Die fontein van kristal

Die fontein van kristal

Erika Bos
Ver op ʼn berg staan die groot kasteel van ʼn koning met baie mag, maar sy dogter, Magriet, bring hom veel verdriet want sy hou net te veel van lag.

ʼn Verwerking van die Switserse verhaal “The Crystal fountain”

Ver op ʼn berg staan die groot kasteel
van ʼn koning met baie mag
maar sy dogter, Magriet, bring hom veel verdriet
want sy hou net te veel van lag.
As ʼn prins van ver oor die berge kom
om te vra na Magrietjie se hand
raak hy vinnig benoud, want sy vind altyd fout
met sy klere, of ʼn skewe tand.

Magriet lag

“O my magtig!” lag prinses Magriet hard toe daar een middag alweer ʼn prins voor die paleis se groot hekke staan. “Kyk net sy groot ore! Dit lyk asof hy enige tyd gaan opstyg!”

Die koning sug. Een van die dae gaan daar nie meer ʼn prins op die aardbol oor wees wat sy dogter nie beledig het nie.

 “Magriet, probeer tog hierdie keer om nie die prins sleg te sê nie. Hy het baie ver gereis om jou te kom sien. ”

Magriet lag so lekker dat sy nie eers hoor wat haar pa sê nie. Sy beveel die hekwagters om die hekke oop te maak en die prins in te laat.

“Goeie dag, o beeldskone Margareta,” sê hy toe hy voor Magriet staan. “Wat ʼn groot eer om u uiteindelik voor oë te hê. Ek, prins Boudewijn die tweede, kom van ver om u om u hand te vra.”

Hy haal sy hoed af en buig diep. Magriet kan haar lag nie inhou nie.

“Prins Boudewijn? Dit is die snaaksste naam wat ek al ooit gehoor het! En is jy nie ʼn bietjie jonk om sulke groot woorde te gebruik nie? Dit is mos net oumense wat so praat!”

Magriet hou haar maag vas soos sy lag. Hoe meer sy lag, hoe rooier word prins Boudewijn se gesig, tot hy uiteindelik in skaamte die paleis verlaat.

Die volgende dag daag daar weer ʼn prins by die paleis op. Hy ry op ʼn spierwit perd en dra ʼn rooi mantel van duur fluweel.

“Magrietjie,” probeer die koning maar weer om haar in toom te hou, “Prins Wilhelm is ʼn baie ryk en beroemde prins. Ek wil nie hê jy moet ons naam by hom ook deur die modder sleep nie.”

Tot die koning se verbasing nooi Magriet die prins vriendelik in en laat hom saam met haar eet. Hy gee vir haar pragtige geskenke: Egte satynskoene, botteltjies met lekkerruikgoed en ʼn hele klomp lekkernye. Net toe die koning begin ontspan en dink dat Magriet miskien van die prins hou, bars sy skielik uit van die lag. Die koning en Prins Wilhelm kyk vraend na mekaar.

“Liefste Magriet,” vra prins Wilhelm bekommerd, “wat is dan so snaaks?”

“Jou neus,” lag Magriet, “ek sien nou eers hoe krom dit is!”

Die koning laat sak sy kop in skaamte. Hoe sal Magriet ooit ʼn man kry as sy so tekere gaan? Prins Wilhelm staan woedend op en storm by die paleis uit.

So gaan dit elke keer as daar ʼn prins opdaag om na Magriet se hand te vra. Elke keer vind sy om die prins oor te spot, en elke keer storm hy met ʼn rooi gesig by die paleis uit.

Op ʼn dag gaan stap Magriet ʼn entjie in die woud om weg te kom van nóg ʼn simpel prins. Daar loop sy toe ʼn jong man raak wat besig is om hout bymekaar te maak. Behalwe vir die feit dat hy nie ʼn ryk prins is nie, kan sy geen fout in hom vind nie. Hy is aantreklik, slim en sê baie mooi dinge vir Magriet. Van daardie dag af ontmoet hulle gereeld in die woud en sommer gou raak Magriet verlief. Die jong man vra haar ʼn paar keer om te trou, maar Magriet – te trots om te erken dat sy verlief is op ʼn arm man – weier elke keer.

Een dag, terwyl hulle op ʼn klip langs ʼn pragtige stroom sit, sê Magriet aan die jong man: “Ek weet jy kan nie aan my ʼn koninkryk en skatte belowe as ek met jou trou nie, maar as jy ʼn fontein van kristal kan maak daar waar daardie groot doringbos is, sal ek met jou trou.”

Wat Magriet nie weet nie, is dat die jong man se ma ʼn feetjie is. Opgewonde gaan vertel hy aan sy ma die goeie nuus.

Die kristalfontein

Die feetjie spring dadelik aan die werk en die volgende oggend staan die pragtigste kristalfontein in die plek van die groot doringbos.

Die jong man glimlag breed toe hy die verwondering in Magriet se oë sien.

“Liewe Magriet, ek het gedoen wat jy gevra het,” sê hy, terwyl hy op een knie neersak, “sal jy nou met my trou?”

Toe Magriet sien hoe pragtig die woud se blomme in die kristal weerkaats, besluit sy om die troue nog ʼn bietjie uit te stel.

“Ag, jy sal dit tog nie onredelik vind as ek net nog een ding van jou vra, voordat ek met jou kan trou nie?” vra sy liefies. “Ek wil tog net so graag ʼn mooi tuin rondom die fontein hê, net hier waar die woud nou is.”

Weereens jaag die jong man na sy feetjie-ma toe en weer spring sy vinnig aan die werk. Die volgende oggend staan ʼn lieflike tuin met bloedrooi rose, pers viooltjies en nog duisende ander kleurvolle blomme op die plek waar die woud eens was. Magriet is só gelukkig dat sy die jong man dadelik omhels. Dan sien sy haar kasteel oor sy skouer en besef dat dit lelik afsteek teen die pragtige fontein en tuin wat voor dit staan.

“Ag my skat, jy het nou al soveel vir my gedoen, maar ʼn fontein en ʼn tuin is tog nie al wat ek kan vra sonder om onredelik te wees nie. As jy vir my ʼn paleis bou van diamante en edelstene, net daar waar my ou paleis nou staan, dan sal ek met jou trou – selfs al is jy nie ʼn prins nie.”

Toe die jong man se feetjie-ma dié nuutste versoek hoor, is sy buite haarself van woede.

“Dit is nou die laaste strooi,” roep sy uit en gryp haar towerstaffie, “as sy nie kan waardeer wat sy het nie, moet sy maar tevrede wees met niks!”

Met ʼn swierlike draai van haar towerstaffie is die hele pragtige tuin weer weg. Al wat oor is, is die glinsterende kristalfontein. Magriet het die hele aand by die fontein vir haar geliefde gesit en wag, maar te vergeefs, die jong man het besef dat die veeleisende versoeke van ʼn meisie nie die moeite werd is nie en weggebly.

Magrietjie se kop raak te groot vir haar lyf
en eindelik kan sy nie meer lag
nou sit sy en kwyn by haar skitterfontein
tot vandag vir haar liefde en wag.

Die fontein van kristal

Bron:

The Gold Scales. 2019. Swiss-Alpine folktales. http://oaks.nvg.org/swisc.html#fountain. Datum van toegang: 13/10/2020

Erika Bos
Erika is ‘n student in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Sy het “Die fontein van kristal” geskryf as ‘n tweedejaarsprojek.
Illustrasies deur Henrico Greyling
Kopiereg: Erika Bos
April 2021
0
Would love your thoughts, please comment.x