Hekelsteeltjie

Hekelsteeltjie

Anneke Langer
Eens op ’n tyd het daar ’n knap meisie, Lien, of Lientjie, soos meeste mense haar noem, saam met haar ouma in die platteland gewoon.

Eens op ’n tyd het daar ’n knap meisie, Lien, of Lientjie, soos meeste mense haar noem, saam met haar ouma in die platteland gewoon. Lientjie se ouma is die eienares van die winkel  Hekel Hoekie, waar mense elke dag kom wol koop.

Lientjie en Ouma

Baie jare gelede kon Ouma baie goed brei en hekel, maar deesdae is haar vingers styf van die ouderdom en haar hande bewe só dat sy nie ’n hekelpen kan vashou nie.  Sy is baie trots op haar oulike kleindogter en spog graag oor haar.

Op ’n dag daag daar ’n ryk vrou van Johannesburg by Hekel Hoekie op.

“Ek hoor jou kleindogter kan die mooiste komberse hekel,” sê sy vir Ouma.

Ouma weet Lientjie het nou die dag eers geleer hoe om te hekel. Haar pogings lyk nog brou, maar as dit by Lientjie kom, kan Ouma haarself nie help om te spog nie.

“Natuurlik, Mevrou,” jok Ouma, “My kleindogter hekelwerk is goud werd!  Sy sal vir Mevrou komberse in ’n paar minute kan hekel.”

“Dit is fantasties,” sê die ryk vrou, “As sy teen môreoggend 10 gehekelde komberse vir my kan gee, sal ek dubbel die prys daarvoor betaal.”

Ouma voel jammer dat sy vir die ryk vrou gejok het, maar  sy glo vas dat Lientjie ’n plan sal kan maak.  Laat die middag neem sy vir Lientjie na Hekel Hoekie.  Sy wys vir haar al die wol en sê:

“Vanaand moet jy 10 komberse uit al hierdie wol hekel. ’n Baie ryk vrou gaan dit môreoggend kom haal. As jy dit kan regkry, sal sy ons baie geld betaal.”

Ouma is bekommerd en hartseer toe sy uitstap en die deur agter Lientjie sluit.

Lientjie huil

Lientjie kyk na al die wol voor haar en bars in trane uit. Sy kan tolletjiebrei en tossels maak uit wol, maar komberse hekel, dít kan sy nog nie doen nie!

Skielik gaan die deur oop en  ’n deftige heks  stap in.

“Wie is jy?” snik Lientjie.

Die heks begin sing:

“Wie is ek? Wie is ek?
Noem my maar die hekelheks!”
My regte naam sal jy nooit kan raai,
want ek heet tog te fraai!”

“Waarom grens jy?” kekkel die hekelheks nog voor Lientjie iets kan sê.

“My ouma het vir ’n ryk vrou vertel ek sal 10 komberse voor môreoggend vir haar hekel, maar ek kan nie!” sê Lientjie.

’n Langbeenspinnekop kom oor die hekelheks se skouer geklouter. Onder die heks se rok kom daar ’n gekleurde duisendpoot en die oulikste krimpvarkie geskarrel.

Hekelhelpers

“Dit is my hekel helpers: Langbeentjie, Kettingstekie en Kortbeentjie,” stel die hekelheks hulle voor.

Langbeentjie waai met sy een been in die lug.

“Ons kan 10 komberse voor môreoggend vir jou hekel, maar jy moet eers iets vir my gee,” sê die hekelheks.

 Lientjie gee die pêrels om haar nek vir die heks. 

Langbeentjie

Vir die volgende paar ure verwonder Lientjie haar hoe die hekelheks, Langbeentjie, Kortbeentjie en Kettingstekie te werk gaan.  Langbeentjie spin webbe met wol.  Kettingstekie hekel blitsvinnig met sy duisend pote wat soos hekelpenne werk. Kortbeentjie gebruik die penne op sy rug om baie drade wol gelyk aanmekaar te hekel. Die hekelheks toor die wol met haar staf dat die kleure spat.

