Toe als groen was

Normaal. Daai woord, daai ding wat ek nooit sal wees nie. Op haar agtiende verjaarsdag loop Marné weg van die huis af. Weg van Die Sending waar sy grootgemaak is tussen groen valleie. Weg van die kultus met hulle tienduisend reëls wat haar hele lewe beheer. Sy begin ’n nuwe lewe by haar tannie in Klerksdorp en probeer leer hoe om ’n doodnormale meisie te wees tussendeur die uitdagings van matriek in ’n nuwe skool. Sy maak nuwe vriende, en dan is daar die kitaarspeler met die mooi groen oë … Maar na jare van breinspoeling en manipulasie is dit nie so maklik om weg te breek van die sendingdogtertjie wat sy eens was nie. En haar ouers en Die Sending sal nie ophou om haar te probeer opspoor nie. ’n Aangrypende grootwordverhaal oor die soeke na self, die soeke na God en die soeke na waarheid. Hierdie treffende debuut is gebaseer op ware gebeure by die KwaSizabantu Sendingstasie in KwaZulu-Natal, waarvan die skrywer deel was.

Kerkstraat 15

My naam is Jannes Marais. Ek bly in Kerkstraat.  In my straat is daar ‘n huis wat jou rillings gee al dink jy net aan die plek. Die tuinhekkie staan oop maar die gras is so lank dat jy nie eens kan sien watter kant die ingang is nie. Daar is nie ‘n enkele lewendige plant nie – nie ‘n kolletjie groen nie. Die huis se bakstene val uit die mure en maak sulke groot gate.  Dit lyk soos oë wat na my kyk. Die vensters op die tweede verdieping is alles stukkend. Wanneer die wind waai, dan is die gordyne buite die huis. Wanneer ek verby die huis moet loop, loop ek baie vinnig aan die oorkant van die pad en kyk oor my skouer of daar nie iemand is wat my dophou nie.

Elke jaar naby Kersfees bak my ma koekies. Hierdie jaar was nie anders nie en sy het besluit dit is ‘n slim plan om vir al die bure daarvan te gee. Nou verwag sy van MY om by ‘daardie’ huis koekies te gaan aflewer. Sy luister nie eers na my nie. Sy gee nie om wat ek sê nie! 

“Daar bly niemand nie. Carla se niggie sê haar oom sê dat die tannie van die winkel gesê het, dat iemand in die huis dood is. Spoke hou wag sodat niemand kan binne kom nie. Daar bly lelike monsters met oë wat vuur spoeg! Dit is gevaarlik!”

Niks kan my ma van haar besluit laat verander nie. ALMAL sal koekies kry en ek moet dit gaan aflewer.

Dit het my nog nooit so lank gevat om 300m te loop nie. Dit was ‘n aaklige 300m, dit kan ek jou vertel.

Stadig loop ek die erf binne.  Ek hoop regtig dat daar niemand bly nie. (Ek sal vinnig terughardloop huis toe en skelm die koekies in my kamer opeet.) Die stukkende houttrappe op die stoep kraak onder my voete en ek hoor ‘n geskarrel in die dooie gras. Ek kan amper nie asem kry nie. Ek dink ek gaan naar word. Ek kom al hoe nader aan die voordeur en sien dat daar nie ‘n klokkie is nie. Ek lig my hand op om te klop… ek hoor hoe my hart klop…….haaaaaaaaaaigh! Die deur swaai. ‘n Ou tannie met rooi oë, wit krullerige hare en geel tande staar my aan. 

“Hoe kan ek so ‘n mooi jong kêrel op ‘n Saterdagoggend help?” vra sy met ‘n skril stemmetjie en ek kan die knoffel ruik tot waar ek staan.

My stem bewe. Dit klink nie eens soos ek nie, maar ek hoor myself sê: “Ek bring vir Tannie kerskoekies wat my ma gebak het.”

“Hoe wonderlik. Jy moet saam my kom koffie drink dan eet ons saam daarvan.”

“Dit is nie nodig nie, Tannie. Ek het ander planne gemaak vir die dag.” Ek weet ek jok, maar as ek nou in die huis ingaan, kan ek maar my eie graf begin grou.

‘’Ek het gesê kom drink koffie, NOU.’’ Haar oë trek op skrefies en dit lyk of daar stoom by haar ore gaan uitkom.

Ek het twee keuses.  Ek kan weghardloop en sy sien waarheen ek gaan en kom maak my dood in my slaap. Of ek kan in haar huis ingaan vir koffie en maak asof ek een of ander engeltjie is sodat sy my lewe kan spaar. Keuse twee sal dit wees, besluit ek soos wat sy my by die deur inforseer met haar knopkierie.

Daar hang fotorame teen die mure met swart-en wit foto’s van mense wat nie glimlag nie. Die meubels lyk stokoud en ‘n dik laag stof lê op die televisie. Daar is nie plek om te trap nie, orals lê koerante en briewe wat nooit oopgemaak is nie. Asof dit nie erg genoeg is nie, kom daar ‘n swart kat by die trappe afgeloop. Die kat het net een oog. Die reuk in die lug maak my naar en laat my dink aan die tyd toe ons paddas opgesny het in die biologieklas.

