Hoe om ‘n grilstorie te skryf

Een van die grootste wanpersepsies onder lesers, is die feit dat hulle dink spookstories en grilstories is dieselfde ding. ‘n Spookstorie is ‘n subgenre van grilstories, maar om lesers se bloed te laat stol en hulle hare regop te laat staan, hoef ‘n storie nie noodwendig oor spoke te gaan nie.

‘n Grilstorie is enige verhaal wat dit regkry om die leser gespanne te maak én op die punt van hulle stoel te hou. Wanneer dit voel of iets van iewers af na hulle loer of dat ‘n yskoue sweetdruppel stadig teen hulle ruggraat afkruip, moet hulle weet hulle is besig om ‘n werklike goeie grilstorie te lees.

Dis baie maklik om ‘n idee vir ‘n lekker grillerige storie te kry. Al wat jy moet doen, is om die regte voorwerp op die regte tyd (of eerder die verkeerde tyd!) iewers te plaas; daar waar dit nie hoort nie.

Hier volg ‘n voorbeeld: verbeel jou jy is alleen tuis en jy gaan na die badkamer om te stort. Jy maak die deur agter jou toe. Maar toe jy ‘n paar minute later uit die stort klim, sit daar ‘n teddiebeer in die middel van die stomerige badkamer se teëlvloer! Hierdie gedagte is klaar genoeg om vir die meeste lesers die horries te laat kry. Hoeveel erger sou dit nie wees as die hoofkarakter geluide gehoor het terwyl hy/sy nog in die stort was nie? En hoeveel grilleriger sou dit nie wees as die teddiebeer skielik beweeg het of eerder iets lewendigs soos ‘n dier was nie?

‘n Teddiebeer is skadeloos, maar omdat dit nie in die badkamer hoort nie of veronderstel was om self tot daar te beweeg nie, het ons onmiddellik ‘n grillerige situasie op hande.

Die protagonis in ‘n grilstorie moet kwesbaar wees of ‘n vrees hê. Dit sou tog nie lekker wees as die hoofkarakter dapper was en die monster teen hoofstuk drie reeds uitoorlê het nie? Maar dis belangrik dat die leser wel hoop vir die karakter het en glo dat hy/sy lewendig aan die einde sal kan uitkom.

Indien jy ‘n langer storie skryf, hou die hoofstukke kort en laat iets grillerigs in elke hoofstuk gebeur. Die grilelemente moet natuurlik verskillende vlakke hê. Ons wil nie hê die leser moet stokflou of morsdood geskrik wees teen hoofstuk ses nie. Daarom is dit heeltemal aanvaarbaar om in meeste hoofstukke slegs leidrade te gee dat die antagonis op pad is of besig is om die protagonis dop te hou of te manipuleer.

Probeer om elke hoofstuk met ‘n naelbyter te laat eindig. Niks is erger as ‘n vervelige grilboek nie. Om jou storie ‘n boeiende leeservaring te maak, moet die leser aan die einde van elke hoofstuk dink: net nog een hoofstukkie!

Natuurlik is daar ook ‘n paar taboes as dit kom by die skryf van Afrikaanse grilboeke vir kinders. Vir die skolemark is spoke nie ‘n aanvaarbare onderwerp nie en oor die algemeen werk hekse nie in ons kultuur nie. Dis ook belangrik om te onthou dat die dood van ‘n karakter, ongeag van hoe belangrik die karakter is, vir baie kinders traumaties kan wees. Besluit dus baie mooi vir watter ouderdomsgroep jy wil skryf en doen navorsing. Vra vir plaaslike onderwysers of hulle jou beplande tema in hulle klaskamer sal gebruik. Ouers en bibliotekarisse sal ook kan help met raad.

Laastens, wanneer jy saans laat nog aan jou grilstorie skryf, hou maar ‘n flits byderhand. Skielike kragonderbrekings of onverwagse beurtkrag, help nie veel vir die reeds sensitiewe senuwees van ‘n grilskrywer nie!

