Wolfie

Wolfie

Eendag lank, lank gelede was daar ’n eensame wolf. Daar was niks fout met hom nie, die ander wolwe wou net nie maats wees met hom nie. Die ander wolwe het altyd vang-die-haas gespeel, maar die speletjie het glad nie vir Wolfie lekker gelyk nie. Al wat Wolfie wou doen is huisies bou en die binnekant mooi versier. Dit was sy grootste droom. Op ’n dag, terwyl Wolfie onder ’n boom sit en dagdroom, hoor hy ’n lawaai wat van ander kant die bos af kom. Hy besluit toe om te gaan kyk.

Hy sien toe dit is ’n kleine ou varkie wat ’n strooihuisie bou. Die wolf dink dadelik dat dit ’n slegte idee is. Almal weet die wind waai woes in hierdie deel van die bos. Die klein varkie hoes en hy proes soos wat hy sukkel om sy huisie te bou. Wolfie besluit dat hy die varkie gaan help.

Varkie met rooi hoed

“Hallo, kleine varkie. Kan ek jou help jou huisie bou?” vra Wolfie en wys sy spierwit tande. Die varkie skrik so groot hy sluk sy eie asem in. Die varkie spring in die hoop strooi in. Die wolf vind dit vreemd. Hoekom sal die varkie bang wees vir hom? Die wolf loop na die hoop strooi toe om die varkie te vra hoekom hy bang is, en nes hy wil begin praat, gee hy die grootste nies.

Wolfie is allergies vir strooi en hy het die varkie se hele huisie weg genies. Die varkie begin huil terwyl Wolfie pleit en smeek dat die varkie hom moet vergewe. Die volgende oomblik gryp die varkie sy rooi hoed en hardloop weg. Die wolf voel baie sleg, hy wou net help. Moedeloos gaan sit hy onder die boom en kyk hoe die ander wolwe nog steeds vang-die-haas speel.

Net soos Wolfie se ogies begin toe val, hoor hy die eienaardigste geluid wat van die rivier se kant af kom. Hy besluit toe om te gaan kyk. Hy loer tussen die bome deur en sien dat daar nou twee klein varkies is. Die een varkie dra ʼn rooi hoed en die ander een dra ’n groen hoed. Hulle is seker boeties, dink die wolf by homself, hulle lyk baie na mekaar.

Varkie met groen hoed

Wolfie sien toe dat die varkie met die rooi hoed die ander een help om sy huis met stokke te bou. Die wolf dink dadelik dat dit ’n slegte idee is want stokkies breek so maklik. Wolfie besluit toe dat hy hulle gaan help, maar hierdie keer gaan hy dit skelm doen sodat hulle nie weer vir hom skrik nie. Hy hou die twee varkies dop soos wat hulle bou en tekere gaan. Net toe hulle klaar is, sien Wolfie dat daar ’n stokkie skeef lê.

Hy sluip nader en draai die stokkie reg. Trots begin Wolfie wegloop, maar toe hoor hy hoe die huis inmekaar stort. Die twee varkies staan en kyk verwilderd na die wolf en skreeu so hard as wat hulle kan.

“Sien jy, boetie! Dis die wolf waarvan ek jou vertel het. Hardloop!” gil die varkie met die rooi hoed en hulle albei hardloop weg.

Die wolf verstaan dit nie. Hoekom is hulle bang vir hom? Die ander wolwe is nie bang vir hom nie? En buitendien is hy dan die kleinste wolf in die hele dorp.

Hy gaan sit op ’n klip en krap sy kop. Dalk het hulle gehoor hy kan nie vang-die-haas speel nie, en nou wil hulle ook nie sy maats wees nie? Dalk is hulle bang vir hom omdat sy tandjies so wit en sterk is? Die wolf sug en draai sy gesig weg van die son af.

Na ’n ruk is Wolfie honger. Hy besluit toe dis tyd om huis toe te gaan. Hy loop sy gewone roete huis toe, maar hierdie keer is daar iets nuut op die pad. Daar lê bakstene die hele wêreld vol. Kan dit wees? Het die varkies besluit om nog ’n huisie te bou? Hy kyk rond en sien niemand nie. Hy loop stadig nader, bang om weer die varkies skrik te maak.

“Eina!” gil iemand en Wolfie spring in ’n bos in. Hy steek sy kop uit en sien daar staan ’n varkie met ’n geel hoed. Hy sien toe die ander twee varkies aangeloop kom en hulle drie begin met mekaar praat.

Varkie met geel hoed

Daar staan alreeds ’n huisie van bakstene, maar die huis lyk te vaal. Sonneblomme sal mooi lyk by die voordeur, dink Wolfie. Hy kruip uit die bos en gaan pluk van sy tannie Anna se blomme. Die varkies sal nou definitief sy maatjie wil wees.

Hy loop rustig na die drie varkies toe.  Die varkie met die groen hoed gee ‘n harde gil. Die ander twee varkies kyk verward om. Die varkie met die rooi hoedjie skreeu benoud. Die varkie in die geel hoedjie is tjoepstil.

“Gaan in die huis en gaan kalmeer,” sê die varkie met die geel hoedjie. Dalk is hy die baas van die varkies? Wonder Wolfie.

Die varkie stap nader en staan reg voor die wolf.

“Hello, Meneer Wolf. Soek jy iets hierso? My boeties is vreeslik bang vir jou,” sê die varkie terwyl hy vir Wolfie op en af kyk.

“Hello, kleine varkie. Noem my sommer Wolfie. Nee, ek soek nie iets nie en ek wou nooit jou boeties skrik maak nie. Ek wou hulle net help om hulle huisies te bou, maar ek het dit elke keer opgevoeter,” sê die wolf moedeloos.

“Hoekom sal jy, ’n wolf, ’n varkie help sy huis bou?” vra die varkie.

“Want ek hou daarvan om huise te bou en om hulle te versier. My pa sê dit is vreemd dat ’n wolf dit wil doen en dis waarom die ander wolwe nie my maats wil wees nie,” antwoord Wolfie.

Die varkie krap sy geel hoedjie en verdwyn. Hy kom terug met sy twee boeties wat agter hom staan. Na ’n lang verduideliking van wat eintlik gebeur het, besef die twee varkies dat hulle nie bang hoef te wees vir die wolf nie. Die drie varkies nooi vir Wolfie in die huis in en bied vir hom suikerrietstokkies aan wat hy met graagte vat.

Wolfie het daardie dag drie maatjies gemaak en hy het die mooiste blou lampie as geskenk gekry by die varkies omdat hy hulle wou help met hulle huisies. Wolfie speel soms vang-die-haas saam met die ander wolwe, maar die meeste van die tyd eet hy suikerrietstokkies saam met die drie varkies.

Hansie-Hus en die mense sonder ore

Hansie is ’n hus. Ja, jy het reg gehoor. ’n Hus met laaaang ore. Hansie en sy familie woon al vir jare in ’n snoesige klein huisie in die holte van ’n groot kremetartboom. Hansie en sy klein sussie, Hannie-hus stap elke oggend met die voetpaadjie langs die dam skool toe.

Hansie is ’n baie nuuskierige hus. Van al die husse in die woud is hy die heel nuuskierigste. Die ander husse hou nie van nuuskierige husse nie.

“’n Hus moet doen wat ’n hus moet doen,” grom Oupa-hus altyd. “Hou jou snoet uit ander husse se sake uit.”

Hansie hus probeer hard om nie so nuuskierig te wees nie, maar hy kan homself nie help nie. Elke keer as sy laaaang ore die fynste geluidjie hoor, móét hy net gaan ondersoek instel. Wanneer Mamma-hus met pakkies vol goedjies by die huis aankom, wil Hansie altyd weet wat daarin is.

“Mense sonder ore,” fluister Mamma-hus elke keer geheimsinnig en dra dan die pakkies weg.

Dit maak Hansie net nog meer nuuskierig.

Wat is hierdie mense waarvan Mamma-hus praat? En hoekom het hulle nie ore nie?