Lientjie moes aan die slaap geraak het, want toe sy die volgende oggend wakker word, lê daar 10 van die mooiste komberse wat sy al ooit gesien het. Die hekelheks, Langbeentjie, Kortbeentjie en Kettingstekie is skoonveld.

Toe Ouma ’n rukkie later die winkel oopsluit, roep sy uit: “Dit is pragtig!”

Lientjie en Ouma met die kombers

Ouma gaan hurk voor die komberse en voel-voel daaraan asof sy nie kan glo dat sy hulle regtig sien nie. Dan kyk sy Lientjie in die oë en sê: “Dit is die mooiste komberse wat ek al ooit gesien het en knap handewerk daarby!”

Lientjie wou Ouma nog  van die hekelheks en haar hekel helpers vertel, toe die ryk  vrou instap. Sy is baie beïndruk. Sy slaan haar hande bymekaar en roep:

“Ek gaan die mooiste komberse in die hele stad hê! Hekel vir my nog 15 komberse teen môre, dan sal ek vyf keer die bedrag betaal.”

Met hierdie woorde verdwyn sy by die deur uit.

Die hele oggend by die skool kan Lientjie aan niks anders dink nie. Sal die hekelheks en haar helpers haar weer help? Laat die middag sit Lientjie weer alleen in Hekel Hoekie.

“Hekelheks!” roep sy.

Daar is geen antwoord nie.

“Langbeentjie! Kortbeentjie! Kettingstekie!”

Dit bly doodstil in die winkel. Die trane kom sit weer vlak in haar oë. Hoe gaan sy vanaand 15 komberse hekel?

Heks en helpers

Skielik maak die hekelheks  weer haar verskyning. Langbeentjie kom met ’n draad wol van die dak af gesak en Kortbeentjie en Kettingstekie kruip onder die toonbank uit.

“Wat sal jy hierdie keer vir my gee?” vra die hekelheks.

Heks met oorbelle

“My oorbelle,” antwoord Lientjie dankbaar.

In ’n japtrap toor die hekelheks en haar helpers 15 van die mooiste komberse.

Toe die ryk vrou die volgende oggend haar komberse kom haal, hou sy só baie daarvan dat sy sommer nóg 20 bestel.

Heks dink aan Ouma

Die volgende aand sit Lientjie weer in Hekel Hoekie. Sy probeer om self ’n kombers te hekel, maar sy vorder veels te stadig. Net toe sy wou moed opgee, sien sy die hekelheks vir haar loer.

“Ek het niks anders om vir jou te gee nie,”  sê sy hartseer.

“Belowe my dan jy sal jou ouma vir my gee,” sê die hekelheks gretig.

“Nooit nie!” roep Lientjie.

Sy is baie lief vir haar ouma en sal haar vir niks in die wêreld verruil nie, selfs al het sy vir die ryk vrou gejok.

“Nou goed dan,” sê die hekelheks, “Ek sal jou help, maar dan moet jy my naam reg raai. As jy verkeerd is, kry ek jou ouma.”

Lientjie weet sy het nie ’n ander keuse nie en stem in. Sy sal maar net die hekelheks se naam reg móét raai.

Die volgende oggend is die ryk vrou baie tevrede met haar komberse en betaal Ouma ’n groot bedrag geld met haar goue kaart. Ouma glimlag van oor tot oor.

“Nou kan jy enige iets kry wat jou hart begeer, Lientjie,” sê Ouma trots.

Lientjie se oë blink as sy aan die pragtige fiets in oom Sakkie se winkel dink…

Baie maande gaan verby wat die Hekel Heks nie weer haar verskyning maak nie. Lientjie ry elke oggend met haar nuwe fiets skool toe. Ouma maak baie geld met Hekel Hoekie.  Die mense het gehoor van die pragtige komberse en wil wol koop om ook hierdie komberse te maak. Lientjie het al vergeet van die ooreenkoms wat sy met die hekelheks gemaak het.

