Nina se vellie-avontuur

Met hangskouers en effe te groot vellies stap Nina sleep-sleep deur die veld. Sy verlang na die stadsliggies, na die dae toe haar ouers nie so besig was nie en na haar pophuis. Die pophuis met die baie vensters en pienk mure, dié pophuis wat veroorsaak het dat sy en oupa Jan nou so vassit. As oupa Jan net vir haar ‘n pophuis wil koop, sal sy ‘n baie lekkerder tyd hier op die plaas hê. Maar nee! Soos Oupa sê, “Hier op die plaas werk ons vir wat ons wil hê. Geld groei nie op bome nie, Nina!”

Terwyl Nina nog so hartseer loop en dagdroom, hoor sy ‘n vreemde geskree van iewers in die veld. Nina skrik haar yskoud! Sy wil omdraai en terughardloop huis toe, maar oupa Jan sê as mens vellies wil aantrek, moet mens ook braaf kan wees. Stadig en op haar tone sluip Nina nader aan die geluid. In die veld lê n groot kunsmissak.

Maar…daar roer iets in die sak!

Met oë toegeknyp maak Nina die sak versigtig oop en spring dan terug, bang vir wat uit die sak gaan klim. Maar voor haar is geen monster nie, maar ‘n groot, groenoog, babavlakvarkie.

Die skaamtelose, nuuskierige agie spring sommer op Nina se skoot en nét daar besef sy dat haar dae van alleen wees op die plaas verby is. 

Sy het nou vir Fanie die vlakvark!

Fanie was goed vir Nina. Hulle het elke oggend in die veld ontmoet en gesels tot die son sak. Hy het haar vertel hoe hy in die kunsmissak beland het en sy het hom vertel van haar vakansie op die plaas.

Eendag, terwyl Nina arms agter haar kop en Fanie pooitjies in die lug onder die maroelaboom lê, stop Fanie vir Nina in die middel van haar sin. “Nina, vergeet nou eers van jou pophuis… hier is ‘n groot probleem op die plaas!”

Met groot oë luister Nina na elke woord wat Fanie sê, geskok oor wat sy hoor spring sy sommer op.

“Fanie, dit is verskriklik! Ek het nie geweet dat daar nog diere soos jy is nie, ons moet hulle red van al die rommel. Kom ons gaan help hulle nou dadelik!”

Vellies, sonskerm op hulle neuse en kruiwa aan die stoot, loop Nina en Fanie veld toe. Twee maatjies op ‘n missie om die plaas en so ook die wêreld ‘n beter, skoner en veiliger plek te maak. Soos hulle stap, sing hulle… 

Trippe trappe trone 
Kom saam, ons red die verlore 
Roer, want hier is plek vir jou in ons drome 
Wikkel, wapper of waai, moet nie waag om te wag 
Ons gee almal n tweede kans om lag

Vinnig leer Nina dat die grootmenswoord ‘Besoedeling’ rêrig so gevaarlik is soos wat die tannie op die nuus gewaarsku het. 

Eerste was dit Kallie die kalf wat vasgevang was in ‘n kraaines van gekoekte toue. Daarna Hessie die haas wat nou op een been hop oor ‘n stukkie glas in haar linkerpoot. Snoekie die skaap se ‘Mêêê’ is skoon hees van ‘n stukkie lekkergoedpapier wat in haar keel vasgesit het. 

Vossie die vark se stertjie wil nie meer krul nadat dit vasgevang was in een van die weggooikartonne nie en Minkie die muis en haar drie babas sit nou sonder ‘n huis nadat haar stukkie veld in ‘n rommelhoop verander het.

Ontsteld gooi Nina al die rommel in haar kruiwa, hartseer oor hoe dit al die diere seegemaak het. 

Met ‘n huppel in hulle stap en groot glimlagte op hulle gesigte stap Nina en al haar nuwe maatjies terug huis toe. Die kruiwa loop behoorlik oor van rommel en die plaas is nou weer veilig. Almal sing… 

Trippe trappe trone 
Ons is gered maar was eers verlore 
Nou kan ons weer leef soos van tevore 
Wikkel, wapper en waai! Ons het lank gewag 
En nou kan ons almal uit ons magies uit lag.

Oupa Jan en ouma Marie was spierwit geskrik toe hulle hoor van al die rommelgoed op die plaas en besluit toe net daar dat hulle van nou af meer sal oplet oor waarheen al hulle rommer gaan en sal begin herwin.

Daardie aand het Nina met ‘n groot glimlag in die bed geklim. 

Sy het nie meer na die stad se liggies en haar pophuis verlang nie. Sy het vandag geleer dat daar groter probleme in die wêreld is, probleme wat groter is as haar eie geluk.

Die probleme stel ander in gevaar… en van nou af sal sy help om dit op te los.

Die volgende oggend staan Nina dou voor dag op, selfs voor die haan se kraai! Sy is reg vir n nuwe dag vol avonture saam Fanie en haar nuwe maatjies. Soos sy buitetoe stap, hoor sy ‘n gegiggel en ‘n gefluister. Reg voor die voordeur staan oupa Jan met ‘n glinster in sy oë. “My liewe Nina, nie net het jy gewerk vir wat jy wil hê nie, jy het sommer ander in die proses gehelp; vir my en Ouma en sommer die hele plaas ook. Ek is baie trots op jou! Jy verdien die nuwe pophuis.”

Nina kan nie haar oë glo nie! Voor haar is die mooiste pophuis wat sy al ooit gesien het. Groot en so kleurvol soos ‘n reënboog pronk ‘n pophuis so mooi soos ‘n kasteel …en alles is uit rommel gebou!”

Nina hardloop die pophuis giggelend binne, opgewonde om elke hoekie te verken. Toe sy om die draai kom, sit al haar nuwe maatjies daar. Kallie, Hessie, Snoekie, Vossie en Minkie sit in ‘n kring en geniet ouma Marie se lekker melktert. Dis toe dat Fanie langs haar kom staan en vra, “So Nina, hoe gaan ons vandag die wêreld ‘n beter plek maak…?”

Nina se vellie-avontuur – Merize Beukes
Derde prys (hoërskool) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021

Rooi oë in die nag

Daar is ʼn ondier wat rondloop. Dit soek vir iemand of iets. Dit het lang, skerp kloue en gloeiende, rooi oë. Hy roggel diep in sy keel, en is weg.

“SAM! MAAK JOU DEUR TOE!” Dis die laaste woorde wat Sam daardie aand hoor. Dis sy verpes

like sussie, Lolla, wat so skree. Sy is die irriterendste, simpelste, lelikste lewende ding wat hy ken. Sam gaan maak maar sy kamerdeur toe, want hy wil nie ʼn grompot-sussie agter hom aan hê nie.

Nou kan hy in rus en vrede Lego bou.

Nou kan hy in rus en vrede Lego bou. Sam is mal oor Lego. Sy hele kamer is van hoek tot hoek ruig gepak met dié boublokkies. Hy spandeer al sy sakgeld op Lego en hy vra elke Kersfees daarvoor.

Sam mag nog wakkerbly, want hy is ouer as Lolla en sy word kwaai as sy nie slaap nie. Hy bou nog ʼn bietjie, dan gaan trek hy sy pyjamas aan en klim in die bed.

Girts, girts! Skuifel, skuifel, DOEF!

Sam skrik wakker. Wat het hom nou wakker gemaak?

Dit was seker net die boom, mompel Sam vir homself, en slaap verder.

As hy net kon weet watter gedaante nóú in sy kamer rondsluip …

Dit gee ʼn gruwelike grynslag

Die horribale gedrog kruip rond, op soek na iets. Dit gee ʼn gruwelike grynslag toe dit vind wat dit soek …

Die volgende oggend word Sam wakker met vrolike sonstrale wat goudgeel strepies op sy kamermuur gooi. Hy strek ʼn bietjie, voor hy gaan sit om te dink wat hy vir ontbyt gaan eet. 

Toe sien hy die woorde. Dis in Lego, maar nie mooi gebou nie. Dis in grys, swart en rooi. Daar is orals skerp hoeke en dit lyk baie onnatuurlik. Die woorde wat daar staan is: 

Ek sal jou kry

Sam dink daardie hele dag lank aan die woorde. Wat beteken hulle? Is hy in gevaar? Wie gaan hom kry? Al hierdie vrae maal deur sy kop, maar hy kan hulle nie antwoord nie. Hy weet net dat iets of iemand in sy kamer was, en hom soek.

Sam kan die aand glad nie slaap nie. Elke keer as sy ooglede begin toeval, onthou hy weer van die woorde en is hy wawyd wakker. Uiteindelik raak … hy … aan …die … DOEF! NIE aan die slaap nie.