Een warm somersaand skrik Hansie in die middel van die nag wakker. Hy kan die saak nie uitlos nie. Hy móét net weet hoe lyk hierdie mens-ding. Hy staan saggies uit sy bedjie uit op en glip sy pantoffels oor sy harige pote. Suutjies klim hy die trappies op wat na Mamma- en Pappa-hus se kamer lei. Hy skuifel versigtig verby die groot bed waar Mamma en Pappa rustig slaap.

En daar staan dit. Langs Mamma se kant van die bed lê hordes pakkies wat versigtig toegeknoop is. Blitsvinnig gryp Hansie ’n pakkie en verdwyn weer saggies by die deur uit.

Terug in sy kamer bestudeer Hansie die pakkie noukeurig. Hierdie mens-ding kan tog nie gevaarlik wees nie – nie as hy nie eens ore het om mee te hoor nie…

Hansie knoop die pakkie versigtig oop en staan terug. Die pakkie gaan skielik woes aan die woel. Hansie hou sy asem op en vou sy lang ore styf oor sy ogies. Hy hoor die geritsel soos die ding in die pakkie steeds wriemel om uit te kom.

Skielik is dit stil.

Hansie staan versigtig nader en gekyk die gedroggie op sy bed.

Hansie loer versigtig onder sy een oor uit. Die pakkie staan nou stil en ’n eienaardige, ronde gesiggie loer oor die rand. Hansie frons. Hy staan versigtig nader en bekyk die gedroggie op sy bed. Behalwe vir die woeste oranje-rooi krullebol bo-op sy kop, het die mens-ding nie een enkele haar op sy lyfie nie. Sy pels is seepglad. ’n Klein, ronde snoetjie pronk op sy gesiggie.

So, dit is nou ’n mens…wat ’n eienaardige gedierte is dit nie. Hansie laat sak sy ore.

Dis darem maar ’n klein mensie die – seker nog ’n welpie, dink Hansie opgewonde.

Die mens-welpie gaap en knip sy ogies lui. Hansie staar na hom. Maar hy hét dan mos ore! Aan weerskante van sy kop sit twee, peervormige oortjies.

Dit is darem maar klein oortjies, hoe moet hy dan sy ogies daarmee toehou as hy bang is?

Hansie staan nog nader. Watse eienaardige spikkels is dit op sy wange? Miskien het iemand iets op hom gemors. Hansie lek sy voorpoot nat en probeer versigtig om die spikkels van sy wangetjie af te vee.

Die mens-welpie hou duidelik nie daarvan nie. Hy begin skielik te skop en skree en die trane vloei soos ’n rivier oor sy wange.

“Sjuut!” skree Hansie angstig, maar die mens-welpie hou aan skree.

“Bly stil” skree Hansie weer, maar dit is asof die mens-welpie hom net nie hoor nie.

Hansie staan versteen. Wat moet hy nou doen? Mamma- en Pappa-hus kan enige oomblik wakker word. Hy sal vinnig ’n plan moet maak.

Hansie druk die mens-welpie se krulkoppie terug in die sak en hardloop so vinnig as wat sy hus beentjies hom kan dra by die huisie se deur uit. Hy hardloop al met die dampad af tot hulle boomhuisie klein raak in die verte.

Onder ’n groot wilgerboom gaan hy sit. Hy maak die pakkie weer versigtig oop. Die skril geskree van die mens-welpie klink op deur die stilte. Hoe sal ’n mens die gedoente nou stil kry?

Hansie kyk aandagtig na die mensie se plat oortjies. Dié goed werk duidelik nie. Hy sal ’n ander plan moet maak. Hy loop op en af voor die wilgerboom en probeer hard aan ’n plan dink. Na ’n rukkie besef Hansie dat dit skielik baie stil geword het. Hy draai na waar die mens-welpie vantevore gesit het. Die pakkie waai verlate rond, maar die mens-welpie is skoonveld.

“O, toggie!” roep Hansie benoud uit. Die mens-welpie het verdwyn, en dit sal nie eens help om te roep nie, want sy ore werk nie!

“O, toggie, toggie!” roep Hansie en hy skud sy kop so dat sy lang ore soos propellers om sy kop swaai. Waarheen sou die mens-welpie dan verdwyn het?

Hansie staar in die verte in. Verbeel hy hom, of sien hy ’n rooi spikkel langs die damwal af beweeg? Hansie stap ’n entjie nader en, wragties, dit is die mens-welpie se krullebos wat hy daar ver sien. Maar wat maak hy dan? Hansie hardloop nader.

O, nee! Hy is op pad na die water toe!

Hansie haas hom al nader aan die oranje kolletjie.

“Stop!” skree hy so hard as wat hy kan, maar die mens-welpie hoor nie.

Plons!

PLONS!

Die oranje bol hare verdwyn onder die water.

Hansie knoop sy laaaang ore bo-op sy kop, trek sy asem in en spring in die water.

Af

Af

Af swem hy tot hy weer die oranje haardos gewaar. Hy gryp die mens-welpie aan sy peervormige oor en trek hom na die oppervlak.

Op die wal gekom, sit die mensie met groot oë en kyk na Hansie. Dan knyp hy sy ogies styf toe, trek sy asem diep in en begin skree.

A nee a, dink Hansie. Nou het hy genoeg gehad. Hy tel die skreeuende gedroggie op, gaan haal die pakkie en druk hom terug. Hy knoop die pakkie sorgvuldig en stap dan weer terug huis toe.

By die huis gekom, sluip hy weer by die trappe op en bêre die pakkie presies waar hy dit gekry het. Tevrede gaan klim hy in die bed.

Mamma en Pappa0hus het sopas wakker geword.

Die volgende oggend word Hansie met ’n vreeslike skuldgevoel wakker. Die arme mens-welpie is seker vreeslik alleen. Hy spring dadelik uit die bed uit en trippel by die trappe op. Mamma- en Pappa-hus het sopas wakker geword.

“Wat is dit Hansie?” vra Mamma-hus met ’n frons.

“Ek wil net kom kyk hoe gaan dit met die mens-welpie.” Hansie loer nuuskierig na die pakkie langs die bed.

“Mens-welpie?” vra Mamma- en Pappa-hus gelyk.

“Ja,” sê Hansie en knik sy kop dat sy ore so wip. “Die een in die pakkie.”

Mamma- en Pappa-hus kyk fronsend na mekaar.

Hansie sug. “Die mens sonder ore wat Mamma in die pakkie wegsteek!”

Mamma-hus is vir ’n oomblik stil, en dan begin sy lag.

 “Daar is nie so iets soos mense sonder ore nie, Hansie. Dit was sommer ’n grappie.”

Hansie frons. “Dit kan nie wees nie, ek het hom dan gesien. Hy het ore, maar hulle is baie klein en hulle werk nie.”

Pappa-hus glimlag. “Nou maar goed, laat ons dan hierdie mens sien.”

Hansie gryp die pakkie gretig en knoop dit oop. Hy kan sy oë nie glo nie. Al wat in die pakkie is, is ‘n nuwe hus-mus en ’n paar handskoene.

“E…ek verstaan nie…” Prewel Hansie.

“Wat is daar om te verstaan, Hansie?” Mamma-hus raak ongeduldig. “Dis amper winter en ek het vir jou sussie so paar goedjies gaan koop.”

“Maar hy was dan gisteraand daar!” Neul Hansie.

“Jy het seker gedroom, Hansie.” Sê Pappa-hus glimlaggend.

“Ek hoop nie jy het in my pakkies gegrawe nie,” sê Mamma-hus en lig haar wenkbroue. “Oupa-hus het mos gesê jy moet jou snoet uit ander husse se besigheid hou. Het jy nie ore nie?”

Die drie kyk vir ’n oomblik in stilte na mekaar. Dan bars hulle skielik uit van die lag.

Hansie weet nie wat van die mens sonder ore geword het nie, maar een ding weet hy wel:

Hansie hus

Die twee pragtige, laaaang ore wat hy het, dié moet hy gebruik!

