Die doolhof

Die son bloei stadig agter die bome weg. Alles is stil … te stil. Die pretpark se geroeste hekke gaap oop soos die bek van ʼn monster.

“Ek kan nie glo jy het ons in hierdie nonsens ingepraat nie!” sis Lana vies vir James.

Ek kan dit ook omtrent nie glo nie. Die lang, spookagtige torings, die vervalle tente en die donker silhoeëtte van al die stokou ritte is genoeg om enige nuuskierige avonturier weg te hou. En tog, hier staan ons: voor die pretpark, op pad na die doolhof toe. Die doolhof – die rede hoekom die pretpark gesluit het. Die rede hoekom Jan Verster vyftig jaar gelede spoorloos verdwyn het.

Volgens gerugte was dit een van die ingewikkeldste doolhowe wat nog ooit in ʼn pretpark gebou was. Net die eienaar het die roete geken: geen ander persoon kon ooit naby die fontein in die middel uitkom nie. Hy was blykbaar gek oor speletjies, en het verklaar dat hy aan enige besoeker wie die fontein kon kry, ‘n wens sou skenk. Ritte, spookasem, vertonings… solank dit net deel van die pretpark was.

Die doolhof was baie gewild totdat Jan eendag ingegaan het en nooit weer uitgekom het nie. Die polisie het regdeur die nag na hom gesoek. En die hele dag daarna. En die dag daarna. Vir dae lank.

Hy is nooit gekry nie.

Toe die polisie uitkom… Hulle het stories vertel van ʼn stem wat roep om hulp en van ʼn skadu in die hoek van hul oog wat verdwyn sodra hulle omkyk. Hulle het gesê dat die doolhof Jan se siel gesteel het.

Die dorpenaars het die eienaar vir Jan se verdwyning geblameer. Hy het kort daarna by die doolhof ingestap en is nooit weer gesien nie. Die pretpark het mettertyd in duie gestort …

En nou, nou gaan ons in die doolhof in. Net as gevolg van Hendrik se vreeslike stupid dare. Ek skud my kop. “Jy weet ons is jou beste vriende, en dat ons enigiets vir jou sal doen, maar…” Ek kyk weer na die pretpark en ʼn rilling wriemel by my ruggraat af.  “Hoekom moet jy in elk geval daai grootkop se dare aanvaar net om ʼn girl te beïndruk wat al meer kêrels gehad het as wat sy wiskundetoetse deurkom?”

Lana knyp haar neus tussen haar vingers vas. “Ek moet met Adriaan saamstem, James. Al waarin sy belangstel is seuns se aandag. En Hendrik … wel, hy probeer maar net grootkokkedoor wees.”

James trek sy skouers op. “Julle kon maar altwee by die huis gebly het as julle so teen hierdie idee is.”

Lana sug. “Asof ons jou ooit sonder toesig sou los. Wel, as jy regtig so vasberade is, vat hier.” Sy druk iets in ons albei se hande in.

“ ʼn Muntstuk?” vra James in ongeloof.

“Ja, vir wanneer ons die fontein kry, sodat ons darem ons wense kan uitspreek.”

“Wense? Jy is nie ernstig nie! Hierso, Adriaan, twee wense vir jou.”

Ek vang sy muntstuk met ʼn skud van my kop voordat ek opkyk na die ingang voor ons.

“Adriaan… Ek dink jy moet dit ook vat.” Lana hou ʼn kompas na my toe uit. “Dis my ouma s’n. Dis veronderstel om baie waardevol te wees, maar ek het nie gedink sy sal omgee as ons hom net vir ʼn aand leen nie… Dit wys blykbaar die rigting van jou gewenste bestemming aan.” Sy trek haar skouers op. “Ons kan dit maar net sowel saamvat.”

Kompas

James lig sy foon op. “Google Earth, mense. Los die kompas. Ek het ʼn arial view van die doolhof; ons sal binne minute daar wees. Al wat ons nodig het, is ʼn selfie, dan is ons uit en dan praat ons nooit weer daaroor nie.” Met een kyk in Lana se sagte, bruin oë, druk ek maar die muntstukke en kompas in my broeksak. Haar skitterende glimlag is amper genoeg om my gerus te stel.

Amper …

Hemelhoë bosse

Ons gaan die park versigtig binne. Ons voetstappe weergalm in die stilte. Die flitsligte gooi lang, onaardse skadu’s wat ons volg soos grypende vingers. Voor ek my oë kan uitvee, is ons by die doolhof. Die struike wat eens as heinings gedien het, het in die halwe eeu waartydens hulle wild gegroei het, in massiewe, hemelhoë bosse verander.

James se kneukels is wit soos hy sy foon vasklou. Met ʼn knik van sy kop begin ons stap. Na ʼn paar meter moet ons kies: links of vorentoe.

“Vorentoe,” prewel James, sy foon amper teen sy neus gedruk. “Links is ʼn doodlooppad.” Na nog ʼn paar meter moet ons weer kies. “Regs. Vorentoe vat ons terug na waar ons begin het.”

ʼn Geritsel in die bosse laat ʼn skreeu uit my keel losbars. James en Lana swaai om.

“Wat? Wat is dit?” vra Lana bekommerd.

“Het julle dit nie gehoor nie? Daar is iets in die bosse!”

James sluk. “Seker net ʼn kat of iets. Kom, ons moet hier voor regs draai.”

Ek draai regs en stop in my spore. ʼn Doodloop. Ek draai terug. “Is jy seker?”

James byt sy lip. “Dalk het ons ʼn afdraai gemis. Kom ons gaan terug.”

Terwyl ons omdraai, hoor ek weer die geritsel van bosse. My hart gaan sit in my keel. Dit kan nie wees nie: nog ʼn doodlooppad!

“Onmoontlik,” fluister ek. “Ons het dan nou net hier deurgekom …” Dit voel asof my hart gaan staan. Die geritsel in die bosse … Dit was nie in die bosse nie, dit was …

Guys, ek dink … ek dink die doolhof …” Ek sluk hard. “Ek dink die doolhof beweeg.

Hulle kyk my net met groot oë aan, maar ek het klaar besluit: genoeg is genoeg. Ek druk my flits in James se hand, gryp hulle albei aan die elmboë en begin hardloop.

Uit! Ons moet hier uit!

Ek voel hoe James langs my struikel en ek my greep op sy arm verloor.

“Bly by, man!” gil ek.

Doringtakke gryp na my klere. Ek skeur myself los en hou aan hardloop.

“Adriaan!”

Ek swaai terug. Lana struikel om los te kom van doringtakke wat blitsig om haar bene krul. Waar is James? Voor my oë begin die doringtakke groei. Binne sekondes is daar ’n muur tussen ons.

“Adriaan! Hou aan hardloop! Gebruik die kompas, vinnig!”

Lana se woorde tref my soos ʼn hamer. Die kompas! Ek grawe dit met bewende hande uit. Ons enigste hoop! Ek begin weer hardloop, hierdie keer al agter die kompas se rooi pyltjie aan. Om draaie, verby doringtakke wat na my gryp soos frenetiese dansers, aan en aan totdat ek uiteindelik in ʼn oopte instruikel.

Trane rol oor my wange. Die fontein!

“Geluk,” fluister ʼn spottende stem. Ek vries. “Jy is die eerste een ooit …”

“Ek is reg om my wens te maak,” wurg ek uit. Ek draai bewend om. Die skadu op die grond wat ek eers gedink het is myne, begin in stadige sirkels om die fontein loop.

“Is jy seker?” fluister hy weer.

Ek maak my geklemde vuis oop. Die muntstukke glinster in die donker.

“Wel,” grom die stem, “dit lyk asof jy is. Wat is jou wens?”

“Ek wens dat jy my en altwee my vriende sal laat gaan.”

“Dis nie hoe dit werk nie!” singpraat die skadu. “ ʼn Muntstuk is slegs geldig vir sy eienaar…”

Ek kan die grynslag in sy stem hoor. Ek kyk wanhopig af na die muntstukke in my hande. My hart galop soos ʼn resiesperd en ek baklei om my jagende asem onder beheer te kry. Fokus! Ek moet fokus.

James se muntstuk val met ‘n dowwe ‘klonk!’ in die water. “Ek wens namens my vriend dat jy hom sal bevry.”

Nog ʼn grynslag. “Goed dan.”

Ek kyk af na die oorblywende muntstuk en terug na die skadu. Sy pretpark … ʼn Plan begin vorm in my kop. Ek laat val my eie muntstuk in die water. “Ek wil ʼn speletjie speel,” forseer ek dit uit.

Die skadu raak stil. Tyd het nog nooit so stadig verloop nie.

“En wat is hierdie speletjie?”

“As ek my vriendin in die doolhof kan kry, laat jy ons altwee vry op my muntstuk. En dan is dit verby met jou. Dan mag jy nooit weer enigiemand in jou doolhof gevange hou nie.”

Ek hou my asem op. Asseblief-asseblief-asseblief …

“En as jy verloor?”

Ek sluk hard. “Dan bly ons hier, vir ewig. Dan … dan behoort ons siele aan jou.”

Die skadu lag onheilspellend, en vir ʼn oomblik dink ek hy gaan weier, maar dan sis hy, “Jy het tot middernag, seun.”

My oë skiet na my polshorlosie: 11:21. Ek is voor my volgende asemteug aan die hardloop, die kompas vasgeklem in my hand.

“Lana!” gil ek. “Lana, waar is jy?”

Die pyl spring aanhoudend rond. Waar’s jy waar’s jy waar’s jy … Die lug verlaat my longe soos ek pynlik met die aarde kennis maak. Die kompas vlieg uit my hand uit en verdwyn onder die lang, gevlegte rankplante.

“Nee!” Ek trek die rankplant om my enkel los en skarrel agterna. Die golwende rankplante vou voor my toe.

Nee! Nee!

“Lana! Adriaan!”

My kop ruk op – James! Ek struikel om die volgende draai, en – daar! Hy is uit! Hy is veilig!

Ek kyk na die doolhof agter my. Toe ek weer vorentoe kyk, is die uitgang klaar besig om toe te groei. My voete dra my terug na die eindelose donkerte … aan en aan en aan. My horlosie glinster in die maanlig: 11:42. Om die volgende draai sien ek ‘n spatsel bruin hare.

“Lana!”