Wat was dit? Sam lê so stil as moontlik, sy oë op skrefies. Toe hy die gloeiende, bloedbelope rooi oë sien wat nader sweef, word hy so bang dat hy homself flou skrik en aan die slaap raak.

Die gloeiende, bloedbelope rooi oë

Die ondier grynslag weer sy gemene grynslag en sit ʼn onaangename verrassing op Sam se kussing …

“AAAAARRRGGH!” En toe: “BLEUURGH!” Dit was Sam. Hy skree so, want iets vreesliks het om een of ander rede op sy kussing beland. Dis ʼn houertjie vol van stink goeters wat ek nie nou hier gaan skryf nie. Sam spring uit die bed uit, knyp die houer met twee vingers vas en hardloop buitentoe, waar hy dit in hulle buurman se swembad gooi.

Plons!

Toe Sam by sy kamer kom is daar ʼn baie, BAIE kwaai Lolla wat vir hom wag. Sy begin skree en tekere gaan oor hom wat haar wakkergemaak het, en Sam moes belowe om vir haar sjokolade te koop voordat sy weggegaan het.

“Die klein monster!” sê Sam vir homself. Net toe kry hy ʼn blink gedagte …

Sam maak al die veiligheidstoerusting waarop hy sy hande kan lê bymekaar: van stokke en grawe, tot messe, vurke en panne. Hy is reg vir die gedaante! Nou moet hy net wag …

Eers diep in die aand, naby die middernagure, kom die monster uit sy skuiling. Dit weet dat Sam daarvoor wag, so dit lyk weer net soos twee gloeiende rooi oë …

Sam sit in sy bed en wag. Dit is al twaalfuur, maar hy is wawyd wakker. Skielik hoor hy die bekende DOEF, en ʼn snork. Hy sien die rooi oë wat nader kom en KLANNGG, foeter hy die gedrog met die pan. Dadelik word die monster sigbaar en kan Sam dit sien. Dis so aaklig dat mens dit nie kan beskryf nie. Dit het vlymskerp tande en ʼn vieslike stink asem. ʼn Lang, rooi tong steek by sy bek uit en sy rooi oë is steeds daar.

ʼn Lang, rooi tong steek by sy bekuit

Sam moker die ongedierte weer en weer oor die kop met sy pan en haal sy tuinvurk ook uit, wat hy gebruik as spies.

Uiteindelik spring die ding weg, gee ʼn lang wolwehuil en word weer onsigbaar. Sam hoor die doef, en raak weer aan die slaap.

“Ek het nou die monster weggejaag, maar wat as dit terugkom?” dink Sam die volgende oggend. Hy is uitgeput na die aand se monster-foetery en kan nie behoorlik dink nie. Sam maak ʼn lys om alles agter mekaar te kry.

Die dier kom uit in die nag. Dis redelik groot, so dit kan nie deur die venster klim nie. Die voordeur is te ver weg en dit sal die traphekkie vir Lolla, moet oopmaak. So dit kan net … van … bo … kom!

Sam besluit om sommer in die dag te gaan ondersoek instel. Hy kry sy flits, pan, tuinvurk en ʼn paar Lego geweertjies (vir ingeval). Hy vat ʼn leer boontoe en sit dit onder hulle dak se valdeur. Versigtig maak hy dit oop en … niks kom uit nie. Nie ʼn enkele lewende ding nie, nie eers ʼn insek nie. “Dis vreemd,” sê hy vir die muur. Sam skakel sy flits aan en klim in die dak in. Nog steeds niks! Net ʼn klomp ou bokse vol stof, en ʼn hoop hare. Hy het g’n idee wat aangaan nie! Sam is so kwaad dat hy sommer ʼn paar bokse omskop, maar wat val uit? Hare! “Wat is dit met al hierdie dekselse hare! Mens sal dink die dak is ʼn haarkapper!” skree hy. Hy dink wel dat hy iemand met hierdie tipe hare gesien het …

“Vanaand kry ek dit reg!” dink Sam. Hy maak al klaar plannetjies om lokvalle te bou wat hy orals gaan sit. Hy is vasberade om die monster te vang, want hy het genoeg gehad van die gedrog se rondsluipery. Sam werk die hele dag lank aan sy lokvalle. Werk ʼn bietjie, eet, werk weer, eet, rus, werk.

Teen die aand is alles reg en het hy ʼn hele klomp lokvalle gebou. Daar is muisvalletjies oral oor die vloer en ʼn net onder die dak se valdeur. As dit nie genoeg is nie, is daar ʼn emmer water op sy deur gebalanseer, en Sam het ʼn gelaaide watergeweer.

Lolla is in die bed en Sam se ouers is uit vir aandete. Al wat hy nou kan doen, is wag.

“DOEF!” hoor Sam. Toe: YAAOOUUWW! “Dis die net!” dink Sam opgewonde. Hy kom uit sy wegkruipplek en, net om seker te maak, spuit hy die monster nat. hy tree versigtig nader … en sien sy sussie, deurdrenk met water, wat in die net lê! Sy lyk woedend, dis asof stoom by haar ore uitkom!

Dis nie nodig om te vertel wat sy gedoen het nie, maar Sam het bly gesê: “Ek het GEWEET jy’s ʼn monster!”

Rooi oë in die nag – Simon van Dyk
Derde prys (Laerskool) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021

Petronella, die vlakwaterpadda

Rosie is verveeld. Sy dwaal rond in die tuin om hulle huis. Miskien moet sy by Ouma gaan tee drink. Ouma woon net twintig treë weg in haar eie kothuis, maar Rosie is nou te lui om na Ouma toe te loop. 

Rosie dwaal nog so in die tuin, toe sy ’n vreemde geluid hoor. Dit klink soos iemand wat huil! Wie kan dan so hartseer wees? Rosie loop agter die geluid aan. Dit kom van die draad se kant af naby die tuinhekkie. Rosie loop versigtig langs die draad, want Pappa het ’n paar dae terug die omheining elektries gemaak om skelms uit te hou.

Rosie dwaal in die tuin rond

By die tuinhekkie gaan Rosie verward staan. Die gehuil is nou op sy hardste, maar wie kan dit wees wat so ween? Niemand behalwe Rosie is in die tuin nie. Die enigste ander lewendige ding hier buite wat Rosie kan sien, is ’n piepklein padda. 

Die padda sit aan die anderkant van die tuinhekkie. Rosie buk af om die padda van nader te bekyk. Sowaar! Dis die padda wat so vreeslik huil! Rosie is baie verbaas oor die huilende padda.

“Vir wat sal die padda dan so huil?” vra Rosie hardop vir haarself.

“Ek huil omdat ek nie deur die heining kan kom nie!” ween die padda kliphard.

Rosie val agteroor soos sy skrik. “Paddas kan mos nie praat nie!” sê sy vir haarself.

“Paddas kán praat, maar nie almal kan ons hoor nie,” snik die paddatjie.

Rosie sit regop en kyk na die liggroen padda.

Rosie ontdek padda

“Wat is jou naam, Padda en hoekom huil jy so?” vra Rosie.

“My naam is Petronella, die vlakwater padda,” antwoord die groen diertjie.

Twee groot trane rol by haar wange af.

“Vir wat is jy so hartseer?” vra Rosie weer.

“Want ek kan nie by my ouma gaan kuier nie!” Petronella, die vlakwater padda, begin van vooraf jammerlik huil.

“Hoekom kan jy nie by jou ouma gaan kuier nie?” vra Rosie stomgeslaan.

Petronella huil

Petronella huil so erg dat sy nie kan praat nie. Rosie staan op en maak die tuinhekkie oop. Sy tel die huilende paddatjie op om haar te troos. Eers gril Rosie vir die padda se glibberige lyf en laat val amper vir Petronella. Die padda skrik en hou op huil. 

“Toemaar, Petronella, ek sal jou nie seermaak nie,” troos Rosie toe sy sien hoe bang die padda lyk.

“My naam is Rosie en ek wil hê jy moet my vertel hoekom jy nie vir jou ouma kan gaan kuier nie.”

Die padda kyk na Rosie en haal diep asem voor sy verduidelik.

Rosie luister na padda

Petronella, die vlakwater padda, woon saam met haar gesin in die plaasdam anderkant Rosie-hulle se tuinhek. Ouma Adda-padda bly in die visdammetjie langs Rosie-hulle sê huis. Elke dag kom kuier Petronella en haar boetie vir Ouma Adda-padda om vir haar kos te bring. Die afgelope week kon Petronella en haar boetie nie by hulle ouma gaan kuier of vir haar kos vat nie. Die omheining wat Rosie se pappa elektries gemaak het, hou nie net die skelms uit nie, dit keer ook dat Petronella en haar gesin nie by Ouma Adda kan uitkom nie. Hulle sal skok as hulle onderdeur die draad probeer klim. 

