Die fontein van kristal

ʼn Verwerking van die Switserse verhaal “The Crystal fountain”

Ver op ʼn berg staan die groot kasteel
van ʼn koning met baie mag
maar sy dogter, Magriet, bring hom veel verdriet
want sy hou net te veel van lag.
As ʼn prins van ver oor die berge kom
om te vra na Magrietjie se hand
raak hy vinnig benoud, want sy vind altyd fout
met sy klere, of ʼn skewe tand.

Magriet lag

“O my magtig!” lag prinses Magriet hard toe daar een middag alweer ʼn prins voor die paleis se groot hekke staan. “Kyk net sy groot ore! Dit lyk asof hy enige tyd gaan opstyg!”

Die koning sug. Een van die dae gaan daar nie meer ʼn prins op die aardbol oor wees wat sy dogter nie beledig het nie.

 “Magriet, probeer tog hierdie keer om nie die prins sleg te sê nie. Hy het baie ver gereis om jou te kom sien. ”

Magriet lag so lekker dat sy nie eers hoor wat haar pa sê nie. Sy beveel die hekwagters om die hekke oop te maak en die prins in te laat.

“Goeie dag, o beeldskone Margareta,” sê hy toe hy voor Magriet staan. “Wat ʼn groot eer om u uiteindelik voor oë te hê. Ek, prins Boudewijn die tweede, kom van ver om u om u hand te vra.”

Hy haal sy hoed af en buig diep. Magriet kan haar lag nie inhou nie.

“Prins Boudewijn? Dit is die snaaksste naam wat ek al ooit gehoor het! En is jy nie ʼn bietjie jonk om sulke groot woorde te gebruik nie? Dit is mos net oumense wat so praat!”

Magriet hou haar maag vas soos sy lag. Hoe meer sy lag, hoe rooier word prins Boudewijn se gesig, tot hy uiteindelik in skaamte die paleis verlaat.

Die volgende dag daag daar weer ʼn prins by die paleis op. Hy ry op ʼn spierwit perd en dra ʼn rooi mantel van duur fluweel.

“Magrietjie,” probeer die koning maar weer om haar in toom te hou, “Prins Wilhelm is ʼn baie ryk en beroemde prins. Ek wil nie hê jy moet ons naam by hom ook deur die modder sleep nie.”

Tot die koning se verbasing nooi Magriet die prins vriendelik in en laat hom saam met haar eet. Hy gee vir haar pragtige geskenke: Egte satynskoene, botteltjies met lekkerruikgoed en ʼn hele klomp lekkernye. Net toe die koning begin ontspan en dink dat Magriet miskien van die prins hou, bars sy skielik uit van die lag. Die koning en Prins Wilhelm kyk vraend na mekaar.

“Liefste Magriet,” vra prins Wilhelm bekommerd, “wat is dan so snaaks?”

“Jou neus,” lag Magriet, “ek sien nou eers hoe krom dit is!”

Die koning laat sak sy kop in skaamte. Hoe sal Magriet ooit ʼn man kry as sy so tekere gaan? Prins Wilhelm staan woedend op en storm by die paleis uit.

So gaan dit elke keer as daar ʼn prins opdaag om na Magriet se hand te vra. Elke keer vind sy om die prins oor te spot, en elke keer storm hy met ʼn rooi gesig by die paleis uit.

Op ʼn dag gaan stap Magriet ʼn entjie in die woud om weg te kom van nóg ʼn simpel prins. Daar loop sy toe ʼn jong man raak wat besig is om hout bymekaar te maak. Behalwe vir die feit dat hy nie ʼn ryk prins is nie, kan sy geen fout in hom vind nie. Hy is aantreklik, slim en sê baie mooi dinge vir Magriet. Van daardie dag af ontmoet hulle gereeld in die woud en sommer gou raak Magriet verlief. Die jong man vra haar ʼn paar keer om te trou, maar Magriet – te trots om te erken dat sy verlief is op ʼn arm man – weier elke keer.

Een dag, terwyl hulle op ʼn klip langs ʼn pragtige stroom sit, sê Magriet aan die jong man: “Ek weet jy kan nie aan my ʼn koninkryk en skatte belowe as ek met jou trou nie, maar as jy ʼn fontein van kristal kan maak daar waar daardie groot doringbos is, sal ek met jou trou.”

Wat Magriet nie weet nie, is dat die jong man se ma ʼn feetjie is. Opgewonde gaan vertel hy aan sy ma die goeie nuus.

Die kristalfontein

Die feetjie spring dadelik aan die werk en die volgende oggend staan die pragtigste kristalfontein in die plek van die groot doringbos.

Die jong man glimlag breed toe hy die verwondering in Magriet se oë sien.

“Liewe Magriet, ek het gedoen wat jy gevra het,” sê hy, terwyl hy op een knie neersak, “sal jy nou met my trou?”

Toe Magriet sien hoe pragtig die woud se blomme in die kristal weerkaats, besluit sy om die troue nog ʼn bietjie uit te stel.

“Ag, jy sal dit tog nie onredelik vind as ek net nog een ding van jou vra, voordat ek met jou kan trou nie?” vra sy liefies. “Ek wil tog net so graag ʼn mooi tuin rondom die fontein hê, net hier waar die woud nou is.”