So skryf jy ‘n limerick

Die Limerick is een van die eenvoudigste vorms van ‘n vers tog word dit deur baie Suid-Afrikaners misverstaan. Ek sal die heeltyd na my eie verse verwys, want ek skryf ligte verse sowel as limericke.

Die spelling van die woord? Ek verkies limerick en nie limeriek nie.

Niemand weet presies hoe dié woord ontstaan het nie. Daar is wel ‘n plek in Ierland met die naam Limerick, maar eintlik het dié twee woorde g’n verband nie.

‘n Ligte vers (lawwe vers) is nie noodwendig ‘n limerick nie. ‘n limerick het altyd 5 reëls, en het altyd ‘n bepaalde vorm. ‘n Limerick is ook gewoonlik oor ‘n plek of oor ‘n persoon en sal dikwels begin met die volgende woorde:

‘n Dame wat woon in Parys…
‘n Oupa wat woon in die Kaap…
‘n Man van die dorp Aggeneys…
‘n Sekere Bennie le Roux…
‘n Vrolike vrou, Mona Lisa…
‘n Kêrel genaamd Nico Nel…
‘n Sekere Sakkie van Zyl …

Die limerick het ook ‘n bepaalde vorm.

Kyk na die volgende voorbeeld:

‘n Tannie woonagtig in Bloem
Was bang toe ‘n by om haar zoem.
Toe slaan sy hom plat
Dat heuning so spat
En spuit hom glo poegaai met Doom.

Kyk weer mooi na die vorm. Dit het 5 reëls. Dit lyk byna soos ‘n konsertina of iemand met ‘n dun middellyf, want die 3de en 4de reëls is korter as die res.

Kyk ook hoe rym die limerick:

‘n Tannie woonagtig in BLOEM
Was bang toe ‘n by om haar ZOEM.
Toe slaan sy hom plat
Dat heuning so spat
En spuit hom glo poegaai met DOOM

Reël 1, 3 en 5 rym met mekaar: BLOEM, ZOEM, DOOM.
Reël 3 en 4 rym met mekaar plat en spat.
Reël 3 en 4 is ook korter as die ander reëls.
En elke reël begin met ‘n hoofletter.

Wat ook baie, baie belangrik is, is die ritme:

Sê die volgende hardop en maak die tweede TAM harder as die eerste:

taTAM tataTAM tataTAM
taTAM tataTAM tataTAM
taTAM tataTAM
taTAM tataTAM
taTAM tataTAM tataTAM

Lees nou die vetgedrukte dele harder as die ander en hier het jy dan die ritme van ‘n limerick. As mens dit later lees, gaan jy natuurlik nie die klem op daardie dele laat val nie, maar jou ritme sal perfek wees.

‘n TANnie woonAGtig in BLOEM
Was BANG toe ‘n BY om haar ZOEM.
Toe SLAAN sy hom PLAT
Dat HEUning so SPAT
En SPUIT hom glo POEgaai met DOOM.

Lees altyd ‘n limerick hardop op om die regte ritme te kry.

‘n Limerick is ook partykeer ietwat stout, maar moenie vulgêr probeer raak nie!

Hier is nog twee voorbeelde van limericke:

Die mense wat woon in Bombaai
Het gister ‘n walvis gebraai.
Die ding was erg groot
En nog nie eens dood.
Sy laaste woord was glo: “Koebaai!”

‘n Meisie wat woon in die Kaap
Praat elke nag glo in haar slaap.
Haar taal is gemieks:
Dis Spaans, Frans en Grieks
En soms blêr sy net soos ‘n skaap.

Probeer nou jou eie limericke skryf wat begin met die volgende woorde:

‘n Dame wat woon in Parys ….
‘n Meisie wat woon in De Aar…
‘n Sekere Mybel van Tonder…

Philip de Vos

Life is short
for man and beast
so
while you can –
Enjoy the feast!

Ons het almal stories

Ons het almal stories. Ons is almal skrywers. Ons almal se lewens is stories. Ons skryf almal elke dag aan ons lewensstories.