Essie se ongewone oor

Essie

Essie kyk uit oor die veld wat uitgestrek voor haar lê. Soos sy kyk, soek sy haar ma tussen die kraalbosse, maar sy kan haar nêrens sien nie. In die brandende son, gooi haar een skewe oor so bietjie skaduwee oor haar pienk gebrande snoet. Die granietklip waarop sy staan begin om haar voete te brand en sy besluit om ʼn draffie terug na hul holte te vat. Die holte is nie veel om oor te praat nie, maar dit is hulle huis. Die fyn sand is gemaklik genoeg en dit hou hulle droog. Soos sy in die uitgetrapte paadjie af huppel, probeer sy om in die spore van die groter erdvarke te trap, maar haar pootjies is nog te klein en sy trap die helfte mis.

“Essie!” hoor sy haar ma roep. Sy vergeet dadelik van die groter erdvarke se spore en hardloop in die rigting van haar ma se stem. Haar ma staan en wag vir haar in die opening van hul holte met ʼn breë glimlag. Haar pels is stekelrig en haar oë al dof. Die veld is al so droog van die onuithoubare hitte, en dit veroorsaak dat die kos maar min is. Voor haar ma se pote is twee bobbejaanvoetblare waarop daar ʼn paar uintjiewortels lê. Sy gaan sit langs haar ma en kyk na die wortels.

“Dink Mamma die rysmiere sal weer terugkom?” vra Essie haar ma met ʼn stem vol hoop.

“As die reën kom, sal die rysmiere ook kom, my Essie,” sê Snoetsie sag. Sy weet dat die son nog lank gaan brand, maar sy wil nie Essie se hoop wegvat nie. Hulle val weg met die uintjie wortels, en dis skaars ʼn paar sekondes en die wortels is als op. Essie lek haar lippe met smaak af. Vandag het die wortels lekkerder gesmaak as gewoonlik, miskien is dit net omdat sy so honger was.

Na middagete gaan vat haar ma ʼn middagslapie. Sy is gedaan van die hitte en sê vir Essie om met die ander klein erdvarkies in die riviersand te gaan speel. Ongelukkig is Essie nie baie bly om dit te hoor nie. Sy gee ʼn diep sug en gaan sit onder die taaibos langs die holte se gat. Die ander erdvarkies verstaan haar nie. Hulle sê dat sy nie ʼn regte erdvark is nie omdat haar oor nie soos ʼn regte erdvark s’n lyk nie. Hulle kyk altyd so snaaks na haar, en elke keer as sy saam met hulle wil speel, dan beweeg hulle na die ander kant van die rivierbank. Tog besluit sy om gehoorsaam aan haar ma te wees. Sy kry uiteindelik haar moed bymekaar en loop so stadig as wat sy kan in die rigting van die rivierbank.

Die dag se hitte put vir Essie uit, en sy voel hoe haar moed begin sak soos sy al hoe nader aan die rivierbank kom. Na ʼn stap wat te lank en swaar gevoel het, sien sy uiteindelik die ander klein erdvarkies. Hulle speel met ʼn bal in die middel van die rivier se loop. Die bal is amper so groot soos wat hulle is en is gemaak van vleilandriete wat inmekaar gevleg is. Essie is skaars oor die rivierbank toe hulle vir haar begin lag.

“Kyk wie is hier, dis ou skewe oor!” skreeu die een in haar rigting.

“Ja! Sy is nie eens ʼn regte erdvark nie, wat maak sy hier?” sê ʼn ander een.

Essie se hart klop al hoe vinniger en sy voel hoe haar trane agter haar ooglede brand.

“Ek is ʼn regte erdvark,” fluister sy so sag dat sy dit self amper nie eens kan hoor nie.

Die ander erdvarkies lag vir haar en speel verder met die vleirietbal.

Snoetsie kyk verward na haar dogtertjie wat uit nêrens onder haar blad kom inkruip.

“Wat is nou fout, my Essie?” vra haar ma bekommerd. Essie huil so erg dat sy nie eens kan praat nie. Haar ma druk haar styf teen haar bors vas en sing vir haar ʼn liedjie om haar te kalmeer. Na ʼn tydjie van troos, raak Essie darem rustig.

“Hulle was weer lelik met my, Mamma, hulle sê ek is nie ʼn regte erdvark nie en dat my oor snaaks lyk.”

“Ai my Essie-kind, jy moenie na sulke nare woorde luister nie. Jy is perfek nes jy is,” troos haar ma haar verder.

“Maar Mamma, ek het nie eens een vriend nie, almal hardloop vir my weg!”

Sy druk haar voorkop saggies teen Essie s’n en maak haar oë toe.

“Essie…” fluister sy in haar dogtertjie se oor,” … solank jy jouself is, is jy perfek, en moet nooit dat iemand anderster vertel nie. Om anders te wees is soms ʼn goeie ding.” Sy glimlag vir haar ma en vee haar trane met haar stowwerige pootjies af.

“Kom ek en jy gaan kyk of ons nie ʼn paar rysmiere kan kry nie.”

Essie se hartseer is sommer heeltemal weg toe sy dit hoor. Sy is so honger en is al lank lus vir lekker vars rysmiere.

“Sy kan nie eens ordentlik praat nie!” lag die grootste een soos hulle na ʼn ander plek in die rivier beweeg. Essie staan alleen. Dit voel of haar hart in stukkies uit haar borskas gaan val. Sy draai om, en begin eers stadig terug na die holte stap, met haar voete wat dowwe sleepmerke in die warm granietsand los. Maar hoe meer sy dink aan die nare goed wat die ander erdvarkies vir haar gesê het, begin sy hardloop so vinnig soos wat haar vier kort beentjies haar kan dra, terug na die holte. Haar ma is al wakker toe sy daar aankom en sy gaan kruip dadelik onder haar blad in.

Woltruitjie

Eendag lank, lank gelede was daar ‘n klein huisie in die middel van die woud. In hierdie huisie het ‘n dogtertjie saam met haar ma gewoon. Rooi was haar gunsteling kleur. Sy het elke dag rooi aangetrek, maar haar gunsteling uitrusting was ‘n rooi trui wat haar ouma vir haar gebrei het. Sy het amper elke dag haar rooi trui gedra en as gevolg daarvan het haar mamma haar Woltruitjie genoem.

Op ‘n dag terwyl Woltruitjie nog heerlik buite gespeel het, roep haar mamma haar.

“Woltruitjie,” het haar ma geroep. “Kom tog vinnig hier. Ek wil hê jy moet hierdie bottel heuning vir Ouma vat.”

Woltruitjie het vinnig haar rooi truitjie aangetrek, die bottel heuning gegryp en vinnig by die deur uitgehardloop.

“Versigtig wees!” het Woltruitjie se ma agterna geroep. “Moenie met vreemde mense praat nie en moet ook nie so hardloop nie! Net nou val jy en breek die bottel heuning.”

Woltruitjie het die bottel heuning styf onder haar arm vasgeknyp en deur die woud begin loop. Naby ‘n brug, wat oor ‘n klein stroompie geloop het, het Woltruitjie besluit om vir haar ouma ‘n paar waterlelies te pluk. Skielik het ‘n groot oom met ‘n baie vet neus onder uit die brug uit gekom.

“Wel wat het ons hier,” het die oom met ‘n diep stem gesê. “ ‘n Lekker stukkie… geselskap.”

“Ek mag nie met jou praat nie,” het Woltruitjie uitgeroep. “Ek wil net ‘n paar van hierdie waterlelies pluk, dan gaan ek weer loop.”

“Waarheen is jy op pad, Dogter?” het hy belangstellend gevra.

“Na my Ouma. Sy woon in Rietbosrand in ‘n klein kliphuisie net so entjie hiervandaan.”

“Maar dan loop jy heeltemal die verkeerde pad. Die mooiste waterlelies is aan die einde van hierdie stroom. Ek sal jou verduidelik hoe jy daar kan kom.”

Terwyl Woltruitjie blomme gepluk het aan die einde van die stroom, het ‘n dogtertjie haar vanuit ‘n boom geroep.