Weereens jaag die jong man na sy feetjie-ma toe en weer spring sy vinnig aan die werk. Die volgende oggend staan ʼn lieflike tuin met bloedrooi rose, pers viooltjies en nog duisende ander kleurvolle blomme op die plek waar die woud eens was. Magriet is só gelukkig dat sy die jong man dadelik omhels. Dan sien sy haar kasteel oor sy skouer en besef dat dit lelik afsteek teen die pragtige fontein en tuin wat voor dit staan.

“Ag my skat, jy het nou al soveel vir my gedoen, maar ʼn fontein en ʼn tuin is tog nie al wat ek kan vra sonder om onredelik te wees nie. As jy vir my ʼn paleis bou van diamante en edelstene, net daar waar my ou paleis nou staan, dan sal ek met jou trou – selfs al is jy nie ʼn prins nie.”

Toe die jong man se feetjie-ma dié nuutste versoek hoor, is sy buite haarself van woede.

“Dit is nou die laaste strooi,” roep sy uit en gryp haar towerstaffie, “as sy nie kan waardeer wat sy het nie, moet sy maar tevrede wees met niks!”

Met ʼn swierlike draai van haar towerstaffie is die hele pragtige tuin weer weg. Al wat oor is, is die glinsterende kristalfontein. Magriet het die hele aand by die fontein vir haar geliefde gesit en wag, maar te vergeefs, die jong man het besef dat die veeleisende versoeke van ʼn meisie nie die moeite werd is nie en weggebly.

Magrietjie se kop raak te groot vir haar lyf
en eindelik kan sy nie meer lag
nou sit sy en kwyn by haar skitterfontein
tot vandag vir haar liefde en wag.

Die fontein van kristal

Bron:

The Gold Scales. 2019. Swiss-Alpine folktales. http://oaks.nvg.org/swisc.html#fountain. Datum van toegang: 13/10/2020

Hekelsteeltjie

Eens op ’n tyd het daar ’n knap meisie, Lien, of Lientjie, soos meeste mense haar noem, saam met haar ouma in die platteland gewoon. Lientjie se ouma is die eienares van die winkel  Hekel Hoekie, waar mense elke dag kom wol koop.

Lientjie en Ouma

Baie jare gelede kon Ouma baie goed brei en hekel, maar deesdae is haar vingers styf van die ouderdom en haar hande bewe só dat sy nie ’n hekelpen kan vashou nie.  Sy is baie trots op haar oulike kleindogter en spog graag oor haar.

Op ’n dag daag daar ’n ryk vrou van Johannesburg by Hekel Hoekie op.

“Ek hoor jou kleindogter kan die mooiste komberse hekel,” sê sy vir Ouma.

Ouma weet Lientjie het nou die dag eers geleer hoe om te hekel. Haar pogings lyk nog brou, maar as dit by Lientjie kom, kan Ouma haarself nie help om te spog nie.

“Natuurlik, Mevrou,” jok Ouma, “My kleindogter hekelwerk is goud werd!  Sy sal vir Mevrou komberse in ’n paar minute kan hekel.”

“Dit is fantasties,” sê die ryk vrou, “As sy teen môreoggend 10 gehekelde komberse vir my kan gee, sal ek dubbel die prys daarvoor betaal.”

Ouma voel jammer dat sy vir die ryk vrou gejok het, maar  sy glo vas dat Lientjie ’n plan sal kan maak.  Laat die middag neem sy vir Lientjie na Hekel Hoekie.  Sy wys vir haar al die wol en sê:

“Vanaand moet jy 10 komberse uit al hierdie wol hekel. ’n Baie ryk vrou gaan dit môreoggend kom haal. As jy dit kan regkry, sal sy ons baie geld betaal.”

Ouma is bekommerd en hartseer toe sy uitstap en die deur agter Lientjie sluit.

Lientjie huil

Lientjie kyk na al die wol voor haar en bars in trane uit. Sy kan tolletjiebrei en tossels maak uit wol, maar komberse hekel, dít kan sy nog nie doen nie!

Skielik gaan die deur oop en  ’n deftige heks  stap in.

“Wie is jy?” snik Lientjie.

Die heks begin sing:

“Wie is ek? Wie is ek?
Noem my maar die hekelheks!”
My regte naam sal jy nooit kan raai,
want ek heet tog te fraai!”

“Waarom grens jy?” kekkel die hekelheks nog voor Lientjie iets kan sê.

“My ouma het vir ’n ryk vrou vertel ek sal 10 komberse voor môreoggend vir haar hekel, maar ek kan nie!” sê Lientjie.

’n Langbeenspinnekop kom oor die hekelheks se skouer geklouter. Onder die heks se rok kom daar ’n gekleurde duisendpoot en die oulikste krimpvarkie geskarrel.

Hekelhelpers

“Dit is my hekel helpers: Langbeentjie, Kettingstekie en Kortbeentjie,” stel die hekelheks hulle voor.

Langbeentjie waai met sy een been in die lug.

“Ons kan 10 komberse voor môreoggend vir jou hekel, maar jy moet eers iets vir my gee,” sê die hekelheks.

 Lientjie gee die pêrels om haar nek vir die heks. 