As jou lewe BOOOORING is – SKRYF hom/haar meer interessant. Stories maak moontlikhede oop. Is jy te bang om jou mond oop te maak? Skryf ‘n storie oor ‘n GROOTBEK karakter. En net-nou leer jy dalk ook om meer te waag en jou opinies te gee. Ons is maar almal bang – of meeste van ons – dat ander mense dink ons is DOM, of …. (vul self in – ons het elkeen ons eie vrese!)

Maar vreemd genoeg is ons elkeen ANDERS … maar ook EENDERS … verstaan jy wat ek sê in die paragraaf hierbo? As jy dit “verstaan” met jou “hart” wat sê – ja, jou werklikwaar – ek is ook so bang soms! Dan is ons nie so anders nie, né?

DUS – elkeen KAN skryf – MAAAAAR om te skryf met die oog op PUBLIKASIE – dis ‘n anderste ding. Nou moet jy ‘n LESER in ag neem. En jy weet mos hoe dit is as jy ‘n boek lees en dis so BOOOOORING! 
Gepubliseerde stories moet ANDER mense BOEI en hulle aandag hou. Stories moet dus so vertel word dat dit ANDER mense interesseer! HOE? Stories het:

  • ‘n begin en ‘n middel en ‘n einde en soms is ‘n begin ‘n einde?
  • Daar GEBEUR altyd iets in stories, maar soms gebeur daar niks! Maar as die NIKS wat gebeur OPWINDEND is, dan is dit dalk ‘n lekker storie!
  • Stories moet INTERESESSANT en BOEIEND wees vir die wat dit moet lees.
  • En stories is net strepies op papier, dus moet mens met jou woorde, PRENTJIES maak in jou leser se kop.
  • Daar is dus nie reëls vir stories nie! Party stories “werk” net en ander “werk” nie! En die wat “werk” INTERESSEER ANDER MENSE!
  • Elke mens sien die lewe “anders” as iemand anders. En dis waar die lekker stories vandaan kom. En as jou “anderste” manier van dinge sien ‘n lekker storie maak – dan is dit lekker leesstof vir “ander” mense! En dis waar ons ook “eenders” is.

Is jou kop nou deurmekaar? Goed so dan! Want stories is NUUT en kom uit DEURMEKAAR plekke uit!

Dus – as jy wil skryf – begin eers vir JOUSELF skryf en dan daarna, kan jy kyk of jy dit so kan aanbied dat dit ANDER ook interesseer. 
SPEEL met woorde, met idees, met maniere van doen. En kyk wat gebeur!

Lekker speel! 

Skryfwenke

Skryf eenvoudig.
Moenie lang sinne gebruik nie.
Vermy clichés.
Dink vars en helder.
Skryf visueel.
Skryf om jouself uit te druk, nie om mense te beïndruk nie.
Gebruik kort beskrywings.
Kinders hou van kleurvolle detail.
Let op jou spelling. Kry ‘n speltoetser bv. Noordwes-Universiteit s’n.
Kry woordeboeke, bv. Pharos se 5-in-1-rekenaarwoordeboek.
Jy moet herskryf.
Lees! Lees! Lees!

So jy wil skryf? Jy wou nog altyd geskryf het!

So, jy wil skryf? Jy wou nog altyd geskryf het! Wonderlik – gryp pen en papier – skud jou êrens gemaklik in en …. BEGIN! Of nee – dalk liewers voor die rekenaar – sit hom aan – kry die woordprogram – sit gereed met vingers op die sleutelbord en …. BEGIN! Of nee … eintlik sterf jy van die honger – gaan kyk eers in die yskas – daar is NIKS lekkers in die yskas nie – “MAAAAAAA – hoekom is daar nooit lekker goed in die yskas nie?” Dikbek stap jy terug na die pen en papier of die rekenaar. Nou sal jy begin. NOU! NOU! Maar die papier is so KAAL – so WIT – of die skerm is so … LEEG – en sowaar – dis net soos wat jou kop voel – daar is nie ‘n ENKELE gedagte in nie – niks – ziltz – nie ‘n enkele gedagte nie – leeg en kaal en wit soos die leë skerm of bladsy. WAAR kry skrywers hulle idees vandaan? Aha! Hier is vir jou ‘n ideesoekmetode wat WERK.