“Hallo!” het die dogtertjie met lang goue krulhare geroep. “Kan jy my dalk help? Ek woon alleen hier in die woud, maar die storm het my huisie heeltemal verwoes. Ek weet nie waar ek vanaand sal kan slaap nie.”

“Ek is eintlik op pad na my ouma toe om vir haar hierdie heuning te vat,” het Woltruitjie geantwoord. “Maar jy kan saam met my na my ouma toe loop. Sy is die slimste vrou in die hele wêreld. Sy sal jou kan help.”

Na ‘n rukke verdeel die paadjie waarop Woltruitjie en Krulkoppie deur die woud geloop het.

“Weet jy watter pad gaan Rietbosrand toe?” het Woltruitjie vir Krulkoppie gevra.

“Nee, maar ek dink ons moet die regterkantste paadjie kies,” het Krulkoppie selfversekerd gesê.

Terwyl die meisies saam-saam deur die woud gewandel het, het die woud al kouer geword. Die mis het laag in die lug gehang en die wind het deur Woltruitjie se rooi trui gesny. Skielik het die groot ou oom met die vet neus agter een van die bome uitgeklim.

“Het jy vir jou ouma mooi waterlelies gepluk?” vra die oom slinks.

“Ja, dankie…”

“Hardloop!” skree Krulkoppie. “Dit is die nare trol! Hy gaan ons opeet! Hardloop! Hy eet kinders!”

Woltruitjie en Krulkoppie het so vinnig gehardloop dat Woltruitjie se voet aan ‘n boomstomp vasgehak het. Die bottel heuning het deur die lug getrek en in fyn stukkies gebreek.

“Nee!” het Woltruitjie uitgeroep. “Dit was vir my ouma.”

“Moet nie nou bekommer nie, hardloop!” het Krulkoppie geskree.

Die meisies het vir hulp geskree, maar niemand het hulle kom help nie. In die verte het Krulkoppie ‘n huisie se liggies gesien.

“Kom! Daar is ‘n huisie.”

Die meisies het vinnig in die huisie ingehardloop en teen die deur gesit sodat die nare trol nie die deur sou kon oopmaak nie. Woltruitjie en Krulkoppie het lank teen die deur gesit totdat hulle niks meer buite gehoor het nie.

“My mamma is seker al dood van bekommernis,” het Woltruitjie gesê. “En nou is my ouma se heuning ook nog stukkend.”

“Moet nie bekommer nie,” het Krulkoppie probeer om vir Woltruitjie gerus te stel. “Hierdie mense sal binnekort terug wees en dan kan hulle ons help om by jou ouma se huisie te kom. Daardie nare trol het jou aspris van die pad probeer weglei. As ek jou nie gekry het nie het hy jou al lankal opgeëet.”

Terwyl Woltruitjie en Krulkoppie vir die huisie se eienaars gewag het, het Woltruitjie besluit om net so bietjie te rus op een van die bedjies. Die eerste een was heeltemal te hard. Die tweede bedjie was weer heeltemal te sag. Die derde bedjie was net reg. Woltruitjie het vir net so paar minute haar ogies laat rus. Sy was doodmoeg na die ver hardloop.

“Ek hoor stemme,” het Krulkoppie vir Woltruitjie gefluister.

Skielik het die stoel, wat Krulkoppie voor die deur gesit het, omgeval. Drie, groot, bruin bere het die huisie binnegestorm.

“Wat soek julle in ons huis?” het Pappa Beer kwaai gevra.

“Ek is jammer, Oom,” het Krulkoppie probeer verduidelik. “Die nare ou trol in die woud het my en my maatjie probeer vang, toe hardloop ons na hierdie huisie om te probeer wegkruip.”

“Julle arme goedjies,” het Mamma Beer gesê.

“En nou is my ouma se heuning ook gebreek, want ek het geval toe die trol ons jaag.”

“Moet nie bekommer nie,” het Mamma Beer gesê. “Ons het sommer baie heuning, maar eers moet ons vir julle twee iets gee om te eet.”

Nadat Krulkoppie en Woltruitjie vir die Beer familie hulle hele storie vertel het, het die bere vir Woltruitjie verduidelik hoe om tot by haar ouma se huisie in Rietbosrand te kom. Hulle het vir Woltruitjie twee bottels heuning gegee en vir Krulkoppie ‘n paar skoene omdat sy nie skoene gedra het nie.

“Onthou nou,” het Mamma Beer saggies gesê. “Hierdie is towerskoene wat ek by ‘n groot groen heks gekoop het. As jy ooit in gevaar is, moet jy die skoene drie keer teen mekaar stamp en aan ‘n plek dink waarheen jy wil gaan, die skoene sal jou dan daarheen vat. Met hierdie skoene sal julle veilig by Woltruitjie se ouma uitkom.”

 Daarna het Krulkoppie saam met Woltruitjie na haar ouma se huisie geloop.

“Mooi loop, meisies!” het Mamma Beer agterna geroep. “Bly op hierdie paadjie en onthou: Stamp die skoene drie keer teen mekaar as julle in gevaar is.”

Die bere het die meisies so mooi verduidelik hoe om tot by Woltruitjie se ouma se huisie te kom dat Woltruitjie sommer vinnig die pad herken het.

“Dankie tog,” het Woltruitjie gesê. “Van hier af ken ek die pad.”

Terwyl Woltruitjie en Krulkoppie by die Beer familie was, het die nare trol vinnig tot by Woltruitjie se ouma se huisie geloop.

“Ouma, ek is hier,” het die trol in sy beste dogtertjiestem gesê.

Toe Woltruitjie se ouma die deur oopmaak, het die trol haar gegryp en buite in die stoorkamer toegesluit. Hy het vinnig van haar klere aangetrek en met ʼn hoed op sy kop die koerant begin lees.

Toe Woltruitjie-hulle by haar ouma se deur kom, het sy vinnig aan die deur geklop.

“Ouma,” het Woltruitjie geroep. “Ek is hier en ek het ‘n maatjie saamgebring.”

“Kom in, my kind,” het die trol in sy beste ouma stem geroep. “Ek is so bly jy het vir my jou maatjie ook saamgebring.”

Woltruitjie het vinnig die heuning op die tafel neergesit en saam met Krulkoppie by haar ouma op die bank gaan sit.

“Ouma,” het Woltruitjie gevra. “Hoekom is jou lyf so groot?”

“Sodat ek meer kan eet, my kind.”

“Maar, Ouma, hoekom is jou neus so groot?”

“Sodat ek beter kan ruik, my kind.”

“Maar, Ouma, hoekom is jou mond so groot?”

“Sodat ek jou vinniger kan eet, my kind!”

Die trol het Ouma se hoed afgehaal en Woltruitjie met sy groot hand nader gegryp. Skielik het Krulkoppie onthou van die skoene wat Mamma Beer vir haar gegee het. Krulkoppie het Woltruitjie se hand gegryp en toe die skoene drie keer teen mekaar gestamp. Sy het gewens dat hulle terug was by die Drie Bere wat hulle kon help en  ziem zalla biem toe staan Woltruitjie, Krulkoppie en die trol in die Drie Bere se huisie.

Pappa Beer het die trol na die woud geneem en in ‘n groot ysterhok geplaas sodat hy nooit weer iemand kon seermaak nie. Mamma en Baba Beer het saam met Woltruitjie en Krulkoppie vir Ouma gaan soek. By Ouma se huisie het Woltruitjie vir Ouma hoor roep in die stoorkamer. Mamma Beer het die slot oopgebreek en vir Ouma veilig uitgehaal. Woltruitjie het vir Ouma ‘n koppie tee gemaak met die Bere se heuning en vir Ouma alles vertel wat daardie dag met hulle gebeur het.

Daardie aand het Woltruitjie se ma haar kom soek by haar Ouma se huisie. Sy was so bly om te sien dat haar dogtertjie veilig was omdat sy haar dood bekommer het oor haar. Krulkoppie het by Woltruitjie-hulle gaan bly omdat sy nie ‘n familie gehad het nie en sy en Woltruitjie het sommer vinnig net soos sussies geword.