Haar kombuis is so deurmekaar dat ek nie eers die ketel kan sien nie. Ek kyk vas teen die groot swart pot op die stoof wat besig was om te prut. Sy gooi van die groen vloeistof in twee borde wat sy sommer uit die wasbak haal. Sy wys my hoe om die ‘koffie’ op te slurp en beduie na die koekies is my hande. Ek is te bang en sluk daaraan. Ek het nog nooit iets so aakligs geproe nie.  Ek dink sy kon dit aan my gesigsuitdrukking sien, want sy stap nader en mors aspris daarvan op my broek. Dadelik brand daar ‘n gat in my broek. As sy my nie gaan doodmaak nie, dan gaan my ma, in woede, oor my broek.

“Ek dink my krokodille sal die koekies vreeslik baie geniet, wil jy hulle sien?” vra die tannie en glimlag vir my.

Te bang om nee te se, knik ek my kop op en af. Ek stap agter haar aan tot by die agterdeur wat met verskillende slotte gesluit is. Met ‘n vinnige beweging maak sy al die slotte oop en die deur swaai vanself oop. Die knop in my keel keer die suurstof om my longe te bereik en ek begin sterretjies sien. 

Ek staar na die vuil modderige, grillerige water.  My oë vasgenael op wat voor my gebeur.

Sy gooi die koekies in die lug en dan spring daar iets uit die water wat dit uit die lug uit gryp. Kan dit regtig krokodille wees? Dit lyk soos groen gediertes maar ek het nog nooit so iets gesien nie. Hulle is lank, amper soos ‘n slang, slymerig, het skubbe en die verskriklikste tande wat ek nog ooit gesien het.

Sy sê dit is my beurt en druk die bak met koekies in my hande. Ek loop treetjie vir treetjie nader. Ek kyk om en die volgende oomblik stamp sy my in die water in en ek verdyn onder die groen slik. Al wat deur my kop gaan is die feit dat ek nie kan swem nie! Met ‘n geskop en ‘n gewroetel kry ek my kop bo die water. Iets het my voet beet en trek my weer af onder die water in. Die kloue om my voet se greep word sterker, dis nou wat ek moet skop vir my lewe! Gelukkig kom my voet los en ek klou aan die slymerige grasse vas. Ek snak na my asem toe my kop bo die water uitsteek en ek dit regkry om halfpad uit die water se kruip. 

Die tannie kom nader gestap met ‘n mes in haar een hand en ‘n swart sak in die ander.

“Los my net uit! Los my net uit!” skree ek so hard as wat ek kan.

Sy ruk aan my skouer en ek hoor: “Jannes, hou op skree, hou net op skree!”

Ek ruk my los, kyk op en sien hoe my ma haar kop skud. Die vloer is nat, die mure is nat, die gordyn hang by die venster uit. In die hoek lê ‘n groen handdoek bo oor ‘n bord met Kerskoekies.

My ma sit die swart sak neer: “Het jy aan die slaap geraak in die bad? Kyk net hoe nat is die vloer. Waarom het jy nog nie die koekies gaan aflewer nie?”

En al waaraan ek kan dink is: Hoekom is haar oë rooi?

Om jou te ken

“Happy birthday to youuu! Hiep-hiep-hoera! Hiep-hiep-hoera!”

Ek sug verlig toe die vals gesingery tot ‘n einde kom. Dis ‘n sonde om so gestraf te word op jou verjaarsdag!

“Kom, Gabby en Georgia, blaas nou jul kerse dood,” deel antie Frieda orders uit. Dit gaan nou al heeloggend so: Slaap ‘n bietjie laat! Eet julle brekfis! Gaan was! Die mense gaan nou-nou hie’ wees. Ek weet nie of ek vandag ek opgestaan het een keer stilgesit het nie.

Ek’s nou al oor my – eintlik ons – birthday pary en ek’s nie die enigste een nie. Antie Frieda moes ná brekfis vir Georgia order om haar “gesig reg te trek”. Maar my niggie luister na niemand nie, en haar RBF klou vandag. Nie eers die geskenke wat sy gekry het, maar haar happy nie. Sy wou vandag saam met Lindsay en haar tjommies blom – potjiekos langs die rivier as ek reg onthou – maar ons ma’s het ons goed laat verstaan dit gaan nie gebeur nie. Ons gaan saam verjaarsdag hou, net soos altyd. Ten minste is ‘n handjievol van ons vriende hier: Lindsay en Jaydey vir Georgia, Nadia en Sean vir my. Maar waar is James?

“Maak ‘n wish,” sê my ma, en ek moet keer dat ek nie my oë rol nie.

“Ma, ons is nie tien jaar oud nie! Ek verloor die stry omdat ek presies tien klink. Nadia trek vir my skewebek en ek steek my tong vir haar uit.

“Nee, julle is nie, Gabby, maar birthday wishes is nie net vir kinders nie. Kom, blaas nou die kerse dood en maak jul wish.”

Ek maar maar oë toe en hoop maar ‘n mens kom in my gedagtes op. Maar niks gebeur nie.