Langbeentjie

Vir die volgende paar ure verwonder Lientjie haar hoe die hekelheks, Langbeentjie, Kortbeentjie en Kettingstekie te werk gaan.  Langbeentjie spin webbe met wol.  Kettingstekie hekel blitsvinnig met sy duisend pote wat soos hekelpenne werk. Kortbeentjie gebruik die penne op sy rug om baie drade wol gelyk aanmekaar te hekel. Die hekelheks toor die wol met haar staf dat die kleure spat.

Lientjie moes aan die slaap geraak het, want toe sy die volgende oggend wakker word, lê daar 10 van die mooiste komberse wat sy al ooit gesien het. Die hekelheks, Langbeentjie, Kortbeentjie en Kettingstekie is skoonveld.

Toe Ouma ’n rukkie later die winkel oopsluit, roep sy uit: “Dit is pragtig!”

Lientjie en Ouma met die kombers

Ouma gaan hurk voor die komberse en voel-voel daaraan asof sy nie kan glo dat sy hulle regtig sien nie. Dan kyk sy Lientjie in die oë en sê: “Dit is die mooiste komberse wat ek al ooit gesien het en knap handewerk daarby!”

Lientjie wou Ouma nog  van die hekelheks en haar hekel helpers vertel, toe die ryk  vrou instap. Sy is baie beïndruk. Sy slaan haar hande bymekaar en roep:

“Ek gaan die mooiste komberse in die hele stad hê! Hekel vir my nog 15 komberse teen môre, dan sal ek vyf keer die bedrag betaal.”

Met hierdie woorde verdwyn sy by die deur uit.

Die hele oggend by die skool kan Lientjie aan niks anders dink nie. Sal die hekelheks en haar helpers haar weer help? Laat die middag sit Lientjie weer alleen in Hekel Hoekie.

“Hekelheks!” roep sy.

Daar is geen antwoord nie.

“Langbeentjie! Kortbeentjie! Kettingstekie!”

Dit bly doodstil in die winkel. Die trane kom sit weer vlak in haar oë. Hoe gaan sy vanaand 15 komberse hekel?

Heks en helpers

Skielik maak die hekelheks  weer haar verskyning. Langbeentjie kom met ’n draad wol van die dak af gesak en Kortbeentjie en Kettingstekie kruip onder die toonbank uit.

“Wat sal jy hierdie keer vir my gee?” vra die hekelheks.

Heks met oorbelle

“My oorbelle,” antwoord Lientjie dankbaar.

In ’n japtrap toor die hekelheks en haar helpers 15 van die mooiste komberse.

Toe die ryk vrou die volgende oggend haar komberse kom haal, hou sy só baie daarvan dat sy sommer nóg 20 bestel.

Heks dink aan Ouma

Die volgende aand sit Lientjie weer in Hekel Hoekie. Sy probeer om self ’n kombers te hekel, maar sy vorder veels te stadig. Net toe sy wou moed opgee, sien sy die hekelheks vir haar loer.

“Ek het niks anders om vir jou te gee nie,”  sê sy hartseer.

“Belowe my dan jy sal jou ouma vir my gee,” sê die hekelheks gretig.

“Nooit nie!” roep Lientjie.

Sy is baie lief vir haar ouma en sal haar vir niks in die wêreld verruil nie, selfs al het sy vir die ryk vrou gejok.

“Nou goed dan,” sê die hekelheks, “Ek sal jou help, maar dan moet jy my naam reg raai. As jy verkeerd is, kry ek jou ouma.”

Lientjie weet sy het nie ’n ander keuse nie en stem in. Sy sal maar net die hekelheks se naam reg móét raai.

Die volgende oggend is die ryk vrou baie tevrede met haar komberse en betaal Ouma ’n groot bedrag geld met haar goue kaart. Ouma glimlag van oor tot oor.

“Nou kan jy enige iets kry wat jou hart begeer, Lientjie,” sê Ouma trots.

Lientjie se oë blink as sy aan die pragtige fiets in oom Sakkie se winkel dink…

Baie maande gaan verby wat die Hekel Heks nie weer haar verskyning maak nie. Lientjie ry elke oggend met haar nuwe fiets skool toe. Ouma maak baie geld met Hekel Hoekie.  Die mense het gehoor van die pragtige komberse en wil wol koop om ook hierdie komberse te maak. Lientjie het al vergeet van die ooreenkoms wat sy met die hekelheks gemaak het.

Heks in Lientjie se kamer

Een middag verskyn die hekelheks onverwags in Lientjie se kamer.

“Wie is ek? Wie is ek?
Noem my maar die hekelheks!”
My regte naam sal jy nooit kan raai,
want ek heet tog te fraai!”

“Is jou naam Agnes? Helen? Maria?” raai Lientjie.

“Jy is verkeerd!” lag sy, “Daar is twee dae oor om my naam te raai, anders is jou ouma myne!”

Daardie aand kan Lientjie nie slaap nie. Sy dink aan al die kinders in haar klas met ongewone name. Die volgende middag maak die hekelheks weer haar verskyning en sing:

“Wie is ek? Wie is ek?
Noem my maar die hekelheks!”
My regte naam sal jy nooit kan raai,
want ek heet tog te fraai!”

