Deel 6
Nou dat ek terug is…
An-Mari
Noudat ek terug is…
Voor ek begin studeer het, het baie mense my gewaarsku teen BA Tale studeer. “Wat gaan jy met ʼn Tale-graad maak?” sou hulle sê. “Gaan swot eerder GR of selfs Onderwys.” Maar ek het vasgestaan by my keuse, want taal is my passie en my liefde. Vandag is daardie mense stil, want ek het ʼn ervaring gehad wat bitter min van hulle ooit gehad het of ooit sal hê: 7 maande in Europa. En als as gevolg van taal.
G.K. Chesterton het gesê dat die hele punt van reis nie is om vreemde lande te besoek nie, maar om jou eie land soos ʼn vreemde te betree. Noudat ek terug is, verstaan ek dit. Ek kyk met nuwe oë na die ou bekende, en dit lyk nuut. My land is vir my mooier as ooit. Ek voel meer tuis in hierdie diverse, paradoksale land wat so vol probleme en tog so vol omgee is. Ek is trotser op my eie taal en my kultuur en my land noudat ek ander leer ken het.
Die laaste 7 maande was die ervaring van ʼn leeftyd. Ek het lande gesien en vriende gemaak en kos geproe wat ek voorheen nooit van gedroom het nie, en nou nooit sal vergeet nie. Tussen deur al die rondreisery het ek gewerk ook, en ek het probeer om vir die Franse kinders te wys watse wonderlike geleenthede taal vir jou kan gee; die wêrelde wat dit vir jou kan oopmaak.
Party mense het gesê die ervaring gaan my baie verander, maar ek voel eintlik maar nog soos dieselfde mens. ʼn Paar dinge het tog verander. Ek voel meer seker van wie ek is en wie ek wil wees. Ek het ʼn groter dryfkrag om my drome na te jaag. Ek ken myself beter. Ek weet waartoe ek in staat is, en ek weet wie en wat vir my die belangrikste is in die lewe. Ek het geleer dat mens enigiets kan laat werk met genoeg toewyding: soos om ʼn langafstandsverhouding sterk te hou deur 7.5 maande apart. Ek het geleer dat mens dinge kan oorleef wat jy dink gaan jou breek. En ek het geleer dat een van die lekkerste dele van weg wees, die terugkoms is. En daarna, die uitsien na die volgende reis: die volgende onbekende plek waar my voete gaan loop.
Noudat die reisgogga my eers gebyt het wil ek aanhou reis, maar ek wil my eie land ontdek en herontdek – want daar is maar net nie ʼn ander land soos Suid-Afrika nie, en daar is nie ʼn ander taal soos Afrikaans nie. Ek het ʼn nuwe droom, en dis om te reis – en om daaroor te skryf in my taal.
An-Mari Fouche
2018-06-04