Smokey vlieg

Terwyl Smokey een oggend in die sonnetjie lê, hoor hy aardige geluide vanuit die kamer kom. Dis ‘n gekreun en gesteun, ‘n gesug en gehyg.

“Dalk het Ouma geval!” dink hy terwyl hy vinnig kamer toe draf. Maar nee, sy is besig om haar groot tas bo van die kas af te haal.

“Sy gaan vlieg!” sê Seun, die papegaai. “Vlieg! Vlieg! Ek saam! Ek saam! Kom Seun, soet Seun!!” Die papegaai praat aanmekaar en deurmekaar.

Smokey se ore en sy hart pyn. As Ouma gaan vlieg en Seun gaan vlieg en hy wat Smokey is, moet by die huis bly….want hy het nie vlerke nie!! Bekommerd en bek-af stap hy tuin toe.

“Wat is fout Smokey?” koer Fief , die duif, bo van die dak af.

“Ag Fief,” sê Smokey en sy grys ogies is sommer vol trane. “Seun en Ouma gaan vlieg en ek kan nie saamgaan nie, want ek het nie vlerke nie!” snik hy.

“Nee! Nee!” krys Hadida wat op die gras rondloop en pik-pik na goggatjies.

“Nee!! Nee!! Vlieg is hoog bo en onder is vêr onder! Heigend hert…bly onder, bly onder!”

“Ek wil regtig saamgaan,” sê Smokey, “hulle gaan lank weg, dalk vir altyd weg.

Daar kom sulke klein kermgeluidjies uit Smokey se keel.

Fief kry hom baie jammer en roep haar maat, Faf, nader. ”Hoe kan ons hom help vlieg, Faf?” Faf skud sy kop.

“Dis nie mooi nie, dis nie mooi nie!” koer hy en vlieg nader aan Smokey.

“Kom ons sit koppe bymekaar. Ons moet ‘n plan kan maak.”

Smokey lig sy hartseer gesiggie op en kyk hoopvol na die twee duiwe. Hy weet hulle is nou nie die slimste voëls in die tuin nie, maar twee koppe is altyd beter as een.

“Nou hoekom kan jy nie vlieg nie Smokey?” vra Faf.

 “Ek kan nie vlieg nie, want ek het nie vlerke nie.” sê Smokey stadig en duidelik. Hy lig sy voorpote op om vir Faf te wys…hy het gedink Faf behoort dit darem te weet.

“Seun het vlerke, so, hy kan vlieg, jy en Fief het vlerke, julle kan vlieg. Selfs Hadida kan vlieg, as hy net nie so bang was vir hoogte nie, kon hy ook vlieg, maar ek, ek het net hare!”

“Mmmm”, sê Faf, “Dis nou ‘n probleem…”

“Hoekom maak ons nie vir hom vlerke nie?” vra Janfrederik wat nuuskierig naderwip.

“Ek weet nie hoe om vlerke te maak nie, weet jy?” vra Faf.

“Nee, maar ek is seker Grootoog Uil sal weet.”

 Die drie van hulle vlieg dadelik na uil se huis in die groot akkerboom. Smokey en Hadida drafstap agterna.

“Nee! Nee! Nie vlieg nie! Net nie vlieg nie!” roep Hadida sover as wat hy stap.

“Grootoog, Grootoog!” roep Janfrederik toe hulle by Grootoog se nes kom.

“Kom uit, Kom uit” koer Fief en Faf.

“Wat wil julle hê?” brom Grootoog van sy sitplek af. “Ek slaap, ek werk nagskof, ek slaap!”

“Ons is so jammer om te pla,” sê Janfrederik en vertel gou vir Grootoog van hul probleem.

“Kan jy ons dalk help om vir Smokey vlerke te maak? Jy is mos baie slim,” vra Jan Frederik vir Grootoog.

“Belaglik,” brom die uil. “Katte wat vlieg?! Belaglik!”

Smokey se ogies raak weer tranerig en net voor hy begin snik, sê Grootoog: “Goed, goed…ek sal bietjie dink…stomme ding…ja, dis nie lekker om alleen te wees nie.” Kom so oor ‘n rukkie terug, ek moet dink.”

Toe die son net-net verby die middel van die dag staan, is almal vol afwagting voor die akkerboom. Grootoog kom stadig uit sy nes en in sy bek is stuk papier met tekeninge op. Geruisloos vlieg hy grond toe en sit die papier neer. Op die papier is ‘n tekening van ‘n kat en aan sy voorpote twee groot vlerke vasgemaak. Die voëls kyk verstom na die vlerke. Dit is van takkies, blare en ou penvere gemaak en met dun draadjies aanmekaar vasgemaak.

“So,” sê Grootoog, “ons moet vier groot blare soek, tien lang blare, ses penvere en lang stringe van die garingboom in die park. Roep dadelik vir Fanie Vink. Hy is die beste bouer en sal weet hoe om alles aanmekaar te kry.”