Ek vlieg om die hoek, net betyds om haar wit tekkies te sien verdwyn. Dit voel asof ons op ʼn mallemeule is: net soos ek om ʼn draai kom, verdwyn sy om die volgende een. Ek is net naby genoeg om haar te sien verdwyn, maar nooit naby genoeg om haar te vang nie.

11:58. My tyd is amper om.

My oë rek toe ek om ʼn laaste draai vlieg. Ek is weer terug by die middel, maar ek is nie alleen nie. Lana staan hygend oor die rand van die fontein gebuk, die kompas tussen haar vingers vasgeklem. Sy het dit gekry nadat ek dit laat val het! Ek gee ʼn tree vorentoe en vries. Daar is rimpels in die water; die derde muntstuk lê nou glinsterend op die bodem van die fontein. My oë rek. Sy het haar eie wens kom maak!

“Adriaan?” hyg sy toe sy my raaksien.

Die dorp se kerkklok weergalm skril deur die nag. Middernag – ek het verloor!

ʼn Hand gryp my arm en begin my terugtrek in die doolhof. My voete volg asof ek gehipnotiseer is. Al wat ek kan sien, is die grypende, groeiende skadu’s om my en die hoë, eindelose heinings wat dreig om my te verslind.

Dis verby. Dis verby met my!

Die vriesende naglug tref my soos ʼn vuis in die gesig. Ek kyk verwilderd om my rond. Ek is buite die doolhof! Lana se bewende hand is nog steeds in ʼn ystergreep om my arm vasgeklem. Ons oë ontmoet mekaar in stille skok terwyl ons op die klam gras inmekaarsak.

“Hoe…?” hyg ek.

“Hy het my gevra of ek ʼn speletjie wil speel … vir ons vryheid. As ek nie die kompas kon gebruik om ons altwee uit te kry nie, dan – dan sou ons in die doolhof moes bly. Vir ewig.”

ʼn Skril, onaardse skreeu weergalm deur die lug. Voor ons oë begin die doolhof toegroei. Die doringtakke en rankplante vleg styf deurmekaar en verdroog met ʼn bloedstollende geknars en gekraak.

ʼn Doodse stilte kruip oor die nag.

Die doolhof se geheime lê weereens diep agter sy mure versteek.

Die doolhof – Laura Kruger
Eerste prys (hoërskoolafdeling) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021.

Een is gelyk aan ses

Sewe slymerige slakke! Hoe op aarde gaan ek verduidelik dat die verjaardagpresent waarvoor ek so lank gewag het binne ‘n dag weg is? 

***

Ons bly nou ‘n maand in ons nuwe huis in die nuwe dorp. Ek is elke oggend al voor sonop wakker. Daar is ‘n hoenderhaan ‘n ent van ons af wat vals, maar vasbeslote daarvan seker maak. Dit help nie eers om ‘n kussing oor my ore te druk nie, want hy stop eers met sy aardige solo wanneer die son vol by my kamervenster inskyn. Maar vanoggend gee ek glad nie om nie: dis my verjaarsdag! Ek strek my lank en salig op die bed uit met my arms agter my kop ingevou. En wag…

Dis ons gesin se tradisie om hul present oop te maak voor die een wat verjaar skool toe of werk toe gaan. My tone krul sommer al klaar van lekkerkry. Ma het gister reeds die kolwyntjies gebak wat Juffrou Ilse kort pouse vir ons klas gaan uitdeel. Vanillageur met die Bloubulle logo op, al bly ons nou in die Vrystaat. 

Daar is ‘n geskuifel en ‘n ligte kloppie vóór my kamerdeur op ‘n skreef oopgaan en Pa en Ma se gesigte in die opening verskyn. Harry, die Jack Russell, druk sommer so tussen hulle enkels deur en is woeps! bo-op my bed terwyl hulle ‘Veels geluk, liewe Xander’, sing.

Ma oorhandig ‘n groot boks oorgetrek met Dinosourus-geskenkpapier.   Ek wonder of hulle my lysie met leidrade vir ‘n geskenk reg verstaan het? 

Xander se verjaarsdag wenslys:

  1. Bloubulle Rugbybal
  2. Perd
  3. Bottelneus dolfyn
  4. Rugbybal met Bloubulle logo op.

(Het julle gesien wat ek gedoen het met nommers twee en drie?  Dis goed wat ek nooit in ‘n miljoen-biljoen-triljoen jaar sal kan kry nie.  Dis Die Plan, want ek wil eintlik ‘n Bloubulle Rugbybal hê).

Maar, in die middel van al die lae sneespapier wat ek uitgrou en Harry daarna in flentertjies skeur, is my present in volle glorie: ‘n regte, egte Bloubulle rugbybal. 

“Dankie, Pa! Dankie, Ma! Dis die perfekte geskenk! Dis die perfekte dag!”

“Baie geluk, Seuna. Ons weet jy wag al lank hiervoor. Maar”, sê Pa met sy ‘nou-is-ek-ernstig-gesig, “jy oefen net by die skool. Ons wil nie hê jy moet ‘n ruit hier uitskop nie”. En toe hulle uitstap, sê hy saggies vir Ma: “As hy nie twee ore gehad het nie, het daai glimlag reg rondom se kop geloop”.

***

Dis ‘n lieflike sonskyn middag op Loftus. Die skare is so stil jy kan hoor hoe hulle aan hul worsbroodjies kou. Xander maak gereed om punte aan te teken en mik vir die pale. Hy skop!”, sê die blikkerige stem van die aankondiger.

Yes, Xander! Dis jou beste skop ooit! Nou is ek Xander: die Bloubul. Een drie is gelyk aan vyf. (Ek weet, ek weet – dit maak nie sin nie). En as ek oorskop kry ons nog twee punte. Dan is een eintlik gelyk aan sewe.

Rugbyballe

Dinge gebeur baie vinnig: my voet tref die bal en dit trek met ‘n perfekte boog. Die denkbeeldige skare skree soos besetenes! En toe gebeur dinge verder baaaaie, baaaaie staaaaaadig. Met die afkomslag tref die bal die spits dakkie van Harry se hondehok. Dit tol een… twee… drie… vier keer soos dit oor die tuinmuur trek. Vir ‘n oomblik lyk dit of die bal met die vyfde tolslag teen die ruit tot stilstand gaan kom. Toe skerf die glas in honderde stukke en ‘n donker gat sluk my splinternuwe rugbybal in. Waar daar oomblikke gelede nog ‘n venster was, is daar nou die mond van ‘n monster met lang slagtande van glas. Sewe slymerige slakke!

Harry, wat tot nou toe saam gespeel en met hoë blaffies agter die bal aan gehardloop het, skrik so groot van die lawaai dat hy reguit huis toe nael. Verraaier! 

Ek weet die regte ding om te doen is om te gaan om verskoning vra by die bure vir die helse gemors. Ek sal moet aanbied om met my sakgeld die ruit te laat regmaak. (Erg!). En dan sal ek vir Pa en Ma moet vertel. (Baie erger!). Ma sal sê dis wat gebeur as kinders nie ore het nie en Pa sal verseker nie dink dat my plan om wég van ons huis te skop ‘n goeie een was nie. 

Jip, Xander! Dit sal die regte ding wees om te doen. Dis net… Daar’s nie iemand om voor te gaan jammer sê nie. Daar bly reeds vir maande lank niemand in die vaal ou huis sedert die Omie wat daar gewoon het oorlede is nie. Die grasperk en die potplante op die stoep is morsdood verdor. Die tuinhekkie is vasgesweis met roes en die gordyne dig toegetrek om die huis se geheime binne te hou.

Want: Tannie Jessie oorkant die straat vertel ‘n week terug vir ons niemand stel belang om die huis te koop nie. Dat alhoewel die Omie oorlede is, hy steeds in die huis “bly”. Wanneer sy “bly” sê, maak sy aanhalingstekens in die lug met haar vingers en trek haar wenkbroue in ‘n boog terwyl sy skuinsweg na die lendelam huis kyk. Blykbaar het die dorp se eiendomsagent hom al hoor loop op die solder; voetstappe, ‘n kierie se stamp en aaklige sleepgeluide. Toe sy in die gang af retireer voordeur toe, kom daar sisgeluide uit die donker eetkamer. Sy sweer gloeiende oë het van onder die eetkamertafel vir haar gekyk! 

Tannie Jessie was besig om haar roosbedding nat te lei toe die eiendomsagent gillende op haar spykerhakke by die huis uitstorm en met haar wit Kia wegjaag – sommer met ‘n stuk van haar rok wat so wapper waar dit in die kar se deur vasgeslaan is. Nou wil niemand hul voete sit in die huis waar die Omie se spook bly nie…

Ek wil ook nie my voete in daai huis sit nie. Maar waarvoor is ek banger: ‘n teleurgestelde Pa wat sal wil weet waar my nuwe rugbybal is of ‘n sissende, sleepvoet, rooi-oog spook in die huis waar my nuwe rugbybal is?

Ek kan nie waag dat die geroeste hekkie my posisie verklap of dat Tannie Jessie my deur die voortuin sien sluip nie. Ek besluit om Harry se hok tot teenaan die tuinmuur te skuif en dan oor te klim in die boom langsaan. Binne-in die huis net vinnig my bal te gryp en dan dieselfde roete terug volg. 

Niemand hoef ooit hiervan te weet nie. Ek moet net doodstil hieroor bly. Yes, Xander! Dis Die Plan. ‘n Ringnekduif skrik so groot toe ek langs haar op ‘n tak klim dat sy tjorts! en vervaard wegvlieg. Vir ‘n paar sekondes fladder daar ‘n verskrikte duif in my borskas ook. Die struik waarop ek land, keer darem dat ek my vol rowe val op die sement oprit aan die ander kant van die tuinmuur. 

‘n Wolk skuif voor die son in en gooi ‘n emmer grys verf oor die verweerde ou huis en tuin uit. Ek kry skielik koud. Die plek gee my die horries!

Die stukkende venster is te hoog vir my om deur te klim. Daai glasskerwe sal in elk geval sommer biltong van my maak. Ek kruip-loop om die huis om te kyk of daar ‘n ander manier is om in te kom.

Toe ek om die hoek loer kan ek my oë nie glo nie: die voordeur staan wraggies op ‘n skreef oop! Die eiendomsagent moes met haar groot skrik vergeet het om dit weer te sluit. 

