dan is dit seker so!” sê hulle vir mekaar en storm agter Haas aan.

Hulle hardloop naby die rivier verby. Daar is  ʼn vlakvarkfamilie wat vrolik in ʼn modderpoel rondrol.

“Haai!” sê ʼn vlakvark verbaas. “Hoekom hardloop julle so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep die hase in die verbygaan.

Die vlakvarke snork verskrik. “As hulle almal so sê, dan is dit seker so!” sê hulle vir mekaar en storm agter die hase aan.

Hulle hardloop deur ʼn grasveld waar  ʼn trop springbokke rustig staan en wei.

“Haai!” sê ʼn springbokooitjie verbaas. “Hoekom hardloop julle so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep die hase en vlakvarke in die verbygaan.

Die springbokke se oortjies tril van vrees. “As hulle almal so sê, dan is dit seker so!” sê hulle vir mekaar sluit met groot spronge by die ander diere aan.

Hulle hardloop verby ʼn trop buffels wat onder ʼn skaduboom staan en herkou.

“Haai!” bulk een buffel verbaas. “Hoekom hardloop julle so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep die hase, vlakvarke en springbokke in die verbygaan.

Die buffels snuif hard van ontsteltenis. “As hulle almal so sê, dan is dit seker so!” sê hulle vir mekaar en storm agter die ander diere aan.

Luiperd lê uitgestrek oor 'n boomtak

Hulle hardloop onderdeur ʼn luiperd wat oor ʼn boomtak uitgestrek lê. Haar stert swiep lui heen en weer terwyl sy die stormloop bekyk.

“Haai!” roep sy nuuskierig. “Hoekom hardloop julle so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep die hase, vlakvarke, springbokke en buffels in die verbygaan.

Die luiperd gee een groot sprong uit die boom uit. “As hulle almal so sê, dan is dit seker so!” sê sy vir haarself en sit hulle agterna.

Hulle storm in ʼn dreunende massa oor die vlaktes. Skielik spring ʼn yslike maanhaarleeu met ʼn harde brul voor hulle in. “Wat op AARDE gaan hier aan?”

Die diere kom in ʼn stofwolk tot stilstand. Almal praat tegelyk.

“EEN op ʼn slag, vriende!” brul Leeu. Die diere skrik en bly stil.

“Die wêreld is besig om te vergaan,” kom ʼn stem uit die bondel.

“Wie sê so?” vra Leeu.

Almal kyk ongemaklik rond.

“Vra vir die buffels,” sê die luiperd.

Die buffels skuifel rond. “Vra vir die springbokke.”

Die springbokke trippel senuweeagtig op een plek. “Vra vir die vlakvarke.”

Die vlakvarke maak hulleself klein. “Vra vir die hase.”

Die hase draai almal na Haas toe. “Vra vir Haas. Hy het dit met sy eie ore gehoor!”

Leeu draai sy groot geel oë na Haas toe. “Wat het jy gehoor, klein vriendjie?”

Haas trek sy ore plat teen sy kop. “Ek het onder ʼn boom gelê en slaap. Daar was ʼn harde slag.”

Leeu se oë word twee klein skrefies. “Gaan wys vir my waar.”

Haas loop voor om vir Leeu die pad te wys. Al die ander diere kom gedwee agterna. Hulle loop onderdeur die luiperd se boomtak, verby die buffels se skaduboom, deur die grasveld, verby die rivier en tot by die kremetartboom waaronder Haas gelê en slaap het.

“Hier,” beduie Haas. “Ek het ʼn harde slag gehoor en ek het geweet dat die wêreld besig is om te vergaan!”

Leeu stap stadig om die boom se stam. Hy gaan staan en kyk stip na die grond. “Het jy hiér gelê?”

Haas kyk na waar Leeu met sy poot beduie. “Ja,” sê hy.

Die krematartvrug wat teen die stam lê.

Leeu beduie na ʼn kremetartvrug wat op die grond lê. “Daar lê jou harde slag, klein vriendjie. Die kremetartvrug het langs jou kop geval en jy het groot geskrik, omdat jy deur die slaap was.”

Haas weet nie wat om te sê nie. Die ander diere lyk net so skaam.

Leeu kyk lank na hulle almal. “Ek hoop dat julle mooi sal dink voordat julle weer sommer enige iets glo,” sê hy. “Kom ons gaan nou maar almal huis toe en geniet die res van ons middagslapie.”

Die ander diere verdwyn stil-stil.

Leeu draai na Haas toe. “Jou verbeelding is ʼn goeie ding, klein vriendjie. Moet net nie dat hy met jou weghardloop nie.”

En van daardie dag af het Haas seker gemaak dat dit nie weer gebeur nie.

Haas en die einde van die wêreld

Erkenning: Hierdie verhaal is ʼn herskrywing van “The Timid Hare and the Flight of the Beasts” vanuit “The Jātaka: Or, Stories of the Buddha’s Former Births, Volume 3”, saamgestel deur deur E.B. Cowell.