“Viola? Aspersie? Petra? Poggenpoel?” raai Lientjie.  

“Jy is verkeerd!” skater sy, “Daar is een dag oor om my naam te raai, anders is jou ouma myne!”

Lientjie dink en dink. Op die laaste dag sien sy dat Langbeentjie iets teen haar kas hekel. Dit lyk soos letters. Sy trek haar oë op skrefies om beter te kan sien:

hekel

Wat probeer Langbeentjie vir haar sê? Later voel sy ietsie teen haar been steek. Dit is Kortbeentjie. Op sy rug is daar nog ’n stel gehekelde letters:  

steel

Lientjie verstaan nie. Moedeloos gaan sy voort om aan nóg name te dink.

Later lê Kettingstekie voor haar bed op sy rug. Toe sy hom regop wil help, sien sy die letters op sy pote:

tjie

Dit móét iets beteken!  Lientjie gaan staan verder weg. Nou sien sy dat al drie die hekel helpers saam iets spel:

Hekelsteeltjie
Naam Hekelsteeltjie

Dit moet die hekelheks se naam wees!

’n Rukkie later, toe Lientjie vir Ouma in Hekel Hoekie wag, maak die hekelheks weer haar verskyning. Sy glimlag breed, want sy weet Lientjie sal nooit haar naam kan raai nie.  

“Wie is ek? Wie is ek?
Noem my maar die hekelheks!”
My regte naam sal jy nooit kan raai,
want ek heet tog te fraai!”

Maar Lientjie sing vir haar terug:

“Hekelheks! Hekelheks!
Al die raai, maak my gek.
Nou sal almal weet,
dat jy HEKELSTEELTJIE heet!”

Hekelsteeltjie is woedend.

“’n Boef het jou vertel!” skree sy.

Heks spin in die rondte

Sy word bloedrooi van woede en stamp met haar voet hard teen een van die rakke. Al die wol tuimel op haar neer. Haar towerstaf val op die grond en skielik begin al die wol om en om haar spin totdat sy in ’n kokon wol verdwyn. Sy spin  vinniger en vinniger in die rondte totdat sy by die venster uit tol. Na daardie dag het niemand Hekelsteeltjie ooit weer gesien nie.

Langbeentjie, Kortbeentjie en Kettingstekie het by Lientjie en haar ouma gebly en hulle geleer hoe om die mooiste komberse te hekel.

Leintjie, Ouma en die helpers
Die einde
Die deftige heks

Erkennings:
Baie dankie aan Johanna Scholtz wat die karakters vir my gehekel het en Melanie Langner wat die foto’s  vir die illustrasies geneem het.
Hierdie verhaal is ’n kreatiewe herskrywing van Repelsteeltjie, soos opgeteken deur die Grimm Broers en vertaal in die Afrikaanse Kinderensiklopedie (1954:4439).

Die blouaap, die dassie, en die druiwetros

Die son het skaars oor Klein Rooiberg opgekom in die droë, dorre Kakamas, toe lê Dassie reeds toe-oë uitgestrek op ʼn rots. Hy het besluit om vir so rukkie te bak voordat hy moet begin rondsoek vir sy ontbyt. Nes hy sy oë oopmaak om die helder son vir weer ʼn keer te groet, vang ʼn beweging sy oog.

Dassie

Dis ʼn blouaap wat skarrel oor die leë rosyntjiebane. Dit is nie die eerste dier wat Dassie sien rondsoek vir kos nie. Wat wel Dassie se aandag trek toe hy die tweede keer kyk, is wat eintlik vir hom aanloklik is.

“Daai is nou ‘n maaltyd wat enige bosvelddier aan sal wil smul. Ek glo ek het my ontbyt nou raakgesien, nou moet ek dit net uitsorteer.”

Blouaap

Blouaap huppel van opgewondenheid terug na sy kameeldoringboom. Hy kon vanoggend ‘n heerlike vet druiwetros by die Groot Boer steel. Hierdie maaltyd sal sy maag vir die trommeldik hou! Dalk vier, as hy spaarsamig eet. Sy stertjie houvas die druiwetros styf terwyl sy pootjies rats teen die bas klouter. Hy lê terug met ʼn sug, en net voor hy die eerste korrel pluk, hoor hy ʼn bekende stem.

“Môre, ou Apie, jou wonderlike wese!”

Die son het skaars oor Klein Rooiberg opgekom in die droë, dorre Kakamas, toe lê Dassie reeds toe oë uitgestrek op ʼn rots.

Blouaap draai sy kop en sien hoe Dassie onder die boom op sy agterpote staan. Hy word effe agterdogtig, kyk maar weg en hou sy druiwetros bietjie stywer in sy pote vas.

Dassie hou voort: “Apie, die dier waarna ek so opkyk, het jy darem ʼn heerlike nagrus gehad?”

Apie kan nie help om te lag vir Dassie se bogstorie nie. Hy draai terug na Dassie en begin hom ondervra. “Wat soek jy hier, Dassie? Dis so skaars soos hoendertande dat jy jou wipstertjie oor die hele vlakte tot hier by my kom karwei.”

