Wolfie

Wolfie

Kayla-Mari Geyer
Eendag lank, lank gelede was daar ’n eensame wolf. Daar was niks fout met hom nie, die ander wolwe wou net nie maats wees met hom nie.
Wolfie

Eendag lank, lank gelede was daar ’n eensame wolf. Daar was niks fout met hom nie, die ander wolwe wou net nie maats wees met hom nie. Die ander wolwe het altyd vang-die-haas gespeel, maar die speletjie het glad nie vir Wolfie lekker gelyk nie. Al wat Wolfie wou doen is huisies bou en die binnekant mooi versier. Dit was sy grootste droom. Op ’n dag, terwyl Wolfie onder ’n boom sit en dagdroom, hoor hy ’n lawaai wat van ander kant die bos af kom. Hy besluit toe om te gaan kyk.

Hy sien toe dit is ’n kleine ou varkie wat ’n strooihuisie bou. Die wolf dink dadelik dat dit ’n slegte idee is. Almal weet die wind waai woes in hierdie deel van die bos. Die klein varkie hoes en hy proes soos wat hy sukkel om sy huisie te bou. Wolfie besluit dat hy die varkie gaan help.

Varkie met rooi hoed

“Hallo, kleine varkie. Kan ek jou help jou huisie bou?” vra Wolfie en wys sy spierwit tande. Die varkie skrik so groot hy sluk sy eie asem in. Die varkie spring in die hoop strooi in. Die wolf vind dit vreemd. Hoekom sal die varkie bang wees vir hom? Die wolf loop na die hoop strooi toe om die varkie te vra hoekom hy bang is, en nes hy wil begin praat, gee hy die grootste nies.

Wolfie is allergies vir strooi en hy het die varkie se hele huisie weg genies. Die varkie begin huil terwyl Wolfie pleit en smeek dat die varkie hom moet vergewe. Die volgende oomblik gryp die varkie sy rooi hoed en hardloop weg. Die wolf voel baie sleg, hy wou net help. Moedeloos gaan sit hy onder die boom en kyk hoe die ander wolwe nog steeds vang-die-haas speel.

Net soos Wolfie se ogies begin toe val, hoor hy die eienaardigste geluid wat van die rivier se kant af kom. Hy besluit toe om te gaan kyk. Hy loer tussen die bome deur en sien dat daar nou twee klein varkies is. Die een varkie dra ʼn rooi hoed en die ander een dra ’n groen hoed. Hulle is seker boeties, dink die wolf by homself, hulle lyk baie na mekaar.

Varkie met groen hoed

Wolfie sien toe dat die varkie met die rooi hoed die ander een help om sy huis met stokke te bou. Die wolf dink dadelik dat dit ’n slegte idee is want stokkies breek so maklik. Wolfie besluit toe dat hy hulle gaan help, maar hierdie keer gaan hy dit skelm doen sodat hulle nie weer vir hom skrik nie. Hy hou die twee varkies dop soos wat hulle bou en tekere gaan. Net toe hulle klaar is, sien Wolfie dat daar ’n stokkie skeef lê.

Hy sluip nader en draai die stokkie reg. Trots begin Wolfie wegloop, maar toe hoor hy hoe die huis inmekaar stort. Die twee varkies staan en kyk verwilderd na die wolf en skreeu so hard as wat hulle kan.

“Sien jy, boetie! Dis die wolf waarvan ek jou vertel het. Hardloop!” gil die varkie met die rooi hoed en hulle albei hardloop weg.

Die wolf verstaan dit nie. Hoekom is hulle bang vir hom? Die ander wolwe is nie bang vir hom nie? En buitendien is hy dan die kleinste wolf in die hele dorp.

Hy gaan sit op ’n klip en krap sy kop. Dalk het hulle gehoor hy kan nie vang-die-haas speel nie, en nou wil hulle ook nie sy maats wees nie? Dalk is hulle bang vir hom omdat sy tandjies so wit en sterk is? Die wolf sug en draai sy gesig weg van die son af.

Na ’n ruk is Wolfie honger. Hy besluit toe dis tyd om huis toe te gaan. Hy loop sy gewone roete huis toe, maar hierdie keer is daar iets nuut op die pad. Daar lê bakstene die hele wêreld vol. Kan dit wees? Het die varkies besluit om nog ’n huisie te bou? Hy kyk rond en sien niemand nie. Hy loop stadig nader, bang om weer die varkies skrik te maak.

“Eina!” gil iemand en Wolfie spring in ’n bos in. Hy steek sy kop uit en sien daar staan ’n varkie met ’n geel hoed. Hy sien toe die ander twee varkies aangeloop kom en hulle drie begin met mekaar praat.

Varkie met geel hoed

Daar staan alreeds ’n huisie van bakstene, maar die huis lyk te vaal. Sonneblomme sal mooi lyk by die voordeur, dink Wolfie. Hy kruip uit die bos en gaan pluk van sy tannie Anna se blomme. Die varkies sal nou definitief sy maatjie wil wees.

Hy loop rustig na die drie varkies toe.  Die varkie met die groen hoed gee ‘n harde gil. Die ander twee varkies kyk verward om. Die varkie met die rooi hoedjie skreeu benoud. Die varkie in die geel hoedjie is tjoepstil.

“Gaan in die huis en gaan kalmeer,” sê die varkie met die geel hoedjie. Dalk is hy die baas van die varkies? Wonder Wolfie.

Die varkie stap nader en staan reg voor die wolf.

“Hello, Meneer Wolf. Soek jy iets hierso? My boeties is vreeslik bang vir jou,” sê die varkie terwyl hy vir Wolfie op en af kyk.

“Hello, kleine varkie. Noem my sommer Wolfie. Nee, ek soek nie iets nie en ek wou nooit jou boeties skrik maak nie. Ek wou hulle net help om hulle huisies te bou, maar ek het dit elke keer opgevoeter,” sê die wolf moedeloos.

“Hoekom sal jy, ’n wolf, ’n varkie help sy huis bou?” vra die varkie.

“Want ek hou daarvan om huise te bou en om hulle te versier. My pa sê dit is vreemd dat ’n wolf dit wil doen en dis waarom die ander wolwe nie my maats wil wees nie,” antwoord Wolfie.

Die varkie krap sy geel hoedjie en verdwyn. Hy kom terug met sy twee boeties wat agter hom staan. Na ’n lang verduideliking van wat eintlik gebeur het, besef die twee varkies dat hulle nie bang hoef te wees vir die wolf nie. Die drie varkies nooi vir Wolfie in die huis in en bied vir hom suikerrietstokkies aan wat hy met graagte vat.

Wolfie het daardie dag drie maatjies gemaak en hy het die mooiste blou lampie as geskenk gekry by die varkies omdat hy hulle wou help met hulle huisies. Wolfie speel soms vang-die-haas saam met die ander wolwe, maar die meeste van die tyd eet hy suikerrietstokkies saam met die drie varkies.

Kayla-Mari Geyer
Kayla-Mari is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit. Sy het die storie in haar tweedejaar geskryf.
Kopiereg: Kayla-Mari Geyer
2019
0
Would love your thoughts, please comment.x