1) Dink aan ‘n woord – enige woord – as jy nie aan ‘n woord kan dink nie – kyk in ‘n woordeboek – sê nou maar, jy dink aan die woord: KAMEEL. Reg, skryf hom neer.

2) Nou dink jy aan: KAMEEL – waaraan dink jy? Woestyne – boggel – water – sand – sandstorms – tente – goed, goed – mooi – jou kop is aan die gang.

NOU: 3) Dink aan NOG ‘n woord – sommer enige woord – een wat NIKS met kameel uit te waai het nie. (Kyk in die woordeboek as jy nie aan ‘n woord kan dink nie! Woordeboeke is vol SAPPIGE woorde!) Goed …. sê nou maar jy dink aan …. DONKERBRIL! Okay, cool.

NOU 4) Skryf DONKERBRIL langs KAMEEL neer – hierdie twee woorde het mos NIKS met mekaar uit te waai nie – of het hulle? Hmmm …. ‘n kameel met ‘n donkerbril …. HOEKOM het hy ‘n donkerbril … dalk het hy seer oë en moet hy na die oogdokter toe gaan …. dalk is hy ‘n beroemde akteur en is bang mense herken hom …. dalk is hy ‘n spioen … of ‘n privaat speurder … en leun hy teen ‘n boom met vandag se koerant voor sy gesig sodat niemand hom moet raaksien nie … en daar … so wragtie … daar kom ‘n …. WAT? aan …

En as jy nou al hierdie goed neergeskryf het, dan is daardie aaklige wit papier of leë skerm nie meer so wit en leeg nie – en jou kop is aan die hardloop en jou storie het begin! NETSO kan jy BAIE stories uitdink – TWEE woorde wat NIKS met mekaar te doen het nie en dan tog ….bymekaar pas op ‘n vreemde manier!

LEKKER SKRYF!

Die struktuur van ‘n lekker toespraak

1. Kies die regte onderwerp. Gesels eers met die kind oor die onderwerp. Probeer iets kies of formuleer wat regtig binne sy verwysingsraamwerk val. ‘n Graad Eentjie kan regtig nog nie die wêreld raadgee oor aardverwarming nie. Hy kan hoogstens kla dat al die brokkoli wat sy ma hom voer, die gas-vlakke in die atmosfeer kan laat styg.

2. Dink aan die toespraak as ‘n boom. Die tema of kernboodskap is die wortels van die boom. Dis waar alles begin. Kry die tema/sentrale boodskap en bou van daar af op.

3. Die openingsreëls van die toespraak is belangrik. Gebruik ‘n treffende inleiding: ‘n stelling, ‘n vraag, ‘n grappie, ‘n paar reëls uit ‘n gedig, ‘n opskrif uit ‘n koerant, ‘n aanhaling, selfs ‘n liedjie.

4. Vanaf hierdie openingsaanhef, gaan daar nou ‘n boomstam groei. Hierdie boomstam gaan ten minste drie takke hê. Elke tak is ‘n argument wat die tema ondersteun wat in die eerste paragraaf genoem is. Al kan jy aan twintig argumente dink wat jou standpunt ondersteun, kies net drie en ontwikkel hulle. Byvoorbeeld: “Troeteldiere: Moet kinders troeteldiere hê?”

Gaan dink drie oorspronklike redes uit waarom kinders troeteldiere behoort te hê of nie. Ontwikkel elke idee soos die tak van ‘n boom.
Onthou, mens kan toor met ‘n tema. Jy kan byvoorbeeld die troeteldiertema as volg interpreteer:

“Natuurlik moet elke kind ‘n hond hê! Dit staan so in ons Grondwet. Dink ek.. Maar my punt is dit: hoe kry ‘n kind sy ouers om daardie hond te koop? Maklik: begin by ‘n perd. Kerm vir ‘n perd. Jy gaan op die ou end skik vir ‘n hond. Dis mos hoe die Vakbonde dit doen.”