“Ek is net hier om bietjie te gesels, ou Apie. By die rotse daar anderkant raak dit soms eensaam, en watter voorreg is dit nie om hierdie beeldskone oggend saam met jou kan te spandeer nie.”

Blouaap kyk nou, van sy takkie af, vir Dassie in die oë: “Beeldskone oggend?”

 “Dis is eintlik meer ʼn manjifieke oggend, is dit nie? Dis nou nie so manjifiek soos jy nie, Apie, met jou tandjies so skerp soos ‘n Khoi-San spies. Jou standvastige pootjies met kloue wat skrik vir niks. Jou pels wat so skitter in die sonlig. Jou driedubbele krulstert wat jou laat hang en draai en swaai.”

Blouaap voel gevlei deur Dassie se woorde, en vergeet heeltemal van sy agterdog. Hy vat die druiwetros in sy stert vas, en hang nou van die tak af om Dassie se komplimente in te drink.

“Dis so gaaf van jou om al hierdie dinge te sê, Dassie. En jy is seker nie verkeerd nie. My stert is nogal sterk.”

Druiwetros

Dassie se mond water terwyl hy na die druiwetros staar. Dit hang nou so naby aan hom, hy kan dit amper proe!

“Nogal sterk? Jy hoef jou nie nederig te hou nie, my Kalahari-neef. Jou stert is duisend maal beter as myne. Dit is dubbeld my ou dassie-lyfie se lengte, en is so ʼn pragtige kleur.”

Dassie sien hoe Blouaap sy komplimente opslurp. Hy weet hoe Blouaap se ore sing as iemand sy ego so streel. Hy weet ook hoe naby hy is aan sy ontbyt. Hy moet nou ʼn slim plan hier beraam.

“Ek het jou al dopgehou van my ou rotsie af. Ek het gesien hoe jy glip en gly deur die takke. Dit lyk so asof jy soos ʼn duif deur die lug sweef. Ek sal natuurlik nooit iets van daardie aard kan regkry nie.”

Blouaap sit ʼn met vet glimlag op sy gesig. “Dit is maar net ʼn gawe waarmee ek geseën is, my liewe Dassie. Geen dier is eenders nie. Dit is maar net blote toeval dat ek die talentvolste tussen al die diere is.”

Dassie sien sy kans. Hy begin in ʼn vervalste stemmetjie vir Blouaap smeek: “Ag, Apie, ek kyk al vir weke net van die verte af. Wys my tog hoe jy so klouter en draai, terwyl ek nog hier naby sit. Dit sal hierdie manjifieke oggend net soveel beter maak!”

“Net omdat jy so mooi vra!” skaterlag Blouaap.

Blouaap begin sy stert ontrafel, gooi sy pote in die lug en begin te spring… en laat los die druiwetros. Met ʼn plof val die druiwetros in die sand. Terwyl Blouaap nog parkaatse uithaal, skarrel Dassie so vinnig soos hy kan om die druiwetros op te raap.

Luidkeels roep Dassie uit na Blouaap: “Dankie vir die vertoning, my geagte neef, en ʼn ekstra dankie vir my ontbyt! Alhoewel daar dalk nou ʼn paar pap korrels mag wees, is ek meer as tevrede.”

Blouaap staar in ongeloof na Dassie. “Waarom kon jy my so verraai met jou vleiende woorde, jou lummel!”

Dassie antwoord: “Waarom vertrou jy iemand wat jou so kan flous en vlei?”

(“Die blouaap, die dassie, en die druiwetros” is ‘n verwerking van Esopus se “Die jakkals en die kraai.”

Boksom en die bende

Boksom is ’n baie vriendelike Pit Bull. Hy bly saam met sy gesin wat baie lief is vir hom. Ma gee vir hom soentjies tussen sy ore, Pa voer hom skelm biltong en in die aand mag hy langs Lila op haar kussing lê. Daar is net een ding wat Boksom baie hartseer maak. Elke dag as hy alleen by die huis moet bly, wil niemand met hom speel nie.

Elke oggend wanneer die posman met sy fiets verby die huis kom, hardloop Boksom om hom te groet.

“Môre, meneer Posman! Wil jy dalk met my speel?” vra Boksom.

“Aikôna, Ntshwa!” sê die posman en klap Boksom liggies met ’n handvol koeverte oor die neus.

Teleurgesteld stap Boksom weg. Hy was dan net vriendelik met die posman. Dan sien hy vir Dawie de Duif op die voorstoep pik. Opgewonde hardloop hy na Dawie toe.

“Môre, Dawie de Duif! Wil jy dalk met my speel?”

Met ’n gefladder vlieg Dawie tot op die dak.

“Ek is veels te klein om met jou te speel! ’n Hond en ’n duif wat met mekaar deel, is iets wat jy jou net kan verbeel,” sê Dawie kwaai.

Afgehaal draai Boksom om. Dan sien hy vir Mietsie, die buurvrou se kat, waar sy haar naels teen die boomstam skerpmaak. Opgewonde hardloop hy nader.

“Môre, mooiste Mietsie! Wil jy dalk met my speel?”

“Mi-aaaa-u!” gil Mietsie en klouter by die boom op.

Haar hare staan skoon regop van die skrik.

“Nee, nee, nee,” sê sy terwyl sy haar poot lek, “Dit kos net een hap en ’n klap, dan is ek katpastei. Honde soos jy, is veels te groot vir my.”