Ek kan oor die stoepie kruip en by die voordeur inglip. Net eers mooi dink waar die gebreekte venster van hier af is, want ek wil so vinnig as moontlik uit die monster-huis uit wegkom. Maar sê nou net…

  1. Die gloeiende oë is lasers wat dwarsdeur mure kan kyk en sien waar ek is? 
  2. Hy trip my met sy kierie en sleep my na die solder toe? 
  3. Hy weet al klaar dat ek hier is? 
  4. Die gebreekte venster het hom uit sy middagslapie wakker gemaak en dat hy nou woedend en slobberrend in die huis rondloop?

In die verte dawer die kerkklok. Dis vieruur. Pa en Ma is oor ‘n uur by die huis. My tyd raak min. 

Die voordeur waarvan baie jare se lae groen enamelverf afdop, klink of dit uit die skarniere gaan skeur toe ek dit oopstoot. Onder my hande en knieë is die plankvloere toe onder ‘n mat van blare en stof. Ek is in! Die deur kraa-a-a-a-k agter my toe.

Oorkruipers

Die gang is nou ‘n pikswart grot. Ek voel soos Jona in die walvis se maag. My oë begin die donker gewoond raak. Die vertrekke se deuropeninge gloei met ‘n flou rooi of geel skynsel soos die sonlig deur die ou gordyne worstel. Hoeveel kakkerlakke en oorkruipers is nou saam met my op die donker vloer? My kop draai van té vinnig opstaan en met my volgende tree loop ek gesig-eerste deur die taai spookasem van ‘n spinnerak. 

Sewe slymerige slakke!

Slymerige slakke

Ek sien ‘n wit eier-vorm op die hoek van die mat in die sitkamer. My bal! Yes! As ek dit nou gryp en spore maak is ek betyds by die huis.

Toe die bal vir my begin grom, moes ek onraad vermoed het. Toe die bal vir my sis met die optelslag, moes ek eerder laat los en spore gemaak het. Toe die bal met gloeiende oë ‘n uitgerekte nagmerrie skree gee, was dit reeds te laat. Naalde kap in my hande in! Lemme sny my arms, my skouer, my rug! Ek val grond toe in ‘n bondeltjie. Probeer my gesig met my arms toehou.

En toe is dit skielik verby. Dis doodstil. My hart slaan trom in my ore. My asem jaag erger as na ‘n rugbywedstryd. Die snyplekke op my arms is kloppende kole vuur. Ek is te bang om te kyk wat aangaan…

Ek voel iets warm verby my been vee. Hy’s terug! Kort hale skuurpapier trek oor die onderkant van my regtervoet. My skopvoet. As ek hierdie oorleef is my droom om vir die Bloubulle te speel verby. Ek gaan vermink verder moet lewe. Xander met die stompie-been.

Ek voel hoe hy om my beweeg.

Nader. 

Nog nader. 

Tot teenaan my arms wat pateties om my kop gevou is vir beskerming. Dis verby met my! HY GAAN MY…!!! 

Purrr… purrr… purrr… purrr? My oë is twee garagedeure wat onwillig ooprol.

“Meow!”, sê die wattebol voor my gesig. “Meow!”

Ek kom stadig orent. Nou is daar nóg vier nuuskierige wattebolle om my.

“Meow! Meow! Meow! Meow! Meow!”

Dit neem ‘n rukkie vir my om te registreer wat aangaan. Die monster is nie ‘n hy nie, maar ‘n sy. En sy is ‘n Ma-kat wat uitgestrek lê op die mat ‘n entjie van my af.  Asof daar nie minute van tevore ‘n stryd om lewe en dood plaasgevind het nie. Sy lek haar voorpoot en vee dit dan een, twee, drie keer oor haar ore voor sy die skoonmaakproses van voor af begin. Die wattebolle raak gou verveeld met my en mik een-vir-een gretig vir die sagte teiken van haar maag. Dis tyd vir aandete. 

***

Spoortjies

Die Plan moet natuurlik nou verander. Ek besluit om die bul by die horings te pak en by die motorhuis vir Pa-hulle te wag. Ek sal alles moet vertel. Maak nie saak hoe erg dit gaan wees nie of hoe swaar die straf is nie. 

Want daar is: 

  1. Wonde wat ontsmet moet word. 
  2. ‘n Venster wat reggemaak moet word. 
  3. ‘n Oproep wat gemaak moet word na die mense wat die VERMIS: Katinka plakkate oral in die dorp opgesit het. 
  4. Vyf wattebolle wat name en huise moet kry.

Plakkaat

Sewe slymerige slakke! Een (vermiste kat) is toe al die tyd gelyk aan ses…

Een is gelyk aan ses – B Olivier
Wenverhaal (eerste prys) in volwasse-afdeling.

Storiewerfskryfkompetisie 2021.

Vasgevang

“Wat speel jy?” 

Thea wip soos sy skrik toe Luan, haar 9-jarige boetie, skielik agter haar praat.

“Niks met jou te doen nie,” sê sy nors en druk haar selfoon teen haar bors vas.

Die laaste ding wat sy nou nodig het, is dat hy haar vra om Roblox  te speel. Hy vra elke dag en haar antwoord bly elke dag dieselfde: Nee. Hy breek boonop alles wat in sy hande beland.

“Môre is my verjaarsdag,” glimlag  hy vroom, “Mag ek vir my verjaarsdag op jou foon speel?”

“Ja. Môre,” antwoord sy bot.

Skielik gryp Luan Thea se foon uit haar hand en kruip onder die koffietafel in waar Thea hom nie kan beetkry nie.

“Gee my foon TERUG!” gil Thea byna histeries.

Sy duik onder die koffietafel in en klou met alle mag aan haar selfoon, in Luan se hand, vas. Thea ruk haar foon terug en stamp haar kop so hard aan die onderkant van die tafel dat die blompot omval en in skerwe spat. 

“Sien wat het jy nou gedoen?” raas Thea.

Sy en Luan kyk verskrik na die gebreekte keramiekstukke en water wat oor die duur houttafel drup.

“Wat gaan hier aan?” bulder Pa skielik agter hulle, “Julle weet ek probeer werk.”

Pa het ’n diep frons tussen sy oë. Vandag moet hulle versigtig trap.

“Thea wil nie hê ek moet op haar foon speel nie,” kerm Luan terwyl hy so onskuldig soos hulle strepieskat probeer lyk.

“Dit is nie waar –” probeer Thea protesteer, maar haar pa val haar in die rede.

“Is julle huiswerk al gedoen? Het julle al die wasgoed opgehang soos ek gevra het? Het julle al vir Strepies kos gegee vanmiddag?”

Thea soek vir woorde, maar dit sit in haar keel vas.

“Jy is die hele dag op daardie selfoon,” gaan hy voort,  “Plaas dat julle ’n bietjie buite speel soos ander kinders.”

Pa ruk  Thea se selfoon uit haar hand en marsjeer terug studeerkamer toe. Thea staar haar pa verslae agterna.

Aw man,”  kerm Luan, “Ek wou regtig graag Roblox gespeel het.”

“Jy is ’n puisiepunt!” snou Thea hom toe en storm kamer toe.

Die vensters bewe soos sy die deur agter haar toeklap.  

***

Daardie aand kan Thea nie aan die slaap raak nie. Al waaraan sy  dink is die gebeure van die middag. Dit voel so vreemd om nie haar selfoon te hê nie. Sy kan nie die nuutste trends op Tik-Tok sien nie, sy kan nie saam met Leandri Roblox speel nie en die ergste van alles is, dat sy nie eers vir iemand kan laat weet dat haar foon gevat is nie! Sy het seker teen hierdie tyd al 20 Whatsapps.

Thea hoor hoe haar ouers die deure sluit en na hulle kamer beweeg. Sy spits haar ore. Sy kan nie alles uitmaak wat hulle sê nie. Dit klink iets soos:

“Ek het Thea…foon…”

“Ja…vanmiddag…”

“Wat van…Luan…verjaarsdag…môre?”

Na ’n rukkie is dit doodstil en donker in die huis. Pa se snorke is al wat hoorbaar is. Saggies staan sy op. Die houtvloer kraak onder haar voete. Sy luister ’n oomblik.  Niks. Suutjies sluip sy gang af tot in haar pa se studeerkamer.  Versigtig maak sy die deur oop.

In die donker voel-voel sy in al die rakke. Skielik skuifel iets agter haar pa se lessenaar. Sy vries. Haar hart klop wild. Daar – op haar pa se stoel – sit ’n donker figuur. Thea se hart gaan staan amper. ’n Gil stol in haar keel.

“Wat soek jy hier?”  fluister die figuur hees.

Dis net Luan.

Ek soek my foon. Wat soek jý hier?”  

Ek soek ook jou foon. Ek wil “Roblox” speel.”

Nog voor Thea iets kan sê, trek Luan een van die laaie oop. Sowaar, tussen haar pa se papiere lê haar selfoon.  Thea en Luan gryp gelyk na die selfoon. 

Los my foon, Luan!”  fluister Thea dringend.

Luan los nie. Hulle ruk en pluk aan die foon. Skielik kom daar ’n warrelwind van nulle en ene uit die foon getol. Dit spin hulle om en om en om. Die warrelwind van nommers word sterker en meer. Dit lig Thea en Luan op waar hulle steeds aan die foon vasklou. Thea voel hoe sy kleiner en kleiner word. Die wind is te sterk. Dit suig haar en Luan tot binne die foon in en spoeg hulle op die selfoon se tuisskerm uit. 

Die nommers verander in pers skoenlappers wat om hulle vlieg. Luan gryp na een, maar hulle is te rats. Thea verwonder haar aan die oop veld waarin hulle staan. Hier en daar sweef ’n paar apps rond. Tussen die wolke en die pers lug is haar kalender. “Luan verjaar” waai bo hulle koppe verby.

“As jy maar net jou wallpaper iets anders wou maak kon ons nou by die see wees” terg Luan.

“Bly jy stil, ” sê sy bitsig, “Dit is alles jou skuld!”

“Ag, issie man,” sê Luan dapper.

“Kyk!” Hy hardloop volspoed teen die glasskerm vas.