Woltruitjie, Krulkoppie en Baba Beer het beste maatjies geword en almal van hulle het lank en gelukkig saamgewoon in die donker woud sonder die nare trol wat kindertjies vir middagete eet.

Diep in die donker woud

Het jy al agtergekom dat daar altyd ‘n sokkie in jou kas is wat nie ‘n maatjie het nie? Dis nie die wasmasjien wat dit opeet, of jou maatjie wat dit steel nie, nee… Daar gebeur iets baie meer wonderbaarliks daarmee as dit. Jy mag my dalk nie glo nie, maar ek het dit met my eie oë gesien! Wag, laat ek jou eers vertel…

Het jy al agtergekom dat daar altyd ‘n sokkie in jou kas is wat nie ‘n maatjie het nie? Dis nie die wasmasjien wat dit opeet, of jou maatjie wat dit steel nie, nee… Daar gebeur iets baie meer wonderbaarliks daarmee as dit. Jy mag my dalk nie glo nie, maar ek het dit met my eie oë gesien! Wag, laat ek jou eers vertel…

Ek het reggemaak vir skool soos enige ander oggend.

“Karlie! Karliiieee!”

“Ek kom Mamma!”

Waar is my simpel sokkie? Ek het hom nog gisteraand gesien en nou is hy weg! Waar kan hy wees..?

“Karlie kom nou! Jy is baie laat! Jy sal nou skool toe moet hardloop!” roep my ma van die kombuis uit.

“Ek kom, ek kom!”

Vinnig hardloop ek by die voordeur uit.

“Watter sokkies het jy dan aan..?” vra my ma soos ek by die deur uitvlieg, maar ek kry nie kans om haar te antwoord nie. My onderwysers moet maar net verstaan dat ek vandag pienk blommetjie sokkies moet dra.

My tas en my poniestert wip op en af soos ek hardloop, af met die straat en verby die woud.

Op pad skool toe stap ek altyd verby ‘n woud, ‘n woud wat my ma altyd sê ek moet van wegbly, want daar’s gevaarlike goed daar binne. Watter gevaarlike goed weet ek nie rêrig nie, maar sy sê dit so kwaai dat ek liewers daar uitbly.

Ek hardloop so vinnig verby die woud dat ek nie eers die boomwortel sien uitsteek in die pad nie. Karplaks! Val ek gesig eerste op die grond.

Maar… reg voor my neus, lê ‘n sokkie! Maar nie sommer enige sokkie nie, dis my sokkie! Die een wat ek vanoggend gesoek het! Hoe op aarde het hy hier gekom? Ek staan op, skud my rok reg, en tel hom op.

Soos ek opkyk sien ek nog ‘n sokkie, en nog een, en nog een! Ek sien ‘n sokkie van my ma, ‘n sokkie van my pa, een lang kous van my broer, en my ouma se sykous. Verder is daar nog baie sokkies wat in ‘n ry weg verdwyn verder in die woud in. Dis ander mense se sokkies daardie. Hoekom lê die buurt se sokkies in die woud? Dit lyk asof dit na êrens heen lei. Verder in die diep, donker, gevaarlike woud in…

Ek kyk rondom my om te sien of iemand daar is, en daar is nie. Dalk kan ek vinnig gaan kyk waarnatoe lei toe sokkies? Almal sal nogal bly wees om hulle sokkies weer te sien. Veral Ouma Santie. Sy kla omtrent elke dag van haar sykous wat weg is.

Stadig vat ek ‘n tree vorentoe, en toe nog een. Toe ek weer sien hardloop ek vêr in die woud in agter die sokkies aan wat my al hoe dieper en dieper in die woud in lei. My tas wip so op en af op my rug soos ek hardloop en my skoolskoene raak vol grond. Die woud is dan so mooi! Hoe kan so gevaarlik plek vol blommetjies en paddastoele wees?

Ewe skielik hou die lang ry sokkies op. Hoe kan dit net so ophou? Ek kyk agter my.

Daar lê nie ‘n enkele sokkie agter my nie… Maar daar is voetspore?

Die sokkie wat ek nou net gesien het is weg. Wat gaan aan..? Ek hoor ‘n geritsel in die bosse langs my en ewe skielik besef ek ek is in die middel van die diep gevaarlike bos! En ek kan nie uit nie! Wat sal almal dink as hulle uitvind ek is gevang met sokkies??

Daar is ‘n gefluister rondom my, en daar is takkies wat verweg kraak.

Wat moet ek doen, wat moet ek doen?!

Onder my voete voel ek iets beweeg en ewe skielik maak die grond onder my oop en sluk my in!

AAAAAHHHHHHHH!!!

boom

PLOF!

Het ek nou regdeur die grond geval..? Ek lê nou op iets sags, dit is… sokkies?

Ek  voel rond met my hande en orals voel ek net sokkies. Ek sit op ‘n enorme hoop van dit! En dit ruik bietjie snaaks… soos voete? Ag duh.

Ver in die hoek van die kamer hoor ek ‘n deur oopkraak, en ‘n lig wat inskyn van buite. Ek hoor fluisterstemme wat van buite die deur af kom. Hulle klink kwaad. Wat gaan met my gebeur?? Ek sit stokstyf gevries op die hoop sokkies. Ek haal skaars asem.

Daar steek ‘n voet uit by die rand van die deur, maar dis nie ‘n gewone voet daai nie. Die voet is enorm! Dis vol wollerige hare, en die toonnaels is dik en geel, met krake in. Wie sal sulke voete hê..?

Stadig stap hy in, en ek kan nie my glo wat ek sien nie. Ek knip ‘n paar keer my o om seker te maak ek sien reg. Die mensie wat voor my staan, is nie ‘n mens nie… hy, hy lyk soos ‘n tipe dwergie, maar hy is nie? Hy lyk asof hy ‘n honderd jaar oud kan wees, met ‘n draderige baardjie wat tot by sy knieë hang. Hy’t ‘n vet, koëlronde neus, en hy lyk asof hy nie langer kan wees as ‘n klaskamer stoel nie! Hy waggel nader met sy pokkel lyfie, en hoe nader hy kom, hoe beter sien ek sy ligte groen vel. Sy geel oë is stip op my gefokus. Hy stop voor die hoop sokkies waarop ek sit.

“Wie is jy, kind? Hoe het jy ons gevind?”

Hy praat met my!

“Uuhm… uuhh…”

Ek hap na lug, en kry niks gesê nie.

“Hierdie moet seker ‘n groot skok vir jou wees. Jy het seker nie eers geweet trolle bestaan nie?”

Trolle? Is dit wat hy is? ‘n Trol?

Ek moet seker nou iets sê…

“Uhm…nee?”

Ek hoor ‘n kwaai gefluister van agter die deur.

“Baie van die trolle hier is baie ongelukkig omdat jy ons hier gevind het. Hulle is bang dat jy vir grootmense gaan sê van ons, en dan gaan hulle ons hier kom uithaal. Dit gaan die einde van ons wees. Jy sal nie vir die grootmense gaan vertel van ons nie, sal jy?”

Ek skud my kop vinnig heen en weer. Ek waag nie eers om my oë te knip nie.

boom

“Nou maar goed,” sê die trol met sy sagte, diep stem, “stap saam met my kind. Ons gaan jou nou huis toe vat.”

Ek gly stadig van die groot hoop sokkies af, met my tas nog op my rug.

Hoe weet ek of ek hierdie trolle kan vertrou? Ek moet seker maar net. As hulle iets aan my doen, gaan my ouers vir my begin soek en hulle gaan my dalk hier kry. Dit is nie wat die trolle wil hê nie.

Ek staan langs die ou trol en hy steek sy hand vir my uit.

Maar… sy klere? Dit is gemaak van sokkies! Sy hemp en sy broek en alles wat hy dra is sokkies wat aanmekaar vasgewerk is!

Ek vat sy hand, en voel hoe grof en dik dit is. Stadig stap ons na die deur toe. Soos ons deurstap sien ek trolle orals. Groot trolle, klein trolle, vroutjie trolle en baba trolle. Groot, vet maer, harig en nie-harig. Elke liewe tipe trol waaraan jy kan dink. En almal se klere is gemaak van sokkies! 