Petronella se boetie het nie geweet van die elektriese draad nie en toe hy deur die draad probeer klim, skok hy so erg dat hy nou op krukke is.

“Dis verskriklik!” roep Rosie ontsteld uit.

“Dit is verskriklik!” snik Petronella en begin weer huil. Rosie se hand is sopnat van die hartseer padda se trane.

“Wat gaan ons doen?” vra Rosie. Sy wil baie graag vir Petronella help. “Ons kan nie aan die draad verander nie. Dit moet skelms buite hou.”

Petronella huil

Die huilende padda trek haar skouertjies op. “Ons het al ons koppe seer gedink, maar ons weet ook nie wat om te maak nie,” sê Petronella.

Rosie praat met padda

Rosie weet sy moet die padda-familie help, maar sy kan nie dink as die padda haar hand so nat huil nie. Sy sit vir Petronella versigtig op ’n klip neer. Toe gaan sit Rosie plat op die grond oorkant die padda en begin dink.

“Ek het dit!” skree Rosie en spring regop.

 “Pappa het eenkeer gepraat van…” 

Rosie haak vas, want dis ’n groot woord, 

“I-s-o-l-a-t-o-r. Ja, dis reg, isolators.”

Petronella wip soos sy skrik vir die groot woord. “Watse tipe tor is dit?” vra Petronella. “Ek dink nie ek het al van hulle hier rond gesien nie.”

Rosie lag. “Nee man, dis nie ’n gewone tor met pote en vlerke nie. ’n Isolator is ’n ding.”

“Watse ding?” wil die padda nuuskierig weet.

Rosie gaan sit weer langs die padda, haal diep asem en begin verduidelik.

“Kyk, Petronella, ek het nie nou tyd om alles vir jou te vertel nie. As jy nie verstaan hoe elektrisiteit werk nie, kan jy op ’n ander dag my pappa vra. Reg so?”

Petronella knik.

Rosie praat verder. “Nou kyk, ’n isolator is ’n ding wat elektrisiteit stop. Ek het nie nou al die ander groot woorde wat Pappa gebruik het nie, maar ek weet net as jy met ’n isolator aan die nuwe draad vat, gaan jy nie skok nie.”

Petronella glimlag. “Nou waar kry ons so ’n tor, Rosie?”

“Daar is net ’n paar dinge wat ’n isolator kan wees,” sê Rosie “byvoorbeeld; plastiek, glas, hout of rubber. As jy met een van daai goed aan die draad raak, sal jy nie skok nie.”

Petronella, die vlakwater padda, hou haar kop skeef soos sy luister. 

“So as ek van plastiek gemaak was, kon ek onderdeur die elektriese draad kruip sonder om te skok?”

Rosie knik.

“Maar ons paddas is nie van plastiek gemaak nie, so wat nou?” frons Petronella.

Rosie steek haar wysvinger opgewonde in die lug. “Nou dis waar my plan inkom! Ons moet vir julle isolator-jassies maak. Jy weet? Amper soos reënjassies wat keer dat jy nat word in die reën.”

Rosie dink

Die groen paddatjie spring op en af van opgewondenheid. “Dan trek ons isolator-jassies aan wat ons beskerm teen die elektrisiteit van die draad!”

“Net so!” stem Rosie saam.

“Ek dink nie plastiek, glas of hout gaan lekker werk vir isolator-jassies nie,” sê Petronella.

“Nee, dit is te hard,” stem Rosie saam “maar wat van rubber jassies?”

Rosie het 'n plan

“Dit kan werk, ja!” roep die padda uit “maar waar gaan ons die rubber jassies kry?”

Rosie dink skielik aan haar ouma. “My ouma is baie goed met naaldwerk. Ek is seker sy sal ons kan help. Kom ons gaan vra haar sommer nou dadelik!”

Rosie tel vir Petronella op en draf na Ouma se kothuis toe. Ouma is baie bly om vir Rosie te sien en verbaas oor die nuwe vriend wat haar kleindogter gemaak het. Rosie en Petronella vertel vir Ouma van die probleem met die nuwe draad en die rubber jassies. Ouma stem dadelik in om hulle te help. Sy sal die rubber jassies vir die padda-gesin maak. 

“Maar dit kan nie sommer enige rubber wees nie,” sê Ouma “vir ekstra veiligheid gaan ek 100% rubber gebruik.”

“Wat van die geel handskoene in Ouma se kombuis?” vra Rosie. “Ons kan mos net die vingers afsny en daarvan jassies maak vir die paddas.

Rosie by Ouma

Ouma skud haar kop. “Nee, die rubber van die handskoene is nie sterk genoeg nie. Ek gaan van die rubber in Pappa se stoorkamer gebruik.”

Ouma vra vir Rosie om vir hulle iets te maak om te drink. Terwyl Rosie vir almal ’n lekker koppie tee maak, gaan haal Ouma die sterk rubber in Pappa se stoorkamer. Ouma meet Petronella se lyfie en sny patrone uit die rubber.

Ouma maak jassies

Toe hulle klaar tee gedrink het, gaan sit Ouma agter haar naaimasjien. Binne ’n japtrap is die rubber jassies klaar.

Ouma stap saam met Rosie en Petronella na die elektriese draad sodat hulle kan sien of die jassies werk. Petronella trek haar jassie aan en gaan staan onseker langs die draad. 

“Toemaar,” troos Ouma “die jassie sal sy werk doen. Sorg net dat jy nie met jou vingers en tone aan die draad raak as jy deurkruip nie.”

Versigtig kruip Petronella onderdeur die draad. Sy kyk mooi dat haar vingers en tone nie aan die draad raak nie. Eenkeer voel sy die draad aan haar ruggie raak en skrik, maar die rubber van die jassie het gekeer dat sy nie skok nie. Toe Petronella veilig aan die anderkant van die draad is, begin sy dans en hande klap. Nou kan hulle weer by Ouma Adda-padda kom kuier sonder om bang te wees vir die draad! Petronella bedank vir Rosie en haar Ouma. 

So vinnig soos wat haar lyfie kan, hop die padda met die ander rubber jassies terug na haar huis toe by die dam om vir haar gesin die goeie nuus te gaan vertel.

Rosie gee vir haar Ouma ’n stywe druk.

“En nou?” lag Ouma.

“Ek is so bly daar is niks wat my keer om vir my ouma te gaan kuier nie,” sê Rosie. 

“Van nou af sal ek nooit weer te lui wees om die twintig treë na Ouma se kothuis toe te loop nie.”

Totsiens

Petronella, die vlakwaterpadda – Helena Mellet
Derde prys (volwassenes) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021

Kuier by Dana Snyman

Die Snyman agter die stories

“Dankie, ouma,” sê ek en vat die hoop kosbare papiere by haar.

Dit is nog verhale uit die pen van Dana Snyman. My ouma gee elke jaar so ’n pak papiere vir my, sodat ek hierdie stories lewe kan gee by kunswedstryde.

“Ek is mal oor oom se skryfwerk – ek gebruik dit altyd vir my dramaopvoerings,” sê ek self ’n paar jaar later aan Dana Snyman na ’n vertoning by die Aardklop Kunstefees in 2019.

“Dankie dat jy doen wat jy doen, Ané,” was Dana se antwoord.

Dana Snyman en Ané Smith – Aardklop 2019

Ek moes natuurlik myself eers ’n paar keer knyp om seker te maak dat ek nie droom nie. Wanneer ek my oë toemaak, onthou ek steeds die nederige kyk wat hy in sy oë gehad het terwyl hy daardie woorde vir my gesê het. Min het hy geweet dat dit ’n oomblik is wat ek vir die res van my lewe sal koester.

Nooit sou ek kon raai dat ek twee jaar later self ’n skrywersonderhoud met hom gaan voer nie. Die agtste September 2021 het aangebreek. Ek het Dana se nommer geskakel. My hart het wild geklop soos wat ek vir ’n antwoord gewag het. Met ’n warm “hallo” is ek dadelik gerus gestel en ons het gesels asof ons al jarelange vriende is.

Dana Snyman is ’n Suid-Afrikaanse joernalis en skrywer. Hy is in 1963 in Stellenbosch gebore en het aan die Hoërskool Nylstroom matrikuleer. Later het hy joernalistiek by die Technikon in Pretoria studeer.

Ek het hom daaroor uitgevra en hy het gesê dat hy eintlik eers laat, op 26-jarige ouderdom, sy liefde vir skryf ontdek het. Hy het eers ’n paar ander beroepe beoefen voordat hy voltyds begin skryf het, naamlik veiligheidswag, boekwinkelklerk en ook op die skakelbord by die flieks.

“Ek het nie geweet wat ek wil doen nie,” beaam Snyman, maar vertel verder dat hy nog altyd daarvan gehou het om koerant te lees.

Dit is toe dat hy besluit het om joernalistiek te studeer, “en ek was ook bietjie desperaat,” het hy laggend bygevoeg.

