Petronella, die vlakwaterpadda

Petronella, die vlakwaterpadda

Helena Mellet
Rosie is verveeld. Sy dwaal rond in die tuin om hulle huis. Miskien moet sy by Ouma gaan tee drink. Maar dan hoor sy iemand hartseer huil...

Rosie is verveeld. Sy dwaal rond in die tuin om hulle huis. Miskien moet sy by Ouma gaan tee drink. Ouma woon net twintig treë weg in haar eie kothuis, maar Rosie is nou te lui om na Ouma toe te loop. 

Rosie dwaal nog so in die tuin, toe sy ’n vreemde geluid hoor. Dit klink soos iemand wat huil! Wie kan dan so hartseer wees? Rosie loop agter die geluid aan. Dit kom van die draad se kant af naby die tuinhekkie. Rosie loop versigtig langs die draad, want Pappa het ’n paar dae terug die omheining elektries gemaak om skelms uit te hou.

Rosie dwaal in die tuin rond

By die tuinhekkie gaan Rosie verward staan. Die gehuil is nou op sy hardste, maar wie kan dit wees wat so ween? Niemand behalwe Rosie is in die tuin nie. Die enigste ander lewendige ding hier buite wat Rosie kan sien, is ’n piepklein padda. 

Die padda sit aan die anderkant van die tuinhekkie. Rosie buk af om die padda van nader te bekyk. Sowaar! Dis die padda wat so vreeslik huil! Rosie is baie verbaas oor die huilende padda.

“Vir wat sal die padda dan so huil?” vra Rosie hardop vir haarself.

“Ek huil omdat ek nie deur die heining kan kom nie!” ween die padda kliphard.

Rosie val agteroor soos sy skrik. “Paddas kan mos nie praat nie!” sê sy vir haarself.

“Paddas kán praat, maar nie almal kan ons hoor nie,” snik die paddatjie.

Rosie sit regop en kyk na die liggroen padda.

Rosie ontdek padda

“Wat is jou naam, Padda en hoekom huil jy so?” vra Rosie.

“My naam is Petronella, die vlakwater padda,” antwoord die groen diertjie.

Twee groot trane rol by haar wange af.

“Vir wat is jy so hartseer?” vra Rosie weer.

“Want ek kan nie by my ouma gaan kuier nie!” Petronella, die vlakwater padda, begin van vooraf jammerlik huil.

“Hoekom kan jy nie by jou ouma gaan kuier nie?” vra Rosie stomgeslaan.

Petronella huil

Petronella huil so erg dat sy nie kan praat nie. Rosie staan op en maak die tuinhekkie oop. Sy tel die huilende paddatjie op om haar te troos. Eers gril Rosie vir die padda se glibberige lyf en laat val amper vir Petronella. Die padda skrik en hou op huil. 

“Toemaar, Petronella, ek sal jou nie seermaak nie,” troos Rosie toe sy sien hoe bang die padda lyk.

“My naam is Rosie en ek wil hê jy moet my vertel hoekom jy nie vir jou ouma kan gaan kuier nie.”

Die padda kyk na Rosie en haal diep asem voor sy verduidelik.

Rosie luister na padda

Petronella, die vlakwater padda, woon saam met haar gesin in die plaasdam anderkant Rosie-hulle se tuinhek. Ouma Adda-padda bly in die visdammetjie langs Rosie-hulle sê huis. Elke dag kom kuier Petronella en haar boetie vir Ouma Adda-padda om vir haar kos te bring. Die afgelope week kon Petronella en haar boetie nie by hulle ouma gaan kuier of vir haar kos vat nie. Die omheining wat Rosie se pappa elektries gemaak het, hou nie net die skelms uit nie, dit keer ook dat Petronella en haar gesin nie by Ouma Adda kan uitkom nie. Hulle sal skok as hulle onderdeur die draad probeer klim. 

Petronella se boetie het nie geweet van die elektriese draad nie en toe hy deur die draad probeer klim, skok hy so erg dat hy nou op krukke is.

“Dis verskriklik!” roep Rosie ontsteld uit.

“Dit is verskriklik!” snik Petronella en begin weer huil. Rosie se hand is sopnat van die hartseer padda se trane.

“Wat gaan ons doen?” vra Rosie. Sy wil baie graag vir Petronella help. “Ons kan nie aan die draad verander nie. Dit moet skelms buite hou.”

Petronella huil

Die huilende padda trek haar skouertjies op. “Ons het al ons koppe seer gedink, maar ons weet ook nie wat om te maak nie,” sê Petronella.

Rosie praat met padda

Rosie weet sy moet die padda-familie help, maar sy kan nie dink as die padda haar hand so nat huil nie. Sy sit vir Petronella versigtig op ’n klip neer. Toe gaan sit Rosie plat op die grond oorkant die padda en begin dink.

“Ek het dit!” skree Rosie en spring regop.

 “Pappa het eenkeer gepraat van…” 

Rosie haak vas, want dis ’n groot woord, 

“I-s-o-l-a-t-o-r. Ja, dis reg, isolators.”

Petronella wip soos sy skrik vir die groot woord. “Watse tipe tor is dit?” vra Petronella. “Ek dink nie ek het al van hulle hier rond gesien nie.”

Rosie lag. “Nee man, dis nie ’n gewone tor met pote en vlerke nie. ’n Isolator is ’n ding.”