Jan Frederik vlieg vinnig na Fanie Vink se nes. Hy is besig om hier en daar nuwe grassies in sy nes te sit terwyl kwaai Sannie Vink toekyk. Sy hele lyfie bewe so bang is hy dat sy die nessie weer gaan afbreek. Dis al die derde een die week. Hy luister so tussen die werskaf na Jan Frederik se versoek en loer versigtig na Sannie.

“Tjaag, hierdie nes lyk stewig. Hy sal werk. Gaan help tog die kat,” kwetter sy.

By Grootoog se huis bekyk Fanie Vink die planne van bo, van onder, van links, van regs. Hy draai sy koppie amper reg in die rondte.

“Mmmm,” tjirp hy, “dit lyk nie te moeilik nie…sterk gras…sal self gaan haal…weet waar..,” praat hy met homself.

 “Goed julle, gaan soek die res, bring dit hiernatoe dan bou ons vlerke.” Die voëls vlieg in alle windrigtings en Fief ruk sommer een van haar penvere uit.

“Smokey,” sê Grootoog, “jy sal moet begin oefen om te vlieg. Jou voorpote moet sterk wees. Seun sê julle gaan Kaap toe en glo vir my, die Kaap is baie vêr van hier.”

Smokey se oë rek. Hy begin dadelik strekoefeninge doen en die res van die dag hardloop hy boom-op en boom-af, doen opstote, trek homself teen takke op. Hy spring en strek en hardloop tien keer om die huis.

Ouma skud net haar kop. Sy dink Smokey het sonsteek. Hy kom nie eers in om te eet nie, dis net skarrel en hardloop. Stokflou slaan hy die aand op sy bedjie neer.

Die volgende oggend kwetter en kweel al wat ‘n tuinvoël is voor en in die akkerboom. Mossie en sy hele familie is daar, Janfrederik se neef, Jan-Jan ook.  

Smokey stap stadig nader. Almal is baie nuuskierig om te sien wat gaan gebeur. Smokey steur hom nie aan hulle nie – sy oë is net op die vlerke wat Grootoog in sy snawel vashou.

“Toe-toe Smokey” sê Grootoog van bo af. “Trek bietjie aan dat ons kan sien of dit werk.” Fief en Faf help Smokey om die vlerke aan te trek. Vink staan nader met ‘n lang stringetjie gras. Vinnig ryg hy die vlerke aan Smokey se lyfie vas.

“Daar’s hy,” sê Fanie Vink tevrede.

“Mmm…” laat hoor Grootoog van bo af, “Jy het goeie werk gedoen Vink, goeie werk…”

Smokey stap versigtig ‘n paar tree met sy vlerke. Dis ongemaklik en hy moet sy pote hoog oplig om te keer dat die vlerke nie op die grond sleep nie. Hy konsentreer baie hard en soos ‘n kat op ‘n warm plaat hop-skuifel-hop hy tot op die boonste stoeptrappie. Die groot oomblik het aangebreek…sal hy kan vlieg? Hy staan so entjie terug, gee ‘n skuifel-stappie, swaai sy vlerke op en af en spring!

Met ‘n harde slag maak hy kop eerste met moeder aarde kennis! Jy sien net stofwolke en stukkies blare trek soos hy val.

“Meer wind onder die vlerke,” gee Janfrederik raad.

 “Jy moet hoër wees sodat die wind onder jou vlerke kan inkom. Dis hoe vlieg werk” tjirp hy.

Skaam en seer kom Smokey regop. Hy stof homself af en stap na die hoogste boom in die tuin toe.

“Ek sal nie opgee nie,” dink hy. “Ek sal oefen en oefen totdat ek kan vlieg. Ouma sê altyd ‘aanhouer wen’.” Hy trek homself op in die boom, hoër en hoër…

“Dis hoog, dis hoog!!” krys Hadida van onder af, “Ek wil nie kyk nie! Hoog is vêr, help, help!!” Hy maak sommer sy oë toe met sy een vlerk.

Vir Smokey voel dit ook skielik bietjie hoog hier van bo af. Die voëls onder lyk asof hulle gekrimp het. Met sy hartjie wat klop-klop-klop begin hy sy voorpote op en af swaai.

“Nog, Nog!” por Janfrederik hom aan.

“Vinniger, vinniger!” kom dit van Fief en Faf.

Smokey maak sy oë toe en spring. Hy voel die wind onder sy arms en waag dit selfs om sy oë effens oop. Al wat hy sien is die grond wat baie vinnig naderkom. Hy klap sy vlerke nog vinniger, hy skop sommer met sy agterpote ook. Jy sien net blare en vere waai toe hy hom disnis val op die tuinpaadjie. Sy kop draai, hy is naar, sy neusie is nerf-af en sy asem op. Hy het alles probeer om genoeg wind onder sy vlerke te kry, maar niks wou help nie.

“Aanhouer wen” dink hy terwyl hy homself weer teen die boom optrek.

Bo gekom wag hy nie eers nie, hy spring sommer dadelik, klap sy vlerke en…land in ‘n bondeltjie op die grond. Weer en weer probeer hy – elke keer val hy homself katswink. Die voëls beskou die petalje vanuit die boom. Party van Mevrou Mossie se kinders giggel-giggel, kwaai Sannie Vink knyp haar oë toe en Janfrederik skud net sy kop.