Ek kyk orals en orals sien ek tente wat van elke tipe sokkie gemaak is. Ek is amper seker ek het nounet nog ‘n sykous van Ouma Santie gesien op iemand se dak.  

Hulle het selfs kerse van die sokkies gemaak deur dit in was te druk en te brand, en dit is hoe hulle ondergronds sien. Hierdie trolle lewe van ons mense se sokkies!

“Uhm, hoekom gebruik julle sokkies..?” vra ek versigtig.

“Dit is maar hoe trolle dit nog altyd gedoen het” sê die ou trol. “Ons ken nie ‘n ander manier nie.”

“O.”

Reg dan, wie is ek om te oordeel?

Ons klim op met ‘n stel rots trappe en ons kom bo by die woud uit.

Die ou trol draai na my toe en kyk baie ernstig na my.

“Jy moet onthou om vir geen mens van ons te vertel nie! Nie vir jou ma, jou juffrou of jou beste maatjie nie!”

Ek skud my kop heen en weer. Wie gaan my in elk geval glo as ek sê ek was in ‘n ondergronde dorp vol trolle wat ons sokkies steel?

“Sien jy die ry paddastoele?” vra die trol terwyl hy met sy groen vinger wys na dit.

“Ja?”

“Volg net dit, dan sal jy terug by die pad kom.”

Ek kyk ver in die diepte in en sien dat die ry paddastoele hou vir lank aan, ek kyk terug en die trol weg. Ek kyk verward om my rond, maar hy is weg.

Lank na dit het ek amper gewonder of ek nie die trolle opgedroom het, of my net verbeel het nie. Dit het so vinnig gebeur! Maar ek weet wat ek gesien het. Ek het toe vir niemand vertel van die trolle nie, behalwe vir jou. So as jy weer ‘n sokkie verloor, weet dit was nie jou skuld nie… Moet net vir niemand sê nie, dis ‘n geheim…

SSSSSJJJJJUUuuuuuttt…

(Skrywer: Tehilla Joubert)

Die klipvis en die skulpievanger

Die onderwaterstad van Suriana is in rep en roer – chaos, eintlik.

“Gaan vertel die koning! Iemand, gou, gaan vertel die koning!” skree iemand.

Meerminne swem van die een plek na die ander. Seenimfe roep angstig om hulp in hulle fyn waterdruppelstemmetjies. Die seeperde probeer uit hulle stalle breek. Die visse en ander seediere skree en swem paniekerig heen en weer,  sodat  ’n mens skaars die stad kan sien deur al die borrels wat hulle met hulle sterte opklits.

Maar nie almal is so paniekbevange nie. Op sy kliphuisie se stoep staan ’n klein klipvissie en kyk na die stad. Hy verstaan nie waaroor die vreeslike bohaai gaan nie.

“Ekskuus tog,” vra die klipvis vir ’n krap wat oor ’n klip aangeskarrel kom. “Hoekom is almal in die stad so paniekerig?”

“WEET jy dan nie?!” roep die krap geskok uit. “Die Skulpievanger is weg!”

Die Skulpievanger? dink die klipvis. Die Skulpievanger is dan die ou, wyse towenaar wat in die koraalgrot net buitekant die stad bly. Hy is veronderstel om al die strande op die Aarde op te pas: hy beheer watter seediere aan wal mag gaan, hoeveel skulpies daar op die sand uitspoel en ook hoeveel rotse daar op die strande gevorm word. As die Skulpievanger verdwyn het, beteken dit daar sal baie dinge begin skeefloop op die strande.

Die rotse sal begin verkrummel. Seediere wat nie veronderstel is om uit die water te kom nie, sal sommer op die strande begin rondloop. Die skulpies wat op die sand uitspoel, sal só baie word dat dit onmoontlik sal wees om die sand te sien.

Dit sal chaos op al die strande veroorsaak!

“Goeiste!” roep die klipvis. “Hoekom het niemand nog vir die koning gaan sê nie?”

En net daar wikkel die klipvissie sy vaal stertjie reg, en swem so vinnig as wat hy kan na die paleis in die middel van die stad.

Die Drie en die leeubaba

Timmie is ’n klein blouapie met ’n krulstert en ’n blou fiets met ’n rooi mandjie. Hy bly saam met sy mamma en pappa en drie boeties en sussies in ’n boomhuis in die woud.

“Eendag,” sê Timmie altyd, “eendag gaan ek nog op my fiets klim en ver ry en baie avonture hê!”

“Goed, my kind,” sê Mamma Aap altyd en glimlag en skud haar kop.

“Moenie simpel wees nie, man,” sê Tina altyd en trek ’n gesig. “Jy kan dit mos nie doen nie.”

“Vat my saam, vat my saam!” skree Treintjie en Toontjie altyd en spring op en af.

“Julle is almal nog heeltemal te klein,” sê Pappa Aap altyd en lees sy koerant verder.

Maar Timmie luister nooit na een van hulle nie. Hy sit net en dink aan alles wat hy in sy rooi mandjie en groen rugsak gaan pak as hy eendag met sy fiets gaan ry.

***

Eendag is Timmie alleen by die huis. Pappa is by die werk en Mamma, Tina en die tweeling is Vrugtemark toe. Skielik hoor Timmie ’n klop aan die deur. Hy loer versigtig deur die loergaatjie en vra “Wie is daar?” maar niemand antwoord hom nie.

Nuuskierig maak hy die deur op ’n skrefie oop. ’n Bondeltjie geel en rooi lappe lê onder op die trappe. Timmie krap sy kop. Hy spring die trappies vinnig af en gryp die bondeltjie onder sy arm vas, dan spring hy hulle weer twee-twee op tot binne-in die huis en maak die deur agter hom toe.

Hy sit die bondel op die tafel neer en kyk skewe-kop daarna. Hy steek stadig ’n poot uit, maar toe grom die bondeltjie. Timmie skrik so groot dat hy tot bo-op die kombuiskas spring.

“Wat kan dit tog wees?” wonder hy hardop. Hy is baie nuuskierig, soos apies maar is. Hy skraap al sy moed bymekaar en klouter van die kas af. Hy draai die lappe los en dan gaan staan sy stert skoon regop van verbasing.

“Dis dan ’n leeubaba!”

’n Klein leeutjie lê ewe rustig en slaap in die lappe. Om sy poot is ’n goue seël met die koninklike simbool op. Timmie besef dadelik: die leeubaba is dan die prins! Maar hoekom is hy hier?

Timmie gaan sit sommer op die grond en dink aan hierdie penarie. Hy sien sy fiets langs die deur staan en kry ’n idee. Hy gaan die leeubaba terugvat! Dan sal almal sien hy is nie te jonk om alleen te gaan fietsry nie.

Timmie se hart klop nou woes van opgewondenheid en vinnig gooi hy ’n paar piesangs, ’n waterbottel en ’n padkaart in sy rugsak. Hy draai die prinsie weer versigtig toe sodat hy nie wakker word nie en sit hom in sy fiets se mandjie.

Timmie ry vinnig met sy fiets deur die woud, met die leeubaba voor in die mandjie en sy rugsak op sy rug. Toe hy net buite die woud is, hoor hy iemand sy naam roep. Dis sy beste vriend, Gerrie die kameelperd. Timmie draai sy fiets en stop langs Gerrie waar hy by ’n doringboom staan en blare eet.

“Waarnatoe is jy oppad?” vra Gerrie en buig sy lang nek om die mandjie te beloer.

“Ek gaan die leeuprins terugvat na sy huis toe,” sê Timmie trots. “Iemand het hom voor ons huis se deur neergesit.”

“Haai!” sê Gerrie en sy oë rek groot. “Maar dis mos baie ver! En wat as jy verdwaal?”

“Ek het ’n padkaart. Wil jy saamkom?” vra Timmie.

“Ok,” sê Gerrie nadat hy ’n oomblik gedink het. “Laat ek net vir my gaan padkos inpak.”