Sy kop maak ’n harde “donk” teen die glas. Eina. Teen die glas sit daar twee handmerke en ’n gesigafdruk. Die skerm se lig gaan aan en die selfoon skud soos dit vibreer.

“Dit is so cool,”  sê Luan en hardloop ’n tweede keer teen die glas vas.

“Hou op, Luan!” roep Thea terwyl sy benoud vashouplek soek soos die foon skud.

“Dit is wat elke keer gebeur wanneer jy ’n boodskap ontvang, Thea,” praat ’n stem skielik agter hulle, “Dit is nie lekker nie, né?”

Thea staar na die mooiste foon-vroutjie wat na hulle aangesweef kom. Dit lyk of haar hele liggaam deur seine en radiogolwe bymekaar gehou word.

“Wie is jy?” vra Luan nuuskierig.

Haar stem het ’n beheersde, kalm toon wanneer sy praat:  

“Sommige noem my Alexa. Ek is ook Siri en Bixby en die stem van Google. Ek verkies egter, Watsenaam.”

“Watsegoed?” vra Luan met ’n frons.  

“Nee,” sê die foon-vroutjie steeds baie geduldig, “WAT-SE-NAAM. Ek is die bestuurder van Slimfoon A8. Ek het ’n sterk wind gehoor en toe die foonbewings. Dit is my werk om te kom kyk wie ons so laat in die aand pla.”

“Ons?” vra Thea.

“Ja,” sê Watsenaam, “Ons werk hard om jou tydens skermtyd tevrede te hou.”

Sy stryk haar helderkleurige romp met haar hande reguit.  

“In elk geval, ek praat te veel. Kom ek wys julle liewer.”

Luan hardloop gretig agter Watsenaam aan by die tuisskerm uit.  Thea vou haar arms nors. Daar is nie ’n manier dat sy Watsenaam gaan volg nie. Sy vertrou haar glad nie. Luan moet maar sy les leer. As hy net haar selfoon wou uitlos, dan sou hulle nie nou in hierdie gemors gesit het nie.  

Thea gaan lê op haar rug en kyk na die skoenlappers. Sy is baie tevrede met die prentjie wat sy vir haar tuisskerm gekies het. Skielik breek ’n angswekkende gil die stilte. Die skoenlappers vlieg verwilder weg. Thea kyk verskrik om haar rond. Was dit Luan? Het hy seergekry? Sy het geweet sy kan nie vir Watsenaam vertrou nie! Haar hart klop vinniger. Wat gaan sy vir haar ouers vertel as Luan weg is? Hoe gaan hulle haar ooit hier kry? Dit is nie Luan se skuld nie…dit is haar skuld.

Vasberade staan Thea regop.

“Dit is my foon. Ek is die bestuurder hiervan – nie  Watsenaam nie.”

Vol moed stap sy na die plek waar Luan en Watsenaam verdwyn het.

“Ek, wat Thea is, sal my boetie kry en Watsenaam sal seker maak dat ons hier uit kom as sy weet wat goed vir haar is.”  

Thea verkyk haar aan die binnekant van haar selfoon. Dit lyk glad nie soos die tuisskerm nie, maar eerder na ’n huis met baie vertrekke. Sy draai by die eerste vertrek in wat sy sien. Bo die deur staan daar in blink letters: Tik-Tok. 

Die hele vertrek lyk soos ’n filmstudio.  Daar is ’n verhoog, kameras, ligte en ’n klomp spieëlkaste en kostuums. Die vertrek is vol bedrywige akteurs. Sommige grimeer terwyl ander se hare gedoen word.

“Het enige een van julle vir Luan en Watsenaam gesien?” vra sy hard.

Almal stop waarmee hulle besig is en kyk vir Thea. Sommige begin agter hulle hande fluister en giggel.

“Wel, is dit nou nie Thea van Wyk nie?” vra een van die akteurs sarkasties.

“Ag help my,” sê ’n blonde aktrise, “Ek is so moeg om die hele tyd in haar gesig vas te kyk.”

Een vir een stap hulle nader om Thea beter te bekyk.

“Weet jy, Thea,” sê ’n ander een, “Ons is só moeg en oorwerk. Al wat ons 24/7 moet doen is jou vermaak.”

Thea weet nie wat om te sê nie. Sy het nie geweet dit is hoe die mense op Tik-Tok oor haar voel nie. As sy nou terug dink, het sy lang tye op Tik-Tok  spandeer.

“Ek is jammer,” stotter sy.

“Jammer?”

Die akteurs en aktrises kom nog nader en vorm ’n halfmaan voor haar.

 “Jammer gaan nie dinge regmaak nie, Thea.” 

Thea sluk benoud. Weer skeur die gil deur die selfoon. Sy druk haar ore toe. Luan is definitief nie hier nie. Sy hardloop by Tik-Tok uit voor die akteurs haar miskien beetkry. Sy draai by die volgende vertrek in: Whatsapp.

Thea voel verlig. Sy is seker daar is niemand hier wie sy kon ontstel nie.

“AAAAAAAAAAAAAAAAARGH!”

Thea gryp haar hart vas soos sy skrik.  In die middel van die vloer sit ’n mannetjie met ’n ronde, geel gesig. Dit is hy wat so gil. Skielik begin hy verskriklik huil dat die trane loop.  Thea gaan hurk langs hom.

“Wie is jy?” vra Thea rustig.

“Ek…ek… is Emoji.”  

“Net een?” vra Thea. Sy het gedink daar is baie.

“Ja,” sê hy, “Dit is my werk om al die emosies en voorwerpe voor te stel wat jy in ’n boodskap wil gebruik.”

“Wat makeer dan, Emoji?” vra Thea.

“Ek…ek…kan…nie meer nie,” snik Emoji. “Ek…ek…is…nie….meer myself nie.”

Skielik begin hy glimlag. Sy gesig verander na ’n dieper geel. Dan skater hy weer dat die trane loop. Die trane verander in hartjies en die rooi hartjies maak sy gesig rooier en rooier. Nou frons hy. Dieper en dieper. Hy is woedend.  Weer gee hy ’n bloedstollende gil van frustrasie.

“Sien wat het jy gedoen Thea! Ek moet van gesig verander elke paar sekondes op jou bevel! Weet jy hoe dit voel om nie te weet hoe jy voel nie? Ek is….is…”

Die rooi begin verander na groen. Hy gaan naar word! Thea gryp haar mond vas. Gelukkig verander Emoji vinnig weer na ’n ligte pienk en ’n koorspen verskyn in sy mond.

“Ek is moeg en siek, Thea. Kyk wat het jy aan my gedoen…” sê hy flou.

Dan word hy grys tot sy gesig in ’n kopbeen verander.

Verbyster stap Thea by Whatsapp uit. Van nou af sal sy onthou om minder gesiggies te gebruik. Soos sy wegstap, gil Emoji weer. Thea ril. Dalk beter, sy sal minder op Whatsapp gesels.  As die gil nie Luan s’n is nie, waar kan hy dan wees?

Uiteindelik sien sy vir Watsenaam en Luan voor ’n vertrek staan. Sy hardloop na hulle toe.

“Luan! Watsenaam!” roep sy.

“Ah, Thea,” praat Watsenaam steeds kalm, “Ons het gewonder wanneer jy by ons gaan aansluit.”

Thea is glad nie vriendelik nie.

“Luister vir my Watsenaam, ek en Luan wil huis toe gaan. Jy gaan ons nou verduidelik hoe ons hier uitkom.”

Sy gryp Luan aan sy arm, maar hy ruk los.

“Nee, Thea,” sê Luan, “Ek wil hier bly en Roblox speel. Jy wou my mos nie die kans gee nie.”

Thea sien nou eers die blou geblokte letters bo die deur:  ROBLOX.

“Asseblief, Luan! Moenie! Jy weet nie eers hoe Roblox werk nie,” smeek sy.

Luan steek sy tong vir Thea uit en verdwyn in die donker vertrek.

“Wel,” sê Watsenaam, “Ek gaan julle tweetjies maar hier los om dinge uit te praat. Ek ken boonop nie die pad uit nie.”

Nog voor Thea kan keer, is Watsenaam reeds weg. Thea staan weer alleen in die gange van haar selfoon. Sy sal Luan moet gaan soek. Hy gaan nooit al daardie hindernisse oorleef sonder oefening nie. Sy probeer nie eers dink aan die moordenaar in party speletjies nie. Dalk moes sy hom maar ’n kans gegee het om te speel…

Die grootste uitdaging gaan wees om uit te vind in watter een van die duisende speletjies hy verdwyn het. Vol moed spring Thea by die eerste speletjie in. Sy verander in ’n blokkie-karakter en alles om haar is in animasie styl. Sy haal diep asem en roep so hard as wat sy kan:

“Lu-an!”

’n Spraakborrel verskyn bo haar kop waarin daar staan: “Luan!” Dit gaan nie werk nie.  Skielik vlieg daar ’n yslike vliegtuig oor haar kop. Sy waai met al twee haar arms in die lug om te wys sy wil saam vlieg.  Dit vlieg net verby. Gelukkig land daar ’n kleiner vliegtuig langs haar en vlieg na al die eilande. Luan is nie op een van hulle  nie.

Sy hardloop by die volgende speletjie in. Sy staan in ’n donker woud saam met 14 ander karakters. Haar hart begin wilder en wilder klop. Net die Flicker nie! Haar oë gly oor die skare. Sy sien Luan agter ’n boom staan. Sy hardloop na hom toe. 

Luan, ons moet hier uit! Een van hierdie mense is ‘n moordenaar!

No way! Ek is nog nie klaar gespeel nie!

Die speletjie begin. Skielik is dit pikswart. Thea ys. Sy weet wanneer dit swart word, gaan iemand sterf. Die ligte gaan weer aan. Hulle is nou 13 mense. Daar is geen teken wie die moordenaar is nie. Dit lyk nie of dit Luan pla nie. Hy hardloop wild rond terwyl Thea by hom probeer bly.

Na ’n rukkie is dit net sy en Luan oor. Dan verskyn daar ’n kort mannetjie, met ’n mes in sy hand, van agter ’n boom. Thea begin hardloop. Dis die moordenaar! Sy kan gil van vrees!  Luan staan ’n rukkie vir die vreemde karakter en kyk. Die moordenaar begin hom jaag.  Luan storm agter Thea aan. Hulle hardloop sommer by die speletjie uit. Die moordenaar ook.