“Smokey,” sê hy, “Ek dink nie katte is veronderstel om te vlieg nie, jong. Miskien is dit beter as jy maar plat op die aarde bly.”

“Maar Seun gaan vlieg en Ouma gaan vlieg en ek wil saamgaan,” snik-snik hy van pure moedeloosheid.

“Toemaar, Smokey,” sê Fief gou om Smokey te troos. “ gaan rus, die son is amper onder. More probeer jy weer. Fanie Vink sal die vlerke regmaak en sterker maak met boomgom. Dan sal alles nie uitmekaar val as jy…mmm….land nie.”

“Dankie Vink, dankie vir al jou harde werk,” onthou Smokey darem sy maniere toe hy mank-mank met hangskouertjies wegstap.

Toe Smokey sy oë die volgende oggend oopmaak is die eerste ding waaraan hy dink sy vlerke en hoe hard hy sal moet oefen. Wat hy by die voordeur sien, laat hom so groot skrik dat hy sommer sit. Sy oë rek. By die deur staan Ouma se tasse mooi in ‘n ry. Langsaan is hy en Seun se dramandjies staan gemaak.

“Sy gaan nou vlieg. Vandag nog,” besef Smokey. Sy hartjie spring omtrent uit sy keel van pure skrik.

“Ek het nog nie genoeg geoefen nie!” Al wat hy nou kan doen is om sy vlerke sou gou moontlik in die dramandjie te kry. Terwyl Ouma besig is om Seun in sy mandjie te laai, storm hy by die voordeur uit na Grootoog se boom.

“Help julle!” roep hy die voëls, “Ouma vlieg VANDAG! Ek moet my vlerke in my dramandjie kry!”

So tussen die verbaasde uitroepe en gekwetter kry Smokey net genoeg asem om vir almal dankie te sê.

 “Toe loop nou, “ brom Grootoog uit die boom. Hy lyk bekommerd en skud net sy kop. Smokey gryp die die vlerke in sy bekkie en storm die huis in. Net betyds duik hy met vlerke en al in die katmandjie. Hy trek hier en skuif daar om dit onder sy kombersie in te kry.

“O, jy is al klaar in jou mandjie,” sê Ouma verbaas. Sy maak die hekkie toe en dra hom kar toe.

“Seun-Seun,” roep Seun opgewonde. “Kom ons gaan vlieg! Soet voëltjie! Kom-kom!” praat hy nes Ouma.

Sus ry met Ouma, Seun en Smokey na die lughawe. Dit is hier waar Ouma in die groot voël gaan klim om Kaap toe te vlieg. Grootoog uil het vir Smokey van lughawens vertel en verduidelik dat Ouma te oud is om self te vlieg. Sy klim in ‘n groot voël van yster se maag, en hy vlieg met haar Kaap toe. Smokey was bly om dit te hoor, want hy weet Ouma gaan te gou moeg word om self te vlieg.

“Seun,” vra Smokey, “wanneer maak hulle ons mandjies oop dat ons kan regmaak om te vlieg. Hy doen solank ‘n paar strekoefeninge.

“Wetie, wetie,” sê Seun onseker. Skielik is hy ook nie meer seker wat gaan gebeur nie.

Hulle word op ‘n waentjie gelaai saam met Ouma se bagasie. Die waentjie stop langs die vliegtuig. Smokey se oë rek groot. Hy voel soos ‘n muggie teen hierdie groot voël.

“Hy moet seker sy vlerke baie klap om genoeg wind onder hulle te kry, “ dink hy terwyl hy sy vlerke probeer aantrek in die klein dramandjie. As hulle die deurtjie oopmaak, wil hy reg wees om te spring. Hy hoop die groot voël wag darem vir hom en Seun. Netnou verdwaal hulle op pad Kaap toe.

Twee sterk hande tel hom en Seun se mandjies, op, gooi ‘n kombers oor en dra hulle tot in ‘n donker kamertjie.

“Seun, hoekom maak hulle ons nie oop nie? Wanneer kan ons vlieg?”

Seun se bek gaan oop en toe, maar daar kom geen geluid uit nie. Hy is skoon stomgeskrik.

“Miskien wil hulle nie hê ons moet vlieg nie!!” Smokey miaau al hoe harder.

“Dalk wil Ouma ons nie meer hê nie. Dalk het sy ons aan die sirkus verkoop! Sy’t altyd gesê sy gaan ons vir die sirkus gee as ons laf is!”

Nou huil Smokey dat die trane so spat. Hy gaan nooit weer vir Ouma sien nie!

“Wat is fout met die kat?” vra ‘n stem uit die hoek van die kamertjie?

Smokey hou vir ‘n oomblik op met huil toe hy die stem hoor. Hy maak sy oë effens oop om te loer wie praat. Regoor hom staan nog twee dramandjies. In een is ‘n wit poedel in en die ander ‘n klein worshondjie.

“Hoekom huil jy so katjie?” vra die poedel neus in die lug. “Jy maak my kop seer.”

