Haas en die einde van die wêreld

Haas en die einde van die wêreld

Lisa Kruger
Een loom somersdag strek Haas homself rustig teen die stam van ʼn reuse kremetartboom uit. Hy maak hom reg vir ʼn lekker middagslapie...

Een loom somersdag strek Haas homself rustig teen die stam van ʼn reuse kremetartboom uit. Hy maak hom reg vir ʼn lekker middagslapie, toe ʼn gedagte skielik by hom opkom: “Sê nou maar die wêreld eindig? Wat word dan van my?”

Hy dink en dink totdat hy effens insluimer.

'n Harde slag laat haas wakker skrik

ʼn Harde slag laat hom wakker skrik. Haas spring verskrik op. Hy is dadelik doodseker dat die wêreld besig is om te vergaan. Hy spring weg en hardloop so vinnig as wat hy kan.

Haas hardloop verby ’n ander groep hase wat in ʼn skadukolletjie lê. Hulle kyk hom verbaas aan.

“Haai!” roep die ander hase. “Hoekom hardloop jy so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep Haas in die verbygaan. “Ek het dit met my eie ore gehoor!”

Die ander hase skrik groot. “As hy so sê, dan is dit seker so!” sê hulle vir mekaar en storm agter Haas aan.

Hulle hardloop naby die rivier verby. Daar is  ʼn vlakvarkfamilie wat vrolik in ʼn modderpoel rondrol.

“Haai!” sê ʼn vlakvark verbaas. “Hoekom hardloop julle so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep die hase in die verbygaan.

Die vlakvarke snork verskrik. “As hulle almal so sê, dan is dit seker so!” sê hulle vir mekaar en storm agter die hase aan.

Hulle hardloop deur ʼn grasveld waar  ʼn trop springbokke rustig staan en wei.

“Haai!” sê ʼn springbokooitjie verbaas. “Hoekom hardloop julle so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep die hase en vlakvarke in die verbygaan.

Die springbokke se oortjies tril van vrees. “As hulle almal so sê, dan is dit seker so!” sê hulle vir mekaar sluit met groot spronge by die ander diere aan.

Hulle hardloop verby ʼn trop buffels wat onder ʼn skaduboom staan en herkou.

“Haai!” bulk een buffel verbaas. “Hoekom hardloop julle so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep die hase, vlakvarke en springbokke in die verbygaan.

Die buffels snuif hard van ontsteltenis. “As hulle almal so sê, dan is dit seker so!” sê hulle vir mekaar en storm agter die ander diere aan.

Luiperd lê uitgestrek oor 'n boomtak

Hulle hardloop onderdeur ʼn luiperd wat oor ʼn boomtak uitgestrek lê. Haar stert swiep lui heen en weer terwyl sy die stormloop bekyk.

“Haai!” roep sy nuuskierig. “Hoekom hardloop julle so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep die hase, vlakvarke, springbokke en buffels in die verbygaan.

Die luiperd gee een groot sprong uit die boom uit. “As hulle almal so sê, dan is dit seker so!” sê sy vir haarself en sit hulle agterna.

Hulle storm in ʼn dreunende massa oor die vlaktes. Skielik spring ʼn yslike maanhaarleeu met ʼn harde brul voor hulle in. “Wat op AARDE gaan hier aan?”

Die diere kom in ʼn stofwolk tot stilstand. Almal praat tegelyk.

“EEN op ʼn slag, vriende!” brul Leeu. Die diere skrik en bly stil.

“Die wêreld is besig om te vergaan,” kom ʼn stem uit die bondel.

“Wie sê so?” vra Leeu.

Almal kyk ongemaklik rond.

“Vra vir die buffels,” sê die luiperd.

Die buffels skuifel rond. “Vra vir die springbokke.”

Die springbokke trippel senuweeagtig op een plek. “Vra vir die vlakvarke.”

Die vlakvarke maak hulleself klein. “Vra vir die hase.”

Die hase draai almal na Haas toe. “Vra vir Haas. Hy het dit met sy eie ore gehoor!”

Leeu draai sy groot geel oë na Haas toe. “Wat het jy gehoor, klein vriendjie?”

Haas trek sy ore plat teen sy kop. “Ek het onder ʼn boom gelê en slaap. Daar was ʼn harde slag.”

Leeu se oë word twee klein skrefies. “Gaan wys vir my waar.”

Haas loop voor om vir Leeu die pad te wys. Al die ander diere kom gedwee agterna. Hulle loop onderdeur die luiperd se boomtak, verby die buffels se skaduboom, deur die grasveld, verby die rivier en tot by die kremetartboom waaronder Haas gelê en slaap het.

“Hier,” beduie Haas. “Ek het ʼn harde slag gehoor en ek het geweet dat die wêreld besig is om te vergaan!”

Leeu stap stadig om die boom se stam. Hy gaan staan en kyk stip na die grond. “Het jy hiér gelê?”

Haas kyk na waar Leeu met sy poot beduie. “Ja,” sê hy.

Die krematartvrug wat teen die stam lê.

Leeu beduie na ʼn kremetartvrug wat op die grond lê. “Daar lê jou harde slag, klein vriendjie. Die kremetartvrug het langs jou kop geval en jy het groot geskrik, omdat jy deur die slaap was.”

Haas weet nie wat om te sê nie. Die ander diere lyk net so skaam.

Leeu kyk lank na hulle almal. “Ek hoop dat julle mooi sal dink voordat julle weer sommer enige iets glo,” sê hy. “Kom ons gaan nou maar almal huis toe en geniet die res van ons middagslapie.”

Die ander diere verdwyn stil-stil.

Leeu draai na Haas toe. “Jou verbeelding is ʼn goeie ding, klein vriendjie. Moet net nie dat hy met jou weghardloop nie.”

En van daardie dag af het Haas seker gemaak dat dit nie weer gebeur nie.

Haas en die einde van die wêreld

Erkenning: Hierdie verhaal is ʼn herskrywing van “The Timid Hare and the Flight of the Beasts” vanuit “The Jātaka: Or, Stories of the Buddha’s Former Births, Volume 3”, saamgestel deur deur E.B. Cowell.

Lisa Kruger
Lisa is ‘n student in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Sy het “Haas en die einde van die wêreld” geskryf as ‘n tweedejaarsprojek.
Illustrasies deur Henrico Greyling
Kopiereg: Lisa Kruger
April 2021