En daar gaan die twee vriende met die leeubaba verder op die pad na die paleis toe: Timmie ry op sy fiets en Gerrie draf langsaan. Koning Leeu en sy familie bly op die Goue Koppie in die bosveld. Soos hulle ry beduie Timmie vir Gerrie hoe die pad lyk.

“Ons gaan nou hier deur die Grasveld, dan kom ons by drie groot bloekombome. Daar draai ons regs en loop tot ons by die rivier kom, by die Seekoei Kruising. Dan loop ons weer links deur die Klipveld tot in die Bosveld en dan sal ons die Goue Koppie van daar af sien.”

“Is dit nie gevaarlik nie?” vra Gerrie, en rek sy nek om te kyk of hy nie gevaar in die gras kan sien nie.

“Miskien,” sê Timmie, en sy oë blink van die avontuurslus.

***

Diereresies in die agtertuin

“Rupert, wat is 6×6?”

Rupert sit asof versteen. Sy gedagtes ver weg. Beslis nie by juffrou en maalsomme nie. Waar hy by sy tafel sit, kan hy sien dat die frons op haar gesig al hoe groter word.

“Ses en dertig, juffrou?” Hy antwoord met ’n piepstemmetjie, wat dit laat klink of hy ’n vraag aan haar stel.

“Ja, Rupert, jy is inderdaad reg. Probeer tog om op te let in die klas.”

Rupert vat sy potlood en begin ’n leeu te teken. Hy hoop dat die leeu lewendig wil word.

***

Maalsomme. Deelsomme. Boonop begin die atletiek vanmiddag. Pouse sit Rupert onder die boom, toe Evert en ’n paar vriende nader gestap kom.

“Haai, Rupert, gaan jy weer vanmiddag laaste kom?” vra Evert terwyl sy vriende uitbars van die lag.

Die grap van die jaar. Dit was laas jaar. Die jaar wat Rupert besef het hy moet ook hardloop, toe sy klasmaats reeds oor die wenstreep was.

Dankie tog verlos die skoolklok vir Rupert van Evert en sy vriende. Evert is goed met maalsomme en die vinnigste op die atletiekbaan. Rupert sug en vat ’n laaste hap van sy toebroodjie. 

***

Stefan is in die baan langs Rupert. Rupert hoor hoe Evert grappies maak terwyl hy in sy rigting kyk.

“Seuns, onthou net die eerste drie kwalifiseer,” sê meneer Viljoen.

“Merke, gereed.”

Hierdie keer vlieg Rupert op en hardloop soos blits. Is hy tog nie voor nie?

“Rupert!!!” Hy stop net daar. En draai om. Almal staan en lag vir hom. Koponderstebo stap hy terug. Valse wegspring.

Rupert smyt sy skooltas neer in sy kamer. Hy hoor hoe Maria sing in die kombuis.

“Maria, daardie getalle maak my mal!”

Maria klik net haar tong, terwyl sy aangaan om aartappels te skil.

“Maria, ek kan ook nie hardloop nie,” sê Rupert.

Die ou vrou met die sagte oë hou op met skil. Sy kyk Rupert stip in die oë. “Jy kan tog goed swem,” sê Maria. “En stories vertel wat lewendig word.”

“Ja, maar ek wil ook vinnig hardloop. En weet wat 6 x 6 is.”

“Jy sal wel sien, wat jy sal sien,” sê Maria.

Rupert kry sy handdoek en kies koers in die rigting van die swembad. Met ’n boog duik hy in die water.  Die water is koud, maar lekker. Skielik hoor hy ’n gefluit, wat sy ore laat tuit.

Frrrrrrrrrrrrrrrrrrr

“Rupert, kom help tog gou hier.”

Sy hele lyf versteen. Want in die hoek van hulle tuin, staan die grootste leeumannetjie denkbaar. En dis hy wat met hom praat.

Verbaas vryf hy oor sy oë. Kan dit wees?

“Kom sit die leer regop teen die muur. Die ander diere wil ook oorklim.”

Die res!

“Moenie bang wees nie, ek sal jou niks maak nie.”

Niks!

Rupert stap stadig nader aan die muur. Glimlag die leeu sowaar vir hom?”

“Wat op aarde maak jy in ons tuin?” kry hy die woorde uit.

“Wat bedoel jy met wat maak ons hier? Jy wil ons mos hier hê. Jy teken ons altyd as jy in die klas sit.”

Rupert lyk verbaas. Diere in pare. Soos Noag se ark wat juffrou by die skool gelees het. Die verskil? Dit gebeur in Rupert-hulle se agtertuin.

Doofff Doofff

Een na die ander klouter die diere oor die tuinmuur.

“Ek weet nog nie wat maak julle in ons tuin nie?”

“Ontspan Rupert, ons kom hardloop in julle tuin.”

“Hardloop?”

“Ja, ons hardloop ons jaarlikse wedloop hierdie jaar by julle.”

Leeu hou ’n fluitjie na Rupert toe uit.

“En dit?”

“Toe, jy moet ons laat wegspring.”

Al die diere staan in ’n reguit ry. Rupert knip sy oë. Hy droom beslis nie. Hierdie diere is regtig. En hulle is hier. Sy bene voel jellierig.

“Hallo, Rupert,” sê die uil.

“Hallo, Rupert,” sê die rooibok.

Leeu draf tot net voor die swembad, waar hy ’n wenstreep met sy poot uitkrap op die gras.

“Merke, gereed.”

Jy kan ’n speld hoor val. Al die diere se ore is gespits.

“Gaan!”

Dit is ’n geskarrel soos min. Luiperd se gesig vertrek van inspanning. Uil maak woeste geluide. Rooibok hardloop kop omlaag. Maar ystervark wen. Eerste oor leeu se wenstreep.  

En hullle duik in die swembad. Een na die ander. Uil, rooibok en luiperd.

Plons!

“Rupert, kom swem saam. Die water is lekker.”

Huh?! hy knyp homself op sy arm, maar hy verbeel homself nog steeds nie.

“Ek is nou daar,” antwoord Rupert.

“Kyk hoe swem ek.” Almal kyk na die ystervark, wat spog met sy passies in die water.

Na ’n ruk klim Rupert doodmoeg uit die swembad.

“Dankie dat jy ons jy ons laat tuis voel het.” Leeu sit sy poot op Rupert se skouer.

Rupert kyk leeu in die oë. “Dis ’n plesier, julle moet weer kom kuier.”

“Dis reg so. Ons moet nou gaan, dit word laat.”

En toe, net so vinnig soos hulle verskyn het, verdwyn die diere weer oor die muur.

***

“Rupert, gaan jy vandag vir ons sê wat 8 x 8 is?” Juffrou kyk na Rupert.

“Ek weet nie, juffrou.”

Voordat juffrou kan antwoord, kyk Rupert weg. En begin ’n olifant teken.

(Skrywer en illustreerder: Marnus Kok)

Sneeuwitjie en die sewe boeties

Sneeuwitjie slaan haar kamerdeur gefrustreerd toe. “Niemand verstaan my nie! Ek is lief vir hom, daarom sal ek met hom trou.” Sy lê op haar bed en snik. Na ’n rukkie kom haar ma by die kamer in en gaan sit langs haar op die bed.

“Sneeuwitjie, ek wil net die beste vir jou hê. Die prins is ’n baie lui en nare mens. Om met hom te wil trou is net nie ’n goeie idee nie. Daar is baie visse in die see, jy sal nog iemand baie beter kry.”

“Nee, Mamma. Elke meisie droom tog van die dag wat ’n prins haar gaan vra om te trou. Nou het my prins, ’n regte prins my gevra om te trou! Hoekom mag ek nie?”

Haar ma sug. “Ek kan jou nie keer om met hom te trou nie, maar asseblief my kind, wees tog net versigtig.”

’n Paar dae later is al Sneeuwitjie se goed gepak. Sy en haar ma het ’n ooreenkoms aangegaan dat sy eers ’n rukkie by die prins in die paleis moet gaan bly voor sy haar finale besluit oor die trouery neem.

