Met hangskouers en effe te groot vellies stap Nina sleep-sleep deur die veld. Sy verlang na die stadsliggies, na die dae toe haar ouers nie so besig was nie en na haar pophuis. Die pophuis met die baie vensters en pienk mure, dié pophuis wat veroorsaak het dat sy en oupa Jan nou so vassit. As oupa Jan net vir haar ‘n pophuis wil koop, sal sy ‘n baie lekkerder tyd hier op die plaas hê. Maar nee! Soos Oupa sê, “Hier op die plaas werk ons vir wat ons wil hê. Geld groei nie op bome nie, Nina!”
Terwyl Nina nog so hartseer loop en dagdroom, hoor sy ‘n vreemde geskree van iewers in die veld. Nina skrik haar yskoud! Sy wil omdraai en terughardloop huis toe, maar oupa Jan sê as mens vellies wil aantrek, moet mens ook braaf kan wees. Stadig en op haar tone sluip Nina nader aan die geluid. In die veld lê n groot kunsmissak.
Maar…daar roer iets in die sak!
Met oë toegeknyp maak Nina die sak versigtig oop en spring dan terug, bang vir wat uit die sak gaan klim. Maar voor haar is geen monster nie, maar ‘n groot, groenoog, babavlakvarkie.
Die skaamtelose, nuuskierige agie spring sommer op Nina se skoot en nét daar besef sy dat haar dae van alleen wees op die plaas verby is.
Sy het nou vir Fanie die vlakvark!
Fanie was goed vir Nina. Hulle het elke oggend in die veld ontmoet en gesels tot die son sak. Hy het haar vertel hoe hy in die kunsmissak beland het en sy het hom vertel van haar vakansie op die plaas.
Eendag, terwyl Nina arms agter haar kop en Fanie pooitjies in die lug onder die maroelaboom lê, stop Fanie vir Nina in die middel van haar sin. “Nina, vergeet nou eers van jou pophuis… hier is ‘n groot probleem op die plaas!”
Met groot oë luister Nina na elke woord wat Fanie sê, geskok oor wat sy hoor spring sy sommer op.
“Fanie, dit is verskriklik! Ek het nie geweet dat daar nog diere soos jy is nie, ons moet hulle red van al die rommel. Kom ons gaan help hulle nou dadelik!”
Vellies, sonskerm op hulle neuse en kruiwa aan die stoot, loop Nina en Fanie veld toe. Twee maatjies op ‘n missie om die plaas en so ook die wêreld ‘n beter, skoner en veiliger plek te maak. Soos hulle stap, sing hulle…
Trippe trappe trone
Kom saam, ons red die verlore
Roer, want hier is plek vir jou in ons drome
Wikkel, wapper of waai, moet nie waag om te wag
Ons gee almal n tweede kans om lag
Vinnig leer Nina dat die grootmenswoord ‘Besoedeling’ rêrig so gevaarlik is soos wat die tannie op die nuus gewaarsku het.
Eerste was dit Kallie die kalf wat vasgevang was in ‘n kraaines van gekoekte toue. Daarna Hessie die haas wat nou op een been hop oor ‘n stukkie glas in haar linkerpoot. Snoekie die skaap se ‘Mêêê’ is skoon hees van ‘n stukkie lekkergoedpapier wat in haar keel vasgesit het.
Vossie die vark se stertjie wil nie meer krul nadat dit vasgevang was in een van die weggooikartonne nie en Minkie die muis en haar drie babas sit nou sonder ‘n huis nadat haar stukkie veld in ‘n rommelhoop verander het.
Ontsteld gooi Nina al die rommel in haar kruiwa, hartseer oor hoe dit al die diere seegemaak het.
Met ‘n huppel in hulle stap en groot glimlagte op hulle gesigte stap Nina en al haar nuwe maatjies terug huis toe. Die kruiwa loop behoorlik oor van rommel en die plaas is nou weer veilig. Almal sing…
Trippe trappe trone
Ons is gered maar was eers verlore
Nou kan ons weer leef soos van tevore
Wikkel, wapper en waai! Ons het lank gewag
En nou kan ons almal uit ons magies uit lag.
Oupa Jan en ouma Marie was spierwit geskrik toe hulle hoor van al die rommelgoed op die plaas en besluit toe net daar dat hulle van nou af meer sal oplet oor waarheen al hulle rommer gaan en sal begin herwin.
Daardie aand het Nina met ‘n groot glimlag in die bed geklim.
Sy het nie meer na die stad se liggies en haar pophuis verlang nie. Sy het vandag geleer dat daar groter probleme in die wêreld is, probleme wat groter is as haar eie geluk.
Die probleme stel ander in gevaar… en van nou af sal sy help om dit op te los.
Die volgende oggend staan Nina dou voor dag op, selfs voor die haan se kraai! Sy is reg vir n nuwe dag vol avonture saam Fanie en haar nuwe maatjies. Soos sy buitetoe stap, hoor sy ‘n gegiggel en ‘n gefluister. Reg voor die voordeur staan oupa Jan met ‘n glinster in sy oë. “My liewe Nina, nie net het jy gewerk vir wat jy wil hê nie, jy het sommer ander in die proses gehelp; vir my en Ouma en sommer die hele plaas ook. Ek is baie trots op jou! Jy verdien die nuwe pophuis.”
Nina kan nie haar oë glo nie! Voor haar is die mooiste pophuis wat sy al ooit gesien het. Groot en so kleurvol soos ‘n reënboog pronk ‘n pophuis so mooi soos ‘n kasteel …en alles is uit rommel gebou!”
Nina hardloop die pophuis giggelend binne, opgewonde om elke hoekie te verken. Toe sy om die draai kom, sit al haar nuwe maatjies daar. Kallie, Hessie, Snoekie, Vossie en Minkie sit in ‘n kring en geniet ouma Marie se lekker melktert. Dis toe dat Fanie langs haar kom staan en vra, “So Nina, hoe gaan ons vandag die wêreld ‘n beter plek maak…?”
Nina se vellie-avontuur – Merize Beukes
Derde prys (hoërskool) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021