Hy jaag hulle by die gange van die selfoon af.

“Help!” skree Thea.

“Help!” skree Luan.

“Help?” vra die mense in Tik-Tok en begin by die vertrek uitbondel.

“Help?” vra Emoji. Sy gesig is in verbande toegedraai. Hy rol soos ’n balletjie by die vertrek uit.

Saam met die moordenaar begin hulle om vir Thea en Luan te jaag. Hulle hardloop tot in die tuisskerm. Thea staar na die swart skerm voor hulle. Sy kyk om en sien die skare wat briesend aangestorm kom; die moordenaar heel voor. Hulle lyk baie kwaad. Sy neem Luan se hand in hare.

“Een…Twee…Drie!”

Saam hardloop sy en Luan met al hulle krag in die skerm vas. Die foon skud en vibreer. Hulle val hard op die tuisskerm terug.

Die jaende skare kom nader en nader.

“Ek het ’n plan!” roep Luan en beduie na die herlaai-gaatjie aan die onderkant van die skerm.

Sonder om twee keer te dink, begin Thea en Luan om hulself deur die nou gaatjie te wurm.

Hulle kyk na mekaar waar hulle saam die selfoon in die studeerkamer vashou. Sonder om te twyfel, druk hulle die foon terug in die laai en stoot dit styf toe. So saggies, maar vinnig, as wat hulle kan, sluip hulle kamer toe. Thea druk die deur stewig agter haar toe.

***

“Veels geluk liewe, Luan,” kom dit vanuit die gang. Thea maak haar oë lomerig oop. Die son skyn helder in haar kamer. Luan verjaar! Thea hardloop na Luan se kamer toe waar haar ouers met ’n geskenksakkie staan. Luan gee een kyk vir Thea en sy weet hulle dink dieselfde. Dit was nie ’n droom nie.

Luan maak haastig die geskenk oop. Hy en Thea staar lank na die pakkie in sy hand.

“’n Selfoon!” roep hy verbaas uit.

“Ek en Ma het gedink jy is nou oud genoeg om Roblox op jou eie foon te speel,” sê Pa.

“En Thea,” sê Ma, “Ek en pa het besluit ons gaan jou selfoon vir die week hou. Jy kan dit Sondag kry wanneer ons sien dat jy meer tyd aan jou skoolwerk spandeer.”

Thea knik gretig.

“Ma-hulle kan dit sommer tot Kersfees hou. Van nou af gaan ek my huiswerk doen, die wasgoed ophang en elke middag vir Strepies kosgee.”  

Pa en Ma kyk verbaas na mekaar.

“Wie weet, dalk speel ons ook buite soos ander kinders,” sê Luan en knipoog vir Thea.

Alex en die volmaan

Sproetgesig Alex trap sy fiets dat die remme fluit. Die koue lug sny deur sy wange soos hy die top van die heuwel nader. Die twaalfjarige is soek na sy pa. Hy sug en skuif sy effens te groot bril terug op sy neus.

“Waar is jy?” vra Alex. Hy haal sy pa se nagvisie-kamera uit sy rugsak. Alex rits sy sak toe, maar die aksie word stopgesit deur ‘n skielike geluid in ‘n bos agter hom.

 “Pa? Is dit jy? Of is dit dalk iets anders?” vra Alex saggies terwyl hy die donkerte in staar. Die onsekerheid laat sy handpalms sweet en sy hart klop vinniger as voor ’n wedloop.

“Wie is dit?” vra Alex. Hy weet nie waarom hy so iets vra nie. Dit is miskien die weerwolf wat hy probeer vang.

“Dit is ek, Ané. Jou sussie! Wie anders kan dit wees?” snou die figuur Alex toe.

“Dankie tog!” sê Alex verlig. Hy skakel sy flits aan. Alex herken die krulbos hare en skraal stem onmiddellik.

“Moenie die flits in my oë skyn nie. Dit is so helder soos ʼn trok op die N1!”

Alex sien dat Ané se broek vol dorings is. Hy sê liewer niks vir haar daaroor nie.

“Ek het vir ʼn oomblik gedink dit is Pa.”

“Pa? Kan ’n mens hom nog ooit Pa noem?”

Ané is Alex se ouer suster. Sy is in ʼn fase in haar lewe waar sy heeltyd net op haar foon gesels en op haar ouers se senuwees werk. Alex is verbaas dat sy vanaand met die soektog help, want sy hou baie van televisie kyk en haar sepies het alreeds begin.

“Die ander dink Pa is by die dam.”

Alex het dieselfde gedink, maar hy moet eers die dorp van bo af bekyk. Alex skuif sy bril terug op sy neus. Hy kyk deur die nagvisie-kamera om te sien of sy pa in die strate is.

Hierdie soektog is alles te danke aan Ané en haar simpel poetse, maar dit het hierdie keer te vêr gegaan.

Alex se ma, Retha is nie die beste kok nie. Haar sop is volgens haar, haar sterkpunt. Ané het gedink dit sal snaaks wees as sy die hond se kos in Pa se sop meng.

Die sop is so waterig en sleg dat Pa dit nie eens agtergekom het nie. Al was dit nie lekker vir hom nie, sou Pa steeds niks gesê het nie. Hy wil tog sy huwelik spaar.

Oomblikke later het Pa begin bewe. Die hare op sy liggaam het verdubbel en sy kakebeen het verleng. Die sop en hondekos het ʼn chemiese reaksie gehad. Dit het chaos en paniek in die huis veroorsaak.

Die senuweeagtige weerwolf het met ʼn oop bek gegrom en by die kombuisdeur uitgehardloop.

Almal was verslae en onseker oor die moontlikheid van so ʼn eienaardige gebeurtenis. Ma het byna die hele familie gebel.

Alex wou nog altyd ’n weerwolf sien, maar hy het nie gedink dit is moontlik dat sy pa vanaand een sou word nie.

“Ek sien hom ook nie van hier af nie. Ek gaan na die dam toe ry. Gaan jy solank terug huis toe?” Alex sit die kamera terug in sy rugsak en tel sy fiets van die grond af op.

“Het die volmaan met jou kop gesmokkel? Ek is die ousus en jy is net twaalf jaar oud. Ek kan jou nie net los nie.”

Alex raak gefrustreerd. Sy sproetgesig gloei en sy hart begin weer vinniger klop. Hy moet sy pa vind voor hierdie aand verby is.

“Kom dan saam!” Alex sit sy sak op sy fiets en Ané huiwer nie vir ’n oomblik om ook agter op te klim nie.

 “Die fiets trap effens swaarder met jou agterop, Ané,” sê Alex uitasem.

Alex voel hoe sy bene brand. Die strate is stil en verlate met net die rook van almal se kaggels wat ’n wolk oor die straat laat hang. Dit maak alles wat vanaand aan die gang is net meer spookagtig.

In die straat af staan ‘n harige figuur onder ʼn gebreekte lamppaal. Die figuur het vier bene, skerp naels en gloeiende geel oë. Alex stop in die straat net ’n paar meter van die figuur af.

 “Alex, sien jy ook wat ek sien? Is dit ʼn wolf?” vra Ané hakkelend.

Alex se bene begin bewe en die fyn hare op sy arms staan regop. “Ek sien dit ook.”

Die reuse figuur staan stil in die donker en Alex haal sy rugsak van sy rug af. Hy haal die nagvisie-kamera uit. Die skielike beweging van Alex laat die weerwolf grom. Die geel oë staar na die Alex en Ané. Dit is al waarop Alex nou kan fokus.

“Dit is definitief die weerwolf. Ek het gehoop dit is oom Fanie se hond. Ons moet ’n plan maak om hom te vang,” sê Alex dapper.

“Wat is jou plan?” vra Ané.

“As weerwolwe soos wolwe is, sal hy nie sommer nader kom terwyl ek hom direk in die oë staar nie. Dit het Voortrekkers my geleer. Haal jy die fluitjie in my sak uit.”

Ané vat die sak by Alex en haal die fluitjie daaruit. Haar hande bewe en haar maag grom van senuwees. “Ek het die fluitjie. Wat moet ek volgende doen?”

“Gaan in die veld hier agter ons in. Kry ʼn paar groot klippe en vat die deksel van die vullisdrom ook.”

Die weerwolf beweeg nader aan ʼn vullisdrom wat langs hom staan. Vir ʼn oomblik wil dit vir Alex voorkom asof die weerwolf hom verstaan. Alex skuif sy bril terug op sy neus.

“Ané, hoe lank nog?” vra Alex. Hy is bang dat die weerwolf hom gaan storm as hy nou langer wag.

“Ek is klaar!” roep Ané effens bo die stilte van die straat uit.

“Jy raas, praat sagter!”

“Wat moet ek nou volgende doen?” Ané is vol stof. Sy dra swaar aan die klippe, maar sy is net so gretig om die weerwolf te vang.

“Beweeg jy stadig terug na die boom. Die een verder terug in die straat. Kruip daar weg totdat ek skree ‘weerwolf’, dan blaas jy die fluitjie so hard as wat jy kan.”

“En wat gebeur dan?”

Alex sug en hoop sy plan gaan werk. Hy het ʼn massiewe slaggat gesien ʼn paar meter terug. Riebeeckstad het baie slaggate. Hierdie slaggat is diep genoeg om ʼn weerwolf in te kan vang.

Ané maak net soos wat Alex vir haar gesê het om te doen en beweeg na die boom. Die oorverdowende klank van die weerwolf wat huil, eggo in die straat af.

Hy skuif sy bril terug op sy neus en druk die klokkie op sy fiets. “RING-RING.” Alex begin trap. Na ʼn paar meter roep hy uit: “WEERWOLF-WEERWOLF!”

Ané blaas die fluitjie. Dit het die weerwolf se aandag getrek.

So in die trap kyk hy oor sy skouer. Die weerwolf is agter hom. Alex sien die slaggat wat net voor hom is. Hy duik met fiets en al regoor die gat.

“Perfek!” roep Ané.

Die weerwolf is kort op Alex se hakke. Hy kan nie spring soos wat Alex gedoen het nie. Die weerwolf val halsoorkop in die slaggat.

“TJANK!”