“Kinders en troeteldiere is soos olie en water. Dit meng nie. Wie sit op die ou end met die gemors? MA. My ma sê ons drie kinders is al die troeteldiere wat sy mee kan huishou. G’n witrot, g’n hamster en definitief g’n katte vir haar nie. Sy is allergies vir hare. Dis toe ek haar oortuig van die ideale troeteldier: geen hare, geen mis, geen geblaf of gemiaau. Ja-nee. ‘n Luislang is die ideale troeteldier.”

5. As julle nou drie argumente uitgedink en neergeskryf het, gaan soek na bronne of verwysings wat julle argumente kan staaf. Hierdie bronne kan omtrent enige iets wees: koerantberigte, tydskrifartikels, internet, ensiklopedie, woordeboek, gedig, liedjie, aanhaling, navorsing, statistiek…

6. Die slot van die toespraak moet aansluit by die argument of vraag of stelling wat in die inleiding verskaf is. Sorg dat jou toespraak ‘n mooi geheel vorm, As ons dink aan die analogie van die boom, dan is die slot die top van die boom, die klimaks. ‘n Verrassing in die slot is altyd ‘n wenner.

7. Die slot van die toespraak kan pittig wees, ernstig, selfs skokkend. Die punt is: ‘n goeie toespraak gee die gehoor iets om aan te kou en oor te dink. Dus is ‘n retoriese vraag soms ‘n uitstekende slot. Bv. “Ek weet wat ek gaan doen om aardverwarming te stop. Die vraag is: weet die res van die wêreld?”

8. ‘n Slot kan ook effektief wees as dit die gehoor aanspoor tot aksie. Bv “Sal ons maar net handjies gevou bly sit terwyl die pole smelt, of gaan ons opstaan en iets doen? Basta! Kom ons stap nou hier uit en begin werk!”

9. Moet net nooit die gehoor aanval en te aggressief wees in die oordrag van jou boodskap nie. Oppas vir vinger wys: dit kan baie aanvallend oorkom.

Lekker skryf!

Ruimte in stories

Jy kan wonderlike dinge doen met ruimte

Dink aan ‘n boom, enige boom…

  • Wat se boom is dit? Hoe lyk hy? Waar staan hy? Was jy al daar? Ken jy die boom?
  • Hoe voel die boom? Hoe voel die stam, die blare, die takkies? Kan jy ‘n blaar kneus of ‘n takkie knak? Hoe klink dit? Hoe ruik dit? Hoe proe dit?
  • Wat is onder die boom? Blare, gras, grond, saad, wortels? ‘n Graf?
  • Hoe val die lig deur die boom, deur die blare?
  • Roer die blare? Kan jy dit hoor? Hoe voel dit by/onder/in die boom?
  • Waaraan laat die boom jou dink?
  • Die seisoene wissel – wat gebeur met die boom?
  • Hoe lyk die omgewing? Staan die boom in ‘n bos, op ‘n vlakte, in ‘n agterplaas van ‘n woonstelblok? Is dit ‘n sonskyndag? Betrokke? Het dit gereën? Is dit nag?
  • Hoe sal ‘n lewendige 8-jarige seun dié boom beleef? ‘n Verliefde 16-jarige meisie? ‘n Blinde persoon? Rooikappie? Die wolf? Die houtkapper? ‘n Soldaat? ‘n Moordenaar? Iemand wat so pas gehoor het sy is HIV-positief?
  • Watter stories kan by dié boom afspeel?

Ruimte in ‘n boek is die plek en omgewing waar ‘n storie afspeel (milieu). Dit is ook die tyd en tydperk waarin die gebeure plaasvind. bietjie meer