Hartseer gaan sit Boksom op die gras.

Ek wens ek was eerder so rats soos ’n kat, dan het ek dalk ’n maatjie gehad, dink Boksom treurig.

In die straat kom daar bende afgesluip. Hulle dra almal groot sakke oor hulle skouers en daar is donker maskers oor hulle oë. Die bende fluister vir mekaar en kyk rond of hulle iemand sien.

Boksom lig sy een oor aandagtig. Sal hulle miskien sy maatjies wees? Die bende begin een vir een oor die heining klouter. Boksom wag dat hulle almal met ’n gesukkel oor die heining geklim het, dan storm hy blaffend op hulle af. Die bende skrik hulleself boeglam! 

So vinnig as wat hulle kan, probeer hulle terug oor die heining klim, maar hulle trap en skop mekaar só dat nie een oor die heining kan kom nie. Boksom hardloop tot by hulle en begin opgewonde op en af spring.  

“Het julle met my kom speel? Het ek vier nuwe maatjies gekry?”

Die mans bewe dat hulle tande klap. Hulle klou aan mekaar vas.

Siestog, dink Boksom, hulle weet seker nie hoe om te speel nie.

“Ek sal julle wys hoe om te speel,” sê Boksom.

 Hy gryp die een man se broekspyp en ruk dit soos wanneer hy en Pa toutrek speel.

Die man gil so hard dat Dawie de Duif kom kyk wat aangaan.

“Wys hom, Boksom!” juig Dawie en fladder sy vlerke.

Een van die mans begin om weg te hardloop. Boksom dink hy wil die jaag speletjie speel en storm agter die man aan.  Boksom is baie vinniger en hy duik die man plat dat die gras spat.

Mietsie bekyk alles vanuit die boom.

Mooi-aau so, Boksom!” spin sy.

Die man staan bewend op. Hy wil na die hek toe gaan, maar hy is te bang om verby Boksom te stap. Boksom kyk na die res van die bende waar hulle tevergeefs oor die hek probeer klim.

Van al die lawaai kom kyk die buurvrou wat aangaan. Sy praat op haar selfoon. Vinnig raak die straat vol mense wat die affêre aanskou.

Miskien is dit ook ’n speletjie om oor die heining te probeer kom? wonder Boksom.

Hy storm weer op die bende af en spring so hoog as wat hy kan teen die heining op. Dit voel of hy vlieg. Sy ore flap in die wind Sy kop steek bokant die hek uit. Hy sien vir ’n oomblik  al die dakke van die huise van die buurt.

Eensklaps val die mans op die grond van skrik toe Boksom langs hulle spring.

“Het julle dit gesien? Het julle dit gesien? Ek wen!” blaf Boksom opgewonde. Sy tong hang skoon uit van opwinding.

“Mooi so, Boksom!” bulder oom Piet.

Die mense in die straat klap hande.

Skielik stop daar twee polisiekarre voor die huis. Twee polisiemanne spring rats oor die heining.

“Nóg maatjies!” roep Boksom uit en spring teen een van die polisiemanne op.

Die polisiemanne begin om die bende na die hek toe te stoot.

Mense speel darem maar baie vreemde speletjies, maar Boksom dink hy verstaan hoe dit werk. Met al sy krag stoot hy een man van agter af. Die man skrik so groot dat hy sommer vanself na die hek toe hardloop.

Dit was maklik, dink Boksom trots. Nou hoef die polisie nie eens meer te veg nie. Die bende klou aan die hek was. Sweet slaan op hulle voorkoppe uit.

“Asseblief, asseblief, ons sal gehoorsaam wees, beskerm ons net,” pleit hulle.

’n Wit kar trek haastig by die oprit in. Dit is Pa. Boksom waai sy stert opgewonde. Pa maak die hek oop. Die bende storm na die polisiekarre toe en spring vinnig in die vangwa. Boksom hardloop agter hulle aan en staan met sy pote teen die polisiekar op. Hy glimlag vir die bende.

“Dankie dat julle my maatjies was vandag! Ek hoop ek sien julle sommer gou weer!”

Van daardie dag af het Boksom altyd iemand om mee te speel.

Elke keer as die posman verby kom, gooi hy vir Boksom ’n stok om te vang.

Dawie leer Boksom om oor die heining te vlieg. Hy kry dit nog nie heeltemal reg nie, maar met bietjie oefening, weet Boksom, kan hy enige iets doen!

Mietsie laat hom toe om haar te jaag. Die beste van alles is, al die mense van die straat wat hom troetel en hondebeskuitjies voer. Hulle noem hom ’n held.

Boksom weet nie wat ’n held is nie, maar hy dink dit is wat Lila nou die dag gesê het:

“’n Groot hond, met ’n klein hart van goud.”

Frieda se verlore fluit

Towerfontein

“Dis onregverdig,” brom Aradia. Sy trek haar voet terug en skop die blikkie so hard as wat sy kan, sodat die blikkie oor die teerpad vlieg en naby ʼn klein groen bossie land.