“Ouma het ons aan die sirkus verkoop. Nou vlieg sy Kaap toe en ek gaan haar nooit weer sien nie!” Smokey snik weer soos hy huil, sy voorpote is sopnat.

“Ek het vlerke en alles en ek het hard geoefen. Ons sou saam vlieg, ek en Seun…nou gaan ons sirkus toe.”

Die twee honde kyk vir mekaar en bars uit van die lag. Hulle hou skoon hulle magies vas soos hulle lag. Smokey is sommer vies. Hier breek sy hart en die twee lag asof dit ‘n groot grap is! Hy hoop nie hulle gaan ook sirkus toe nie. Hy weet nie of hy baie van hulle hou nie.

“Sies, stout! A nee a!” kry Seun sy stem terug toe hy sien hoe bang en verwese arme Smokey is. Uiteindelik hou die twee op met lag.

“Katjie,” sê die poedel, “jy is nie aan die sirkus verkoop nie, jong. Jy is in ‘n spesiale kajuit binne in die vliegtuig wat net vir troeteldiere is. Wanneer ons in die Kaap kom, haal hulle ons uit en gee ons vir ons mens-ma’s. Jy hoef nie self te vlieg nie. Bedaar tog nou, ons het al baie Kaap toe gevlieg.”

Smokey kan sy ore nie glo nie! Hy gaan vir Ouma sien en hy hoef nie eens self te vlieg nie! Hy is so verlig dat hy sommer op die naat van sy rug gaan lê.

“Hoor jy Seun…hoor jy….?” Voor hy sy sin kan klaarmaak, val sy ogies toe.

“Nou-nou sien ons weer vir Ouma…”dink hy terwyl hy met ‘n breë glimlag as aan die slaap raak.

Die kettiekoningin en die groen slymmonster


‘n Reuse, groen, slymerige monster, met bruin vlekke op sy haai-agtige tande, spring agter ‘n muur uit! Hy gee ‘n brul, wat enige leeu sal laat piep soos ‘ n muis. Slymdruppels vlieg deur die lug en sproei die meisie met die gitswart hare vol in die gesig.

Rika ruk so van die skrik, dat van haar springmielies uit die bakkie, in haar hand, uitspring. Dit maak dowwe plofgeluide op die pizzaboks wat voor haar op die vloer lê. Dit laat haar weer skrik.

Ricardo lag. “Ag siestog! Sussie, is die fliek te kwaai vir jou?”

“Nee!”

Sy skop in sy rigting. Hy koes. Dis nagdonker in die TV kamer. Selfs in die donker kan mens die gemors sien. Buitelyne van leë pizza bokse, gefrommelde sjokolade papiertjies en geknakte koeldrankblikkies vorm spookagtig in die TV se flitse.

 “Jy gaan my môre help opruim, Boeta! Ma gaan ons hok vir altyd!”

Ricardo kry so ‘n stoute glimlag op sy gesig. “Ek het die pizza gekoop,” sê hy vermakerig, “jý ruim op.”

Sy skop hom op sy skouer. Hy trek sy gesig asof dit baie seer was, maar sy spiere is so groot en hard, sy het dalk seerder gekry as hy.

Rika loer onderlangs vir haar boetie. Ricardo is al op universiteit en sy is nou maar eers in die laerskool. Sy is ‘n laatlammetjie, sê haar ma altyd.

Sy is mal daaroor as hy haar met sy rooi Golfie by die skool kom haal. Sy gee nie eers om dat die ou Lady Bird, soos haar ouboet dit noem, sulke dik rookwolke uitspoeg as hulle wegtrek nie. Al haar maats is tog al te jaloers op haar, dat sy so ‘n groot, sterk en oulike boetie het.

Dit is die heel eerste keer wat Ma en Pa haar heeltemal alleen by haar boetie los vir ‘n hele naweek. Pa moes weggaan vir werk. Ma is saam. Hulle kom eers Sondag terug.  Dan moet hierdie plek silwerskoon en skitterblink  wees, maar dis môre se probleem. Vanaand eet hulle al die gemorskos wat hulle kan inkry en hulle kyk die grillerigste 10+ flieks wat hulle in die hande kon kry.

Rika sal nou nie wil erken dat sy bang is nie, maar sy is baie, baie bly dat haar groot, sterk, skopboks-kampioen-boetie daar is om haar te beskerm. 

Hulle slaap net daar in die TV-kamer. Op Ma se strooikussings, met komberse wat hulle in die spaarkamer gaan haal het. Ma sal histeries raak, as sy sien wat vanaand hier aangaan.

Rika ruk wakker. Nagmerrie. Sy het gedroom van daardie groen monster. Sy moes nie so baie blikkies koeldrank gedrink het nie. Sy gaan nie nou toilet toe nie. Dis te donker en sy’s nou nie bang nie, net versigtig. Sy draai om en om, maar die slaap wil net nie kom nie.

Gedwee staan sy op.

Sy sluip met haar selfoonliggie badkamer toe. Ricardo slaap soos ‘n klip maar sy wil nie hê enige monsters moet haar hoor nie. Sy kry eintlik lag vir haarself as sy terug loop TV kamer toe. Monsters? Verbeel jou!