Alex is verstom deur die weerwolf se tjankie. Hy kan sommer hoor dit is sy pa se siel daarbinne. Geen weerwolf gaan so tjank nie. ʼn Regte weerwolf sou hulle buitendien al lankal opgevreet het.

“Alex, kom gou, kom help!”

Alex stop en hardloop tot by Ané en help om deksel en klippe bo-op die gat te pak. Alex tel die swaar klippe met gemak op.

 “Ons het hom, ons het hom!”

Alex en Ané staan ook sommer op die hoop klippe.

“Alex, kom ons pak nog klippe bo-op die deksel,” sê Ané terwyl hulle vasstaan om die weerwolf binne te hou.

“Bel jy vir Ma, Ané. Ek sal nog klippe kry!”

 “Ek bel vir Ma. Alex, die weerwolf moet net nie ontsnap nie!”

“Pa, ons gaan Pa nou help,” sê Alex aan die bewegende deksel.

“Ma, die veearts en die dokter is op pad hierheen,” sê Ané verlig.

Die ligte van die motor kom vinnig om die draai. Die motor kom tot stilstand met die veearts sommer eerste op die toneel. Die veearts waggel in sy pantoffels en nagrok om die motor. Sy botterbene maak dat hy nie so vinnig kan loop nie.

“Definitief ’n geval van ‘Likantropie’ of beter bekend as Wolf-word-man-sindroom,” sê Dokter. Die dokter bly in die motor. Sy hakkelende toon en wankelrige bene laat veel te wense oor.

“Gaan my man dit oorleef?” vra Ma. Sy is geskok en haar krullerige hare staan soos ʼn kraaines. Haar klere is steeds vuil. Dit is vol stukke vleis en groente van die sop. Nadat Pa in ʼn weerwolf verander het, het sy die hele pot sop op haar skoot laat val.

“Ek het al voorheen so ’n geval gesien en het net die beste medisyne daarvoor,” sê die veearts.

“Het Dokter van die medisyne hier?” vra Alex.

“Maar natuurlik! Ek spuit hom sommer dadelik daarmee in. Toe ek hoor van die geval, het ek sommer die inspuiting saam gebring.”

Die veearts nader die slaggat versigtig terwyl Alex met skrefies oë koekeloer na wat volgende gaan gebeur.

“Ditsem!” roep die veearts uit en staan ʼn treetjie terug.

“Wat nou, Dokter?” vra Alex se ma.

“Vir veiligheid gaan hy nou na die plaaslike dierehospitaal sodat hy die nag in ’n hok kan deurbring, mens weet nooit watter simptome hy later kan toon nie.”

Alex begin lag, want die idee dat sy pa vanaand in ’n hok moet slaap is vir hom baie snaaks. “Môre sal ons vir Pa moet gaan aanneem by die diereskuiling en dan is Pa as’t ware ’n troeteldier by die huis,” sê Alex.

“Dit nie eens gepraat van Ané se gekerm en kla wanneer sy besef dat sy ’n broek en been vol dorings het nie,” fluister hy vir sy ma.

Geraamte in die sak

“Maar, ou mense is VERVELIG!” Elana stamp haar voet teen die grond. “Hoekom kan ek nie net by Marelize gaan oorslaap nie?”

Elana se ma gluur haar aan. “Ouma Nettie is dierbaar! Hou nou op kla, ek en jou pa moet amper ry.”

 Elana rol haar oë. Grootmense verstaan net nie. Sy wil haar vakansie geniet terwyl haar ouers in Frankryk rondrits, maar nou gaan Ouma Nettie heeltyd in die pad wees. Elana het vir Ouma Nettie nog net by verjaarsdae en met Kersfees gesien, maar nog nooit regtig met haar gaan sit en gesels nie. Ouma Nettie lyk soos daardie haarlose katte. Laasjaar het sy ’n superryk kêrel gehad, maar hy is vroeër die jaar skoonveld.

Ma se oë peul soos die van ’n verkleurmannetjie uit haar kop. “Marco, ons gaan amper ry. Kyk hoe lyk jy!”

“Wat is fout met my uitrusting?” Pa glimlag terwyl hy uit die studeerkamer gestap kom. Hy het nounet een of ander belangrike Zoom-vergadering bygewoon. Hy wys na sy “stylvolle” uitrusting: ’n netjiese knopieshemp, rooi das en kakiekortbroek met plakkies!

Elana sug. Gelukkig lui die deurklokkie.

Ma maak die deur oop en daar is Ouma Nettie, maar sy lyk bietjie anders as toe Elana haar laas gesien het. Sy dra ’n stywe jean met bloedrooi tekkies. Langs Ouma Nettie toring haar bagasie amper tot by die deurkosyn! Elana wonder wat is in al daardie tasse. Op haar t-hemp staan “Ciao, Bellla” met glitter op geskryf. Haar hare lyk soos wit spookasem.

Elana se mond hang oop.

“Ma lyk… anders.” Elana kan die twyfel in haar ma se oë sien. Sy kyk vir ’n oomblik bekommerd na Elana. “Is Ma seker Ma sal vir Elana kan oppas?”

“Natuurlik! Kom, julle moet in die pad val. Moet oor niks bekommer nie.” Ouma Nettie sien duidelik nie kans vir een van Ma se verantwoordelikheidspreke nie. Elana glimlag breed. Pa druk vir Ma liggies in die kar in terwyl sy nog steeds bekommerd omkyk na Elana.

“Wil Ouma tee hê?  Moet ek vir Ouma Soduku bring?” Elana weet nie eintlik wat doen ’n mens met oumas nie.

Soduku? Tee?” vra Ouma verontwaardig. “Ek is nog veels te jonk om te sit en tee drink terwyl ek Soduku speel, nee dankie!”

Elana weet nie wat om te antwoord nie. Sy stap kombuis toe om ʹn glas water te kry. Ewe skielik voel dit asof ’n aardbewing die huis skud en ’n oorverdowende klank vul die huis. DOEF. DOEF. DOEF. Elana hardloop na die sitkamer toe. Ouma Nettie staan by die stereosisteem en is besig om die volumeknoppie al harder te draai! Op die TV-skerm is Alexander Silwertand besig om sy nuutste liedjie te rap.

“Ouma! OUMA!”

Die musiek is so hard, Ouma Nettie hoor nie eers vir Elana nie. Elana druk haar hande oor haar ore en loop tot by die stereo. Sy draai die klank sagter. “Ouma mag nie die musiek so hard speel nie. Die bure gaan raas!” Elana kyk benoud deur die venster na die bure se huis.

“Waardeer julle bure nie goeie musiek op ’n Vrydagmiddag nie?” Ouma Nettie sug.

Elana kyk verbaas na Ouma Nettie. Haar pa skakel gewoonlik Alexander Silwertand se musiek af wanneer dit oor die radio speel.

“Tannie Bertha is baie kwaai. Sy raas altyd as ons te hard musiek speel. “Elana kyk weer benoud na die bure se huis. Sy sien vir Tannie Bertha oor die muur gluur. Oom Thomas, haar man, is besig om die vullissakke uit te vat. Ouma Nettie kom staan by Elana.

“Iets aan daardie mense lyk vreemd.”

“Wat bedoel Ouma?”

“Elana, ek skryf artikels vir die Daaglikse Klaagbek, waar ek al miljoene speurraaisels oor die dorp opgelos het. Ek weet wanneer ek iets vreemds ruik en dan druk ek my neus soos ’n bloedhond in die besigheid in.

Elana kyk na haar Ouma. Noudat sy daaraan dink lyk Ouma Nettie eintlik meer soos ’n bloedhond as ʹn haarlose kat.

Toe Elana weer sien, is Ouma Nettie uit by die voordeur.

“Ouma!” Elana hardloop agter Ouma Nettie aan.

“Shhh!” Ouma Nettie hurk agter ’n konfettibos. Sy wys na Oom Thomas wat lyk asof hy ’n baie swaar vullissak dra.

“Oom Thomas sit elke Vrydagmiddag vullissakke uit Ouma!”

 Ouma Nettie luister nie. Die oomblik toe Oom Thomas in die huis verdwyn, skeur sy die vullissak oop. Elana se oë rek en sy gee ’n gil. Ouma Nettie druk haar hand oor Elana se mond.

“Shh! Sien, ek het gesê hierdie mense is vreemd.”

Hulle staar na die geraamte wat in die sak lê. “Dalk is hulle weerwolwe en het hulle laasnag ’n arme siel van die strate af gegryp en verorber.” Ouma Nettie praat in ʼn diep stem. Elana ril.

“Kom Elana, ons moet verder ondersoek instel.” Ouma Nettie sluip nader aan die huis. Elana volg benoud kort op haar hakke.

Hulle loer deur die een venster en sien vir Tannie Bertha in die kombuis. Sy is besig om ’n yslike groot vleispastei te maak. Elana sluk en probeer om nie te veel aan Hansie en Grietjie te dink nie.

“Ons moet haar uitlok sodat ons daardie pastei kan ondersoek,” fluister Ouma Nettie.

Elana wil vir Ouma Nettie antwoord toe hulle ʼn geroep aan die ander kant van die huis hoor. Hulle wip van die skrik.

“Bertha, daar is iemand by die voordeur!” Oom Thomas roep in sy skril stemmetjie en tannie Bertha rol haar oë voordat sy voordeur toe stap.  

“Elana, nou is ons kans. Ons gaan by die kombuisdeur inglip en kyk watter leidrade ons binne die huis kan vind.

“Ouma, ons kan nie net in hulle huis ingaan nie!”

“Ons moet hierdie raaisel oplos!” Elana huiwer ’n oomblik en knik dan haar kop. Stilletjies glip sy en Ouma Nettie by die agterdeur in. Die kombuis lyk amper te netjies vir iemand wat nou-net ʼn pastei gebak het. Elana druk haar neus toe.

“Ouma, daardie pastei ruik baie,,, vreemd.”

Hulle hoor hoe die voordeur toegeklap word en Tannie Bertha se voetstappe naderkom. “Kruip weg Elana!”, fluister Ouma Nettie.

Elana buk onder die kombuistafel in. Sy hoor hoe Tannie Bertha met Oom Thomas in die oorkantste vertrek gesels. Sy kruip nader aan die gang om beter te kan afluister. Sy probeer hard konsentreer, maar hoor net elke tweede woord.

“… kan jy dit glo?… mens… vleis… kompetisie.”