“Beatrix se ma-hulle het dadelik ja gesê, hoekom is almal se ouers gawer as
myne!” brom sy en stap oor die straat na die blikkie toe. Sy skop die blikkie
selfs harder as tevore en hy vlieg in die bossie in.

“Ughhhhh,” brom sy weer en stap aan. Skielik vlieg die blikkie terug uit die
bos uit en tref haar teen die kop.

“Eina!” Aradia kyk deurmekaar na die bos.

In Aradia se tuisdorp, Towerfontein, gebeur daar nog altyd vreemde dinge. Almal wat daar bly is of ’n heks of ’n towenaar, ’n hele paar van die inwoners is elwe en daar is selfs ’n feetjiegesin wat nou ingetrek het. Daar is net geen trolle nie. Maar bosse wat blikkies gooi, dit ken Aradia nie. Sy stap versigtig nader.

Miskien is hy kwaad vir my… dink sy.

“Jammer dat ek jou met my blikkie geskop het, meneer bos,” maak sy verskoning en krap haar kop. Ek is eintlik net vies vir my ma-hulle. Al my beste vriendinne se ouers het vir hulle van daai nuwe miniatuurdrake gekoop, daai Pers-Skub teekoppie-grootte drake, maar my ouers wil niks daarvan hoor nie. Hulle is te bang hy brand die huis af. Asof ek hom nie mooi sou leer nie.” Sy rol haar oë.

“Hulle sê ek is nog te jonk vir die verantwoordelikheid, maar ek is al
twaalf! Dis belaglik…” Die bos roer nie.

Sy krap haar kop weer. “Maar in elk geval, ek’s baie jammer…” Sy begin
stadig weer wegloop. Skielik ritsel die bos woes!

Uit kom ʼn blink pers snoet en twee swart ogies. Aradia kan haar oë nie glo nie, dit is een van daai Pers-Skub-drake! Die teekoppie-grootte soort!

Sy kyk rond, maar niemand is buite in die straat nie.

Die klein draak kruip stadig uit die bos uit en ruik aan haar uitgestrekte
hand. Dan gee hy haar ’n lang nat lek.

“Hehe,” lag sy “ek dink jy hou van my, maar waar is jou huis?” Sy kyk om sy
skubberige nek, maar hy het nie ’n band aan nie.

Aradia begin na die naaste huis toe stap. Miskien is dit hulle draak, dink sy. Die draak volg haar na die huis toe. Dit is die nuwe feetjiefamilie, die Sprankels. Sy lui die klokkie, maar niemand antwoord nie.

Die draak ruik nuuskierig aan hulle verwelkomingsmat.

“Is hierdie jou huis?” vra Aradia. Die drakie begin weer af stap na die straat toe. Seker nie… dink sy.

Drake is mos baie slim, miskien moet ek hom net volg na sy huis toe. Die twee stap af by die straat. Die klein draak ruik-ruik aan alles. Dit gaan amper donker word, besef Aradia.

“Ek kan jou nie net hier buite los nie, waar gaan jy slaap?” Die draak kyk
op na haar met sy twee groot swart oë en tong wat uithang.

“Miskien kan jy by my kom oorslaap!” sê sy opgewonde.

“Net vir vanaand,” keer sy haarself “môre sal ons jou huis gaan soek.” Die draak waai sy stert opgewonde.

(Volgende bladsy)

Lappies se donkiekar avontuur

Lappies 1

Met sonsopkoms is Lappies en Elsie alreeds huppelend in die straat af op pad. Die lug skyn pienk deur die nat blare. Lappies hou Elsie se hand vas en Elsie hou haar ma se hand vas.

Lappies is baie lief vir Elsie. Sy is die beste mensekind waarvoor ‘n teddie kan vra. In die dag speel hulle wegkruipertjie of hulle hou piekniek. Lappies gaan nêrens sonder sy Elsie nie. 

Vandag is Elsie se ma haastig. Hulle stap so vinnig, arme Lappies se voete kan amper nie byhou nie. Skielik staan Lappies stil.

“Kyk Elsie, ‘n donkiekar! Kan ons groot asseblief op die donkiekar ry?”

“Ek weet nie Lappies, jy weet my ma is vandag haastig,” sê Elsie.

Lappies maak sy oë groot sodat Elsie kan sien hoe graag hy op die donkiekar wil ry.

“Nou goed dan,” sug Elsie.

Elsie vou haar hande by mekaar en saam  kyk hulle smekend na Elsie se ma.

Lappies 2

“Wie kan dan vir sulke oulike gesiggies nee sê?”  glimlag Elsie se ma en stop ‘n geldjie in Lappies se hand.

“Jippie!” roep Lappies en hardloop na die laphuise waar die donkies staan.

Lappies kan sy oë nie glo nie. Voor hom staan die snaaksste twee gediertes wat hy al ooit gesien het. Hulle neuse en ore is lank en op hulle koppe is strooihoede met die mooiste geel en rooi blomme daarop. Hy steek sy arm versigtig uit om aan ‘n donkie se neus te raak.

“EE-HO!”

Lappies skrik hom boeglam. Oom Piet Langoor lag.

“Hulle name is Vonnie en Meraai ˗die oulikste donkies in Pelgrimsrus.”

Lappies 3

Lappies stop die geldjie in Oom Piet se hand:

“Bo dorp toe, asseblief.”