“Watse ding?” wil die padda nuuskierig weet.

Rosie gaan sit weer langs die padda, haal diep asem en begin verduidelik.

“Kyk, Petronella, ek het nie nou tyd om alles vir jou te vertel nie. As jy nie verstaan hoe elektrisiteit werk nie, kan jy op ’n ander dag my pappa vra. Reg so?”

Petronella knik.

Rosie praat verder. “Nou kyk, ’n isolator is ’n ding wat elektrisiteit stop. Ek het nie nou al die ander groot woorde wat Pappa gebruik het nie, maar ek weet net as jy met ’n isolator aan die nuwe draad vat, gaan jy nie skok nie.”

Petronella glimlag. “Nou waar kry ons so ’n tor, Rosie?”

“Daar is net ’n paar dinge wat ’n isolator kan wees,” sê Rosie “byvoorbeeld; plastiek, glas, hout of rubber. As jy met een van daai goed aan die draad raak, sal jy nie skok nie.”

Petronella, die vlakwater padda, hou haar kop skeef soos sy luister. 

“So as ek van plastiek gemaak was, kon ek onderdeur die elektriese draad kruip sonder om te skok?”

Rosie knik.

“Maar ons paddas is nie van plastiek gemaak nie, so wat nou?” frons Petronella.

Rosie steek haar wysvinger opgewonde in die lug. “Nou dis waar my plan inkom! Ons moet vir julle isolator-jassies maak. Jy weet? Amper soos reënjassies wat keer dat jy nat word in die reën.”

Rosie dink

Die groen paddatjie spring op en af van opgewondenheid. “Dan trek ons isolator-jassies aan wat ons beskerm teen die elektrisiteit van die draad!”

“Net so!” stem Rosie saam.

“Ek dink nie plastiek, glas of hout gaan lekker werk vir isolator-jassies nie,” sê Petronella.

“Nee, dit is te hard,” stem Rosie saam “maar wat van rubber jassies?”

Rosie het 'n plan

“Dit kan werk, ja!” roep die padda uit “maar waar gaan ons die rubber jassies kry?”

Rosie dink skielik aan haar ouma. “My ouma is baie goed met naaldwerk. Ek is seker sy sal ons kan help. Kom ons gaan vra haar sommer nou dadelik!”

Rosie tel vir Petronella op en draf na Ouma se kothuis toe. Ouma is baie bly om vir Rosie te sien en verbaas oor die nuwe vriend wat haar kleindogter gemaak het. Rosie en Petronella vertel vir Ouma van die probleem met die nuwe draad en die rubber jassies. Ouma stem dadelik in om hulle te help. Sy sal die rubber jassies vir die padda-gesin maak. 

“Maar dit kan nie sommer enige rubber wees nie,” sê Ouma “vir ekstra veiligheid gaan ek 100% rubber gebruik.”

“Wat van die geel handskoene in Ouma se kombuis?” vra Rosie. “Ons kan mos net die vingers afsny en daarvan jassies maak vir die paddas.

Rosie by Ouma

Ouma skud haar kop. “Nee, die rubber van die handskoene is nie sterk genoeg nie. Ek gaan van die rubber in Pappa se stoorkamer gebruik.”

Ouma vra vir Rosie om vir hulle iets te maak om te drink. Terwyl Rosie vir almal ’n lekker koppie tee maak, gaan haal Ouma die sterk rubber in Pappa se stoorkamer. Ouma meet Petronella se lyfie en sny patrone uit die rubber.

Ouma maak jassies

Toe hulle klaar tee gedrink het, gaan sit Ouma agter haar naaimasjien. Binne ’n japtrap is die rubber jassies klaar.

Ouma stap saam met Rosie en Petronella na die elektriese draad sodat hulle kan sien of die jassies werk. Petronella trek haar jassie aan en gaan staan onseker langs die draad. 

“Toemaar,” troos Ouma “die jassie sal sy werk doen. Sorg net dat jy nie met jou vingers en tone aan die draad raak as jy deurkruip nie.”

Versigtig kruip Petronella onderdeur die draad. Sy kyk mooi dat haar vingers en tone nie aan die draad raak nie. Eenkeer voel sy die draad aan haar ruggie raak en skrik, maar die rubber van die jassie het gekeer dat sy nie skok nie. Toe Petronella veilig aan die anderkant van die draad is, begin sy dans en hande klap. Nou kan hulle weer by Ouma Adda-padda kom kuier sonder om bang te wees vir die draad! Petronella bedank vir Rosie en haar Ouma. 

So vinnig soos wat haar lyfie kan, hop die padda met die ander rubber jassies terug na haar huis toe by die dam om vir haar gesin die goeie nuus te gaan vertel.

Rosie gee vir haar Ouma ’n stywe druk.

“En nou?” lag Ouma.

“Ek is so bly daar is niks wat my keer om vir my ouma te gaan kuier nie,” sê Rosie. 

“Van nou af sal ek nooit weer te lui wees om die twintig treë na Ouma se kothuis toe te loop nie.”

Totsiens

Petronella, die vlakwaterpadda – Helena Mellet
Derde prys (volwassenes) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021

Helena Mellet
Illustrasies deur Helena Mellet
Kopiereg: Helena Mellet
November 2021
0
Would love your thoughts, please comment.x