Die goeie gebruik van ruimte laat jou karakters en stories lewe

  • Die wyse waarop ruimte in ‘n verhaal gebruik word, maak ‘n verhaal geloofwaardig. ‘n Skrywer kan die storiewêreld as baie realisties en werklik uitbeeld – bv. ‘n storie wat op ‘n spesifieke, herkenbare plek en tyd afspeel (Woorde is soos wors – Rona Rupert); of die skrywer kan ‘n unieke fantasieruimte skep (Harry Potter). As jy dié spesifieke ruimte self beleef (of verbeel) het en dit só kan uitbeeld, glo die leser die storie.
  • Besluit wie is jou hoofkarakter en laat hy of sy die ruimte ervaar. Dit laat die karakter lewe en help ook die leser om deel van die storie te word. Bv. “Dis ongemaklik in die mik, daar’s nie plek vir haar én die skooltas nie. Lena skuif versigtig vorentoe skuif om die tak weg te druk. Die growwe stam skuur soos ‘n rasper teen haar kaal bobene. Tussen die blare deur sien sy hoe die kinders klas toe stap.”
  • Besluit hoe belangrik die ruimte in ‘n spesifieke verhaal is. As die storie in ‘n onbekende omgewing afspeel, moet meer aandag aan die ruimte gegee word. In ‘n avontuurverhaal speel die ruimte gewoonlik ‘n groot rol en moet jy vir die leser ‘n goeie aanduiding gee hoe dit lyk. As jou storie in ‘n bekende omgewing afspeel, soos op ‘n skoolterrein, kan jy deur ‘n paar terloopse verwysings die agtergrond gee.
  • Oor die algemeen lees mense nie graag lang beskrywings nie. Vleg die beskrywings in die storie en gebeure in.

Ruimte is deel van die hele storie (dit kan selfs die storie laat gebeur…)

  • Die ruimte van ‘n verhaal bepaal dikwels die gebeure en intrige. ‘n Verlate strandhuis, ‘n ruimtestasie, binnekant van konfytblik, ens. het eie storiemoontlikhede.
  • Ruimte kan dinge vertel van ‘n karakter. ‘n Karakter se omgewing gee ‘n aanduiding van sy persoonlikheid en belangstellings. (Dink maar aan jou slaapkamer, jou boektas of jou penneblikkie!)
  • Ruimte kan vertel wat in ‘n karakter se binneste aangaan. Bv. ‘n hartseer karakter kan alles rondom hom as kleurloos ervaar. ‘n Karakter se handeling met dinge in die ruimte kan ook vertel hoe hy voel: ‘n kind wat gate in ‘n boom kap kan dalk baie kwaad of gefrustreerd wees.
  • Die omgewing waaruit ‘n karakter kom en ruimte waar hy grootgeword het, het ‘n invloed op sy persoonlikheid en motivering.
  • Ruimte kan ‘n karakter laat “lewendig” word. ‘n Karakter wat reageer op die ruimte om hom, dinge hanteer en die omgewing met sy sintuie beleef, is geloofwaardiger as een wat maar net deur die omgewing beweeg, maar nie daarby betrokke raak nie.
  • Soms kan die ruimte die antagonis in ‘n storie wees. Dink maar aan “Twister” waar die orkaan die groot vyand is. Kan jou boom dalk ‘n antagonis wees?
  • Die ruimte en die manier waarop dit uitgebeeld word, skep en beïnvloed die stemming of atmosfeer van die verhaal. ‘n Riller kan net werk as die ruimte ‘n bedreiging inhou.
  • Ruimte of voorwerpe in die ruimte kan simboliese betekenis kry. ‘n Boom is bv. dikwels simbool van lewe en dood, terwyl ‘n bos simbolies van die onbekende is. (Kyk hoeveel sprokies speel in die bos af.)

Skryf die eerste paragraaf van die volgende stories en kyk wat gebeur:

  • Dis middernag. Langs die donker sipresbome…
  • Hy was ‘n kort mannetjie, en daarom het hy in die boom geklim.
  • Elke kind moet ‘n boomhuis hê.
  • Sy kyk vlugtig oor haar skouer. Die geheime ingang is tussen die wortels.
  • “Dit was die weerlig,” het Ouma altyd vertel.
  • Op die boonste puntjie van die hoogte boom…

Bietjie meer:

Ruimte in ‘n boek is die plek en omgewing waar ‘n storie afspeel (milieu), maar ook die tyd en tydperk waarin die gebeure plaasvind. Ruimte sluit ook die algemene omgewing, agtergrond en lewenswyse van die karakters in.