Sy hoor voetstappe en staan stil. As Ricardo haar vanaand skrikmaak, slaan sy wraggies sy wind uit. Ricardo snork rustig op die bank. Daar hoor sy dit weer. Sy trippel in Ricardo se rigting. Hy kan maar weet sy’s bang sy gaan hom nóú wakker maak.

TRRRRRRRRRRRRR!

Skielik bulder ‘n oorverdowende, skril, trillende piepgeluid onder haar voet uit en skeur deur die stilte. Sy spring tot amper bo-op Ricardo en hy spring meteens op. Hulle stamp koppe.

 “Wat… wat… wat… was dit?” Ricardo klink nog deur die slaap. Hy vryf sy kop.

Rika sukkel om haar asem terug te kry.

“Dit klink soos… uhm… een van Rixie se speelgoed? Ek’t daarop getrap,” fluister Rika.

“Ek’t voetstappe gehoor.”

Daar is ‘n geluid by die venster. Hulle val plat.

Rixie is hulle baba niggie wat in Australia bly. Sy hou van speelgoed wat ‘n geweldige geraas maak. Net een klein probleempie. Sy was nog nooit in hulle huis nie.

“Hoe kom die Rixie speelding hier?” Ricardo klink ook nou bang.

“Ek het nie gesê dit ís haar speelding nie! Ek het gesê dit klínk soos haar speelding!” Rika se oë rek en sy beduie oor Ricardo se skouer.

Daar is ‘n groot groen bondel van ‘n ding by die venster. Hulle verstar. Hulle haal skaars asem.

“Kruip na my kamer toe.” Ricardo fluister teen Rika se oor.

Sy maak soos hy sê. Sy kruip nie regtig nie, sy seil eerder op haar maag. Sy kan voel Ricardo is reg agter haar. Hy stamp elke nou en dan met sy arm teen haar been. Hy seil ook op sy maag.

In sy kamer sit Rika haar liggie aan. Ricardo grou in sy kas. Sy weet nie wat hy doen nie, maar sy vertrou hom. Hy kom weer terug na haar toe waar sy steeds op haar maag lê.

Hy sit haar ou kettie in haar hand. Oupa Hans het jare gelede vir hulle elkeen ‘n kettie gemaak. Sy kan nie glo dat hy dit al die jare gehou het nie. Sy kettie is in sy hand. Daar is ‘n geluid by sy kamervenster. Hulle sien hoe die groen bondel slymmonster sy klou deur die oop venster steek.

“Op drie,” fluister Ricardo.

Rika knik. Hulle kry hul ketties gereed, gelaai met groot, vet albasters.

“Een… Twee… Drie!” Die blinder beweeg. Hulle skiet. Die venster kraak. Hulle skiet die een albaster na die ander. Hulle tref die muur, die blinder, die gordyn, die venster.

Die monster skree.

Sy stem klink baie bekend?

Sy stem klink soos Frikkie s’n!

Frikkie is hul boelie van ‘n buurseun, wat altyd met Rika moeilikheid soek, by die skool. Hy wou hulle kom bangmaak! Hulle hoor hoe Frikkie weghardloop. Rika hardloop venster toe. Sy skiet weer. Frikkie gryp sy boud vas en skree.

“EINAAAAAAAAAAAA!”

“Gee my vyf, sussie! Jy is en bly maar die kettiekoningin!”

“Dankie, Ric! Ai, die venster! Môre moet ons opruim én ‘n nuwe venster laat insit,” sê Rika moedeloos.

“Geen probleem nie. Ma sal van niks weet nie en Frikkie gaan jou nooit weer pla nie. Maar ek wonder nog oor daardie speelding wat daardie aaklige geluid gemaak het!”

“Aah! Ek weet!” Rika se gesiggie helder op. “Frikkie se kleinsussie het ook so een!”

Ricardo tel vir Rika op in sy sterk arms en swaai haar soos ‘n lappop deur die lug. Sy skater van plesier. Plesier en verligting.

Kuier by Cliffordene Norton

Cliffordene Norton het haar BA Honneurs-graad in joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom voltooi. Sy was al ’n uitgewer en joernalis en werk tans by die Noordwes-Universiteit as kopieskrywer in die bemarkingsafdeling.

Ek doen tans my honneurs in Skryfkuns by die NWU en het die eer gehad om ’n onderhoud met Cliffordene te kon voer. Ek het haar ontmoet by Die Jonge Akker op kampus. Tussen die gewemel van studente wat gereedmaak vir Canvas, het ons vir ’n stil hoekie by die Klipoog Kafeteria gesoek. Die Jonge Akker was ongelukkig al gesluit. Oorspronklik was ek gespanne vir die onderhoud, maar Cliffordene se opgewekte geaardheid het my gou op my gemak gestel.

Minette van Vuuren en Cliffordene Norton
Minette van Vuuren en Cliffordene Norton.

Cliffordene vertel dat, terwyl sy nog besig was om te studeer, haar plan was om profielartikels te skryf vir tydskrifte. Sy het vir ses maande by Volksblad gewerk in die redaksieafdeling, maar het vinnig besef dat sy dit nie graag haar hele lewe lank sal wil doen nie. Dit het wel gehelp dat sy insig verkry het oor die redaksieproses en heelwat mense leer ken het.