Snyman het daarna by Beeld gewerk. Terwyl hy besig was om een aand laat ’n rubriek te skryf, het hy besef dat skryf dalk vir hom ’n ding kan wees. Hierdie besluit het daartoe gelei dat hy diep in ’n klomp lesers se harte ingekruip het.

Snyman se gepubliseerde boeke is: Uit die binneland (2005), Anderkant die scrap (2006), Op die agterpaaie (2008), Op die toneel: stories, reise en stemme (2009), Hiervandaan: op reis in die geliefde land (2011), Onder die radar: stories uit ons land (2013), In die blou kamp: Facebook-stories (2015), Op pad: ’n reisjoernaal (2017), Soekmekaar (2019) en Onder een dak (2020). Op die agterpaaie en Hiervandaan is ook in Engels vertaal.

Snyman het egter ook verskeie produksies geskryf, waar Die uwe, Pottie Potgieter, onder andere een van hulle is. Hierdie toneelstuk is deur Frank Opperman by die Aardklop Kunstefees in 2006 opgevoer en is as naaswenner van die AngloGold Ashanti-Aardklop-Smelt-kroesprys vir nuutgeskrewe tekste aangewys.

My passie vir drama en my liefde vir Snyman se skryfwerk loop hand aan hand en ek wou dus by hom weet of hy daarvan bewus is dat sy kortverhale dikwels by kunswedstryde opgevoer word.

“Dit gee my plesier, want dit is wat ek graag wil doen. Ek is verskriklik dankbaar vir so iets,” sê die nederige skrywer en hy sê dat hy ook self daarvan hou om stories voor te dra.

Hy stel dit so mooi wanneer hy sê: “’n Storie is vir my ’n ding wat jy hardop moet kan voorlees. Dit is iets wat jy moet kan opvoer of dramatiseer.”

Dana Snyman het al vele toekennings vir sy werk ontvang. Hy het die Technikon-raadsmedalje vir buitengewone prestasie op kulturele- akademiese- en sportgebied, in 1990, ontvang. In 2005 en 2006 is die ATKV-prys vir gedrukte media in die kategorie vir tydskrifjoernaliste aan hom toegeken. In 2008 is hy as die Pica-wenner van Reisskrywer van die Jaar aangewys. Hy het ’n Mondi-koeranttoekenning in die artikelskryf afdeling, in 2011, ontvang. In 2012 en 2013 het hy ’n ATKV-Mediaveertjie in die rubrieke kategorie verwerf. Onder die radar is in 2014 vir die kykNET-Rapport Boekpryse in die Niefiksie kategorie genomineer.

Hierdie ikoonskrywer het sy eie, unieke skryfstyl – een wat my, en beslis ook vir ander, heeldag aan die lees kan hou. Ek het om uitgevra oor waar hy inspirasie vandaan kry om te skryf. Hy het gesê dat hy al van kleintyd af lief vir stories is.

“Ek het grootgeword met stories in die huis,” vertel hy verder. “Dit was nog die tyd voor TV, so dit was die tyd van sit by die eetkamertafel en luister na oupa se stories. Die lewe inspireer my.”

Snyman geniet dit om oor die lewe te praat. Hy kyk na dinge in die lewe en probeer om die vrae en onsekerhede daarvan in woorde om te sit. Sy gunsteling tyd om te skryf is ook vroeg in die oggend.

Snyman vertel ook dat hy sy tyd met sy skryfwerk vat. Hy probeer om ’n prentjie duidelik te maak en dit vat tyd. Hy vertel verder dat dit moeiliker is om eenvoudig te skryf as om geleerd te skryf.

“Ek sê altyd ‘as jy dit wil doen dan sal jy dit doen’. Party mense het net daardie impuls om te kan skep met woorde,” sê Snyman.

Hy is natuurlik ook ’n rolmodel vir baie en ek wou weet wie sy rolmodel was voordat hy self een geword het.

Sonder om twee keer te dink, het hy geantwoord: “Chris Barnard, vir seker.”

Hy het vertel van die tyd toe hy op Barnard se plaas gaan kuier het en hoe hulle oor alles behalwe skryf gepraat het.

“Hy het net oor die lewe gepraat en ek hou daarvan – so gewoon – Chris was ’n ongelooflike skrywer, maar in die eerste plek ’n mens,” vertel Snyman verder.

Natuurlik moes ek by Snyman hoor watter raad hy vir aspirant skrywers sal gee. Hy het gesê dat ’n mens moet verstaan dat dit baie harde werk is. ’n Mens moet probeer en probeer en weer probeer.

“Skryf, skryf, skryf, skryf – hou net aan,” het hy bygevoeg. “Moet net nooit die liefde daarvoor verloor nie.”

Maanpêrels

Nicky en Riffels speel in die tuin. Hulle jaag skoenlappers en blaas borrels – enigiets, net solank Nicky nie moet gaan bad en in ’n donker kamer moet gaan slaap nie. Nicky haat die donkerte, dit maak haar bang.

Nicky en Riffels speel in die tuin

Toe Nicky moeg is van borrels blaas, plaas sy die halfvol botteltjie seepsop in haar broeksakkie vir later – want jy weet nooit. Sy loer na die son wat vinnig sak.

“Wat gaan ons nou doen, Riffels?” vra sy.

Riffels blaf. “Is jy lus vir ’n avontuur?”

Nicky klap haar hande. “Ja, natuurlik, altyd!”

Riffels hardloop na ‘n bos in die hoek van die tuin en begin ‘n gat grou. Hy haal iets uit en hardloop daarmee in sy bek terug.

“Nou toe, trek aan,” sê hy en gee vir haar die pragtigste stel vlerkies. Dit glinster met al die kleure van die reënboog. “Klim op my rug. Ons gaan maan toe!”

Nicky en Riffels vlieg maan toe

Nicky klouter op. Sy gee ’n gilletjie en gryp na Riffels se ore toe hy met een reusesprong tot bo-op ’n wolk spring. Daar klim sy af en vlieg saam terwyl Riffels van wolk tot wolk spring.

Saam-saam spring en vlieg hulle al hoër … tot op die maan.

“Kyk!” Nicky wys na ’n silwer meer. “Kyk hoe blink die water!”

Nicky en Riffels by die silwer meer

“Dis nie water nie,” grom Riffels. “Dis Doengka wat so blink.”

“Doengka? Wat is dit?”

“Jy sal sien,” antwoord Riffels geheimsinnig.

Die Holly Ke Pollie en Dunabenz

Nicky se oë rek toe ’n eienaardige mannetjie oor die rand van ’n krater loer.

Sy onderdruk ’n gilletjie toe hy uitklim en naderstap. Hy het ’n woekoe-woekoe kop en ’n oliestreep oor sy neus. Langs hom drafstap ’n miniatuurdrakie, omtrent so groot soos ’n kat.

“Dit is ’n Holly Ke Pollie,” verduidelik Riffels. “En die drakie is sy Dunabenz.”

Riffels stel vir Nicky en die Holly Ke Pollie aan mekaar voor.

“Hallo,” sê die maanmannetjie met ’n lang sug.

“Wat is fout?” blaf Riffels. “Jy is dan altyd so vrolik en verspot?”

“Kom ek gaan wys julle.” Die Holly Ke Pollie stap met hangskouers weg. Hy loop tot by ’n masjien met talle lepels, arms en buise wat nie ’n geluidjie of ’n beweging maak nie.

Nicky snak na asem. “Dit lyk soos ’n enorme roomysskepper!” sê sy.

En sowaar. In een van die skeppers lê ’n perfek ronde bal wat uit maansand gevorm is.

“Die masjien skep dit op en druk dit baie styf saam.” Die Holly Ke Pollie snuif. “Maar nou is dit stukkend.” ’n Traan blink in sy oog.

Nicky frons. “Maar wat maak ’n mens met so ’n bal?”

“Kom kyk.” Die Holly Ke Pollie tel die maanbal op en stap na die silwer meer.

Die maanpêrel en die skepper

“Ek doop dit in die Doengka en wag tot dit droog is. Dit gebeur sommer vinnig. Kyk!” Hy hou die maanbal in die lug.

“Oe, dit blink te pragtig!” roep Nicky.

Die Holly Ke Pollie knik. “Dis ’n maanpêrel. Sodra dit droog is, bêre ek dit saam met die ander in die pakkamer. Wanneer dit baie donker is, steek Dunabenz dit aan die brand en dan skiet ek dit met my kettie die lug in.”

“En dan?” vra Nicky verwonderd.

Die Holly ke Pollie glimlag effens. “Het jy al gesien hoeveel sterre daar op ’n donker aand in die hemelruim is?”

“Jy bedoel …” Nicky aarsel. “So dis eintlik jou maanpêrels wat so brand?”