Vinnig klouter Lappies en Elsie op die wa en gaan sit op die houtbank.

Die rit is stamperig en Lappies wip op en af soos die wa oor die klipperige pad ry. Hy gly met elke stamp

      al hoe nader

          en nader

               aan die rant van Elsie se skoot…

“Hokaai!” roep oom Piet Langoor.

Die wa hou skielik met ʼn stamp stil, sodat almal vooroor val.  Lappies val van die bankie af en voor hy kan keer rol hy oor die rand van die wa en land op die teer. 

Lappies val

“Eina!”

Elsie en haar ma klim van die wa af. Lappies wag vir Elsie om hom op te tel, maar sy sien hom nie raak nie.

“Elsie!” roep Lappies, maar Elsie en haar ma stap haastig aan en verdwyn om ʼn hoek.

 Skielik is Lappies baie benoud.

“Wat gaan nou van my word? Elsie kan my nie hier vergeet nie! Wat as ek nat reën of ‘n ander mensekind my optel?”

Lappies voel hoe groot teddie-trane in sy oë kom sit. Net voordat hy kan begin huil, tel Oom Piet hom op en sit hom agterop die wa. 

“Ai, jaai-jaai,” sê hy, “Kom Vonnie en Meraai, ons moet vir Elsie gaan soek.”

Lappies se trane is sommer gou-gou weg toe hy Elsie se naam hoor.

Die donkies drafstap aan tot waar Elsie en haar ma om die hoek verdwyn het.

“O wee, kyk net al die mense wat in die pad staan,” sê  Lappies bekommerd,  “Hoe gaan ons hier verby kom?”

Lappies 5

Die donkies druk deur die mense en Lappies gewaar ʼn tamatierooi Ferarri in die middel van die pad.  Die mense bewonder meneer Ferreira met sy Ferarri.

“’n Donkiekar? Wie ry nog hier rond met ʼn donkiekar?” spot meneer Ferreira. 

Lappies 6

Die mense lag lekker.  Meraai skop ʼn klippie teen die Ferarri en stap verder. 

“Hiert jou esel!” skree meneer Ferreira met ʼn gebalde vuis in die lug. 

“Ek sien vir Elsie!” roep Lappies opgewonde.

Hy waai met sy hande in die lug, maar Elsie is te ver om hom te sien.

Oom Piet jaag die donkies aan. Elsie en haar ma stap oor ʼn besige pad. Voordat die donkies die pad kan oorsteek, stop ʼn verkeerskonstabel hulle om plek te maak vir die fietsryers wat blitsvinnig teen die heuwel afgery kom.

Lappies 7

Dis ʼn fietswedren en daar is honderde fietsryers. Lappies staar na die helderkleurige hemde, die valhelms en donkerbrille van die fietsryers.

“Pasop voor, donkies!” skree ʼn fietsryer toe Vonnie en Meraai dit bietjie nader aan die pad waag. 

Daar is geen teken van Elsie en haar ma toe die fietsryers uiteindelik verby is nie. “Waar is my Elsie?”  wonder Lappies hartseer.

Die donkies draf reguit aan en af met die heuwel.  Onder in die dal is dit so mistig dat Lappies niks voor sy oë kan sien nie.

“Ons sal maar moet omdraai,” sê oom Piet, “Dit word al laat.”

 Oom Piet draai die donkiekar om en stadig stap hul kop onderstebo terug laphuisie toe. Oom Piet fluit ’n treurige wysie.

“Elsie gaan vanaand baie alleen wees sonder my,” dink Lappies hartseer en voel hoe die teddie-trane weer begin swel.

“Gaan ek my Elsie ooit weer sien?” wonder hy.

Lappies 8

Van ver af al sien hulle iemand wat by die laphuise op hulle wag. Lappies se hart bons in sy borskas. Kan dit wees? Sowaar, dis Elsie en haar ma!  Elsie kyk hoopvol na die donkies:

“Het julle dalk my Lappies gesien?”

 Lappies glimlag breed toe oom Piet hom agter van die karretjie af haal.

“Dankie, Oom Piet!” sê Elsie en gee Lappies ʼn stywe druk.

Lappies 9

“Ek is so jammer, Lappies. Ek sal jou van nou af nooit weer verloor nie,”  belowe sy.

“Kom ek neem julle huis toe,” sê oom Piet vir Elsie se ma,  “Die son is besig om te sak agter die heuwels.”

“Dit sal gaaf wees, dankie,” sê Elsie se ma. 

Die rit is stamperig en Lappies en Elsie wip op en af soos die wa oor die klipperige pad ry.  Lappies gly met elke stamp

al hoe nader

        en nader

              aan die rant van Elsie se skoot…

 maar Elsie sien dit net betyds en hou hom stywer teen haar vas.

“Ek is darem die gelukkigste teddie in die hele wêreld,” dink Lappies terwyl die donkiekar in die horison verdwyn en Oom Piet vrolik sing:

“O, die donkie is ‘n wonderlike ding!”

Donkiekar

Vonnie en Meraai is twee regte donkies in Pelgrimsrus. Oom Piet Langoor verdien sy oudag geldjie deur mense met sy donkiekar na plekke te neem.

Donkies en donkiekar