Heks in Lientjie se kamer

Een middag verskyn die hekelheks onverwags in Lientjie se kamer.

“Wie is ek? Wie is ek?
Noem my maar die hekelheks!”
My regte naam sal jy nooit kan raai,
want ek heet tog te fraai!”

“Is jou naam Agnes? Helen? Maria?” raai Lientjie.

“Jy is verkeerd!” lag sy, “Daar is twee dae oor om my naam te raai, anders is jou ouma myne!”

Daardie aand kan Lientjie nie slaap nie. Sy dink aan al die kinders in haar klas met ongewone name. Die volgende middag maak die hekelheks weer haar verskyning en sing:

“Wie is ek? Wie is ek?
Noem my maar die hekelheks!”
My regte naam sal jy nooit kan raai,
want ek heet tog te fraai!”

“Viola? Aspersie? Petra? Poggenpoel?” raai Lientjie.  

“Jy is verkeerd!” skater sy, “Daar is een dag oor om my naam te raai, anders is jou ouma myne!”

Lientjie dink en dink. Op die laaste dag sien sy dat Langbeentjie iets teen haar kas hekel. Dit lyk soos letters. Sy trek haar oë op skrefies om beter te kan sien:

hekel

Wat probeer Langbeentjie vir haar sê? Later voel sy ietsie teen haar been steek. Dit is Kortbeentjie. Op sy rug is daar nog ’n stel gehekelde letters:  

steel

Lientjie verstaan nie. Moedeloos gaan sy voort om aan nóg name te dink.

Later lê Kettingstekie voor haar bed op sy rug. Toe sy hom regop wil help, sien sy die letters op sy pote:

tjie

Dit móét iets beteken!  Lientjie gaan staan verder weg. Nou sien sy dat al drie die hekel helpers saam iets spel:

Hekelsteeltjie
Naam Hekelsteeltjie

Dit moet die hekelheks se naam wees!

’n Rukkie later, toe Lientjie vir Ouma in Hekel Hoekie wag, maak die hekelheks weer haar verskyning. Sy glimlag breed, want sy weet Lientjie sal nooit haar naam kan raai nie.  

“Wie is ek? Wie is ek?
Noem my maar die hekelheks!”
My regte naam sal jy nooit kan raai,
want ek heet tog te fraai!”

Maar Lientjie sing vir haar terug:

“Hekelheks! Hekelheks!
Al die raai, maak my gek.
Nou sal almal weet,
dat jy HEKELSTEELTJIE heet!”

Hekelsteeltjie is woedend.

“’n Boef het jou vertel!” skree sy.

Heks spin in die rondte

Sy word bloedrooi van woede en stamp met haar voet hard teen een van die rakke. Al die wol tuimel op haar neer. Haar towerstaf val op die grond en skielik begin al die wol om en om haar spin totdat sy in ’n kokon wol verdwyn. Sy spin  vinniger en vinniger in die rondte totdat sy by die venster uit tol. Na daardie dag het niemand Hekelsteeltjie ooit weer gesien nie.

Langbeentjie, Kortbeentjie en Kettingstekie het by Lientjie en haar ouma gebly en hulle geleer hoe om die mooiste komberse te hekel.

Leintjie, Ouma en die helpers
Die einde
Die deftige heks

Erkennings:
Baie dankie aan Johanna Scholtz wat die karakters vir my gehekel het en Melanie Langner wat die foto’s  vir die illustrasies geneem het.
Hierdie verhaal is ’n kreatiewe herskrywing van Repelsteeltjie, soos opgeteken deur die Grimm Broers en vertaal in die Afrikaanse Kinderensiklopedie (1954:4439).

Anneke Langer
Anneke is ‘n student in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Sy het Hekelsteeltjie geskryf as ‘n tweedejaarsprojek in Skryfkuns (die skryf van kinder- en jeugliteratuur)..
Kopiereg: Anneke Langer
April 2021