“Ja –” Die Holly Ke Pollie snuif. “Maar nou het die masjien gebreek. Hoe gaan ek nou maanpêrels maak?” Hy vee ’n traan weg.

Holly Ke Pollie huis oor die stukkende masjien

Nicky en Riffels probeer hom troos. “Toe maar, Holly Ke Pollie, ons sal jou help.” Lank sit die driestuks langs mekaar op die maanstrand en dink.

Skielik spring Riffels op. “Ek het ’n plan! Nicky, gee gou die botteltjie in jou rugsak vir my.” Hy neem dit, sprinkel ’n bietjie maansand daarin, draf na die silwer meer en skep van die Doengka op. Toe skud hy die mengsel liggies en gee dit vir Nicky. “Kyk of dit werk.”

Baie versigtig om nie ’n druppel van die kosbare vloeistof te mors nie, blaas Nicky ’n borrel. Groter en groter word dit … tot dit net so groot soos ’n maanpêrel is. Die nuwe maanpêrel is heelwat ligter as die voriges en dryf die lug in.

Die Dunabenz maak sy bek oop en blaas vuur daaroor uit.

“Oe, kyk!” roep Nicky uit. “Kyk hoe skitter dit nou!”

Die nuwe maanpêrel

“Dis die mooiste maanpêrel wat ek nog ooit gesien het!” roep die Holly Ke Pollie en hy lag en dans in die rondte. “Hoera, hoera! Ek kan weer maanpêrels maak! Mooier en blinker as ooit!”

Hy vang die nuwe, glansende maanpêrel en gee dit vir Nicky. Tot haar verbasing brand dit nie haar vingers nie.

“Hierdie een is joune, Nicky,” sê die Holly Ke Pollie. “Baie, baie dankie vir al julle hulp. Nou gaan ek die beste en mooiste maanpêrels onder die son maak. Dink net hoe bly gaan die ander kinders wees as hulle snags na die hemelruim kyk en al die nuwe ‘sterre’ sien.”

Die Holly Ke Pollie gee vir Nicky 'n maanpêrel

Nicky wil baie graag bly en nog maanborrels blaas, maar Riffels trek aan haar arm. “Dis tyd om huis toe te gaan,” blaf hy.

Nicky en Riffels groet die Holly Ke Pollie en die Dunabenz en vlieg deur die hemelruim en verby die wolke tot in hulle tuin.

“Wat ’n lekker avontuur was dit nie!” sê Nicky en sy gee vir Riffels ’n stywe druk voor sy binnetoe hardloop om te gaan bad.

Nicky slaap met die nuwe maanpêrel

Daardie aand slaap sy rustig en tevrede. Haar kamer is nie te lig nie en ook nie te donker nie, dis net reg, want sy het nou haar eie maan.

“Dankie, Riffels, dankie, Hollie Ke Polly, dankie, Dunabenz,” fluister sy. “Nou gaan ek lekker slaap.”

Maanpêrels – Martelize Faber
Tweede prys (volwassenes) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021.

Die waterwese

“Wat op aarde was daardie geluid?” vra Ilea skrikkerig.

“Ek weet glad nie …,” antwoord Ilea, “… ons moet gaan kyk,” sê sy vasbeslote en skakel die bedliggie aan.

“Is jy van jou sinne beroof?” vra Ilea geïrriteerd. “Partykeer wonder ek wat in daardie kop van jou aangaan. En wat as Ma ons betrap? Ons sal vir weke, nee, dalk maande gehok word! Jy weet hoe erg is sy oor veiligheid!”

Die twee susters fluister saggies, terwyl hulle nog in hulle beddens in hulle strandhuis, wat op die hawe geleë is, lê. Toe hoor hulle weer dieselfde geluid. Dit is ʼn skril geluid, soos wat vingernaels op ʼn swartbord maak, klink.

“Help! Help my!” skreeu ʼn stem op ʼn verskriklike hoë toonhoogte. Die twee meisies spring dadelik uit hul beddens en hardloop na die venster. Toe hulle versigtig na buite loer, sien hulle net water spat. Alena sien net-net hoe ʼn vrou in die water verdwyn. Druppels spat op die venster en hulle sien net ʼn swart silhoeët. Borrels kom boontoe en toe is daar geen teken meer van die vrou nie…

Sekerlik sou die vrou nie aspris in die water gespring het nie? Alena hoop van harte dat die vrou darem kan swem. Nog ʼn paar minute later was daar steeds geen teken van die vrou nie. Geen mens kan sy asem so lank ophou nie!

“Ons moenie so laat in die aand hier buite wees nie, Alena!” fluister Ilea toe hulle na buite sluip. “As ons nóú betrap word …!”

“Wees rustig, Ilea. Ons sal nie betrap word nie. Jy kan mos sien dat daar niemand hier buite is nie,” sê Alena en haal ʼn flitsliggie uit en skakel dit aan. Die sterre skyn helder en die maan is vol. Die twee susters gaan staan op die kaai en luister of hulle enigiets kan hoor. Dit is doodstil.

Skielik sien hulle ʼn figuur wat soos ʼn dolfyn uit die water spring. Die figuur se kop draai in die rigting van die twee meisies en sis hard. Die figuur land op ʼn rots en sit roerloos daar. Twee geel oë is op die meisies gerig.

“Wat is dit?” vra Ilea skrikkerig. Die figuur spring van die rotse af terug in die water. Alena het een ding opgemerk en dit is dat die figuur ʼn visstert in plaas van twee bene het. Wat ʼn snaakse ervaring!

“Meisies!” hoor die twee susters iemand fluister. Dadelik draai hulle om en kyk in die kwaai gesig van hul ma vas. “Wat maak julle hierdie tyd van die aand buite?” vra Ma kwaai en gryp altwee meisies aan die arm.

“Ma, ons het ʼn snaakse geluid gehoor en toe wou ons kyk wat dit was…” begin Alena verduidelik. “Hoe het Ma geweet ons is buite?”

“Ek het voetstappe in die gang en ʼn deur wat toemaak gehoor. Julle sal beter te werk moet gaan om ʼn oudpolisievrou te wil flous!” antwoord hul ma terwyl hulle deur die tuintjie stap. “Wat het julle toe daar buite gesien?”

“Ag, dit was sommer ʼn siek seemeeu wat geskree het,” antwoord Alena en probeer ʼn giggel wegsteek.

“Ja, ek kan dit glo,” sê hul ma en maak die susters se slaapkamerdeur oop. “Kom, nou moet julle slaap kry. Môre kan ons op die strand langs gaan stap en sommer roomys kry na die tyd. Ag tog, nou is ek sommer lus vir roomys!” Ma maak vir Ilea toe onder die donskombers.

“Lekker slaap, Ma!” groet Alena toe hul Ma die deur oopmaak om uit te gaan.

“Julle ook!” antwoord sy.

ʼn Ligte gesnork word feitlik dadelik van Ilea se kant gehoor en Alena glimlag. Wat ʼn aand…

“Word wakker, slaapkouse!” roep die twee susters se ma van die kombuis af. Alena laat ʼn lang sug hoor en kyk na die muurhorlosie. Vyfuur! Fantasties! So dit is die straf vir gisteraand, dink Alena en staan op.

“Kom aan, Ilea!” sê sy moeg. Ilea draai om op haar sy en kreun.

“Nog net tien minute…”

“Ek het pannekoek gebak!” roep hul ma en Ilea spring dadelik op en draf kombuis toe. Alena skud net haar kop en glimlag. Sy kyk by die venster uit waar sy die vrou in die water gesien val het. Wat het met haar gebeur? En om nie eers te praat van die vreemde wese op die rotse nie!

Toe Alena die kombuis binnekom, betrap sy vir Ilea met ʼn mondvol pannekoek en stroop. Sy het amper die hele buisie stroop op haar pannekoek uitgedruk.

“Skaam jou!” fluister Alena. “Jy weet stroop is skaars!”

“Ek kan nie help nie! Dit is die goue soort en jy weet ek is verslaaf daaraan!” fluister Ilea terug. Hul ma kom toe net deur die agterdeur binne.

“Môre, Alena! Daar is ʼn paar pannekoeke in die bak as jy wil hê!” sê sy en sit ʼn hopie klere in die mandjie. “”Ek is nou net klaar wasgoed afgehaal. Sjoe, wat ʼn werk vir die tyd van die oggend! O ja, onthou julle twee, ons gaan oor ʼn rukkie strand toe.”

“Ja, Ma!” antwoord die twee asof uit een mond. Ilea het nou die res van haar pannekoek is stroop gedoop en in haar mond gedruk.

“Mmmmm!” Sy sit haar mes, vurk en bord in die wasbak en gaan kamer toe.

“Ma?” vra Alena terwyl sy ʼn pannekoek uit die bak haal.

“Ja, Alena?”