Haar bloed word yskoud. Hulle moet hier wegkom. Elana swaai om en hardloop na die kombuisdeur toe. “Wat gaan aan?” Ouma Nettie steek haar kop by ʹn kas uit.

“Ek en Ouma moet nou hier wegkom en die polisie gaan bel!”

Sy gryp Ouma Nettie aan die arm en hulle vlug terug huis toe.

ʼn Week later sit Elana saam met Ouma Nettie in die kombuis.

“Het Ouma gesien hulle praat van ons in die koerant?” Ouma Nettie draai opgewonde om en Elana begin lees:

Geraamtes in die sak!

’n Skooldogter en haar Ouma was bekommerd oor’n geraamte wat hulle in hul bure se vullis gevind het. Na polisieondersoeke is daar gevind dat die geraamte in Meneer Thomas le Roux se wetenskapklas gestaan het toe hy nog klas gegee het. Toe dit tyd raak vir somerskoonmaak het hy die gehawende ou geraamte uitgesmyt.

Elana sug. “So, hulle was toe nie weerwolwe of mensvreters nie.”

“Mens weet nooit, Elana. Ek glo nie dat Bertha besig was om ’n skaappastei vir die Vrouemark se kompetisie te bak nie. Die polisiespeurders weet ook nie altyd alles nie.” Ouma Nettie gee vir haar ʼn bord kos aan. Elana skud haar kop. Ouma Nettie se speur- eskapades gaan hierdie ’n BAIE opwindende vakansie maak.

“Watter gereg is hierdie Ouma?”

“My beroemde skaapbrein-bobotie en groenteslaai met komkommersous.”

Elana voel hoe sy begin naar word en Ouma Nettie skaterlag.

Candy se Mexikaanse avontuur

In ’n huis in Pretoria, gaan lê ’n klein bruin hondjie op haar gunsteling kussing. Sy krul snoesig op en sug saggies soos wat sy insink in die verekussing. Hierdie hondjie se naam is Candy. Sy is ’n trotse Chihuahua. Saam met haar in die sitkamer sit al haar gunsteling mense. Candy se mense staan altyd reg om vir haar kop en maagkrappies te gee. Haar gunsteling van al haar mense, Tiemie, verander die kanaal na ʼn program oor Chihuahuas.

Chihuahuas was die gunsteling troeteldiere van antieke Aztec krygers. Hierdie klein bondeltjies energie is vandag steeds bereid om selfs teen die grootste Boerboel op te staan. Hierdie klein Mexikaanse vegters ken geen vrees nie…

Die Televisie se woorde weergalm in Candy se gedagtes soos wat sy sweef na Droomland. Voor haar verskyn ’n hele weermag Mexikaanse Chihuahuas, met veerkrone en verf soos die Aztec krygers.

“Wie is jy?” roep die diep stem van die hoofvegter.

“Ek is Candy, ek is ’n Chihuahua,” roep sy terug.

“Wat weet jy van ons trotse Mexikaanse kultuur? Jy is NIE ’n regte Chihuahua nie! Weg met jou!” roep die yslike stem. Sy skrik wakker op haar kussing. Skielik voel sy baie hartseer.

“Nie ’n regte Chihuahua nie?” huil sy. “Wat kan ek doen?”

Deur haar trane sien sy die beeld van die ou tempels waar haar voorvaders gewoon het op die televisie.

“Ek weet!” roep sy, “ek sal Mexiko toe gaan! Ek sal meer gaan leer oor my kultuur. Dan moet ek ’n regte Chihuahua wees!”

Candy spring kiertsregop en gryp haar kombers. “Ek moet net eers pak,” sê sy. Sy loer rond en dink oor wat sy alles sal nodig hê.

“’n Paar van my hondebeskuitjies, my gunsteling speelding, nog ’n hondebeskuitjie en dan is ek reg om te gaan!” Sy rol alles toe in haar kombers en sleep hom na die deur toe.

Nou kom die moeilike deel. Ek moet uit glip sonder dat enige van die mense my sien, dink sy. Die eerste mens kom, dit is Annie, Tiemie se sussie. Nou is my kans.

Drie… twee… een… KLAP!

“Ag nee,” sug Candy, “ek is te stadig.”

“Mamma, kan mamma my gou kom help asseblief?” roep Annie se stem van buite af.

Candy staan weer reg. Sy lig haar boud op en hurk neer, gereed vir die wedloop.

Drie… twee…. een… KLAP!

“Te stadig…” sug sy weer. “Hoe gaan ek ooit uitkom?”

Skielik swaai die deur oop en Tiemie stap uit met ’n groot bondel wasgoed. Candy sien haar kans en sy glip onderdeur Tiemie se bene. Uit is sy!

Candy druk haarself deur die hek en stap af straat toe, die hele wêreld lê voor haar oop, maar sy is nie bang nie. Sy en Tiemie stap hierdie pad elke dag en sy ken al amper elke liewe hond in die straat.

“Hallo, Pote. Hallo, Sokkies. Hoe gaan dit met julle?” vra sy die twee Jack Russels.

“Nie so goed nie, Pietie is skool toe vandag, so ons het niemand om mee bal te speel nie,” kla Pote.

“Hy gaan terugkom, Tiemie kom elke dag terug ná skool,” sê Candy met ‘n glimlag. “Julle sal sien, wag net ’n rukkie, slaap ’n bietjie in die warm son, dan vanmiddag het julle tonne energie vir speel!”

“Dit is ’n goeie plan, Candy,” sê Pote.

“Hoekom is jy alleen buite, waar is Tiemie?” vra Sokkies.

“Ek gaan Mexiko toe om te leer oor my kultuur. Ek wil ’n regte Chihuahua word. Die enigste probleem is, ek ken nie regtig die pad nie… Weet julle dalk waar Mexiko is?”

Die twee hondjies dink so bietjie en antwoord gelyk “Daai kant toe!”

“Uhhhh… Dankie,” sê Candy. Sy kyk rond en besluit om parkie se kant to te stap.

DOEF-DOEF-DOEF-DOEF

Wat is dit? wonder sy en kyk om. Agter haar kom ’n yslike Boerboel aangestorm. Sy bek is wa-wyd oop, sy tande so skerp soos messe en die kwyl spat orals. Candy skrik so groot dat sy haar kombersie laat val en so vinnig as wat sy kan weghol. Sy vat ʼn draai links, vat ’n draai regs, hol om ’n bos en af by die straat.

Sy vat ’n skielike draai om ’n hoek en kruip weg teen die muur. ZOEM! Die groot Boerboel skiet verby. Candy sug verlig.

“Daar is jy!” basuin sy diep stem. ’n Groot druppel kwyl val bo-op haar kop en sy kyk op na sy yslike tande. Een van hulle is net so groot soos sy.

Candy bewe die woorde uit “Moeeeet… myyyyy.. asss……sseeeb…lieeeef nieeee eee……eeet nieeeee.”

“Jou eet?” Die groot hond rol op die grond van die lag. “Hoekom sal ek jou ooit eet? Ek is hier om jou te help!”

“Heee…eeelp?” vra sy, steeds bewend.

“Ja! Die woord op die straat is dat jy op soek is na Mexikane.”

Sy sug verlig. “Eintlik is ek op soek na Mexiko.”

“Mexiko! ’n Hondjie so klein soos jy sal tien jaar lank stap voor jy eers halfpad is!”

“Is dit regtig so vêr?” vra sy.

“Dit is op ’n ander kontinent!”

“Ek het nie dit geweet nie.” Candy voel skielik weer baie hartseer. Wat gaan sy nou doen?

“Maar as jy meer wil leer oor Mexikaanse kultuur, kan jy net my mense vra. Hulle is Mexikane!”

“Regtig!” roep Candy opgewonde. “Kan ek hulle asseblief ontmoet?”

“Natuurlik, dit is hoekom ek jou kom soek het. Volg my net.”

Die twee stap vrolik terug na die boerboel se huis toe. Langs die pad vind Candy haar kombers en tel hom weer op.

“Ek het nooit gevra nie, wat is jou naam?” vra Candy.

“Guardián,” antwoord hy, “dit is Spaans vir oppasser.”

“Hierdeur,” sê Guardián. Hy beduie na ’n gat wat onder die hek en Candy spring in. Guardián moet hard druk om deur te pas.

Om hulle staan honderde kaktusse en daar staan twee groot strepiesbanke op die stoep. Guardián klim deur sy honde deur en hou dit oop vir Candy. Binne-in die huis lê twee mense en slaap op die banke met groot Sombrero hoedens op hulle gesigte.

“Wat doen hulle?” fluister Candy.

“Dit is Siësta tyd. In Mexiko word dit so warm in die middel van die dag dat almal ’n middagslapie vat na middagete. Dit is ’n baie ou tradisie.”

“Middagslapies, ek doen dit baie!” roep Candy.

“Sjuut, jy gaan die mense wakker maak.”

“Jammer,” fluister sy.

“Maar as jy alklaar elke dag siësta, dan IS jy mos trotse Meksikaans,” sê Guardián.

“Miskien is jy reg…” fluister Candy.

“Ek weet wat jy nodig het, ’n sombrero!”

Guardián verdwyn om die hoek en kom terug met ’n klein hoedjie in sy mond en sit dit neer op haar kop

“Dankie, Guardián!” roep sy weer.

“Sjuuuut.”

“Jammer,”

Guardián gaap, “ek dink ek is ook lus vir ’n siësta,” sê hy.

“Ek ook,” gaap Candy.

“Kom ons vat jou huis toe,” gaap Guardián.

Die twee spring weer deur die honde deur, druk deur die gat onder die hek en stap lui terug huis toe.

“Dankie, dat jy my geleer het oor Mexikane,” sê Candy en gee vir Guardián ’n nat lek.

“Dit was my plesier,” giggel hy.

Candy druk weer deur die hek en blaf by die deur totdat Tiemie vir haar kom oopmaak.

“Daar is jy!” roep Tiemie verlig. “Ons soek nog heelmiddag na jou! Waar het jy daardie hoed gekry?”

Candy is te moeg vir vrae antwoord. Sy gee vir Tiemie ’n nat lek en spring uit haar arms uit. Sy huppel na haar kussing toe en krul op vir ’n siësta.