Die prins is egter vir ’n paar dae weg op besigheid, maar hy het haar belowe dat hy so gou as moontlik by die paleis sal wees.  Die bediendes is baie gaaf en laat haar baie tuis voel. Sy bly in ’n baie groot kamer met 24uur kamerdiens.

‘Dit is die lewe,’ dink Sneeuwitjie toe sy op haar bed gaan lê met ’n glasie sjampanje in die hand. Alles is perfek. Daar is wel een ding wat haar so bietjie pla, en dit is die prins se twee sussies. Hulle is vreeslik naar met haar en laat haar nie juis tuis voel nie. Die prins se sussies raak elke dag al hoe wreder met haar. Hulle het haar al begin beveel om in die oggende hulle beddens op te maak en om in die aande die bediendes te help met die skottelgoed.

Toe die prins uiteindelik by die paleis opdaag, doen hy nie juis moeite om vir Sneeuwitjie te laat welkom voel nie. Hy lê heeldag in sy kamer en Play station speel. Hy is tog vriendelik met haar en hy het haar gevra om te trou, maar hy het nog nie eens agter gekom dat sy soos ’n slaaf werk nie.

Sneeuwitjie is baie ongelukkig. ‘Ek moes maar liewer vir my ma geluister het,’ dink sy een aand toe sy weer die skottelgoed was. Dan hoor sy hoe haar aanstaande skoonsussies in die sitkamer net langs die kombuis praat.

Sneeuwitjie sluip stilletjies nader en luister na die gesprek.

“Ons kan nie dat sy bo ons aangestel word nie, Emily. Sy gaan koningin word en dan gaan ons nog net prinsesse bly.”

“Nadine, ek het ’n plan. Kom ons stuur vir haar ’n mandjie vol vrugte, maar dan sit ons gif in een van die appels. Sy sal doodgaan en ons sal weer kans staan om koningin te word,” stel Emily voor.

“Ek dink dit is ’n baie goeie plan. Ons doen dit sommer môre, nog voor die verlowingspartytjie begin.”

Sneeuwitjie weet dat sy nou in groot moeilikheid is en so gou as moontlik uit die paleis moet padgee. Sy gaan sit buite in die tuin en dink baie hard aan wat sy nou gaan doen. Dan sien sy vir Jagter wat die vleis vir die volgende dag se verlowingspartytjie bring. Sneeuwitjie glimlag, want sy het haar idee gekry.

“Ekskuus tog, meneer. Ek het u hulp nodig.”

Die jagter glimlag vir haar. “O aanstaande koningin noem net en ek sal u help.”

Sneeuwitjie vertel hom van die lui prins en sy sussies se bose plan. 
“Ek wil hê u moet nog ’n hasie of iets skiet en dan sy hart vir die sussies wys. Vertel hulle dat ek dood is.”

Die jagter stem in en Sneeuwitjie begin dadelik hardloop. Sy wil huis toe gaan, na haar ma toe. Sy wil haar ma vertel dat sy reg was. Ma’s weet altyd die waarheid.

Sneeuwitjie is so ingedagte terwyl sy hardloop, dat sy nie agterkom sy het die verkeerde paadjie in die woud gekies nie. Sy kom af op ’n ou huis. Sy klop aan die deur, maar niemand maak oop nie. Toe sy die deur saggies oopstoot, snak sy na haar asem. ‘Verseker net mans wat hier bly,’ dink sy kwaai. Oral op die vloer lê ongestrykte klere, die skottelgoed raak al amper die dak en al sewe beddens is onopgemaak.

Sneeuwitjie klik haar tong. “Goeiste maar mens kan moes nie so leef nie,” sê sy hard-op. Sy rol haar moue op en begin alles mooi aan die kant maak. Dan maak sy deeg aan en bak ’n lekker broodjie.

Die broodjie is net uit die oond, toe kom hulle daar aan. Sewe dodelike aantreklike mans. Toe hulle by die huis aankom, gaan staan hulle vir ’n oomblik stil. Hulle kyk na die vloer, dan na die wasbak, dan na die broodjie en uiteindelik na Sneeuwitjie.

Sneeuwitjie glimlag. “Hallo, julle is seker die mense wat hier bly? My naam is Sneeuwitjie…”

“Wat het jy met ons huis gedoen?” val die een haar baie ontsteld in die rede. “Jy het weke se werk vernietig!” Hy klink baie naby aan trane. Hy hardloop na die tafel waar daar ook baie klere en sjokolade papiere gelê het. Hy wys ontsteld na die tafel. “My klere-sjokolade berg. Dit… dit het net hier gestaan. Ek werk al weke daaraan.” Hy gryp sy kop vas en hardloop na die wasbak. “Hier… net hier het my borde en koppies berg gestaan, as ek nog twee koppies bygesit het, sou ek die genius world book of records gehaal het. JY!” Hy wys na Sneeuwitjie. “Jy het alles vernietig!”

Een van die ander mans slaan hom hard op sy blad. “Ontspan toe. Dit is regtig nie so erg nie.”

“Nie so erg nie? Nie so erg nie, Pieter? Sy het alles vernietig!”

“Ja toe nou, dit het jy al gesê.” Dan kyk Pieter na Sneeuwitjie. “Jy het omtrent hard gewerk om ons plek so aan die kant te kry. My naam is Pieter. Ek en my ses jonger boeties bly hier. Jy het al vir John ontmoet,” hy wys na sy boetie wat by die tafel, met sy hande in sy hare sit en huil. “en die res se name is Kobus, Vincent, Theo, Freddie en Nelis.” Elkeen lig sy hand op as Pieter sy naam noem.

Sneeuwitjie vertel hulle haar hele verhaal en die boeties stel dadelik voor dat sy nog ’n rukkie by hulle bly. “Net-nou kom een van die sussies agter dat jy nog lewe. Hulle sal jou weer probeer doodmaak,” sê Vincent. “Skryf ’n brief vir jou ma, sodat sy kan weet jy lewe en dan bly jy nog ’n rukkie by ons.”

Nelis bou vir haar ’n bed en sommer baie gou voel sy tuis by hulle.

Elke oggend as die boeties uit die huis loop waarsku hulle Sneeuwitjie om vir niemand oop te maak nie. Dan gaan hulle werk toe. Sneeuwitjie bly by die huis en maak seker dat die huis netjies bly en dat John nooit weer een van sy ‘vullisberge’ begin nie.

Nuus het net ongelukkig ’n manier om baie vinnig te versprei, en kort voor lank vind die prins en sy sussies uit dat Sneeuwitjie nog lewe. Die prins beveel sy knegte om haar te kry en haar terug te bring paleis toe. “Ek wil met haar trou! Kry haar!” blaf hy vir sy knegte en speel dan verder play station. Die sussies besluit dat hulle ook vinnig ’n plan sal moet maak om haar te kry voor hulle boetie doen.

Sneeuwitjie sing vrolik saam met die liedjie op die radio. Dan is daar ’n klop aan die deur. Sneeuwitjie skrik so bietjie, maar vat die kannetjie pepperspray wat Theo vir haar gegee het, styf vas. Sy loop tot by die voordeur.

“Wie is daar?” vra sy en probeer haar bes om die bang uit haar stem te hou.

“Ons is twee ou vroutjies wat koekies verkoop. Sal jy dalk belangstel? Ons verkoop dit as fondsinsameling vir ons ouetehuis.”

Sneeuwitjie maak die deur oop en glimlag vir die twee ou vroutjies. “Wat se koekies het julle alles daar?”

“Soetkoekies, niks anders nie.”

“Ek sal drie pakkies vat. Dankie julle.” Sneeuwitjie vat die drie pakkies. Iets is vir haar vreemd. Dit lyk of die twee ou tannies nog wag vir iets. “Het ek julle nie genoeg betaal nie?” vra sy huiwerig.

“Nee-nee, hierdie is genoeg geld.” Hulle kyk haar nog steeds aan asof hulle wag.

Sneeuwitjie knik haar kop. “Nou goed dan. Lekker dag verder.” Sy maak die deur toe.