Cliffordene was nog altyd lief vir skryf, maar sy is grootgemaak om aan die praktiese te dink. Joernalistiek was die opsie wat die mees praktiese voorgekom het vir iemand wat lief is vir skryf, maar graag ’n salaris wil verdien. Tog is daar baie agter-die-skerms drama wat in ag geneem moet word: “Soos byvoorbeeld die Cosas-saak waar daai mense gedreig is met hulle se lewens en hoe daar ingebreek is by hulle se huise en dan klink dit so exciting as jy daaroor dink en mens tend to glamorize sulke goeters en jy veg vir reg en geregtigheid. Dan besef mens, ’n paar van daai mense het dit swaar. Hulle het post-traumatiese stress, weet nooit wie hulle kan vertrou nie…” Sy het vinnig besluit dat joernalistiek nie vir haar is nie.

Haar groot passie is om te skryf. Dit het tyd en moed gevat om te besluit dat sy die uitdaging gaan aanvaar om ’n skrywer te word. Die fiksie wat sy skryf, is vir haar baie anders as die joernalistiekwerk wat sy gedoen het. Sy kombineer nie haar aanvoeling vir joernalistiek met haar skryfwerk nie. Sy het ook nie gevoel sy wil speurverhale skryf (soos baie voormalige joernaliste doen) nie. Haar werk is baie metodies, maar met haar kreatiewe skryfwerk volg sy ’n totale ander skryfmetode. Die kreatiewe skryfwerk is vir haar ’n ontvlugting.

Cliffordene is baie lief vir liefdesverhale, fantasie, geskiedenis en nie-fiksie boeke. Sy het nooit eintlik gedink dat sy jeugverhale sal skryf nie. Haar uitgewer het haar uit die bloute gevra om ’n kortverhaal vir ’n jeugbundel te skryf. So het sy haar liefde vir die genre ontdek. Gelukkig het die gogga gebyt, want dit het daartoe gelei dat sy Om Jou Te Ken geskryf het!

Cliffordene vertel hoe haar skrywerspad begin het as Skryfkunsstudent aan die NWU.

In Om Jou Te Ken, beeld Cliffordene die verskillende verhoudings wat die tieners met mekaar en met volwassenes het, puik uit. Die verhouding tussen die twee niggies wat die hoofrolle speel is natuurlik op die voorgrond. Cliffordene geniet dit baie om mense waar te neem. Georgia en Gabby is geïnspireer deur Cliffordene se verhouding met haar eie niggie. Groot dele van die boek is deur haar eie ervaringe geïnspireer. Haar skryfwerk is dus baie konkreet, dit voel asof jy van regte mense lees en jy word lief vir elkeen. Dit was vir haar opvallend hoe twee mense in presies dieselfde omstandighede kan grootword en steeds verskil.

Cliffordene vertel waar die inspirasie vir Om te te ken vandaan gekom het.

Cliffordene is nie een vir stilsit nie en is al klaar besig met haar volgende projek, ’n opvolg op een van haar ander stories wat in die proses van publikasie is! Haar vyf-jaar plan het dalk nie uitgewerk nie, maar haar reis het haar gelei tot waar sy nou is – ’n uitstekende skrywer. Ek kan nie wag om nog vele meer van haar stories te lees nie.

As jy Om Jou Te Ken op die rakke sien, doen jouself ’n guns en gooi dit in jou inkopiesak!

Om jou te ken

Gabby en haar niggie Georgia lyk baie na mekaar en toe hulle jonger was, was hulle onafskeidbaar. Maar iewers het hulle vreemdelinge vir mekaar geword. Al wat hulle nou gemeen het, is die bloed in hulle are. Gelukkig het Gabby goeie vriende en dalk selfs iets meer as net vriendskap met Brandon…

Toe die matriekgroep van Barkly-Wes op ’n toer na Kaapstad vertrek, ontdek Gabby dat sy per ongeluk Georgia se dagboek ingepak het. Kort voor lank kry haar nuuskierigheid die oorhand en begin sy haar niggie se dagboek lees. Wanneer Georgia daarvan uitvind, breek ’n volskaalse niggie-oorlog uit.

Nie eens Kaapstad se besienswaardighede of hulle vriende se raadgee-pogings kan die spanning verlig nie. Gaan Gabby se verraad die niggies nog verder uitmekaar dryf of gaan dit daartoe lei dat hulle mekaar beter begin verstaan? En wat van Brandon? Gaan hy aanhou om haar te vermy nadat Georgia stories oor haar versprei het, of sal hulle steeds saam matriekafskeid toe gaan?

Wolk

Wat gebeur as jy die apokalips misloop? Rufus (eintlik Ruth) en Xandr het pas graad 10 klaargemaak en hulle ken mekaar van kleintyd af. Voordat Rufus en haar gesin die land verlaat besluit hulle om vir oulaas ’n baie belangrike eerste saam te beleef. Sal hulle die plan kan deurvoer?