Voorbeeld: In ‘n historiese verhaal is die ruimte die geografiese plek waar die storie afspeel, en ook die tydsfase en spesifieke historiese agtergrond. Die beroepe, lewenswyse, sosiale verhoudinge, morele standpunte, ensovoorts is deel van die betrokke tydperk en ruimte.

Hoe skryf mens spookstories?

Daar is verskillende soorte spoke of afgestorwe geeste: Dwaalgeeste – geeste wat op bepaalde plek en tyd dwaal. Verskynsels – geeste wat verskyn en weer verdwyn. Poltergeeste – lawaaispoke wat mense wil verwilder. Landspoke. Seespoke. Lugspoke.

Dis nie alle afgestorwenes wat na hul dood spook nie. Dis slegs dié wat voel dat hulle werk op aarde nog nie afgehandel was toe hulle dood is nie. Of hulle is met ‘n wrok in hul hart dood. Of hulle voel sleg omdat hulle nog nie ‘n onregverdigheid uit die weg geruim het nie en wil daarom om verskoning vra. Of hulle wil lewendes waarsku teen ‘n ongeluk wat hulle gaan tref.

Bepaal eers oor watter soort spook jy gaan skryf en gee dan vir die afgestorwene ‘n baie goeie rede om te spook. Daar moet genoeg spanning, afwagting en nuuskierigheid by die leser wees om verder te wil lees. Teen die einde van die spookstorie moet die spook gelukkig wees, ophou spook en tot rus kom.

Skryf is harde werk maar groot sports

Daar is ‘n paar dinge wat julle ons in gedagte moet hou:

  • Weet presies wat jy wil sê voor jy begin.
  • Kry ‘n raamwerk van die storie in jou kop, of op papier – sommer so telegramstyl, een of twee bladsye.
  • Praat oor jou storie. Vertel hom vir jou pelle, bespreek hom, kry hom duidelik in jou kop.
  • Voor jy begin, werk elke karakter se pedigree uit – hoe hy/sy lyk, waar hy bly, wie en wat is sy ma en pa, wie’s sy pelle, is hy slim/dom, wat is sy stokperdjies, gewoontes, maniertjies. Die karakters moet lewe!
  • Moenie oordramatiseer nie, bly op die aarde. Jou lesers identifiseer makliker met alledaagse, bekende dinge.
  • Skryf oor dinge, plekke, en verkieslik mense wat jy ken, of baie van weet.
  • Gebruik al jou sintuie in beskrywings, die leser moet kan sien, hoor, voel, ruik, proe wat aangaan.
  • Skryf in prentjies, soos in ‘n fliek. Sien die gebeure in jou kop.
  • Skryf jou storie oor en oor en oor, tot jy tevrede is met hom. ‘n Storie is selde met die eerste skryf “klaar”.

Die skryfproses is nie magies nie

  • Skryf sintuiglik: jou leser moet ruik, hoor, sien en voel deur jou woorde.
  • Skryf elke dag. NULLE DIES SINE LINEA: Laat daar nie ‘n dag sonder ‘n geskrewe woord wees nie! Dis belangrik om gedurig met skryf besig te wees. Skool jouself daartoe om elke dag ten minste een reël te skryf. So ontwikkel jy jou eie styl.
  • Moenie te veel op ander se opinies staatmaak nie. Vertrou jou eie oordeel en wees streng met jouself. Slyp jou eie oordeel deur baie te lees en baie krities na jou eie werk te kyk. Klop jouself soms op die skouer as jy dink jy verdien dit!
  • As jy iets begin skryf het, of dit nou ‘n kortverhaal of ‘n roman is, maak dit KLAAR. Voltooi wat jy begin het anders kan ‘n mens kwalik ‘n oordeel daaroor vel.
  • Onthou: die skryfproses is nie magies nie. Dis gewone harde werk. Dit verg ure, dae en maande se kreatiewe arbeid om iets te skryf wat publiseerbaar is.
  • Word ‘n fyn waarnemer. Sien raak wat om jou gebeur. Kyk dieper as veldiep na mense, probeer verstaan waarom hulle doen wat hulle doen en sê wat hulle sê. Skryf dit dan neer. Eendag gebruik jy dit dalk in ‘n storie.