“Toe Ma nog vir die polisie gewerk het, het julle gevalle gehad van mense wat net verdwyn?”

“O ja, baie, eintlik. Mense het baie klagtes gebring oor familie of vriende wat net skielik een aand verdwyn het. Daar word al jare daaroor gepraat. Blykbaar sê hulle daar is ʼn waterwese wat elke aand prooi soek en dit in die water in trek vir aandete. Gruwelike goed wat hulle dink, as jy my vra! Een keer het ʼn man na ons toe gekom en vertel hoe hy gesien het dat die waterwese sy vriend in die water trek. Maar waar was die bewyse? Ja, daar was baie nuusberigte oor mense wat op so ʼn manier verdwyn het, maar wie kan seker wees?” sê Ma en vou haar arms. “Hoekom wil jy weet?”

“Ag, ek het dit op die nuus een keer gesien en wou net meer daaroor weet,” jok Alena en staan op om kamer toe te gaan. “Dankie dat Ma my vertel het!”

“Hei, Alena!” sê Ilea waar sy op die bed lê en boek lees.

“Hallo, watter boek lees jy?” vra Alena en gaan langs haar op die bed sit.

“Ag, sommer ʼn Enid Blyton-boek. Daar is ʼn nuwe boek van haar en ek kan nie wag om dit te lees nie.”

“Sal jy daardie boek vir my leen as jy klaar is, asseblief?” vra Alena en maak ʼn nota van haar versoek en plak dit teen die muur aan Ilea se kant. “Jy weet self hoe maklik jy vergeet!”

Ilea lag. “Oukei, maar net as jy vir my ʼn paar van daardie sjokoladekoekies van jou gee!”

“Ek sal daaroor dink …,” sê Alena kamma ernstig.

“Meisies! Ons gaan oor twee minute strand toe! Maak reg!” roep hul ma vanuit die kombuis.

“Oe, hier is nog een!” roep Ilea uit en tel ʼn pragtige pers skulp op en swaai dit in die lug. “Hierdie een is pragtig!”

Alena kom staan langs Ilea om die skulp te bekyk. “Ek hou van die ringetjies rondom die skulp. Ja, dié een verdien om in die emmer te gaan.” Ilea plaas die skulp versigtig in die emmer en hulle soek nog skulpe.

“Alena! Ilea!” roep hul ma van ver af en die twee meisies hardloop na hulle toe. “Daar ander kant is ʼn roomyskarretjie. As ons vinnig maak, kan ons dit inhaal!”

Die twee meisie hardloop resies na die roomyskarretjie toe en Alena is eerste daar.

“Hallo, kan ek asseblief ʼn sjokoladeroomys in ʼn horinkie kry?” Na ʼn paar sekondes is Ilea ook daar.

“En vir my vanielje, asseblief!”

“Wie betaal?” vra die roomysverkoper.

“Ons ma! Daar kom sy aan!” sê Alena en wys na hul ma wat aangestap kom. Die roomysverkoper knik en plaas twee roomyse in die gretige hande.

“Dankie!”

Die twee meisies gaan sit op die naaste rotse en eet hul roomyse. Toe hulle klaar geëet het, besluit die twee om ʼn bietjie in die water te speel. Hulle stamp mekaar in die water en plas mekaar nat. Hulle gaan ʼn bietjie dieper in en raak sommer lekker laf. Hul ma het op ʼn rots gaan sit om toesig te hou.

Skielik voel Alena ʼn stywe greep om haar enkel. Sy kyk onder toe en sien ʼn liggroen hand. En toe is sy onder die water. Sy sien vir Ilea ook langs haar in die water en die lyk net so bang soos sy. Alena hoor haar ma se stem wat vir hulle skree. Haar asem is egter besig om op te raak. Sy voel hoe hulle dieper en dieper in die water ingetrek te word. Paniek is skielik die enigste emosie wat sy ken. Dit gaan dalk die laaste ding wees wat sy gaan voel…

Sy voel ʼn hand in hare en sy maak haar oë oop. Ilea hou haar hand styf vas. Net toe Alena voel dat haar asem opraak, vat iemand aan haar arm. Dit is ʼn man wat hulle albei optrek. Sy voel hoe die greep om haar enkel verswak en dan heeltemal laat los. Alena kyk vir oulaas ondertoe en sien twee geel oë in die dieptes. Die waterwese bestaan regtig… 

“My dogters!” roep hul ma uit en sy druk Alena en Ilea styf vas. “Moet dit nooit, nooit weer doen nie!” Alena is nog steeds vreesbevange. Om te dink dat hulle amper verdrink het! Ek is so dankbaar dat daar lewensredders op die strand was.” Sy glimlag vir die ma langs haar. “Wat het gebeur?”

Alena bewe. “D … die waterwese,” hakkel sy, “het ons onder die water ingetrek. So al daardie stories was al die tyd die waarheid!”

Hul ma het verlig gesug en hulle lank styf gedruk. “Julle kort ʼn groot troos! Ek sal vanaand julle gunstelingdis maak!”

“Ma, wat gaan ons omtrent die waterwese doen? Ons kan dit sekerlik nie los nie?” vra Ilea.

“Ek sal dit aan die polisie rapporteer. Hulle sal definitief iets daaromtrent doen,” antwoord hul ma.

Na hierdie gebeure het Alena haar eie boek, Naby die doodservaring, geskryf oor hoe sy en haar eie suster uitgevind het van die wese en hoe alles geëindig het. Die wese is toe gevang en in ʼn akwarium in beskerming geplaas.

Die waterwese het geskiedenis gemaak om te onthou.

Die waterwese – Elmé Steyl
Tweede prys (laerskoolafdeling) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021.

Bartel Beer bak kluitjies

Daar is ‘n paadjie al deur die bos…
en ‘n stroompie om visse te vang vir kos.
Stap ‘n bietjie aan en dan kry jy ‘n grot,
Bartel die beer en sy gesin se genot.

Bartel Beer probeer visse vang.

”Help my ek sink!” Bartel proes benoud. Sy kop is amper onder water en hy kan nie swem nie. Skielik voel hy hoe ‘n poot sy nekvelle stewig beetkry en hom met mening uit die waterstroom ruk.

”Moet ek jou wragtig heeltyd oppas? Jy het nou al die visse in die water afgeskrik met jou geskree!”

”Ag, Ouboet, ek het verstik, ek belowe dit sal nooit weer… Ouboet?” Bartel vee oor sy nat gesig en kyk angstig rond.

”Ouboet, hou op speletjies speel!” Sy kreet eggo deur die bos, maar daar is steeds geen antwoord nie. Bartel brul en stamp sy voet teen iets glibberigs.

”Help!” gil hy terwyl hy agteruit steier. Hy gryp ‘n tak wat langs hom lê en swaai dit wild rond totdat hy duislig op sy sitvlak te lande kom. ”As jy naby kom gaan jy met my te doene kry!” Bartel probeer sy bes om braaf te klink terwyl hy stadig orent kom. Hy stap versigtig ‘n paar tree nader aan die blink ding wat naby hom op die grond lê. ”Sjoe, ek’s gelukkig!” sê Bartel uitbundig. Dit was toe al die tyd ‘n groot silwer vis. Bartel probeer dadelik om die vis met albei hande vas te gryp, maar die vis is gans te glad. Ek weet, ek sal die vis in blare toedraai. Na ‘n ruk is Bartel terug met twee groot blare en riet om dit stewig om sy vis te bind. Ek is darem slim, dink hy trots.

Bartel met twee groot blare en riet

Die vis oor sy skouer, is al waaraan Bartel kan dink. Houtgerus, vergeet hy skoon van Ouboet en dat die son al besig is om water te trek. Soos Bartel verder aanstap, slaan ‘n vreemde reuk in sy neusgate op. Hy snuif die lug, homself en dan sy skouer. Die vis! Dit kan nie wees nie. Ouboet draai dan ook altyd sy vangs in blare toe. Dit moet seker dan so ruik. Bartel raak al minder op sy gemak. Die vis is tog my vangs, ek het dit gekry en nou is dit mos myne. Hy frons.

Ek kan nie wag om Ma, Pa en Ouboet se gesigte te sien as ek huis toe kom met aandete nie! Bartel besluit om te hardloop. Hygend sleep hy homself en sy vis vorentoe. Sy keel brand en sy pote pyn.

Ek gaan ‘n graspol soek om op te sit, dink Bartel. Net vir ‘n rukkie.

Bartel gaap en vryf sy oë. Hoor hy krieke sing? Hy val amper agteroor toe hy behoorlik om hom kyk. Dit is dan piknagdonker! Hy hou sy vis styf vas. Ek moes aan die slaap geraak het. Hoe gaan ek ooit weer by die huis kom? Bartel se onderlip bewe. Die vis ruik nou baie slegter as ‘n ruk terug. Bosse ritsel en die skaduwees van takke maak vir hom bang. Skielik verskyn twee oë reg voor Bartel. Die geheimsinnige dier snork hard deur sy neusgate.