Soos wat sy na Droomland sweef, dink sy weer aan die Mexikaanse weermag van klein Chihuahuas.

“Kaptein Candy! Ons is so bly jy is hier! Ons het ’n regte Chihuahua nodig vir hierdie geveg. Is jy reg om die groot yslike boerboel teen te staan?” roep die hoofvegter.

“Ná my siësta,” gaap sy en krul op onder ’n kaktus.

“Goeie plan. Dit is siëstatyd manne!” roep hy en die hele weermag krul op vir ’n middagslapie.

Hoe om ‘n grilstorie te skryf

Een van die grootste wanpersepsies onder lesers, is die feit dat hulle dink spookstories en grilstories is dieselfde ding. ‘n Spookstorie is ‘n subgenre van grilstories, maar om lesers se bloed te laat stol en hulle hare regop te laat staan, hoef ‘n storie nie noodwendig oor spoke te gaan nie.

‘n Grilstorie is enige verhaal wat dit regkry om die leser gespanne te maak én op die punt van hulle stoel te hou. Wanneer dit voel of iets van iewers af na hulle loer of dat ‘n yskoue sweetdruppel stadig teen hulle ruggraat afkruip, moet hulle weet hulle is besig om ‘n werklike goeie grilstorie te lees.

Dis baie maklik om ‘n idee vir ‘n lekker grillerige storie te kry. Al wat jy moet doen, is om die regte voorwerp op die regte tyd (of eerder die verkeerde tyd!) iewers te plaas; daar waar dit nie hoort nie.

Hier volg ‘n voorbeeld: verbeel jou jy is alleen tuis en jy gaan na die badkamer om te stort. Jy maak die deur agter jou toe. Maar toe jy ‘n paar minute later uit die stort klim, sit daar ‘n teddiebeer in die middel van die stomerige badkamer se teëlvloer! Hierdie gedagte is klaar genoeg om vir die meeste lesers die horries te laat kry. Hoeveel erger sou dit nie wees as die hoofkarakter geluide gehoor het terwyl hy/sy nog in die stort was nie? En hoeveel grilleriger sou dit nie wees as die teddiebeer skielik beweeg het of eerder iets lewendigs soos ‘n dier was nie?

‘n Teddiebeer is skadeloos, maar omdat dit nie in die badkamer hoort nie of veronderstel was om self tot daar te beweeg nie, het ons onmiddellik ‘n grillerige situasie op hande.

Die protagonis in ‘n grilstorie moet kwesbaar wees of ‘n vrees hê. Dit sou tog nie lekker wees as die hoofkarakter dapper was en die monster teen hoofstuk drie reeds uitoorlê het nie? Maar dis belangrik dat die leser wel hoop vir die karakter het en glo dat hy/sy lewendig aan die einde sal kan uitkom.

Indien jy ‘n langer storie skryf, hou die hoofstukke kort en laat iets grillerigs in elke hoofstuk gebeur. Die grilelemente moet natuurlik verskillende vlakke hê. Ons wil nie hê die leser moet stokflou of morsdood geskrik wees teen hoofstuk ses nie. Daarom is dit heeltemal aanvaarbaar om in meeste hoofstukke slegs leidrade te gee dat die antagonis op pad is of besig is om die protagonis dop te hou of te manipuleer.

Probeer om elke hoofstuk met ‘n naelbyter te laat eindig. Niks is erger as ‘n vervelige grilboek nie. Om jou storie ‘n boeiende leeservaring te maak, moet die leser aan die einde van elke hoofstuk dink: net nog een hoofstukkie!

Natuurlik is daar ook ‘n paar taboes as dit kom by die skryf van Afrikaanse grilboeke vir kinders. Vir die skolemark is spoke nie ‘n aanvaarbare onderwerp nie en oor die algemeen werk hekse nie in ons kultuur nie. Dis ook belangrik om te onthou dat die dood van ‘n karakter, ongeag van hoe belangrik die karakter is, vir baie kinders traumaties kan wees. Besluit dus baie mooi vir watter ouderdomsgroep jy wil skryf en doen navorsing. Vra vir plaaslike onderwysers of hulle jou beplande tema in hulle klaskamer sal gebruik. Ouers en bibliotekarisse sal ook kan help met raad.

Laastens, wanneer jy saans laat nog aan jou grilstorie skryf, hou maar ‘n flits byderhand. Skielike kragonderbrekings of onverwagse beurtkrag, help nie veel vir die reeds sensitiewe senuwees van ‘n grilskrywer nie!

Haas en die einde van die wêreld

Een loom somersdag strek Haas homself rustig teen die stam van ʼn reuse kremetartboom uit. Hy maak hom reg vir ʼn lekker middagslapie, toe ʼn gedagte skielik by hom opkom: “Sê nou maar die wêreld eindig? Wat word dan van my?”

Hy dink en dink totdat hy effens insluimer.

'n Harde slag laat haas wakker skrik

ʼn Harde slag laat hom wakker skrik. Haas spring verskrik op. Hy is dadelik doodseker dat die wêreld besig is om te vergaan. Hy spring weg en hardloop so vinnig as wat hy kan.

Haas hardloop verby ’n ander groep hase wat in ʼn skadukolletjie lê. Hulle kyk hom verbaas aan.

“Haai!” roep die ander hase. “Hoekom hardloop jy so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep Haas in die verbygaan. “Ek het dit met my eie ore gehoor!”

Die ander hase skrik groot. “As hy so sê, dan is dit seker so!” sê hulle vir mekaar en storm agter Haas aan.

Hulle hardloop naby die rivier verby. Daar is  ʼn vlakvarkfamilie wat vrolik in ʼn modderpoel rondrol.

“Haai!” sê ʼn vlakvark verbaas. “Hoekom hardloop julle so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep die hase in die verbygaan.

Die vlakvarke snork verskrik. “As hulle almal so sê, dan is dit seker so!” sê hulle vir mekaar en storm agter die hase aan.

Hulle hardloop deur ʼn grasveld waar  ʼn trop springbokke rustig staan en wei.

“Haai!” sê ʼn springbokooitjie verbaas. “Hoekom hardloop julle so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep die hase en vlakvarke in die verbygaan.

Die springbokke se oortjies tril van vrees. “As hulle almal so sê, dan is dit seker so!” sê hulle vir mekaar sluit met groot spronge by die ander diere aan.

Hulle hardloop verby ʼn trop buffels wat onder ʼn skaduboom staan en herkou.

“Haai!” bulk een buffel verbaas. “Hoekom hardloop julle so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep die hase, vlakvarke en springbokke in die verbygaan.

Die buffels snuif hard van ontsteltenis. “As hulle almal so sê, dan is dit seker so!” sê hulle vir mekaar en storm agter die ander diere aan.

Luiperd lê uitgestrek oor 'n boomtak

Hulle hardloop onderdeur ʼn luiperd wat oor ʼn boomtak uitgestrek lê. Haar stert swiep lui heen en weer terwyl sy die stormloop bekyk.

“Haai!” roep sy nuuskierig. “Hoekom hardloop julle so?”

“Die wêreld is besig om te vergaan,” roep die hase, vlakvarke, springbokke en buffels in die verbygaan.

Die luiperd gee een groot sprong uit die boom uit. “As hulle almal so sê, dan is dit seker so!” sê sy vir haarself en sit hulle agterna.

Hulle storm in ʼn dreunende massa oor die vlaktes. Skielik spring ʼn yslike maanhaarleeu met ʼn harde brul voor hulle in. “Wat op AARDE gaan hier aan?”

Die diere kom in ʼn stofwolk tot stilstand. Almal praat tegelyk.

“EEN op ʼn slag, vriende!” brul Leeu. Die diere skrik en bly stil.

“Die wêreld is besig om te vergaan,” kom ʼn stem uit die bondel.

“Wie sê so?” vra Leeu.

Almal kyk ongemaklik rond.

“Vra vir die buffels,” sê die luiperd.

Die buffels skuifel rond. “Vra vir die springbokke.”

Die springbokke trippel senuweeagtig op een plek. “Vra vir die vlakvarke.”

Die vlakvarke maak hulleself klein. “Vra vir die hase.”

Die hase draai almal na Haas toe. “Vra vir Haas. Hy het dit met sy eie ore gehoor!”

Leeu draai sy groot geel oë na Haas toe. “Wat het jy gehoor, klein vriendjie?”

Haas trek sy ore plat teen sy kop. “Ek het onder ʼn boom gelê en slaap. Daar was ʼn harde slag.”

Leeu se oë word twee klein skrefies. “Gaan wys vir my waar.”

Haas loop voor om vir Leeu die pad te wys. Al die ander diere kom gedwee agterna. Hulle loop onderdeur die luiperd se boomtak, verby die buffels se skaduboom, deur die grasveld, verby die rivier en tot by die kremetartboom waaronder Haas gelê en slaap het.

“Hier,” beduie Haas. “Ek het ʼn harde slag gehoor en ek het geweet dat die wêreld besig is om te vergaan!”

Leeu stap stadig om die boom se stam. Hy gaan staan en kyk stip na die grond. “Het jy hiér gelê?”

Haas kyk na waar Leeu met sy poot beduie. “Ja,” sê hy.

Die krematartvrug wat teen die stam lê.

Leeu beduie na ʼn kremetartvrug wat op die grond lê. “Daar lê jou harde slag, klein vriendjie. Die kremetartvrug het langs jou kop geval en jy het groot geskrik, omdat jy deur die slaap was.”

Haas weet nie wat om te sê nie. Die ander diere lyk net so skaam.

Leeu kyk lank na hulle almal. “Ek hoop dat julle mooi sal dink voordat julle weer sommer enige iets glo,” sê hy. “Kom ons gaan nou maar almal huis toe en geniet die res van ons middagslapie.”

Die ander diere verdwyn stil-stil.

Leeu draai na Haas toe. “Jou verbeelding is ʼn goeie ding, klein vriendjie. Moet net nie dat hy met jou weghardloop nie.”

En van daardie dag af het Haas seker gemaak dat dit nie weer gebeur nie.

Haas en die einde van die wêreld

Erkenning: Hierdie verhaal is ʼn herskrywing van “The Timid Hare and the Flight of the Beasts” vanuit “The Jātaka: Or, Stories of the Buddha’s Former Births, Volume 3”, saamgestel deur deur E.B. Cowell.