”Wat het jy daar tussen jou pote, Bartel?”

Verstom, en lam van skok gee Bartel ‘n gil.

”Moenie bekommer nie, dis net ek. Ons soek oral na jou.”

”Pa, ek wil vir pa iets wys!” Bartel se gesig straal, maar sy pa lyk nie so opgewonde nie. Bartel is nog glad nie so sterk soos Ouboet nie en die vis is ‘n moeilike een om te vang.

”Waar presies het jy die vis gekry?”

Bartel sluk benoud.

”Ek het hom self by die waterstroom gevang, ek belowe,” sê hy skuldig. Hy weet hy praat nie heeltemal die waarheid nie.

”Nou goed, gee die vis hier. Ek sal dit vir ons huis toe dra,” sê sy pa wat begin om snuf in die neus te kry.

”Pa het vir Bartel gekry! Ek was baie bekomerd.” Ouboet het hulle by die paadjie voor die grot ingewag.

Bartel gluur vir Ouboet vies aan.

”Ek gaan jou kry!” gil hy terwyl hy volspoed op sy broer afstorm.

”Jy het vir my weggehol en my alleen by die waterstroom gelos!” Bartel hamer nou met albei vuiste teen Ouboet se maag.

”Jy het al die visse afgeskrik toe jy in die stroom geval het!” bulder Ouboet.

”Seuns, dis nou genoeg!” Pa Beer se stem is streng. ”Julle gaan altwee nou vir my die waarheid vertel.”

Ouboet en Bartel kyk vir Pa Beer.

Nadat Ouboet en Bartel dikmond hul sê gesê het, kyk altwee in afwagting na hul pa.

”Julle het altwee leuens vertel,” sê hulle pa kalm. ”Ouboet het vir my gesê jy het weggeloop en jy het nie die waarheid oor die vis gepraat nie, Bartel. As jy vir iemand jok sukkel hulle om jou te vertrou. Weet julle hoekom ons mekaar met respek moet behandel?”

Die Beerboeties skud stadig hulle koppe.

”Dit is baie beter om liefde aan mekaar te bewys as om onnodig te stry. Julle het altwee geweet wat julle doen is nie reg nie, maar julle het dit nog steeds gedoen. As iemand die waarheid praat kan jy altyd op hulle staatmaak. As hulle oneerlik is, sukkel jy om te glo wat hulle sê. Dit is baie belangrik dat julle verstaan hoekom leuens nie reg is nie. Daar gaan gevolge vir julle dade wees. Julle altwee gaan voor ete al die onkruid om ons grot uittrek en dit moet netjies gedoen wees. Kom, vele hande maak ligte werk!”

Bartel en Ouboet dink na oor wat hul pa gesê het, terwyl hulle die bossies onkruid op mekaar stapel. Al is hulle glad nie lus vir tuinwerk nie, gaan die tyd tog gou verby.

”Dit lyk netjies.” Hulle pa lyk in sy skik.

”Ek is nog steeds baie trots op julle. Die regte ding sal wees om die vis se eienaar te kry as ons kan.” Pa Beer kyk na die plek op die grond waar hy die vis neergesit het.

”Seuns, die vis lê nie meer hier nie!” Almal draai paniekbevange om. Iets beweeg naby die grot, en ‘n silwer visstert skitter in die maanlig.

”Vang die boef!” Bartel hardloop so vinnig as wat hy kan. Hy gryp die stert met sy pote vas.

”Gee terug!” skree hy.

Bartel Beer en die grys otter

”Nee, ek het die vis by die stroom vir ‘n kort rukkie alleen gelos. Toe ek terugkom was dit weg. Ek soek nou al vir ure!”

Bartel kyk verslae na die grys otter.

”Ag nee, nou is dit bederf!” sê die otter. “Het jy giftige blare om my vis gedraai?”

Bartel voel nou baie sleg. ”Ek het nie geweet nie,” piep hy.

”Nou is daar niks om te eet nie!” Die otter is woedend.

”Leuens is nie ‘n goeie ding nie. Dit kan jouself en ander benadeel.” Bartel se pa staan nou langs hom. ”Ek weet jy het gedink jy doen goed, Bartel, maar nou het jy iets geleer. Ek sal jou volgende keer wys hoe.”

Bartel voel bietjie beter, maar die otter is ‘n ander saak.

”Het ons ‘n gas vir aandete?” Bartel se ma staan in die opening van hulle grot en glimlag. Sonder om te aarsel nooi sy die otter na die tafel.

”Ma, hierdie is heerlik!” Bartel slurp honger aan sy sop. Die otter sit nou tevrede en glimlag.

”Ek moet vir jou iets sê.” Bartel kyk verleë na die otter. Dis nie altyd lekker om jammer te sê nie. ”Dit was verkeerd om iets te vat wat nie myne was nie, ek is jammer dat niemand dit nou kan geniet nie.” Bartel laat sak sy kop.

”Weet jy wat kan ons wel geniet?” Die otter glimlag.

”Nagereg!”

Bartel kyk hoe sy ma vir almal ‘n stuk heerlike heuningkoek sny.

”Kry ek julle morê by die stroom? Ek sal jou ‘n paar visvangdinge leer, Bartel,” sê die otter.

”Dan kan ons lekker viskoekies eet, jy weet mos dis my gunstelling!” sê Pappa Beer en lag.

Bartel Beer bak kluitjies – Bea Badenhorst
Wenverhaal (tweede prys) in hoërskoolafdeling Storiewerfskryfkompetisie 2021.

Geheim in die bos

“Peep peep, peep peep!” weergalm Domenique se wekker deur die stilte van die nag.

Die volgende oomblik word die duvet afgegooi van die bed, en ‘n meisie van omgeveer veertien jaar oud, met blonde hare en bruin oë, vlieg uit die bed uit. Met ‘n kragtige pluk na haar bedkassie, kry sy die skreeuende wekker in die hande. Sy skakel dit af, net betyds om te hoor hoe dat voetstappe in die gang al hoe nader beweeg. Sy gluur ‘n laaste keer na haar wekker, 12:00 uur, middernag.  Met ‘n spoed stop sy ‘n paar kussings in haar bed, gooi die duvet weer oor, en gryp haar sak. 

Sy is net betyds deur die venster om te hoor hoe haar moeder haar kamer deur oopstoot.

Gerusgesteld dat haar dogter nog rustig slaap, maak sy die deur weer saggies toe en loop weer af in die gang.

Domenique blaas ‘n lang sug van verligting uit, en trek haar jas stywer om haar. Sy het al reeds haar dagklere die vorige aand aangetrek, sodat sy maklik en vinnig spoorloos kon verdwyn.

Die nag is koud en spokerig, en die droë blare kraak onder haar stewels. Die geheimsinnige bos lê soos ‘n donker nagmerrie voor haar. Net hier en daar beweeg ‘n tak in die wind, wat spookagtige prente vorm in die lig van die vol maan. 

Sy skakel die flitslig aan.

Vir ‘n paar oomblikke maak sy haar oë styf toe om haar plan weer te oordink. Dan maak sy haar sak oop, soek haastig daarin, en trek dan ‘n lang flitslig uit die sak. Sy stop ‘n oomblik om moed by mekaar te skraap en skakel dan die helder lig aan.

Treetjie vir treetjie stap sy die woud binne. Sy kan haar tande hoor kners op mekaar en haar bene voel soos jellie. Sy skyn haar flitslig heen en weer, om seker te maak dis veilig en stap dan verder en dieper in die hart van die woud in. Alles wat sy die vorige middag in die koerant ontdek het, spoel deur haar kop. Die geheimsinnige titel op die voorblad van die klein dorpie se koerant, wat in goot gedrukte letters sê: “DRIE ONBEKENDE FIGURE TEEN MIDDERNAG IN EIKEHOUTWOUD.” 

Die hele geheimsinnige storie van die jong seuntjie, wat net twee huise van Domenique se huis af woon, wat sy verlore kat gaan soek het in die middel van die nag. Die seuntjie, genaamd Johannes, het onverwags drie figure raakgeloop in die bos. Dit was donker en die verskrikte Johannes kon net die buitelyne van drie figure uitmaak. Die outjie was so in skok en het sonder meer inligting huis toe gehardloop. Die volgende oggend het hy wel die opmerking gemaak dat dit gelyk het asof hulle gegrawe het en op soek was na iets. Die polisie het die volgende oggend ondersoek gaan instel, maar kon niks buitegewoons opmerk nie. Daarmee was die saak vir hulle opgelos, maar nie vir Domenique Kruger nie.

Skielik steek sy vas. Blitsig skakel sy haar flitslig af en spits haar ore. Afgesien van die dreuning van die wind deur die blare, hoor sy ook fluisterende stemme. Haar hart begin so hard klop dat sy sukkel om uit te maak wat die stemme sê. Omvou deur die duisternis van die nag, stap sy so geluidloos soos ‘n muis verder.

Die stemme word al hoe harder en nou en dan skrik sy vir ‘n takkie wat kraak onder haar skoene.

Sy gee amper ‘n gil toe sy beweging agter ‘n groot bos sien. Sy byt op haar lip en staan vir ‘n oomblk sonder om ‘n lit te verroer. Onder die indruk dat niemand haar raakgesien het nie, sak sy af tot op haar knieë.

Drie figure besig om iets te soek.

Versigtig om nie opgemerk te word nie, trek sy ‘n paar blare uit die pad en loer aandagtig deur ‘n opening tussen die takke. Nes Johannes opgemerk het, sien sy drie figure besig om na iets te soek. Orals word diep gate gegrawe en deur na die stemtoon te luister kon sy duidelik hoor dat dit drie mans is. Die koue en spookagtigheid van die woud merk sy nie eers op nie.

Skielik wip sy soos sy skrik toe een van die figuure opkyk en ‘n sagte maar duidelike opmerking maak: “Ons gaan dit nooit vind nie. Die Van Deventers was slim mense, ons mors net ons tyd.”

“Haai nee, ons kan nie so vinnig opgee nie, dit is hier iewers, en my maat as ons dit vind, dan is ons skatryk,” val die ander een hom in die rede.

Domenique se oë is nou so rond soos pierings. Net toe sy wil omdraai, sien sy iets uit die hoek van haar oog. Daar in die verte agter ‘n bos staan ‘n jeep. Die voertuig lyk gehawend, asof dit gewoond is aan die slegte woudpaadjies. Skielik kry Domenique ‘n blink idee. Sy draai vinnig om en maak ‘n wye draai. Sy buk af op haar hurke, en van ‘n afstand maak sy seker daar is niemand in die jeep wat vir haar lê en wag nie. Sy druk haar hand in haar sak en haal haar selfoon uit. Sy neem ‘n foto van die voertuig, en sit haar foon terug in die sak.

Sy kruip versigtig om die voertuig sodat sy onsigbaar is vir die figure. Agter-op die voertuig lê daar ‘n  stowwerige leersak, by die een punt steek daar ‘n geheimsinnige papier uit.

Sy het dit skaars in haar sak gedruk, toe sy voetstappe hoor aankom. Verskrik kyk sy op, en haar oë val op drie donker skaduwees. Vinnig maak sy haar self onsigbaar agter ‘n groot boom. Net betyds voor die drie figure te voorskyn kom. 

Die stof trek soos die jeep wegtrek.

Domenique staar vir ‘n oomblik  die voertuig agterna, en onthou dan van die papier. Half skrikkerig trek sy dit met die punt van haar vingers uit. Versigtig, maar angstig vou sy dit oop. Op die papier sien sy nou ‘n paar dowwe lyne en merke. Aan die einde van ‘n lang draaierige lyn is daar ‘n klein kruisie waarby ‘n paar letters iets uitspel:

Diep in die aarde, is daar baie waarde, by verrimpelde ou tone, is daar baie meer as krone.

Nou is Domenique behoorlik omgekrap. Sy is nou seker dat daar wel iets hier in die woud wegesteek is, maar wat kan die raaisel nou eintlik beteken? Sy loer eers om haar rond, en skakel dan versigtig die flitslig aan. Orals kyk sy rond, maar sien niks met ou verrimpelde tone nie. Sy is verstandig genoeg om nie te vêr rond te dwaal nie, want so in die nag kan mens maar maklik verdwaal in die woud. En die kaart wys wel dat die kruisie hier iewers is. Domenique se kop draai al van al die gedinkery, maar sy kan geen oplossing vind vir die situasie nie. 

Na ‘n halfuur se soek het sy omtrent al onder elke bossie en blaar gekyk, maar ‘n leidraad kan sy nie vind nie. Sy kyk eers op haar horlosie, toe sy ‘n lang gaap gee. Dit is tien minute voor twee, en dit lyk vir haar of die lang nag als verniet is.

Op ‘n drafstappie swaai sy haar flitslig heen en weer, maar van ou verrimpelde tone is daar niks te sien nie. Sy was net op pad om op te gee, toe iets hards haar voet vang. Sy slaan neer soos ‘n sak patats. Dit is ‘n ou boom se harde wortels wat haar laat struikel het. Met gesig in die grond probeer sy inneem wat alles nou net gebeur het. Soos sy haar gesig lig van die grond eggo die woorde skielik in haar kop: “by verrimpelde ou tone, is daar baie meer as krone.” 

Sonder om twee keer te dink, spring sy op, bekyk die wortels waaroor sy geval het, en klap haar self op die kop.

“Natuurlik, hoe kon ek nie daaraan gedink het nie,” sê sy terwyl sy haar hand oor die krakerige ou bas van die boom streel. “Die verrimpelde tone moet duidelik die lang wortels van die boom wees.”

Sy skyn die flitslig op die wortels, en kyk dan op in die boom se blare. Die dik takke van die akkerboom strek tot in die hemel, waar die maan en sterre hom vriendelik groet. Sy kyk vinnig heen en weer, om seker te maak daar is niemand wat haar stilletjies dophou nie, en begin dan tussen die wortels te karring. 

Een vir een trek sy aan die wortels, en tot haar verbasing lig ‘n groot stuk van die grond op. Sy stik amper in die stof, maar is angstig om te sien wat gaaan gebeur. Sy trek haar asem in toe die flitslig  in ‘n donker gat skyn wat omtrent so groot is soos ‘n wasgoedmandjie. Die gat is wel nie so diep nie, maar was goed weggesteek onder die ou boom se wortels.

Stadig maar seker sak sy af tot op haar knieë, steek haar hand in die gat en voel rond. Uiteindelik tref haar hand iets hard, en saam met haar arm kom daar ‘n ou bruin koffer uit. Sy blaas haastig die stof af, en kyk dan om haar rond. Die helder maan is die enigste lig in die donker nag, maar al Domenique se vrees het skielik verdwyn. 

Die koffer.

Haar oë skyn helder van opwinding, soos sy die koffer se deksel oopmaak. Die ou skarnere kraak, en sy gee amper ‘n gil toe sy sien wat daarin is. In die helder lig van die flits, sien sy nou die koffer is tot bo volgestop met hopies geldnote. Haar mond val oop soos sy die rykom voor haar aanskou. Sy gaan lê terug teen die boom en gee ‘n lang sug van verligting.

“Ek het dit gevind,” fluister  sy, en met daai woorde val haar oë toe.

Die volgende oggend maak die son wat liefkosend deur die blare skyn haar wakker. Vir ’n oomblik kyk sy verward rond, en skrik toe sy die oop koffer met die geld in sien. Haar flits wat se liggie teen die tyd al flou geskyn is, lê net langs die koffer. ‘n Glimlaggie verskyn op haar mond soos sy haar selfoon uit haar sak trek.

En so is Sarah Van Deventer se lewe gered, deur ‘n  avontuurlustige jong meisie genaamd Domenique Kruger. Die 82-jarige tannie, die enigste oorlewende Van Deventer. Haar voorvaders het die versteekte skat jare terug weg gebêre, met die hoop dat dit eendag vir ‘n goeie doel gebruik sal word. Die tannie wat in Pretoria tuisgaan, kon nie meer die huurgeld betaal nie, en was in groot gevaar om die huis te verloor. Sonder familie of iets om van te lewe, was haar lewe besig om afdraande te gaan. Maar te danke aan ons nuwe held, Domenique Kruger is Sahra Van Deventer se lewe gered.

Mevrou Kruger sit die koerant neer en glimlag breed vir haar dogter. Dit is Sondagmiddig, ‘n week na Domenique se avontuur, en almal sit lekker op die bank en tee drink.

“Domenique,” klink haar pa se diep stem deur die vertrek. 

“Ja, Pappa,” antwoord sy nuuskierig. 

“Ek het vanogend in die nuus gelees, dat die drie figure opgespoor is. Hulle is gisteraand gearresteer vir 5 miljoen rand se diefstal. So daai mannetjies gaan lank in die tronk sit.”

“Wow, Pappa, dis nogal skokkend, maar ek is wel bly hulle is gevang.”

“My kind jy was baie braaf om so in die nag te gaan skatte soek. Ek is baie trots op jou.”

“Ons almal is baie trots op jou,” stem haar mammie saam en gee haar ‘n stywe drukkie.

wenner Storiewerf 2021 skryfkompetisie

Geheim in die bos – Marisa Loubser.
Eerste prys (laerskoolafdeling) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021.